BEREA-REEKS #43: WAAROM ONS ALLEEN IN ‘N VOLWAARDIGE EREDIENS NAGMAAL VIER

*BEREA – REEKS (Hand.17:11)  #43

WAAROM ONS ALLEEN IN ‘N VOLWAARDIGE EREDIENS NAGMAAL VIER

“En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit (Matt. 26:26, 27). …. Maar terwyl ek dit beveel … dat julle saamkom … Daarom, my broeders, as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar” (1 Kor. 11:17, 33).

“Die kenmerke waaraan ons die ware kerk uitken, is die volgende … die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het…” (NGB art. 29)

“Die bediening van die nagmaal vind alleen in ‘n erediens plaas onder toesig van die ouderlinge.” (Dordtse Kerkorde, artikel 64)

Geliefde lidmate,

Ons kerkraad het alreeds ‘n paar jaar gelede, op grond van die Skrif, belydenis en kerkorde opnuut bevestig wat daar in Kerkorde artikel 64 staan (sien hierbo), wat ook geld vir die corona-virus tydperk, waar die burgerlike regering tans dit verbied dat gemeentes saamkom vir die weeklikse eredienste.

Dit behels spesifiek dat nagmaal alleen in ‘n fisiese amptelike erediens sal plaas vind, onder toesig van die ouderlinge, waar die Woordbediening en sakramente gesamentlik bedien word.

Daarmee verwerp ons onder andere ‘individualistiese’ en/of ‘virtuele’ nagmaalvieringe waar individuele lidmate/gesinne afsonderlik bedien word by hul huise deur die predikant, en/of enige nagmaalbediening praktyke deur ‘n lidmaat self by die huise, buite die gewone erediens.

Hierdie Berea-reeks gee meer toeligting vir daardie besluit, ook vir ons tye in die besonder:

1 Die Heilige Skrif leer dat die nagmaal ‘n gemeenskapsmaal is.

Die Skrif is duidelik, in Matt. 26:26-28 en 1 Kor. 11:17-34, wat ons van Christus leer, en hoor ons telkemale aangaande die nagmaalviering wat die Here deur Paulus beveel:

–  “En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.” (Matt. 26:26-27)

– ‘Maar terwyl ek dit beveel … dat julle saamkom’ (v. 17)

– ‘as julle saamkom in die gemeente’ (v. 18)

– ‘As julle dus saamkom’ (v. 20)

– ‘as julle saamkom om te eet, wag vir mekaar’ (v. 33).

In die Bybel met Verklarende Aantekeninge, by Matt. 26:27-28 is die volgende verklaring: “Netso is die inhoud van die beker van die pasga die simbool van die gemeenskap: hulle moet almal daaruit drink.” en by 1 Kor. 11: 17 is die volgende verklaring: “dit beveel: nl. dat die gemeentes nie twissiek moet wees nie, v. 16. dat julle saamkom: vergader as gemeente, v. 18, om o.a. die Nagmaal te gebruik.”  Die bevel is dus oor ‘dat’ hul saamkom om Nagmaal te vier as gemeente, en ‘hoe’ hul bymekaar kom, in eensgesindheid en nie in twisgierigheid nie.

Dit is dus ‘n bevel van die Here om saam nagmaal te vier (sien ook Hand. 2:42, 46).

Die gemeenskapsmaal beginsels en erediens beginsels vanuit God se Woord (Woordbediening, ouderlinge toesig, fisiese teenwoordigheid, regte bediening van die nagmaal, ens.) moet alles behou word in alle tye vir die kerk van Christus.

2 Die belydenisskrifte wys op die Nagmaal as ‘n gemeenskapsmaal wat ons saam vier

In NGB artikel 35 wat handel oor ‘Die Heilige Nagmaal’ bely ons in navolging van die Heilige Skrif dat die nagmaal in die ‘samekoms’ van die volk van God plaasvind:

Ten slotte, ons ontvang hierdie sakrament in nederigheid en met eerbied in die samekoms van die volk van God, waar ons met danksegging ‘n heilige gedagtenis aan die dood van Christus ons Verlosser onderhou en belydenis van ons geloof en van die Christelike godsdiens doen.  Daarom behoort niemand daarheen te gaan as hy homself nie eers deeglik ondersoek het nie, sodat hy nie tot sy eie oordeel eet en drink as hy van hierdie brood eet en van hierdie beker drink nie. Kortom, deur die gebruik van hierdie heilige sakrament word ons tot ‘n vurige liefde vir God en ons naaste beweeg. Daarom verwerp ons alle brousels en verwerplike versinsels wat mense by die sakrament bygevoeg en daarmee vermeng het, as ontheiligings daarvan. Ons verklaar dat ons tevrede moet wees met die verordening wat Christus en sy apostels ons geleer het en ons sê dieselfde as wat hulle daarvan gesê het.

Ons bely verder in HK Sondag 28, v/a 75 dat ons met oë fisies die elemente moet sien wat uit die hand van die bedienaar aan ons gegee word:

Vraag: Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?

Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof, ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.

As kerk van Christus, bely ons daarom ook die derde kenmerk van die ware kerk: “die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het” (NGB art. 29), en dat ons die kenmerke van die ‘valse kerk’ verwerp, wat die sakramentsbediening verdraai: “dit bedien die sakramente sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke.” (NGB. art. 29, sien ook NGB art. 32 in hierdie verband).

3 Die Skrif leer dat die leraar of lerende ouderling die nagmaal bedien, nie private individue soos ouers of lidmate in die amp van gelowige nie 

Die woord- en sakramentbediening gaan saam en mag nie geskei word nie.  Dit is deel van die ouderlinge, in die besonder die lerende ouderlinge (predikante/leraars) se ampsbediening om die sakramente te bedien saam met die Woord, wat nie ‘virtueel’ deur die internet of sosiale media kan plaasvind nie, soos ons hierbo bely in v/a 75 dat ons die “brood en beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet”, en dat daardie bedienaar die leraar of lerende ouderling van die gemeente is (sien ook KO art. 16: “Die amp van die bedienaars van die Woord is …. die sakramente te bedien …)

Calvyn (Institusie, boek 4,15,20), met verwysing na Matt. 28:19 skryf:

“En Christus het die opdrag om te doop trouens nóg aan vrouens nóg aan mense na willekeur gegee, maar Hy het hierdie opdrag aan diegene wat Hy as apostels aangestel het, gegee. En toe Hy sy dissipels beveel het om in die bediening van die nagmaal te doen wat hulle gesien het deur Hom gedoen word, aangesien Hy self die amp van wettige Uitdeler daarvan verrig het, was dit ongetwyfeld sy wil dat hulle daarin sy voorbeeld moes naboots. Ek kan dus nie sien hoe die gebruik wat reeds baie eeue lank en daarom amper van die begin van die kerk af posgevat het, naamlik dat leke wel in doodsgevaar die doop mag bedien as ’n bedienaar van die Woord op die tydstip nie aanwesig is nie, met ’n grondige redenasie verdedig kan word nie.”

Calvyn se verklaring by Matt. 28:19,

“Aangesien hierdie opdrag (om te doop -slc) uitdruklik aan die apostels gegee word tesame met die verkondiging van die Woord, volg dit dat niemand die doop wettiglik kan administreer nie, maar diegene wat ook leraars is. As privaat persone en selfs vroue toegelaat word om te doop, kan niks meer daarmee in stryd met die ordinansie van Christus wees as dit nie, en is dit ook niks anders as ‘n ontheiliging nie.”

Ons mag ons nie skuldig maak aan eiewillige sakramentsbediening nie, maar bly by wat Christus vir ons ingestel het.

4. Nagmaal kan bedien word op ‘n ander plek as die kerkgebou, maar dan nogsteeds in ‘n volwaardige erediens op ‘n bepaalde plek onder toesig van die ouderlinge met die Woordbedienaar wat voortgaan

Dr. Jan Visser skryf as volg by art. 64 van die Kerkorde (Kerkorde in Praktyk, 2006: 233):

“Artikel 64 bepaal uitdruklik dat die nagmaal slegs in ‘n erediens onder toesig van die ouderlinge bedien mag word. Daar mag dus, teoreties gesproke, in hoogs uitsonderlike gevalle wel nagmaal aan huis van ‘n lidmaat bedien word – op voorwaarde dat daar in die huis ‘n erediens gehou word onder toesig van die ouderlinge.  Persoonlik meen ek dat dit prakties nie gedoen behoort te word nie, en wel om twee redes: die nagmaal is bedoel as ‘n gemeenskapsmaal vir die hele gemeente; om nagmaal aan huis te bedien kan maklik die indruk skep dat lidmate wel sonder gereelde Woordbediening kan klaarkom, maar nie sonder nagmaalsbediening nie. So ‘n siening is natuurlik totaal onaanvaarbaar, omdat dit grens aan bygeloof (kyk op p. 246: “Alle bygeloof vermy.”).”

Ons kerkraad het besluit dat in spesiale uitsonderlike gevalle daar wel nagmaal gevier mag word in ‘n ander plek as ons kerkgebou, maar dan soos dr. Visser dit hierbo stel, “in hoogs uitsonderlike gevalle wel nagmaal aan huis van ‘n lidmaat bedien word – op voorwaarde dat daar in die huis ‘n erediens gehou word onder toesig van die ouderlinge.”  Dit is dan egter alleen die plek wat verander, dat ‘n nagmaal erediens na ‘n ander plek verskuif as die kerkgebou, maar nog steeds die leraar wat die sakrament bedien onder toesig van die ouderlinge in ‘n gemeenskapsmaal, nl. ‘as julle saamkom’ (1 Kor. 14:17,18.20,33).

So kan dit dan ook gebeur dat in gevalle van ‘n gesondheidspandemie die gemeente in kleiner getalle ‘saamkom’ om die Woord te hoor en nagmaal te vier in ‘n volwaardige erediens, maar nie afsonderlik elkeen in sy eie huis met lidmate wat self die nagmaal bedien en/of ‘virtuele nagmale’ hou nie.

5 Skrifbeginsels moet ons lei in hierdie saak, nie pragmatisme of bygeloof nie

5.1 Bygeloof

In die Dordtse Kerkorde artikel 62 lees ons oor die bepaalde orde van nagmaalviering, gegrond op beginsels uit God se Woord:

“Elke kerk moet die nagmaal hou op die wyse wat na sy oordeel tot die meeste stigting dien. Dit moet egter goed verstaan word dat die uitwendige seremonies wat in die Woord van God voorgeskryf is, nie verander mag word nie, dat alle bygeloof vermy moet word en dat na die preek en algemene gebede, die formulier van die Heilige Nagmaal, asook die gebed wat daarby behoort, gelees moet word.”

Hoe belangrik die nagmaal ookal is en ons smag daarna met groot verlange, moet ons nie in bygelowigheid val asof dit belangriker as die Woordbediening is nie, of dat ons sy bevele oor hoe, wie en waar die nagmaal bedien moet word (‘die uitwendige seremonies wat in die Woord voorgeskryf is’) daarom verag nie, dan neig ons in ‘n Roomse rigting. Dr. Visser waarsku daarom as volg (2006: 233):

“Hierdie bepaling in artikel 62 moet gesien word in sy historiese verband. Dit is naamlik hoofsaaklik gerig teen die dwaalleer van die Roomse mis, naamlik dat die brood en wyn werklik in die liggaam en bloed van die Here verander en daarom as die offer van sy liggaam en bloed aanbid moet word. Vandag is daar egter ook in die geledere van die GKSA ‘n stuk bygeloof wat wortel en tak uitgeroei moet word! Dit is naamlik dié bygeloof dat die nagmaal baie hoër geag word as die gereelde Woordbediening: van die nagmaal mag nie weggebly word nie; maar die Woordbediening, twee keer elke Sondag, is nou nie so belangrik nie!”

Ons moet altyd onthou die sakramente, dus ook die nagmaal, ‘versterk’ ons geloof, dit ‘bewerk’ nie ons geloof nie, alleen die Gees deur die verkondiging van die evangelie ‘bewerk’ die geloof, sien HK v/a 65, en daarom kan ons geduldig smagtend wag totdat dit weer moontlik is om in volwaardige eredienste nagmaal te vier op die regte wyse.

5.2 Pragmatisme

Virtuele en/of individualistiese nagmaalviering in stryd met die Skrif, belydenis en kerkorde, is ongelukkig dieselfde pragmatiese (onbybelse) redenasies soos bv. by die geval waar mense vroue as predikante en ouderlinge wil bevestig weens die ‘praktiese probleme’ van bv. ‘n tekort aan manlike ampsdraers.  Die redenasie is: “as daar nie meer manlike ouderlinge of manlike predikante is nie, is dit mos ‘beter’ dat daar ten minste vroue ouderlinge en vroue predikante is, sodat die Woord en sakramente darem ‘ten minste’ bedien kan word?”

So ‘n redenasie is ongelukkig van Saul (1 Sam. 13:8-14; 15:15-23) en Jerobeam (1 Kon. 12:31), wat weens hulle ‘praktiese moeilike omstandighede en worstelinge’ ongehoorsaam was aan die Here, en Here nie gedien het volgens wat Hy beveel het nie, dit was eiewillige godsdiens. Ds. PJ de Bruyn skryf (Die Kerkblad, 13 Julie 1966) dat:

“Eiewillige godsdiens beteken volgens ons Kate­gismus dat ons God op ‘n ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel (Antwoord 96). Eiewillige godsdiens word by ons gevind wan­neer ons God dien soos óns wil en nie soos Hý wil nie.”

Dus, wanneer God se bevele nie nagekom kan word nie, dan daar nie tans ‘n volwaardige gemeente onder toesig van manlike ouderlinge kan wees nie, moet daar gewag word tot die Here deure oopmaak dat daar ‘n gemeente kan wees waar volgens sy bevel die eredienste, kerkregering, ens. kan plaasvind.  Ons mag nie eiewillig optree nie.  Dieselfde geld vir nagmaalviering, wat eers op die regte manier bedien kan word in ‘n volwaardige erediens.

Samevattende hedendaagse oproep tot getuienis en gebed

Dr. B. Duvenhage vat die saak oor waar die nagmaal gevier word goed saam in die volgende woorde (Geloofsleer, 1963: 156):

“Die sakramente is bykomstig by die Woord en dien alleen tot versterking van die geloof. Die Woord dien om die geloof te werk en te versterk. Saam vorm hulle die genademiddels. Die sakramente staan nie naas of bo die Woord nie maar onder. Daarom mag die sakramente nie sonder die Woord bedien word nie. Hoe sal dit anders die Woord kan bevestig? Sowel die doop as die nagmaal moet in die erediens plaasvind by die amptelike verkondiging van die Woord, onder toesig van die kerkraad. Die bediening van die nagmaal of die doop by die huis vir ‘n lidmaat persoonlik mag nie gebeur nie. Dit is teen die aard van die sakrament, wat die Woord moet bevestig.”

So moet daar groot verlange wees dat daar weer volwaardige eredienste op die rusdag sal wees, sodat ons weer kan ‘saamkom’ om die Woord te hoor, te aanbid, Psalms te sing, gemeenskap van die heiliges te beoefen, nagmaal huisbesoeke gedoen kan word (KO artikel 23), én dan weer nagmaal te vier, soos Hy beveel.

Die kerk van die Here moet juis hierdie oproep van nagmaal alleen hou in fisiese ‘samekomste’ van die gemeente, as een van die groot essensiële redes gebruik teenoor die regering waarom publieke eredienste moet voortgaan, natuurlik onder die nodige voorsorgmaatreëls. Dit is daarom tragies dat sommiges hierdie grond wil weggee deur pragmaties en uit bygeloof te redeneer vir ‘virtuele nagmaalvieringe’.

Ons moet aanhou tydig en ontydig getuig, nie net aan ons regering nie, maar veral teenoor swakker en onkundige gelowiges, dat die Here se publieke eredienste op die rusdag herstel sal word, sodat ons met nuwe ywer, vreugde en dankbaarkheid saam kan kom onder die lewende verkondiging van God se Woord en die bediening van die sakramente, soos Hy beveel.

Mag die Here ons hierin genadig wees, Ps. 25:22.

________________________________________

PDF weergawe kan hier afgelaai word.

Berea-reeks elektroniese uitgawes (u kan enige nommer wat u wil lees per e-pos aanvra by: proregno@gmail.com)

nommer 1 Hoekom gebruik ds Slabbert die Ou en nie die Nuwe Vertaling nie ?

nommer 2 Waarom het ons nie vroue in die besondere ampte nie ?

nommer 3 Wat leer die Skrif oor egskeiding en hertroue ?

nommer 4 Is die Dordtse Leerreëls nog van betekenis vir vandag ?

nommer 5 Waarom ons ons geliefdes begrawe, en nie verbrand nie?

nommer 6 Hoekom was die sing van die Psalms so belangrike saak in 1859 ?

nommer 7 Waarom behoort ons nie Kersfees te vier nie ?

nommer 8 Waarom laat ds Slabbert net die Psalms sing en nie Skrifberymings (en Gesange) nie ?

nommer 9 Wat is nou eintlik Gereformeerde Aanbidding ?

nommer 10 Wat het Johannes Calvyn geleer oor hoe ons die HERE moet aanbid ?

nommer 11 Wat leer Sondag 35 v/a 96 oor hoe ons die HERE moet aanbid ?

nommer 12 Die Christelike geloof, Steve Hofmeyr en die Bulle

nommer 13 Die moderne jeugbediening: goed of sleg ?

nommer 14 Verslag van die GTV konferensie van 2008

nommer 15 Ope brief aan die onrustiges in die GKSA

nommer 16 Calvinisme vs Arminianisme (Dordtse Sinode, 1618/19)

nommer 17 Mag vroue tot die besondere amp van diaken verkies word ?

nommer 18 Die herstigting van die Gereformeerde Kerke in 1859

nommer 19 Ons roeping en toekoms

nommer 20 Poligamie in die lig van die Bybel

nommer 21 Desmond Tutu se ‘Children of God’

nommer 22 Die dwalinge van Rome vandag

nommer 23 Wat het die GKSA Sinode van 2009 besluit oor die vrou in die besondere ampte?

nommer 24 Totius oor gemeente-, kerkraads- en meerdere vergaderings

nommer 25 Die vrou in die besondere ampte in die lig van die Pinkstergebeure

nommer 26 Boekbespreking: ‘Opgestaan’ van Ferdie Mulder

nommer 27 Vrou in die ampte in die lig van Skrif en belydenis

nommer 28 Probleme met die komende nuwe vertaling

nommer 29 Geslagtelikheid in NGB artikel 30: “Die regering van die kerk”

nommer 30 Vrou en die ampte en homoseksualisme

nommer 31 Vrou in die ampte en stemreg

nommer 32 Ope Brief aan die GKSA – dr. Jac Howell

nommer 33 Perspektief op die Ope Brief – dr. Jac Howell

nommer 34 Huwelik, egskeiding en hertrou

nommer 35 Hoe ken ons die dwaling ?

nommer 36 Die reformasie van die amp van die gelowige

nommer 37 Verslag van die algemene sinode van 2015

nommer 38 Van vrou-in-die-amp na homoseksualisme debat

nommer 39 NG Sinode 2015 kies vir homoseksualisme

nommer 40 Verdorwenheid van die mens en onvoorwaardilike uitverkiesing

nommer 41 Beperkte versoening en onweerstaanbare genade

nommer 42 Die kerk is die Here se erfdeel

nommer 43 Waarom ons alleen in ‘n volwaardige erediens nagmaal vier

* Die Berea reeks is ‘n reeks artikels wat ds. Slabbert Le Cornu skryf (of ander predikante en teoloë laat spreek) oor verskillende onderwerpe van ons christelike gereformeerde geloof. Die reeks pamflette word genoem ‘Berea’ na aanleiding van Hand.17:11, “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessalonika; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” As gelowiges moet ons alles wat ons glo en doen ondersoek in die lig van die Skrifte. Dit is dan ook die doel van die Berea-reeks, sodat ons God mag liefhê en dien soos dit Hom behaag en ons gemeente daardeur kan opbou.

3 thoughts on “BEREA-REEKS #43: WAAROM ONS ALLEEN IN ‘N VOLWAARDIGE EREDIENS NAGMAAL VIER

Add yours

  1. Baie dankie vir die Nagmaal gebruilk. Ons is so geneig om altyd af te dwaal. Dit wat maklik is. Ons moet altyd reformeer. Terug keer na die Bybel, en nie net die stukke wat by jou siening aanpas nie. Dit in perspektief lees en laat verklaar volgens die drie formuliere.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: