Kerkregering: gehoorsaamheid aan God of die mense ?

Artikels hier onder:

1. VIDA in die lig van Skrif en belydenis

2. Die Regering van die Kerk

Inleiding

Die invoering van die vrou in al die ampte in die laaste van die ‘drie susterskerke’, die GKSA, gaan rustig voort. Vir omtrent 30 jaar is die saak al op die sinodetafel, as dit nie al langer is nie ?

Met die Ordevoorstel en Omkeerstrategie van 2012 (wat die beswaarskrifte oor VIDA uitgestel het tot 2015) het dit ‘n radikale, dalk die mees radikale nuwe wending ingeslaan, want die implikasies van die Ordevoorstel is dat basies alle vorme van kerklike tug teen gemeentes wat wel vroue as ouderlinge het, gestaak is, ten minste tot 2015.  Daarmee word die boodskap duidelik uitgestuur:

1. dit wat die Skrif verbied (1 Tim.2:11,12) word in die praktyk nou ge-akkomodeer/verdra deur ‘n sinode besluit, nl. die Ordevoorstel, en

2. die ‘behoudendes’ wat gewoonlik teen VIDA is, moet nou oortuig word (gewoond gemaak word?): dat hul kan nog steeds ‘teen’ VIDA wees ‘persoonlik’ en in hul ‘eie gemeentes’, maar hul kan nog in die kerkverband praktyk saam vergader in meerdere vergaderings waar vroue saam regeer as ouderlinge deur hul afgevaardiges op daardie vergaderings, al is dit in stryd met punt 1.

Om laasgenoemde te begrond, hoor mens uit verskillende monde, bv.

– daar is tog soveel sake waaroor ons saamstem, moenie laat hierdie minder belangrike saak of ‘middelmatige saak’ (VIDA) ons verdeel nie, dink nou aan en fokus op die Omkeerstrategie, nie die oortreding van 1 Tim.2:11,12 in ons kerkverband nie.  Sinode 2009 het klaar bevind dat VIDA is nie ‘n saak wat die eenheid van die kerk bedreig nie, en is mos nie ‘n belydenissaak nie (sien die VIDA Kategismus, veral v/a 10-12).

– as afgevaardigde lê jy net die Openlike Verklaring by meerdere vergaderings vir ‘jouself’ en/of vir ‘jou gemeente’ af, so as ander afgevaardiges die negende gebod oortree is dit ‘hulle saak’, jou gewete is skoon, doen jy net wat ‘reg’ is.

– ons regeer nie eintlik ‘saam’ op meerdere vergaderings nie, elkeen bedien Christus se gesag net vir sy gemeente, nie saam as gemeentes/kerkrade nie.

– ons het nog ‘n roeping om te getuig, daarom moet ons nog steeds opdaag by meerdere vergaderings … ongeag of ons daarmee die negende gebod en/of 1 Tim.2:11,12 bly oortree.

– en nog vele ander redenasies.

Hier onder plaas ek my antwoord op hierdie redenasies, om te wys dat:

a. die VIDA saak raak ons belydenis (NGB art.30),

b. bedreig dus die eenheid van die kerk soos dit tot uiting kom in VIDA meerdere vergaderings, en

c.  daarom is dit nie ‘n kwessie van wat ‘kan of kan ons nie doen’ nie, of wat is die ‘beste’ om te doen nie, maar is dit ‘n gewetenskwessie van: aan wie moet ons gehoorsaam wees, aan God se Woord, of aan mense en vergaderinge wat nie meer 1 Tim.2:11,12 wil gehoorsaam in die kerklike praktyk nie ?

Ek plaas ook hier onder ‘n artikel van oud-dopper predikant, ds. WF Venter, ‘Die Regering van die Kerk’, uit die bundel Kosbare Goud (Gereformeerde Geloofsleer, deur verskillende predikante van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika) – waarin hy skryf teenoor die ander vorme van kerkregerings, wat die gereformeerde kerkregering behels.

Hy vermeld o.a. dat kerkrade deur hul afgevaardiges op meerdere vergaderings gesag uitoefen (KO art.36), dus saam regeer met ander kerkrade op meerdere vergaderings. Dit beteken dat die modernistiese siening wat al meer onder behoudendes leef, nl. ons regeer nie ‘saam’ op meerdere vergaderings nie, onbybels en ongereformeerd is.  Hier is die spesifieke aanhaling uit sy artikel wat ek solank hier plaas (lees die hele artikel hier onder om die konteks te verstaan waarbinne hy dit plaas):

” …. Hoewel daar verskil is tussen hierdie vergadering en ons hedendaagse meerdere vergaderinge kan hierdie vergadering met reg die eerste meerdere vergadering van die kerke genoem word. Die verskillende selfstandige gemeentes behartig hul plaaslike belange onafhanklik van mekaar, en tog staan hulle nie los en onafhanklik van mekaar nie, maar word aan mekaar verbind deur die band van gemeenskaplike belydenis en kerkinrigting.

Hierdie kerkverband kom tot openbaring in die meerdere vergaderings van die kerke van gereformeerde belydenis. Verskillende kerkrade kom dan saam in ‘n klassis of sinode. So ‘n klassis of sinode is dan nie ‘n hoër bestuursliggaam (soos by die Kollegialiste) nie, maar ‘n vergadering van ‘n groep kerkrade om oor sake van gemeenskaplike aard te beraadslaag. ‘n Klassis of sinode het dan ook alleen dáárdie gesag wat deur die gesamentlike kerkrade aan hom oorgedra word. Dit word gewoonlik genoem afgeleide gesag, terwyl die gesag van die kerkraad oorspronklike gesag is (nl. waarmee Christus die gemeente beklee). Die besluite van klassis of sinode is bindend vir die gemeentes — nie omdat hulle geneem is deur hoër gesag nie, maar omdat daardie gemeentes (deur middel van hul afgevaardigdes) saamgewerk het in die neem van daardie besluite.

Ons kan die verskil tussen die, gereformeerde stelsel en die Kollegialistiese op hierdie punt verduidelik met twee beelde: volgens laasgenoemde begrip is die sinode die dam waaruit die water (kerklike gesag) gelei word in die beddings (kerkrade); volgens die gereformeerde begrip egter is die sinode (of klassis) die rivier wat sy water (kerklike gesag) kry deurdat spruite (kerkrade) dit aan hom oordra.

Tenslotte nog net die opmerking dat volgens die gereformeerde beskouing die drie ampte (leraar, ouderling en diaken) gelykwaardig is, d.w.s. die een is nie hoër as die ander, soos wat dit in die praktyk by die ander stelsels gesien word nie. Selfs die leraar is nie hoër as die ander lede van die kerkraad nie; hy is alleen maar “die eerste onder gelykes”.

Artikel 1: VIDA in die lig van Skrif en belydenis

  11 Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.  12 Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. – 1 Tim.2:11,12

1. Lees ook die volgende Skrifgedeeltes wat relevant is: 1 Kor.11:1-3; 14:32-40; Ef.5:21-33.

2. Die woord in v.12 (van 1 Tim.2) vir ‘heers’/’gesag uitoefen’/‘authority’ is authenteo in die Grieks wat hier beteken: “to govern, exercise dominion over one” (Strong), dit wil sê om te regeer, om oor iemand anders te regeer, spesifiek in vers 12 ‘oor die man’, wat in stryd is met God se skeppingsorde (v.13), en lei tot sonde volgens v.14 (wat rebellie en opstand is volgens Paulus in 1 Kor.14:33,40), toe Eva onder Adam se leiding uitbeweeg het (en hy haar eintlik moes beskerm het teen ‘n valse/verkeerde gesag aanvaarding).

3. Artikel 30 van die NGB gaan oor die ‘Regering van die Kerk’, en daar bely ons (beklemtonings bygevoeg):

“Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons in die Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar is naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom hou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus gee (1Tim.3).”

En wie is die ‘betroubare persone’ wat gekies moet word volgens 1Timoteus 3 ?  Daar staan in 1 Tim.3:

Ouderlinge (wat die predikante as lerende ouderlinge insluit):  1 Tim.3:1-2  “Dit is ‘n betroubare woord: as iemand na ‘n opsienersamp verlang, begeer hy ‘n voortreflike werk.  2 ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig”

Diakens: 1 Tim. 3:12  “12 Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer.”

4. Vanuit NGB artikel 30 bely ons ook in NGB artikel 32 in navolging van die Skrif (1 Tim.3) dat manlike predikante, ouderlinge en diakens die kerkraad vorm wat die gemeente dienend moet regeer deur sy Gees en Woord:

“Ons glo verder dat die regeerders van die kerk (die ‘kerk’ wat uit mans, vrouens en kinders bestaan), al is dit nuttig en goed om onder mekaar ‘n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.”

In 1 Tim.3:5,6 sien ons dat ‘n ‘man van een vrou’ (v.2) sy huis goed moet regeer sodat hy die gemeente ook kan versorg (terwyl die vrou net in die huis regeer/huisbestuur behartig, 5:14, maar nie in die gemeente regeer nie, en dus ook nie oor mans nie, 2:11,12; Tit.2:3-5).  1 Tim.3:5,6 gelees saam met 1 Tim.5:17, bevestig die ‘regeer’ en ‘leer’ taak van die ouderlinge, en daarom moet dit mans wees, en nie vrouens nie: “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.”

5. Wat Paulus beveel in 1 Tim.2:11,12 is God se wil, gebaseer op sy skeppingsordening (v.13), dit is wat ‘ons enigste Meester vir ons ingestel het’ (NGB art.32), Sy bevel aangaande die man en vrou se rolle in die gemeente. Sien 1 Tim.1:1 en 1 Kor.14:37, wat openbaar dat Paulus as ‘apostel van Jesus Christus, volgens die bevel van God’, die ‘bevele van die Here’ aan die gemeentes oordra, nie maar sy persoonlike mening of iets van sy ‘Joodse kultuur’ nie.

6. NGB artikel 32 gaan verder en roep op, vanuit die Skrif, dat die ‘regeerders van die kerk’ se taak is ook:

“… daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.”

Daarom moet ons die versinsel van die vrou in die besondere ampte (diaken, ouderling, predikant) verwerp, asook die huidige poging om dit in ons (GKSA) kerkverband in te voer, aangesien sodra ‘n vrou verkies word tot die regeeramp, veral van ouderling en predikant, ons gewetens daardeur gedwing gaan word om dit te aanvaar, hetsy op plaaslike vlak of op meerdere vergaderings (klassis, streeksinode, algemene sinode), want ons Dordste kerkorde verklaar oor die bindende gesag van besluite op kerklike vergaderings in art.31 en artikel 36:

Dieselfde seggenskap (auctoritas = gesag uitoefen; regeer – slc) het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.”

Dus enige vrou in die besondere ampte, veral ouderlinge in ons kerkverband se geval, hetsy in ‘n kerkraad, klassis, partikuliere of algemene sinode, regeer dan (oefen gesag uit) saam met die ander manlike ampsdraers oor die gemeentes, wat direk in stryd is met God se bevel deur Paulus in 1 Tim.2:11,12, direk in stryd met “wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het”, deur die apostel Paulus (1Tim.3:15).

7. Ons moet bly by die Heilige Skrif, ons belydenisskrifte en alleen aanvaar wat die ‘eendrag en eenheid’ bewaar en bevorder, volgens NGB art.32. En, wat is dit ? NGB art.32 antwoord dit, nl. “gehoorsaamheid aan God”, gehoorsaamheid aan 1 Tim.2:11-15, aan God se bevel deur Paulus aan sy kerk deur al die eeue (1 Kor.14:37), deur sy skeppingsorde vir man en vrou in gesin én gemeente te aanvaar. Ons moet die wêreldse menslike versinsels (feministiese invloede) en verkeerde menslike wette (bv. “die gemeentes het vryheid om self te besluit om vrou in die besondere ampte te verkies”) verwerp (sien Tit.1:9). Christus se gemeente word regeer deur sy Gees en Woord.

8. Nie hulle wat getrou wil bly aan die Heilige Skrif, ons belydenis en wat ons kerke al vir 150 jaar bely (en die Christelike kerk al vir 2000 jaar) oor die vrou in die ampte – is besig om die kerk te skeur of onrus te veroorsaak nie, maar hulle wat menslike versinsels (vroue in die besonderse ampte) wil invoer en akkomodeer (wat eiewillige godsdiens is, sien 1 Sam.15:22,23; 1 Kon.12:31; Matt.15:9), is besig om die ‘eendrag en eenheid’ van ons kerkverband aan te tas, en moet opgeroep word tot bekering.

9. In plaas van dat die kerk soveel aandag skenk aan wie in die ampte moet en mag dien terwyl die Bybel reeds duidelik is daaroor, moet ons kragte daarin gaan om ons gesinne te help, mans om hul roepinge te vervul, vrouens om weer hul ‘rol as vroue en moeders’ te aanvaar (1 Tim.2:15) en dit tot eer van God in die gemeente te ontplooi.  Sien verder bv. Spr.31:10-31; 1 Tim.5:14, Tit.2:3-5, ens.

10. Gebed en oproep: dit is ons gebed dat hul wat die Here se skeppingsorde en die gesag van sy Woord omver wil werp, hul daarvan sal bekeer. Dit is ons hoop dat by die komende sinodes hierdie verdere rewolusionêre en onordelike optrede nie goedgekeur sal word nie, nl. dat die vrou tot die amp van ouderling en predikant verkies word nie.

Sou dit wel gebeur, sal elke kerkraad biddend moet oorweeg of ons God of mense meer gehoorsaam gaan wees (Hand.4:19; 5:29), want die Heilige Skrif (sien 1 Tim.2:11-15 in die lig van 1Tim.6:3-5) en ons belydenis (NGB art.2-7,30,32; HK Sondag 35) roep ons daartoe op.

Artikel 2: Die Regering van die Kerk, ds. W.F. Venter

Onse Here God is ‘n God van orde en dis sy welbehae dat alles in sy kerk ordelik sal toegaan, daarom het Hy ook bepaal dat sy kerk geregeer moet word. Die gesag waardeur die kerk geregeer word is eiesoortig, dis nl. nie die wêreldlike gesag waardeur die state geregeer word nie, maar geestelike gesag waarmee God sy kerk beklee het. Oor die aard en oorsprong van die gesag in die kerk, en ook oor die vraag wat die kerk is, is in die verlede, en word vandag nog verskillend gedink, en as gevolg hiervan is verskillende stelsels van kerkregering opgebou. Waar die bedoeling van hierdie artikel is om ‘n uiteensetting te gee van die Gereformeerde stelsel van kerkregering, sal dit nuttig wees om onsself op hoogte te stel van die hoofpunte van die ander stelsels van kerkregering. Vooraf dus ‘n kort woord oor elkeen van die volgende stelsels:

– die Roomse,

– die Lutherse,

– die Independentistiese, en

– die Kollegialistiese stelsel.

1. Die Roomse stelsel is gebou op die grondslag van Rome se geloof in die legende dat die apostel Petrus die eerste biskop van Rome was. Uit hierdie geloof het Rome afgelei dat die Roomse Kerk die enigste ware kerk is — dus die wêreldkerk. Verder het Rome geleer dat elke pous die opvolger van die apostel Petrus is, en aangesien die apostel Petrus deur onse Here Jesus (so glo Rome op grond van Matt. 16:19) benoem was tot sy plaasvervanger op aarde, is elke pous eintlik die verteenwoordiger van Christus op aarde en as sodanig die draer van die kerklike gesag. Die pous besit dus die reg om alle kerklike ampsdraers te benoem, en die gesag wat hulle dra, ontvang hulle van die pous.

Teenoor die priesterstand staan die leke (d.i. gewone lidmate); hulle het geen seggenskap in die regering van die kerk nie. Verder eien pous en priesterstand hulle toe seggenskap oor elke lewensterrein: godsdienstig en staatkundig en ook oor die terrein van wetenskap en kuns. Eindelik beskou die Roomse Kerk homself as heerser oor die staatsmag. Die Roomse stelsel gaan teen die heilige Skrif in op twee uiters belangrike punte: ten eerste maak dit die pous hoof van die kerk terwyl die Skrif ons leer dat Christus die enigste Hoof Van sy kerk is; ten tweede deur sy onderskeiding van hoër en laer range in die kerklike ampte loën dit die beginsel dat die kerklike ampte gelykstaan.

2. Die Lutherse stelsel, in teenstelling met die voorgaande, leer dat die Here Christus die gesag oor sy kerk gelê het in die hand van die vors van die land; gevolglik gaan hierdie stelsel uit van die gedagte van landskerke. Elke land het sy nasionale kerk. Die magspreuk van hierdie stelsel lui: “Wie se land, die se godsdiens”. So het dit in die geskiedenis gebeur dat eenselfde land onder hierdie vors Luthers was en onder sy opvolger Rooms geword het. Uit hierdie stelsel het voortgevloei presies die teenoorgestelde gedagte as by die Roomse — waar laasgenoemde gemeen het dat die kerk heerser(s) oor die staat is, meen die Lutherse stelsel dat die kerk dienaar(s) van die staat is.

Onder die Lutherse stelsel word die kerkregering dan ook behartig deur die staat. Die owerheid stel nl. kerkbesture aan, genoem “konsistories” en saamgestel uit godgeleerdes en regsgeleerdes. Ook wys die owerheid ‘n “superintendent” aan vir elke distrik; hy is dan belas met toesig oor die gemeentes en predikante in daardie distrik. Hierdie stelsel ken geen kerkraad nie, en die gemeente as sodanig het geen seggenskap in die kerkregering nie. Onder hierdie stelsel het die ampte so verwaarloos dat die diakenamp heeltemal verdwyn het. Ook word onder hierdie stelsel predikante nie beroep nie, maar deur die “konsistorie” aangestel om hier of daar te gaan arbei. Dis miskien interessant om te weet dat dieselfde prosedure ook in die Wesleyaanse Kerk gevolg word.

Die Lutherse stelsel dwaal op hierdie uiters belangrike punt dat dit die kerk onderhorig 153 maak aan die staat. Ook bestaan daar by hierdie stelsel die groot gevaar dat gestreef kan word na nasionale Christelike kerke. En dat hierdie gevaar nie denkbeeldig is nie, word bewys deur die feit dat daar vandag in Duitsland gestreef word na nasionalisering van die Christendom — die strewe is na ‘n Duitse Christendom.

3. Teenoor die voorgaande twee stelsels met wêreldkerk en landskerk, staan die Independentistiese stelsel wat uitgaan van die gedagte dat elke gemeente absoluut selfstandig is en los en onafhanklik bestaan van ander gemeentes van dieselfde belydenis en kerkinrigting. Sóver gaan hierdie leer dat daar op éénselfde plek twee gemeentes van dieselfde belydenis los en onafhanklik van mekaar kan bestaan, sonder enige verband of korrespondensie tussen mekaar. Hierdie stelsel ken nie so iets as ‘n kerkverband nie. Elke gemeente is absoluut vry om sy kerkinrigting en erediens te reël, al verskil dit ook van die van ander gemeentes van dieselfde belydenis. Wel hou die Independentistiese gemeentes “konferensies”, maar hulle het geen gesag nie en hul besluite is nie bindend vir die gemeentes nie — hoogstens dien dit as adviese.

Volgens hierdie stelsel rus die kerkregering nie by die kerkraad nie maar by die gemeente self; die gemeente beslis by meerderheid van stemme in alle sake en die kerkraad is bloot net ‘n uitvoerende komitee. Wat die ampte betref, ken die Independente net die van ouderling (Elder) en diaken. Die ouderlinge is nie regeerders van die gemeente nie, maar voorgangers. Elke ouderling kan dan ook deur die gemeente tot leraar benoem word. Ons beswaar teen die kerkinrigting van hierdie stelsel is tweeledig: dat dit die kerkverband loën en die ampte verwaarloos. 4. Baie skerp teenoor die voorgaande staan die Kollegialistiese stelsel deurdat dit al die klem laat val op die kerkverband en die betekenis van die plaaslike gemeente misken.

Hierdie stelsel word so genoem omdat dit uitgaan van die gedagte dat die kerk ‘n godsdienstige vereniging is wat ontstaan het deurdat ‘n groep gelowiges ‘n vereniging (=collegium) gestig het. Hierdie “vereniging” is versprei deur die lande met takke in elke distrik. Volgens hierdie beskouing is die kerk dus ‘n groot genootskap en die plaaslike gemeentes is takke daarvan. Die Kollegialistiese stelsel is gegrond op die beginsel van die volkswil — soos wat die meerderheid van die godsdienstige genootskap besluit oor die inrigting van die kerk, so moet dit geskied. Die vraag is hier nie in die eerste plek: wat sê Gods Woord nie, maar: wat is die nuttigste vir die godsdienstige genootskap (nl. die kerk).

Die inrigting en regering van die kerk berus volgens hierdie stelsel by die sinode of algemene kerkvergadering, wat by meerderheidsbesluit bepaal hoe die kerk ingerig en geregeer moet word en die gemeentes met hul kerkrade, wat eintlik maar takke van die groot genootskap is, is verplig om daarvolgens te handel. Onder hierdie stelsel is dit moontlik om in één tyd hierdie vorm van kerkinrigting te hê en in ‘n ander tyd ‘n ander vorm, al na gelang die sinode of kerkvergadering besluit. Hierdie stelsel dwaal ten eerste op die so uiters belangrike punt van kerkbegrip, nl. waar dit die kerk beskou as ‘n vrye genootskap van godsdienstige mense en waar dit die volkswil as rigsnoer aanvaar.

Ten tweede gaan hierdie stelsel feil waar dit die selfstandigheid van die plaaslike gemeentes opoffer aan die genootskap-idee. So leer hierdie stelsel dat as ‘n mens eenmaal lidmaat geword het, hy dan lidmaat van die kerk as geheel en nie van hierdie of daardie gemeente is nie. Mens hoef dus nie jou attestaat van een gemeente na ‘n ander te laat gaan nie; mens is vanself lidmaat van elke gemeente omdat mens lidmaat van die kerk is.

5. Teenoor die genoemde vier stelsels staan die Gereformeerde stelsel van kerkregering. Een en ander beginsel van die gereformeerde kerkregering, in meerdere of mindere mate suiwer, word ook aangetref by hierdie of daardie van die genoemde stelsels, soos ons sal merk.

Die gereformeerde kerkregering gaan uit van die belydenis dat die kerk ‘n stigting van Christus is en nie ‘n genootskap van godsdienstige mense nie. Die kerk is die vergadering van ware gelowiges — dus vrug van God se werksaamheid. Kragtens Gods verbond is ‘n mens lidmaat van die kerk en nie uit eie vrye keuse nie. Vir hierdie kerk het ons Hoof self ‘n inrigting bepaal in die Nuwe Testament, nl. die drie ampte van: bedienaar van die Woord, ouderling en diaken.

Die regering van die kerk is opgedra aan die ouderlinge. (Let wel: die leraar is leer- en regeer-ouderling.) Omdat die regeermag by die ouderlinge berus, word hierdie stelsel ook genoem die Presbiteriale stelsel (presbiter=ouderling). Volgens hierdie stelsel berus die regeermag by die kerkraad. (Ons handel nie hier oor die vraag of die diakens ook by die kerkraad gereken word nie.) Die kerkraad word wel gekies in oorleg met die gemeente, maar tog is dit nie die uitvoerende komitee van die gemeente soos by die Independente nie, maar dis die instrument van Christus waardeur Hy sy gemeente regeer.

Die tweede groot gedagte van die gereformeerde stelsel is dat elke gemeente ‘n selfstandige openbaring van die liggaam van Christus is, en as sodanig outonoom (=selfstandig). Dis nie ‘n tak van ‘n groot genootskap soos by die Kollegialiste nie. Hierdie leerstelling is afgelei uit die Nuwe Testament waar slegs van plaaslike gemeentes melding gemaak word en nie van landskerke nie. As die apostel Paulus praat van die verskillende gemeentes in dieselfde landstreek, noem hy hulle nie die kerk van Galasië nie, maar gemeentes (of kerke). Vergelyk ook Rom. 16:4. Die Skrif reken dus met selfstandig-bestaande plaaslike gemeentes. Die derde groot gedagte in die gereformeerde stelsel is dat al die gemeentes van dieselfde belydenis en kerkinrigting in kerkverband
staan en oor gemeenskaplike sake saam beraadslaag.

Hierdie beginsel word afgelei uit Hand. 15 waar ons lees van ‘n gesamentlike vergadering van die apostels, die ouderlinge van Jerusalem en afgevaardigdes van die gemeente in Antiochië. Hoewel daar verskil is tussen hierdie vergadering en ons hedendaagse meerdere vergaderinge kan hierdie vergadering met reg die eerste meerdere vergadering van die kerke genoem word. Die verskillende selfstandige gemeentes behartig hul plaaslike belange onafhanklik van mekaar, en tog staan hulle nie los en onafhanklik van mekaar nie, maar word aan mekaar verbind deur die band van gemeenskaplike belydenis en kerkinrigting. Hierdie kerkverband kom tot openbaring in die meerdere vergaderings van die kerke van gereformeerde belydenis. Verskillende kerkrade kom dan saam in ‘n klassis of sinode. So ‘n klassis of sinode is dan nie ‘n hoër bestuursliggaam (soos by die Kollegialiste) nie, maar ‘n vergadering van ‘n groep kerkrade om oor sake van gemeenskaplike aard te beraadslaag.

‘n Klassis of sinode het dan ook alleen dáárdie gesag wat deur die gesamentlike kerkrade aan hom oorgedra word. Dit word gewoonlik genoem afgeleide gesag, terwyl die gesag van die kerkraad oorspronklike gesag is (nl. waarmee Christus die gemeente beklee). Die besluite van klassis of sinode is bindend vir die gemeentes — nie omdat hulle geneem is deur hoër gesag nie, maar omdat daardie gemeentes (deur middel van hul afgevaardigdes) saamgewerk het in die neem van daardie besluite. Ons kan die verskil tussen die gereformeerde stelsel en die Kollegialistiese op hierdie punt verduidelik met twee beelde: volgens laasgenoemde begrip is die sinode die dam waaruit die water (kerklike gesag) gelei word in die beddings (kerkrade); volgens die gereformeerde begrip egter is die sinode (of klassis) die rivier wat sy water (kerklike gesag) kry deurdat spruite (kerkrade) dit aan hom oordra.

Tenslotte nog net die opmerking dat volgens die gereformeerde beskouing die drie ampte (leraar, ouderling en diaken) gelykwaardig is, d.w.s. die een is nie hoër as die ander, soos wat dit in die praktyk by die ander stelsels gesien word nie. Selfs die leraar is nie hoër as die ander lede van die kerkraad nie; hy is alleen maar “die eerste onder gelykes”.

3 thoughts on “Kerkregering: gehoorsaamheid aan God of die mense ?

Add yours

  1. Omkeerstrategie: Ek het nie daardie aspek van die laaste sinode goed gevolg nie maar die vraag is waarheen of waarnatoe moet omgekeer word? Daarmee saam, as ‘n beduidende persentasie van die kerke VIDA voorstaan en geensins belangstel om VIDA te verwerp nie, dan kan enige omkeerstrategie mos nie werk nie. Dit is vir my heel duidelik dat daar kerke in die GKSA is wat ‘n “nuwe” pad wil stap. Gaan ons dan maar soos in die NGK gewoon ‘n kerkverband word wat ‘n bre”e spektrum van sienings akkomodeer?

  2. Johan, alles waar wat jy sê. As die Here nie radikaal ingryp nie, gaan ons presies die pad loop van die NGK: die liberales slaan die kitaar en ons, die regsinniges, kef-kef agterna. Laat my dink aan die woorde van Bonhoeffer, iets in die lyn van: dit help nie jy hardloop na die agterkant van die trein … as jy op die verkeerde trein is nie.

    Tragies maar waar. Laat ons aanhou Ps.25:22 bid.

  3. Slabbert, dit wil vir my voorkom asof VIDA ook maar net een manifestasie van ‘n groter verandering is. Ek merk onder andere ook op dat VIDA gesinde predikante se preke ook ander beklemtonings het as die van nie-VIDA predikante. So wil dit vir my lyk of VIDA gesindes nie van leerprediking hou nie maar eerder “so en so moet jy lewe”. En dan beslis ook ‘n geneigdheid tot vrye liedere het. Ek weet nie tot watter mate mens van valse leer by die VIDA-gesindes kan praat nie maar dit is tog opmerklik dat baie die simptome van valse leraars toon soos JC Ryle dit opgesom het: http://www.unlockingthebible.org/symptoms-of-false-teaching-prophets/ Sien ook http://thegospelcoalition.org/blogs/tgc/2013/03/19/7-traits-of-false-teachers/. Die GKSA is sekerlik nie al op daardie punt nie maar daar is beslis dinge wat my baie bekommerd maak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: