Die Verhouding van die Ou Testament en die Nuwe Testament

DIE VERHOUDING VAN DIE OU TESTAMENT

EN DIE NUWE TESTAMENT

deur prof L. Floor*


Nota: ek het onlangs op hierdie artikel van prof. Floor afgekom en deel dit graag met die lesers. Die verhouding tussen OT – NT is nog altyd een van die grootste vraagstukke waarmee die kerk van Christus haar besig hou. Prof Floor gee ‘n paar goeie insigte wat ook help om huidige debatte beter te verstaan.  Ek plaas dit met erkenning van die In die Skriflig teologiese tydskrif.  * Prof. Floor was professor in NT aan die Teologiese Skool Potchefstroom (1978-1988).  Meer van prof. Floor se boeke is hier beskikbaar (sien publikasie afdeling), en aanlyn hier: Enigste Troos.


 Inhoud van die artikel

  • Inleiding
  • Calvyn en die Doperse beweging
  • Moderne doperse tendense
  • Die verbondsstruktuur van die evangelie

Die volledige artikel kan hier gelees word: Verhouding OT – NT

‘n Paar aanhalings uit die artikel (opskrifte bygevoeg):

Die NT oor die OT

“Die Ou Testament was vir ons Here Jesus Christus, vir die apostels en vir die eerste Christelike gemeente die gesaghebbende Woord van God. Die Nuwe Testament gee ’n helder en ondubbelsinnige getuienis van hierdie opvatting.”

Die Hervorming teenoor die Doperse beweging

“In die tyd van die Hervorming sien ons hoedat Calvyn en die aanhangers van die Doperse Beweging met dieselfde Bybel besig is. Beide partye aanvaar die Bybel as die Woord van God. Tog verskil die eksegetiese resultate van Calvyn hemelsbreed van die van sy Doperse teenstanders. Dieselfde Bybel word verskillend verklaar. Die probleem lê nie op die terrein van die Skrifgesag nie, m aar op die gebied van die Skrifgebruik. Gevolg is dat Calvyn met heeltemal ander verklarings kom oor die doop, die kerk, die eed, die owerheid en die heiliging as die Doperse Beweging.”

“Wanneer ons die resultate van Skrifverklaring van Calvyn vergelyk met die van sy teenstanders dan blyk dit dat die ver­skil vernaamlik bepaal word deur ’n verskillende siening op die verhouding Ou Testament en Nuwe Testament.

Die 20ste eeu

In die 20 ste eeu sien ons presies dieselfde verskynsel. Met die opkoms en verbreiding van die Pinksterbeweging en later die Pentekostalisme en die Charismatiese Beweging het die vraag na die legitimiteit van die kinderdoop, die wese van die kerk, die heiliging van die lewe, die werk van die Heilige Gees in die hart weer volop in diskussie gekom.

Die kinderdoop

In die hernude stryd in verband m et die kinderdoop byvoorbeeld is die wyse waarop die Skrifgegewens gehanteer word van die allergrootste belang. Hier kan nie met ’n verwysing na ’n paar insidentele tekste volstaan word nie. Die vraagstuk van die eenheid van God se handele in Ou en Nuwe Verbond kom hier ter sprake. Gaan ons by ’n beroep op die Bybel uit van ’n teenstelling tussen Ou en Nuwe Testament of handhaaf ons die openbaringseenheid van die Heilige Skrif (Koopmans: 1939, 228).”

Twee fronte

“Calvyn moes op twee fronte sy stryd voer. Teenoor die Rooms- Katolieke kerk met sy sterk Ou-Testamenties gekleurde erediens het Calvyn vanuit die Nuwe Testament God se heil in Christus verkondig en verdedig.

Teenoor die Doperse Beweging het Calvyn met krag die waarde en betekenis van die Ou Testament aangetoon. Ons vind by die Doperse Beweging ’n eensydige oriëntering op die Nuwe Testament. Die Ou Testament word as minderwaardig beskou. Daar is alles te aards en te liggaamlik. God se heil vertoon in die Ou Testment soveel stoflike, aardse trekke dat dit nie as die volle heil beskou kan word nie. In hul dualistiese benadering waarin die geestelike teenoor en bo die stoflike geplaas word, het die Doperse Beweging die Ou Testament as minderwaardig en verganklik teenoor die Nuwe Testament geplaas (Graafland, 1978: 23, 24).”

Die verbond se betekenis by Calvyn

“Calvyn sien die verhouding tussen God en sy volk Israel as ’n verbondsverhouding. Calvyn gebruik vir verbond meesal die woord foedus, hoewel hy dit soms ook weergee met pactio, pactum of testamentum. Die woord verbond dui aan dat daar ’n vaste, bestendige gemeenskap tussen God en sy volk is. Met nadruk vermeld Calvyn dat hierdie verbond in Christus gegee is, omdat in die versoening wat Christus bewerk het die gemeenskap tussen God en sy volk alleen gerealiseer kan word (Komm. op Gen. 12 : 3).

By Calvyn is die verbond sowel in die Ou as in die Nuwe Tes­ tament die genadige heilsrelasie tussen God en sy volk. Wolf spreek dan ook geheel tereg van die eenheid van die verbond by Calvyn (1958: 19 e.v.). Die diepste fundering van die eenheid word by Calvyn gevind in sy oortuiging dat die verbond, ook die verbond in sy Ou-Testamentiese vorm ’n eenheid in Christus is (vgl. Cal vyn se Komm. op Jes. 42 :6: Respondeo, foedus quod percussum tuerat cum Abrahamo et posteris, fundem entum fuisse in Christo) (Wolf, 1958:24).

Regverdiging deur die geloof in beide OT en NT

In sy kommentaar op Gen. 1 5 :6 trek Calvyn ’n parallel met Rom. 4 : 3 en dan skrywe hy dat Abraham ten voile in die regverdiging deur die geloof gedeel het en daarin gelyk staan met die gelowiges van die nuwe bedeling. Die verbond met die vaders, so skrywe Calvyn, is ’in substantia et re’ dieselfde as sy verbond met ons (Wolf, 1958: 23). Die verskil lê in die wyse van bediening. Calvyn gebruik dan die woorde administratio, oeconomia en dispensatio (Inst. II, XI, 1).”

Nie stoflik teenoor geestelike dualisme nie, maar van jeug na rypheid

“Terwyl die Doperse Beweging die verhouding van Ou en Nuwe Testament aandui as stoflik teenoor geestelik, kom Calvyn met die fyn onderskeiding van jeug teenoor manlike rypheid en volwassenheid. Calvyn het voldoende oog gehad vir die feit dat die heilsgebeure in Christus in die Ou Testament ’n toekomstige karakter ge­had het, maar dit beteken nie dat die gelowiges daarom geen deel aan die heil wat Christus nog moet verwerf kan hê nie. Inteendeel (Wolf, 1958:30 e.v., 37).”

“Teenoor die Doperse Beweging wat telkens beweer het dat die gelowiges in die Ou Testament ’n laer posisie beklee het, omdat hulle die Heilige Gees nie ontvang het nie, stel Calvyn m et groot nadruk dat alle godsvresendes van die begin van die wêreld af begiftig was met dieselfde Gees van verstand, geregtigheid en heiligmaking waarmee die Here vandag sy kinders verlig en vernuwe.

Wel erken Calvyn, en hier beklemtoon hy weer die onderskeid wat daar ook is, dat die kennis van die gelowiges in die Ou Testa­ment duister, swak en omsluierd was in vergelyking met die kennis wat ons vandag van die evangelie besit, maar dit is verklaarbaar, omdat nou Christus, die Son van die geregtigheid gekom het (Komm. op Hand. 2 : 17).

Verhouding NT – OT in moderne doperse tendense

Eintlik is daar geen prinsipiële verskil tussen die kritiek van Barth en die kritiek van die Doperse Beweging op die kinderdoop nie (Berkouwer, 1947 : 134). Die verskil is alleen dat Barth tog nie vir ’n herdoop, ’n weerdoop pleit nie. Karl Barth is dan ook nie ’n Anabaptis nie. Karl Barth het die Reformatoriese teenstelling: sonde — genade verruil vir die Doperse teenstelling: natuur — genade. Die Doperse Be weging kon hom nooit van hierdie in wese Roomse teenstelling losmaak nie en Karl Barth gaan op hulle spoor weer terug agter (d.w.s. teen – slc) die Reformasie (Berkouwer, 1947 : 111).”

“In die diskussie oor die kinderdoop gaan dit in wese oor die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament. Een van twee is waar: óf die handhawers van die kinderdoop oorskat die beteke­nis van die Ou Testament en hulle maak geestelik wat net natuurlik is, óf die teenstanders van die kinderdoop onderskat die Ou Tes­ tament en hulle beskou as natuurlik wat ook geestelik is. Dit gaan dus in die stryd oor die kinderdoop oor die regte waardering van die Ou Testament. Moet ons soos Calvyn en die Reformatoriese tradisie uitgaan van die eenheid tussen die twee Testamente, of moet ons Barth, Beasley-Murray en die Anabaptiste uitgaan van ’n totale teenstelling tussen Ou en Nuwe Testament?”

Galasiërs 3
“Ons moet wel onthou dat die Abraham kindskap van die heiden-nasies by Paulus nie indentiek is met die Abraham kindskap van die volk Israel nie. Dit hou nie ’n vergeesteliking van Israel se kindskap of van Israel self nie. Dit beteken ook nie dat die heidennasies ingelyf is in ’n Israel wat tot ’n geestelike Israel omgeskep is nie. Die geestelike Abraham kindskap van die heidennasies is vir Paulus gegrond in die verbondsbelofte van God in soverre dit die nasies raak en nie in ’n vergeesteliking van die verbond met Israel nie (Coetzee, 1965:220, 221).

Die eenheid tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond word hier deur Paulus op ’n kernagtige wyse tot uitddrukking gebring. Dit gaan in wese sowel in die Ou Testament as in die Nuwe Testament om dieselfde geloof en dieselfde verbond. In Gal. 3 word ook deur Paulus die eenheid tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond ter sprake gebring. Paulus wys daarop dat Abraham in God geglo het en dit is hom tot geregtigheid gereken (vs. 6).”

Eenheid van gelowiges onder OT en NT 

“Soos Abraham die vader van alle gelowiges is, so is die Israeliete die vaders van die Christene in Korinthe. Paulus wys hier op die eenheid wat daar bestaan tussen die Godsvolk van die Ou Testament en die Nuwe Godsvolk waaraan ook die gelowiges uit die heidene toegevoeg is. Die kerk van die Nuwe Testament is die voortsitting en die vervulling van die historiese volk van God uit die Ou Testament. J. C. Coetzee spreek in hierdie verband van ’n openbaringshistoriese kontinuiteit (Coetzee, 1965 : 304). Uit 1 Kor. 10 : 1 kan ons duidelik aflei dat Paulus die eenheid van die kerk van alle tye geleer het en dat dit ontoelaatbaar is om ’n skeiding te maak tussen die gelowiges in die ou bedeling en die gelowiges in die nuwe bedeling.”

Die verbond teenoor die metodistiese individualisme
“Die struktuur van die evangelie is duidelik ’n verbondsstruktuur. God kom met Sy belofte tot ons en ons kinders. Sowel in die Ou Testament as in die Nuwe Testament is die kinders ingesluit. Die belofte van die verbond is vir julle en julle kinders (Hand. 2 : 29). ’n Verkeerde siening op die verhouding Ou Testament en Nuwe Testament word dikwels veroorsaak deur ’n diep-gewortelde geloofs- individualisme in die geloofsbelewing wat so kenmerkend was vir die Metodisme en wat ons ook opmerk by die Pentekostalisme en in de Charismatiese Beweging. Die betekenis van die verbond soos die Bybel dit leer word dan nie raak gesien nie.

Dikwels gaan dit saam met ’n biblisistiese hantering van die Skrif sonder enige besef van die openbaringshistoriese karakter daarvan. Wanneer dit ook nog gepaard gaan m et ’n Doperse teenstelling wat gemaak word tussen natuur en genade dan word die eenheidsband wat die Nuwe Testament aan die Ou Testament bind gemaklik verbreek.”

“Wanneer die eenheid tussen Ou en Nuwe Testament nie raakgesien word nie en wanneer die verbondsstruktuur van die evangelie ingeruil word vir ’n indiwidualistiese geloofsbelewing dan is die gevaar groot dat die aandag van die Woord weggetrek word en dat dit gevestig word op die mens en sy subjektiewe ervaring. Dan kry ons nie ervaring as vrug van die geloof nie maar ervaring in die plek van geloof.”


Hierdie is slegs ‘n paar aanhalings uit die artikel. Lees gerus die volledige artikel hier: Verhouding OT – NT

Prof Floor se pamflet en boek oor die doop:

Die Heilige Doop in die NT

Kinderdoop, Grootdoop, Herdoop

Sien ook die volgende artikels:

Die Verbondsleer gehandhaaf teenoor die individualistiese Metodisme – Totius

Gesprek oor die Doop

Die reg van die kinderdoop


 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: