Hebr.13:7 Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.
Die ‘Gedenk julle voorgangers’ – reeks (Hebr.13:7), se doel is om preke, artikels, lesings van die verlede te plaas wat ons oproep om vas te bly staan in die geloof wat aan ons oorgelewer is (Judas 3).
Die eerste artikel was, gepas die titel van hierdie reeks:
Gedenk julle voorgangers (Hebr.13:7), deur Totius
“Die gelowige beoordeel die lewe heeltemal anders as die wêrelddienaar. Gemeet met die maatstaf van die wêreld, was die einde vir hierdie mense (Hebr.11 – slc) alles behalwe voorbeeldig. Na die uitwendige het alles in mislukking geëindig. Die wéreld tog meet sukses af na wat voor oë is, maar ag, wat is daardie sukses! Wisselvallig en kortstondig. Vandaar dat die groot digter Goethe gesê het: Dit is waaragtige sukses as ‘n mens die einde van sy lewe met die begin in ooreenstemming kan bring.”
Hier volg nog drie artikels:
Nr.2: Die verbond – God werk organies, dr. PJ Coetzee
Inhoud:
I. Die Verbond is nie met los indiwidue opgerig nie.
“Dit is merkwaardig dat in die Heilige Skrif God gedurig weer die weg volg om met ‘n mens en sy geslag in ‘n verbondsverhouding te staan, met die gemeente en sy nageslagte. Die beloftes van God geld nie net ‘n enkele alleenstaande gelowige nie, maar in hom ook sy huis, sy geslag. Hierdie solidariteitsgedagte is in die verbondsleer van die Heilige Skrif ‘n wesenlike element.”
II. Die eerste en die tweede Adam.
“Christus het Adam dus vervang. Soos Adam die wortel van die oorspronklike mensheid was, is Christus die wortel van die nuwe mensheid. In Hom, die Hoof en die Middelaar van die genadeverbond, is die uitverkorenes organies een. (Efese 1:4; 3:11.) Die verkiesing dra dus self ‘n organiese karakter en: sluit die gedagte van ‘n verbond reeds in.”
III. Die genadeverbond strek hom uit tot die gelowiges en hulle saad.
“Hierdie ryke verbondsgedagte erken en heilig die band van die bloed. Die Doopsformulier beklemtoon tereg dat die “jou en jou nageslag” nie alleen tot Abraham nie, maar in hom ook tot ons en ons kinders gespreek is. Die lyn van die geslagte het dus nie in die Nuwe Testament sy betekenis verloor nie, al is die saligmakende genade nie tot een volk beperk nie. Dit geld nog dat die band tussen ons en ons kinders van so groot betekenis bly dat die kinders van die gelowiges met die ouers in die verbond van God en in sy gemeente begrepe is.”
IV. Die menslike verantwoordelikheid word deur die organiese karakter van die verbond nie uitgesluit nie.
“Ons mag dus nie outomaties uit die vleeslike afstamming uit vroom ouers die sekerheid van God se guns aflei nie. As ons kinders van Abraham, die vader van die gelowiges, is, moet ons ook die werke van Abraham doen. Nie die kinders van die vlees nie, maar die kinders van die belofte is die ware saad van Abraham. (Joh. 8:37-47). Deur die geloof moet ons elkeen persoonlik ons tot Christus wend en pleit op God se verbondsbelofte uit genade. (Ps. 116:16).”
V. Dit is ‘n troosryke waarheid dat die verbond organies is.
“Die ouer het geen blik geslaan in die boek van God se verkiesing nie, hy bid steeds dat Sy Wil mag geskied, maar tegelykertyd voer hy sy verantwoordelkheid uit om in die gebed met God te worstel vir sy kind, en die gebed is ook in God se raad opgeneem. Hy mag pleit op die be¬loftes van die verbond terwille van die verdienste van Chris¬tus, terwyl hy in die geloof mag jubel: Ps.105:5 (berymd) !”
Nr.3: Die Heilige Gees – Hoe die Gees van ons besit neem, ds. GBS Pasch
“God roep dus deur Sy Woord! Maar die uitslag van Sy roeping kan verskillend wees! Sommige luister… en word gered! Ander luister nie… en vergaan! Wat is nou die oorsaak van hierdie tweesoortige gevolg van die roeping? Die Skrif sê: Die diepste rede hiervoor lê nie in die mens nie! En as die roeping by twee mense wat altwee dood in die sonde lê, verskillende indruk maak en uitwerking het, dan moet die oorsaak daarvoor in die aard van die roeping lê en nie in die mens nie! So het Augustinus en ook Calvyn gekom tot ‘n onderskeiding in a. uitwendige en b. inwendige
roeping.”
Nr.4: Die oproep tot ‘n wêreldkerk, dr. SCW Duvenhage
“By die Wêreldraad van kerke vind ons ‘n valse doelstelling nl, die totstandkoming of vorming van een enkele kerk, waarin al die kerke van die wêreld, Protestants, Rooms-Katoliek en Grieks-Katoliek hulle sou kan verenig. So ‘n verenigde kerk kan genoem word ‘n superkerk. Daartoe stuur die Wêreldraad van Kerke. Dit wil nie maar ‘n plek van samespreking van interkerklike probleme vorm nie — maar ‘n wêreldkerk, ‘n superkerk. Daarby kom dit dan nie soseer aan wat die belydenisgrondslag is nie; Eenheid bo geloofsverdeeldheid dus. …
‘n Egte eenheid is alleen moontlik in Christus. Trouens wie in Christus is, is in waarheid een. En die grondslag van elke suiwere poging tot eenheid mag niks anders wees nie as die absolute erkenning van die Skrif as die onfeilbare woord van God. Eenheid mag nooit gesoek of geforseer word as daar nie volkome instemming is ten opsigte van die Woord van God nie. Daar is dan ook in die verband ‘n groot en heilige roeping vir die kerk om die hand uit te steek na ander wat op dieselfde belydenis staan. Die nood van die tyd maak die roeping des te meer klemmend. Aan die ander kant moet skerp afgewys word alle bose raadslae wat teen Gods heilige Woord bedink word. Dit is
ook ‘n ekumeniese roeping.”
Leave a Reply