
DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS
Sondag 1
Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a)Rm 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is (b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word (c) en ten derde hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a)Mt 11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41; Mt 9:12; Rm 3:10; 1 Jn 1:9;10. (c) Joh 17:3; Hand 4:12 10:43. (d) Ef 5:10; Ps 50:14; Matt 5:16; 1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15
“If the people in a church do not believe the first question and answer to the Heidelberg Catechism, then everything else they may say or do doesn’t matter”. — Bishop Karl Ludwig of the Hungarian Reformed Calvin Synod
In gister se Beeld was daar weer ‘n skrywe wat die sonde van homoseksualisme probeer regverdig:
Oor Bybel word gays sondig genoem
[In vanoggend se Beeld is daar weer ‘n teoloog wat meen ons moet die Bybel ‘anders’ lees oor Satan en homoseksualisme: Geloof oor Satan berus nie op Bybel – teoloog. In antwoord op die berig, lees Openbaring 12, veral verse 3,4 en 9 (sien ook Op.20:2) en besluit wie om te glo: die teoloog of die Woord van God]
Hier het ek reeds oor soortgelyke argumente ten gunste van homoseksualisme meer in diepte geskrywe:
Ek plaas die brief volledig (in kursief gedruk) met ‘n paar opmerkings van my kant af, vooraf gemerk met my voorletters ‘slc’:
“Oor Bybel word gays sondig genoem
deur Buitekerlike Oud-dominee van Lyttelton skryf:
Ek gebruik ’n skuilnaam om my gay kind te beskerm teen liefdelose mense.”
slc: ja, ongelowige mense is maar wreed. Die gelowige beleef ook hierdie vervolging vanweë sy geloof baiemaal, maar ons mag ons nie skaam vir Christus of sy Woord nie:
“Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.” (Mark.8:38)
Daarom dat Paulus ook vir Timoteus oproep om hom nie te skaam vir wat hy glo of hulle wat daardie geloof verkondig nie (2 Tim.1:8,9):
Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is.
Ons mag ons vir geen Woord van God, Genesis 1 tot Openbaring 22 skaam nie, ook nie vir wat ons glo en die bedienaars van die Woord nie (en daarom is ons nie anonieme skrywers of anonieme verkondigers van die Evangelie nie). Ons mag ons ook nie skaam of walg vir daardie dele wat ons sondige natuur en opstand teen God in sy wese ontbloot nie, bv. 1 Kor.6:9,10:
“Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”
Watter sondes ons ookal mee worstel, ons mag dit nie goedpraat of aanvaar nie, ons moet nie dwaal nie, laasgenoemde is nog baie erger as struikeling in sonde, en daarom dat Jesus en Paulus se groot stryd teen die valse profete en leraars was wat ander ook mislei (Matt.5:19; Rom.1:32), en nie teen die prostitute en tollenaars wat hul sondes geken en gehaat het nie.
Petrus skryf in sy laaste brief (2 Pe 3) ook van die spotters wat die ware leer ontken en daarom ‘volgens hul eie begeerlikhede [eie-willigheid] wandel’ (v.3). Die gevolg van hul ongeloof en sondige begeertes is dat hul dan kardinale geloofswaarhede begin ontken wat volgens die ‘woord van God’ aan hul ge-openbaar is (v.5).
Die stryd teen ons eie sondes is daarom tegelyk ‘n stryd vir die waarheid en die ware leer, soos Paulus ons dan ook oproep in 1 Tim.4:16. Dit blyk dus dat u moeg geword het om daardie stryd te stry, en my gebed vir u is dat die Gees van God u opnuut sal bekeer en versterk om die goeie stryd te stry teen die eie sondes en oral waar dit woed in ons wêreld. As u u nie bekeer nie, geld die woorde van 1 Joh.2:19,24. Ek veroordeel u nie, want dit is nie maklik nie, ‘n mens beleef elke dag die stryd van die eie sonde, wêreld en die Satan, veral as geliefdes betrokke is, wat ons wil mislei weg van God se Woord en die enigste verlossing en troos in Jesus Christus.
“Dinsdagoggend op RSG was daar ’n gesprek oor gay persone en kerke. Ek was ’n predikant in ’n tradisionele Afrikaanse kerk. Een van die beste besluite in my lewe was om uit dié kerk te bedank, onder meer oor hul veroordelende standpunt oor gay persone.”
slc: U klink ongelukkig self baie veroordelend met hierdie sin, wat van Matt.7:1-5 wat seker vir ons almal geld en ‘n waarskuwing is ? Ek weet ek is baie keer skuldig daaraan, en moet daarom teen hierdie sonde om te vinnig te wil veroordeel – soos ander teen homoseksualisme – stry, ons mag nooit vrede maak met die werke van die duisternis nie, nog minder met die owerste van hierdie wêreld (Jes.48:22; Jak.4:7-8).
“Ek stik van walging wanneer ek hoor: “Ons is lief vir sondaars, maar ons haat die sonde.” Dié taal doen mense skade aan. Dit openbaar ’n houding wat sê: “We’re okay, you’re not.”
slc: Die Bybel, die Woord van God leer dat God haat die sonde én sondaar wat hom nie tot Hom bekeer nie, Hy haat die goddelose wat Hom verag en in sy sonde en opstand begin roem (Ps.2:1-3), Hy haat die valse profete wat arme sondaars soos ons wil leer: bly in jou sonde (watter ookal), dit pla die Here nie, en erger: die Here sal jou daarvoor seën (Ps.5:6; 11:5; 45:8; 139:121,122; Spr.28:4,9; Hos.9:15; Mal.2:17; Rom.9:13; 1 Kor.16:22). Dit is nie ‘sonde’ as abstrakte idee wat in die ewige hel gepynig gaan word nie, maar goddelose mense wat volhard het in hul sondige denke en lewenswyse en nie na Christus gevlug het nie, Hom verwerp het (Matt.25:31-46).
“Ek is heteroseksueel en ek weet gay persone is nie “afwykend”, “immoreel” of “sondig” nie.”
slc: sal graag wil weet hoe u dit ‘weet’ en wat is u gesag om so uitspraak te maak, en hoekom moet ons dit glo, bloot omdat u dit sê ? Wat van die volgende sin: “Ek is heteroseksueel en ek weet verkragters en molesteerders is nie “afwykend”, “immoreel” of “sondig” nie.” Hoe antwoord u dit vanuit u ‘etiese lees’ van die Bybel ?
“Tog het ek nie veel hoop dat tradisionele en fundamentalistiese kerke hul standpunte oor gay persone sal verander nie. Die rede hiervoor is die Bybel. Tradisionele, fundamentalistiese godsdiens is ’n boekgodsdiens waarin mense net soveel in die Bybel as in God glo.”
slc: Soos die Bybel ons leer en die dissipels van Christus doen, Joh.2:22; 5:46,47; 8:31-36, en die hele Psalm 119. Sien ook 2 Tim.3:15-17. Christene is mense van die Boek, omdat alle gelowiges dit nog altyd was, en omdat Christus dit was (Daar staan geskrywe … Matt.4:1-11), so ook al die profete (Ps.119) en die apostels (gaan lees hoeveel aanhalings/verwysings daar na die OT is in bv Rom.9-11).
“Die Bybel is volgens sulke Christene “God se Woord”. Solank mense so dink, gebruik hulle tekste om mense disnis te moker.”
slc: Ons glo en bely dit van harte omdat die Gees van God in ons harte daarvan getuig en omdat die Bybel self getuig dit is Woord van God (NGB art.2-7). En, as met ‘moker’ bedoel word om in liefde, krag en deernis ons ‘enigste troos’ te verkondig (HK Sondag 1), nl.:
– hoe groot ons sonde/ellende is,
– hoe ons verlos word daarvan in Christus, en
– hoe ons dan ‘n dankbare gehoorsame lewe deur Sy Gees en Woord moet lei volgens sy goeie Wet,
dan moet daar nog baie gemoker word – baie sesse geslaan word – in ons kerke en ons land, tydig en ontydig (2 Tim.4:1,2) !
So het Christus en Paulus ook gedoen en moet ons hulle navolg: Mark.1:14,15; Joh.2:13-22; Hand.17:16,17,30,31.
“Ek beskou die Bybel as ’n boek waarin mense se ervarings van hul werklikhede neergeskryf is. Maar dit bied ook ’n uiters ontstellende prentjie van hoe hulle hul eie kulturele waardes as “God se wil” gevestig het. Daarom kon mense wat “anders” was, veroordeel en selfs doodgemaak word. “
slc: soos u nou doen, besig om te veroordeel en in u hart God, Christus en sy Kerk ‘dood te maak’ met u haat en bitterheid ? U kulturele (menseregte moderne) ‘waarde’ is dat homoseksualisme – kontra die Bybel – nie sonde is nie, en daarom besluit u dat u wil is nou ‘God se wil’ en daarom moet die Bybel en die Christelike geloof en die Christelike kerk verander om by u (en ons almal) se sondige wille en grille aan te pas ? Ten minste volg u valse moraliteit/etiek konsekwent uit u dwalende valse Skrifbeskouing en ongeloof in sy Woord, soos Spr.4:23 en 1 Kor.15:33 aandui.
Die Bybel is God se Woord deur mense, wat alles insluit van hul menswees soos God dit deur sy Gees gelei en bepaal het, sodat ons die onfeilbare Woord van God het soos dit opgeteken is in die Heilige Skrif.
Ek pleit vir “etiese” leierskap in kerke, en as mense dan tog die Bybel in sulke gesprekke wil bysleep, vir ’n etiese lees van die Bybel.”
slc: ek het al gehoor van hierdie onverdraagsame manier van lees van die Bybel, en as u uit dieselfde ‘gebarste postmodernistiese reënbakke’ (Jer.2:13) dring as wat ek dink u lees, sien gerus die volgende skrywe om te sien hoe onverdraagdaam en liefdeloos hierdie nuwe (ou?) ‘etiese lees’ van die Bybel is:
Die nuwe onverdraagsame manier om die Bybel ‘anders’ te lees
“Mense is belangriker as die Bybel. In dieselfde Bybel wat so kwistig gebruik word om mense te veroordeel, staan daar ook dat God liefde is en waar liefde is, is geen vrees nie. Ek glo God se liefde is inklusief en dat dit gesprekke soos dié en kerke se denke oor gay persone behoort te rig.”
Hoekom ‘liefde’ as konsep en idee aanvaar en nog wil handhaaf, maar nie ook ‘geregtigheid, wet, sonde, homoseksualisme’, ens. nie ?
Oud pro-gay dominee se ‘etiese lees’ van die Bybel eindig (en gaan in) in totale anargie, chaos, bandeloosheid, immoraliteit en opstand eindig, na aanleiding van die Rigters skrywer se woorde(21:25), aangepas vir ons tye:
“In die dae van die etiese lees van die Bybel in die nuwe SA was daar geen reg en verkeerd in die kerke en land nie, elkeen het gedoen wat reg was in sy oë en volgens sy eie sondige begeertes en wille en grille van die moderne tydsgees.” (NAV 2016?)
Slot
Ons harte moet uitgaan aan elkeen – manlik of vroulik – wat worstel met die sondige gedagtes en dade van homoseksualisme, net soos ons almal moet stry en worstel teen ‘heteroseksuele sondes’ in woord, daad én gedagte (Matt.5:27-30).
Mag die Here hulle en elkeen van ons bewaar van die valse profete wat die ‘etiese lees’ van die Goddelike Woord voorstaan, hulle wie reeds veroordeel staan volgens 2 Tim.4:3,4.
As bemoediging en hoop vir elke sondaar wat stry teen die sonde, spesifiek homoseksualisme, maar ook enige ander ‘etiese/immorele’ sondes volgens 1 Kor.6:9,10, bied ek hierdie bybelstudie/beradingsprogram aan gebaseer op die Skrif en die belydenis, spesifiek die Heidelbergse Kategismus bybelse model van sonde, verlossing en dankbaarheid.
Mag die Here ook dit gebruik om iewers een van sy kinders te help om waarlik tot ‘n sondebesef te kom, na Christus alleen te vlug (1 Kor.6:11 wat volg op 1 Kor.6:9,10!), en dan saam met al ons anders begenadigde sondaars daagliks en ons hele lewe lank te stry teen die sonde in ‘n lewe van dankbaarheid volgens sy Gees en Woord, hoe langer hoe meer.
Laat ons ons almal walg vir ons eie sondes van die hart, van woorde en gedagtes (Jes.6:5; Luk.5:8; 1 Tim.1:15) teen ons goeie, heilige en regverdige Vader wat in die hemel is; laat ons ons nié walg vir ons Vader se goeie wil soos geopenbaar in die Skrif, of vir sy goeie Wet, of vir sy Seun en sy Woord, of vir sy dienaars of vir sy Kerk nie (Hebr.13:7):
“Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na.”
Ons skaam ons vir ons sondes, en nie vir die Evangelie nie, wat ‘n krag is vir elkeen wat glo – ook vir die homoseksualis ! (Rom.1:16)
BYBELSTUDIE PROGRAM VIR HOMOSEKSUELE LIDMATE
Program
Oorsig: Die program word aangebied volgens die struktuur en raamwerk van die Heidelbergse Kategismus: sonde, verlossing en dankbaarheid. Elke week word ‘n afdeling behandel met ‘n tabel, en na vier weke eindig dit met ‘n nasorg-bybelstudieprogram wat hersiening doen van die afgelope 4 weke se studie asook ‘n voorgestelde bybelstudie vir die toekoms.
Week 1: Basiese beginsels (Tabel 1)
Tema: Die Woord van God bepaal ons leer en lewe
Week 2: Sonde (Tabel 2)
Tema: homoseksualiteit is sonde
Week 3: Verlossing (Tabel 3)
Tema: Christus red sy kinders van alle sonde
Week 4: Dankbaarheid (Tabel 4)
Tema: Lewe as heilige kind van God in dankbaarheid
Week 5: Nasorg-bybelstudieprogram
Tema: hersiening van vorige weke se werk en bybelstudie vir toekoms
Hier is die res van die program:
Bybelstudie program vir homoseksuele lidmate volgens die Heidelbergse Kategismus model
“[In vanoggend se Beeld is daar weer ‘n teoloog wat meen ons moet die Bybel ‘anders’ lees oor Satan…”
Prof van Eck se argument is juis dat ons die Bybel moet lees, en dat ons standpunt oor die Satan nie gegrond oet wees op buite-Bybelse bronne nie.
Het van Eck Op.12 (v.3,4, 9, so ook 2 Pe 2:4, Judas 6, Op.20:2) gelees en wat is sy verklaring daarvan, want hierdie Skrifgedeeltes leer wat hy ontken: “Een voorbeeld daarvan is dat baie mense dink die oorsprong van die duiwel is dat Satan tydens die skepping teen God gerebelleer het. Hy is toe saam met ’n derde van die engele uit die hemel geban.” ?
As jy die hele lesing het stuur dit gerus vir my aan, sal graag na sy verklaring wil kyk, die koerant gee nie veel inligting nie.
Slabbert
Die probleem is dat liberale teologie die sondeval verwerp. Die mens is dus nou nog soos God ons bedoel het om te wees toe hy ons geskep het. Daar kan dus nie onderskeid getref word tussen die sondaar en die sonde nie.
Sonde is destruktief, en volgens PAulus is seksuele sonde meer destruktief as ander, want ons pleeg dit in ons liggame.
Liberale teologie met sy verwerping van die sondeval, bied geen hoop vir enige sondaar dat hy van sy destruktiewe gedragspatroon verlos kan word nie. Dit is absoluut hoop loos. Daar is geen vooruitsig op ‘n oorwinningslewe nie. Die beste wat ek kan doen is om my sonde aan te gryp.
En dit is die enigste uitweg: As jy nie die sondaar van sy destruktiewe gedrag (sonde) kan onderskei nie, moet jy sy destruktiewe gedrag noodwendig liefhê as jy hom liefhet.
As ‘n familielid van ‘n drankverslaafde vir hom drank uit liefde aandra, is dit waarlik liefde?
Die pa wat hierdie brief geskryf het bemagtig sy seun se destruktiewe gedrag, Soos ‘n persoon wat ‘n alkoholis bemagtig.
Dit is nie liefde nie. Ek is nie seker wat dit is nie, maar liefde is dit beslis nie.
Wynand
Wynand, dit is Rom.6:1 in aksie, maar Paulus se antwoord daarop is v.2,3. Jy is reg, ware liefde is nie bly oor die ‘ongeregtigheid’ nie (1 Kor.13:6) en strewe na die volle uitvoering van die wet deur sy Gees, Rom.13:8-10. So leer Jesus ons ook, Joh.14:15.
Die Satan haat God se Woord, haat Christus en daarom wil hul nie meer die Bybel hoor nie, daarom dat hul spot as daar ‘versies’ aangehaal word en probeer hul dit afmaak as ‘letterknegtery’. Dit is die valse profete, godsdienstige leiers wat met ‘akademie’ arme mense mislei, en wil laat leer om volgens jou sondige wil en begeertes te wandel, sien 2 Pe.3:3.
Ons moet egter God meer gehoorsaam wees as mense se dwalinge en tydig en ontydig die Woord laat hoor, verkondig, laat lees, ens.
Slabbert,
Ek stem volkome met jou siening saam. Ek het al met baie homoseksuele mans te doen gehad. Nie een van hulle was nie as kind gemollesteer nie. Dis hartseer, maar dis waar dit telkens begin het!
Maar daarvandaan verder loop dieselfde pad: Nie een van hulle is nie verslaaf aan pornografie nie. Nie een van hulle het nie ‘n perverse seksuele verhouding met talle ander mans nie. Nie een van hulle sien die sekduele as uitsluitlik vir ‘n huweliksmaat nie (Selfs nie dié wat sogenaamd ‘n homoseksuele huwelik wil aangaan nie!) Nie een sien die seksuele eenwording as heilig, of afgesonder tot God se eer nie. Elkeen met wie ek te doen gehad het sien dit as totaal selfgerig en selfbevredigend – die eie ek en my plesier. Dit alles is sonde en word deur hul eie sondige begeertes voortgedryf!
En daarmee sê ek nie dat hetero seksueles nie sondig is nie. Dit lyk vir my feitlik al bogenoemde uitlopers van die sonde net so in dik strome binne die hetero seksuele gemeenskap en binne ons eie mense se huwelike voorkom! Met dieselfde vermaning wat tot die homoseksuele mens kom, en oproep tot sonde belydenis en bekering, kom tot húlle. Of ons die Bybel wil aanvaar of nie, “min is dit wat gered sal word” Nie oor die sonde nie, maar oor die onwilligheid om met die sonde te breek, die vergifnis te aanvaar en ‘n weg van heiligmaking te stap.
En ek moet sê, ek ken ‘n hele paar voormalige “homoseksuele” mans wat die weg van God se verlossing gestap het en ‘n Goddelike lewe saam met sy vrou en kinders stap. As God jou vry gemaak het, sal jy waarlik vry wees!
Die hartseerste van die hele saak rondom die homoseksuele kwessie is tweërlei. Aan die een kant die negeer van die Woord van God, wat sonde, verlossing en dankbare lewe van oorwinning betref. Daarmee verdoem hulle die homoseksuele tot ‘n lewe in sonde, en die hartseer wat hulle lewenslank in hul binneste beleef, is ‘n werklikheid ten spyte van hul sogenaamde “gay” gelukkige lewe!
Die tweede is die bewering dat God hulle so gemaak het, en dit ten spyte daarvan dat geen wetenskaplike studie dit nog kon bevestig nie, maar dat talle studies met monosigotiese tweelinge juis bewys dat mense nìè so gebore word nie! Daarmee word hierdie mense tot geen uitsig op “uitkom” verdoem! En dis ‘n leuen, want God is nie “stupid” om hulle so te skep nie!
Seën,
Herman.
Herman, in aansluiting by jou laaste punt, ek wonder of die gay-profete (wat dit dus in beginsel goedkeur as reg en goed voor God) besef wat hul besig is om te doen ?
1. soos jy noem, tas hul God se eer as Skepper aan, en beweer dat Hy nie alles ‘baie goed’ (Gen.1:31) geskep het nie, d.w.s. dat geslagtelikheid tussen man en vrou nie goed en veral ‘genoeg’ was en nog is nie, ons as mense weet van beter, daarom homoseksualisme en ander perverte geslagvorme wat ons probeer uitdink. Dit is die aap van God se werk, die Satan,
2. nie net word die skepping en daardeur die Skepper aangetas nie, maar tweedens, omdat hul glo gays hoef nie (soos ons almal) gered te word van sonde nie, tas hul in wese die herskepping aan, Jesus Christus en sy bloed, want die implikasie van hul valse leer is dat die bloed van Christus kan ons nie red en reinig van ‘alle’ sondes nie, terwyl die Skrif leer:
1 Joh.1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van ALLE ongeregtigheid te reinig.”
En nog erger, hul maak met hul valse evangelie God tot ‘n leuenaar:
10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ‘n leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
Dit is die werk van die Antichris én liefdeloosheid teenoor verlore sondaars.
Die oud-ds word mislei en mislei homself, hy is nie lief vir sy kind nie, anders sou hy by die waarheid gebly het en in deernis en liefde die volgende woorde – wat v.10 volg – aan homself en sy seun voorgehou het:
1 Joh.2:1-2 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
(en daaruit vloei dan ‘n lewe van dankbaarheid volgens sy wet, sien verse 4-6, en as ek nie volgens sy gebooie wil wandel nie, is ek nie uit die waarheid nie, dus nie kind van God nie, dan het ek nog nie 1 Joh.2:1,2 omhels nie)
Dit is ware liefde, die Evangelie wat ons red van die sonde tot die heiligmaking, al is dit nie maklik nie.
AMEN!
Ek wil nie eendag in daardie oud-ds. se skoene staan nie. Rom.1:32 sê: “…mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.”
Hoe staan mens met die Bybel onder die arm in jou eie kind se pad tot herstel? Glo die man nie in die almag van God nie? Het hy in sy jare nooit God sien ingryp in sondaars se lewe nie? Daar is mense wat só saam met die stroom spoel dat hulle nooit God toelaat om ‘n wonder in hulle lewe te laat gebeur nie. Met hul verklaring en aanvaarding van sonde bied hulle geen ruimte vir die wonder van verlossing uit sonde nie! En dit teenoor sy eie vlees en bloed!
Vandag se brief in Beeld is amper erger.