WARE BYBELSE REFORMASIE IN 1517 EN VANDAG
Komende Woensdag, 495 jaar gelede 931 Oktober 1517), het Maarten Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenburg in Duitsland vasgeslaan. Die stellings was gemik teen die dwalinge en misbruike in die Rooms Katolieke Kerk. Dit was die begin van wat later bekend sou staan as die Protestantse Hervorming wat Europa en die westerse wêreld help vorm het, op veral kerklike en staatkundige gebied.
Ek plaas my preek van afgelope Sondagoggend hier, waarin ek ook die kwessie aanspreek dat die Reformasie (en ons geloof oor die algemeen) oor verlossing (regverdiging) en die gehoorsaamheid (heiligmaking/aanbidding) wat daaruit vloei gaan, nie net die een saak of die ander nie (NGB art.22-25; HK v/a 64). Jesus Christus is Verlosser én Koning.
Sien ook die artikel ‘Die noodsaaklikheid van die reformasie van die kerk’, van Johannes Calvyn.
1. Preek: Ware bybelse reformasie, 1517 en vandag
2. Die noodsaaklikheid om die kerk te reformeer, Johannes Calvyn
(Deur Alwyn Bezuidenhout [ouderling van die GK Eersterust en sendeling van die GK Die Kandelaar] vertaal en verwerk uit ‘The Necessity of Reforming the Church’, verkrygbaar van die webblad: www.swrb.com Hierdie geskrif het die eerste maal verskyn in 1543, as begronding van die Protestantse Reformasie teenoor die dwalinge van Rome. Wanneer die geskrif gelees word, is dit opmerklik hoe daardie dwalinge vandag weer lewendig is, selfs in kerke van gereformeerde belydenis. Hieronder verskyn ‘n gedeelte uit hierdie werk. Hierdie vertaalde artikel het die eerste keer verskyn in die Esra Verslag, Jg.11, nr.54, 2003).
Inleiding
Die vraag is nie of die Kerk ly as gevolg van ‘n menigte besmettings nie (dit word deur almal wat matig oordeel erken), maar of hierdie besmettinge van die tipe is wat ‘n spoedeisende behandeling verg en of dit kan wag op ’n stadig deurwerkende kuur. Ons word beskuldig van oorhaastige en goddelose innovasie, omdat ons dit durf waag om enige verandering voor te stel ten opsigte van die stand van die Kerk. So asof dit gedoen word sonder rede of onduidelikheid. Ek hoor daar is mense wat, selfs in hierdie geval, nie huiwer om ons te veroordeel nie; hulle is van mening dat ons reg is om aanpassings te begeer maar nie ‘n reg het om te probeer nie. Al wat ek van sulke persone op hierdie stadium vra, is of hulle net vir die huidige (vir ‘n kort rukkie) hul oordeel sal terughou totdat ek deur middel van feite bewys het dat ons nie voortydig opgetree het nie, dat ons nie iets oorhaastig probeer het nie. Dat ons niks gedoen het voordat ons daartoe gedring is deur die hoogste noodsaaklikheid nie. Ten einde my punt te kan bewys, is dit nodig om aandag te gee aan die sake onder dispuut.
Ons handhaaf dan, dat vanaf die begin – toe God Luther en ander wat die lig van ons weg tot saligheid gedra het, en wie, deur hul bediening, die fondament en opbou van ons Kerke – daardie hoofpunte van ons leer waarin die waarheid van ons geloof, dit wat die suiwer en wettige aanbidding van God bevat en dit waarin die mens se verlossing bevat word, grootliks in onbruik verval het:
– Ons handhaaf dat die gebruik van die sakramente op baie maniere verontreinig en besoedel is.
-Ons handhaaf dat die regering van die Kerk omgeskakel is in ‘n onteerende en onhoubare tirannie.
Maar, miskien is hierdie afwykings vir sommige nie genoeg rede voordat dit nie beter toegelig is nie. Daarom sal ek dit nou doen, nie sover die onderwerp dit vereis nie, maar sover dit vir my moontlik is. Ek wil nie hier al ons geskille bespreek nie, dit sal te lang bespreking verg en hierdie is nie die plek daarvoor nie. Ek wens slegs om aan te toon hoe geregverdig en nodig die redes was wat ons gedring het om die veranderings te maak wat ons gemaak het- dit waarvoor ons blameer word. Ten einde om dit te doen, is dit nodig om die volgende drie punte op te neem:
Eerstens, moet ek die euwels opnoem wat ons gedwing het om regstellings te soek.
Tweedens, moet ek aantoon dat die spesifieke regstellings wat ons Hervormers ingestel het, gepas en heilsaam was.
Derdens, moet ek dit duidelik maak dat ons nie die vryheid gehad het om langer te wag voordat ons optree nie, aangesien die saak spoedeisend was.
Die euwels wat ons gedwing het om oplossings te soek
Die eerste punt, waarna ek slegs as inleiding vir die ander twee punte verwys, sal ek poog om net kortliks toe te lig. Op die ernstige klag van onheiligende vermetelheid en opstoking, gegrond op die bewering dat ons onbehoorlik en met onmatige oorhaastigheid ‘n amp opge-eis het wat nie aan ons behoort nie, sal ek meer tyd spandeer.
As gevra word waar die Christelike geloof dan hoofsaaklik vir ons op rus en wat deur ons as waarheid voorgehou word, sal gevind word dat die volgende twee nie net die primêre plek inneem nie, maar al die ander dele omvat en gevolglik die hele wese van die Christendom:
– Dit is in die eerste plek ‘n ware kennis van die wyse waarop God behoorlik aanbid/gedien moet word.
– Tweedens, die bron van ons saligheid.
Wanneer hierdie twee buite rekening gelaat word, alhoewel ons mag spog in die naam Christene, is ons belydenis leeg en tevergeefs.
Na hierdie volg die sakramente en die regering van die kerk, wat, ingestel is vir die bewaring van hierdie vertakkings van die leer, en behoort nie vir enige ander doel aangewend te word nie, en meer nog, die enigste wyse waarop bepaal kan word of dit suiwer en behoorlik bedien word of nie, is om hulle te toets. Indien iemand begerig is vir ‘n duideliker en meer bekende illustrasie, sal ek sê, dat die regering in die kerk, die pastorale amp en al die ander ordelike sake, die liggaam verteenwoordig, terwyl die leer wat die behoorlike aanbidding van God reguleer en wat die gronde aanwys waarop die mens sy gewete moet laat rus vir sy hoop op saligheid, is die siel wat die liggaam opwek, dit lewendig en aktief maak en dit in kort nie ‘n dooie onbruikbare karkas maak nie.
Met dit wat ek tot dusver gesê het, is daar geen twis onder die vromes of tussen manne met behoorlik gesonde verstand nie.
Laat ons nou sien wat bedoel word met behoorlike aanbidding van God:
Die fondament is om Hom te bely as die enigste bron van alle reinheid, geregtigheid, heiligheid, wysheid, waarheid mag, goedheid, barmhartigheid, genade, lewe en saligheid en in ooreenstemming hiermee aan Hom toe te skryf die heerlikheid van alles wat goed is. Om in alles Hom alleen te soek en in elke nood jou toevlug by Hom te soek. Hieruit vloei voort, gebed, lof en dankbetuiging- dit is erkenning van die heerlikheid wat ons aan Hom toeskryf. Hierdie is daardie ware heiligmaking van sy Naam wat Hy van ons bo enigiets anders vereis. Hierin is verenig die aanbidding waardeur ons ontsag vir sy grootheid en voortreflikheid betoon en hierdie seremonies is dienstig, as hulp en instrumente, sodat, in die uitvoering van goddelike aanbidding, die liggaam tesame met die siel geoefen word.
Hierop volg selfvernedering wanneer, in versaking van die wêreld en die vlees, ons verander word in die vernuwing van ons denke en ons nie langer vir onsself leef nie maar ons onderwerp om regeer en gedryf te word deur Hom. Deur hierdie selfvernedering word ons geleer om gehoorsaam en toegewyd ons te onderwerp aan sy wil, sodat sy vrees in ons harte heers en al ons handelinge regeer.
Dat in hierdie dinge die ware en opregte aanbidding bestaan wat God goedkeur, en waarin alleen Hy behae het, leer die Heilige Gees in die hele Skrif ons, en is die duidelike voorskrif van vroomheid. Daar was nog nooit enige ander wyse van aanbidding nie, die enigste verskil is: in die vorige bedeling was dit toegedraai in figure. Dit is die bedoeling van die Verlosser se woorde in Johannes 4:23: “Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in Gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.” Hierdeur bedoel Hy nie dat die Vaders God nie op ‘n geestelike wyse gedien het nie, maar slegs om ‘n onderskeid aan te dui in die uiterlike vorm: dit is, dat terwyl hulle die Gees voorafgeskadu in figure gehad het, ons dit in eenvoud het. Dit is nog altyd ‘n erkende feit gewees dat God, wat Gees is, aanbid moet word in Gees en waarheid.
Meer nog, die reël wat onderskei tussen suiwer en besoedelde aanbidding is van universele toepassing om ons te verhinder om ‘n wyse wat vir onsself goed voel aan te kweek, maar eerder te kyk na die bevele van Hom wat alleen toekom om voor te skryf. Daarom, as ons wil dat Hy ons aanbidding moet goedkeur, moet hierdie reël, wat Hy oral met die uiterste strengheid toepas, versigtig nagekom word.
Daar is ‘n tweevoudige rede waarom die HERE, eiewillige aanbidding verbied en verwerp en van ons algehele gehoorsaamheid aan sy stem alleen vereis. Eerstens, dit verleen erkenning aan sy gesag sodat ons nie ons eie plesier najaag nie maar totaal afhanklik is van sy oppermag. Tweedens, ons dwaasheid is van so aard, dat, wanneer ons aan ons vryheid oorgelaat word, al waartoe ons in staat is, is om te dwaal. Wanneer ons eers van die regte weg afgedwaal het, is daar geen einde aan ons omswerwinge nie totdat ons begrawe is onder ‘n hoop bygelowe.
Daarom ten regte, lê die HERE ons streng op wat sy wil vir ons is om te doen en meteens alles verwerp wat die mens bedink wat strydig is met sy bevele, ten einde sy vol reg van heerskappy te laat geld. Regtens stel hy ook duidelike perke sodat ons nie, deur perverse wyses van aanbidding te ontwikkel, sy toorn teen ons ontlont nie.
Ek weet hoe moeilik dit is om die wêreld te oortuig dat God enige vorm van aanbidding verwerp wat Hy nie uitdruklik beveel het nie.[1] Die teenoorgestelde opvatting wat hulle aankleef, wat in hul murg en been sit, is dat wat hulle ookal doen, word deur hulself bekragtig, op die voorwaarde dat dit die een of ander voorkoms het dat dit tot eer van God is. Maar aangesien God enigiets wat ons ookal in ons “ywer” in aanbidding onderneem nie net as vrugteloos nie maar selfs as verfoeilik beskou wat nie deur Hom beveel is nie, wat bereik ons met hierdie eiesinnige optrede? Die woorde van God is duidelik en verstaanbaar: “het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE?”(1 Samuel 15:22 e.v.). Jesus self sê: “maar tevergeefs vereer hulle my deur leringe te leer wat die gebooie van mense is.” Loutere eiewilligheid is waardeloos.
Calvyn gaan dan voort en stel dit aan die Koning – met die gepaste eerbied. Dat hy duidelik sal aantoon dat die wyse waarop goddelike aanbidding saamgeflans word teenstrydig met die Woord van God is. Alhoewel hulle (die Roomse kerk) die HERE met lippetaal erken, beroof hulle Hom van die helfte van sy heerlikheid. Volgens hulle gaan Calvyn hulle se besware oor middelmatige sake. [2]
Die Roomse kerk stel heiliges aan asof hulle kollegas van die Almagtige God is. Die heiliges doen die werk van God asof Hy van hul hulp afhanklik is. Die Roomse kerk het ‘n spreuk dat: “God slegs deur die apostels- waarvan die Roomse priesters direkte afstammelinge is- geken kan word.” Hierdie spreuk verhoog die apostels en verlaag Christus. Die gevolg van hierdie perversiteit is dat die mensdom die “fontein van die lewende water verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap wat geen water hou nie.” Jeremia 2:13. Hulle gee voor dat hulle hul saligheid in God soek terwyl hulle dit nie doen nie.
Calvyn stel dit duidelik dat daar bewyse is dat hul gebede korrup is, dit word tot ‘n groot mate verdraai. Gebed is ‘n toets wat ware aanbidding aan God in heerlikheid betoon. Die Roomse kerk dra hierdie heerlikheid wat God toekom op aan skepsele. Ware gebed is meer as blote smeking. Die bidder moet verseker wees dat God die enigste is waartoe hy sy toevlug kan neem omdat Hy almagtig is en omdat Hy Hom daartoe verbind het. Dit kan slegs geskied wanneer die bidder ontsag het vir God en gehoorsaam is aan sy bevele. Die sekerheid is in die belofte van God dat Hy sal reageer. Hierdie opdragte/beloftes laat geen ruimte vir dooies of ander skepsele om as middelaars op te tree nie.
Wat is die belofte wat gegrond is in die bemiddeling van Christus? Die Roomse ignoreer Jesus Christus en wend hulle tot sg. “heiliges” of gunsteling beskermlinge. Christus die enigste ware middelaar verdwyn in die skare (indien Hy wel in ag geneem word). Die aard van die ware gebed is om nie te twyfel en ook nie wantrouig te wees nie. Omdat die wêreld nie die mag van God se uitnodiging ken nie, is hul gebede vol twyfel en wantroue. God se belofte staan vas dat Hy ons gebede sal verhoor as dit in die Naam van Sy Seun Jesus Christus is. Daar is ook nie minder korrupsie in die uitdrukking van dankbaarheid nie. Hiervan getuig die publieke gesange wat gesing word. Hierin word die heiliges geloof asof hulle kollegas van God is.
Wat sal ons sê van lofprysing? Betoon mense nie aan beelde en afbeeldings dieselfde ontsag as wat hulle vir God betoon nie? Is daar ‘n verskil tussen hierdie malligheid en die optrede van die heiden? Dieselfde afskuwelikheid word bedryf deur die heidene wat hulle goddeloosheid wil verdoesel. Dit is ‘n feit dat heiliges – of eerder hul beendere, klere, skoene en afbeeldings- aanbid word in die plek van God.
‘n Subtiele redetwister sal die beswaar opper dat daar verskillende vlakke van aanbidding is. Dit is die eer van dulia [eerbetoning], soos hulle dit noem aan die heiliges betoon word en latria[bidding] vir God voorbehou word. Dit het daartoe gelei dat Maria hoër geag word as die ander. Die wêreld is vol van sulke afgodery wat nie minder walglik is nie.
Op hierdie stadium toon Calvyn aan, dat hy nou slegs oorsigtelik hiermee handel en dat hy later in meer besonderhede daarop sal ingaan. Hy bepaal hom nou by die seremonies, wat, alhoewel hulle gewigtige getuienis moet wees van goddelike aanbidding, eerder ‘n uittarting van God is, ‘n nuwe Judaïsme, as plaasvervanger vir dit wat God uitdruklik afgeskaf het, is weer ingestel deur middel van vele beuselagtighede, uitspattighede wat versamel is uit verskeie hoeke. Dit vermeng onsuiwer rites wat oorgeneem is van die heidene en meer gepas is by ‘n teater optrede as by die waardigheid van ‘n erediens. Die eerste euwel hier is dat ‘n ontsaglike hoeveelheid seremonies, wat God deur sy almag opgehef het, weer herleef het. Die volgende euwel is dat alhoewel seremonies ‘n lewende beoefening van vroomheid behoort te wees, die mense hulle tevergeefs besig hou met vermaaksugtighede van leer en waarde. By verre die dodelikste euwel is dat die mens met hierdie mensgemaakte seremonies God uittart maar onder die waan verkeer dat hulle God vereer.
Ten opsigte van selfvernedering, waarop wedergeboorte berus, is die hele leer uitgewis uit die gedagtes van die mens, of dan ten minste gedeeltelik. Dit is nog net aan ‘n klein groepie bekend en by hulle ook maar skraps. Die geestelike opoffering wat God vereis is om die ou mens af te sterf en in denke vernuwe te word. Dit gebeur soms dat die predikers iets daaroor mompel, maar hulleself het geen idee wat dit beteken nie. Hulle oponeer ons hewig omdat ons hierdie vertakking van goddelike aanbidding wil herstel. As hulle op enige stadium iets van bekering noem, is dit maar in die verbygaan – asof hulle dit verag. Die fokus is op die eksterne funksies van die liggaam wat volgens Paulus nie veel van veel waarde is nie: “wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en gestrengheid van die liggaam geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.(Kolossense 2:23). Wat hierdie verkeerdheid des te meer onuithoudbaar maak is dat hierdie gemeenplasigheid verkeerdelik die skadu vir die werklikheid najaag en, met verontagsaming van ware bekering, al hulle aandag wy aan onthouding, nagwake en ander dinge wat Paulus as van geen waarde ag nie.
Die Woord van God is die toets wat onderskei tussen ware aanbidding en dit wat vals en bedorwe is. Daarom kan ons sê dat aanbidding vandag niks anders as korrup is nie, omdat die mens oor die algemeen geen ag gee op dit wat God beveel het of goedkeur sodat hulle Hom kan behaag nie. Hulle eien hulself die reg toe om maniere te ontwikkel waarmee hulle Hom eiewillig wil aanbid. Hulle dring hierdie eiewillige foefies aan Hom op as plaasvervangers vir gehoorsaamheid. Ten einde aan te toon dat hy nie oordryf nie, toets Calvyn dit wat die Roomse doen wanneer hulle van mening is dat hulle God aanbid. Hy aanvaar dat slegs ‘n tiende nie die vrug is van hul eiewilligheid nie. God veroordeel, verafsku alle fiktiewe aanbidding en Hy gebruik sy woord as ‘n instrument om dit in toom te hou. Wanneer ons hierdie juk afgooi, wandel ons voort agter ons eie skeppings en bied ons Hom ‘n menslike skepping van aanbidding aan wat, alhoewel dit vir ons baie genot verskaf, in sy oë ‘n verwaande beuselagtigheid is.
Die voorstaanders van menslike tradisies hou dit voor as spoggerig en Paulus erken dat dit ‘n skyn van wysheid het, maar God vereis gehoorsaamheid bo offers, dit behoort genoeg te wees vir die verwerping van enige eiewillige vorm van aanbidding wat nie gesanksioneer is deur ‘n bevel van God nie.
Die kennis van die bron waarvan ons ons saligheid verkry
Calvyn begin nou by die tweede deel van wat hy beskou as ‘n beginsel vir die Christelike leer: die kennis van die bron waarvan ons ons saligheid verkry. Die kennis vir ons saligheid behels drie fases: eerstens, begin dit met ‘n besef van jou persoonlike ellendigheid wat jou vervul met wanhopigheid asof jy geestelik dood is. Hierdie effek word verkry wanneer die oorgeërfde verdorwenheid van ons aard aan ons voorgehou word as die bron van alle kwaad – ‘n wantroue wat ons in rebellie teen God bring: trots, gierigheid, wellus en alle vorme van vleeslikheid. Dit maak ons afkerig aan eerlikheid en geregtigheid. Dit hou jou gevange onder die juk van die sonde en wanneer jy blootgestel word aan jou eie sondige aard, oorbluf deur jou walglikheid, gedwing om ontevrede met jouself te wees en alles wat jy is tot minder as niks te reken. Aan die ander kant raak jou gewete bewus van die vloek van God wat tot die ewige dood lei, dit leer jou om te bewe vir sy Goddelike toorn. Dit is dan die eerste fase op die weg na saligheid. Wanneer die sondaar, gestroop van enige pretensie van enige goed uit homself, hom nie dom-astrant verhard teen die oordeel van God nie, maar bewend en angstig in doodsangs kerm en smag na verligting. Van hieruit gaan hy oor na die tweede fase.
Opgewek deur die kennis van Christus, begin om weer asem te haal. Iemand wat so aangeraak is, kan nie anders as om hom tot Jesus Christus te bekeer nie, sodat jy deur sy bemiddeling bevry kan word van jou ellende. Die enigste mens wat so getref kan word, is die mens wat die omvang van sy krag ken. Dit is om Hom te bely as die enigste Priester wat ons versoen met die Vader en sy dood is die enigste offer waardeur ons sondes afgewas word. Dit is alles genade wat betoon word deur God in Jesus Christus waarby hulle beide betrokke is.
Hierop volg die derde, wanneer jy opgevoed is in die vrug van sy sterwe en opstanding dan vind jy rus in ‘n ferm en vaste selfvertroue, jy weet met sekerheid dat jy aan Jesus Christus behoort, dat jy in Hom geregtigheid en lewe het.
Hierdie leer is egter besoedel. As gevolg van die erfsonde het baie vrae ontstaan onder geleerdes. Hulle doen alles binne hul vermoë om hierdie terminale siekte af te maak. In hul besprekings maak hulle dit af as slegs oormatige liggaamlike luste en begeertes. Uit sulke blinde ydelheid, vloei ongeloof en bygeloof voort, inwendige onvermoë van die siel, trots, ambisie hardkoppigheid en ander geheime bronne van boosheid waarvan hulle nie ‘n woord rep nie.
Die eredienste is ook nie in die minste meer suiwer nie. Betreffende die vryheid van die menslike wil – soos gepreek voordat Luther en ander na vore getree het, vul dit die mens met ‘n oorweldigende opinie van hul eie goedheid, swel hulle in hul ydelheid en laat dit geen ruimte vir die bystand van die Heilige Gees en genade nie.
Maar waaroor hieroor tob? Daar is geen punt waarteen met meer ywer in opstand gekom word, nie een wat meer entoesiasme aangeval word nie as die van die regverdigmaking. Verkry ons dit deur geloof of werke? Vir geen oomblik word ons toegelaat om alle eer te gee vir ons geregtigheid nie, tensy hulle werke ook erkenning kry nie. Die dispuut gaan nie daaroor of die regverdige goeie dade moet doen of nie, of dat God goeie dade beloon of nie maar of dit ons regverdig maak in die oë van God. Verkry ons daardeur die ewige lewe, dien dit as kompensasie vir ons sondeskuld, neem dit ons sondeskuld weg, is dit enige gronde vir ons saligheid?
Ons verwerp die dwaling van mense wat meer waarde heg aan hul eie werke as aan die van Christus, as ‘n wyse waardeur ons ons met God kan versoen, om sy guns te verdien, of as ‘n wyse waardeur ons die ewige lewe kan beërwe. In kort: as ‘n wyse waardeur ons geregverdig kan word in sy oë. Eerstens, tooi hulle hulself met die meriete van werke, asof God hulle iets verskuldig is. Trots soos hierdie, is deurdrenk van die bose poel van die dood. Daar kan gesê word dat ek oordryf op hierdie punt, maar geen mens kan dit ontken dat dit banaal is van skole en kerke om te leer dat deur werke ons die guns van God kan verdien, deur werke die ewige lewe kan verdien. Dat enige hoop op saligheid berus op goeie dade is voorbarigheid; dat ons versoen kan raak met God deur die doen van goeie dade en nie kwytgeskeld word deur genade alleen nie; dat goeie werke meriete het; dat ons saligheid aan ons gegee word deur die soenverdienste van Christus alleen; dat ons met God versoen kan word deur middel van vry vergiffenis danksy dit wat Christus gedoen het nie.
Dat die mens, in terme van die wet, so gou as hulle die genade van God verbeur, met Hom versoen kan raak, nie deur middel van die vrye vergiffenis nie, maar deur wat hulle noem “werke van regverdiging” wat die werk van Christus aanvul sowel as die werke van martelare op voorwaarde dat die sondaar verdien om bygestaan te word. Dit is duidelik dat, voordat Luther aan die wêreld bekend geword het, alle mense gefassineer is deur hierdie leer. Selfs vandag word hierdie afdeling van ons leer die felste aangeval.
In die laaste plek was daar nog ‘n mees verderflike dwaling, wat nie net die denke van mense besig gehou het nie, maar wat beskou is as een van die beginsels van geloof dat gelowiges onseker moet wees oor die feit dat hulle die guns van God het. Deur hierdie dwaling van die Duiwel, is die voordeel van dit wat Christus bekom het vernietig en die saligheid van die mens omvergewerp. Want soos Paulus verklaar, geloof is slegs Christelike geloof as dit ons harte met selfvertroue vul en ons met vrymoedigheid voor God laat verskyn. (Rom.5:2). Op geen ander manier kan sy leer beskou word by ‘n ander gedeelte as “dat ons die Gees van aanneming ontvang het, waardeur ons uitroep Abba, Vader”(Rom.8:15).
Maar wat is die uitwerking van daardie huiwering wat ons vyande vereis van hulle dissipels, behalwe om enige vertroue in die beloftes van God te vernietig? Paulus redeneer dat “want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak.” Waarom so? Net omdat die wet die mens in vertwyfeling hou en hom nie toelaat om ‘n versekerde vertroue te handhaaf nie. Maar hulle aan die anderkant, droom van ‘n geloof wat die mens uitsluit van daardie vertroue wat Paulus vereis en werp hulle terug op gissings om soos ‘n riet deur die wind gewaai te word. Dit is ook nie ‘n verassing dat aangesien hulle eers hul saligheid gevestig het op hul eie meriete deur werke, hulle verder verval in absurditeit want, wat kan die mens in sy dade vind behalwe gronde vir vertwyfeling en uiteindelik wanhoop. Ons sien dus: dwaling wat tot verdere dwaling lei.
Hier magtige Heerser en mees vermaarde Prins, is dit nodig om u in herinnering te roep wat voorheen genoem is: dat, die veiligheid van die Kerk afhanklik is van hierdie leer soos die mens se lewe afhanklik is van sy siel. As die suiwerheid van hierdie leer op enige wyse verswak word, dan is die Kerk ‘n noodlottige wond toegedien en daarom, wanneer ek aangetoon het dat dit vir die grootste gedeelte uitgewis is, dit dieselfde sal wees as wanneer ek aangetoon het dat die kerk tot die rand van die afgrond gelei is.
Ek kom nou by die dinge wat ek gekoppel het aan die liggaam: dit is, regering en bediening van die sakramente, waarvan, indien die leer ondergrawe word, die krag en dienlikheid verlore is alhoewel die sigbare uitvoering foutloos mag wees. Wat dan as daar geen inwendige of uiterlike suiwerheid in is nie? Dit is nie moeilik om hierdie feit aan te toon nie.
Eerstens, met betrekking tot die sakramente, seremonies wat deur mense daargestel is, is op dieselfde vlak geplaas word as die geheimenisse wat Christus ingestel het. Sewe sakramente word bedien sonder onderskeiding, tog het Christus slegs twee ingestel. Die ander berus op bloot menslike gesag tog word dit ‘n aanhangsel van God se genade so asof Christus daarin teenwoordig is. Wat meer is, die twee wat Christus wel ingestel het, is ek bevrees, is korrup gemaak. Die doop word verbloem deur die byvoeging van bygelowe, sodat daar skaars ‘n skadu oorgebly het van die oorspronklike doop. Die Heilige Nagmaal is nie net bedorwe deur vreemde beskouings nie, maar die vorm daarvan is totaal verander.
Wat Christus beveel het om te doen en in watter volgorde, is baie duidelik. Sy bevele word egter geminag, ‘n toneelmatige opvoering word gehou wat die nagmaal vervang. Watter ooreenkoms is daar tussen die mis en die ware Nagmaal van ons Here? Terwyl die opdrag van Christus ons oproep om met mekaar te kommunikeer deur middel van die heilige simbole van sy liggaam en bloed, behoort die ding wat tydens die mis gesien word eerder ekskommunikasie genoem te word. Die Priester sonder homself af van die res van die gemeente en verorber dit wat veronderstel was om gedeel te word tussen die teenwoordiges. Dan, asof hy ‘n opvolger van Aäron is, gee hy voor dat hy ‘n offer bring vir die kwytskelding van die sondes van die mense.
Maar, waar noem Christus eenkeer offers? Hy beveel, neem, eet en drink. Wie bemagtig die mens om neem te verander na offer? En wat is die effek van hierdie verandering anders as om die ewigdurende onaantasbare verordening van Christus te buig voor hulle versinsels?
Hierdie is inderdaad ‘n gruwelike euwel, maar, erger nog is die bygeloof wat van die nagmaal ‘n vereiste, vir lewendes en dooies, maak om genade te verseker. Op hierdie wyse word die genoegsaamheid van die sterwe van Christus se dood verander tot ‘n nuttelose toneel voorstelling en die waardigheid van ‘n ewigdurende priesterlikheid word van Hom ontneem en oorgedra aan mense.
Wanneer die mense tot gemeenskap opgeroep word, word hulle slegs ‘n halwe porsie toegesê. Waarom is dit so? Christus gee die beker aan almal om self te drink daaruit en almal drink daaruit. In teenstelling hiermee, word die gelowiges verhinder om die beker aan te raak. Dus, die gesag van Christus word verbreek deur ‘n menslike gier.
Op dieselfde wyse verskil die heilige bede by die doop en die mis nie van beswering nie. Omdat hulle deur middel van fluistering, asemhaling en onduidelike geluide meen dat hulle geheimenisse bewerk. Asof dit die wens van Christus was dat deur die uitvoering van sekere rituele sy woord gemompel kan word en nie eenkeer duidelik uitgespreek word nie. Daar is geen onduidelikheid in die woorde waardeur die evangelie die krag, aard en gebruik van die doop uitspreek nie. Dan, in die nagmaal, mompel Christus nie oor die brood nie, maar spreek Hy die dissipels in geen onduidelike taal aan wanneer Hy die beloftes en byvoegsels beveel: “doen dit in herinnering aan my.” In die plek van die publieke aankondiging, fluister hulle geheime beswerings meer gepas (soos ek waargeneem het) vir towerkunste as vir die bediening van sakramente.
Die eerste ding waaroor ons hier besorg oor is, dat die mense vermaak word deur middel van vertonings terwyl nie ‘n woord gerep word ten opsigte van hul betekenis en waarheid nie. Daar is geen nut vir die sakramente as die sigbare teken nie verduidelik word uit die Skrif nie. Daarom, as die mense bedien word met leë simbole, waarmee die oog gevoed, terwyl hulle geen leer ontvang wat die betekenis uitwys nie, kyk hulle nie verder as die uitwendige optrede nie. Daaruit vloei die mees verwerplike bygeloof dat die sakramente alleen voldoende vir hul saligheid is. Sonder enige geloof, bekering of gevoel vir Christus self. Hulle vestig hul hoop op die teken self eerder as dit waarop dit dui. Hierdie leer vind ons nie net onder die mees vulgêre mense nie maar ook in die skole. Asof hierdie tekens is opsigself genoegsaam is mits dit nie bederf is deur dodelike sonde nie. Die sakramente is tog om geen ander rede gegee as om ons aan die hand te lei na Christus nie.
Dan, in aanvulling hiervan, nadat die brood ingeseën is deur middel van ‘n vroom ritus, hou hulle dit in ‘n klein dosie, dit word dan eerbiedwaardig rondgedra, sodat dit aanbid en bewonder kan word in die plek van Christus. Desgelyks, wanneer gevaar dreig, wend hulle hulself tot hierdie brood as hul enigste troos, gebruik dit as ‘n gelukbringer teen enige ongeluk en terwyl hulle vergiffenis van God vra, word dit as die beste voorgehou, asof Christus, toe Hy sy liggaam as offer gegee het, bedoel het dat dit vir alle tipes absurditeite gebruik kon word. Wat is die som van die belofte? Net dit: Vir so gereeld as ons hierdie sakrament ontvang, deel ons in sy liggaam en bloed “neem dit” het Hy gesê en eet, dit is my liggaam, dit is my bloed. Doen dit in herinnering aan my. Kan ons nie sien dat die belofte aan beide kante begrens is binne die perke waarbinne ons ons bevind indien ons dit wil verkry wat dit belowe nie? Hulle dan wat mislei word om hulle te verbeel dat, buiten die wettige gebruik van die sakrament, hulle niks het behalwe gewone brood – ongeseënde brood.
Dan is daar die ontheiliging wat kenmerkend is van al hierdie rituele: die onderwerp van skandelike omgang, asof dit ingestel is met geen ander doel as om wins te bekom nie. Hierdie omgang word nie in die geheim nie, maar word skaamteloos in die openbaar bedryf selfs op die openbare mark. Dit is welbekend wat die prys van die Mis is. Elke spesifieke distrik het ‘n spesifieke prys. In kort, almal kan sien dat die kerk maar net ‘n besigheid is en dat daar geen heilige rite is wat nie te koop is nie.
Indien ek in diepte moet ingaan op die foute in die kerkregering, sal ek my eerder beperk tot slegs die grofste mistastings wat nie verberg kan word nie.
Kerkregering
Eerstens, die pastor amp self soos dit ingestel is deur Christus, het lankal in onbruik geraak. Sy doel met die aanstelling van biskoppe en pastors of wat ookal die naam is wat hulle genoem word, was sekerlik soos Paulus verklaar; dat hulle die kerk moet opbou deur middel van die gesonde leer. Volgens hierdie verklaring is niemand ‘n ware pastor as hy nie die leeramp beoefen nie. Maar vandag het byna almal wat pastors is, dit aan ander oorgelaat. Skaars een uit ‘n honderd van die pastors bestyg ooit die kansel om te onderrig. Dit is geen wonder nie, die bisdomme het ontaard in sekulêre direksies. Minderwaardige pastore dink dat hulle met hul ligsinnige vertonings, wat vreemd is aan die bevele van Christus, hul amp vervul. Sommige van hulle laat, in navolging van die biskoppe, die pligte oor aan ander. Daarom is die verhuring van ‘n amp nie anders as die verhuring van ‘n plaas nie. Wat kan ons nog meer sê? Die geestelike regering wat Christus daar gestel het, het totaal verdwyn. ‘n Nuwe baster regering het verskyn, wat, onder watter naam ookal, geen ooreenkoms het met dit wat Christus ingestel het nie, net soos die wêreld geen ooreenkoms met die koninkryk van God het nie.
Indien daar nou beswaar gemaak word dat dit slegs ‘n klein minderheid is wat nie van toepassing op almal gemaak kan word nie, dan antwoord ek, eerstens, die euwel kom algemeen voor, dit word gesien as die reël, nie die uitsondering nie. Tweedens, as ons aanneem alle biskoppe en al die pastors en al die presbiters onder hulle hulself vestig in ‘n spesifieke pos waarin hulle ‘n professionele diens lewer kan hulle nog nie die ware instelling van Christus volbring nie. Hulle sing en mompel in die kerk, voer vertonings op, vertolk talle seremonies, maar selde in dien ooit, onderrig hulle volgens die voorskrifte van Christus. Kan iemand die amp opeis as hy nie die skape voed met die woord van die HERE nie?
Dus, hoewel die wat in die kerk is hulself moet onderskei van ander en moet skitter as gevolg van hul heiliger lewe, leef hulle nie in ooreenstemming met hul roeping nie! In ‘n tyd waarin die korrupsie in die wêreld ‘n hoogtepunt bereik, is daar geen ander insetting wat meer verslaaf is aan verskillende euwels nie. Ek wens dat hulle in hul onskuld my sal weerlê, ek sal graag dit terugtrek, maar hul verdorwenheid staan ontbloot vir almal om te aanskou. Hul onversadigbare hebsug en gulsigheid ontbloot hul onverdraagsame trots en wreedheid. Die geluid van onbetaamlike feesvreugde en dansery, die hartstogtelike dobbelary en vermaak, hul oorvloedige dranksugtigheid kom alledaags voor in hul huise. Terwyl hulle floreer in hul weelderige lekkerkry asof dit onderskeibare deugsaamheid is.
Ons gaan stilswyend by ander dinge verby. Watter onsuiwerheid is die selibaat wat hulle beskou as ‘n deug wat hoog aangeslaan moet word. Ek staan beskaamd om die afskuwelikhede te ontbloot wat ek eerder sou wou onderdruk indien dit deur middel van swye reggestel kon word. Ek sal nie openbaar wat in die geheim gedoen word nie. Die besoedeling wat openlik voorkom is meer as voldoende. Hoeveel Priesters is vry van hoerery? Nee, hoeveel van hul huise is berug vir daaglikse dade van ontug? Hoeveel eerbare families onteer hulle met hul onbeteulde luste? Vir sover dit my aangaan, ek put geen genot deur dit te ontbloot nie, dit is nie deel van my aard nie maar dit is belangrik om waar te neem watter groot verskil daar is tussen die gedrag van die priesters vandag en die van die ware bedienaars van Christus en sy kerk.
Geen onbenullige afdeling van die kerkregering is die gereelde verkiesing en bevestiging van hulle wat in die regeeramp staan. Die woord van God het duidelike standaarde wat gestel word waaraan aanstellings getoets behoort te word. Daar is ook heelwat verordeninge deur vroeëre konsilies uitgevaardig wat versigtig en wys voorsiening maak vir alles wat nodig is vir behoorlike verkiesing. Laat ons teëstaanders bewys lewer van ‘n enkele kanonieke aanstelling en ek sal hulle erkenning vir oorwinning gee. Ons weet wat die tipe ondersoek is wat die Heilige Gees, by monde van Paulus (briewe aan Timoteus en Titus) vereis dat ‘n pastor moet slaag en wat die antieke wette van die vaders onderstreep. Word daar vandag nog enigsins aandag hieraan gegee by die aanstelling van biskoppe? Nee, hoeveel van hulle wat bevestig word in die amp is toegerus met die gawes wat nodig is vir bedienaars in die kerk? Ons kyk na die orde wat die apostels onderhou het in die aanstelling van leraars, na dit wat die vroeëre kerk nagevolg het en laastens wat die vroeë kanon vereis om nagekom te word. Indien ek sou kla dat hierdie voorskrifte vandag verwerp word sou ek verkeerd wees? Wat dan, kan ek sê alles word vandag vertrap en dat aanstellings deur middel van oneervolle en skandelike prosedures geskied. Hierdie is ‘n algemene, bekende en berugte feit. Eervolle kerklike ampte word vir ‘n vasgestelde prys gekoop of deur middel van geweld bekom of op ander afskuwelike maniere verkry. Per geleentheid word dit selfs verhuur deur koppelary en soortgelyke dienste. In kort, meer skaamtelose prosedures word vertoon as wat ooit vir te verkryging van sekulêre besittings voorkom.
As hulle tog wat voor sit in die kerke terwyl hulle die regering verknoei net namens hulself gesondig het of ten minste ander met niks minder as net hul slegte voorbeeld benadeel het nie! Die skandelikste gruwel van alles is egter dat hulle ‘n wrede tirannie beoefen en dit ten koste van siele. Die grootpraterige krag vandag in die kerk is niks ander as wetteloosheid losbandigheid, onbeheersde heerskappy oor siele, onderwerping daarvan aan die mees ellendigste van bindinge!
Christus het aan die Apostels ‘n gesag soortgelyk aan die van die Profete gegee. ‘n Gesag wat presies gedefinieer is: Om op te tree as sy ambassadeurs vir mense. Nou, die onveranderlike wet is dat hy wat as verteenwoordiger aangestel word opdragte getrou en godsdienstig uitvoer. Dit word uitdruklik beveel in die apostoliese opdrag: “gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het Matt. 28:19 Dus, “leer” nie wat julle wil nie maar die evangelie. As daar gevra word op watter gesag praat hulle opvolgers, dan verwys ons na 1 Petrus 4:11 “ As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God”
Nou, alhoewel hulle wat veronderstel is om die kerk te regeer hulself die reg toe-eien om te spreek wat ookal vir hulle aangenaam is en dan nog aandring dat sodra hulle gespreek het hulle onmiddellik gehoorsaam moet word. Dit sal aangetoon word dat dit lasterlik is en dat die enigste reg wat hulle hulself kan aanmatig, is om te sanksioneer wat die Heilige Gees aan hulle geopenbaar het. Hulle sal, in ooreenstemming daarmee, hulself verweer dat hulle nie die gewetens bind van die gelowiges nie maar slegs aan die Godsprake van die Heilige Gees wat aan hulle geopenbaar is bevestig en oordra aan ander.
Voorwaar ‘n (op die oog af) onskuldige voorneme! Geen persoon twyfel dat wat ookal die Heilige Gees deur hulle hande lewer, onmiddellik gehoorsaam moet word nie. Maar as hulle nou die goddelike uitsprake van die Heilige Gees afhanklik maak van hulle aanspraak dat hulle op die stoele van waarheid sit en dat hulle besluite daarom niks anders as die waarheid is nie, is dit dan nie ‘n maatstaf van hul eie grille nie? Omdat, as al hul bevele, sonder uitsondering, as godsprake aanvaar moet word, daar geen einde aan hul mag is nie. Watter Tiran het al ooit die geduld van sy onderdane so mishandel deur aan te dring dat alles wat hy proklameer as ‘n boodskap uit die hemel aanvaar moet word! Tiranne sal ongetwyfeld hul edikte gehoorsaam wil hê, wat ookal die edikte bepaal. Hierdie mense vereis veel meer. Ons moet glo dat dit wat hulle op ons afforseer van die Heilige Gees is as hulle dit gedroom het.
Ons kan in ooreenstemming hiermee sien, hoe hard en verderflik die binding is waardeur, bewapen met die mag, hulle die siele van die getroues verslaaf. Wette op wette word gemaak sodat dit strikke vir die gewete kan wees. Hierdie wette het nie betrekking op die uiterlike dinge nie maar is van toepassing gemaak op die geestelike regulering van die siel. Daar is egter geen einde in sig alhoewel die hoeveelheid wette reeds baie is, dat dit die voorkoms van ‘n doolhof het. Dit lyk inderdaad of sommige daarop ingestel is met die doel om die gewete te kwel en te martel, terwyl die nakoming daarvan afforseer word met ‘n strengheid asof dit die hele wese van piëteit omvat. Nee, met betrekking tot die oortreding van die gebooie van God, word of geen vrae gevra of ‘n ligte boetedoening word opgelê. Enigiets egter wat die gebooie van mense is, word in ‘n baie ernstiger lig beskou. Terwyl die kerk belas word met hierdie tiranniese juk, word enigeen wat dit durf waag om hom hierteen uit te spreek, bestempel as ‘n dwaalleeraar. In kort, om ons griewe te lig, word as ‘n halsmisdaad beskou. Ten einde hierdie ondraaglike onderdrukking in stand te hou word wrede edikte uitgevaardig wat mense verbied om die Skrif te lees of te verstaan en word die banvloek afgekondig oor enigeen wat hul gesag bevraagteken. Hierdie oordadige hardheid vererger daagliks, sodat daar nou oor die onderwerp van geloof byna niks bevraagteken kan word nie.
In ‘n tyd waarin goddelike waarheid verborge lê onder goddelose bygelowe; terwyl die aanbidding van God godslasterlik bederf word en sy glorie ongedaan gemaak word; terwyl deur middel van ‘n magdom perverse opinies die voordele van verlossing verydel word en die mens, vergiftig deur ‘n dodelike vertroue in goeie werke saligheid oral behalwe in Christus gesoek word; terwyl die bediening van die sakramente gedeeltelik geskend en verskeur is, gedeeltelik vervals is deur ‘n mengsel fiksie, gedeeltelik ontheilig deur smousery vir eie gewin; terwyl die regering van die kerk verval het in verwarring en vernietiging, terwyl die pastors die kerk eerstens verwond het met eie ongebondenheid in leer en lewe en tweedens ‘n wrede tirannie uitoefen op siele deur elke soort dwaling mense soos skape na die slagting lei. Totdat Luther opgestaan het en na hom ander wat deur wat deur verenigde beraadslaging maniere bedink het waarop ons geloof gesuiwer kan word van al hierdie besoedeling, die gesonde leer van God herstel tot sy glorie en die kerk verrys het uit die rampspoedige posisie waarin dit was tot ‘n ietwat verdraagsame vlak, dit is dieselfde weg wat ons nastreef.
[1] Sien Heidelbergse Kategismus, So.35, v&a 96.
[2] Met verwysing na die stryd in die GKSA aangaande Skrifbeskouing en die Cloeteomdigting, skryf Dr. VE d’Assonville, jnr. in die Nov/Des. 2003 uitgawe van die Waarheid en Dwaling maandblad: “Sodra ‘n mens eksegeties of teologies vasdraai, word na die oplossing gegryp om ‘n saak as ‘middelmatig’ te verklaar, ongeag die vraag of dit van God se kant af middelmatig is (vergelyk R Schlenzka, 1995).