7 Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. 8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. 9 Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie. – Hebr.13
Inleiding
Ek wonder hoeveel van ons gereformeerde lidmate weet nog dat vandag/more (11/12 Februarie) presies 153 jaar gelede die Gereformeerde Kerke van SA herstig is, of die herstigting begin het ?
Is hierdie kerkhistoriese onkunde (of gebrek aan belangstelling in die geskiedenis), oor die wesentlike sake van die Reformasie van 1859, nie grootliks ook deel van die verwardheid en verdeeldheid wat daar tans heers in ons kerke nie, wat in die Ordevoorstel van Sinode 2012 vermeld word ?
Wat is die gesegde: as ons nie leer uit die verlede se foute nie gaan ons hul weer herhaal.
En soos RJ Rushdoony dit ook treffend stel: hy wat belangstel in die geskiedenis (verlede), stel belang in die toekoms.
Daarom is die gelowige mens, soveel te meer die gereformeerd-gelowige mens nie iemand wat net leef in die hede nie, maar ook die verlede en die toekoms, soos vers 8 van Hebr.13 aandui:
Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid
Ons kosbare geloof verbind ons met hierdie Christus (1 Joh.1:1-4), die Christus van Genesis tot Openbaring (Gen.1:3; 3:15- Op.22:16), die Alfa en die Omega, die begin en die einde (Op.1:8), Hy wat opgestaan het en leef, maar dan ook met almal wat in Hom is, dus ook ons voorgangers deur alle eeue (v.7), ook van die 1859’s – sodat ons nou in die hede vir Hom kan lewe, en sodat ons nie:
“… rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie.” (v.9).
Daarom plaas ek hierdie skrywe van my oor die herstigting van die GKSA, in die besonder aan my mededoppers wat ons kerke liefhet en daarom wil ons aan die waarheid vashou (Ef.4:15), vandag en in die toekoms.
En dit – om in die waarheid in liefde vas te hou – kan ons alleen doen deur die Here se genade en hulp, ook met soveel aanslae wat kom van hulle wat ons verlede vergeet het (of as onbelangrik en irrelevant beskou) en wil opoffer aan die eiewillige godsdiens begeertes en behoeftes van die ‘hier en nou’ (2 Tim.4:3,4):
“Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. 6 Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?”
_____________________
Hoekom was die sing van die PSALMS so ‘n belangrike saak in die herstigting van die Gereformeerde Kerke in die jaar 1859 AD ?
Geliefde lidmaat, ons leef in ‘n tyd waarin die rykdom van die gereformeerde (ere)diens aan God, opnuut verwerp of bevraagteken word. Gelowiges wat hul verlede vergeet, word egter slawe van die hede en kan so gemanipuleer word ten opsigte van die toekoms. Ons kerklike krisisse vandag bewys dit.
Die rykdom van die gereformeerde diens word al hoe meer deur die postmodernistiese lewensuitkyk[1] beïnvloed en ingesluk, en daarom beleef ons nou ‘n tyd waarin selfs kerke met die gereformeerde belydenis- “nie meer die gesonde leer verdra nie, maar, omdat hul in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede.” (2 Tim.4:2-4)
Dit lei daartoe dat daar ‘n verval is, nie net in die suiwere leer nie, maar ook in die tug en erediens van die kerke. Mense wil nie meer volgens God se bevele Hom dien en eer nie, maar ‘volgens hul eie begeerlikhede en behoeftes’ die (ere)diens van God inrig.
Die verval in die samelewing, is die getuie van hierdie verval wat in die kerke plaasvind. Ons het ‘n samelewings- en volkskrisis, omdat ons ‘n kerkkrisis het.
Omdat God nie meer gevrees word nie, omdat Sy wette verag en verdraai word in die kerk, daarom is daar ook geen vrees meer vir God in die samelewing nie. Die eiewillige godsdiens in die erediens, lei tot ‘elkeen wat doen wat reg is in sy eie oë’ op die ander terreine van lewe. Soos daar verval is in die gesamentlike erediens, so is daar ook verval in die persoonlike- en gesinserediens (huisgodsdiens), en omgekeerd.
Teenoor die eiewillige godsdiens -hetsy binne of buite die kerk- bely ons die volgende Skriftuurlike waarheid, soos saamgevat in die gereformeerde leer, naamlik: “Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in Sy Woord beveel het nie” [HK, Sondag 35. Sien ook: NGB 7; 30; 32].
Die erediens moet sentraal staan in die lewe van die gelowige.
Vanuit die ware erediens beweeg die gelowige na alle terreine van lewe en denke om Sy wil in alles te soek. Dit is dus noodsaaklik om die week reg te begin, juis in hierdie tyd wat nie net die erediens nie, maar ook die rusdag van die HERE in gedrang is.
Calvyn skryf op ‘n plek:
As dan gevra sou word wat die belangrikste dinge is waardeur die geloof onder ons vasstaan, en sy waarheid behou, sal gevind word dat die volgende twee nie alleen die belangrikste plek het nie, maar daaronder ook al die ander dele insluit, en daarom die hele inhoud van die Christelike godsdiens saamvat, naamlik ‘n kennis, eerstens van die manier waarop God reg vereer moet word; en, tweedens, van die bron waarvandaan verlossing gekry moet word. As ons hierdie twee dinge nie reg insien nie, hoewel ons mag roem in die naam Christene, is ons aanspraak leeg en waardeloos.
Daarvolgens is die twee belangrikste leringe van die reformasie, die volgende twee aspekte:
– die handhawing van die suiwere erediens, en
– die verlossing uit genade deur die geloof alleen.
En dit het ons gereformeerde vaders, reformators van hul tyd, ook opnuut in die kerkstryd en reformasie in die 19de eeu ingesien, wat uitgeloop het op die geboorte van die Gereformeerde Kerke in 1859.
Dr. GCP van der Vyver skryf in sy boek PROFESSOR DIRK POSTMA 1818 – 1890, oor die belangrikheid van die kerklied, en dan haal hy spesifiek ook vir prof. Jan-Lion Cachet aan (wat een van die eerste professore was van die GKSA se teologiese skool).
Die kerksang in ‘n erediens is beslis nie maar ‘n kleinigheid of ‘n middelmatige saak nie. ‘Het is gansch geene bijzaak. Juist het tegenovergestelde. ‘Die gemeenskaplike sang dien by uitnemendheid tot verheerliking van God. Dit is ‘n gemeenskaplike bede en danksegging tot God. Dit is die stem van die gemeente waarin hy uitdrukking gee aan sy diepste gevoel. ‘Zooals men zingt zoo gelooft men. Doordat wij ze van onze jeugd af aan hooren, worden die uitdrukkingen ons eigen, en als dus verkeerde leer in het kerkgezang gevonden wordt, dan kan het niet anders of de leer zal de gemeente als doordringen.’[2]
Wat ons dus sing, het alles wesentlik te doen met die eerste kenmerk van ‘n ware kerk, nl. die suiwere verkondiging van die evangelie (NGB artikel 29). Dit is dus geen middelmatige saak nie, maar ‘n leersaak wat in lyn moet wees met die tweede gebod, dat ons God aanbid soos Hy beveel.
Wanneer daar geskryf en besin word oor wat ons moet sing in die erediens, dan gaan dit oor die toepassing van die sola et tota Scriptura beginsel (die Skrif, en die hele Skrif alleen) soos toegepas in die erediens/aanbidding van God (ook genoem die Tweede Gebod beginsel of die gereformeerde/regulerende beginsel van die erediens/aanbidding).[3]
Daar word dikwels beweer dat die hoofrede en soms die enigste rede vir die ontstaan en bestaan van die GKSA alleen die Gesangekwessie was, en dat ons voorvaders dit alleen teen die inhoud, d.w.s. die leer van die Gesange gehad het en dit nie ook oor die beginsel van Gesange opsigself gehandel het nie, naamlik of ons enigsins Gesange mag sing in die erediens, of nie.
‘n Noukeurige bestudering van die sinodehandelinge in die geskiedenis, asook die kerkhistorici se bronne sal egter gou duidelik maak dat baie meer op die spel was as net die leerinhoud van die Gesange (en die saamgaande kerkregtelike stryd wat in alle reformasies teenwoordig is[4]). Dr. van der Vyver skryf o.a.:
Die Sinode (Kaapse NG Kerk, 1847 – red.) onderskei tweeërlei besware t.w. dat die beswaardes ‘geweigerd hebben de Gezangen te zingen’ wat dui op ‘n beswaar teen Gesange as sodanig en tweedens ‘zoo zy omtrent het een of ander gezang eenige bedenking of zwarigheid mogen hebben’ wat dui op die leerstellige besware teen sommige Gesange.[5]
Wat die leer betref, was die dwalings wat in die Gesange gevind is (wat ook te vinde was in die leerstellige dwalings in die kerke), onder andere: dat dit die gees van die Supernaturalisme, Rasionalisme, Verligting, ens., adem, ‘n algemene genade aan alle mense verkondig, dit “is loutere Pelagiaanse humanisme; die mens moet maar net sy plig doen dan sal die ‘licht’ eenmaal vir hom opgaan”; ‘een Roomse Leer’ bevorder; “den Gezangbundel krachtig heeft medegewerkt tot heerschappij van het Liberalisme en dientengevolge tot het verval van onze Kerk”[6]
In aansluiting met Calvyn, sien ons dus dat hoe ons aanbid (die erediens en dus wat ons sing ook) asook die leer van die verlossing (die verbond) onlosmaaklik gekoppel is aanmekaar en mekaar wedersyds beïnvloed. Ook dit was sentraal op die spel, in die kerkstryd in die 19de eeu, met die kwessie van “‘n algemene genade aan alle mense verkondig” wat die hart van die Evangelie aantas.[7] Die leerdwalinge van daardie tyd is dan ook via die Gesange die kerke ingedra, oftewel ingesing. Ook in ons eie tyd sal ons opnuut moet waak, dat ‘n verkeerde leer nie beide ons verlossingsleer en aanbiddingsleer op ‘n dwaalpad plaas nie, ook nie via die kerksang nie.
Om terug te kom by die Gesange.
Dirk Postma se standpunt is welbekend, nl. dat hy nie probleem daarmee gehad het as regsinnige gesange in ‘n gemeente gesing word nie, maar dat hy dit as die beste weg beskou het om gesange te sing waarvan die teks te vinde is in die Bybel (dit is nl. Psalms en Skrifberymings, in onderskeid van die Gesange waarvan die teks nie te vinde is in die Bybel nie).
Wat belangrik is, is dat Postma ook genoem het, dat waar lidmate beswaard is om regsinnige gesange te sing, moet hul gewetens nie gebind word nie, maar moet daar in lyn met Rom.14, die Psalms alleen gesing word. Indien daar nogsteeds nie ooreenstemming is nie, moet dit aan die ‘wijsheid en het geweten van elken leeraar overlaat om hierin te handel naar zijn geweten, met inachtneming van den toestand der Gemeente; ten einde er om deze zaak geene verdeeldheid noch scheuring plaats vinde’[8]
Dit is nie nou die geleentheid om in te gaan op vader Postma se gemoedelike standpunt, en in hoeverre dit skriftuurlik, konfessioneel en kerkregtelik regsinnig is nie, maar om net die volgende feit uit bogenoemde te konstateer, nl. dat daar ten minste 2 verskillende standpunte was oor die redes en begronding vir die verwerping van Gesange, wat tot vandag toe nog in die GKSA leef.
Albei strominge het dit saam teen die valse leer van die Gesange gehad, as ook die ongereformeerde kerkregtelike aspekte van die stryd, maar het verskil oor die kwessie of Gesange opsigself in stryd is met God se Woord, al dan nie.
Gewoonlik, of ten minste in die huidige tyd, word daar min van gemaak dat Gesange opsigself verwerp is, en is dit wel ‘n ope vraag of vader Postma se standpunt, wat later op ‘n mindere of meerdere wyse, deur Totius gehandhaaf is, wel altyd die meerderheidstandpunt was, veral in die jare voor en net na die geboorte van die Gereformeerde Kerke?
Verder moet in ag geneem word dat die Doppers se argumente ‘n moeilike saak is om na te vors, en dat die mense baie daaroor gepraat het in daardie tyd, maar min daaroor geskryf het.[9] Laasgenoemde meen ek geld veral vir die ouderlinge en vaders wat die reformasie in die 19de eeu gelei het, die Venters, Snymans, Krugers, van der Walts en die Du Plessis’s wat vasgehou het aan die Skrif en die belydenis, met ‘n opregte en eenvoudige geloof en lewenswyse. Van hierdie reformators, kan tereg gesê word, in die woorde van ds. SJ Du Toit, Totius se gerespekteerde vader: “Liewers ‘n ongeleerde Afrikaner met sy Bybel, as ‘n geleerde Europeaan sonder God en Sy gebod.”
Van der Vyver staan in sy werk ‘n aansienlike gedeelte af aan die kwessie oor die Doppers se ‘besware teen die Gesange’ (p.202-212) en in sy voetnota 73[10] spreek hy sy verbasing uit omdat ‘n ander kerkhistorikus nie dit in sy werk vermeld nie, omdat dit ‘tog een van die kernpunte (is) waarom die stigting van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gedraai het.’
Van der Vyver wys daarop dat die Doppers hul beroep het op skrifgedeeltes soos Deut.4:2; Matt.15:9 en Op.22:19, om te bevestig:
“dat die invoer van die Gesange gelykstelling was van ‘n menslike geskrif met die geïnspireerde Woord van God. Met ‘n beroep op Art.7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis het hulle die Woord van God as volmaak en genoegsaam beskou, waaraan niks toegevoeg mog word nie. Die Gesange naas die Psalms in die erediens het hulle beskou as sodanige toevoeging.”[11]
Die Doppers het dit dus nie net teen die dwalende leerinhoud van die Gesange gehad het nie, maar ook en veral oor die feit dat dit vir hul menslike instellings en tradisies van mense was wat in stryd met die Skrif en belydenis was. Ook in die jare na 1859, is daar met twee versoeningspogings die breuk probeer herstel tussen die Nederduits Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk.
Die Hervormde Algemene Vergadering het sekere voorwaardes vir hereniging en versoening daargestel. Wat die Gesange betref, het hul hul voorwaarde vir die handhawing daarvan so verander dat elke leraar na sy eie gewete in die gemeentes kan handel, m.a.w. dat Gesange nie meer bindend was op die lidmate nie, soos voor 1859 nie. Ongeag van hierdie tegemoetkoming, het die Algemene vergadering van die Gereformeerde Kerk dit nogsteeds verwerp, en ge-eis dat die Ned. Herv. Kerk hul besluit oor die Gesange herroep, en in ‘n brief, gerig aan die President en die Uitvoerende Raad van die ZAR, stel hul dit as volg:
“Dat ons verschil geene menschlike inzettingen, maar op Gods Heilig Woord en het voorbeeld der welbeproefde Gereformeerde Kerk van al oude dagen en den wensch dat ook wij alzoo God naar zijn Woord ongehinderd mogen dienen in dezen lande, al zijn wij dan de minderheid.”[12]
As daar na vandag gekyk word, dan is dit hartseer om te erken dat ons huidige geslag nie die lesse van die geskiedenis geleer het nie, toe in die eerste helfte van die 19de eeu, in die beslissing van die Gesange:
“die hoogste gesag weereens nie uitgeoefen (is) deur Gods Woord nie, maar deur die meerderheid van die vergadering wat onder die vaandel van Gods Woord ‘n Gesangbundel met sy gereformeerd vreemde Supranaturalisme ingeskuif het. In wese het die valse Kollegialisme in die Gesangestryd gelei tot die uiterste konsekwensie van die Liberalisme: miskenning van die absolute gesag van Christus en sy Woord oor sy kerk.“[13]
Die sangkwessie staan sentraal in enige verdere bybelse reformasie. Die Gereformeerde Kerke van Nederland voor die Sinode van Dordt (1618/19) het slegs die 150 Psalms van Dawid gesing. Tydens Dordt is vyf Skrifberymings en die berymde Twaalf Artikels goedgekeur, met die doel om dit te beperk net tot daardie uitsonderings en niks meer nie,[14] en is, myns insiens, nie ‘n regverdiging vir die stortvloed skrifberymings, dogmatiese liedere en gesange, wat besig is om die kerke te oorspoel nie. Met Dordt se besluit, het ons voorvaders al Psalmsingende, hier na SA gekom.
Die GKSA het vanaf sy herstigting in 1859, die Gesange afgeweer, en Dordt se besluit gehandhaaf. Eers in die 1930’s is besluit, onder beswaar van verskillende gemeentes daarteen, om die bundel ‘Enige Gesange’ uit te brei met ‘berymde gedeeltes uit die Heilige Skrif,’ [15] en daarmee is die grondslag gelê vir artikel KO, artikel 69b, soos dit tans die waenhuisdeur is waardeur alle liedere die kerke ingesing kan word: ‘Ander Skrifberymings wat die sinode goedgekeur het, word in die vryheid van die kerkrade gelaat’.[16]
Tans is daar alreeds oor die 60 Skrifberymings wat besig is om die verbondsliedere van die Skrif, die Psalms, te verdring … Sinode 2003 het ook nog die sing van die dogmatiese lied, dit wil sê die vrye lied, die sing van Gesange, goedgekeur, en met Sinode 2012 is 18 Gesange bygevoeg, nadat Kerkorde artikel 69 verbreed is om Gesange in te sluit.[17]
Die GKSA was nog nooit streng gesproke ‘n Psalms ‘alleen’ singende Kerk nie, maar ten minste ‘n oorwegend Psalmssingende Kerk, maar dit is nou verby, ons is nou amptelik ook ‘n Gesangsingende Kerkverband, na 153 jaar.
[Sien hier meer oor die kerklied geskiedenis: Die Kerklied]
Opnuut is die geboorte en bestaansreg van die GKSA aangetas, nl. om God te dien soos Hy beveel, en nie volgens menslike insettinge nie.
Die vraag word al hoe meer aktueel: moet daar nog ‘n Gereformeerde Kerk van SA wees?
Moes daar een gewees het?
Moes ons Dopper voorvaders nie maar in die NG Kerk/Herv. Kerk gebly het en net die onregsinnige gesange uitgeweer het nie?
Volgens my kennis het ons susterskerke die meeste of al die onregsinnige gesange uit hul sangboeke geweer, is dit nie nou o.g.v. Joh.17 ons dure plig om terug te keer nie … om dalk verskoning te vra vir die verlede?
Ons reformatoriese voorgangers was van ‘n ander oortuiging as die huidige geslag. Ds. LS Kruger skryf as volg:
In Die Kerkbode (NG Kerktydskrif) van 24 November 1954 skryf dr. Jac. J. Muller dat die Gesange weer hersien moet word. Met hierdie verklaring bevestig die hooggeagte doktor van die N.G. Kerk die bogenoemde dwalinge in die Gesangbundel. Daarmee word dan ook ineens verklaar dat die Gereformeerde Kerk nog altyd reg was! Samevattend kan ons dit dus soos volg stel:
(a) Ons eerste beswaar teen die meeste van die Gesange is dat dit suiwer menslike liedere is, en as Gereformeerdes glo ons dat slegs die Woord van God tuis hoort in die erediens. Dit het nie ‘n Goddelike oorsprong soos die Psalms nie.
(b) Ons tweede beswaar is dat van die Gesange vreemde stempels dra, soos bv. van die Liberalisme, Rooms-Katolisisme en Remonstrantisme, en dus nie suiwer Skriftuurlik is nie. Om dit dan instemmend te sing beteken om jou met ‘n dwaalleer te verenig.
(c) Die derde beswaar is dat dit strydig is met die Skrif en die egte Gereformeerde leer, want ons glo dat in die erediens alleen die geopenbaarde Woord van God gebruik mag word. En volgens Openb.22:18 mag ons nie daarby voeg nie. Wie nou ‘n vrye lied wil inbring, gee daarmee te kenne dat ons die Skrifliedere as onvoldoende beskou en daarby wil aanvul. Nie alleen sondig ons daarmee teen die Woord van God nie maar ook teen God self deurdat ons daarmee te kenne wil gee dat die Psalms wat God in Sy Heilige Skrif daargestel het, onvoldoende is.[18]
Slot
U sien dus, geliefde lidmaat, die sing van die Psalms is nie maar bloot ‘n praktiese of tradisionele eienskap van die Dopperkerke nie. Dit staan sentraal saam met ander prinsipiële sake waarom ons kerke gestig is. Daarom moet dit ook vandag nog vir ons en ons nageslag kosbaar wees om aan die Psalms vas te hou en dit te sing tot lof en eer van God se Naam en opbou van sy gemeente … vir daardie Gereformeerde gemeentes in ‘n NG wordende kerkverband wat nog die naam dra dat hul Gereformeerd is, maar lankal en al hoe meer die Reformasie van 1859 volgens die Heilige Skrif en belydenis verlaat en vergeet het, in stryd met die waarheid wat Hebr.13:7 ons leer.
[1] ‘n Lewenssiening van “niks is reg of verkeerd nie, alles kan op die waarheid aanspraak maak”, dus ook in die kerklike leer en praktyk.
[2] Potchefstroom: Pro Rege, 1958, p.203. Beklemtoning en onderstreping bygevoeg – red.
[3] Sien Esra Verslag, nr.41 (Psalms), nr.45 (Feesdae), nr.49 (Kersfees en Gesange); nr.51 (Tydsgees in die Kerk); die Reformator reeks: nr.2 tot 7 (die titels verskyn in die binneblad); Sien ook die werke van B. Schwertley: Sola Scriptura and the Regulative Principle of Worship en Exlusive Psalmody.
[4] “In hoofsaak kom dit daarop neer dat die gebruik van die Gesange gesanksioneer word sonder om dit aan ‘n deeglike Skriftuurlike-konfessionele regsinnigheidstoets te onderwerp … Met hierdie caesaropie (met saamgaande Kollegialisme – red.) kon die Gereformeerdes hulle nie vereenselwig nie.”, Van der Vyver, ibid., p.216, 220.
[5] Ibid., p.206.
[6] Ibid., p.206-212.
[7] “Die besware teen die Gesange en die prediking ‘dat een mensch een eigen wil ter zaligheid heeft’ en bygevolg gemis aan ‘de zuivere predestinasie of uitverkiesingsleer’, is met die jare nie uitgewis nie”. ibid., p.291, 292
[8] Ibid., p.229.
[9] Van der Vyver, ibid., p.203.
[10] Ibid., p.202.
[11] Ibid., p.204, 205.
[12] Ibid., p.335.
[13] Ibid., p.288.
[14] Ds. HJ Venter verwoord dit as volg: “Wat gesing mag word, is alleen die 150 Psalms van Dawid en dan die by name genoemde gesange … Net die genoemde getal en niks meer nie, deur wie ook al gedig of hoe mooi ook al. Beslis en bewus is die deur toegemaak vir enige ander gesang of lied … My konklusie is dan dat die vadere in 1619 die sing van liedere of gesange behalwe die 150 Psalms van Dawid in die kerk verbied het, nie omdat Gods Woord dit verbied nie (die Bybel verbied dit nêrens uitdruklik nie; maar eis dit ook net so min), maar hulle het dit verbied op grond van hulle ervaring”, Aangehaal in Totuis se Versamelde Werke, deel 3: Die Erediens (Kaapstad: Tafelberg Uitgewers, 1977), p.444, 445. Opmerking: Myns insiens is ds. Venter in lyn met die Dordtse vaders se bedoeling, maar sy stelling ‘die Bybel verbied dit nêrens uitdruklik nie’ (wat die Luthers-Anglikaanse beginsels van die erediens is), is nie in lyn met die Gereformeerde beginsel van die erediens nie, naamlik: ‘As God dit nie beveel nie, is dit verbode’, soos dit bely word in HK, vr.&antw. 96. Dus, omdat God nie die sing van ander liedere (skrifberymings of gesange) beveel nie (maar slegs die Psalms – die sola Scriptura beginsel van die reformasie, toegepas in die sang van die erediens), daarom is dit verbode.
[15] Handelinge van Sinode 1939, p.99.
[16] Die Sinode van 1939 word geadviseer in dieselfde sitting “om die deputate vir Psalmberyming op te dra om die berymde Skrifgedeeltes met die nodige gepaste melodieë te voorsien, te groepeer, veral met die oog op die christelike feesdae.” By implikasie beteken dit dat die genoegsaamheid van die Psalms vir al ons lofsang op alle lewensterreine misken word (NGB, artikel 7), en verder dat die Skrifberymings vereis word om ons eiewillige godsdiens te dien, naamlik feesdae wat volgens menslike tradisies is en nie volgens God se bevel nie (Matt.15:9; sien ook HK, So.35; NGB 32). By implikasie word die genoegsaamheid van die Sondag as Sabbat ook misken en aangetas, en so is die vierde gebod ook in die spervuur (HK, So.38), soos dit ook vandag blyk met Sinode 2003 se wollerige besluite oor die rusdag.
[17] Handelinge van Sinode 2003, p.645.
[18] Waarom is u Lid van die Gereformeerde Kerk?, Pretoria: Craft Drukpers, 1956, p.143. Lees gerus hierdie boek om opnuut die historiese en prinsipiële begronding van die onstaan van die Dopperkerk te waardeer.
Leave a Reply