BOEKRESENSIE: ‘N ONMISBARE GIDS – TEEN DIE REVOLUSIE, DIE EVANGELIE

BOEKRESENSIE: ‘N ONMISBARE GIDS

‘TEEN DIE REVOLUSIE, DIE  EVANGELIE’

deur Totius

Kuyper sê êrens dat die Gereformeerdes in die Dordtse tyd nie meer as een-tiende van die hele Nederlandse bevolking getel het nie. Ten slotte is dit nie die getal wat tel nie. As diegene wat hulle Calviniste noem, in alle beslistheid Calviniste wil wees, kan ons nog die redding van ons volk tegemoetsien.” – Totius

Inleiding

Ek plaas Totius se resensie hier van prof. ds. H. Smitskamp se belangrike werk, Teen die revolutie die evangelie: Die betekenis van Groen van Prinsterer vir ons tyd (vertaal en verwerk deur prof. S. Du Toit, uit die Nederlands in Afrikaans).

Dit is ‘n kosbare geskrif, en daarom die resensie wat ook bemoedigend is vir ons tye, ongeag die ‘getalle oormag’ en groot verval van ons rewolusie tye, wat veral gesien word in die neo-marxistiese woke ongeloofskultuur wat die basis van kerk en staat probeer vernietig, naamlik die huwelik en gesin.

Groen van Prinsterer was ‘n begenadigde sterk getuie in sy tyd, en hy het ook nie sy getuienis afhanklik gemaak van ‘getalle’ nie. Beginsels bepaal getalle, nie getalle beginsels nie. Om Bybels te wees is juis om totaal relevant te wees, Noag was totaal ‘relevant’ vir sy tyd, nie hulle wat buite die ark was nie!

Baie van Groen se eie mense het hom ongelukkig ook vervolg en as ‘middeleeus’ gesien in hul tye, hom gewaarsku teen ‘isolasie en verkramptheid’.

En so sal dit wees met die Here se kinders wat vandag nog teen VANDAG se afgode, misleidings, valse kerke en valse profete, tydig en ontydig die evangelie van Christus verkondig, en terugroep na sy goeie wette as standaard van die ganse lewe, sien Matt. 5:10-20, sien 2 Tim. 4:1-9 … Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, dit is wat vir Demas wesentlik saakgemaak, nie of Paulus gepreek het ‘so sê die HERE’ nie, maar wat gaan die ‘wêreld en kerk’ van ons tye dink oor Paulus wat so ‘aanstoot’ veroorsaak teen die valse profete van 2 Tim. 4:3,4?

So gebeur dit ongelukkig met baie kerkmense ook vandag, soos 2 Tim. 3:1-13 al meer in ons tye waar word, lees dit oor en oor geliefdes, peins, en bid vir die Here se genade om staande te bly en te volhard tot die einde toe (Matt. 24:13)!

En die enigste antwoord vir ons, vir my, ja ons sieleheil, maar ook tydelike heil en toekoms, is die woorde van 2 Tim. 3:14 tot 4:8 (lees en peins en bid daaroor liewe broer en suster, en maak seker dit is die wese van u en u gesin en gemeente se lewe, Matt. 6:21!), vir elke gelowige, gesin, gemeente, gemeenskap, volke, lande, ens, sien daarom die waarskuwende uitnodiging en oproep van Ps. 2:10-12 en Joh. 3:36.

Sien ook Paulus se waarskuwende liefdevolle oproep aan Timoteus, en aan elke gelowige en elke kerkraad, en elke ampsdraer in 2 Tim. 1:7-9,

“Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie … Skaam jou dan nie oor die getuienis van ons Here of oor my …  nie.”

Mag die Here ons en ons kerke genadig wees vir die huidig en toekomstige stryd wat voorlê, hou aan bid vir Ps. 25:22 ook vir ons kerke onder alle volke en alle plekke in die ganse wêreld.

Lees en leer saam uit Totius se samevattende boekbespreking van Groen van Prinsterer se werk, Ongeloof en Revolutie, soos saamgevat deur dr. Smitkamp.
___________________________________

BOEKRESENSIE: TEEN DIE REVOLUSIE DIE EVANGELIE

Ons wens hiermee ‘n uitgawe aan te kondig wat ons soveel moontlik versprei sou wil sien.

Die tyd het gekom dat die Afrikaner ‘n ondersoek na die grondslae van sy volkslewe moet instel.

Wat is reg en wat is verkeerd?

As daar eenmaal op ongewisse grond gebou is, is die Afrikaner sy vastigheid kwyt en sal daar ontaarding intree weens volksvreemde invloede.

Die uitgawe wat hierby onder die aandag van al die lesers gebring word, dra as titel: Teen die revolutie die evangelie. Die ondertitel lui: “Die betekenis van Groen van Prinsterer vir ons tyd.”

Die skrywer is prof. dr. H. Smitskamp van die Vrye Universiteit.

Om die geskrif des te gemakliker by ons volk ingang te laat vind, het prof. dr. S. du Toit van die Teologiese Skool dit in Afrikaans oorgesit. Dit is egter geen oorsetting sonder meer nie. In oorleg met die skrywer en met die oog op die Afrikaanse leser is sowel vertaal as omgewerk, terwyl enigsins vreemde woorde tussen hakies verduidelik word.

Hierdie paar woorde van die vertaler plaas ons midde-in die betekenis van die geskrif. Dit lui:

“Tereg wys dr. Smitskamp daarop dat die woorde van Groen van Prinsterer na die tweede  wêreldoorlog nog net so aktueel bly. Ons staan immers nog teenoor ‘n beliggaming van die revolusiegedagte en wel in ‘n nog afgrysliker gedaante. Groen het hierdie toestande reeds in die 19de eeu vooruitgesien. Hy het gewaarsku dat Europa ‘n puinhoop sal word as die revolusiegedagte en die verwerping van die Evangelie veld win. En daarom kan hy ook vir ons nog ,siener’ wees.”

Stryder teen die Ongeloof

Groen is so ‘n pragtige persoonlikheid. Vandaar dat skrywers geprobeer het om sy hoogstaande persoonlikheid in een formule saam te trek. Dr. Smitskamp noem hom „stryder teen die ongeloof”.

En dit was hy inderdaad.

In vier punte vat dr. Smitskamp die stryd saam:

1) Hy het gestry vir die Christelike Skool, want hy het aangetoon dat die ongeloof hom meester gemaak het van die onderwys.

2) Hy het sy kerklike aksie gevoer (nl. as lid van die Nederduits Hervormde Kerk), want hy het waargeneem dat die ongeloof, onder die naam van modernisme, in die Kerk ingedring het.

3) Hy het die geskiedenis bestudeer, want dit het vir hom duidelik geword dat die ongelowige wetenskap die voorstelling van die Nederlandse geskiedenis vervals het.

4) Ook het hy hom in die politieke stryd gewerp, want op staatkundige gebied het hy die toenemende invloed bespeur van die dwalinge wat voortvloei uit die ongeloof.

Groen het die verwyt moes hoor dat hy die lewe soek by die dode, dat hy ‘n reaksionêr is, ‘n dweper met middeleeuse toestande, ‘n duisterling wat enkele eeue te laat gebore is ! So het „die denkende deel van die nasie” oor hom gedink!

„En”, so vra dr. Smitskamp, „wat het daar oorgebly van die selfgenoegsame wysheid van die oorheersende liberalisme? . . . Maar na Groen word nog steeds geluister en weer opnuut geluister, ook deur hulle wat nie sy geesverwante is nie” (bl. 14, 15).

In hoë volksvergaderinge en elders hier in Suid-Afrika hoor ons ook, as vir C.N.O. geywer word: Julle wil na die middeleeue terug. En, leser, moenie dink dat hier by ons nie so ‘n ding soos

Liberalisme is nie. Lees maar hierdie geskrif noukeurig en u sal tot ander gevolgtrekkinge kom.

Getuienis gee

Groen was ‘n generaal sonder ‘n leer. So het hulle hom ook genoem.

Sal ‘n mens jou dan agter so ‘n eensame gaan skaar? Ons wil mos graag by die groot trop gereken word. Liewer dood as uit die mode! Dit is ‘n gesegde wat nog altyd inslaan en aanhangers werf.

Hoe het Groen hierteenoor gestaan? Hy het geweet dat as ‘n mens vir beginsels getuienis aflê, dan is „spoedige sukses uitgesluit”. Maar dan voeg hy daaraan toe: „Ook by die onguns van die omstandighede kan daar getuienis afgele word; hierdie voortdurende getuienis self is reeds kragtige praktyk”.

Pragtige geloofstaal!

Dan vra Groen: „Is die verkondiging van beginsels ‘n weinig betekenende werk?” Hy verwys na die wêreldomvattende en altyd nog voortdurende krag van die Franse Rewolusie van 1789. Maar hoe het dit begin? Met „geskrifte en gesprekke”.

Daarmee wil hy sê dat ons as gelowiges net so moet aanhou en uithou met ons getuienis.

Dit is Groen se woorde:

„Glo u dat daar in die geskrifte en gesprekke van die 18e eeu geringe krag tot voorbereiding van die Revolusie gele het? . . . Daar lê ook tans in vrymoedige belydenis van oortuiging ‘n vermoë waarvan die werking alleen bekend is aan Hom wat laat groei. Ons het lank genoeg gespreek en geskrywe, hoor ‘n mens soms: die tyd van handel is daar! Asof spreek en skrywe geen handeling is nie, en slegs die saaier niks doen nie!”

Laat ons „in die oog hou dat die heerskappy van die waarheid veld gewin het deur getuienis wat die krag gehad het om, waar dit nodig was, getuies tot in die dood, in die mees praktiese sin martelaars te wees”.

Van die krag van getuienis gee het die skrywer van hierdie reëls genoeg bewyse in sy lewe gesien.

Neem die Afrikaanse taal.

Hoe het hulle dié klein seun van ons gemartel! Selfs in die hoogste kerklike vergadering het hulle hom op die kop getik (‘n harde hou was nie eers nodig nie) en hom toegevoeg: „Wat maak die klein bog hier onder ons grootmense? Sluit hom uit!”

Neem die Afrikaner-Bond in die ou Kolonie. Dit wou eers nie groei nie. Maar standvastig is getuienis vir die goeie saak gegee, totdat die Transvaalse Vryheidsoorlog gekom het. Toé het die Bond eers gaan groei, soos die vader daarvan gesê het: Die Bond het op Amajuba wortelgeskiet. Dit danksy die ou Transvaalse nasionalisme.

Om na Groen terug te keer.

Hy sê: „Vir die getuie vind hierdie selfverloënende volharding sy beloning in homself”. Want „wat sou daar vir die Christen heerliker kan wees as om iets te voel van die woord: Die ywer vir u huis het my verteer! as om enigsins die eenvoudige beeldspraak van die Benediktyners te verstaan, nl. die brandende kers met die opskrif: Terar dum prosim (laat ek verteer word, as ek slegs van nut mag wees” (bl. 57 en 58).

Groen was generaal sonder leer. Maar nie lank nie of Kuyper het gekom, ‘n generaal met ‘n groot leer — die Antirevolusionêre Party.

Christelik-nasionaal

Groen wou die nasie se nasionale besef opwek maar nie volgens die Franse, uitheemse model nie. „Geen nasie is vry”, so het hy uitgeroep, „as dit nie ooreenkomstig die grondtrekke van die historiese volksbestaan geregeer word nie . . . Daar sal geen ander redding wees nie as deur terugkeer tot Christelike, historiese, Nederlandse beginsels”.

Deur die toepassing van hierdie waarheid het Nederland in die verlede groot geword. En ook die Suid-Afrikaanse volk sal nie anders aan sy bestemming kan beantwoord nie.

Christelik: „Uit die stryd vir die geloof’, sê Groen, „het die Gemenebes (Republiek) opgerys. Godsdienstigheid was die heersende en vormende trek van die nasionale karakter. Die godsdiens was, soos voorheen oral, die grondslag van die staat . . . Laat ons die onverskrokkenheid op slagveld en in raadsale sowel as op moordskavotte aflei uit die feit dat hulle bewapen was met die swaard van die Gees, met die Bybel.

„Hierdie Gereformeerde volksgeloof was, volgens die eienaardigheid van die sogenaamde Calvinistiese en Puriteinse rigting, in elke haglike tydsgewrig die steun van kerk en vaderland. Die Gereformeerdes, hier nie deur aantal magtig nie maar deur die onbedwingbaarheid van ‘n moed en volharding, uit geloofsvertroue en pligsbesef, het die kern van die nasie gevorm” (bl. 66).

(Kuyper sê êrens dat die Gereformeerdes in die Dordtse tyd nie meer as een-tiende van die hele Nederlandse bevolking getel het nie.)

Ten slotte is dit nie die getal wat tel nie. As diegene wat hulle Calviniste noem, in alle beslistheid Calviniste wil wees, kan ons nog die redding van ons volk tegemoetsien.

Vryheid. Is gehegtheid aan die Christendom die eerste van die tradisionele trekke, daarnaas staan die tweede historiese kenmerk van die Nederlandse volk: die Vryheidsin. Tussen die twee is daar samehang. „Vryheid en onafhanklikheid”, sê Groen, „is verkry en behou deurdat onwankelbaar vasgehou is aan die Woord van God.”

Meer kan ons hier nie aanhaal nie. Alleen moet vasgestel word die smartlike feit dat ons volk wel in prakties-politieke opsig in die laaste jare vinnig vooruitgegaan het; maar in godsdienstige opsig word dit, helaas, van sy ankers losgeruk. Die laaste tientalle jare het dit hard agteruitgegaan.

Isolement

Die skrywer van hierdie reëls herinner hom nog goed uit sy kindsheid dat in sy vader se studeerkamer, mooi uitgewerk, omlys en agter glas met groot letters die woorde gestaan het: „In mijn isolement ligt mijn kracht“. Onderaan die naam: Groen van Prinsterer.

Die opgroeiende seun was dus heeltemal vertroud met dié sinspreuk sonder dat hy eintlik die betekenis daarvan verstaan het. Eindelik het sy vader hom die vreemd klinkende woord isolement verklaar, en sedert het die krag van hierdie sinspreuk hom bygebly. In sy isolement, dus in sy afgesonderdheid, het Groen sy krag gesoek.

Oor hierdie lewensleus is Groen van bekrompenheid beskuldig. Ten onregte. Teen ‘n eenheid wat neerkom op die prysgewing van beginsels, het Groen sy sinspreuk gerig.

Verder was hy tot medewerking met ander bereid as dit Christendom en Vaderland tot redding kon wees.

Hy spreek van vrae wat in Europa „op die voorgrond kom waarmee die bestaan’ of nie-bestaan van godsdiens, reg en sedelikheid op die spel is; vrae waarby die onderskeiding van Katolieke of Protestante of Liberale of Konserwatiewe party op die agtergrond raak” (bi. 77).

Dan verlang Groen ‘n „vereniging van welgesindes, uitgaande van vrye werking, elkeen op sy standpunt …ten behoewe van godsvrug, sedelikheid, verkreë regte, nasionale selfstandigheid, in een woord van alles waarvan die hoe waarde, teenoor die gedrogtelike waanwysheid van die huidige dag, deur baie verstandiges en brawes in Nederland nog erken word”.

Toekoms donker

„Die toekoms is meer as ooit in donker wolke gehul”, sê Groen. Daarom het hy uitgeroep: „Laat ons moed hou! Moedeloosheid pas nie in die woordeboek van die Nederlander en Christen nie”.

„Namate die revolusiebeginsel veld win, word die toekomsperspektief somberder.” Wat sal Groen sê as hy dit moes beleef hoe die rewolusie nou lande verower het wat toe nog geen gevaarpunte was nie. Ons dink byvoorbeeld aan Rusland en China (bl. 87).

‘n Apokaliptiese geluid

Dit hoor ons ook by Groen: „Te midde van al die onsekerheid is daar vir die Christen sekerheid; veiligheid te midde van gevaar. Daar is die wederkoms van die Here”.

Beluister hierdie woorde van die profeet-staatsman aangaande die tyd van die wederkoms:

Wanneer? As die evangelie van die Koninkryk in die hele wêreld verkondig sal word tot ‘n getuienis vir al die volke. Wanneer? As baie profete sal opstaan en baie sal verlei. Wanneer? As die ongeregtigheid vermenigvuldig sal word, sodat die liefde van die meeste sal verkoel. Wanneer? As daar groot verdrukking sal wees, soos daar van die begin van die wêreld nie gewees het nie. Wanneer? As julle hoor van oorloë en opstande, van groot aardbewinge en hongersnode en pessiektes”.

In hierdie profetiese trant gaan Groen nog verder deur. Lees maar wat op bl. 89 staan.

Mag die boekwerk in die hande van duisende gevind word!

Vir baie lesers sal dit miskien gerade wees om die laaste helfte eerste te lees. Dan sal wat voorafgaan, makliker wees om van woord tot woord te volg.

Bron: Die Kerkblad, no. 1127, 7 April 1950.

________________________________________

Sien ook:

https://af.wikipedia.org/wiki/Rewolusie

http://vcho.co.za/wp-content/uploads/2018/01/Wat-is-Revolusie-Van-Prinsterer.doc

Calvinisme as wortel van ons volksbestaan

R&R: “Teen die Revolusie die Evangelie”

TEEN DIE REVOLUSIE, DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: