Die Christelike huisgesin: HOOFSTUK 4: Die huisgesin onder Israel

DIE CHRISTELIKE HUISGESIN

 HOOFSTUK 4: Die huisgesin onder Israel

Herman Bavinck

[Vertaal deur J. Coetzee en verder verwerk deur S. Le Cornu uit die oorspronklike, Het Christelijk Huisgezin (Kampen: J.H. Kok, 1908), beklemtonings bygevoeg.  Meer inligting oor Bavinck (1854-1921) kan hier bekom word: http://hermanbavinck.org/ Van sy werke kan hier, Paideia Press, en hier, Neo-calvinisme, afgelaai word]

Vorige inskrywings:

Inleiding en agtergrond (ook tot vertaalprojek)

Hoofstuk 1: Die oorsprong van die huisgesin

Hoofstuk 2: Die versteuring van die huisgesin

Hoofstuk 3,  deel 1: Die huisgesin onder die volke na die sondeval

Hoofstuk 3,  deel 2: Die huisgesin onder die volke na die sondeval – ewolusionistiese konstruksies

Inleiding tot hoofstuk 4 – S. Le Cornu
In hoofstuk 4 hanteer Bavinck die openbaring van God oor die huisgesin onder die volk Israel. Die volgende sake word aangeraak: die wet van die liefde as grondslag van die gesin in Israel; die patriargie onder Israel; die gesag en mag in Israel was gedesentraliseerd en nie ‘n ‘staatisme’ (die staat sorg vir alles en sal die mens red) nie; weerlegging van die misbruik en verdraaiing van die patriargie; die regte van vrou en kinders ook beskerm deur die wet; die regte verstaan van Ex. 20:17 dat die vrou die man se ‘eiendom’ is; die huisgesin is ‘n organiese geheel; die vrou se besondere gerespekteerde rol in die gesin en gemeenskap; opvoeding van die kinders; die heiligheid van die huwelik deur die wet bewaar; egskeiding en poligamie is verdra en gereguleer, maar nooit goedgekeur en aanbeveel nie; die huwelik as beeld van God se verhouding met sy volk.

______________________________________

Lees opnuut die inleiding tot hierdie vertaalprojek van Bavinck se boek, waarin ek aantoon hoekom hierdie boek so belangrik is vir elke gelowige, veral elke gesin en gemeente, en daarom het ons dit begin vertaal en verwerk (dankie vir elkeen wat al donasies begin gee het vir die Bavinck vertaalprojek, ons waardeer elke bydrae.)

____________________________________

HOOFSTUK 4: Die huisgesin onder Israel

By die gebod van die eerste tafel kom die onderskeid tussen Israel en die ander volke sterker na vore as by die tweede. Die openbaring aan die aartsvaders en aan die volk wat uit hulle voortgespruit het allereers daaruit bestaan dat God, die Almagtige, wat in die naam Jehovah sy ewige trou verseker, Hom aan hulle bekend maak en met hulle intree in ‘n onverbreekbare verbond. Maar as God homself so in sy genade aan Israel skenk, dan behoort Israel ook alleen hierdie God te dien, wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en geen ander gode voor sy aangesig te dien nie.

Terwyl alle volke rondom Israel hoe langer hoe meer in bygeloof verstrik geraak het, ontvang die volk ‘n wet uit die hand van die Here, wat alle afgodery en beeldediens, alle waarseêry en towery, alle verering van sterre en geeste, verbied. Toe Israel in Kanaän kom, word hulle deur die omwonende volke verlei om Jehova te dien onder ‘n beeld of ook om ander gode te dien, maar daar bly tog altyd ‘n kleiner of groter kring aan die Here en sy wet getrou.  En uit die heilige, vrome kring kom die sieners en die profete, die Psalm en Spreuke digters voor.

Maar op die eerste tafel van die wet volg die tweede; die groot gebod gaan voorop, maar word gevolg deur ‘n ander, wat daaraan gelyk is: die liefde vir God is die grondslag en die beginsel van die liefde tot die naaste. 

Die liefde word ons nie eers in die Nuwe Testament voorgeskryf nie, Matt. 22:39, maar was ook in die dae van die Oue Verbond as Gods gebod bekend;  en die liefde mag nie uitsluitlik uit in ‘n uitwendige diensbetoon bestaan nie, maar moet ‘n saak van die hart wees, Lev. 19:11–17, en selfs alle begeerlikheid na die goedere van die naaste onderdruk en uitroei, Ex. 20:17. Israel moes in al sy handel en wandel ‘n heilige volk wees, ‘n koninkryk van priesters,  wat almal vry tot God mag nader en van alle volke afgesonder wees, Ex. 19:6.

Die beginsel lê ook ten grondslag van die wetgewing vir die huwelik en die gesin, alhoewel dit eers wat die historiese bedelings betref, eers in die Nuwe Testament tot sy volkome vervulling kom.

Van ouds bestaan patriargie onder Israel, sodat ons dan ook gewoonlik spreek van die tydperk van die aartsvaders. Hierdie patriargale inrigting was egter volstrek nie tot die voor-Mosaiese periode beperk nie, maar word deur die wet veronderstel en oorgeneem, en duur voort in die latere geskiedenis van Israel. Die ganse indeling van die volk was geskoei op patriargale leuse en na die beginsel van afstamming, genealogies ingerig.  Die twaalf stamme, onder wie Juda bo-aan staan, was in geslagte, die geslagte in families (gesinsgroepe), die families in huisgesinne opgedeel.

Elk van die groepe het sy eie hoof, verteenwoordiger of vors; en al die hoofde of vorste te same vorm die “oproep om vergadering”. As hulle saamkom, dan was die “gemeente” van Israel byeen. ‘n Nasionale regeringsmag oor die ganse volk bestaan daar dus onder Israel nie; en ook later, toe die volk ‘n koning begeer en ontvang, vernietig dit hierdie patriargale ordening nie, maar laat dit bestaan, hou daarmee rekening, 1 Kon. 12, en was selfs in alle opsigte gebind aan die wet van God, want God was die eintlike wetgewer, regter en koning van Israel, Deut. 17:19 v. Jes. 33: 22.

By die vader berus daarom die gesag en die mag van die huisgesin. Daar word wel groot betekenis geheg aan die bloedverwantskap van die moeder. Meermale kom die uitdrukking:  seuns van my moeder, voor, Gen. 43:29. Abraham was getroud met sy halfsuster, die dogter van sy vader, en dus gesien in die verwantskap van sy vaderskap alleen geen hindernis vir die huwelik, Gen. 20:12; Laban sê aan Jakob, sy suster se seun: jy is my been en vlees, Gen. 29:14; Abimeleg spreek tot die burgers van die stad, waar sy moeder vandaan is, op dieselfde wyse, Rigters. 9:1v., en volgens die leviraatswet moes die broer van die kinderlose gestorwe man, wat dus uit dieselfde moeder gebore was, diè weduwee tot vrou neem en sy broer se nageslag verwek. Maar dit alles doen aan die patriagaat hoegenaamd geen afbreuk nie; die vader was die koning, die heer in sy gesin, Gen. 18:12.

As sodanig besit die man en vader ‘n uitgebreide mag. Hy mog, behalwe sy wettige vrou nog een of meer bywywe neem; die wet laat die aartsvaderlike gewoonte bestaan en verbied poligamie nie, Lev.18:18, Deut. 21:15. Hy het die reg gehad om van sy vrou te skei, as hy iets skandeliks by haar gevind het, Deut. 24:1. By hom berus die mag, om sy kinders uit te gee om te trou, Gen. 24:3, Rigters. 14:1-5; om onder bepaalde voorwaardes die gelofte van sy vrou nietig te verklaar, Num. 30; om ‘n onredelike opstandige seun na die oudstes van die stad te bring, Deut. 21:18v.

In die algemeen berus die verpligting op die man, om te waak vir die eer van sy gesin, die eiendom te beheer, die welvaart te bevorder, en voor te gaan in die vrese van die Here. Huis en vrou, slaaf en slavin, bees en esel was sy eiendom, Eksodus. 20:17. Die huisgesin, die ganse familie vorm een organiese geheel, met die aartsvader aan die hoof.  Met hierdie hoof word alle lede, met die vader en die hele gesin geseën en gestraf, Eksodus. 20: 5,6.

Tog sou mens dwaal, indien mens uit hierdie uitgebreide mag van die hoof van die gesin tot ‘n slaafse toestand van sy vrou en sy kinders sien. Verseker het die manne onder Israel, ewe eens as by ander volke, meermale van hul mag misbruik gemaak; maar sulke misbruik vind altyd en oraloor en ook in ons samelewing plaas, sonder dat die wet daar veel aan kan verander; die sonde vind steeds ‘n uitweg.

Maar die uitdrukking, dat die man in die patriargale familie die heer van die gesin is, dat vrou en kinders sy eiendom is net soos sy huis en slaaf, bewys hoegenaamd nie, dat die man tot al hierdie  “besittings” in dieselfde posisie staan en oor alles met dieselfde mag en willekeur beskik nie. Ook die ontbreking van wette, waarin die regte van die vrou en die kinders beskryf is, bied geen grond vir die bewering, dat hulle ook in werklikheid van alle reg ontneem is, en aan die genade of ongenade van haar heer oorgelewer was nie.

Teenwoordig is mens wel dikwels die mening toegedaan, maar hierdie mening spruit voort uit die evolusie teorie, dat die natuur op sigself ‘n chaos, ‘n wanordelike toestand, ‘n oorlog van almal teen almal is, en dat in hierdie toestand eers orde geskep word deur die wetgewing van die staat.

Die mens word dan op sigself as ‘n wilde dier beskou, wat eers deur die staat ingetoom en tot mens gemaak word. Die staat word dan die grootste beskawer en opvoeder van die mensheid, die bron van alle reg, die skepper en formeerder van die samelewing.  Maar hierdie beskouing is deur en deur vals; hul hou nie rekening met die redelike en sedelike natuur van die mens, nie met sy rede en gewete, nie met sy hart en gemoed nie.

Hul hou nie rekening met die skepping en voorsienigheid van God nie. In plaas daarvan dat die geringe aantal of die ontbreking van wette ons tot ‘n reglose toestand sou mog laat besluit, kan ons in vele gevalle met meer grond juis die omgekeerde redeneer en sê: hoe meer wette daar nodig is, hoe meer blyk dit daaruit, dat dit redelike en morele bewustheid is, die natuurlike liefde en die natuurlike verhoudings aan invloed en krag verloor. As teenwoordig die reg van die vrou, van die kind, van die dienskneg, van die arbeider in die wet vasgelê moet word, dan is dit seker vir ‘n belangrike deel ook daaruit te verklaar, dat die eie belang die sedelike karakter van die samelewing ondermyn.

Onder Israel lê die regte van die vrou en die kinders, en ook eintlik die van die man, vir die grootste gedeelte nie in die wet, maar in die sedes vas. En die sedes ken aan die vrou en aan die kinders’n groot mate van selfstandigheid toe.  Die dogters geniet groot vryheid in die huis, en gaan ongekunsteld met vreemdes om, Gen. 24:15v., 29:10, Eks. 2:16, Rigters 14:1, 1 Sam. 9:11  ens.

Die man was die hoof van die gesin en heer ook van die vrou, maar as die wet in Eks. 20:17 van die naaste van die vrou spreek, dan volg daaruit ewe min, dat die vrou in dieselfde sin as sy os en esel sy eiendom is, as wanneer ‘n man van sy vrou, of ‘n vrou van haar man of ‘n dokter van sy pasiënte en ‘n advokaat van sy kliënte spreek. Vroue soos Sara, Rebekka, Rachel, Hanna, Abigail ens. gee dan ook hoegenaamd geen indruk dat hul slavinne is nie; hulle is vrye vroue, wat deur hul manne geëer en liefgehê word. Alhoewel hulle meestal in die huis verkeer, gaan sy tog ongesluierd en vry met manne om, Gen. 12:14, Rut 2:5v., 2 Sam. 20:16, en neem aan feeste deel, Eks. 15:20 v., Rigters 16:27, 1 Sam. 18:6v.; ook bring sy by die huwelik soms eie besittings by voorbeeld slavinne, mee, wat haar later bly toebehoort, Gen. 16:2,6, 24:8, 29:24,29, 30:4,9.

In die huis het die vrou haar eie take; sy was met die sorg van die huishouding belas, en hou haar dus besig met spin en weef, naaldwerk en vervaardiging van klere, broodbak en versorging van die kudde, Gen. 29:9, Eks. 2:16, 1 Sam. 2:19, 8:13, 2 Sam. 13:8, Spr. 31:10 v. Naas die man het sy ook vir die voeding en opvoeding van die kinders gesorg. Terwyl die vrou eers in die moeder tot haar volle eer kom, word kinders, veral seuns, vurig deur haar begeer, Gen. 16, 1 Sam. 1 en hulle besit as ‘n ryke skat, as ‘n seën en erfdeel van die Here beskou, Ps. 127:3. Die eersgebore seun was die beginsel van manlike krag, die erfgenaam van die vaderlike gesag, die pleitbesorger van moeder en suster, Gen. 27:29,37, 49:3,8, Deut. 21:15 v.

Al die kinders moes opgevoed word in die vrese van die kennis van die Here se weë, Eks. 10:2, 12:26, Deut. 4:9 ens., en was aan hul ouers en alle oues van dae eerbied en eer verskuldig. Die moeder word daarby nie vergete, Eks. 20:12, maar gaan selfs in Lev. 9:3 die vader vooraf; op die slaan of vloek van die vader of moeder is die doodstraf van toepassing, Ex. 21:15,17, Lev. 20:9.

In Spr. 31:10 – 31 besing Lamuël die lof van die verstandige en ywerige huisvrou. Haar waarde is hoër as die van robyne.  Haar kinders tree op en noem haar welgeluksalig, ook haar man, hy prys haar, terwyl hy sê ‘vele dogters het deuglik opgetree, maar jy gaan diè almal te bowe.’  Skoonheid is ydelheid, maar ‘n vrou, wat die Here vrees, diè sal geprys word.  

Die vroue neem onder Israel deel aan die rus en feesdae, aan die offerande en tempelsange. Selfs van die openbare lewe was sy nie geheel en al uitgesluit nie;  Miriam en Debora, Hulda en Noadja tree onder die volk as profetesse op, en die koninginne Izebel en Athalia gaan die volk in die diens van die afgode voor.

Voorts was die huwelik onder Israel wel ‘n burgerlike instelling, soveel so selfs, dat die wet van ‘n  godsdienstige daad wat tot die gevolgtrekking uitgevoer moet word, geen gewag gemaak, alhoewel hierdie tog in praktyk wel nie sal ontbreek het nie. Maar dit was tog van Goddelike oorsprong, deur God ingestel, Gen. 1:27, na beginsel en wese monogamies en onverbreekbaar, Gen. 2:8 v., ‘n verbond voor God gesluit,  Spreuke 2:17, Hos. 2:18, Esg. 16:8, Mal. 2:14. Daarom moes dit heilig gehou word.  Wel laat die wet  poligamie en die egskeiding toe ; maar dit geskied  as gevolg van die hardheid van die hart, wat met die wese van die huwelik in stryd is, en word in die praktyk nooit die reël nie.  

Op die voorbeeld van die aartsvaders maak die konings en aansienlikes wel van die vryheid gebruik, maar die burgers het slegs een vrou gehad. Profete en digters gaan van die gedagte uit, dat die huwelik ‘n verbintenis is tussen een man en een vrou, Hos. 1-3, Spr. 12:4, 18:22, 19:14, 31:10 v.  En in die Griekse vertaling van die Ou Testament is die woorde uit Gen. 2:24 : Hulle sal  een vlees wees, oorgedra deur: die twee sal een vlees wees, ‘n vertaling, wat in die Nuwe Testament oorgeneem word,  Matt. 19 :5, Mark. 10 : 8,  1 Kor. 6 : 16, Efe. 5 : 31.

Verder word die eer van die huisgesin bevestig deur baie bepalings, wat die egtelike gemeenskap tussen bloedverwante en naasbestaandes verbied, en dit so belangrik is, dat hulle nie alleen deur die kerklike, maar ook deur die burgerlike wetgewing in vele lande, altans in hoofsaak, gevolg en oorgeneem is. Ewe streng was wette teen hoerery, Gen. 38:24, Lev. 19:29, Deut. 23:17,18, owerspel, Lev. 20:10, Deut. 22:22, Esg. 16:38 v., 23: 43 v., egbreuk, Ex. 20:14, en allerlei ander onkuise handelings is verbied, Ex 22 :19, 28:42, Lev. 15:18, 18:22,23, 20:13,18,18:19, Deut. 23:23,14, Esg. 18:6, 22:10.

Die heiligheid van die huwelik kom die meeste daarin uit, dat dit dien as ‘n beeld van die trouverbond tussen God en sy volk.  By ander volke word die huwelik ook wel met die godheid in verband gebring, maar op ‘n ander wyse as Israel. Die Heidendom het die besef van God se heiligheid verloor, dit verander die heerlikheid van die onverganklike God in die gelykenis met die beeld van ‘n verganklike mens en van gevoëltes en van viervoetige en kruipende gediertes, en dit dra selfs die geslags onderskeid en allerlei onsedelike verhoudings en handelinge op die godheid oor. (Rom. 1:18-32)

Naas elke god staan ‘n godin, wat gemeenskap met hom beoefen, kinders voortbring en menigmaal in twis en vyandskap met hom leef.  Maar al die onsedelike voorstellinge is ten ene maal vreemd aan die Heilige Skrif. Die Hebreeus het selfs geen naam vir die vroulike woord, godin, nie. God is die heilige en die verhewene, wat in die ewigheid woon; maar hy woon ook by diè wat wat ‘n verbryselde en nederige gees het. Hy hou gemeenskap met sy skepsele, en staan tot sy volk in ‘n innige verbond.

Die verbond is al aangegaan met die aartsvaders, maar dit is met die volk van Israel tog eerste plegtig gesluit en bevestig by die berg van Sinai. Kragtens die verbond staan Jehovah tot Israel in ‘n betrekking soos tot geen ander volk op aarde nie. Jehovah is die rotssteen, waaruit Israel gebou is, Deut. 33:4,18, Jer. 51:1, die Vader, wat Israel gegenereer het, Deut. 32:6, Jes. 63:16, 64:8, die Landsman, wat die wynstok Israel geplant het, Jes. 5, Jer. 2:21, en voorts ook die Bruidegom en die Man, wat Israel uit louter genade tot bruid uitverkies het, Jes. 61:10, 62:5, Jer. 2:32, Esg. 16, Hos. 1 – 3, nou jaloers is op sy eer, en alle afvalligheid van sy volk soos hoerery en owerspel, as eg en troubreuk sien, Lev. 20:6, Num. 14:33, Jes. 1:21, Jer. 3:1, Esg. 16:32, Ps. 73:27 ens.

One thought on “Die Christelike huisgesin: HOOFSTUK 4: Die huisgesin onder Israel

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑