Posted by: proregno | January 22, 2011

Repliek op dr. Mike Smuts se kritiek op die Trojaanse Perd boek

Die skrywers van die Trojaanse perd sal hopelik deeglik antwoord op dr. Smuts se bespreking van hul boek.  Ek wil hier net ‘n paar opmerkings maak.

Neels Jackson, in die Beeld van 2011-01-22, onder die opskrif “Kreasioniste fouteer soos Mbeki, sê oudmoderator” verwoord Smuts se kritiek op die boek as volg, veral met verwysing na die ewolusie kwessie:

“Kreasioniste wat meen dat die NG Kerk teologies die pad byster geraak het, maak dieselfde fout as wat oudpres. Thabo Mbeki met sy sienings oor MIV/vigs gemaak het.  Dít is die siening van dr. Mike Smuts, voormalige moderator van die NG Kerk se Noord-Transvaalse sinode.
Smuts, wat deesdae in die Oos-Kaap woon, het ’n uitvoerige kommentaar geskryf oor die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk. Dit is in die Oos-Kaapse NG Kerk se nuusbrief gepubliseer.
Die skrywers van die boek is kreasioniste wat meen ’n predikant verkondig ’n gesonde leer as hy glo die skeppingsverhale in die Bybel is letterlike geskiedenis.
Smuts wys daarop dat hulle die konsensus van die meerderheid wetenskaplikes oor die wêreld heen ignoreer. Die kreasioniste beroep hulle dan op wetenskaplikes met soortgelyke sienings om aan te toon dat hul standpunt op wetenskaplike voete staan. Die probleem is dat hulle eers standpunt inneem en dan wetenskaplikes soek wat hul standpunt ondersteun.  “Die feit is dat wetenskaplikes wat so geselekteer word by verre in die minderheid is en nie die breë konsensus van die wetenskaplike gemeenskap deel nie.”

Smuts meen dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan “die rampspoedige gevolge” toe Mbeki oor MIV/vigs hom laat lei het deur wetenskaplikes wat afwyk van die internasionale konsensus. Hy meen om eers standpunt in te neem en dan net wetenskaplikes te kies wat met jou saamstem, is “uiters onverantwoordelik”.

In Smuts se skrywe, kom die wese van sy Bybel- en wetenskapbeskouing (‘geloof en wetenskap’) na vore in die volgende stellings:

“Die konflik wat sommige tans tussen die evolusieteorie en ons verstaan van Gen.1&2 beleef, vra dat ons as gelowiges ons verstaan van die Skrif op die terrein heroorweeg. … Die skrywers van (Trojaanse perd) maak ‘n ernstige fout om die Bybel as die maatstaf te gebruik om die bevindinge van wetenskaplikes mee te beoordeel.”

As Smuts dan skryf dat dit ‘uiters onverantwoordelik’ is om ‘eers standpunt in te neem en dan net wetenskaplikes te kies wat met jou saamstem’, dan wil ‘n mens hom daarop wys dat hyself skuldig is daaraan, omdat:

a. hy vooraf besluit dat  – as daar konflik is tussen ‘ons (tradisioneel letterlike) verstaan van Gen.1&2’ (asook die res van die Bybel!) teenoor sekere wetenskaplikes wat met ‘n naturalisties-evolusionistiese wêreldbeeld vooraf subjektiewe standpuntinames (voorveronderstellings) inneem en dan sekere interpretasies van die skepping maak – dan moet laasgenoemde reg wees, en eersgenoemde verkeerd, en daarom moet die Bybel aanpas, en nie die ‘wetenskap’ nie. Wat is die maatstaf van hierdie vooraf standpunt inname van dr. Smuts, en hoe kom hy daarby uit ?

b. Dit blyk dat dr. Smuts doelbewus of ondoelbewus die onfeilbaarheid van (sekere) menslike wetenskapsbeoefening bely, en dat dit by implikasie lei tot ‘n feilbare Bybel met klomp foute en probleme. ‘n Baie duidelike vooraf standpunt inname wat dan aansluiting soek by sekere (meerderheid) van wetenskaplikes.

c. ‘n Mens sou verwag dat iemand van dr. Smuts se statuur sou weet dat elke wetenskaplike, dus ook (en veral) die evolusie-wetenskaplikes werk met basiese standpunt-innames oor die verlede, wat hul nie kan bewys nie, maar ‘gelowig’ vooraf aanvaar (bv. God bestaan nie, heelal moet biljoene jare oud wees sodat evolusionisme kan plaasvind, alles gebeur nog op dieselfde manier, wonders kan nie plaasvind nie, ens.).  Deur hierdie standpunt innames beoefen hul dan hul wetenskap en verstaan van die skepping.  Daar is geen neutraliteit nie: die verskil is nie oor die feite waarmee almal (gelowig en ongelowig) werk en erken nie (bv. dinasour opgrawings, aardlae, fossiele, ens.), maar die wesentlike verskil (‘bone of contention’) is oor die verklaring/interpretasie van daardie feite deur of a) ‘n vooraf-standpuntinname wat bepaal word deur geloof in God se onfeilbare Woord, of b) deur ‘n vooraf-standpuntinname wat bepaal word deur ‘n geloof in die evolusionisties-naturalistiese lewensbeskouing én modernistiese wêreldbeeld van die mens wat onfeilbaar ‘soos God’ probeer wees in al sy doen en late, ook oor die oorsprong (en bestemming) van alles.  

Om dr. Smuts se eie woorde te gebruik, wil ek ‘n pleitdooi doen om wanneer daar konflik is tussen “die evolusieteorie en ons verstaan van Gen.1&2 … dat ons as gelowiges ons verstaan van die evolusionistiese wetenskapsidee met al sy vooroordele op die wetenskapsterrein (sal) heroorweeg. … Dr. Smuts … maak ‘n ernstige fout om menslike feilbare onwetenskaplike teorieë soos evolusionisme te gebruik om die Openbaring van God oor die oorsprong van alles te beoordeel.”

Dit sal ons almal, teoloë en natuurwetenskaplikes goed doen om weer Job 38 tot 42  te gaan lees.

As Jackson se weergawe van Smuts se kritiek teen die ‘kreasioniste’ korrek is, en in my lees van dr. Smuts se artikel blyk dit die geval te wees, dan sou ek graag die volgende vrae wou vra:

 1. Sal Smuts hierdie maatstaf, naamlik – die ‘meerderheid vs minderheid wetenskaplikes’ asook die ‘breë konsensus van die wetenskaplike gemeenskap … van internasionale konsensus’ – ook gebruik as die meerderheid van teologiese wetenskaplikes van die NG Kerk moet besluit of die maagdelike geboorte, kruisiging, opstanding en hemelvaart van ons Here Jesus ‘letterlike geskiedenis’ was of nie ? 

(Vir die wat die meerderheid as maatstaf vir Waarheid gebruik, onthou, in die lig van die beginsel van Ex.23:2, die meerderheid was buite Noag se ark, die minderheid binne die ark. En wat die toekomstige oordeel betref, onthou weer vir Noag en die minderheid se waarskuwings: Matt.24:36-44).

2. Indien dr. Smuts nie die maatstaf sal gebruik nie, sou ek graag wil weet waarom die letterlikheid van die skeppingsgeskiedenis afhanklik is van die meerderheidsbesluit van wetenskaplikes, maar nie Jesus se geskiedenis (insluitende al die wonders en gebeure van die res van die NT) nie ?

3. Waar in die Heilige Skrif volgens die openbaringshistoriese grammaties-historiese verstaan en verklaring van die Skrif, word vir ons geleer dat net die ‘boodskap’ is onfeilbaar, maar nie ook die Skrif se uitsprake oor die geskiedenis en natuur nie ?

4. Dr. Smuts skryf dat die ‘letterlike geskiedenis’ van Genesis en ander uitsprake oor die natuur bloot deel was van ‘n ‘wêreldbeeld’ wat ons vandag nie meer aanvaar nie, ons moet maar net aan die ‘boodskap’ vashou ‘dat’ God geskep het.

Vraag: is die feit, in Smuts se eie woorde – “dat God die Skepper van die hele kosmos is, die hemel en aarde en alles daarop, dat Hy die mens geskep het met ‘n spesiale verantwoordelikheid teenoor Hom, dat die mens in sy wese sondaar is wat ontvanklik is vir die duiwel se versoeking om soos God te wees en dat God die sonde straf”, – nie alles (d.w.s. God self!) maar ook deel van die destydse antieke mitologiese wêreldbeeld wat ons nou volgens die modernistiese-naturalistiese wêreldbeeld en meerderheid van teologiese en natuurwetenskaplikes maar ook moet verlaat nie (onderstrepings bygevoeg – slc) ?   

5. Dr. Smuts skryf verder: “In kort, die twaalf artikels van die apostoliese geloofsbelydenis wat ons elke Sondag bely, bevat ‘n opsomming van waaroor dit in die Skrif gaan en wat ons geroep is om te glo.”

Vraag: kan al die waarhede wat ons glo volgens die Apostoliese Geloofsbelydenis van hul historiese oorsprong, d.w.s. hul ‘letterlike geskiedenis’  losgemaak word, en indien nie, waarom kan die eerste artikel wel van sy ‘letterlike geskiedenis’ (‘Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde…’) losgemaak word en nog steeds in dr. Smuts se oë ‘geglo’ word, maar die res van die artikels (‘… en in Jesus Christus, sy Eersgeborene Seun, ons Here … en ‘n ewige lewe. Amen.’) is ‘letterlike geskiedenis’ wat ‘net so’ geglo kan en moet word ?

Kan ‘n mens die eerste blaaie van die Bybel se ‘letterlike geskiedenis’ (‘Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde…’) uitskeur, sonder dat die laaste bladsye van die Bybel begin uitval (‘… en in Jesus Christus, sy Eersgeborene Seun, ons Here … en ‘n ewige lewe. Amen’) aangesien laasgenoemde juis sy sin, historiese werklikheid en betekenis vind in die ‘letterlike geskiedenis’ van Genesis, veral die eerste paar hoofstukke, wat ons bely in die begin van die Apostoliese Geloofsbelydenis: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde ?     

Aan alle mede-gelowiges, pasop vir ‘n dualistiese Skrifbeskouing wat ‘n valse teenstelling skep tussen ‘natuur en genade’, tussen die ‘inhoud en vorm’, tussen die ‘boodskap en geskiedenis’, tussen ‘Skriftuur en natuur’, tussen ‘Skrif en ware wetenskap’, anders is dit waar ons geloof en troos in Jesus Christus gaan eindig:

“As die fondamente omgegooi (afgesaag!) word, wat kan die regverdige doen?” – Ps.11:3

Laat ons, as gelowige wetenskaplikes op watter terrein ook al, eerder terugkeer na en vashou aan die eenvoud en ongetwyfelde Christelike geloof soos verwoord in die Heidelbergse Kategismus:

Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?

 Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Nota 1: Dit blyk uit dr. Smuts se bronne dat sy ‘geloof en wetenskap’ beskouing bepaal word deur dr. Francis Collins se werke: http://www.biologos.org/ In antwoord op biologos se teisties-evolusionistiese wetenskapsbeskouing, sien dr. John Byl se werke hier: http://bylogos.blogspot.com/

Nota 2: hier is ‘n paar skrywes en verwysings wat direk of indirek antwoord op wat dr. Smuts geskryf het aangaande ‘geloof en wetenskap’ in sy artikel, aangesien daar ook geen nuwe argumente na vore kom deur sy skrywe nie: https://proregno.wordpress.com/category/skepping/ 


Responses

  1. Baie dankie Slabbert, vir jou volgehoue steun aan ons saak – dit word opreg waardeer. Hier is my brief aan Beeld in antwoord op Jackson se berig (ek weet nie of dit geplaas sal word nie) :

    Neels Jackson se berig “Kreasioniste fouteer soos Mbeki, sê oudmoderator” in Beeld van 22 Januarie 2011 het betrekking.

    Dit is moeilik om kommentaar te lewer op die stukkies en brokkies wat in Jackson se berig voorkom oor Dr Mike Smuts se uitgebreide kommentaar oor die boek “Die Trojaanse perd in die NG Kerk” en geneem is uit ‘n dokument wat meer as vyftien bladsye lank is.

    Ek wil dus net op een enkele aspek konsentreer wat op ‘n paar plekke in die berig voorkom: dat ons as skrywers die “konsensus van die meerderheid wetenskaplikes oor die wêreld heen ignoreer” . Dr. Mike Smuts meen wetenskaplikes word geselekteer wat “by verre in die minderheid is”, en daar word selfs gesuggereer dat ons as skrywers dieselfde fout maak as Thabo Mbeki deur die keuse van wetenskaplikes wat afwyk van die “internasionale konsensus” – dit word selfs as “uiters onverantwoordelik” beskryf.

    Mens hoef seker nie vir ‘n predikant van Dr. Mike Smuts se statuur daarop te wys nie, dat daar in die Bybel heelwat voorbeelde van situasies is waar “konsensus” of die meerderheid juis NIE gevolg is nie. Behoort die Bybel vir die NG Kerk nie meer gesag te dra as dit wat internasionaal voorgehou word nie?

    Dr. Henrietta Klaasing, Groblersdal.

  2. Hieronder is ‘n samevatting van dr. Mike Smuts deur homself van sy betoog oor die boek “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk” (hy verwys daarna as TP).
    My kommentaar is in [vierkantige hakies].

    7. Samevatting: Die skrywers van TP maak ’n ernstige fout om die Bybel as maatstaf te gebruik om die bevindinge van wetenskaplikes mee te beoordeel. Dit is teenstrydig met die doel waarvoor die Bybel aan ons gegee is. Op die manier word ‘n onreg gepleeg aan beide die Bybel en die wetenskap. Augustinus se waarskuwing dat ons ‘n bespotting kan maak van die Bybel en ons geloof, is ter sake.

    [Hoekom sou die doel van die Bybel wees om vir ons geestelike waarhede deur te gee, aan die hand van onder andere beskrywing van geskiedenis en oorspronginligting, terwyl die geskiedenis en die inligting onwaar is? Glo Mike Smuts dat God, wat die Bybel geïnspireer het, slegs gebrekkige kennis het soos wat Ben du Toit van Jesus geglo het? In ieder geval word wetenskaplikes in die algemeen se bevindings nie beoordeel nie, maar spesifiek sekere oorsprongwetenskaplikes s’n. Dit is belangrik om die verskil tussen operasionele en oorsprongwetenskappe te verstaan. Laasgenoemde verg geweldig baie vertolking, en by vertolking speel voorveronderstellings ‘n baie groot rol. Die wetenskaplike wat die toepaslike inligting in die Bybel as waar aanvaar (byvoorbeeld die skeppingsgebeure en die wêreldwye Genesisvloed), sal uiteraard ander vertolkings van dieselfde wetenskaplike data verskaf as wetenskaplikes wat glo alles moet ’n natuurlike verklaring hê, of Genesis is slegs mities, of geen Skeppergod bestaan nie ensovoorts.
    Mike Smuts se verwysing elders in sy skrywe dat die skrywers dieselfde fout as Thabo Mbeki met sy VIGS-beleidsflaters gemaak het, bevestig dat hy onwaarskynlik die verskil tussen oorsprongwetenskappe (soos skeppingsleer en evolusie) en operasionele wetenskappe (dit kan nou en hier herhaaldelik getoets en gemeet word, soos VIGS-navorsing) verstaan en voldoende begrip van het.]

    Samevatting:
    Die ywer van TP om die Bybel te beskerm, moet erken word. Ongelukkig is dit duidelik dat hulle verkeerd te werk gaan en in die proses juis die teenoorgestelde bereik. Mense word gedwing om tussen die Bybel en wetenskaplike bevindinge te kies en dit word aangebied as ‘n keuse tussen geloof en ongeloof. Die waarskuwing van Augustinus teen die gevaar om die Bybel en ons geloof in die oë van ongelowiges belaglik te maak, is ter sake.

    [As oorsprongwetenskaplike vertolkings die Bybel weerspreek, soos die evolusiehipotese sonder twyfel doen, is dit belangrik dat gelowiges die regte keuse sal maak. Om nie vir die Bybel te kies nie, is nog meer onverskoonbaar as die betrokke wetenskaplike hipotese op soveel wetenskaplike gronde faal soos wat onder andere in die boek aangetoon of na verwys word. Tenminste erken Mike Smuts elders in sy skrywe dat hy nie in staat is om oor wetenskap te oordeel nie. Maar tog glo hy soveel in evolusie dat hy sterk ondersteuning vir evolusie gee. Die waarheid is altyd belangriker as die moontlikheid van bespotting. Kyk ook na Paulus se woorde: 1Kor. 1:23, 24: “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.” Die meerderheidsopinie, ten opsigte van geloof, en selfs ten opsigte van oorsprongwetenskappe wat baie vertolking vereis, is nie noodwendig die waarheid nie.
    Dis interessant dat Mike Smuts graag vir Augustinus aanhaal. Maar Augustinus het in ‘n jong aarde en ‘n baie kort skeppingstydperk geglo. Kyk gerus na http://creation.com/augustine-young-earth-creationist wat Augustinus se somtyds komplekse sienings beskryf.]

    In die subtitel van die boek word verwys na “die kanker van evolusie en liberalisme” in die NG Kerk. Ongelukkig voorsien hulle in hulle “woordelys” aan die begin van die boek, nie ‘n verklaring van die begrip “liberalisme” nie. Klaarblyklik bedoel hulle dat alle mense wat van hulle eng letterlike verstaan van die Bybel skuldig is aan liberalisme – selfs in so ‘n mate dat predikante wat vir beroep na ‘n gemeente oorweeg word, hieraan getoets word.
    Teenoor die gewaande kanker van liberalisme is my ervaring van die manier waarop teologie in die NG Kerk beoefen word, verantwoordelik en onder toesig van die kerklike liggame wat daarvoor aangewys is. Dit beteken nie dat daar altyd eenstemmigheid onder teoloë sal wees nie, maar wel ‘n gesonde dialoog. Prof. EP Groenewald het dikwels aan ons gesê dat die teologie uit ‘n dialoog groei. Die styl van die boek is egter nie ‘n uitnodiging tot dialoog nie, maar ‘n waarskuwing teen almal wat van hulle eie standpunt verskil.

    [Let op hoe Mike Smuts hier sy eie gevolgtrekking maak (“klaarblyklik bedoel hulle dat”) maar ondertoe is hy erg beswaard daaroor dat die skrywers gevolgtrekkings maak op ander teoloë se skrywes. Hoekom mag hy dit doen, maar ander nie? Dink hy regtig ons het geen billike gevolgtrekkings gemaak nie? Dit is interessant en opmerklik dat mense wat baie gedeeltes van die Bybel nie glo soos dit geskryf is nie – simboliek as simboliek, poësie as poësie, maar dan ook geskiedenis as geskiedenis – selde besef dat hul sienswyse liberaal is. Indien iemand nie kan besef dat die sienswyses van Julian Müller, Ben du Toit en vele ander, soos uit hul eie geskrifte aangehaal in die boek, te liberaal is nie, gaan ’n definisie van liberalisme nie veel help nie. Ons aanvaar dié gedeeltes in die Bybel as letterlik waarvan die skryfwyse duidelik wys dat die bedoeling letterlik is. Ja, dié wat nie die duidelik letterlike dele in die Bybel as letterlik wil aanvaar nie, beskou ons as te liberaal.]

    ‘n Eerlike beoordeling van die inhoud en styl van die boek oortuig nie dat daar ‘n Trojaanse perd in die NG Kerk aanwesig is nie en ook nie dat ‘n “kanker van liberalisme” die NG Kerk bedreig nie. Dat “evolusie” ‘n vrot appel in die kis” is wat die NG kerk bedreig, is ook nie waar nie.
    Daarmee word nie gesê dat alles in die NG Kerk is soos die Here dit wil nie. Die kerk bestaan uit onvolmaakte verloste sondaars, en word bedien deur onvolmaakte predikante en teoloë. Die NG Kerk is wel ‘n kerk onderweg onder leiding van die Heilige Gees, in die lig van sy Woord met ‘n roeping in die wêreld van vandag vir die mense van vandag.
    Laat ons bid vir die NG Kerk en alle ander kerke wat Jesus as Here bely, dat die Koning van die Kerk op aarde, steeds sy Koninkryk deur ons bediening sal laat kom!

    [Ons het al soveel positiewe terugvoer oor die boek gekry dat Mike Smuts se bewering dat “die boek nie oortuig nie” self nie oortuig nie. Ek wonder of Mike Smuts ooit die duidelike oproep tot gebed, met selfs ‘n geskrewe voorbeeld, spesifiek vir die NG Kerk, in die boek gesien het.]

    Bylae: Algemene opmerkings
    Aanvanklik was die onderstaande algemene opmerkings deel van die bg. teks. Ek het egter later geoordeel dat dit die aandag kan weglei van die essensie waaroor dit gaan. Dit beteken egter nie dat hierdie opmerkings nie geldig is nie. Daarom word dit as bylae bygevoeg vir die wat daarin mag belang stel.

    1. Begrippe onduidelik: Aan die begin van die boek word ‘n aantal begrippe gedefinieer. Ongelukkig is daar belangrike begrippe soos “liberalisme” en “post-modernisme” wat herhaaldelik deur die skrywers gebruik word sonder dat hulle dit vooraf gedefinieer het. By die lees daarvan kry ek die gevoel dat hulle betekenisse daaraan heg wat verskil van myne.

    [Beide hierdie begrippe is moeilik om te definieer, want daar bestaan baie grade daarvan. Die belangrike is egter om die tendens en die wortel daarvan in baie teologiese uitsprake, teologiese opleidingsmateriaal en preke raak te sien, en die gevaar ten opsigte van Skrifwaarhede te besef. Natuurlik verkondig alle liberales of post-moderniste nie die ekstreem van liberalisme of post-modernisme nie. Maar die noodsaaklikheid van die basiese gedagterigting en die moontlike uiteinde daarvan te besef, is tog sekerlik voor die hand liggend.]

    2. Gesag van die Bybel: Die boek konsentreer op die “devaluering van die Bybel” en dat “daar nie gehou word by die Bybel as die absolute norm vir ons geloof nie.” (p.xii) Op p.1 word ook gesê dat “die aftakeling van die gesag van die Skrif is.” wat tot die boek gelei het. Ongelukkig gee die skrywers nie ‘n duidelike uiteensetting van hoe hulle die regte verstaan van die Skrif sien nie. Hulle gee wel talle aanduidings van wat hulle as die verkeerde hantering van die Skrif sien en ‘n mens is genoodsaak om daarvan af te lei wat hulle as die regte lees van die Skrif beskou. ‘n Duidelike uiteensetting van hulle siening sou die beoordeling van hulle standpunt vergemaklik en groter billikheid daarin verseker.

    [Daar word na my mening genoeg voorbeelde van verkeerde en regte Skrifgebruik gegee, dat ek nie dink ‘n poging tot ‘n omvattende uiteensetting sou enigiets duideliker gemaak het nie. ‘n Mens kan ‘n vrot appel maklik uitken sodra of selfs voor jy daaraan hap, sonder ‘n deeglike uiteensetting van wat ‘n goeie en wat ‘n vrot appel is.]

    3. Toeskryf van motiewe: Op verskeie plekke word uiters negatiewe motiewe toegedig aan persone teen wie skrywers reageer. Dit is jammer aangesien dit onbillik is en stry teen die gebod van die liefde. Die volgende is voorbeelde daarvan:

    • Op p.29 word gesê: “Om die teologie van die nuwe Skrifbeskouing of historiese kritiek soos prof. Britz dit noem, aan te hang en nogtans te sê dat jy in die Bybel as die Woord van God glo, is om ‘n eierdans met woorde te probeer uitvoer.” (Eie onderstreping) Daarna word gesê dat sulke mense liewer uit die kerk moet bedank. Verder word gesê dat hulle dit nie sal doen nie en die volgende motiewe, wat verseker nie waar is nie, aan die betrokkenes toegeskryf: “En om ‘n bestaande kerk oor te neem behoort immers makliker te wees as om ‘n nuwe kerk te stig.”

    [Hoekom sou laasgenoemde motief nie waar wees nie? Hoekom bly sulke mense dan in die Kerk en probeer in talle gevalle hul bes om baie in die Kerk van hul on-Bybelse sienings deur allerlei skrywes en verklarings te oortuig? Of doen hulle dit maar net om die koerante en ander media te haal, waarin hulle duidelik slaag?]

    • Op p.31 word die Algemene Sinode (2002) se verslag oor die gesag van die Skrif so beoordeel: “Alhoewel daar ook geldige opmerkings in die verslag is, is die negatiewe en neerhalende tendens ten opsigte van die Bybel duidelik.” Dit is jammer dat die skrywers nie die verslag as bylae aangeheg het sodat ons as lesers self die slegte beoordeling daarvan kan toets nie. Nou word uiters selektiewe sinsnedes uit die verslag deurgegee met hierdie onbillike karakterisering van die verslag daarby.

    [Hierdie soort verslag is redelik maklik bekombaar deur enigiemand. Ek glo vir geen oomblik dat ons ‘n onbillike karakterisering gedoen het nie.]

    • Op p.34 word oor dieselfde verslag van die Algemene Sinode onder andere gesê: “(in die verslag)…is daar ‘n diepe gebrek aan ootmoed en eerbied vir die Bybel as God se onfeilbare Woord …word die soewereine leiding van die Heilige Gees nie eerbiedig nie ….. Onder mooi klinkende woorde word dit wat eintlik in die verslag gebeur verberg …..” (Eie onderstreping)

    • In Hoofstuk 5 handel die skrywers oor hulle siening van die “aanslag op die Woord vanuit die postmodernisme”. Hulle praat oor “onsekerheid” wat volgens hulle kenmerkend van die postmodernisme is. Hulle sê dan: “Ten diepste is dit ‘n weiering om te aanvaar en te gehoorsaam wat die Bybel duidelik sê. … Onder voorwendsel dat ek nie kan verstaan wat die Bybel sê nie, weier ek om te gehoorsaam wat God van my vra.” (p.78) (Eie onderstreping)

    4. Eie interpretasies en valse beskuldigings: Op verskeie plekke gee die skrywers eie interpretasies van wat persone bedoel en beoordeel dan die interpretasie as dit wat die betrokke persoon eintlik bedoel. In die meeste gevalle sou die persoon wat beoordeel word, waarskynlik nie met hulle toegeskryfde interpretasie saam stem nie. So ‘n benadering is onbillik en kan lei tot valse beskuldigings. Die volgende is enkele voorbeelde daarvan:

    • Op badsye 19-20 word ‘n lang aanhaling gegee van wat Prof. Jurie le Roux sou geskryf het (sonder ‘n bronverwysing) en dan sê die skrywer na die aanhaling: “Met ander woorde (hulle interpreteer), volgens Prof. Le Roux is wat in die Bybel oor Abraham geskryf is, maar ‘n gebrekkige en gebroke konstruksie indien dit ooit geskiedenis is.” En dan volg ‘n volgende eie interpretasie: Hieruit is dit tog duidelik dat sy dunk van die Bybel tog geensins is dat dit Goddelike gesag het nie.” (p.20) Ek twyfel of prof Le Roux met die interpretasie sou saam stem. (Eie onderstrepings)

    [Voetnota 23 gee ’n verwysing na waar prof. Le Roux se studienotas volledig gelees kan word. Hoe kan Mike Smuts beweer daar is geen bronverwysing nie? As die Bybel byvoorbeeld Abraham se gebeure beskryf as ware geskiedenis, maar prof. le Roux kom met sy siening dat dit maar ‘n gebrekkige en gebroke konstruksie is indien dit ooit geskiedenis is, het hy mos duidelik ‘n lae dunk van die Bybel. Hoe kan die Bybel dan van Goddelike gesag wees? En hoekom mag skrywers nie hul interpretasies van ander se skrywes gee nie, veral as Mike Smuts dit self doen soos hierbo aangetoon is?]

    • Op bladsye 30-31 word die verslae van die Algemene Sinode oor die gesag van die Skrif behandel en dan volg nog ‘n onbillike eie interpretasie wat die Algemene Sinode beslis sal ontken. Dit luit so: “Die opmerkings oor die Bybel wat hierbo aangedui is kom in wese daarop neer dat ons die Bybel nie meer kan vertrou nie.” (p.32) (Eie onderstrepings)

    [Die skrywers se interpretasie is uiters billik gegewe al die aanhalings uit die verslag soos weergegee op die betrokke bladsye.]

    • Op bladsye 128-131 word ‘n artikel van Prof. Julian Muller aan die orde gestel en elke aanhaling word gevolg deur eie interpretasies. Die skrywers verduidelik hierdie
    werkwyse soos volg: “Omdat ons sy hele redenasie ‘n bietjie onduidelik gevind het, het ons sekere verduidelikende voorstelle van hoekom ons dink dat hy redeneer soos hy redeneer, bygevoeg.”(!) (p.128) (Eie onderstrepings) Weer erkende eie interpretasies waarmee die oorspronklike skrywer waarskynlik nie sal saam stem nie. So ‘n werkwyse is liefdeloos en onbillik!

    [Nee dis geensins onbillik nie – as die leser nie met die kommentare saamstem nie, is hy welkom om Müller se eie woorde te lees. Het Mike Smuts eerlikwaar geen beswaar teen Müller se eie woorde nie? Dis ook nie liefdeloos nie – om iemand maar net te laat begaan veral as hy honderde mense met hom saamsleep oor die afgrond, sou liefdeloos gewees het.]

    5. Wetenskap onder verdenking: Op p.37 word beweer dat die staat die teologiese fakulteite befonds en dat die fakulteite daarom “aan sogenaamde wetenskaplike vereistes moet voldoen en die wetenskap het gewoonlik ‘n ongelowige uitkyk.” In die volgende paragraaf meer oor die staat en die teologiese fakulteite. Nou wil ek net die gedeelte wat ek onderstreep het, uitlig. Die tipering dat die wetenskap ‘n “ongelowige uitkyk” het, is totaal misplaas. Die gedagte funksioneer ook wanneer evolusie teenoor die Skrif gestel word asof ‘n letterlike verstaan van die Skrif die geloofsposisie is en die wetenskap teenoor die geloof staan. Die wetenskap het nie geloof of ongeloof nie. Dit is nie ‘n persoon wat kan glo of nie glo nie. Die wetenskap ondersoek verskynsels en poog om dit te verstaan, te verklaar en te benut. Geloof lê op ‘n vlak buite die wetenskaplike ondersoek. Talle wetenskaplikes (moontlik selfs die meerderheid) is ook gelowiges en sien die hand van God die Skepper in die natuurverskynsels wat hulle bestudeer. Ander wetenskaplikes gebruik dieselfde wetenskaplike metodiek en kom tot dieselfde bevindinge van hulle onderwerp, maar bly ongelowig. So ‘n negatiewe houding teenoor die wetenskap, soos in die bogenoemde aanhaling, is sleg vir ons verantwoordelike omgang met die Here se Woord.

    [Alhoewel Mike Smuts die woorde in die boek “gewoonlik ‘n ongelowige uitkyk” korrek aanhaal, laat hy die “gewoonlik” uit in sy opvolgende bewering. Dit is misleiding. Dat die tipe wetenskap wat in die teologiese fakulteite ingevoer word, en meehelp daartoe dat die Bybel al meer gesien word as “mensewoorde oor God” in plaas van “woorde van God” bevestig ons standpunt.]

    6. Die staat en die aanstelling van teologiese dosente: Op p.47 stel die skrywers die vraag: “Sal die kerk byvoorbeeld oorweeg om haar eie kweekskole, onafhanklik van enige staatsbeheer, tot stand te bring? Uiteraard sal die Kerk dan teologiedosente kan aanstel wat nog staan by gereformeerde Bybelse beginsels.” Die indruk word gewek dat die subsidie wat die staat voorsien, aan hom die reg gee om oor die leerstellige suiwerheid van kandidate wat vir doseerposte oorweeg word, uit te spreek of daarby in te meng. Hierdie indruk is misleidend en strook nie met die waarheid nie. Die staat stel wel vereistes t.o.v. die akademiese kwalifikasies van kandidate, maar die keuring t.o.v. leer en Christelike lewe word deur die Kuratoria van die kerk self gedoen. Dit is jammer dat die skrywers van die boek met sulke opmerkings ons teologiese fakulteite onder verdenking bring.

    [Indien enigiets, versterk Mike Smuts hier die waarskuwing van die boek dat die teologiese opleiding in die NG Kerk ernstige probleme het. Hy maak, sonder dat hy wil, net die Kuratoria deel van die oorsaak van die probleem, waarmee ons saamstem, want hulle tree duidelik dikwels nie op wanneer hulle behoort nie.]

    7. Onwetenskaplike omgaan met statistiek: Op pp.36-37 word beweer dat baie lidmate koers kry na “kerkgenootskappe wat bely dat hulle die Skrif as betroubare Woord van God glo.” Daarna haal hulle ‘n verslag van Ds. Kobus Schoeman aan om aan te toon hoe die lidmaattal van die NG Kerk van 1981 tot 2006 gedaal het. Direk daarna gaan hulle voort met hulle interpretasie van die syfers as hulle sê: “Een van die redes vir die opsegging van lidmaatskap van die NG Kerk is ongetwyfeld die prysgawe van geloof in die Bybel as die Woord van God ….” (p.37)

    Daar is geen wetenskaplike gronde vir die bewering nie. Ds Schoeman se bevinding oor lidmaattalle in die NG Kerk (Kerkspieël 2006), wat die skrywers van TP kies om nie te noem nie, is soos volg: “Dat …1) die totale lidmaattal die afgelope 10 jaar stabiel bly, 2) die kerk ten spyte van emigrasie stabiel gebly het (belangrik!), 3) die kerk verouder (interessant: die bo-60-jariges is nou byna gelyk aan die onder-16-jariges! Terloops: in 1981 was ⅓ doop en ⅔ belydend, en in 2006 was ¼ doop en ¾ belydend) en 4) denominasionele verskuiwings weglaatbaar klein is, maar dat gemeentelike migrasie in 6 jaar verdubbel het van 2000 af.

    [Hoekom beweer Mike Smuts dat ons nie die veroudering van die Kerk noem nie, terwyl ons dit juis pertinent noem? Wat het gemeentelike migrasie met enigiets hier te doen? Kobus Schoeman se syfers gaan immers oor die aantal mense in die NG Kerk as geheel – gemeentelike migrasie binne dieselfde Kerk verander niks daaraan nie. Ja, sommige van ons stellings is gebaseer op ons as skrywers en mede-skrywers se kennis van die redes van mense, wat ons self ken, waarom hulle die NG Kerk verlaat het. Daarom kan ons beweer dat “prysgawe van geloof in die Bybel as Woord van God” ongetwyfeld een van die redes is.
    Dat die NG-lidmaattalle van 1996 tot 2006 konstant gebly het, is darem minder negatief. Maar in byvoorbeeld die Centurion-omgewing groei die charismatiese kerke. En alhoewel ek nie met al hul leerstellinge saamstem nie, staan hulle in baie opsigte sterker op die waarheid van die Bybel as baie NG Kerke en -teoloë. ’n Baie interessante statistiek sal die afname in die verhouding van kerkbywonende lidmate tot lidmate wees. Met ander woorde, al het die lidmate op die oog af vir 10 jaar konstant gebly, hoeveel het die deelname gedaal? Die groter probleem is immers nie die lidmaatgetalle nie, maar die geestelike stand van die lidmate en hul leraars, gemeet aan die Bybel.]

    [Dr. Hennie Mouton]

  3. Dr. Smuts is weet blykbaar nie wat in die wereld van wetenskap aangaan nie:
    http://archive.org/details/SignatureInTheCellExplained


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: