Resensie van Die Trojaanse Perd in die NG Kerk
deur Bouwe van der Eems[1]
Die boek gee ‘n baie deeglike analise, met baie verwysings en voetnotas van die sake wat groot probleme in die NG Kerk veroorsaak. Dit stel lesers in staat om self na die bronne te gaan kyk en die bewerings wat in die boek gemaak word te verifieer. Veral omdat meeste verwysings op die Internet is, en daarom baie maklik toeganklik is vir lesers.
Die boek bevat ook lang uittreksels van diegene wat hulle kritiseer. Die boek veroordeel dus nie slegs die standpunte van sekere persone in die NG Kerk nie, maar laat die leser ook hoor “uit die perd se bek” wat die standpunt van daardie persone is.
Die sake wat bespreek word handel oor Skrifbeskouing, Skrifkritiek, homoseksualiteit, evolusie en die huwelik.
Vir gereformeerde gesindtes is dit dus ‘n uitmuntende oorsig van die situasie in die NG Kerk.
DIE PAD VORENTOE
Die boek bestaan uit ongeveer 250 bladsye. Hiervan handel 7 bladsye oor die pad vorentoe. Dit lyk vir my of die skrywers van hierdie boek vassit in ‘n situasie wat in die industrie bekend staan as “Analysis Paralysis”. Daar word baie geskryf oor wat alles verkeerd is in die NG Kerk, maar daar is min idees oor wat lidmate nou behoort te doen.
Die geneigdheid om slegs aan te hou praat oor die probleme, maar nooit by oplossings te kom nie, kan lei tot frustrasie onder lidmate, soos dit ook verwoord is deur een van die deelnemers op hierdie forum wat stel : “Miskien is dit my NG agtergrond wat my dalk oor besorg maak dat ons dalk te stadig beweeg. Daar het dekades verloop (1980’s/90’s) wat verwag is dat sekere kerkleiers gaan opstaan tot die stryd, die antitese duidelik stel en leiding gee, maar heeltyd is gevra om terug te hou en terug te hou, totdat daar naderhand niks gekom het van ware hervorming nie, en regsinniges en vrysinniges nou saam ‘n geestelike tuiste het in die NGK, met laasgenoemde wat nou die agenda bepaal.”
Die boek praat van “ONS teologiese fakulteite”, terwyl elders in die boek verduidelik word dat die teologiese fakulteite nie deur die NG Kerk nie, maar deur die staat befonds word. Dis my opinie dat dit futiel is om te hoop dat die teologiese fakulteite sal reformeer, indien hulle deur die staat befonds word. Reformasie sal eers moet geskied op die gebied van befondsing, voordat enige ander reformasie kan geskied.
EVALUERING VAN DIE PAD VORENTOE
Die deformasie in die NG Kerk is al dekades aan die gang. As gevolg hiervan was daar heelwat ontwikkelings plaasgevind. Die APK het afgestig. Enkele gemeentes (Kaapstad, Oos Rand, De Deur, Pretoria) in die NG Kerk voer volg nie die deformasie nie, maar bly binne die kerkverband. Baie lidmate in die NG Kerk verlaat die kerkverband en sluit aan by ‘n verskeidenheid van onafhanklike kerke (Doxa Deo, Shofar, …), tradisionele kerkverbande (GKSA, APK, VGKSA) en huiskerke. Baie lidmate bly in die NG Kerk, maar hulle kerklike lewe vind oorwegend in selgroepe plaas. Die boek gee geen erkenning aan hierdie ontwikkelinge nie.
Die hoop word uitgespreek dat geesvervulde kerkleiers sal opstaan en die leiding sal neem om die lidmate uit ‘n geestelike woestyn te lei. ‘n 21-ste Moses of ‘n kerklike de la Rey. Intussen word lidmate opgeroep om in hulle gemeentes te bly en aan te hou getuig soos wat tydens die doleansie in Nederland gebeur het. Baie vrae kan gevra word oor hierdie standpunt. Is dit in lyn art. 28 van die NGB waarvolgens gelowiges moet aansluit by die ware kerk? Is dit in lyn met die doopsformulier as ouers in ‘n liberale kerk bly om te getuig, en hulle kinders stuur na die liberale predikant om hulle kinders te katkiseer?
OPSOMMING
Die boek gee ‘n deeglike oorsig van die kommerwekkende ontwikkelinge in die NG Kerk, maar bied bykans geen perspektief op die toekoms nie, behalwe dat lidmate moet aanhou getuig teenoor strukture wat hulle ore bot toe druk as besorgde lidmate wil getuig.
[1] Bouwe van der Eems is ‘n stelselingenieur verbonde aan Dimension Data en hy is lidmaat van die Gereformeerde Kerk Bellville.
Beste Bouwe,
Ek stem onder andere saam met hierdie stelling van jou: “Baie lidmate in die NG Kerk verlaat die kerkverband en sluit aan by ‘n verskeidenheid van onafhanklike kerke (Doxa Deo, Shofar, …), tradisionele kerkverbande (GKSA, APK, VGKSA) en huiskerke. Baie lidmate bly in die NG Kerk, maar hulle kerklike lewe vind oorwegend in selgroepe plaas.”
Het jy enige statistiek sodat mens dit kan aanhaal?
Hello Hennie
Hierdie stelling is gebasseer op persoonlike gesprekke met mede gelowiges wat mens orals ontmoet. Ongellukig het ek geen statistieke nie. As jy dit wil aanhaal het dit maar die status van my persoonlike opinie.
Beste Bouwe,
Baie dankie dat jy die boek gelees het en volgens my ‘n goeie insig het in wat ons probeer sê het. Jy sê dat baie vrae gevra kan word oor die standpunt dat lidmate gevra word om in hulle gemeentes te bly en aan te hou getuig soos wat tydens die doleansie in Nederland gebeur het, en of dit in lyn is met art. 28 van die NGB waarvolgens gelowiges moet aansluit by die ware kerk. Ek is een van die mede-skrywers van die boek. Waarom moet ek, wat met my hele hart die geloofsbelydenis van my kerk onderskryf, die een wees wat loop? Is dit nie juis hulle wat ontrou geraak het aan die gereformeerde leer wat moet loop nie? Ek weet nie hoe hulle met hul gewetes kan saamleef nie…. Henrietta Klaasing
Beste Henrietta
Eerstens wil ek baie dankie sê aan die samestellers van die boek. Daar is net te veel verkeerd vir enige NG lidmaat om te ignoreer.
Ek, as NG lidmaat, het tot die gevolgtrekking gekom dat die valse kerk haarself al te knus tuisgemaak het in die NG kerk en dat die ware kerk soos dit nog verteenwoordig word deur byvoorbeeld die gereformeerde belydenis al meer uitgedryf word. Ons mense bely lank reeks nie meer in hulle harte wat hulle op skrif bely nie.
Ongelukkig wys die invloed daarvan ook in julle boek. Gaan lees gerus weer die bylaag oor geloof/geloofsekerheid (bylaag B?) – jammer, ek het nie die boek voor my nie – en vergelyk dit met die Dordtse Leerreëls en vra jouself: is dit dieselfde evangelie wat hier verkondig word? Ek het met die deurlees daarvan – en ek sal dit weer doen – telkens gewonder of die Arminianis met die inhoud van die bylaag gaan verskil. Ek twyfel.
Hierin lê die wortel van die probleem waarvan julle die simptome so mooi opsom in die res van die boek: ‘n evangelie wat bietjie vir bietjie anders verkondig word as dit wat in die Woord aan ons openbaar word.
Hello Henrietta
Jy vra die vraag : “Is dit nie juis hulle wat ontrou geraak het aan die gereformeerde leer wat moet loop nie?”
Jy is reg dat dit eintlik diegene wat ontrou geraak het wat behoort te loop. Hulle sal egter slegs loop indien die kerklike tug in die NG Kerk funksioneer soos NGB art. 29 bely die tug in die ware kerk funksioneer : “…die kerklike tug gebruik om die sondes te straf …”.
Indien die kerklike tug funksioneer soos wat die NGB bely die tug in die valse kerk funksioneer ; “… dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.”, dan mag jy jou daarvan afskei.
Jy moet self oordeel of die kerklike tug in die NG Kerk gebruik word om die sondes te straf, en of dit gebruik word om diegene wat heilig leef te vervolg. Indien lg. die geval is, is dit in jou eie belang om jou af te skei van so ‘n kerk. Waarom vir altyd in die kring van die spotters bly sit, en nie die gemeenskap met ander gelowiges op te soek nie?
Waar kan ek die boek in die hande kry?
Marié Joubert
082 670 1217
mjoubert77@gmail.com
http://www.glodiebybel.co.za/component/content/article/189-die-trojaanse-perd-in-die-ng-kerk.html