‘n Openhartige antwoord op ‘n openhartige brief

“Watter hermeneutiese model gaan ons gebruik? Vir my is dit die openbarings-historiese model.  By ander modelle is daar die versoeking en die gevaar dat ons buite-Bybelse gegewens van maatskaplike, sosiale en kulturele of politieke aard laat heers oor die Bybelteks. Dat hierdie gegewens ‘n dienende funksie het, sal niemand betwyfel nie. Maar wanneer hulle oor die teks gaan heers, is ons nie meer op die reformatoriese pad nie.  My wens is dat ons met mekaar indringend gaan besin oor hoe ons die Bybel wil verklaar.” – prof. Bert Floor (Die Kerkblad, Des 2003, p.11.  beklemtonings bygevoeg.)

Inleiding

Ek plaas dr. Wim Vergeer (GK Krugersdorp) se antwoord op dr. Jac Howell se Ope Brief ook hier op my blog.  Die antwoord van dr. Vergeer spreek vanself en wys uit wat dr. Howell na verwys in sy Ope Brief, dat daar verskillende Skrifbeskouings is in die GKSA wat onversoenbaar is.

Na dr. Vergeer se antwoord het ek ook twee replieke geplaas op sy skrywe, een deur oudl. Neels Malan (GK Kriel) en die ander een deur ds. Christiaan Jooste (GK Wonderboompoort).

Laastens is daar ‘n kort artikel deur myself: Die gebruik van sosio-historiese gegewens (die kwessie van die ‘Sitz im leben’ se rol in Skrifverklaring waarna daar in al drie skrywes verwys word.)

_______________________________________

‘N OPENHARTIGE ANTWOORD OP ‘N OPE BRIEF

Dr Wim Vergeer

Dr Jacques Howell se skrywe: Hoe het ons gekom waar ons tans is? het betrekking. Die skrywe is per e-pos aan individue gestuur, op die GKSA poslys geplaas en het ook die openbare pers bereik.

In die skrywe eien dr Howell homself die reg toe om belydende lidmate van die GKSA te vra om liewer die kerkverband te verlaat. Dit geld dan veral vir dié lidmate wat oortuig is dat die Skrif geen beletsel plaas op vroue in besondere dienste nie. Behalwe hierdie aanmatiging, bevat sy skrywe eenvoudig te veel veralgemenings, bewyse van onkunde, verdagmakery en onwaarhede om te verdra. Ek het geen behoefte aan ‘n polemiek met dr Howell nie, erken hom as broer en hou van hom as persoon, maar meen dat ter wille van die goeie saak waarvoor ons ons beywer en die integriteit van die persone wat daarby betrokke is, ‘n reguit antwoord gegee moet word op enkele sake wat hy in sy “Ope Brief” aan die orde stel.

Ek bied dus ‘n openhartige reaksie op sy “Ope Brief” en maak daarin die volgende stellings:

  1. Dr Howell weerspreek ‘n duidelike Gereformeerde hermeneutiese beginsel wat vir eeue erken word
  2. Dr Howell bedien homself gerieflik van die Skrifbeskouing wat hy aan vrysinnigheid en relativisme verbind
  3. Dr Howell se uitsprake in sy “Ope Brief” is in stryd met bestaande Sinodebesluite en in sy weerstand teen hierdie besluite volg hy nie die kerklike weg nie
  4. Dr Howell bied ‘n selektiewe uitsig op die posisie van die vrou in die kerk en die saak van die vrou in die besondere dienste
  5. Dr Howell maak hom in sy skrywe aan liefdelose verdagmakery skuldig wat grens aan oortreding van die negende gebod

1.  Dr Howell weerspreek ‘n duidelike Gereformeerde hermeneutiese beginsel wat vir eeue erken word

In sy “Ope Brief” meen dr Howell dat persone wat oortuig is dat die Skrif geen beletsel plaas op vroue in die besondere dienste nie, ‘n nuwe/veranderde/vrysinnige/relativistiese[1] Skrifbeskouing gebruik. Hierdie grondliggend ander Skrifbeskouing word dan (volgens hom) gekenmerk deur die feit dat dit nie meer “die Skrif en die Skrif alleen” is nie, maar dat tydsomstandighede of “Sitz in Leben”(sic) toegelaat word om ‘n rol in die eksegese en hermeneutiek te speel.

Hierdeur skep dr Howell ‘n valse teenstelling. Om die teks van die Bybel op ‘n wetenskaplike en geldige wyse in konteks te verklaar, en die ”Sitz im Leben” in die verklaring in berekening te bring, was van meet af aan deel van Gereformeerde Hermeneutiek. Die lyn begin baie duidelik by Calvyn (Augustinus) en loop deur na bekende Gereformeerde eksegete soos Greijdanus, Coetzee, Floor, De Klerk, Van der Walt ens. Deurgaans (ook in baie rapporte wat voor verskillende Sinodes van die GKSA gedien het) word erken en bely dat die Skrif “tydgerig en nie tydgebonde” is nie en dat die verantwoordelikheid daarom juis op die eksegeet rus om die teks van die Bybel eers in die konteks van die eerste hoorders/leser te verklaar en dan die betekenis vir vandag uit te lê.

Om in ‘n openbare brief te lees hoe ‘n hooggekwalifiseerde Gereformeerde teoloog hom beywer vir ‘n hermeneutiek waarin die “Sitz im Leben” geen rol moet speel nie, is wetenskaplik gesproke, eintlik ‘n bietjie van ‘n verleentheid. Om dan sodanige (inderdaad biblisistiese) hermeneutiek verder te wil verhef tot die enigste ware Gereformeerde Hermeneutiek, is m.i. verregaande.

Wanneer (soos in die geval van die saak van die vrou in die besondere dienste) wetenskaplike getuienis aangebied word waarom ‘n bepaalde Skrifuitspraak in die konteks van die eerste hoorders anders verstaan moet word (as wat aanvanklik/tradisioneel gedink is), is dit baie maklik om hierdie getuienis bloot te ignoreer of verdag te maak met woorde soos vrysinnigheid en relativisme, of met opmerkings soos: nou is dit nie meer die Skrif alleen nie. Terselfdertyd getuig so ‘n opmerking van eksegetiese traagheid (luiheid). Die eerbare (moeiliker) weg is om wetenskaplike argumente met wetenskaplike teenargumente te vergelyk en te weeg – en om sodoende op ‘n verantwoordbare wyse tot ‘n geldige bevinding te kom oor die betekenis van die teks van die Bybel in konteks.

‘n Eenvoudige (nie-emosionele) voorbeeld hiervan is die Skrif se getuienis oor die tyd waarneer Jesus gesterf het. Die Grieks sê letterlik dat duisternis oor die hele aarde gekom het “tot die negende uur toe” (Luk 23:44). So het die OAV[2] dit ook vertaal – wat die indruk wek dat Jesus se sterwensuur ongeveer 09:00 was. Kennis van die “Sitz im Leben” bring egter die insig dat die Jode die ure nie van middernag af getel het nie, maar van sonop af. Derhalwe vertaal die NAV geldig dat die duisternis “tot drie-uur” geduur het.

Waarom sou dit eksegeties toelaatbaar wees om aan te dui dat die Jode nie tyd hou op dieselfde manier as wat ons vandag tyd hou nie, maar ontoelaatbaar vrysinnig wees om aan te dui dat vroue in die tyd van die NT hulle onderdanigheid aan hulle eie mans op ‘n ander wyse getoon het as wat vandag die geval is? Die eksegetiese metode wat gebruik word, is immers in beide gevalle presies dieselfde! Dr Howell demoniseer die gebruik van hierdie metode in die vroue-debat as vrysinnig – wil ek beweer – nie omdat die metode self so omstrede is nie – maar omdat die resultate daarvan nie inpas by sy eie vooraf ingenome standpunt oor die vrou in die amp nie.

Dr Howell bedien homself gerieflik van die Skrifbeskouing wat hy aan vrysinnigheid en relativisme verbind

Ek sou wou vra of die mans in die gemeente waar dr Howell dien, in die eredienste met hulle hande omhoog staan en bid, en kan seker met veiligheid aanneem dat dit nie die geval is nie. Tog is daar ‘n duidelike Skrifuitspraak wat beveel dat mans “op elke plek moet bid en heilige hande moet ophef sonder toorn en twis” (1 Tim 2:8, OAV). Die rede wat aangevoer kan word waarom ons hierdie Skrifopdrag nie net so uitvoer nie, is omdat die nie meer vandag (onder Gereformeerde mans) die gebruik is om met hande in die lug te staan en bid nie. Ook die konteks van die hedendaagse leser oefen dus invloed uit op hoe ons die Skrif verstaan en gehoorsaam.

Dr Howell laat hom seker die eietydse  aanbiddingspraktyk van die mans in sy gemeente welgeval. Maar waarom noem hy dit dan vrysinnigheid en relativisme as eksegete betoog dat die Skrifopdragte rakende voorkoms, kleding, haarstyl en sosiale gedrag van vroue wat in die direk daaropvolgende verse (1 Tim 2:9-12) aan die orde kom, ook nie vandag sonder meer net so uitgevoer en toegepas kan word nie. Onbewustelik bedien dr Howell hom dus – wanneer dit hom pas – van dieselfde Skrifbeskouing en eksegese as wat hy so gemaklik aan vrysinnigheid en relativisme verbind en wat volgens hom sulke verreikende gevolge het dat mense wat dit toepas eerder die kerk moet verlaat.

Dr Howell se uitsprake in sy “Ope Brief” is in stryd met bestaande Sinodebesluite en in sy weerstand teen hierdie besluite volg hy nie die kerklike weg nie

Dit is duidelik uit die “Ope Brief” dat dr Howell dit nie eens is met die standpunt dat vroue in die besondere dienste kan dien nie. Hy verset hom dan ook teen die sinodebesluit waarvolgens vroue toegelaat word om as diakens te dien en bring hierdie besluit onder verdenking deur dit ‘n kompromisbesluit waarvolgens die kerkreg myns insiens tegnies misbruik is, te noem Dit, terwyl dit duidelik genotuleer staan dat die sinode die besluit “in die lig van die Skrif” geneem het (Acta 2009:668). (‘n Besluit wat “in die lig van die Skrif”geneem is, kan seker nooit ‘n kompromisbesluit wees nie.)

Om sy mening te lug in ‘n “Ope Brief”, is dr Howell se goeie reg. (Voorstanders van die vrou in die amp het in 2006 dieselfde gedoen) Hy (as kerkregtelike) sal egter seker besef dat om bloot beskuldigings in die lug te skreeu teen staande sinodebesluite, nie eintlik die kerklike weg is nie. Die deur staan ook vir hom oop om sy siening en beskuldigings deur ‘n beswaarskrif by die sinode te toets – en na dese – sal dit nie onbillik wees as die kerklike gemeenskap dit inderdaad ook van hom verwag nie.

Dr Howell bied ‘n selektiewe uitsig op die posisie van die vrou in die kerk en die saak van die vrou in die besondere dienste

1859 – word op ‘n besondere manier in dr Howell se “Ope Brief” beklemtoon. Dit is dan die datum waarop die posisie van die vrou in die GKSA vasgestel is met geykte en gedeë Gereformeerde eksegese. Die waarheid is egter dat die posisie van vroue in die GKSA sedert 1859 tot vandag toe voortdurend aan die verander was. Ek noem maar net ‘n paar sake wat sedert 1859 radikaal verander het:

  • Vroue sit nie meer tydens die erediens in aparte blokke nie
  • Die Vroueblad en Sustersaksies funksioneer sonder “manlike toesig”
  • Die kleredragreëls (verbod op die dra van langbroeke ens) het verdwyn
  • Daar word nie meer gefrons oor (of gepreek teen) ‘n vrou “wat werk” en nie haar “plek in die huis ken” nie
  • Vroue word nie meer verplig om “’n hoofbedekking” te dra nie
  • Vroue het in die kerke stemreg verkry (en het inderdaad ook hierdie “regeerfunksie” uitgeoefen toe dr Howell na sy huidige gemeente beroep is)
  • Vroue is toenemend aktief betrokke by al die diensgroepe/kommissies van Gereformeerde gemeentes

Om nou in ‘n “Ope Brief” die indruk te wek dat niks sedert 1859 verander het nie – en dat indien dit wel verander het, dit nie Gereformeerd is nie, is m.i. selektief en kortsigtig. Die GKSA was en is voortdurend aan die reformeer ten opsigte van die posisie van die vrou in die kerke. Die gesprek oor die vrou in die besondere dienste is maar net ‘n voetnoot by ‘n gesprek wat eeue al aan die gang is.

Dr Howell maak hom in sy skrywe aan liefdelose verdagmakery skuldig wat grens aan oortreding van die negende gebod

Dit is die polariserende “ons/hulle” retoriek wat dr Howell in sy “Ope Brief” gebruik, wat my die meeste hinder. Sekerlik is hy daarvan bewus dat die eenheid van die kerk ‘n kosbare saak is waarom Jesus bid (Joh 14:21) en sal hy (dalk by nabaat) insien dat om skeuring in ‘n kerk voor te stel nie regtig so ‘n eerbare weg is, as wat hy in sy brief suggereer nie.

Wie is dan hierdie anonieme en ondermynende “hulle” wat (volgens dr Howell) ‘n veranderde (nie-Gereformeerde) denke en Skrifbeskouing het en wat vrysinnigheid en relativisme in die teologie najaag – en wat versoek moet word om eerder die kerk te verlaat? Dit is – baie duidelik uit die “Ope Brief” – gewoon almal wat oortuig is dat daar in die Skrif geen beletsel is teen die vrou in die besondere dienste nie.  Dit sluit dus ‘n groot deel (m.i. die meerderheid) van die GKSA in – alle gemeentes wat reeds vroue as diakens bevestig het en almal wat hulle oor die jare ten gunste van hierdie saak uitgespreek het (waaronder van ons mees gerekende en bekwame Gereformeerde eksegete).

Om nou aan hierdie persone ‘n soort samesweringkomplot toe te dig, waarvolgens subtiel te werk gegaan word, vooraf gekoukus word, strategie deurgevoer word, besluite deurgedruk word, en wat gesorg het dat woorde verander word om ‘n Trojaanse perd binne te laat, gaan te vêr. Ek wil dit openlik aan dr Howell stel, dat ek namens myself (en ook namens my medestanders wat jare lang biddend-eksegeties in die saak betrokke is) ernstig aanstoot neem aan sy bewerings. Dr Howell sê dat hy nie wil verketter nie – maar hy doen dit inderdaad! Ek dink nie hy kan hom in hierdie opsig (wat die 9de gebod betref) voor die Here verantwoord nie.

Watter motief sou enigeen van ons hê – om deur middel van ‘n sameswering die GKSA of sy hermeneutiek of sy Skrifbeskouing te ondermyn? Is hierdie kerk nie ons moeder nie? Hierdie kerk (waarvan dr Howell ons wil “verskoon”) is ons lewe, ons roeping en ons tuiste! Jare lang dien ons voluit om hierdie kerk en sy lede in God se koninkryk diensbaar te stel.

Die saak van die vrou in die amp het ook vir niemand van ons persoonlike voordeel gebring nie. Ek persoonlik IS ‘n man, IS ‘n bevestigde predikant, en HET NIE dogters of vroulike familie wat predikant of ouderling wil word nie. Ek het op geen manier voordeel of gewin (finansieel of andersins) verkry deur my met die saak te bemoei nie. In teendeel! – vir langer as 20 jaar al bring die saak net moeite en sweet en baie studie-ure en teenstand en hartseer en vyandigheid (konsekwent van mense wat hulle briewe nogal “jou broeder in Christus” teken) – al die pad!

Is dit vir dr Howell totaal onmoontlik om in te sien dat ons ywer vir die saak van die vrou in die besondere dienste diep Reformatoriese motiewe het? Saam met andere is ek vas oortuig dat die Gereformeerde ampsbeskouing nog onder Roomse invloed staan. Veral wanneer daar beweer word dat behalwe die gawes en roeping deur die Heilig Gees, daar ook nog iets anders is – iets “uit die natuurlike mens self” (manlikheid) – wat benodig word voor iemand God in die besondere ampte kan dien. As “kind van die reformasie” verset ek my teen hierdie oorgeblewe “papisme” en werk ek met alle mag daarteen – sodat daar eendag ook in die GKSA oor ons ampsbeskouing “Sola Scriptura” en “Sola Spiritu Sancti” en “Sola Gratiae” uitgeroep kan word!

In die proses gryp ons vas aan die duidelike Skrifgetuienis oor sake soos: die feit dat daar deur die eeue vroue was wat God amptelik gedien het, en dat daar inderdaad in Christus vir die vrou ‘n veel heerliker posisies aangebreek het, en dat vroue self ook nou (onafhanklik van die verbintenis aan ‘n man) die verbondsteken ontvang, en dat vroue deur Jesus self heel eerste gebruik is om die evangelie van sy opstanding te verkondig – en ons toon met oorwig van getuienis aan dat die Skrif wat op ‘n geldige wyse in konteks en volgens die erkende Gereformeerde hermeneutiese reëls verklaar is – nêrens enige beletsel plaas op die amptelike dienswerk van vroue nie. Hierdie getuienis plaas ons oop en bloot vir beoordeling by sinodes en in werkgroepe en in publikasies – terwyl ons ook voortdurend praat oor die getuienis wat die Heilige Gees self deur die werk en gawes van vroue lewer – en wat Hy ook self voortdurend in ons harte oor hierdie saak lewer.

Persoonlik is ek (nog nie) ten gunste daarvan dat daar in die kerklike praktyk met die vrou in die amp verder gegaan word as wat ons onderling by die sinode ooreengekom het nie. Maar ek het begrip daarvoor dat mede-gelowiges – na jare van studeer en afwag – uiteindelik ‘n punt bereik waar hulle op Skrifgronde – in hulle gewete voor God en in die praktiese bedieningsituasie waarin hulle is – eenvoudig sê dat hulle God meer gehoorsaam wil/moet wees as mense.

Ten slotte

Dr Howell vra in sy “Ope Brief” hoe die GKSA gekom het waar hy tans is. Ek wonder of die vraag nie eerder moet wees nie: Hoe het dr Howell gekom waar hy tans is? Ja – hoe kom ‘n mens daar waar jy medegelowiges – wat op Skrifgronde anders as jy dink – links en regs uit die kerk “verskoon”? In die lig van dr Howell se beroep op eerlikheid (5X) wil ek deur hierdie skrywe aan die hand doen dat die antwoord iewers onder die volgende vyf faktore gesoek moet word:

  • Hermeneutiese naïewiteit
  • Eksegetiese traagheid
  • Historiese kortsigtigheid
  • Medemenslike liefdeloosheid en
  • Ideologiese verstardheid

By al die “reguit taal” wat hierbo gebruik is, stel ek dit onomwonde dat ek van my kant af steeds graag saam met dr Howell kerk sal wil wees. Die Here het hom aangeneem, waarom sou ek hom nie aanneem nie? (Rom 14:3). Daar is wat my betref ‘n oorwig van wesenlike sake waaroor ons dit met mekaar hartlik eens is (en waarvoor ons in die GKSA nie genoeg oog of dankbaarheid het nie). Verder glo ek vas dat mense in hulle standpunte kan groei en verander (anders sou ons mos nie Christene gewees het nie). Daarom sal ek en andere aanhou om elke geleentheid aan te gryp om oor die goeie saak van die vrou in die besondere dienste te getuig – met die bede dat God uiteindelik sal oortuig.

Wim Vergeer

Februarie 2012


[1] Skuinsdruk in hierdie dokument word gebruik vir direkte aanhalings uit dr Howell se “Ope Brief”

[2] Vir die doeleindes van hierdie dokument dui OAV op die 1933/53 Afrikaanse Vertaling, en NAV op die 1983 Afrikaanse Vertaling.

_____________________

Repliek 1: oudl Neels Malan (GK Kriel)

Ek het van die Gerefkerke poslys die onderstaande reaksie van dr Wim Vergeer (hierna dr WV) ontvang.

Ek reageer op sy punte soos volg:

1.   Dr Howell weerspreek ‘n duidelike Gereformeerde hermeneutiese beginsel wat vir eeue erken word

Dr Howell (hierna dr H) het m.i. verwys na die Skrif-met-Skrifverklaringsbeginsel met sy woorde ‘die Skrif en die Skrif alleen’. Dit is juis my probleem met die hermeneutiek van Bultmann, wat buite-Bybelse gegewens, wat as die Sitz im Leben of konteks van die eerste leser of hoorder bekend staan, gebruik as deurslaggewend by die verstaan van God se Woord.

R Bultmann het bv geleer dat die evangelie mites bevat, en daarmee het hy bedoel die wonders, die maagdelike geboorte, die opstanding, die wederkoms. Hierdie mites moes volgens Bultmann, by die verklaring van God se Woord, verwyder word om te kom tot ‘n evangelie wat die moderne mens, wat nie meer in sulke mites glo nie, kan aanvaar.

Die probleem met hierdie manier van Skrifverklaring is dat Bultmann m.i. nie Bybelse steun kan aantoon waarom hy die evangelie wil ontmitologiseer nie. Hy kom met die moderne mens se geloof dat wonders nie meer kan bestaan nie, na die Skrif toe, en wend dit aan as verklaringskriterium.

  • M.i. kan slegs God se Woord Self deurslaggewend wees mbt die verstaan van God se Woord.

Ek dink nie dr H ontken dat kultuur-historiese, argeologiese ea buite-Bybelse gegewens nie mag meespreek by die verstaan van God se Woord nie. Maar dit mag op sigself nie deurslaggewend wees nie.

Indien ons nie Bybelse steun kry vir ons verklaring dat die besondere dienste vir die vrou toeganklik is nie, moet ons nie buite-Bybelse steun gebruik om tot sodanige verklaring te kom nie.

2.   Dr Howell bedien homself gerieflik van die Skrifbeskouing wat hy aan vrysinnigheid en relativisme verbind

Dr WV verwys na die ophef, tydens gebed, van die hande deur mans. Dit is tog duidelik uit die Skrif self dat mans nie altyd hulle hande opgehef het in die hemel nie wanneer hulle gebid het nie. Dawid het dan op sy bed gebid (Ps 63:6). Jesus het dan sy oë na die hemel toe opgehef en gebid (Joh 17:1). Gereformeerde Skrifverklaring verstaan dus dat mans hulle hande en arms tydens gebed mag ophef, nie moet ophef nie (1 Tim 2:8).

Dr WV skryf egter:

Die rede wat aangevoer kan word waarom ons hierdie Skrifopdrag nie net so uitvoer nie, is omdat die nie meer vandag (onder Gereformeerde mans) die gebruik is om met hande in die lug te staan en bid nie. Ook die konteks van die hedendaagse leser oefen dus invloed uit op hoe ons die Skrif verstaan en gehoorsaam.

Nee, dit is m.i. nie die rede nie. Die rede is omdat die Skrif self die ophef van die hande nie gebied nie, maar erken as ‘n manier van bid.

Hier gebruik dr WV ‘n buite-Bybelse, kulturele norm (dit is nie meer vandag onder Gereformeerde mans die gebruik om met hande in die lug te staan en bid nie) om 1 Tim 2:8 te verklaar.

Dit is m.i. wat dr H bedoel in sy ope brief met ‘n nie-Gereformeerde Skrifbeskouing by die verklaring van God se Woord.

En hierdie buite-Bybelse manier van Skrifuitleg van dr WV is m.i. ook deur R Bultmann geleer, en die effek daar is m.i. Skrif-, geloof-, en gemeente-verwoestend.

3.   Dr Howell se uitsprake in sy “Ope Brief” is in stryd met bestaande Sinodebesluite en in sy weerstand teen hierdie besluite volg hy nie die kerklike weg nie

Ek stem saam dat dr Howell se siening oor die vrou in die diens van diaken in stryd met bestaande Sinodebesluite is. Dit is ook my eie siening.

Maar mag hy nie iets teen bestaande Sinodebesluite in die openbaar sê nie?

Dit beteken tog nie dat dr H noodwendig hom distansieer van die beginsels in KO 30, 31 en 46 nie, en dat hy dus nie die kerklike weg volg nie.

Glo ons dan in die stelling Roma locuta, causa finita? (Rome het gespreek; die saak is afgehandel).

4.   Dr Howell bied ‘n selektiewe uitsig op die posisie van die vrou in die kerk en die saak van die vrou in die besondere dienste

Dr WV meen dat dr H geen verandering mbt die vrou sedert 1859 wil toelaat nie.

Ek meen dat dr H in sy Ope Brief dit duidelik stel dat hy die Gereformeerde hermeneutiese beginsel mbt Skrifverklaring, soos reeds in 1859 aangegryp, wil behou, sonder om hom te verset teen Skrifgegronde reformasie wat sedertdien plaasgevind het.

5.   Dr Howell maak hom in sy skrywe aan liefdelose verdagmakery skuldig wat grens aan oortreding van die negende gebod

Ek dink dr Howell se standpunt, soos blyk uit sy Ope Brief, is dat diegene wat met ‘n ongereformeerde Skrifbeskouing en gepaardgaande Skrifuitleg pleit vir die toelating van die vrou in die besondere dienste, met hierdie kerkverwoestende Skrifbeskouing reeds die gemeente (kerk) van Christus geskeur het. Ek dink dat hy saam met vele Gereformeerdes oor hierdie skeuring treur. Hy bepleit eerlikheid by almal betrokke. Laat diegene wat glo hulle het die lig gesien mbt die vrou in die besondere dienste, nou eerlik wees, en erken dat hulle die Gereformeerde pad mbt Skrifuitleg verlaat het, en dus in alle eerlikheid hulle eie pad volg.

Hierdie is ‘n smartlike saak.

Maar ek sien nie liefdelose verdagmakery by dr H in sy Ope Brief nie. Dit is jammer dat hy hierdie hartseer dinge moet sê. Maar m.i. sal dit eerder liefdeloos wees indien hy sou stilbly.

Neels Malan

Ouderling, GK Kriel.

Repliek 2: ds. Christiaan Jooste (GK Wonderboompoort)

Ek dink die reaksie van Dr Vergeer op die opebrief was te wagte en ‘n duidelike uiteensetting van sy standpunt en vertrekpunt. Oor die geldgheid daarvan kan daar sekerlik debat gevoer word. Baie van dit wat in die reaksie gestel word is al op verskeie forums en op meerdere vergaderings aangespreek. Tog net enkele sake wat ek dink opheldering benodig.

1. Daar word in ‘n groot gedeelte van die reaksie op die saak van die Sitz im leben ingegaan. Ek stem saam dat die kultuur-historiese (sosio-historiese) ‘n baie belangrike deel van die eksegetiese proses is. Die vraag is egter in watter mate die hisoriese konteks die betekenis van ‘n teks bepaal. Die voorbeeld van die Joodse tydsaanduiding is een ding, maar wanneer die Gees deur die pen van Paulus voorskrifte rakende die bediening van die amp gee en dit nog in die skepping begrond, dink ek nie dit is op dieselfde vlak nie. Met die tydsaanduiding help dit ons om daardie historiese gebeurtenis te verstaan, maar met die saak van die swyggebod dien die historiese agtergrond om dit wat daar geskrywe staan te veto. As ons die kultuur-historiese gegewens so gebruik is die volgende saak waaroor ons sekerlik moet praat homoseksualiteit ?

2. Dr. Vergeer stel duidelik dat hy die oopstel van die ampte sien as reformasie en deformasie nie. Tog moet ons erken dat daar oor die wêreld baie gereformeerde kerkverbande is wat nie eers praat oor die vrou in die amp nie aangesien die Skrif volgens hulle duidelik is. Die oorgrote meerderheid van kerke met wie ons in korrespondensie staan huldig hierdie oortuiging. Is hulle dus reformerende of deformerende kerkverbande?

3. Die vraag wat bly brand is natuurlik ons binnelandse verhouding tussen kerke. Dr Howell stel dit baie duidelik dat die doel nie is om mekaar te verketter nie, maar die eerlike ding doen en dat lidmate wat op hierdie “nuwe” weg wil gaan by ‘n kerkverband aansluit waar hulle sal tuisvoel. Dit klink vir my na die korrekte uitweg, want duidelik is daar nie eenstemmigheid in die GKSA dat die weg van die vrou in die amp die reformatoriese weg is nie. Prakties gesproke kan ons dit seker in die volgende scenario verwoord: wanneer die ampte vir vroue oopgestel word sal daar bepaalde kerklike verskuiwings kom. Kan die lidmate wat volgens die Skrif oortuig is dat die ampte nie vir vroue oopgestel behoort te word met vrede steeds in hierdie kerkverband wees? Sou dit dan nie tog ter wille van die eenheid beter wees vir lidmate wat volgens oortuiging glo dat die vroue in die ampte kan, om na die NG kerk oor te gaan nie?

4. Dr Howell mag miskien al daardie dinge wees wat Dr Vergeer hom toedig, maar die feit bly staan dat daar baie lidmate en ander predikante is wat dieselfde sentimente huldig. Ek is nog jonk, maar ja ek is een van hulle. Ja ons is miskien wetenskaplik onderontwikkel en hermeneuties naïef en eksegeties traag en histories kortsigtig en medemenslik liefdeloos en ideologies verstard, maar met dieselfde brandende liefde vir die kerk van die Here en met dieselfde ywer vir sy woord kom ons tot ‘n ander slotsom. Dit blyk vir my ‘n onoorbrugbare kloof te wees. Laat ons eerlik wees en vir mekaar sê dat na meer as 30 jaar se debat die een die ander nog nie oortuig het nie. Dit is wat ons moet weet, iewers gaan die paaie uit mekaar gaan want die redenasie dat so ‘n diepliggende verskil rakende ons benadering tot die Skrif nie aanleiding hoef te gee tot verdeeldheid nie is woorde in die wind, want die verdeeldheid is reeds ‘n realiteit.

Ek het ook niks teen die persoon van Dr Vergeer of enige iemand anders nie.

Hoe lank kan ons nog voortgaan met hierdie illusie van eenheid?

__________________________________

Die gebruik van sosio-historiese gegewens

S Le Cornu (GK Carletonville)

Die sosio-wetenskaplike benadering val in verskillende groepe uit, waarvan die vernaamste die volgende is (Kurpershoek, 1997: 26):

–       die sosio-historiese benadering doen historiese navorsing in sosiale verskynsels en evalueer en verklaar die bewuste waarnemings van die vroeë Christene.

–       Die sosiologiese benadering is op sosiologiese analise ingestel en let meer op die onderliggende dinamiek waarvan die vroeë Christene onbewus is.

Sosio-historiese navorsing (SHN) sien die NT teks as rekords van dinamiese sosiale interaksie tussen persone wat geleef het in spesifieke gemeenskappe op ‘n spesifieke tyd en plek.  Vorige sosiologiese studies van die vroeë Christendom het veronderstel dat die NT teks nie ‘n versameling van waarheidsuitsprake is nie en mitologies van aard is (Bultmann).

Die SHN vind sy gronde in onder andere:

–          godsdienshistoriese skole

–          die ‘Chicagoskool’ van Case en Matthews

Sedert 1973 het daar weer ‘n groot belangstelling ontstaan vir SHN, veral onder leiding van figure soos Meeks en Keck.  Sosio-wetenskaplike doelwitte en metodes het sentraal gestaan.

Sentraal in die hele debat oor die nut van SHN is die epistemologiese problem van objektivisme vs. relativisme.

Kurpershoek wys verder daarop dat die wortels van die sosio-historiese benadering geleë is in:

–       die historiese kritiek wat die klem van die Bybel as Openbaring van God laat skuif het na die Bybel as produk van die subjektiewe eieaard van die Bybelskrywer.

–       Die fenomenologiese benadering en veral die uitwerking daarvan in die sosiale wetenskappe wat die sosio-historiese konteks nie meer gesien het as ‘n agtergrond waarteen die ontstaan van die Christendom plaasgevind het nie, maar wel as ‘n verklaringsprinsipe vir die ontwikkeling van die vroeë Christelike kerk en sy gedagtes soos vervat in die Nuwe Testament.

Prof Gert Jordaan van die Teologiese Skool Potchefstroom (2001: 191) wys op sy beurt dat die doelwit van die sosio-historiese benadering nie verkeerd is nie, nl “die kultuur-historiese oftewel sosio-historiese konteks van die Bybelboeke” in die kalklig te stel.  Soos prof. Jordaan dit stel, dit was nog altyd deel van die grammaties-historiese eksegese.

Die gevaar van hierdie metode is egter eensydigheid, dat hul weer te ver beweeg het na die historiese kritiek.  Jordaan (2001:191) wys as volg op hierdie probleme:

–       reduseer die historiese deel van die eksegese net tot die gedeelte waar die sosio-historiese konteks van ‘n skrifgedeelte bestudeer is.

–       die sosio-historiese gegewens word die eintlike sleutel tot die verstaan van die teks.

–       die Bybel word ‘n blote produk van die sosio-historiese gegewens.

Een van die sentrale probleme waartoe die sosio-historiese eksegese kan lei is dat die Heilige Skrif as tydgebonde aan sy sosio-historiese konteks gesien word, en nie meer as tydgerig soos die Gereformeerde verklaringsmodel dit stel nie.

Daarteenoor is die kennis wat die Skrif gee genoegsaam om dit te verstaan, deur Skrif met Skrif te vergelyk, en dat die kultuur (sosio)-historiese inligting wat die Skrif self gee, ook genoegsaam is vir die verstaan daarvan (sien bv. Mark.7:3,4).

Die boodskap van die Skrif kan natuurlik skeef getrek word indien jy dit nie in sy eie Skriftuurlike konteks reg lees en verstaan nie, en soos Christus dit self stel vir die Sadduseërs:

“Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt.22:29).

Die Skrywer van die NT het egter al die inligting gegee wat nodig is in die teks, om deur die leiding van die Gees, deur die grammaties-historiese verklaring van die Skrif, gedoop in volhardende gebed, tot ‘n duidelike en korrekte verklaring van ‘n teks te kom.

Daarom is ons opdrag: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.” (2 Tim.2:15)

Die ‘sleutel van die kennis en verstaan’ van die Skrifte is die Gees en die Woord (Joh.4:24;16:13;17:17).  Wanneer die verrekening van ‘sosio-historiese inligting’ daardie rol probeer oorneem, dan loop dit die gevaar om die gesag van die Skrif te ondermyn.  Soos prof. L. Floor dit duidelik stel:

“Watter hermeneutiese model gaan ons gebruik? Vir my is dit die openbaringshistoriese model.  By ander modelle is daar die versoeking en die gevaar dat ons buite-Bybelse gegewens van maatskaplike, sosiale en kulturele of politieke aard laat heers oor die Bybelteks. Dat hierdie gegewens ‘n dienende funksie het, sal niemand betwyfel nie. Maar wanneer hulle oor die teks gaan heers, is ons nie meer op die reformatoriese pad nie.  My wens is dat ons met mekaar indringend gaan besin oor hoe ons die Bybel wil verklaar.” (Die Kerkblad, Des 2003, p.11.  Beklemtonings bygevoeg – SLC ).

Daarom is die openbaringshistoriese (kultuur-historiese agtergrond) benadering nog steeds die mees verantwoordbare benadering is vir die gereformeerde eksegeet in die lig van Skrif en belydenis, en dan wel met die kennisneem en gebruikmaking van sekere resultate van die sosiaal-historiese benadering waar dit die Skrif dien en nie daaroor probeer heers nie.

Gereformeerdes het nog altyd buite-Bybelse inligting geraadpleeg om ons daardeur te help om tot ‘n beter verstaan van die Skrif te kom.  Dit is genoem: die kultuur-historiese agtergrond van die Bybel.[1]

Ons glo dat God se Woord geopenbaar is in die geskiedenis, deur en aan mense wat dit op skrif gestel het (2 Petr.1:19-21; sien NGB artikel 3), en daarom is die Bybel tydgerig maar nie tydgebonde nie.   JG Feenstra, in sy boek Leer en Lewe, het met aanhaling van Herman Bavinck dit as volg gestel:

“Prof. Dr. H. Bavinck het in sy Dogmatiek ‘n juiste definisie van die organiese inspirasie gegee as hy sê:

“Onder die organiese inspirasie verstaan ons dat die Heilige Gees, nadat Hy die menslike bewussyn van die skrywers op allerhande maniere voorberei het deur geboorte, opvoeding, natuurlike gawes, nadenking, herinnering, ondersoek en lewensvorming, nou in, onder en by die spreke en op skrifstelling dié gedagtes, woorde, taal en styl laat opkom het, wat die goddelike gedagtes op die beste wyse vir mense van allerlei stand, rang en volk kon vertolk.”

So verstaan ons dat God self die Spreker is in die hele Skrif. Die Bybel is Gods Woord en die Woord van die Here bly tot in ewigheid. Die openbaringsorgane is, sowel wanneer hulle spreek as wanneer hulle skryf, gedrywe deur die Heilige Gees. Daarom maak ons onderskeid tussen die woord-inspirasie (die heilige mense, deur die Heilige Gees gedrywe, het van God gespreek) en die skrif-inspirasie (die hele Skrif is deur God ingegee) (2 Tim. 3 : 16).”

Die vraag wat gevra moet word bly dus: wat is die verhouding tussen die Bybel en buite bybelse inligting (kultuur en/of sosio-historiese inligting), dus hoe word buite Bybelse inligting verreken in die verstaan van en toepassing van die Bybelse teks?

Waar lê die finale gesag: in die Skrif se uitsprake of in sekere van die buite-Bybelse gegewens wat die Skrif ingelees word om daaroor heers te heers as gevolg van moderne agendas en tendense?

Konklusie: as met sosio-historiese benadering bedoel word die tradisionele kultuur-historiese omstandighede van die Bybelteks wat in ag geneem moet word as agtergrond vir die verklaring van die Teks, dan is dit, of was dit nog altyd welkom in die Gereformeerde verklaringsmodel.  As daarmee bedoel word dat dit oor die Teks begin heers en die sleutel word waarmee die teks ontsluit word, dan moet ons dit verwerp in gehoorsaamheid aan 2 Tim.2:15 en 2 Tim.3:15-17.


[1] Duvenhage skryf in die inleiding van sy boek as volg: “Om die Nuwe Testament werklik te kan verstaan is dit dus onontbeerlik om ook kennis te neem van die historiese en kulturele milieu in die breedste sin van die woord. …Om die Nuwe Testament in die regte lig te sien is inderdaad veel meer nodig as om uitsluitlik kennis te neem van die Joodse ‘Umwelt’ … Daarom moet die Nuwe Testament bestudeer word teen die breër agtergrond van die hele destydse bekende wêreld. … Die Nuwe Testament gee uiteraard self betekenisvolle getuienis van die hellenistiese omgewing en daarvan moet uiteraard kennis geneem word.” (Die dékor van die Nuwe Testament. ‘n Kultuur-historiese agtergrondstudie. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers, publikasiedatum onbekend.)

3 thoughts on “‘n Openhartige antwoord op ‘n openhartige brief

Add yours

  1. Ek sou graag as ‘n gewone lidmaat, wat geen teologiese opleiding het nie, tog ‘n paar stellings wou maak in my eenvoudige verstaan van die Bybel.
    Ek lees dr Vergeer se verweer op dr Howell se brief en as iemand wat graag die Bybel wil verstaan is dit tog vir my interresant dat ons geleerde teoloe dit reg kry om van iets of iemand te praat waarvan ek as gewone lidmaat nog nooit gehoor het nie en dit dan kan gebruik asof hierdie bewyse is van hulle stellings. Tog jammer, want ek as ‘n gewone lidmaat het eintlik geen verweer teen sulke stellings nie.
    Tog mag ek as lidmaat wel weet wanneer ons Bybels reg is al dan nie.
    In my eenvoudige verstaan is daar iets omtrent dr Vergeer se skrywe wat my pla.
    Hy maak gebruik van gewone sosiale sake wat ons dalk “gemiddelde” sake noem soos die houding van die mans tydens gebed en die uur van Christus se dood asook ander sake wat ek al gehoor en gly dan gemaklik met die argumente oor na die saak oor kerkregering wat dan ook dalk na ‘n middelmatige saak verminder kan word of dan gelyk gestel word aan hierdie minder belangrike sake.
    As Paulus die opdragte oor die regeer ampte uiteensit dan is sy kern gedagte dat die kerkraad die sleutels van die hemel dra. ‘n Geweldige opdrag!!. Defnitief nie meer ‘n saak wat ek kan vergelyk met die gebedshouding of die uur wanneer Christus gesterf het nie. Dan gaan hy verder om die vrou te verbied om in die ampte te dien!
    Wie is ek dan nou om dieper te delf of ons nie dalk al vir 2000 jaar verkeerd was oor die vrou in die amp nie. Dit is nie iets wat kom van 1859 nie.
    Asb. dr Vergeer. Ons gewone lidmate verstaan glad nie u Bybelse siening wat u en andere het oor die vrou in die amp nie.
    As ek sosiaal daarna kyk verstaan ek dit verseker baie goed. Ek ken baie vroue wat na my beskeie mening baie goeie en selfs beter ouderlinge en predikante sou wees as baie bestaande ouderlinge en predikante. Hulle het ‘n bepaalde sagtheid wat maar alte dikwels ontbreek by die manlike spesie.
    Maar God het in sy alwysheid besluit dat die vrou nie geskik is vir die regeer ampte nie. Net soos wat hy gewone sondige mense gebruik om sy woord uit te dra en die evangelie te verkondig, wat ons ook nie altyd begryp nie (bv Moses, Gideon ens en ook elkeen van ons!), so het hy in Sy almag besluit dat die vrou eerder beskerm en gekoester en lief gehe moet word. Sy is nie gemaak om in die voorste lienies van ‘n oorlog te veg nie.
    Dit is soos ek die Bybel verstaan en glo. Ek het ook altyd geglo dat ons in die gereformeerde kerk hierdie beginsels onderskryf en dat ek, as ek daarvan verskil, ek sal oorgaan na ‘n kerk wat my hierin ondersteun. Nou kom u en andere elke 3 jaar vir baie sinodes nou al, en probeer om die gereformeerde kerk te verander in hierdie sake. Elke keer as die sinode ‘n besluit geneem het, kom u maar weer na die volgende sinode met beswaar skrifte. En elke keer word die wig in die kerk net dieper ingeslaan en kry sy net seerder en seerder.
    Ons as gewone lidmate het al ‘n vrees vir sinodes, want dan word al die ge-eikte argumente weer afgestof en is daar vir die volgende paar maande onvrede in die gereformeerde kerke.
    Ek dink ek praat namens baie gewone lidmate as ek u as geleerde teoloe tog asb mooi vra: hou op met hierdie dinge. U is eertens besig uself te vervreem van die gewone lidmate. U verwar hulle.
    Kom ons vra in eenvoudigheid wat die Almagtige God in Sy woord vir ons leer.
    Ons vra ook dat die sinode biddend defnitiewe besluite sal neem en dat ons as broers en susters ons daarin berus en nie beter as God wil weet nie.

    Groete

    Jaco Wattel

  2. Jaco, baie dankie, jy stel dit mooi duidelik om te verstaan.

    Ek gebruik ook baiemaal die voorbeeld: as ek oortuig word vanuit die Skrif om net te grootdoop en die kleindoop is verkeerd, sal ek die kerklike weg volg, van plaaslike kerkraad tot sinode om my broeders te oortuig. Maar, as ek hul nie kan oortuig nie, gaan ek hul verlaat en my voeg by die ‘Gereformeerde Baptiste’, dit is die eerbare weg. Waarom die pro-VIDA predikante en lidmate dit nie wil doen nie, laat mens wonder of daar nie ander motiewe is wat ‘n rol speel nie ?

    Dit is bloot om eerlik te wees oor wat jy nou nuut glo en die kerke wat jy nie meer oor sekere sake dieselfde glo nie, juis te respekteer as medegelowiges wat bly by wat hul oortuig is volgens die Skrif.

    Soos jy tereg opmerk, dr. Vergeer gooi ‘n klomp sake deurmekaar en meen dat alles nou ewe onduidelik/duidelik is.

    Waar in die Skrif bv. word ons duidelik geleer dat mans en vrouens apart in kerke moet sit ?

    Waar word geleer dat die vrou nie spesifiek ‘n ‘langbroek’ mag dra nie ? (daar word twee beginsels wel geleer: dit moet onderskeidend wees van mansdrag en dit moet behoorlik wees. Dit kan beteken nie ‘n ‘langbroek’ of ‘n spesifieke soort langbroek nie, maar daar staan nie pertinent ‘nie langbroek dra nie’.

    Maar ons word tog so duidelik geleer die vrou mag nie leer en regeer nie (1 Tim.2:11,12), en dit word in die skepping begrond, geen tydsgees of tydelike kultuuraspek nie.

    Daar is sake wat ek egter ook meen daar geleidelik onder druk meegegee is wat weer ons aandag moet geniet, bv.

    – vroue stemreg (sien my artikel/aanhalings daaroor onder die ‘vroue stemreg’ afdeling)

    – die hoofbedekking

    – die vrou se rol wat ‘n professionele loopbaan betref ten koste van haar rol en roeping as vrou en moeder

    Wat ookal gaan gebeur, al hierdie vrae en sake laat ons opnuut teruggaan na die Heilige Skrif om die Here se wil te soek in al hierdie sake, hopelik is dit een goeie ding wat uit al hierdie stryd kom: Hand.17:11; Ps.1:2.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: