Die Pinkstergebeure en VIDA

Die Pinkstergebeure en VIDA[1]

Inleidend

In die debat oor die vrou in die besondere ampte, moet ‘n mens versigtig wees om vanuit beskrywende gedeeltes in die Skrif voorskriftelike of leerstellige afleidings te maak. Daar moet veral gefokus word op gedeeltes soos 1 Kor.14:34-40 en 1 Tim.2:11-15 wat die onderwerp deur direkte bevele die duidelikste aanspreek. Dit beteken egter nie dat ons nie ag gee op die openbaringsgeskiedenis nie, inteendeel, deur die heilsgeskiedenis in sy geheel te beskou, vanaf Genesis tot Openbaring, vind ons juis God se wil vir ‘n saak, deur Skrif met Skrif te vergelyk.  Die hele Woord, reg verstaan in sy openbaringshistoriese konteks, spreek tot ons vandag (1 Kor.10:11; 2 Tim.3:16,17), ook wat die VIDA saak betref.

In hierdie artikel, wil ek vanuit die heilsgeskiedenis, spesifiek in Handelinge, na die die VIDA saak kyk, en stel die artikel oop vir kritiese bespreking.

Inhoud

Dr. George Knight skryf in sy artikel oor of vroue as diakens verkies kan word, aangaande Hand.6 as volg:

“As daar ooit ‘n gemeente was wat vroue moes verkies het as diakens, veral omdat hulle wat gehelp moes word vrouens was, dit is weduwees, is hierdie die gemeente wat dit moes gedoen het.  Maar waarom is nie eers een ooit oorweeg nie ? Omdat die twaalf apostels gesê het dat hulle wat verkies word, moet ‘manne’ wees (Hand.6:3; die Griekse woord is anēr, die woord wat gewoonlik op ‘n volwasse manlike persoon wys, soos ook blyk uit die name van hulle wat verkies is, Hand.6:5). Dus in die stel van my vertrekpunt (in my dissertasie), het ek nie die feit dat die apostels manlike diakens vereis het, genoegsaam verreken nie.   Maar, ek en ander is gebonde aan die apostoliese verordening, wat uitgedruk word deur hierdie vereiste, aangesien hierdie vereiste relevant is vir alle gemeentes, soos dit was vir die gemeente in Jerusalem.” 

In my bestudering van die boek Handelinge (ek preek tans deur die Boek), het ‘n soortgelyke insig my opgeval aangaande die besondere amp van ouderling/leraar, wat ook soos die besondere amp van diaken, uit die apostelskap gevloei het (lees  Hand.1 en 2 vir die hele konteks):

“En toe hulle daar kom, gaan hulle na die bo-vertrek waar hulle gewoond was om te vertoef, naamlik: Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas, Filippus en Thomas, Bartholoméüs en Matthéüs, Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon, die Yweraar, en Judas, die seun van Jakobus.  14 Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ‘n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.  … En: Laat ‘n ander een sy opsienersamp neem.  21 Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in– en uitgegaan het22 van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is — van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding.  23 En hulle het twee voorgestel: Josef wat genoem is Bársabas, met die bynaam van Justus, en Matthías.” – Hand.1

Let op die volgende vanuit die Teks:

1. Soos Jesus beveel het (1:4), wag die dissipels van Jesus Christus op die uitstorting van die Heilige Gees waardeur hul toegerus gaan word om met krag en passie die opdrag van Hand.1:8 uit te voer.

2. Die Heilige Gees sal uitgestort word op ‘alle vlees’, menende op alle gelowiges: Jood en nie-Jood, jonk en oud, seuns en dogters, man en vrou (2:11,17).

3. Dit bevestig dat die Nuwe(r) Bedeling aangebreek het, ‘n groter voller omvattender bediening van God se reddingsplan met die wêreld, nie meer beperk tot Israel nie, maar tot alle volke, deur sy Gees en Woord.

4. Jesus Christus het egter opgevaar na die hemel (1:9), en sit aan die regterhand van waar Hy regeer en die Gees stuur (2:33), sodat sy Kerk sy reddingsplan sal uitvoer deur sy Gees (2:1-9) en sy Woord (2:14-36).

5. Die Here doen sy werk hier op aarde deur sy gemeente, gelei deur spesifieke bedienaars van sy genade (‘ampsdraers’).  Al sy kinders ontvang die Gees, maar net sekeres word geroep en die gawes geskenk om ‘amptelik’ te lei en te dien.

6. In Hand.1:15-20 verduidelik Petrus vanuit die Skrifte die lot van Judas, en dat ‘n ‘ander een sy opsienersamp (gaan) neem’, met verwysing na Ps.109:8.

7. En dan volg die vereistes vir die ‘een’ wat Judas se plek moet inneem: dit moet een wees wat saam met die ander dissipels saam met Jesus gelewe en omgegaan het tydens Sy bediening, wat ‘n medegetuie is van Sy opstanding. 

8. Hier wil ‘n mens dan vra, in die lig van ons moderne debat: het die geleentheid nie juis hier en nou aangebreek, dat (as ons broers wat VIDA voorstaan reg is, en Christus ook ‘n verandering in die ‘ampsbediening’ gebring het vir vroue) ons nou ‘n eerste vroue apostel gaan kry ?  Christus het baie veranderinge en vervullinge gebring (Matt.5:17-20; Hebreërs), gaan die nuwe bedeling ook nou beteken dat die vroue in die besondere ampte mag dien ?  Watter aanduiding gee die openbaringshistoriese gebeure in Handelinge ?

Kom ons kyk:

9. In v.14 lees ons van ‘aantal vroue’ wat saam gebid het, wat deel is van die omtrent 120 dissipels (1:15;  2:1) wat saam met die manne vervul gaan word met die Heilige Gees om in verskillende tale te getuig van die ‘groot dade van God’ (2:11). 

10. Hierdie ‘aantal vroue’ is hoogs waarskynlik niemand anders as die vroue wat saam met die twaalf apostels van ‘een stad en dorp na die ander gereis’ het en ‘Hom … met hul besittings gedien het’ (Luk.8:1-3).  Hierdie vroue, of ten minste van hulle, was ooggetuies van sy kruisiging (Matt.27:55,56) én sy opstanding (Matt.28:1ev), ja, nog voor die elf apostels was hul reeds die getuies van die Goeie Nuus: Hy het opgestaan ! (Luk.24:9,10).

11. En nie net die ‘aantal vroue’ nie, maar ‘Maria, die moeder van Jesus’ was ook daar, die Teks sonder haar uit: die ‘een’ wat genade by God gevind het (Luk.1:30), wat salig is (Luk.1:45,48) omdat sy Hom gebaar en gesoog het (Matt.1:23; Luk.11:27) die ‘een’ deur wie ‘n swaard sou gaan weens haar Seun se lyde (Luk.2:34), wat Hom sien groot word en groei in grootte en in genade by God en die mense (Luk.2:52), wat Hom opgevoed het saam sy broers (13:55), ‘n eerstehandse ooggetuie van sy hele lewe, lyding en sterwe (Joh.19:25).

12. Die aantal vroue en Maria die moeder van Jesus, was dus meer as geskikte kandidate: hulle ontvang ook die gawe van die Gees, hulle ontvang die verlossing in Christus, hulle was ooggetuies wat saam Jesus drie jaar lank Hom bedien het, hulle was getuies van sy kruisiging en opstanding, nog meer as die apostels en ander manlike dissipels.

13. En tog, sê Petrus, gelei deur die Gees (1:21): van die manne (Grieks: aner) dan wat saam met ons rondgegaan het … Ja, vanuit ‘die manne’, wat Hom verlaat het in sy grootste lydingstyd, soos al die ander dissipels, uit hulle moet daar ‘een’ verkies word om Judas se plek in te neem. Nie vanuit die vroue wat Hom nié verlaat het nie, en aan die kruis tot sy dood toe Hom getrou gedien het (Matt.27:55), maar uit die ‘manne’ moet nog ‘n apostel verkies word.

14. En, as die Heilige Gees uitgestort word, dan is almal getuies, mans en vrouens, seuns en dogters, diensknegte en diensmaagde profeteer (2:4,17; 21:19), manne en vroue kom tot geloof (5:14; 17:12,34), manne en vroue word gedoop (8:12), manne en vroue het in hul huise ander dissipels geleer (18:26); maar, let wel, behalwe vanuit ‘die manne’ wat ‘n apostel verkies is, sien ons ook in Handelinge:

15. Alleen uit ‘die manne’ word daar opgestaan om te preek (‘Petrus … met die elf’;  2:14ev).

16. Alleen uit ‘die manne’ word ‘sewe manne’ verkies as diakens (Hand.6:3). 

17. Alleen uit ‘die manne’ word die sakrament van die doop bedien (8:38; 19:5).

18. Alleen uit ‘die manne’ vind die regering van die kerk plaas en word ‘afgevaardiges’ verkies (Hand.15:22-26).

Konklusie

19. Kortom: as daar ooit ‘n tyd/geleentheid/oomblik was in die heilsgeskiedenis, waar die vrou tot die ‘besondere ampte’ verkies moes word, dan was dit met die verkiesing van nog ‘n apostel (Hand.1), toe diakens met die weduwee-krisis verkies is (Hand.6), en met verdere aanwysing van ouderlinge (14:23).  Maar, ons vind niks daarvan nie. 

20. Wil die voorstaanders van VIDA ons nou regtig vertel dat ‘die Woord en Gees’ het nou skielik tot ons geslag (in die 20ste eeu en daarna) alleen gekom om ons anders te leer, en hierdie ‘nuwe insig’ te gee (1 Kor.14:36), wat Hy nie eens aan sy Apostels en Profete geopenbaar het nie, wat die ”fondament” van die Kerk is, terwyl Jesus Christus die Hoeksteen is (Ef.2:20).  Moet ons nou dink dat die geloof wat eenmaal oorgelewer is (Jud.3), toe nie heeltemal oorgelewer is nie, en dat ongeag dat die apostelamp ge-eindig het in die eerste eeu (Hand.1:21,22; 2:43; 2 Kor.12:12), daar vandag ‘apostels’ opgestaan het wat ons nou verdere of andere openbaring gee oor hierdie saak ?

21. Daar het veranderinge plaasgevind tussen die OT en NT bedeling (sien veral die boek Hebreërs), o.a. die doop wat die besnydenis vervang het, die heil wat van een volk na alle volke gaan, die Gees wat in ‘n voller omvattender wyse uitgestort is, die ophef van die seremonies, ja, ook die vrou ontvang nou die verbondsteken – die doop, maar dit alles het nie God se skeppingsorde van manlike leierskap en vroulike onderdanigheid (Ef.5:21ev) – gelyk in waarde en wese (Gal.3:28; 1 Pe.3:7), maar verskillend in rol – opgehef nie. Nee, die redding en vervulling in Christus, die koms van die Gees heilig God se skeppingsorde, dit vernietig of vervang dit nie.

22. Dus, ongeag dat ons dierbare vrouens, mede-burgers van God se Koninkryk is in Christus, mede-erfgename deur die geloof is, saam met ons diensbaar is in sy Koninkryk en mekaar moet help en ondersteun om Kerk van Christus te wees, sien ons reeds in die eerste eeuse ‘kerkgeskiedenis’ geen aanduiding dat die vrou geroep word tot die besondere dienste van leraar, ouderling en diaken nie.  Ons mag nie God se orde omver werp nie, want dit veroorsaak onvrede, verdeeldheid en chaos in Christus se Kerk (1 Kor.14:33,40).

23. Maria, die moeder van Jesus, het haar, nie soos Eva (1 Tim.2:14), vergryp aan wat haar nie toekom nie (Gen.3:13), maar sy is, in die woorde van 1 Tim.2:15, “gered deur kinders te baar”, deur in die geloof in haar Seun, haar roeping as vrou en moeder wees te omhels, soos die “vroue wat op God gehoop het” (1 Pe.3:5) deur die eeue gedoen het, en nog steeds doen.  Mag ons vrouens wat so mislei word deur die feministiese tydsgees, ook en veral deur ‘evangeliese feminisme’, opnuut die roeping en taak van 1 Tim.2:15 (her)ontdek, en soos Maria, Sara en al die ‘heilige vroue’ as ‘salig’ beskou word (Luk.11:27).

24. In lyn met Gen.2:18 moet ons diensbare vrouens ons swakke begenadige mans tot hulp wees om ons roeping en taak as leier-diensknegte te vervul, want God roep ons nog steeds: Adam, waar is jy ? (Gen.3:9), ons gaan nie wegkom nie, daar is werk om te doen, ‘n roeping om te vervul, en, juis in die roepingsvervulling (opofferende liefdevolle dissipelskap en knegskap teenoor God, ons vrouens, kinders, ons gemeentes en ons naaste) lê ons vryheid en hoop (Joh.8:32-36), òòk vir die vrou (sien die belangrikheid van 1 Tim.2:8 en 1 Pe.3:7 in hul onderskeie perikope wat handel oor die vrou se rol en taak). 

 Nota: vir meer artikels oor die onderwerp, sien hier.

Sien ook die afdeling ‘vrou in die ampte’ by http://www.esra.za.org/ 


 

[1] VIDA = Vrou in die (besondere) ampte.

One thought on “Die Pinkstergebeure en VIDA

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: