DIE CHRISTELIKE HUISGESIN
HOOFSTUK 3 (deel 1): Die huisgesin onder die volke na die sondeval
Herman Bavinck
[Vertaal deur S. Le Cornu uit die oorspronklike, Het Christelijk Huisgezin (Kampen: J.H. Kok, 1908). Meer inligting oor Bavinck (1854-1921) kan hier bekom word: http://hermanbavinck.org/ Van sy werke kan hier, Paideia Press, en hier, Neo-calvinisme, afgelaai word]
Vorige inskrywings:
Inleiding en agtergrond (ook tot vertaalprojek)
Hoofstuk 1: Die oorsprong van die huisgesin
Hoofstuk 2: Die versteuring van die huisgesin
Inleiding tot hoofstuk 3 – S. Le Cornu
In hoofstuk 3 hanteer Bavinck drie sake: die sondige gevolge op die huisgesin; die ewolusionistiese siening oor die ontstaan van huisgesinne, en dan laastens wys hy die onakkuraatheid uit van die ‘ewolusionistiese kontruksies’ (deel 2 – volgende keer).
Op treffende wyse verduidelik hy die ontstaan van verskillende gesinne, families, volke, ens. vanuit Bybelse perspektief. As mens sy beskrywing lees van die ewolusionistiese sienings, ‘n beweging van matriargisme na patriargisme, dan sien mens die sonde se gevolge nog meer, deur alle tye, maar ook ons tye.
Ironies, is evolusionisme se roem dat die mens van die primitiewe ‘dierlikheid’ na hoër edele beskawings ‘evolueer’, maar as mens na die vrugte kyk van die humanisties-ateistiese wêreld en tye om ons, as mens sien hoe ons tye (veral vanaf die 20ste eeu, waar ‘n James Bond figuur die held is, omdat hy onder andere, ‘romanties’ in elke fliek by die volgende vrou wellustig slaap en nêrens en met niemand ‘settle’ nie , die Lone Ranger Camel cowboy ideologie en kultuur van jongmanne wat nie wil trou nie (skandalig ook in die kerk kultuur?) maar sogenaamd ‘vry sonder een vrou en kinders’ wil wees …. moreel eties losbandig al meer vervalle is en raak (2 Tim. 3) dan lyk dit of die mens nog meer en meer ‘devolueer’, dus nog meer agteruitgaan en terugkeer na die (volgens ewolusionistiese sienings) die oer-primitiewe bandelose ‘ontstaanstye’.
Dit is nou hul wat die Bybelse geloof en lewensbeskouing oor die huwelik en gesin, kundig en onkundig verwerp, selfs in die kerke wat bv. saambly verhoudings buite die eg (hoerery) goedpraat, en dan kan rondbeweeg tussen ‘partners totdat een lekker pas’ … alles onder die seënende verdraagsaamheid van valse kerke en leraars.
Sien het hierdie paar aanhalings:
“So het hulle saamgeleef soos die diere van die veld; geen huwelik en geen huisgesin het hoegenaamd bestaan nie, daar was ook nie sprake van bloedskande, prostitusie en owerspel nie. Elke man het aan elke vrou behoort, en elke vrou het aan elke man behoort. Mense identifiseer hierdie situasie van ‘n heeltemal ongeordende seksuele lewe wat geheel en al deur wellus beheer word deur die term promiskuïteit, totale vrye seksuele verhoudings.”
“Die vader was en het onbekend gebly, maar almal het geweet wie die kind se moeder was. Sodoende is die kind deur die moeder uitgeken; die moeder was die baas in die huisgesin; sy was die een wat eerste gestalte gegee het aan die gesinslewe en huislike lewe, en het aanvanklik gesag in alles gehad. In hierdie tydperk van ontwikkeling het daar gevolglik ‘n matriargie bestaan en selfs ‘n feminokrasie. Daardie tydperk was die ideale tyd vir vroue, want hulle het mag gehad wat hulle later nooit weer sou gehad het nie.
Maar hierdie tydperk van vroulike heerskappy het tot ‘n einde gekom. Daar was ‘n soort van gesinslewe met die vrou aan die hoof. Maar die man ontbreek nog, hy was glad nie deel daarvan nie. Inteendeel, op daardie stadium het die vrou nog nie één man gehad nie, maar sy het baie mans gehad, eers die een en toe die ander (poliandrie), wat haar besoek het en haar in die steek gelaat het en hul tyd nie in die gesin deurgebring het nie, maar in wye oop natuur of in mekaar se geselskap, wat hulself veral besig hou met jag en visvang.”
__________________
Lees opnuut die inleiding tot hierdie vertaalprojek van Bavinck se boek, waarin ek aantoon hoekom hierdie boek so belangrik is vir elke gelowige, veral elke gesin en gemeente, en daarom het ek dit begin vertaal (dankie vir elkeen wat al donasies begin gee het vir die Bavinck vertaalprojek, hopelik kan sy Magnalia Dei – ‘n opsomming van sy magistrale werk, Gereformeerde Dogmatiek, 4 groot dele, die volgende projek wees.)
____________________________________
HOOFSTUK 3 deel 1: Die huisgesin onder die volke na die sondeval
Die verwoesting van die gesin deur sonde
Die afkoms van die menslike geslag van een ouerpaar het vanselfprekend beteken dat die seuns en dogters van Adam en Eva, wat dus broers en susters was, met mekaar in die huwelik sou tree. Op daardie stadium was die huwelik tussen broers en susters nog nie bloedskande nie, aangesien hul onderlinge verhoudings nog nie vasgestel en afgebaken kon word van ander gesinne nie. Eers later toe baie gesinne tot stand gekom het, kon die gedagte ontstaan dat broers en susters verskillend in verhouding tot mekaar staan as in verhouding met die kinders wat uit ander ouers gebore is en van ander gesinne afstam.
In daardie tyd, word toe onder God se bestuur en deur die heilsame sorg van sy voorsienigheid, die diep en onuitwisbare gevoel van bloedverwantskap en bewustheid van bloedskande binne in die mens se hart geplant, wat as een van die kragtigste bolwerke dien vir die beskerming van die gesin en vir die beteuling van ongeregtigheid.
Dit is so, want van die begin af was dit God se wil dat, sodra meer huisgesinne ontstaan het, die man sy eie vader en moeder sal verlaat, en nie meer onder die ouerlike gesin nie, maar onder ‘n ander familie ‘n vrou as hulp sou verkry. Aan hierdie wil van God is die wonderlike uitbreiding van die menslike geslag, die eindelose verskeidenheid onder mense, en die onuitputlike rykdom van verhoudings tussen gesinne en families, geslagte en volke, te danke. Elke huwelik voeg verskeie siele gawes en onderskeie liggaamlike kragte saam, wat daardeur ‘n nuwe bron van ‘n bepaalde volheid van die lewe word.
Maar sonde het dadelik sy vernietigende effek op die huisgesin uitgeoefen. Dit bring reeds onenigheid tussen Adam en Eva, en veroorsaak dat die man sy vrou blameer.[1] Dit het Kain met haat teen Abel vervul en aangehits tot broedermoord.[2] Dit het Lameg tot poligamie verlei, en om in sy lied ter lof van die swaard, te roem in daardie glorieryke uitvinding van Tubal-Kain.[3] Danksy daardie uitvindsel het hy nou wapens gehad waarmee hy homself tot sewentig maal sewentig kon wreek teen elkeen wat hom of een van sy mense te na kom! Wraak en wraaksug was die inspirasie van die eerste lied wat ons van die lippe van die gevalle mens hoor.
En die daaropvolgende hoofstukke van Genesis wat tot die sondvloed lei, vertel vir ons die groei en verspreiding van sonde waaraan die mensdom gedurende daardie tydperk hul oorgegee het. Goddeloosheid en onsedelikheid het hand aan hand gegaan. Hulle het geëet, gedrink, getrou en is uitgegee in die huwelik tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het en die vloed gekom het en hulle almal vernietig het.
Na die sondvloed het die nageslag van Noag, wat op daardie stadium nog uit een volk bestaan het en deur een taal en dieselfde woordeskat aanmekaar verbonde was, hul in die land Sinear[4], wat in suidelike Babilonië geleë was. Maar toe later, as straf vir die bou van die toring, hul taal verwar word, is die klein menslike geslag opgedeel in groepe, stamme, of volke en vanuit Babilonië oor die hele aarde versprei. Elke volk het van toe af sy eie eie gang gegaan en sy eie ontwikkeling ondergaan. Almal het uit hul gemeenskaplike woonplek ‘n skatkis van tradisies en idees, sedes en gebruike en vermoëns saamgeneem wat gedeeltelik behoue gebly het in die kultuur van volke. Hulle gaan egter nietemin uiteen, word al meer van mekaar verwyder en staan geleidiglik vyandig teenoor mekaar. ’n Beduidende deel van die menslike geskiedenis behels oorlogvoering tussen stamme, rasse en volke.
Daarom het die lewe van huwelik en gesin natuurlik op heel verskillende maniere onder die verskillende volke ontwikkel. ‘n Mens kan nie al die volke van verskillende gebiede van die aarde en deur verskillende eeue op een lyn plaas en op dieselfde manier behandel nie. Daar is volke wie se familielewe ‘n relatiewe reinheid en kuisheid getoon het, en daar was ander onder wie dit op ‘n verskriklike manier ontaard het. Selfs onder dieselfde volk kom gunstige en ongunstige toestande voor, en blyk daar en dan sedelike verheffing plaas te vind. So is dit ook nie seldsaam dat ‘n volk op die hoogtepunt van sy bloei en welvaart, nietemin deur weelde en oorvloed, in terme van godsdienssin en moraliteit, in huislike en familielewe agteruitgaan en verval. Die oog van die geskiedkundige moet altyd onbevoordeeld en oop wees vir hierdie buitengewone groot verskeidenheid van die lewe van volke.
Die oorsprong en ontwikkeling van die gesin volgens die leer van Ewolusie
Vandag egter oortree mense hierdie eenvoudige en tog so onweerlegbare wet in die mees gruwelike wyse. Onder die invloed van die leer van evolusie het mense ‘n koers uitgestippel in terme van die idee dat die hele mensheid en ook elke volk sy eie ontwikkelingsproses ondergaan het en selfs moet deurmaak. Die stasies langs daardie roete word met groot akkuraatheid geïdentifiseer en word soos volg genoem. Eers het daar onder mense op die gebied van die seksuele lewe niks anders as promiskuïteit en bywyvery nie. Mense stam volgens die aanspraak van die evolusioniste, van die diere af, van een of meer pare, in een of meer streke. Dit kan nie met sekerheid gestel word nie, maar in elk geval, hulle stam van diere af, en het hul baie langsaam van hul oorsprong geskei, hul bo hul voorouers verhef, en vir eeue half-dierlik gebly.
So het hulle saamgeleef soos die diere van die veld; geen huwelik en geen huisgesin het hoegenaamd bestaan nie, daar was ook nie sprake van bloedskande, prostitusie en owerspel nie. Elke man het aan elke vrou behoort, en elke vrou het aan elke man behoort. Mense identifiseer hierdie situasie van ‘n heeltemal ongeordende seksuele lewe wat geheel en al deur wellus beheer word deur die term promiskuïteit, totale vrye seksuele verhoudings.
Nietemin, van die begin af reeds het daardie dier-mense mekaar nodig gehad, nie net om hul seksuele drif te bevredig nie, maar ook om in hul lewensonderhoud te voorsien, en hul voortbestaan te verseker teen die verwoestende mag van die natuur of die aanvalle van wilde diere. Op hierdie manier het ‘n sekere vorm van gemeenskapslewe geleidelik ontwikkel. Gesin en familie het nog nie bestaan nie; ouerlike en kinderliefde was nog heeltemal onbekend; ‘n gevoel van skaamte was steeds feitlik vreemd aan daardie eerste mense. Hulle het egter tog soos baie dieresoorte in groepe saamgeleef; uit die horde, wat die oorspronklike, vroegste vorm van gemeenskaplike lewe was, het die ingewikkelde, ryke samelewing geleidelik oor ‘n tydperk van honderde en duisende eeue ontstaan. Die kinders wat gebore is, het nie aan die vader of moeder behoort nie, maar aan die horde, en was van geboore in die stamverband opgeneem. gemeenskap vanaf geboorte.
Seksuele verhoudings het aanvanklik plaasgevind tussen mans en vroue wat aan dieselfde horde of groep behoort het. Maar dit het geleidelik verander. Dit kon gebeur het, byvoorbeeld dat daar binne die kring van ‘n eie horde nie genoeg vroue was nie of dat mans vroue begeer het wat aan ‘n ander horde behoort het. Dan sou mans alleen gaan of saam in ‘n groep om vroue van ‘n ander groep te roof. Sulke ontvoering van vroue het dikwels op ‘n wye skaal voorgekom, met hewige en bloedige gevegte. Die herinnering aan daardie ou situasie is steeds bewaar onder baie volke in terme van vroue wat gekoop word vir ‘n aansienlike bedrag, of gekoop word deur middel van ‘n skynkoop en as ‘n bruidskat in die huwelik geneem is.
Maar hierdie vroueroof en die daaropvolgende seksuele verhoudings met vroue van ‘n ander horde of stam het die bykomende gevolg gehad dat binne die sirkel van die horde gemeenskap ‘n ander sentiment begin vorm aanneem het, naamlik die gevoel van bloedgemeenskap en bloedverwantskap. Hierdie gevoel was van grootse betekenis, aangesien dit die bron van ‘n unieke nuwe ontwikkeling word. Toe hierdie gevoel ontstaan het, het die mensheid ‘n nuwe weg ingeslaan, die weg van die familielewe in onderskeid van die horde lewe.
Hierdie bloedverwantskap is egter aanvanklik slegs deur die moeder erken, want die huwelik het nog nie bestaan nie; die man het sy wellus bevredig, maar het nie langs en met die vrou geleef met wie hy daardie een oomblik gebind het nie. Maar die vrou het ‘n moeder geword; sy het die kind ten minste ‘n tyd lank by haar gehou na die kind se geboorte. Daardie kind het sy moeder nodig gehad vir kos en bystand, andersins sou hy omgekom het. Op hierdie manier was die band tussen ma en kind baie meer heg, intiem en sterk as dié tussen die vader en die kind; trouens, daardie laasgenoemde verhouding het in die begin eers nie bestaan nie.
Die vader was en het onbekend gebly, maar almal het geweet wie die kind se moeder was. Sodoende is die kind deur die moeder uitgeken; die moeder was die baas in die huisgesin; sy was die een wat eerste gestalte gegee het aan die gesinslewe en huislike lewe, en het aanvanklik gesag in alles gehad. In hierdie tydperk van ontwikkeling het daar gevolglik ‘n matriargie bestaan en selfs ‘n feminokrasie. Daardie tydperk was die ideale tyd vir vroue, want hulle het mag gehad wat hulle later nooit weer sou gehad het nie.
Maar hierdie tydperk van vroulike heerskappy het tot ‘n einde gekom. Daar was ‘n soort van gesinslewe met die vrou aan die hoof. Maar die man ontbreek nog, hy was glad nie deel daarvan nie. Inteendeel, op daardie stadium het die vrou nog nie één man gehad nie, maar sy het baie mans gehad, eers die een en toe die ander (poliandrie), wat haar besoek het en haar in die steek gelaat het en hul tyd nie in die gesin deurgebring het nie, maar in wye oop natuur of in mekaar se geselskap, wat hulself veral besig hou met jag en visvang.
Maar hierdie nomadiese lewe het geleidelik oorgegaan na ‘n gevestigde lewe; jag en visvang het plek gemaak vir landbou en veeteelt. Daardeur is mans nouer aan die huis verbind, en hulle het geleidelik saam met die vroue wat hul geneem het, en kinders wat hulle by hul verwek het, begin woon. Toe hulle op hierdie manier meer verbind geraak het aan hul huise, en deur hul arbeid onderhoud aan die gesin verskaf het, toe gaan die mag van die vrou geleidelik oor na die man. Die mans het geleidelik en onvermydelik of ook deur geweld die vroue op die agtergrond gedring, hulle onderdruk en hul slawe gemaak. Die vroue heerskappy is vervang deur die manne heerskappy; matriargie is geleidelik vervang deur patriargie.
Hierdie patriargale tydperk is gekenmerk deur die vader wat alle gesag en mag in die gesin besit het. Die vrou, kinders, slawe, huis, diere, landerye, ens., was alles sy eiendom. Hy kon met hulle maak soos hy wou, en het selfs die beskikking gehad oor die vryheid en die lewe van sy vrouens en kinders. Nie net kon hy soveel vrouens neem as wat hy wou nie (poligamie, in plaas van die vroeëre poliandrie), maar hy kon hulle ook wegstuur, verkoop, skei, wat ook al hom behaag.
Maar hierdie situasie was ook nie bestem om te bly nie, vir enkeles was om so weelderig te lewe, maar die eenvoudige burgers en die armes kon nie soveel vrouens en kinders onderhou nie. Hulle was natuurlik deur omstandighede gedwing om saam met een vrou te lewe, in die praktyk het die poligamie dus plek gemaak vir die monogamie, die huwelik van een man met een vrou. Hierdie praktyk is vervolgens daarna teoreties gevestig en in baie beskaafde lande tot wet verhef.”
VOLGENDE KEER: HOOFSTUK 3 deel 2: Die huisgesin onder die volke na die sondeval – Die onakkuraatheid van die ewolusionistiese konstruksie
____________________
[1] Gen. 3:12.
[2] Gen. 4:8.
[3] Gen. 4:23-24.
[4] Gen. 11:2.
Leave a Reply