Preek: 1 Samuel 7:12 “Ebenhaésar – Tot hiertoe het die Here ons gehelp”

Preek: 1 Samuel 7:12

“Ebenhaésar – Tot hiertoe het die Here ons gehelp”

Die hoeksteen van ons gemeente, Gereformeerde Kerk Carletonville, is gelê deur ons eerste predikant, ds. CMJ van Vuuren, op 7 Mei 1955. Die gemeente is gestig vandag, 16 Mei, presies 65 jaar gelede (16 Mei 1953). Mag ons Here Jesus ons genadig wees vir die volgende 65 jaar in Sy diens. Dankie vir al die lidmate wat deur die jare lief was en nog is vir die gemeente, en met opoffering gedien het. Bo alles die lof en die dank aan ons hemelse Vader wat ons in alle tye dra en bewaar.

Ps. 126:3 “Die HERE het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!”

Sien die volgende artikel oor die stigting van die gemeente, met erkenning aan die “My Dopperdagboek” webblad:

16 Mei 1953 – GK Carletonville gestig

Afgelope Sondag het ek ook gepreek uit 1 Sam. 7, met die teksvers, vers 12,  verwysende na ons gemeente se hoeksteenlegging in die verlede, en hoe die HERE se Woord vandag nog tot ons spreek vanuit hierdie teksgedeelte, tot bemoediging en vermaning vir vandag en vir die toekoms.

Ek plaas die audio preek hier, asook die notas van die preek:

Tot hiertoe het die HERE ons gehelp

Lees: 1 Samuel 7.

Teksvers:  “Toe het Samuel ‘n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Ebenhaéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.” -vers 12

Preekopname (GK Carletonville, 2018-05-13):

Aflaai: 1 Samuel 7:12 


Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit is die afgelope week, presies 63 jaar gelede,

wat ons kerkgebou se hoeksteen gelê is,

deur die eerste predikant van ons gemeente,

ds. CMJ van Vuuren, ook genoem ds. Fires.

Die hoeksteen is daar by regterkantste ingang van ons kerkgebou,

(sien ook die foto in die nuusbrief)

en op die hoeksteen, is die Bybelvers daar,

1 Sam. 7:12, met die een woord, ‘Ebenhaésar

Ons wil vandag leer wat hierdie vers en woord beteken,

daar in 1 Sam. 7, en die res van die Skrif,

en dan wat dit vir ons as kerk, as gelowiges vandag nog beteken.

 

In 1 Sam. 7:12 het ons gelees van Ebenhaesar:

“Toe het Samuel ‘n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Ebenhaéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.”

Die woord ‘ebenhaesar’ beteken letterlik:

klip of steen of rots van hulp 

Dus die klip wat Samuel geneem het en opgerig het,

moet vir die volk as teken dien,

dat die HERE ‘tot hiertoe’ vir hulle ’n hulp was, ’n helper, ’n steen

van ondersteuning, die krag wat hul deur die lewe dra.

En hoekom het die volk nodig om te bely, en te weet,

dat die HERE hul hulp is, hul gehelp het ?

Om dit te verstaan, moet ons let op die geskiedenis van die volk hier.

Dit is net voor die koningstydperk van Saul, Dawid, Salomo en ander konings wat sou volg,

dit is aan die einde van die rigterstyd,

met Samuel as die laaste rigter van die volk (v. 15).

Maar, in hoofstukke 4 tot 6 lees mens van die sonde en verval van die volk.

Eli se seuns, Hofni en Pinehas was slegte priesters, goddeloos,

het die Here se volk nie reg gelei soos sy Woord beveel het nie.

En as die volk se groot vyande teen die volk opstaan, die Filistyne,

dan dink die volk hul kan die Here manipuleer,

deur bloot die verbondsark in hul midde te hê,

dan is die Here mos outomaties in hul midde,

en sal die Here en hul vyande verslaan word,

ongeag dat hul afgedwaal het van sy weë…

So bietjie godsdienstige manipulasie,

ons is mos die volk van die Here, so gebore, die slegte ouens is die Filistyne.

En wat gebeur ?

Die Here se volk word verslaan, 30 000 manskappe (4:10)

Hofni en Pinehas word ook gedood , en Eli sterf ook.

Hfst. 4 eindig met hierdie verdoemende woorde: Ikabod!, wat beteken,

“Weggevoer is die eer uit Israel—met die oog op die wegneming van die ark van God en met die oog op haar skoonvader en haar man. En sy het gesê: Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.” (4:21, 22)

En so, is die volk van die Here, sonder die teken van sy teenwoordigheid,

die ark is weggevoer deur die Filistyne,

die Here se seën is nie met hulle nie,

en vir 20 jaar het daar verval plaasgevind,

waarvan ons hoor in ons teksgedeelte,

die afgodery, die  Baäl’s en Astartes,

dat die HERE nie alleen gedien is nie (7:3,4).

 

U sien dus geliefdes, die volk van die Here, in hulself, verlore,

oorgegee aan afgodery, kan hulself nie red nie,

en het daarom …. ‘n ebenhaesar nodig,

’n Steen, ’n Rots van Hulp, JA, die HERE self is nodig,

om hul te verlos, te red!

In hfst. 5 en 6 gaan die Here self voort om die ark weer terug

te bring na Israel, op die regte manier ook, soos Hy beveel.

Hy alleen bring weer redding en hoop, en kom ons kyk hoe doen Hy dit.

Hoe is Hy ’n hulp, ’n steen van redding en hoop vir sy volk?

Hy doen dit deur die bediening van sy Woord, deur sy profeet,

deur sy rigter, deur Samuel, sy dienskneg.

Die volk se verval het so erg geraak, dat hul begin weeklaag het (v.2),

hul sonde en ongehoorsaamheid het hul ingehaal,

en dan is daar ’n weeklaag …

En dan stuur die Here vir Samuel,

om basies die evangelie, die goeie nuus, te verkondig,

dat by die Here alleen is daar hulp,

Hy is die enigste ebenhaesar, steen van hulp,

daar is geen ander nie,

en daarom, soek die Here in die weg van bekering: bekeer julle!

Daar in vers 3 lees ons dit: “As julle met julle hele hart tot die HERE bekeer…”

Maar dit mag nie net emosies wee nie, maar ook dade,

ware bekering gaan oor in dade,

‘verwyder dan die vreemde gode onder julle uit’, v.3

Verootmoedig jul voor die Here, deur vas en gebede, v. 5, 6

En bely jul sondes, wat die volk ook gedoen het,

“Ons het gesondig …” v. 6

 

O geliefdes, sien u die groot kontras tussen die volk van die Here

in hoofstukke 4-6, en nou hier in hfst. 7 ?

– die volk was eers eiewillig, dien die Here soos hul wil; hier vra hul na die wil

van die Here, hul luister na Samuel, die HERE se dienskneg.

–  in eie krag probeer hul hul vyande verslaan, hul misbruik die ark van God, hier soek hul die Here in verootmoediging, in bekering, in aanbidding

 

Die Filistyne, intussen, sien hierdie godsdienstige bekering en reformasie,

as ’n moontlike rewolusie, v. 7, en trek op om Israel weer te verslaan.

Maar Samuel tree in vir die volk, en baie belangrik, die prentjie is nou heeltemal anders, Samuel OFFER VIR DIE VOLK, ‘n brandoffer, wat wys

op die erkentenis van hul sonde en ongehoorsaamheid,

dat hul terugkeer na Hom in verootmoediging, en

dat hul, hul volkome aan die HERE wil toewy.

En dan tree die Here op, Hy is ’n ebenhaesar vir hulle, ’n steen van hulp.

Nie net in geestelike redding nie (v.1-9) nie, maar ook fisiese redding

van hul vyande (v10ev).

Vers 10, die Here verwar die Filistyne, heel waarskynlik ’n groot storm,

en dit verwar die Filistyne so, dat Israel hul kon verslaan.

Die HERE is waarlik vir sy volk ’n Hulp, ’n Helper in nood.

Daarom dat Samuel die steen of klip oprig, dat hul dit nooit maar nooit

weer sal vergeet nie, van Hom afdwaal nie, op Hom alleen vertrou,

en die sonde haat en wegvlug, en verlossing by die HERE alleen soek.

 

Maar wat van ons geliefdes ?

Daar staan in ons teksvers, ‘Tot hiertoe’ … daardie woorde wys na die verlede, nou, maar ook in die konteks van die hele Skrif, na die toekoms.

Ja, die volk van die HERE moes besef, die Here is altyd getrou aan sy beloftes,

aan Abraham, Isak en Jakob, tot in die duisendste geslag (Ps. 105:5, berymd).

Hy red hul in die verlede, en Hy sal altyd met sy volk wees as ’n Rots, ‘n Hulp,

en sy redding sluit sy tugtinge en vermaninge in.

So mag ons dit ook as ’n gemeente sien.

Ds. Fires hulle het daardie teks gekies, om daarmee te erken,

die Here was vir ons voorgeslagte ’n Hulp, ‘n Steen van Hulp,

sodat ’n gemeente hier gestig kon word (1953),

en kon voortbestaan om Hom te loof en te prys,

om te verkondig dat Hy ons hulp is,

ons enigste Hulp,

“die HERE alleen” moet gedien word (v. 3, 4).

En nou is dit 63 jaar later, en deur baie worstelinge en stryd, vrae,

kan en moet ons daardie woorde vandag nog bely,

“tot hiertoe het die Here ons gehelp.”

Dank die HERE, prys sy wonderlike Naam !

Ons kan hier voortbestaan, en kerk van Christus wees.

Maar onthou, alleen in die weg van vertroue op Hom alleen,

vertroue op sy Seun, wat vir ons geoffer is, vir al ons sondes,

sodat ons ons lewe lank,

’n lewe van verootmoediging, bekering, gebed, dankbaarheid kan lewe.

AS HIERDIE WOORD ‘EBENHAESAR’ NIE DIE WESE, SLAGSPREUK VAN ONS KERK IS EN BLY NIE, kan die Here ons plek hier wegvat…

Onthou wat Jesus self geleer en begin het mee in sy prediking, Mark. 1:15 “Bekeer julle en glo die evangelie”!

Jesus alleen is die Rots en Steen wat ons Hulp is,

moet dit nooit vergeet nie,

verkondig dit aan die volgende geslag !

Dit is na Jesus, ons Rots Steen, wat heengewys word daar in vers 9,

“die suiglam … as ‘n brandoffer” (Hebr. 9; sien HK v/a 19; NGB art. 25),

Die volk het weer verval in sonde,

hul kon nie volkome “die HERE alleen” dien nie,

… tot ons skaamte … ons ook nie !

Maar Christus het volkome die HERE alleen gedoen,

vir ons, en in ons plek Homself ge-offer,

sodat ons ons kan bekeer, van ons afgode afstand kan doen,

vir Hom weer kan lewe, hoe langer hoe meer.

Hy alleen verlos ons van ons grootste vyande …

nee, nie die regering van die dag nie,

nie grondonteiening nie,

nie armoede of ekonomies-politieke verval nie,

maar van die sonde, die wêreld, en die Satan.

En die grootste vyand, dit het ons daar gelees in vers 3, ons sondige harte !

Want onthou, Jesus, ons Ebenhaesar is, is alleen ’n rots, ’n steen van hulp,

vir hulle, vir ons wat besef hoe swak en sondig ons is,

wat besef ons het redding nodig, wat sy genade en hulp,

‘n ebenhaesar nodig het vir alles in ons lewe,

vir redding en heiligmaking,

om hemel toe te gaan, maar ook hier en nou te kan lewe,

tot sy eer en heil van ons naaste.

Jesus sê self: “want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering” (Matt. 9:13)

Vir hulle wat meen hul het nie ‘n ebenhaesar nodig nie,

dus Jesus as Hulp, as Verlosser nie,

onthou, daar is ook ‘n waarskuwing,

as jy nie op die Steen, Rots wil staan nie, dus vertrou en in Hom glo nie,

dan gaan daardie Steen ‘n aanstoot wees, wat jou gaan vermorsel.

Petrus skryf daaroor:

Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling — vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” – 1 Petrus 2:7,8

Wees daarom gewaarsku !

Maar geliefdes, vir jou wat wel jou sondes en worstelinge ken,

swaarkry oor onreg in die lewe, hardkoppige sondes teen stry,

moeilike tye beleef maar vashou aan die HERE,

al gaan dit baiemaal swaar, en daar is selfs oomblikke van twyfel ….

HOU GOEIE MOED, want ‘tot hiertoe’ beteken ook,

die Here se liefde en trou sal nie ophou vir elkeen van sy kinders

wat om Hom in hul swakheid vertrou nie.

Tot hiertoe het die Here jou gedra, en Hy sal jou dra tot die einde toe.

Tot hiertoe het Hy sy kerk bewaar, en Hy sal ons bewaar tot die einde toe.

In hierdie lewe, in al die swaarkry, tot die ewige heerlikheid,

sal Hy vir ons ‘n Hulp wees.

Daarom, gryp die Woord vas, Ebenhaésar, deur die geloof, en weet,

en bely saam Paulus, vir ons en ons kinders,

en vir sy kerke, ook ons gemeente:

“Tot hiertoe het die HERE ons gehelp” (v. 12)

en sal Hy ons aanhou help,

“… omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus” Filp. 1:6

Amen.

One thought on “Preek: 1 Samuel 7:12 “Ebenhaésar – Tot hiertoe het die Here ons gehelp”

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: