Is Sakkie Spangenberg ‘n antichris ?

Na aanleiding van ‘n vorige bloginskrywing, Wie is die Antichris?, het ek die volgende vraag ontvang van ‘n leser:

“Beweer julle dus dat prof. Sakkie Spangenberg die Antichris of ten minste “‘n antichris” is??”

My antwoord is ‘n ‘nee’ en ‘n ‘ja’.

1. Nee, as met ‘antichris’ bedoel word al die populêre buite-bybelse hollywoodagtige ‘doomsday prophets’ soort van fabelagtige en mitologiese antichriste (‘n Hitler, Stalin of Idi Amin gestaltes), daardie verskriklike wrede en bose mense wat almal wil doodmaak, almal haat, die wêreld gaan opblaas, ens ens … nee, dan dink ek nie prof. Spangenberg val onder daardie politiek-ideologies gedrewe ‘antichriste’ nie.

Hy is egter ‘n veel gevaarliker antichris, veral as jy ‘n ‘leermeester’ is, omdat ons as leraars, waar ook al, binne of buite die kerk, ‘n groter verantwoordelikheid het (Matt.5:19; Joh.3:10; Rom.1:32; Jak.3:1, ens.).

2. En daarom ook ‘ja’, ja volgens die Heilige Skrif is hy ‘n antichris, omrede:

a. Elkeen, veral leermeesters (teologiese geleerdes) wat van beter behoort te weet en nie wil erken dat Jesus die ‘Christus’ is nie, nie die Gesalfde van God is nie, wat ontken dat Jesus “in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is” (1 Tim.1:15), is die antichris volgens die eerste brief van die apostel Johannes (1 Joh.2:22).

Bewys: sien Spangenberg se redes 2 en 4 in sy 6 redes waarom hy die kerk verwerp, naamlik, omdat die kerk leer wat die Skrif leer: Jesus is die Christus wat vir ons sondes kom sterwe het. Spangenberg verwerp die sonde-verlossing-wederkoms lering van die Skrif, en openbaar hom daarin as ‘n antichris as hy Jesus as die ‘Gesalfde’ verwerp.

b. Elkeen wat Jesus verwerp vir wie Hy is, waarlik God en waarlik mens, verwerp daarom ook die Vader, “Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie” (1 Joh.2:23).

Bewys: sien Sakkie Spangenberg se rede 3, waarin hy die leer van die Drie-eenheid verwerp.  Christus sê ook op ‘n ander plek: ‘Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.” (Joh.5:23)

Hoe kan jy die Seun eer, as jy vir Hom sê Hy is nie in wese die Vader se Seun nie, en hoe kan jy die Vader eer, deur te beweer Jesus is nie sy ewige Seun nie?  Dit is soos iemand wat na my kom en vir my sê my seun (drie jaar oud) is nie werklik my seun, my vlees en bloed nie … en dan so vermetel is om te dink hy ‘eer’ (respekteer) my nog steeds deur so iets te beweer ?

c. Die Skrif stel dit verder nog duideliker wie is ‘n valse profeet en antichris in 1 Joh.4:1-3, “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;  en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.”

Spangenberg laat nie reg geskied aan die Godheid of mensheid van Jesus nie, aangesien die Heilige Skrif albei leer. Spangenberg verwerp Christus as ‘Gesalfde’ en as die ‘Seun van God’.

Bewys: sien Spangenberg se rede 3, waar hy glo en bely dat Jesus nie die Seun van God, Jahwe self in die vlees is nie.

En daarom is my antwoord ‘ja’, ek glo in navolging van die Heilige Skrif is Spangenberg deur sy eie woorde ‘n antichris en ‘n valse profeet, wat in stryd is met die ware geloof (Judas 3), en daarom kan hy nie anders as om die Christelike kerk te verlaat het nie, soos 1 Joh.2:19 aanwys:

“Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”

3. ‘n Verdere probleem met Spangenberg se stellings, spesifiek rede 2 (nl. daar is nie so iets dat ‘alle mense in sonde ontvang en gebore word’ nie), is dat hy daardeur homself en ander mense wat hom glo mislei, en hul laat afdwaal van die waarheid, liefde en redding wat daar in Christus alleen is:

“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. … My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.” (1 Joh.1:8; 2:1)

4. Spangenberg maak God ook tot ‘n leuenaar, deur nie die getuienis aangaande sy Seun, dat Hy ware God en ware mens is, dat Hy die Seun van God is, dat Hy die Gesalfde is (ens.) wil aanvaar soos dit duidelik geopenbaar is in Sy Woord nie:

“Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.” (1 Joh.5:10)

5. Spangenberg skaar hom ook aan die spotters van 2 Pe.3 se kant, as hy ” ’n wederkoms waartydens almal wat hulle nie tot die Christelike geloof bekeer het nie veroordeel sal word en in ’n hel gewerp gaan word”, verwerp (contra wat Christus leer in Matt.25:31-46).

Petrus waarsku dat die Here se oordeel oppad is, en daarom moet almal opgeroep word tot die genade wat deur geloof en bekering in Christus kom, om so die komende oordeel te ontsnap (dit leer Paulus ook in Hand.17:30,31 asook 2 Kor.5:10).

Spangenberg met sy dwalinge, mislei mense om nie ag te gee op hierdie waarskuwing en na Christus te vlug nie (2 Pe.2:9, 10), soos Christus self ook waarsku (Matt.25:36ev).   Sodoende verwerp en verdraai hy die Heilige Skrif tot sy eie en ander se verderf (2 Pe.3:16)

6. Spangenberg beweer ook dat Jesus Hom nie sou “gelyk gestel het” aan Jahweh nie, en sou “homself nooit as die letterlike seun van Jahweh voorgehou het nie.”

Tog het die Jesus van die Heilige Skrif Hom aan God laat gelyk stel, letterlik het Hy Homself die ‘Seun van God’ laat noem, het Hy Hom laat aanbid deur mense (sien bv. die kontras tussen Matt.28:17 en Hand.14:15; en Op.1:17,18 en 22:9), het Hy toegelaat dat sy apostels en ander skrywers van die Heilige Skrif Hom as God beskryf, hier is ‘n paar voorbeelde:

61 Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God?  62 En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.  63 Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig!  64 Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was.” – Mark.14

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God2 Hy was in die begin by God.  3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” – Joh.1

“30 Ek en die Vader is een31 Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig.” – Joh.10

27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.  28 En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God29 Jesus sê vir hom: Omdat jy My (God! – slc) gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het. ” – Joh.20

5 aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.” – Rom.9:5

“Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus” – 2 Pe.1:1

(sien ook: Luk.27:52; Joh.1:18; 8:58; 5:18; 9:38; 14:1,9; Hand.20:28; 2 Kor.13:13; Filp.2:9; 2 Thess.1:12; 1 Tim.3:16; Tit.2:10,13; Hebr.1:8, 10; 13:8; ; 1 Joh.5:20.)

Laastens, sê Jesus vir my, Spangenberg, alle skeptici en alle ander mense:

35 Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.  36 Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. – Joh.3

Ons moenie die Heilige Skrif deur ongeloof bestudeer nie, veral nie deur die valslik sogenaamde wetenskap van die verligtingsdenke nie. Ons moenie Christus soos Hy Homself openbaar verwerp nie, nie soos die geleerdes van Jesus se dag gedoen het deur die Skrifte te wil studeer sonder om Hom raak te sien sie (Joh.5:39-46), wat baie geleer het maar nooit tot die kennis van die waarheid (Joh.14:6) gekom het nie  (2 Tim.3:7).

Ons moet bid, Bybel lees, erediens hou en ook teologie en wetenskap beoefen deur die geloof, dan sal ons elkeen sien, die hele Skrif, van Genesis tot Openbaring, getuig van Jesus Christus, en Hom as Gekruisigde en Opgestane Heer, vir ons, Immanuel:

“44 En (Jesus) sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.  45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”

Mag ons Here Jesus Christus Spangenberg, en ander wat soos hy mislei en mislei word, asook almal wat begin twyfel en wankel, se verstand open om opnuut die wonders uit sy Woord raak te sien (Ps.1:2; 119:18; Hand.17:11), as dit sy goeie welbehae is.

Sien ook: Die ‘historiese Jesus’ (Nuwe Hervorming) aanhangers: wetenskaplike of evangelisasie terrein ?

6 thoughts on “Is Sakkie Spangenberg ‘n antichris ?

Add yours

  1. Dis wonderlik dat daar mense is soos hierdie skrywer wat die moed het om teen antichriste en vyande van God soos Sakkie Spannenberg te praat – ek salueer u! Spannenberg se oordeel op die laaste dag voor die Regterstoel van Christus sal geregverdig wees.

  2. Ek het verskeie keer met Spangenberg gekomminikeer. Ons moet hom begryp in die lig van Die Geloof geskenk. Hy is dit nie geskenk nie en kan dit dus nie begryp nie. In daardie lig moet ons hom begryp en sy antichristiese uitsprake verstaan as ongelowige eat verdoem is.
    Toe ek vir hom se dat die Joodse klerikale Gen 3: 15 begryp as n Mesiaanse profesie toe se hy waar. Toe gee ek hom die verwysings.
    Soos Calvyn se: Dit is geen womder dat min gered word nie want dit is n selektiewe Bonatuurlike openbaring.
    Nico Engelbrecht

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: