Haggai 1:8,9 Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ‘n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die HERE. 9 Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.
Die HERE, wat alle konings se harte in sy hand vashou en ‘lei … waarheen Hy wil’ (Spr.21:1), het die koning van Persië (Kores) se gees opgewek om die HERE se volk te laat terugkeer uit ballingskap na Palestina, met die spesifieke doel dat die HERE se huis, die tempel, weer herbou sal word (2 Kro.36:22,23; Esra 1:1-4). Dit het plaasgevind in vervulling van die Heilige Skrif, spesifiek Jeremia se profesieë (25:12; 29:10; Dan.9:2).
Maar, terwyl die volk besig was om die tempel te herbou, het daar, soos verwag kan word (Gen.3:15), teenstand gekom. Die ‘volk van die land’ het die ‘volk van Juda’ se hande laat verslap en hul verskrik gemaak sodat hul nie verder aan die huis van die HERE wou bou nie, veral omdat die HERE se volk nie wou hê dat die volk van die land saam met hulle die huis van die HERE moet bou nie (Esra 4:1-4). Hierdie volk van die land was mense wat deur die Assiriese koning, Esar-Haddon, in die noordelike ryk gevestig is in die plek van die Jode wat weggevoer is, en het ‘n gemengde godsdiens aangehang (2 Kon.17:24ev, sien veral vers 33,41).
Die volk van Juda doen reg hier, hul laat nie ‘godsdienstige sinkretisme’ toe nie, hulle redeneer nie dat ‘ter wille van kerkeenheid’ kan ons maar die waarheid verdraai, die leuen akkomodeer, juis om die tempel te herbou nie. Hulle val nie vir ‘eendrag maak mag’ praatjies nie, veral nie as daardie ‘eendrag’ sonder die waarheid is nie, hulle verwerp ‘n valse vrede tussen kerk en wêreld (Jer.6:14).
Natuurlik laat die ‘valse kerk’ die saak nie daar nie, ook weereens niks nuuts nie, en span saam met die staat, die politieke magte om die tempelbouery te staak. Die volk van die land het raadgewers teen die volk van Juda gekry om hul planne te verydel sodat ons lees in Esra 4:24,
Toe het die werk aan die huis van God wat in Jerusalem is, opgehou; en dit is gestaak tot op die tweede jaar van die regering van Daríus, die koning van Persië.
So het dit vir omtrent 15 jaar geduur, dat die tempel nie herbou is nie.
Dit was in hierdie tye, wat die HERE in 520 voor Christus, sy Woord deur die profeet Haggai, vir sy volk gestuur het … en vir ons vandag !
Die aanklag teen sy volk vind ons in Haggai 1:2,4,9b:
So spreek die HERE van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie. … Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? … Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.
Wat het hier gebeur ?
Die volk het mense meer begin vrees as vir God, hulle het meer ag gegee op mense (die valse kerk en valse staat) se wette en bedreiginge, as God se bevel en beloftes, hulle het hul eie belange en behoeftes voor God en sy Woord gestel.
Ook in ons tye kry ons dit: in die Beeld verlede week, op die voorblad, word daar berig dat sodra Malema ‘iets kwyt raak’, die mense vlug na die emigrasie kantoor, oppad buiteland toe (Ps.78:8-11). Mense, selfs gelowiges, vrees nietige mense en woorde meer as vir God en sy gebod. Dink net hoe sou ons land gelyk het, as die mense, veral kerkmense, die Here en sy Woord so gevrees en gehoorsaam het ?
Spreuke 29:25, Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.
Jes 66:2 Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.
Mal. 1:6 ‘n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag?
Maar, hoe sou die volk oor die saak redeneer, hul ongehoorsaamheid rasionaliseer om nie die HERE se huis te bou nie ?
Hul het seker beweer: dit is te gevaarlik om nog aan die huis van die HERE te bou, met al hierdie vyandigheid en dreigemente, so kom ons los dit vir wanneer dit ‘veiliger’ is.
Ander het weer hul ‘verstand’ (of is dit optelmasjientjies?) gebruik en gesê: ons kan dit nie bekostig om nou aan die huis van die HERE te bou nie, ek moet nou alleen sorg vir my eie familie en huis en my eie koninkryk hier op aarde.
Wanneer dit ‘beter’ gaan, sal ons weer die kerk van die HERE herstel, sal ons weer in die ampte dien, sal ons weer bydraes begin gee …
Ja, ook in ons tye hoor ons dit: die tye is net te gevaarlik om kerk toe te gaan, veral nie die aanddienste nie (maar nie so gevaarlik dat ek nie in die weeksaande skool-, sport- of prêt geleenthede kan bywoon nie?), en, die ekonomie druk swaar, ons kan nie meer bydraes gee nie, wat nog van tiendes (maar daar is baie geld vir die ekstra kar, vakansie, en prêt en plesier wat ‘noodsaaklik’ is?). Dit is die sonde van gierigheid, wat afgodediens is (Kol.3:5), waarna Jesus verwys: ek wil God én Mammon dien, Matt.6:23,24; dit is ‘n basiese ongeloof dat die Here nie sal sorg as ek/ons Hom dien soos Hy beveel nie (Matt.6:33), en daarom moet ek alles in my eie hande en planne neem, ongeag of dit God se gebod verbreek of nie !
En so, oor jare, voor ons ons kan kry, word daar ‘n geslag groot wat ‘kerklos’ is, en net vir die hier en die nou lewe: laat ons eet en drink want more sterf ons … op die wysie van ‘wat ‘n vriend het ons in Mammon’ (1 Kor.15:32,33).
Baie redeneer ook, goedbedoeld: ek glo mos, ek bid en lees my Bybel en ons hou huisgodsdiens, dis mos genoeg, ek het nie meer die ‘sigbare kerk’ nodig nie ?
En nou die goddelike ironie, juis omdat die volk die HERE nie dien soos Hy beveel en belowe nie, daarom sal self hul harde arbeid, hul afgodiese bymekaar maak van aardse besittings en rykdom, van hul weggevat word. In verse 5-11 beskryf die HERE hoe hul harde werk om hul eie huise te bewoon en op te bou (maar ten koste van die HERE se huis), tot niks sal kom nie. Inteendeel, die droogtes, die swak oes, die kos en klere wat al minder word, die beurs wat leeg word, die arbeid wat al swakker word … is alles sy tugtigende hand omdat hul Mammon dien (Matt.6:24), omdat hul eie belang en gemak vir hul belangriker is as wat Jesus in Matt.6:33 leer: soek allereers die Koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir jul bygevoeg word.
Omdat die eer van God, wat vir Hom welgevallig is, wat Hom verheerlik (v.8), nie meer die sentrale doel is van die volk se lewe nie, daarom gaan dit juis geestelik, ekonomies en polities sleg met die volk, in die woorde van die profeet Jeremia (2:19),
“Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die HERE jou God verlaat het, en dat my vrees nie by jou is nie, spreek die Here, die HERE van die leërskare.”
Die tempel van die HERE, sy huis was juis die fisiese simbool dat die HERE midde sy volk lewe, ‘God met ons’ (Jes.7:14), dat Hy hul enigste God (Deut.6:4), Koning en Verlosser is (Jes.33:22), wat in alles na gees en liggaam vir hul voorsien (Deut.8:3,18). Met die tempel, bely en erken die volk, in die woorde van Ps.127:1, “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou …”, hul ganse lewe, tempelhuis én eie huise is in sy diens, tot lof van Sy Naam.
En dit is ook kenmerkend van ons dag, die huis van die HERE, die kerk van Christus het vir baie mense ‘n onbelangrike saak of bysaak geword (ook deur baiemaal die ‘sigbare’ aspek van die kerk teen die ‘onsigbare’ aspek af te speel). Dit pla hul glad nie as die een na die ander kerk toemaak nie, dit pla hul nie dat die getalle minder word nie, dit pla hul nie as daar soveel godsdienstige en morele verval is in die kerke nie. Erediensbywoning en die Here se huis opbou deur geestelike of fisiese bydraes, is iets wat dan alleen gedoen word, as dit by my ‘agenda’ inpas, dit staan nie meer sentraal in my lewe nie.
Soos iemand eenmaal gesê het: as jy wil sien of ‘n volk/land die HERE vrees, gaan kyk wat hul doen op Sondae (veral in die aande).
Is daar hoop vir die toekoms geliefdes ?
Ja, nie in onsself nie, maar in die Here en sy Christus, dit is Hy wat sy kerk bou, in die verlede en vandag nog, soos ons sien in verse 12-15 van Haggai 1, spesifiek die woorde van v.13, “Ek is met julle, spreek die HERE !” Die God van Abraham, Isak en Jakob, die Vader van ons Here Jesus Christus ‘is’ altyd met sy volk, dit is die genadeverbond, deur tye van voor- en teëspoed, in tye van seëninge én tugtiginge (Hebr.12).
En as Hy met ons ‘is’, dan kan ons lewe, dan is daar ’n toekoms, dan is daar hoop, omdat Hy redding en uitkoms vir sy Kerk bring, deur weer vir Hom ’n volk ‘op te wek’ (v.14), ’n volk “as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke (Tit.2:11-14):
a. Ons sien dit eerstens, dat daar altyd ’n oorblyfsel sal wees wat ‘gehoor gee’ aan sy Woord, soos Haggai dit verkondig het – dank God daar is sy kinders, hoe min ookal, wat luister … dit sien ons vandag nog in sy gemeentes orals, daardie ‘oorblyfsel’ wat aanhou arbei, aanhou werk, aanhou dien in sy gemeentes, aanhou aanmeld vir ampswerk, ongeag al die aanslae, aanvalle, kritiek, van ander ‘kerklikes’ en ‘kritici’ wat soos aasvoëls sit en wag dat nog ’n kerk van Christus sy deure toemaak.
b. Tweedens, sien ons dat die ‘oorblyfsel’ vir God vrees, en nie mense of sameswerings nie, hul erken die HERE as hul Koning, sy Woord en Wet is hul standaard, nie die wêreld, tydsgees, getalle of valse kerklike vergaderings wat God se Woord verdraai om aan te pas by die ‘volk van die land’ se valse godsdienste, valse ekumene en valse lewenswyses nie.
c. Derdens, deur Sy Woord en Gees word die ‘gees van hele oorblyfsel … opgewek’. Die gelowige besef dat alleen die HERE kan wonderwerke verrig, die wonder van die wedergeboorte, en daarom fokus hul om die Woord getrou te verkondig, sodat die Here tot geloof sal bring die wat verordineer is tot die ewige lewe (Hand.13:47). Daarom verdraai die ware kerk van Christus nie die Woord om by mense aan te pas of hul sonde te akkomodeer nie (2 Tim.4:3,4), maar strewe deur die Here se genade om die Woord so getrou as moontlik in woord en daad te bedien (1 Thess.2:8,14).
d. En dan, in die woorde van die HK, v/a 64, as mense weer deur God se Woord en Gees ‘opgewek’ word, dan kan daar nie anders as verandering, bekering, lewe, diens en dade te volg nie (HK, Sondag 33), ’n lewe van dankbaarheid teenoor God en diens aan die naaste. Sien die laaste woorde van v.14, “En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare …”
U wat hier lees, dalk sit u iewers op u eie, of saam u gesin en aanbid die HERE. Dit is goed, maar nie genoeg nie, soek die Here se huis op saam met ander gelowiges (Hebr.10:25), waar Hy ook sy volk vergader (sien NGB art.27-29, veral artikel 28). Help bou aan die huis van die HERE, want deur te bou aan die huis van die HERE, bou ons ook aan ons eie huise.
Mag die HERE ons deur sy genade help om sy huis te bou, orals, tot lof en verheerliking van Sy Naam, van geslag tot geslag, ongeag al die fisiese en geestelike gevare en aanvalle van die eie sondige natuur, die wêreld en die Satan. Laat ons, daar waar Hy ons elkeen geplaas het, aan die werk spring.
Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ‘n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die HERE. (Hag.1:8)
DANKIE ONSE VADER VIR HIERDIE WOORD , U LEER MY ELKE DAG MEER EN MEER, AMEN !!!