Greenville Presbiteriaanse Teologiese Kweekskool (GPTS)

GPTS

Greenville Presbiteriaanse Teologiese Kweekskool (GPTS)

Louis Cloete[1]

         Dit is `n merkwaardige gebeurtenis wanneer `n man deur God geroep word om te preek. Dit is die begin van`n reeks gebeure wat daardie man vorm om `n boodskapper van God te wees. Om Sy evangelie aan die wêreld te verkondig moet daardie man se gawes ontwikkel word. Hy moet die ewige waarheid van God se Woord kan verstaan en dit getrou verkondig. Die sakramente moet korrek bedien word, en die bruid van Christus moet met teerheid en liefde bediening en sorg ontvang. Die onderrig wat daardie man ontvang is dus van uiterste belang.

           In die oë van die wêreld is GPTS onmerkwaardig. Dit is nie `n groot skool met `n lang en ryk geskiedenis nie. Die eerste klas van drie studente het begin by Augusta Road Presbyterian Church in Greenville, South Carolina, VSA, gedurende 1987. Die totale studentetal, insluitende diegene wat per afstandsonerrig studeer is tans minder as 70. Dit is nie vreemd om `n totaal van drie of vier studente per klas te hê nie. Daar is selde meer as 10 studente per klas. Die voordeel hiervan is dat die student `n baie nabye verhouding met dosente kan ontwikkel. Dit is egter nie die grootte van die skool wat merkwaardig is nie, maar haar doelwitte en oortuigings.

           GPTS hou by die standpunt dat die wêreld nie nuwe metodes nodig het nie, maar antieke waarhede. Hierdie waarhede is vervat in God se Woord, die hele Bybel, geïnspireer deur die Heilige Gees, en die enigste onfeilbare standaard en bron vir geloof en praktyk. Aan die begin van die 21ste eeu, ten tyde van sigbare morele verval in die Westerse wêreld, en selfs in die kerk van Jesus Christus is dit beslis uniek. Dit laat `n mens onwillekeurig dink aan Atanasius wat contra mundum[2] gestaan het. Atanasius alleen teen die oormag van die wêreld wat gedreig het om hom te oorweldig.  Soos die naam van die kweekskool aandui, is dit `n Presbiteriaanse kweekskool. Hulle leer dus die Presbiteriaanse vorm van kerkregering,  soos dit weergegee word in die Westminsterse Geloofsbelydenis.  Ander Gereformeerde belydenisse word ook dikwils gebruik as bronne.[3]  God het self die metode gegee om die waarheid te verkondig; die prediking van die evangelie.[4] Dit is dus die doelwit om predikers voor te berei vir daardie uiters belangrike taak.

           `n Noodsaaklike vereiste vir `n predikant is `n standvastige geloof in God. Daarom word die persoonlike geloofslewe van die student en sy familie baie sterk beklemtoon. Daar word van die student verwag om die Bybel ten minste een maal per jaar deur te lees. Kampus studente is verplig om kapeldienste by te woon drie maal per week, asook die weeklikse gebedsgroep met hulle onderskeie studente adviseurs.  Professore dien as die adviseurs. Kerklike toesig van studente is die verantwoordelikheid van die plaaslike gemeente, dus verlang die skool toesig oor die student van `n plaaslike kerkraad.

         `n Kweekskool kan net so standvastig wees as wat die dosente is. Die fakulteit van GPTS bestaan amper uitsluitlik uit geordende predikante van die Presbyterian Church in America (PCA), en die Orthodox Presbyterian Church (OPC).[5] Van hierdie dosente is wyd bekend.  

Dr. James McGoldrick is die professor in kerkgeskiedenis. Hy is die outeur van verskeie artikels en boeke. Van sy bekendste boeke is God’s Renaissance Man: The Life and Work of Abraham Kuyper en Luther’s English Connection. Dr. John Carrick is die professor van Toegepasde Teologie. Van sy bekendste werke is The Imperative of Preaching: A Theology of Sacred Rhetoric en The Preaching of Jonathan Edwards.

Dr. Morton Smith is `n lewende legende wat Sistematiese Teologie doseer aan GPTS. Hy het in sy lewe diep spore getrap as leier in die stryd vir `n behoudende gereformeerde kerk. Hy was ook een van die stigterslede van GPTS.

Dr. Joseph (Joey) Pipa is die president van die kweekskool, en professor in Historiese en Sistematiese Teologie. Hy geniet wêreldwye bekendheid as spreker en outeur. Hy het ‘n baie goeie boek geskryf oor die rusdag, en het pas `n kommentaar oor die brief aan die Galasiërs gepubliseer.  

Dr. Tony Curto dien ook op die fakulteit van Greenville Kweekskool as professor in Praktiese Teologie. Hy is `n veteraan sendeling wat jare lank in Uganda gearbei het.

           Die studente aan hierdie kweekskool kom van regoor die hele wêreld: Korea, Brasilië, Skotland en Singapoer is verteenwoordig. Die oorgrote meerderheid studente is Amerikaans. Verskeie afgstudeerde studente dien tans in die OPC en PCA, maar ook in kerke van `n Nederlandse afkoms, soos die United Reformed Churches in North America (URCNA).

          GPTS staan onder toesig van `n raad van trustees.  Hierdie trustees is almal geordende ouderlinge en predikante. Die OPC en die PCA het die grootste aantal verteenwoordigers op hierdie raad.  Daar is ook verteenwoordigers van die Reformed Churches in the United States (RCUS), die URCNA, en ander Gereformeerde kerke.

          GPTS is nie deel van enige kerk nie, dit staan onafhanklik in hierdie opsig. Finansiële ondersteuning kom hoofsaaklik van individuele gemeentes af. Kerke wat `n sekere bedrag per jaar aan die skool skenk word vrygestel van klasgelde van die studente wat deur hulle na GPTS gestuur word. In die geval van klein gemeentes is die bedrag $1.50 per lidmaat per jaar, met die minimum van $1500 per jaar per student wat studeer aan die skool. Die kweekskool is finansieël volkome afhanklik van gemeentedonasies en klasgeld om hulle kostes te dek. Hierdie stelsel word breedvoerig verduidelik in die katalogus van GPTS.
         

Wanneer van akkreditasie gepraat word, moet `n mens in ag neem dat daar verskille is tussen Suid-Afrika en die VSA, maar ook ooreenkomstes. `n Groot ooreenkoms is waarskynlik die oorweldigende sterk invloed van liberalism – veral op die gebied van staatsonderwys. Wat aanvaarding vanaf die owerheid aanbetref, die deelstaat van South Carolina erken GPTS as `n institusie vir hoër onderrig, en mag dus grade uitreik. GPTS is ook goedgekeur deur die militêre owerhede van die VSA om kapelane op te lei. Staatsakreditasie word egter doelbewus vermy. GPTS sien haarself onder die outoriteit van Jesus Christus, en staatsakreditasie sal noodwendig `n konflik veroorsaak as daar aan staatsvereistes voldoen moet word. Staatsakreditasie in die VSA word gedoen deur die U.S. Department of Education.

 Hierdie federale staatsdepartement het uiters liberale standpunte, bv. evolusie word gesien as die enigste aanvaarbare leerstelling in die totstandkoming van die mensdom. `n Mens kan dus aanvaar dat die maatstawwe van die staat nie kan ooreenkom met `n behoudende kweekskool nie. Dit is wedersyds uitgesluit. `n Mens kan sê dat GPTS deur staatsowerhede erken word, maar dat daar andersinds geen bande is nie. GPTS ontvang geen staatsubsidies nie.
         

GPTS is `n lid van die Association of Reformed Theological Seminaries (ARTS), wat onderlinge verantwoordelikheid tussen die lede handhaaf. Hierdie assosiasie dien as eksterne maatstaf om die skool se standaard te toets. Die Puritan Reformed Theological Seminary is ook `n lid van ARTS. Die webtuiste van ARTS is http://www.artseminaries.org/  Greenville Seminary se eerste klasse het in 1987 in aanvang geneem. Die eerste studente het hul grade ontvang in 1991. Omdat GPTS so sterk vasklou aan die waarheid van die Skrif en die konfessies,  word daar soms verwys na die skool as “Old School Presbyterian.”  Die skool se openlike doel is om getroue en gelowige predikante op te lei. Studente word geindoktrineer om `n omvattende skrifgefundeerde lewensuitkyk te ontwikkel en toe te pas.

         Die M.Div. graad is die primêre fokus van die studieprogram aan GPTS. Om toegelaat te word moet die voornemende (manlike) student alreeds oor `n Baccalareus-graad beskik. `n Uitsondering hierop is dat ongegradueerde mans 30 jaar en ouer ook toegelaat kan word. `n M.A. graad word ook aangebied ter opleiding van ouderlinge en diakens. Laasgenoemde graad sluit nie Grieks en Hebreeus in nie. Dames kan inskryf vir `n M.A. Graad.

          Daar is verskeie studente wat elders in die wêreld woon wat aan klasse deelneem met behulp van rekenaars en `n internetverbinding. Dit is `n alernatief vir diegene wat nie die klasse kan bywoon nie.

         Vir diegene wat meer inligting wil verkry aangaande die kweekskool, die webbladsy van Greenville Presbyterian Theological Seminary is http://www.gpts.edu/ Die katalogus op hierdie bladsy sal al die belangrikste inligting bevat vir voornemende studente. Wat spesifiek van toepassing is vir voornemende studente uit Suid-Afrika: buitelandse studente word vrygestel van klasgeld. Studente sal dus slegs verantwoordelik wees vir eie lewensonkoste en handboeke as hy op kampus studeer. Die akademiese jaar begin in Augustus en eindig in Mei. Inligting kan ook aangevra woord per epos by info@gpts.edu. Kapelpreke en ander beeldmateriaal is beskikbaar op Youtube, die adres van die GPTS Youtubekanaal is http://www.youtube.com/user/GPTSMedia#p/u  Verskeie preke en seminare aangebied deur GPTS fakulteit is ook gratis beskikbaar by www.sermonaudio.com

         Kweekskole wat die Woord van God voorhou aan hulle studente as die volle waarheid het skaars geword, met die gevolg dat Christene tans in baie kerke geleer word om te twyfel aan God se blye boodskap van verlossing. Die evangelie, daardie blye boodskap dat Jesus Christus gesterf het om Sy mense vry te koop van die slawerny van sonde moet gepreek word. Daardie oproep tot bekering van sondes, en die verklaring van God se almag kan nie weggesteek word nie. God se glorie kan nie verduister word nie. Dit is om hierdie rede wat GPTS mans voorberei: om aan die ganse mensdom hierdie waarhede te verkondig.

Rom.10:13-15  13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.  14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?  15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!


[1] Louis Cloete is gebore in Pretoria en het grootgeword in Suid-Afrika. In 1993 trek hy en sy vrou as pasgetroudes na die VSA, waar beide hulle kinders gebore is. Na etlike jare van rebellie bring die Here hom tot bekering in 1996. Louis is tans `n vierdejaar student aan die Greenville Presbyterian Theological Seminary, waar hy gedurende die 2009-2010 studiejaar as president van die studenteraad (Student Body Association) gedien het. Hy dien huidiglik as ouderling op die kerkraad van Covenant Community Orthodox Presbyterian Church in Taylors, South Carolina, VSA. Nota: verdere voetnotas bygevoeg deur S. Le Cornu.

[2]teen die wêreld’

[3] Sien bv. Dr. JA Pipa, die president van GPTS, se werkboek ‘The Westminster Confession of Faith Study Book: A Study Guide for Churches, wat ook van die Drie Formuliere van Enigheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) gebruik maak.

[4] HK v/a 83,84,98.

[5] Die GKSA het sustersbande met die OPC en waarnemerstatus met die PCA.

2 thoughts on “Greenville Presbiteriaanse Teologiese Kweekskool (GPTS)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: