Om met die gesonde leer te vermaan

Titus 1:9  9 een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.

In ‘n vorige skrywe het ek verwys na dr. GPL vander Linde[1] van die GKSA se broederlike vermaning en teregwysing van die GKN, aangaande leersake wat huidiglik deel is van die CRCNA se besluite, met wie die GKSA sustersbande het.

Hier is die volledige voordrag, ‘n bemoedigende voorbeeld van ‘n lerende ouderling wat gehoorsaam is aan sy opdrag (2 Tim.4:1-5; Tit.1:7-9):[2]  

Voordrag van dr. G. P. L. van der Linde voor die Sinode van die GKN ter teregwysing en vermaning, Lunteren, 26 Maart 1974 om 2 nm.:

[pdf:  https://proregno.files.wordpress.com/2011/01/voordrag-dr-gpl-vd-linde.pdf]

Eerwaarde voorsitter en broeders,

Die teenwoordigheid van deputate van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in u midde is in die lig van die verhouding tus­sen ons kerke en van ‘n jare lange praktyk iets doodgewoons. Dit is iets om oor dankbaar te wees.

Deur al die jare heen was die teenwoordigheid van deputate op Sinodes in Suid-Afrika en Nederland die konkretisering van wat van die begin af met korrespondensie tussen die kerke bedoel is. Die vaders het reeds in Suid-Afrika (Sinode 1869) uitgespreek (toe nog met betrek­king tot die Christelijke Afgescheidene Gereformeerde Kerk in Nederland) dat die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika één is met die in Nederland in leer, diens en tug. Die eenheid vereis eintlik “dat wij ook op bare Synode verteenwoordigd wierden, maar dit, zeggen wij, belet de afstand, daarom bestaan wij hier zelfstandig”.

In die korrespondensie is die eenheid so goed as maar kon, belewe. Hoogtepunte in die eenheidsbelewing was nog altyd die teenwoordigheid van deputate op die wedersydse Sinodes. Daadwerklik kan ons so nog altyd iets van die wonder van die eenheid van die liggaam van Christus oor die wêreld beleef. Wedersyds kon vasgestel word hoedat die één waarheid, behels in die één belydenis, vervat in die Drie Formuliere van Eenheid met die Heilige Skrif as enigste grondslag deur beide Sinodes gehandhaaf word en op dieselfde wyse.

Die Koningskap van Christus soos in beide Sinodes voorheen altyd erken en die worsteling deur beide Sinodes om op dieselfde wyse Christus as Koning in sy Kerk te laat gestalte kry, het in die verlede verseker dat die wedersydse deputate op die Sinodes, hoewel “meestal vreemdes na die vlees, tog, bemindes na die gees” was.

Ek herinner my nog die verkwikkende verskyning van dr. Berkouwer saam met dr. Danhof van die Christian Reformed Church uit Amerika op die Sinode van Potchefstroom in 1949, en prof. Herman Ridderbos 1967. Die broeders het toe — soos ander voor en na hulle — daadwerklik meegewerk om die agenda af te handel. Hulle was ons medewerkers in die handhawing van die gemeenskaplike belydenis en die opbou van die Kerk. Veral gedurende die tweede helfte van die 19de en die begin van die 20e eeu het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir sy opbou veel te danke gehad aan die korrespondensie eers met die Christelijke Afgescheidene Gereformeerde Kerk en daarna met die GKN.

Die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1973 moes egter met leedwese vasstel dat die ou, innige en broederlike verhouding die afgelope jare al hoe meer versteur is. Die ontwikkelinge in die GKN blyk van so ‘n aard te wees dat die kerkverband, vergestalt in die korrespondensie tussen ons kerke, reeds ernstig in gedrang gebring is, terwyl dr. Kruyswijk die aandag gevestig het op probleme wat u het met die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

Waar die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in die korres­pondensie nog altyd die hartklop van die één Hoof — Jesus Christus — hoor, kan u begryp dat ons en ter wille van die waarheid en die welsyn van die GKN oor dit wat die eenheid in die waarheid bedreig, nie mag swyg nie. Dit sou roepingsversaking wees.                             .

Ons het u kom groet soos gewoonlik kragtens die eenheid in Christus. Maar onder die buitengewone omstandighede, gedwing deur die eenheidsband met, en die ontwikkeling in die GKN sowel as in gehoorsaamheid aan Christus (Matt. 18) moet ons groet hierdie keer ‘n ander vorm as voorheen aanneem- Dit bly ‘n broedergroet, maar kommer en besorgdheid oor die toestand waarin die GKN verkeer, oorheers die gemoed en bepaal die groetwoorde.

Aan ons is deur die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, Potchefstroom 1973, opgedra om by u te pleit dat u van u kant so moet handel dat ons weer een sal wees terwyl ons in die Naam van Christus vir die waarheid stry. Die pleit met u, so het ons eerwaarde Sinode geoordeel, moet na die opdrag van Christus in die vorm van ‘n ernstige broederlike vermaning geskied.

Dit was geen maklike besluit om deputate met so ‘n opdrag na u te stuur nie. En dit is geen opdrag wat met gemak uitgevoer kan word nie. Ons het in u midde verskyn en is steeds hier “by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; ons kom ook nie “met oorredende woorde van menslike wysheid nie”, maar bid dat daar van ons ” ‘n betoning van gees en krag sal uitgaan sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God” (vgl. 1 Kor. 2:3-5). Ontvang ons dus, broeders, in hierdie netelige situasie as gesante om Christus wil.

In die uitvoering van ons taak verwys ek na die uitvoerige skrywe in die naam van die Sinode 1973 deur die deputate van korrespondensie — 17 April 1973. Ek verwys verder na die “Besluite van die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1973, insake korrespondensie met De Gereformeerde Kerken in Nederland”, wat u reeds ontvang het.

Ek ag dit nie nodig om nou op alle besonderhede in te gaan nie. Kortliks kom dit daarop neer dat die Sinode 1973 bevind het dat die eenheid en daarmee die korrespondensie tussen kerke ernstig in gedrang gekom het deur die volhardende afwyking in die leer soos dit onder andere tot uitdrukking kom in die besluite rondom sommige opvattings van prof. Kuitert sowel as in die kerklike handelinge met hom en dr. Wiersinga. Volledigheidshalwe stel ek net dat op die sake gekonsentreer is nie omdat dit die enigste tekens vir ons van ‘n voortskrydende afwyking is nie, maar omdat u besluite in die verband en op leerstellige en op kerkregtelike vlak die kern van ons besware duidelik na vore laat kom.

Die Sinodes van Sneek en Dordrecht het weliswaar uitdruklik verklaar dat die Drie Formuliere van Enigheid nog akkoord van kerklike gemeenskap en derhalwe bindend is — waarvoor ons groot waardering het — maar tegelyk ook die Formuliere tersyde gestel in die besluit oor dr. Kuitert. Eers is verklaar dat sy leer nie in ooreenstemming is met die belydenis nie, maar dan dat dit tog nie die geloofseenheid in gedrang bring nie. (Vgl. Acta Sneek, p. 376, ook aangehaal in “Besluite …”, p. 6).

Verder oordeel die Sinode van Dordrecht — blykens ‘n samevatting van dr. Kruyswijk se verduideliking op ons Sinode 1973 (vgl. Besluit, p. 47) — dat dr. Kuitert nie teen die belydenis is nie, omdat hy instemming met die belydenis betuig het en daarom is die samesprekings met hom oor Genesis 2 en 3 gestaak en sy beskouing getolereer, Volgens die Acta is die Sinode van oordeel “dat mede gelet op de bespreking ter vergadering, haar discussie over deze zaak althans op dit moment beëindigd dient te worden…” Dit nadat “geconstateerd” is dat dr. Kuitert die poging om die sondeval “in die tijd te localiseren of op een andere wijze nader te preciseren geen zaak van kerkelijke belijden maar van theologische conceptïe acht”. Dit lyk tog of die logiese konsekwensie daarvan is dat u implisiet erken dat dr. Kuitert o.a. art. V. NGB en art. XIV sowel as Kat, Sondag III verwerp, maar dit word deur die Sinode getolereer.

Die Sinode van Dordrecht wil deur sy “besluit”, p. 381 wel dat die waarheid gehandhaaf word. Tog is die waarheid klaarblyklik geweld aangedoen. Dat ‘n sinode voor die aangesig van die Here met waarheid kan verklaar dat van die belydenis en dan ook van die Heilige Skrif (i.v.m. die sondeval en historisiteit van Adam) afgewyk is deur ‘n professor (vgl. Sneek 1969/70 en Dordrecht 1972) maar tegelyk ook dat hy nie teen die bely­denis is nie, is onbegryplik.

Dit is des te meer onbegryplik as die waarheid openlik deur dr. Kuiters en ‘n aantal ampsdraers op sy voetspoor — sy medewerkers o.a. in die Kategismus — verklaring en verder in ander geskrifte dr. Rothuizen, drs. Baarda, prof. Augustijn en andere — opsy geskuif word. Hulle skuif die belydenis nie net opsy nie maar spreek ook minagtend daaroor in die woorde van dr. Augustijn: “Een uitspraak van die Gereformeerde Kerken waarin bepaald wordt dat de overheid, de kerken en haar leden een bepaald percentage van hun inkomsten behoren te besteden aan ontwikkelingshulp, is vandaag meer waard dan elke binding aan een oude of een nieuwe belydenis” (Kerk en belydenis, p. 70). ‘n “Dialoog-Kerk” moet die “belydeniskerk” vervang, (Augustijn in ‘n TV-onderhoud volgens Gereformeerd Weekblad).

Dieselfde groep ampsdraers volg dr. Kuitert na waar hy die Heilige Skrif degradeer tot ‘n mensewoord. In “de Mensvormigheid Gods”, soos tewens in al sy publikasies o.a. “De Realiteit van het geloof” en “Anders Gezegd”, is dit duidelik dat die Bybel vir hom net die neerslag is van wat Israel van die Gods-openbaring ervaar het en nie die onfeilbaar-geïnspireerde Woord van God nie (vgl. o.a. “Mensvormigheid”, pp. 35, 289 en 290 en “Anders Gezegd”, pp. 22, 25 en 37. Sprekend is die uitspraak: “Het gaat veeleer om mededelingen die op ervaring in de omgang berusten en daarvan de neerslag vormen…”, “Mens­vormigheid”, p. 292).

As gesê word deur dr. Rothuizen, en dr. Kuitert met hom saamstem dat ons vandag beter weet as Paulus, getuig dit tog nie van eerbied vir en onderwerping aan die gesag van God se Woord nie.

Waar die Kerke dit en veel meer tolereer en tot toleransie gebind word deur die Sinode wat deur Christus geroep is om as regeerliggaam die belydenis te handhaaf, daar eis opregtheid voor God dat u die belydenisversaking moet erken en bely Broeders, u probeer die erns van belydenisversaking te reduseer tot wetenskaplik-besig-wees of teologisering. Dit word naderhand ‘n spel met die heilige dinge. Die gesag van die Heilige Skrif en die Waarheid, soos deur God aan ons geopenbaar, is deur die Sinodes van Sneek en Dordrecht ingeruil vir die stand-punte van geleerdes, wat dwaasheid is voor God.

Daarom het die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika hierdie diepe kommer: U verklaar met die mond wel dat u by die geopenbaarde waarheid hou, maar metterdaad het u die mens met sy wetenskap oor die openbaring as wagter aangestel. Is valse eenheid onder mense vir u nie meer werd as die waar­heid van God nie? Anders, hoe moet ‘n mens die besluite oor dr. Kuitert e.a. en ook u jongste verenigingspogings met die Hervormde Kerk, wat openlik duld dat die Christus van die Skrifte geloën word, verstaan?

Kan u werklik in die lig van hierdie besluite en handelwyse waarvan ek maar enkele genoem het — in opregtheid voor God. verklaar dat u nog die gesag van Gods Woord bo alles stelen die belydenisskrifte, omdat hulle ooreenkom met God se Woord, onverswak aanvaar en handhaaf? As u dit nog beweer, sou ons saam met u skuldig wees as ons daaroor swyg, of as u daarin volhard en ons nog die korrespondensie sou handhaaf.

Agter die kerkregtelike handelinge van die Sinodes van Sneek en Dordrecht skuil dieselfde gevaar van dubbelslagtigheid. Daar is wel aanvanklik verklaar dat dit die sinodes erns is om die belydenis te handhaaf. Tog nadat vasgestel is dat dr. Kuitert se opvatting bv. oor Adam nie in ooreenstemming met die bely­denis is nie — soos nog deur Amsterdam vertolk — word desondanks gesê dat die dwaling nie die geloofseenheid sodanig aantas dat dit verdere optrede vereis nie. Daarna het ‘Dordrecht’ met ‘n nuwe vertolking van die belydenis, naamlik dat die sondeval wel as belydenis maar nie noodwendig as ‘n historiese gebeurtenis beskou hoef te word nie, die weg geopen om die klagte teen dr. Kuitert af te wys.

Wat dr. Wiersinga betref, gaan dit nog erger: Sy alternatiewe versoeningsleer word afgewys, maar hy word nog as bedienaar van die Woord geduld — al was daar geen daadwerklike tekens van berou oor en bekering van sy dwaalleer, wat die hart van die belydenis aantas nie.

Prof. Kuitert en dr. Wiersinga is — ten spyte van uitvlugte en onderskeidinge wat bedink is om die werklikheid beter te laat voorkom as wat dit is — besig om ‘n ander evangelie te verkondig. En die bevel van Christus is duidelik in so ‘n geval uit 1 Tim. 6:3-: “Onttrek jou aan sulke mense”. Daar is egter nie met hulle gehandel ooreenkomstig die bevel van Christus soos ook vervat in art. 79 DKO (116 HKO) nie. Getuig so ‘n optrede van die wat as wagters oor die huis van die Here gestel is van waaragtige roepingserns in die handhawing van die leer? Veeleer word alles gedoen om diegene wat afwyk van die belydenis, ‘n wettige plek in die kerk te gee en te laat behou,

Ter wille van hulle word gesoek na ‘n sg. eietydse belydenis wat hulle besware teen die leer kan vervang: “het is van groot belang te trachten tot een eenparig geloofsgetuigenis te komen in een duidelijke taal en in verband met de vragen van deze tijd, als een mogelijke weg tot een nieuw belijden in gemeenschap des geloofs met het belijden der vaderen” (Acta Dord­recht, p. 171 onder: “spreekt de Synode uit”). Tot tyd en wyl so ‘n “nieuw belijden” gereed is, moet die Drie Formulieren ongewysigd bly, maar “Het is gewenst de ondertekeningsformulieren te herzien” (Acta Dordrecht, p. 171 onder eerste “spreekt uit”).

Hierdie formulier moet o.a. die volgende elemente bevat: “De bereidheid enerzijds om zo enig stuk van dit kerkelijk belrjden in tegenspraak met Gods Woord geacht word daarvan getuigenis af te leggen en anderzijds om zich aan het oordeel der kerk te onderwerpen…” Die bedoeling van voorgaande word nader bepaal deur die opdrag dat in besonder aandag gegee moet word “aan een grotere mate van nuancering in de censuur over predikanten en degenen die onderwijs geven in de opleiding…, aan de verhouding tussen judiciële en justitiële leertucht…” (Acta Dordreeht, p. 171 onder “De Synode besluit: a. 3. b., a. 3. C;).

Hierdie besluit om die ou ondertekeningsformulier te vervang met ‘n nuwe wat bovermelde elemente bevat, skep onweerlegbaar die indruk dat dit leertug wel bemoeilik. Anders waarom nie met die ‘ou formulier volstaan nie?

Om alles te kroon word i.p.v. skorsing en afsetting toleransie van die dwaalleer en leraars geproklameer en oorgegaan tot dialoog met die skuldiges. Deur dialoog moet die waarheid tot hulle bevredigings aangepas word — hulle staan immers nie voor ‘n “regbank” nie, maar is gelyke “gesprekspartners” van die Sinode, en daarom vra die broeders en susters uit Suid-Afrika of die remonstrantse beginsel wat deur Dort 1618/19 so nadruklik afgewys is, nie deur Dordt 1972 met vlag en wimpel binnegehaal is nie.

Kan u dan nie sien nie, broeders, dat u ontrou is aan u amp as opsieners wat die wolwe uit die kudde moet weer nie? Kan u nie sien hoe onbarmhartig u optrede teenoor dr. Kuitert en sy volgelinge sowel as die kerk is as u nie die leertug toepas nie?

U handhaaf nie die leer nie, maar het prakties leervryheid geproklameer.

Ek weet, broeders, u ontken dit en u het die onderskeiding van judisiële en justisiële tug ingevoer. Maar as u Esegiël 3:17-21 en Hand. 20:28-30 in gedagte hou, gaan hierdie onderskeiding nie langer op nie. As die eer van die Here en die heil van die sondaar vir u erns is — waarvan ons oortuig is — kan u nie anders as om te reformeer en waarlik die koningskap van Christus in die Kerk te handhaaf nie.

Ons meen dat dit ten diepste nie ‘n kwessie van denklidmaat is wat deur wetenskaplike ontwikkeling geproblematiseer is, soos dr. Kruyswijk op ‘Ons Sinode beweer het nie, maar ‘n kwessie van ontrou aan die Koning van die Kerk. En daarom wil ons u dringend daartoe oproep om die metode van gesprek of dialoog met diegene wat afwyk van die belydenis te laat vaar en hulle in die Naam van die Here aansê om geen ander evangelie te bring wat die kruis van Christus mag verydel nie. Waar u, na die oortuiging van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, afwyk van die leer ondanks u verbintenis aan die belydenis en waar u weier om die regeermag wat Christus aan u toevertrou het uit te oefen, terwyl u opereer met die onderskeiding van judisiële en justisiële tug, het u die belydenisband met die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ernstig in gedrang gebring.

Dit is ‘n smartlike saak om aan kerke met wie ons meer as ‘n eeu reeds die intiemste eenheid in die waarheid beleef het, te moet sê dat dit nou die beslissende vraag geword het of hierdie eenheid met u verder beleef sal kan word. Dit sal nie kan nie as u nie reformeer nie. Broeders, waar ons u in die naam van die Here tot reformasie oproep, moet dit des te sterker op u aandring waar u ook reeds vir die verkeerde weg wat u ingeslaan het, gewaarsku is deur die GES en kerke met wie u in korrespondensie staan. En in al die vermaninge moet u tog die liefdespleit hoor waartoe die Heilige Gees die kerke met wie u in korrespondensie staan, dring.

Hoe smartlik dit ook al is om so met huisgenote van die geloof te spreek, roepingstrou eis dat u vermaan word om die waar­heid weer in u optrede bo ‘n valse eenheid te stel. U moet weer die gesag van die Heilige Skrif en die belydenisskrifte onvoorwaardelik bely en onverswak sonder aansien van die persoon handhaaf deur die leertug op die wat in hulle dwalinge volhard, toe te pas.

Geliefde broeders, ek groet u nou namens die jongste Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika met die bede dat die Heilige Gees u mag lei in u verdere beraadslaginge en besluite.     

G. P. L. van der Linde.

Lunteren, 26 Maart 1974.


[1] Dr, van der Linde het in lewe 4 gemeentes bedien in die GKSA en was ook kerkreg professor aan die Teologiese Skool in Potchefstroom (1976-1985), oorlede: 2001-03-06

[2] Handelinge van die GKSA Sinode 1976, p.253-259.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: