DIE KONINGSKAP VAN DIE VERHEERLIKTE CHRISTUS WORD NIE GENOEGSAAM ERKEN NIE*
deur
“En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?” (Luk. 24:5)
Prof. Spoelstra se artikel, Stol ons “kerklike” godsdiensbeoefening in die historiese Jesus?, is baie belangrike leesstof om te verstaan waarom die kerk van Christus oor die algemeen, en die dopperkerke in die besonder, nie meer die ‘sout en lig’ is wat dit was in die verlede nie (Matt. 5:13-16).
Die GKSA was nog altyd die kleinste deel van die ‘susterskerke’ onder die Afrikaanse gereformeerde kerke, maar die invloed was groot, op elke terrein van lewe en denke, maar veral sedert die tweede helfte van die 20ste eeu, het daardie invloed al meer en radikaal begin afneem.
Daar is verskeie redes daarvoor, in hierdie artikel van my, skryf ek ook oor onderliggende redes wat deel uit maak van die probleem van ‘ons roeping en toekoms’ (sien Totius se lesing hier oor die onderwerp), ook aan die begin van die 21ste eeu, wat sekerlik ook nie nuut is nie, maar deur die eeue nog heeltyd gevra is, wat in twee vrae saamgevat kan word:
- wat is die aard van die Koninkryk van God die Vader, in sy Seun, deur die krag van die Gees, want daaruit vloei ons roeping en taak hier op aarde, op elke lewensterrein?
- en as ons dan ‘n roeping en taak het in sy Koninkryk, volgens watter standaard/norm gaan ons op elke terrein van die lewe sy koninkryk bevorder tot sy eer, en heil van ons naaste?
Prof. Bouke wys op die krisis as volg, waar die oproepe van ‘verandering’ nie allesomvattende bybelse bekering en reformasie was terug na die lewende God en sy Verlossersheerskappy in alles van ons totale lewe nie (1 Kor. 10:31):
“… Waarom het hierdie aandag vir God se voorsienigheid in die geskiedenis in die tweede helfte van die 20ste eeu uit die gesigsveld van kerklike godsdiensbeoefening verdwyn? Waarom word verandering” vandag as “reformasie”, “vernuwing” of “ontwikkeling” aangeprys terwyl die begrip “reformasie” bedoel om waardes uit die verlede te herstel (vgl. Jer. 6:16)? Hoe kan “verandering” as “hervorming” waardeer word as dit deurgevoer word aan die hand van moderne eietydse norme en behoeftes sonder verantwoording aan waardes van die verlede? Is dit nie rewolusie aan die hand van die tydsgees nie?
Die GKSA (as mense) het die regering van God onder die noemer “Calvinisme” veral met en deur die PUK (vgl. talle publikasies) tot die middel van die 20 ste eeu in Suid-Afrika uitgedra. Die Kerk en Universiteit was klein, maar die boodskap het wyd aandag getrek. Hulle het voor 1910 (saam met Natal) vir federasie in plaas van unifikasie gepleit, Christelike in plaas van neutrale onderwys, die skool as verlengstuk van die ouerhuis kragtens die doopbelofte met moedertaalonderwys bepleit en was pioniers om Afrikaans as kerk- en landstaal in te voer. Die Hoër Gimnasium in Potchefstroom was waarskynlik die eerste skool wat Afrikaans as voertaal gebesig het. Kortom, die ideaal was om met opoffering die vaandel van soli Deo Gloria te hys. Die geskiedenis van die GKSA getuig van 1859 tot 1950, ten spyte van gebreke en sonde, van geloof in God wat regeer sodat die dag van klein dinge nie verag mag word nie (vgl. Lion-Cachet, 1911).
Prediking moet vandag nog die volle lewe waaroor God regeer belig – ekonomies sowel as polities, kultureel so wel as sosiaal. As dit nie gebeur nie, raak kerklike godsdiensbeoefening geïsoleer van die kultuur-en leefwêreld van die gelowiges wat die kerk (gemeente) is.
Kortom, dit raak vreemd aan menslike eksistensie. Wanneer preke die kontemporêre ekonomiese, politieke, kulturele, sosiale, lewensbeskoulike en selfs godsdienstige werklikheid waarmee die gelowige in sy lewe te doen kry, nie raak nie voed dit geen geloof in God wat regeer nie. So ’n kerklike gemeenskap moet roepingloos afloop en afsterf en helaas soos talle kerklike wrakke langs die pad lê.“
Hier is die ‘opsomming’ van die artikel, asook ‘n paar aanhalings uit die artikel, maar lees gerus die hele artikel in sy geheel om ons tye en toekoms te verstaan, mag die Here ons genadig wees en bekering en voortgaande reformasie skenk in Christus, tot sy eer en die heil van sy gemeentes:
“Stol ons “kerklike” godsdiensbeoefening in die historiese Jesus? Hierdie artikel stel basies die vraag aan die orde of die koningskap van Christus en die kerklike beoefening van godsdiens in die GKSA
voldoende tot sy reg kom. Die artikel gaan uit van die waarneming dat regverdigmaking (versoening) deur die verdienste van Jesus aan die kruis die spil is waaromheen kerklike godsdiens (o.a. Nagmaal) in die GKSA beoefen word en stel dat sedert Karl Barth alle nadruk val op die openbaring van God in die Bybel. Die openbaring van God in die skepping, die onderhouding daarvan en die rol van die geskiedenis word grootliks verwaarloos.
Die gevolg is dat die verheerlikte Christus se regering nie in die lewe hier en nou ervaar word nie. Gevolglik word die teenswoordige geloof en godsdienssbeoefening gerig op Jesus se aardse lewe en werk van 2000 jaar gelede. Geskiedenis (waarin Hy regeer het en regeer tot vandag) word ’n verleentheid en geïgnoreer. Die invloed van rasionalisme en humanisme mag bygedra het dat die gemeenskap met die verheerlikte Christus nie opsigtelik in kerklike godsdiensbeoefening na vore kom nie. Die godsdiensbeoefening in die GKSA het waarskynlik ontwikkel in die spore van Zwingli en nie in dié van Calvyn nie, sodat dit arm is aan werklike kommunie met die lewende en regerende Christus.”
“Die humanisme maak die mens immers die belangrikste komponent in die godsdienstige verhouding tussen God en mens. In dagblaaie word vandag strepe getrek deur ’n Christologiese en Christokratiese verklaring van die Ou Testament. ’n Ou-Testamentiese figuur word vandag buite historiese konteks as rolmodel aan mense voorgehou deur ’n is-gelyk-aan-teken tussen mense van verlede en hede te plaas. Sodoende kan kerklike godsdiensbeoefening mense as ’t ware hier en nou by die historiese Jesus bring.””Ons moet dus vra of ons gereformeerde godsdiens die oorwinning en koningskap van die Here prakties verwerk wanneer die soteriologiese tendens in gepubliseerde preke, evangelisasie, gesprekke, gebede en die Nagmaalformulier opval en van die slotgebed in die Doopformulier in praktyk min tereg kom.”
“Die Neo-platonisme, Aristoteles (saam met Thomas van Aquino), die Skolastiek, ewolusionisme en selfs die “neo-Calvinisme” is voorbeelde van ’n erfenis uit die geskiedenis wat op die kerk en godsdiens in die GKSA tot vandag toe ingrypende invloed uitgeoefen het. Eietydse kerkgeskiedenis kan nie sonder begrip vir humanisme, liberalisme, individualisme, materialisme, sosialisme, ewolusionisme, internasionalisme, kapitalisme, kommunisme, kolonialisme, die Tweede Wêreldoorlog, New Age, post-modernisme en baie meer verstaan word nie. Hierdie kragte werk dalk sterker as die Bybel in op teoloë, kerkmense, kansels van die GKSA, geleerdes en Jan Alleman.”
“My indruk is dat die mense wat vandag in die GKSA is, nie soos voorgeslagte in en na die Groot Trek of die Engelse Oorlog (vgl. Spoelstra, 2000) bewustelik erns maak (as ’n mens na opvoeding, skole en selfs kategese kyk) met die geskiedenis as openbaring van God in hulle kultuur, politiek, ekonomie, opvoeding, onderwys en veral by die opleiding van hulle predikante nie. Latyn word by die opleiding van predikante verplig, maar nie Geskiedenis nie. Dit is asof kerklike godsdiensbeoefening los staan van wat in die wêreld gebeur en gebeur het.”
“Die PU vir CHO was wel teen 1990 grootliks van die GKSA gespeen, maar ook daar is die “transformasie” verwag en beoordeel soos dit eie belange raak. My indruk was dat die GKSA as mense en as vergaderings na 1961 plotseling Artikel 30 KO as ’n skilpaddop ontdek het om in weg te kruip vir wat in die land gebeur het en dat proaktiewe posisionering met die oog op staatsubsidies vir die PU vir CHO die hoogste prioriteit was.”
“Die ‘kerk’ soos mense dit demokraties en verenigingsregtelik verstaan, roep self al die vraag op: Het ons kerkwees in strukture gestol? (Spoelstra, 1989:64). Lê die diepste oorsaak daarvoor nie daarin dat kerklike godsdiensbeoefening oorwegend impotent raak om die wil van God in die lewensvraagstukke van die hedendaagse mens raak te sien nie? Sien ons werklik In U lig die lig? Verwarde Afrikaanse Kerke is vandag allerweë in ’n oorlewingstryd gedompel. Mense (ook predikante) probeer met die tydsgees ’n “nuwe” wiel vir kerk en die godsdiens uitvind. In hulle miskenning van die geskiedenis besef hulle nie dat “nuwe” idees soos Schulze (1998a en 1998b) aantoon, meestal die herlewing van vermomde sofisme, verligting, modernisme of ander ou strominge kan wees nie (vgl. ook Wyijbeek, 2002).”
“Die verskil was slegs dat Rome nog die pous (met sy priesters) finalitêr as dienaar en verteenwoordiger van Christus aanvaar het, terwyl die humanisme in reformatoriese kerke die aksent verplaas het na “die kerk” (as sinodes en ampsdraers). Daarmee is die koningskap van Christus effektief uitgeskakel. Die Christokrasie van die Nuwe-Testamentiese Sendbriewe verdwyn in reformatoriese kerke omdat dit in stryd met “redelike” godsdiens of ’n stappie terug na die Roomse mistiek sou wees. Humaniste soos die Anabaptiste het die Reformatore beskuldig dat hulle die werk van die Heilige Gees misken (Spoelstra, 1975: 37 e.v).”
“Die wese van liberalisme en modernisme is nie ’n strewe na vryheid nie, maar verwerping van enige gesag buite die wil en rede van die individu (Hanekom 1951:x). Dit weeg nie besluite nie, maar tel die meerderheid koppe (demokrasie). Die Bybel behoort vir die liberalis kragtens ewolusie tot die verlede, is tydsgebonde sodat teoloë op grond van hulle “kennis” die historiese Jesus vandag rasioneel vir mense moet vertolk. Die Skrif is nie deursigtig nie en ewolusie is immers ontwikkeling.”
Kla charismatici en aanhangers van kleingroep-bewegings nie tereg oor ’n gebrek aan ‘geestelikheid’ in kerklike godsdiensbeoefening wat in kerksentrisme, formalisme en biblisisme gestol het nie? Val hulle nie maar net weer op ’n ander manier as kinders van die humanisme in ’n gemoedeliker groef by die “historiese Jesus” vas nie? Ons het vandag ’n belewing van eenheid (die nuwe verbond) met die verheerlike Christus en mekaar nodig sodat kerklike godsdiensbeoefening weer klem lê op gehoorsaamheid aan die lewende Christus op elke terrein van die lewe.”
_________________________________
* titel en alle beklemtonings in aanhalings is bygevoeg
Bouke Spoelstra: ‘n blyk van waardering
Hier is ‘n paar artikels van prof. Spoelstra aanlyn beskikbaar:
Boek beskikbaar by Pro Regno Boeke: R50-00