Die gesag van die Heilige Skrif
deur ds. Cobus Rossouw
(Ds. AJ Rossouw is predikant van die GK Daspoort in Pretoria. Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in die Esra Verslag, Jg.11, nr.54, 2003)
Inleiding
Ons leef in ‘n tyd waar dit beweer word dat vir die mens wat homself nie teologies gekwalifiseer het nie, dit al hoe moeiliker word om die woord van die HERE te verstaan. Gedeeltes in die Bybel waarvan die betekenis voorheen voor die hand liggend was moet nou in die lig van nuwe navorsing of die heersende kultuur van die tyd toe ‘n spesifieke Bybel boek geskryf is verstaan word. Die dilemma van hierdie nuwe toedrag van sake is egter dat nie elke kind van God oor die hierdie nuwe kennis beskik om die Bybel reg te kan verstaan nie. Ds. Ron Cammenga sê die volgende hier oor:
“In elk geval – laat ons dit duidelik besef – indien die moderne standpunt die stryd wen is eerstens, die hele leer oor die onfeilbaarheid en die gesag van die Skrif by die venster uit. En tweedens is die duidelikheid en die verstaanbaarheid van die Skrif daarmee heen en geen gewone Christen sal in staat wees om die Bybel meer te lees en te verstaan nie. Hy sal moet vertrou op die kundiges wat insig het in die kulturele, linguistiese, filosofiese en historiese oorwegings wat die skrywers van die Bybel beïnvloed het. Soos gebeur het in die Roomse Kerk voor die Reformasie, sal die Bybel uit die hande van die gewone mens geneem word en weer beperk word tot ‘n hiërargie van kundiges. God bewaar ons van so ‘n ramp!”1)
Teen hierdie agtergrond is dit dan belangrik om weereens te kyk na wat die gesag van die Skrif behels. Dit is dan ook nodig om ons getuie oor hierdie saak te laat hoor te midde van ‘n al hoe groter wordende denkstroom wat leer dat die betekenis van die Skrif net duidelik is gesien in die lig van sogenaamde nuwe navorsing, kulturele, linguistiese, filosofiese en historiese oorwegings wat die skrywers van die Bybel beïnvloed het.
In teenstelling met die tyd waarin ons nou leef – met al die nuwe kennis wat ons verstaan van die Bybel moet verander – was daar veral in ons land ‘n tyd toe ‘n persoon van ‘n saak oortuig kon word deur aan hom ten opsigte van hierdie spesifieke saak eenvoudig te sê: “Dit staan in die Bybel”. Daarmee was die probleem dan opgelos en afgehandel en almal het hulle daarby berus. Hierdie is egter ‘n situasie wat nie meer vandag bestaan nie. Die probleem rondom Skrifgesag is egter nie ‘n totaal nuwe probleem nie. Wanneer Calvyn in die sestiende eeu in sy Institusie van die Christelike Godsdiens oor die geloofwaardigheid van die Bybel skryf, lees ons die volgende:
“Ek weet wel watter lawaai sommige deugniete in hulle hoekies maak met die oog daarop om hulle eie skerpsinnigheid in die bestryding van die waarheid van God te vertoon. Want hulle vra wie ons die versekering gegee het dat Moses en die profete die woorde geskrywe het wat ons onder hulle name lees. Ja, hulle waag selfs om die vraag te opper of daar ooit ‘n Moses was.”2)
Ons sien dus dat die saak rondom die gesag van God se Woord ‘n baie ou stryd is. ‘n Mens sou kon sê dat dit juis hierdie stryd is wat aanleiding tot die sondeval gegee het. Dit was immers die Satan, die vader van die leun, wat vir Eva vra: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1) en dan wanneer Eva aan die Satan gesê het wat God hulle beveel het en dat hulle met die dood gestraf sou word as hulle God se bevele sou verontagsaam, ontken die Satan die gesag van God se Woord en sê aan Eva: “Julle sal gewis nie sterwe nie” (Genesis 3:4).
Ons sien dus dat die oorsprong van die mens se ontkenning van die gesag van die Skrif by die sondeval te vinde is. Die stelling wat ek hier maak is egter al klaar ‘n stelling wat voortvloei uit die inneem van ‘n sekere geloofstandpunt. As iemand dus nie glo in die Drie-enige God nie, sal hy geen waarde wil heg aan die Bybel wat die Woord van God is nie (1 Kor.2:14 – 16). Ten diepste gaan dit dus hier om ‘n stryd tussen God en die Satan. Daarom is daar dan ook vir ons as kinders van die HERE die wonderlike vooruitsig op die oorwinning by die wederkoms van die Here Jesus Christus wanneer Hy finaal die Satan en sy engele saam met die vervloekte mense in die ewige straf sal werp (Mattheüs 25:41, Openbaring 21:8). Dit is dan ook met hierdie oorwinning voor oë wat ons elke dag gehoorsaam aan God ook stry teen die bose, ook wanner die gesag van die Skrif bevraagteken, verwerp of afgewater word.
Dit is dan teen hierdie agtergrond wat elke kind van God opgeroep word om ook ten opsigte van die saak rondom die gesag van die Woord van God hulle belydenis te laat hoor. In hierdie belydenis moet die probleem van die dag egter ook aangespreek word en daarom sal dit altyd vir die kinders van God nodig wees om oor hierdie sake te dink, te getuig en daaroor te skryf.
Binne die bestek van hierdie standpuntinname gaan daar dan gekyk word na die volgende sake:
Die rede hoekom die mens die gesag van die Skrif nodig het.
Die wyse waarop die mens hierdie gesag aanvaar.
Spesifieke aanslae teen hierdie gesag en antwoorde daarop.
Daar gaan dus gepoog word om aan te dui wat Skrifgesag behels en dan sal sekere dwalings vanuit hierdie standpunt weerlê word.
Wat is Skrifgesag?
Waarom het die mens die gesag van die Skrif nodig?
Ons leer uit die Woord van God dat God die mens op die sesde skeppingsdag geskape het volgens Sy beeld (Genesis 1:26). Verder het God in ‘n verhouding met die mens gestaan en die mens was in staat om God reg te ken en te dien. Ons leer in Genesis 3 van die sondeval. Die sondeval vernietig hierdie verhouding met God in sy totaliteit en bring mee dat die straf van God op die mens rus. As gevolg van die feit dat God die mens egter as ‘n verhoudings- wese in ‘n verhouding met Homself geskep het,3) is die mens altyd soekend besig om weer in ‘n verhouding met ‘n god te wees. Hierdie god is egter nie die ware Drie-enige God nie, trouens die mens wil nie hierdie ware Drie-enige God soek nie. Om tot God te kom is dus vir die in-sonde-gevalle mens ‘n saak van onmoontlikheid. So leer die Heilige Gees ons dan ook by monde van die apostel in Romeine 1:18 – 21
“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk. Omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hulle oorlegginge, en hulle onverstandige hart is verduister.”
Daarom bely gelowiges ook soos volg in die Dordtse leerreëls:
“Na die sondeval het daar in die mens tog nog ‘n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ‘n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in sekere mate ‘n strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer.”4)
Uit bogenoemde word dan geleer dat die mens as gevolg van die wyse waarop hy deur God geskape is altyd oorsprong-soekend of soekend na ‘n god is. Uit die lig van die natuur kan hy dit egter nie reg kry om by die ware God uit te kom nie. Hierdie lig wat in hom oorgebly het ontneem hom egter van enige verontskuldiging en stort hom daarom nog dieper die verderf in. Na aanleiding hiervan verstaan ons dan dat ons vanuit ‘n bron buite ons self tot ware kennis van God gebring moet word. Hierdie bron is die Woord van God. Hierdie waarheid word onder andere in Psalm 19 aan ons geleer. Johannes Calvyn sê die volgende hieromtrent:
“Daarom vermeld dieselfde profeet dat die hemel die heerlikheid van God vertel, dat die uitspansel die werke van Sy hande verkondig en dat Sy majesteit deur die gereelde opvolging van dag en nag geroem word. Daarop keer hy tot die vermelding van die Woord terug en sê: ‘Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.’ Want al sou hy ook ander gebruike van die wet ken, bedoel hy tog in besonder dat hierdie wet ‘n sonderlinge skool vir die kinders van God is, aangesien Hy al die volke deur die aanskoue van die hemel en die aarde tevergeefs na Hom toe nooi.”5)
Ons moet daarom sê dat ons vanuit die Woord van God die saligmakende kennis van God verkry, verder is die Woord van God vir ons genoegsaam om ‘n salige lewe tot eer van God te leef.
Bogenoemde wys die absolute belangrikheid en noodsaaklikheid van die gesag van die Skrif. Dit is inderdaad ‘n saak om lewe en dood.
Die wyse waarop die Woord van God vir ons die hoogste gesag is
Ons aanvaar die gesag van die Woord van God vanuit ons geloof in Hom.
Ons bely in artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat handel oor die gesag van die Skrif die volgende:
“Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”6)
Ons bely dus dat ‘n mens die gesag van die Woord aanvaar wanneer jy ‘n gelowige is. Uit die Woord van God leer ons dan ook dat die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie, omdat dit vir hom dwaasheid is en hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word (1 Korinthiërs 2:14). Lloyd-Jones sê dan ook die volgende:
“A man who is not a Christian cannot believe in the authority of the Scripture”7)
Dit moet dan baie duidelik gestel word dat die Woord van God gesaghebbend is ongeag ons erkenning daarvan of nie. Ons aanvaar die Bybel egter as gesagvolle Woord van God deurdat die Heilige Gees dit in ons harte bewerk om dit te glo. Daarom moet ons daarteen waak om in die slaggat te trap om te probeer bewys dat die Bybel waar is. Dit gebeur veral in ons moderne tyd waar almal swig voor die sogenaamde gesag van die wetenskap. Dit gebeur dan alte gou dat ons probeer om die boodskap van die Bybel aan te pas by die huidige wetenskaplike bevindinge. So word daar baie maal in ‘n poging om die Bybelse skeppingsverhaal te versoen met die sekulêre wetenskap, beweer dat ons meer moet konsentreer op die feit dat God geskep het as op die detail van hoe die skepping plaas gevind het soos wat dit in die Bybel beskryf word. Ons moet dus meer klem lê op die boodskap as op die feite. 8) Hieroor skryf Noel Weeks die volgende:
“We should see to it that our science is in accord with what the text tells us. Yet the text is not primarily concerned with giving us answers to the questions posed by unbelieving science. We may trust that such answers will come as we persue our science on the foundations laid by the Biblical narrative. However, the text and its concerns must be the guide to our interpretation, not the questions posed by science.”9)
Verder is dit vir ons as in-sonde-gevalle mense onmoontlik om te bewys dat die Bybel waar is of nie. Die moment wat ons so ‘n taak sou aanpak sou ons besig wees om die Bybel te meet aan een of ander standaard wat dan ‘n hoër gesag as die Bybel sou moes hê.10)
Hiermee ontken ons nie die waarde van opgrawings en bewyse in buite-Bybelse geskiedenisbronne wat ooreenstem met die dinge wat in die Bybel genoem word nie. Hierdie bewyse is egter baie waardevolle hulpmiddels vir die gelowige maar is nie by magte om die ongelowige tot geloof in die Woord van God te bring nie.11)
Die gesag van die Woord spruit uit Homself voort
Ons bely in artikel 3 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat handel oor die geskrewe Woord van God die volgende:
“Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Petrus 1:21). Daarna het God deur Sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om Sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met Sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige Goddelike Skrif.”12)
Nog ‘n Skrif verwysing wat hier genoem kan word, is 2 Timotheüs 3:16 en 17 wat soos volg lui:
“Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Saam met Guido de Bres bely ons dus dat die Bybel in Homself die bewys het dat dit die Woord van God is.
Na verdere ondersoek word bevind dat daar oral in die Ou Testament aangedui word dat ons hier nie met mense werk te doen het nie maar met die Woord van God. In Genesis 1:3 lees ons: “En God het gesê…”; by die verbondsluiting met Abraham hoor ons in Genesis 17:3 “Toe val Abram op sy gesig, en God het met hom gespreek en gesê…”; wanneer God die wet in Exodus 20 afkondig hoor ons weereens “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê…”. So vind ons dan dat hierdie woorde 3808 keer in die Ou Testament gebruik word.13) Ook is die hele Ou Testament deur die Israeliete as Woord van God aanvaar. Hierdie feit word aan ons geleer deur die Heilige Gees wanneer Paulus in Romeine 3:1 en 2 ‘n argument op hierdie veronderstelling bou, hy vra naamlik:
“Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is.”
Verder kan ons uit die vervulling van die profesieë in die Ou Testament sien dat die Woord van God die waarheid is.14) So lees ons dan in Jesaja 39:6 en 7 van Juda se ballingskap en in Jesaja 45:1 van Kores wat deur die HERE verwek word om Sy volk te bevry. Hierdie is alles gebeure wat plaas gevind het net soos wat dit voorspel is. Ons kan dus uit hierdie gegewens sien dat die Bybel in Homself bewyse van waarheid en gesag het.
Ook die Here Jesus Christus het die Ou Testament as waar en gesagvol beskou. Ons sien in Mattheüs 4 hoe Jesus toe Hy deur die Satan versoek is, telkens die Satan vanuit die Ou Testament antwoord en veroordeel.15) Wanneer Jesus in Mattheüs 19 deur die Fariseërs versoek word deur aan Hom te vra of dit vir ‘n man geoorloof is om van sy vrou te skei, antwoord Jesus hulle met verwysing na die skeppingsgeskiedenis. Jesus het dus hier ter stawing van Sy argument na die detail van die skeppingsgeskiedenis verwys en dit nie afgewater tot ‘n oorhoofse boodskap waarin die detail nie belangrik is nie. Noel Weeks sê die volgende hieromtrent:
“Putting all these passages together, we find it very hard to avoid the conclusion that the New Testament authors, including the Lord Jesus Christ himself, were reading Genesis 2 and 3 as a historical narrative.”16)
Verder sien ons dat wanneer Jesus aantoon dat Hy die Messias is, Hy altyd dit doen vanuit die Ou Testament. Hier kan ons as voorbeelde noem dat Jesus die Fariseërs na Psalm 110 verwys as Hy hulle in Mattheüs 22 konfronteer aangaande wie die Christus is; in Lukas 24:27 en 24:44 sê Jesus aan die Emmaüsgangers en Sy dissipels onderskeidelik dat die hele Ou Testament van Hom spreek. Uit bogenoemde standpunte van Jesus Christus sien ons dat Hy die gesag van die Skrif sonder voorbehoud en buite-Bybelse invloede erken het.
Die Apostels het ook soos Jesus die Ou Testament as waar en gesagvol beskou. So sien ons dan dat Petrus in Handelinge 2 tydens sy kragtige preek op pinksterdag, vanuit Psalm 110 aantoon dat Jesus die Christus is. Verder sien ons ook hoe die Apostel Paulus in 1Timotheüs 2 gedryf deur die Heilige Gees uit die skeppingsgeskiedenis aantoon wat die Godgewilde taak van die man en die vrou in ons diens aan God is. En wanneer daar in 2 Petrus 3 oor die wederkoms van Jesus Christus gepraat word, word ons gedagtes opgehef tot die oordenking van die sondvloed geskiedenis.17)
Tot dusver het ons gesien dat die Ou Testament uit Homself gesag put. Verder het ons ook gesien dat Jesus Christus die gesag van die Ou Testament bevestig deurdat Hy daaruit leer, leef en Sy Messiasskap daaruit bevestig. Daar bestaan egter nog die vraag oor waarin die gesag van die Nuwe Testament geleë is. Die gesag van die Nuwe Testament is geleë in die apostel-amp. Ons lees in Mattheüs 10 dat Jesus aan die dissipels gesag gegee het oor onreine geeste om hulle te kon uitdryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. Daarna het Jesus hulle uitgestuur om die evangelie te verkondig. Sonder hierdie gesag wat deur Christus aan die dissipels gegee is, kon hulle niks doen nie. Ons lees ook in Johannes 16:13 die volgende woorde van Jesus aan Sy dissipels:
“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”
Hieruit kan ons dan sien dat dit wat die Apostels gesê en geskryf het deur die Gees in hulle gewerk is. Daarom kan ons dan sê dat die gesag van die Nuwe Testament op die gesag van die Apostels berus wat van God af kom.18)
Uit bogenoemde sake kan gesien word dat die Skrif se gesag uit die Skrif self voortvloeiend is. Dit gebeur wanneer die Ou Testament uit Homself gesag put, as Jesus en die Apostels die gesag van die Ou Testament bevestig deurdat hulle daaruit leef, leer en Jesus se Mesiaasskap daaruit bevestig. Ten slotte sien ons dan dat die gesag van die Nuwe Testament geleë is in die Apostelamp wat op sy beurt weer Sy gesag van God af kry.
Vir die kind van God toon die uniekheid van die Skrif ook die gesagvolheid daarvan aan.
Wanneer ons daarna gevra sou word sou ons heel gemaklik en sonder aarseling argumente vanuit die Bybel kon aanvoer wat die uniekheid en gesag van die Woord van God sou kon aantoon. Ons moet dit egter dadelik hier byvoeg dat hierdie argumente nie gebruik kan word om iemand tot die ware geloof in God en daarom ook in Sy Woord te bring nie. Ons het reeds aangetoon dat die gesag van die Skrif voortspruit uit ons geloof wat ‘n gawe van God is. Johannes Calvyn sê die volgende hier oor:
“As hierdie sekerheid, wat verhewener en kragtiger as enige oordeel van die mens is, ontbreek, sal die gesag van die Skrif tevergeefs met bewyse versterk of met instemming van die kerk bevestig of met ander hulpmiddels bekragtig kan word. Want as die fondament nie daarvoor gelê is nie, sal dit altyd twyfelagtig bly. Maar, aan die anderkant, as ons miskien eenmaal die alledaagse gesag daarvan wegneem en dit tog eerbiedig en die waarde daarvan aangryp, is die dinge wat nie soseer bydra om die sekerheid daarvan in ons hart in te plant en daarop af te stempel nie, tog baie geskikte hulpmiddels.”19)
Die argumente wat ons dan kan aanvoer om die uniekheid van die Skrif en waaruit dan ook die gesag van die Skrif vloei, aan te toon, is as volg:20)
Eerstens kan ons, ons aandag vestig op die majesteit van God, waarvan ons in die Woord van God leer. Geen kind van God word nie getref deur die majesteit van God wat Homself aan ons in Sy Woord openbaar nie. Daardeur sien ons die onwaardigheid van enige mensewerk as dit vergelyk word met God se Woord.
Die betroubaarheid, eerlikheid, geloofwaardigheid en die manier waarop opgrawings en wetenskaplike bevindings ooreenstem met wat aan ons in die Bybel geleer word.
Die gesag van die Skrif word verder beklemtoon deur die verhewenheid van die geheimenisse wat in die Bybel aan ons geopenbaar en voorgehou word. As ons ondersoek sou instel sal ons tot die gevolgtrekking kom dat dit wat in die Woord van God geskryf is, die werke van mense ver te bowe gaan.21)
Uit die Bybel sien ons ook die volmaaktheid van die leer, die bevele en die voorskrifte. Dit moet dan gestel word teenoor die onvolmaaktheid en korruptheid van die mens.
In die Bybel word geloofswaarhede aan ons op ‘n eenvoudige, kort en maklike manier oorgedra. Hierdie eienskap van die Skrif staan in teenstelling met die manier waarop wêreldse wysheid aan ons oorgedra word. Paulus sê dan ook aan die Korinthiërs dat sy rede en prediking nie in oorredende woorde van menslike wysheid is nie (1 Korinthiërs 2:4).
Die Woord van God besit die vermoë om die harte van sondige mense te verander. Johannes Calvyn sê hieroor die volgende:
“Lees maar Demosthenes of Cicero, lees Plato of Aristoteles of enige ander skrywer uit die groep. Ek erken dat hulle ‘n mens wonderbaarlik sal aantrek, behaag, beïnvloed en meesleur. Maar sodra jy jou daartoe wend om die Heilige Skrif te lees, sal dit jou willens en wetens so lewendig ontroer, jou hart so binne dring en jou binneste so beset dat die krag van redenaars en filosowe in vergelyking met die werking daarvan op jou gevoel byna verdwyn.”22)
Die Woord van God het te midde van felle stryd daarteen en veranderde tye steeds waar en relevant gebly. Ten slotte kan ons let op die perfekte harmonie tussen die Ou en Nuwe Testament en die boeke onderling met mekaar. Lloyd-Jones sê die volgende hieroor:
“As Augustine put it: ‘The New Testament is latent in the Old and the Old Testament is patent in the New.’ There is a perfect blending between the themes of the Old and New. The same message is to be found running right through.”23)
Vanuit hierdie argumente kan die volk van God dan vanuit Sy Woord vertroos en verseker word van die geloofwaardigheid, gesagvolheid en verhewenheid van die Bybel bo ander geskrifte.
Argumente wat vandag aangevoer word om die gesag van die Skrif te verskraal of te verwerp
Die onfeilbaarheid van die mens se rede
Daar word gesê dat wanneer die inhoud of sekere dele van die inhoud van die Bybel deur ons menslike verstand en rede nie omvat kan word nie, kan dit nie as gesaghebbend aanvaar word nie. ‘n Dwaling wat hiermee saamgaan is dan dat sekere dele van God se Woord vanuit buite-Bybelse kennis verstaan moet word. Hierdie laasgenoemde dwaling is ‘n saak wat baie keer voorkom binne die kerk. Dit word dan ‘n poging om die kerk nie belaglik in die oë van die wêreld te laat lyk nie.24) Ons lees egter in Job 38:33 en 34 die volgende:
“Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel? Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ‘n oorvloed van water jou oordek?”
In hoofstuk 38 van die boek Job leer ons dat God vir Job ondervra aangaande die wese en voortgang van die heelal. Dit doen God nadat Job Sy regering en onderhouding van die heelal bevraagteken het. Job kon God nie op een van die vrae antwoord nie. Hieruit leer ons die mens se totale onvolkomenheid.25)
Daarom moet ons as mense ons posisie voor God erken, die gesag van Sy Woord aanvaar en dit onveranderd in die wêreld bely en toepas. Jesus leer ook in Mattheüs 22:37 dat ons die HERE onse God moet lief hê met ons hele hart, siel en verstand. Die mens moet dus met sy rede en verstand God se eer soek en nie Sy Woord bevraagteken nie.
Die Bybel bevat God se Woord maar is nie God se Woord nie
‘n Standpunt wat vandag deur baie gehuldig word is dat ons op sommige plekke in die Bybel die Woorde van God vind, maar op ander plekke is dit bloot maar net ‘n menslike geskrif. Nog ‘n dwaling wat hieraan verwant is, is dat dit in die Bybel gaan om ‘n spesifieke boodskap wat oorgedra moet word. Daarom is die feite wat genoem word nie van soveel belang nie. Ook sal daar gesê word dat dit wat in die Bybel geskryf staan God se Woord kan word as dit my in ‘n spesifieke situasie aanspreek.26)
Hierdie drie dwalings word saam hanteer omdat ons by al drie hierdie genoemde sake weereens die mens se rede sentraal geplaas sien staan. Hier moet ons dan weereens getuig daarvan dat die mens in sonde geval het en daarom is sy rede ongenoegsaam. Daarom buig die kind van God gehoorsaam voor elke deel van die Bybel, in elke situasie en omstandigheid en bely ons dat die hele Skrif deur God ingegee is (2 Timotheüs 3:16).
Die oorbeklemtoning van die mens se aandeel aan die Woord van God
Daar word baie maal die aantuiging gemaak dat daar te veel klem gelê word op die deur-God-geïnspireerdheid van die Bybel. Die menslike sy van die Bybel sou dan deur hierdie siening geweld aangedoen word. Saam met hierdie aantuiging word ook gesê dat ons, ons standpunt oor die Skrif nie net uit die Skrif alleen moet put nie maar dat ons dit moet doen binne die konteks van die ontstaan van die Skrif wat dan al die sogenaamde foute, onakkuraathede en teenstrydighede moet insluit. 27)
Hier het ons weereens te make met die mens wat sy rede genoegsaam ag. Daar word dan klaar aangeneem dat omdat iets vir ons onvolmaakte rede verkeerd of na ‘n teenstrydigheid lyk, dit werklik so is. Wat ons eintlike gevolgtrekking behoort te wees as ons by so ‘n skynbaar onoplosbare probleem kom, is om te sê dat ons dit nie kan verstaan nie. Ons kan egter nie op grond van ons rede sê dat hier ‘n fout in God se Woord openbaring aan Sy kinders is nie.28)
Verder het die Apostels self nie ‘n probleem gehad om die feit dat God Sy Woord geïnspireer het, te beklemtoon nie (2 Timotheüs 3:16 en 2 Petrus 1:21). Daarom moet ons gehoorsaam aan God se Woord altyd die God-geïnspireerdheid van die Skrif sentraal plaas met die aandeel van die mens as ‘n dankbare dienskneg onder die totale beheer van God.
Gevolgtrekking
Ons het gesien dat dit vandag nog net soos deur al die eeue nodig is om ons belydenis ten opsigte van die gesag van God se Woord te laat hoor. Die doel van hierdie standpuntinname was dan om aan te toon wat met Skrifgesag bedoel word en dan om vanuit die gestelde standpunt sekere dwalings aan te spreek.
Wat dan geleer is behels oorsigtelik beskou die volgende:
1. Daar is gesien dat as gevolg van ons in-sonde-gevallenheid ons slegs tot ware kennis van God kan kom deurdat ons Hom leer ken in Sy Woord. Hierdie feit beklemtoon dan vir ons die belangrikheid van die gesag van die Skrif.
2. Verder het ons ook geleer dat slegs iemand wat in Christus weer gebore is enige gesag vir God se Woord kan hê. Ons word dus deur die werk van die Heilige Gees oortuig van die gesag van die Skrif wat in elkgeval altyd bestaan.
3. Dit is egter ook so dat die Bybel vir die kind van God vanuit Homself gesag het. Dit sien ons raak in die getuienis van die Ou Testament, die bevestiging van die Ou Testament deur Jesus Christus en die Apostels en die gesag van die Nuwe Testament op grond van die gesag van die Apostels.
Dit is dan vanuit hierdie drie bogenoemde punte dat die aanslag teen die gesag van die Skrif hanteer is. Binne die bestek van hierdie stuk werk is daar net na drie dwalinge rondom die gesag van die Skrif gekyk. Daar is natuurlik nog baie ander dwalinge en variasies van dit wat genoem is.
Wat ons egter na alles leer is dat die stryd om die gesag van die Skrif ten diepste ‘n stryd is tussen geloof en ongeloof, tussen lig en duisternis, tussen die HERE en die Duiwel. Hierdie stryd sal aanhou tot op die dag dat Jesus Christus weer sal kom en Sy oorwinning oor die Duiwel finaal sal wees. Tot dan kry ons van Christus egter die opdrag om te waak (Mattheüs 25:13), ook op die gebied van die stryd om die gesag van die Skrif.
Bronnelys
CALVYN, J. 1559. Institusie van die Christelike Godsdiens. Potchefstroom : CJBF.
DE BRES, G. 1561. Nederlandse Geloofsbelydenis. Potchefstroom : CJBF.
DE KLERK, W.J. 1973. Roeping en Werklikheid. Potchefstroom : Potchefstroom Herald.
LLOYD-JONES, D.M. 1997. Authority. Edinburgh : The Banner of Truth trust.
WEEKS, N. 1998. The sufficiency of Scripture. Edinburgh : The Banner of Truth trust.
1 Ds. Ron Cammenga, Esra Verslag, jaargang 10 nr.51, bl.53.
2 Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, bl.170.
3 B. Duvenage, Roeping en werklikheid, bl.202
4 Dordtse leerreëls hoofstuk 3 en 4
5 Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, bl.153.
6 Guido de Bres, Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 5.
7 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.39.
8 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.34.
9 Noel Weeks, The sufficiency of scripture, bl.118.
10 Noel Weeks, The sufficiency of scripture, bl.215.
11 Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, bl.162.
12 Guido de Bres, Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 3.
13 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.50.
14 Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, bl.169.
15 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.51.
16 Noel Weeks, The sufficiency of scripture, bl.110.
17 Noel Weeks, The sufficiency of scripture, bl.109-112.
18 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.55-60.
19 Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, bl.162.
20 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.48-50.
21 Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, bl.164.
22 Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, bl.163.
23 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.49.
24 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.33 en 40.
25 Noel Weeks, The sufficiency of Scripture, bl.22-25.
26 D. Martyn Lloyd-Jones, Authority, bl.34-36.
27 Noel Weeks, The sufficiency of Scripture, bl.70.
28 Noel Weeks, The sufficiency of Scripture, bl.70-75.
Dis ‘n baie goeie artikel hierdie. Die epistemologiese verskille onderliggend aan die onderskeidelike benaderings van die kind van God en die rasionalis word baie mooi verduidelik en dat Christene nooit ooit mag toegee en die voorveronderstellings van die moderne sekulere Wetenskap aanvaar nie.
God se Woord bly ewig vas en waar.
Adi,
Dit is irrasioneel om ‘n leuen te glo.
Ek glo die Waarheid (Die Bybel het ‘n monopolie op die waarheid).
Dit beteken dat ek rasioneel is.
Volgens jou is ek dus nie ‘n “kind van God is nie”.
Die Bybel weerspreek jou.
Die onderskeid is nie tussen die rasionalis en die “kind van God” nie.
Die onderskeid is tussen die waarheid en die leuen.
Louis Karel Bernardus Breytenbach
Oom Louis, ek dink oom en Adi verskil nie, hy bedoel iets anders met die woord ‘rasionalis’ as wat oom daarmee bedoel. Miskien kan Adi verduidelik wat hy bedoel met die term ?
Slabbert,
Aangesien Adi nie sy term ‘rasionalis’ definieer nie:
1. Cobus Rossouw som self die stryd om die gesag van die Skrif, as ‘n stryd tussen geloof en ongeloof op. Sy noukeurige uiteensetting is logies en rasioneel.
2. Adi gebruik frases soos ‘epistemologiese verskille’ en ‘voorveronderstellings van die moderne sekulere Wetenskap’ sonder enige betekenis. Tewens hy aanvaar proposisies soos (ek haal Adi aan):
“Black people are in need of redemption through Christ just like white people (all totally depraved as well), but it would be dishonest to deny the reality of the particular depravity the black race suffers from. Despite all men suffering the effects of the fall in one way or another, the different effects of it on the different races cannot and should not be ignored.” (sien sy deelname aan die blog FAITHANDHERITAGE)
Waar in die Bybel kom hy aan sulke bog? Wat noem hy sy epistomologie as hy dan groot woorde wil gebruik? Wat is sy eerste beginsel as dit duidelik nie die Woord van God is nie.
3. Ek ontken dat ek en Adi, soos jy dit stel, nie verskil nie. Sy uitgangspunt is antichristelik, en omdat dit in stryd met die Woord is, irrasioneel.
Hiermee distansieer ek my totaal van enige persepsie dat ons enigsins iets in gemeen het of dieselfde voorveronderstelling deel.
Louis Karel Bernardus Breytenbach
Adi se volledige kommentaar op ‘n artikel deur EHUD WOULD, NOVEMBER 21, 2011 (en verder bespreek deur ander deelnemers) lui as volg:
A much-needed and honest article and a very good comment, John. Black people are in need of redemption through Christ just like white people (all totally depraved as well), but it would be dishonest to deny the reality of the particular depravity the black race suffers from. Despite all men suffering the effects of the fall in one way or another, the different effects of it on the different races cannot and should not be ignored. If this is not addressed in pieces such as this, blacks will never be led to an honest repentance of their particular weaknesses.
Die eerste sin by 12h41 moet lees:
Adi se volledige kommentaar VOLG op ‘n artkel…
Slabbert,
Jou blog, jou reg om my pos nie te plaas nie.
Maar erken ten minste dat jy my en Schlebusch verkeerdelik in dieselfede kamp plaas:
“ek dink oom en Adi verskil nie, hy bedoel iets anders met die woord ‘rasionalis’ as wat oom daarmee bedoel.”
Ek dink ek het dit duidelik genoeg gestel.
Jy is dalk verward omdat jy my nie ken nie, maar my vertrekpunt is die Skrif alleen. Schlebusch se publikasies bewys dat hy ‘n naturalis is en dat hy van twyfelagtige opinies uit die antropologie, geskiedskrywing en politike wetenskap gebruik maak.
In hierdie geval het jou oordeel jou in die steek gelaat. Dink wat jy wil, maar moet my asseblief nie in julle kamp plaas nie.
Louis Karel Bernardus Breytenbach
Beste oom Louis,
Stadig nou, ek het geensins kampe opgestel nie. Ek het bloot gemeen oom en Adi gebruik die term ‘rasionalis’ op verskillende maniere. Oor die res van oom en Adi se verskillende sienings het ek geen uitspraak gemaak na enige kant toe nie, want ek weet nie veel van jul onderskeie standpunte nie, behalwe dit wat ek hier en daar in eposse en hier op my blog lees. Daar is dus geen ‘kamp’ hier nie.
Verder, ek was ‘n paar dae weg van my rekenaar, so ek kon geen boodskappe van oom of enige ander deelnemers goedkeur nie, so ek vra vir so bietjie geduld met die bloggesprekke. Ek laat 99 persent boodskappe deur, ek ‘diskrimineer’ teen niemand nie, ongeag hul verskillende standpunte.
So terloops, as Adi meen sekere volke is ‘meer verlore/verdorwe’ as ander, dan stem ek nie saam nie. Ons almal, ongeag velkleur of volksgroep is ewe verlore en verdorwe en kan alleen gered word deur die bloed van Christus, nie enigiets van ons eie bloed nie (Joh.1:12,13).