Die Doppers en hul Sabbat
ds. Gustav Opperman
(Ds. Opperman is leraar van die Gereformeerde Kerk Matlabas. Hierdie artikel het die eerste keer verskyn in die Esra Verslag, Jg.11, nr.54, 2003)
Als men’t vierde gebodt voor ceremonieel en afgeschaft houdt zoo onbindt men tegen Christus bevel en dreigement Matth 5 ;17,18,19 nie slegts een van de minste, maer een van de grootste geboden der wet. Johannes vander Kemp 1737. [1]
Inleiding
Met die sinodebesluit van 2003 van die GKSA aangaande die verhouding Sondag en Sabbat word daar ‘n verhouding met die Sabbat-beginsel verbreek. Hierdie Sabbat-beginsel het onder gereformeerdes in Suid-Afrika gegeld vanaf die kerkstigting in Suid-Afrika in 1652. Volgens die 2003 sinodebesluit is die Sabbat-beginsel nie meer ‘n skeppingsordening nie. Gelowiges en ander staatsburgers staan ook onder geen verpligting meer om een uit sewe dae van hulle arbeid te rus nie. Alhoewel rus van werk goed en nodig is vir die mens, is daar, volgens Sinode 2003 nie ‘n bepaalde Skriftelike opdrag om een dag daarvoor af te sonder nie
Verpligte eredienste vir die geloofsgemeenskap op Sondae word ook afgeskaf. Dit is slegs in “navolging van die gebruik van die vroeg-Christelike kerk” dat ons nog eredienste op ‘n bepaalde dag in die week hou. Hiervoor word die Sondag “primêr” benut.[2] Enige ander dag in die week sou egter ook goedskiks vir die doel aangewend kon word.[3] Die Sondag kan wel as ‘n feesdag gesien word, maar die motivering daarvoor is nie heeltemal duidelik nie. Met verwysing na die samekomste op die opstandingsdag het dit waarskynlik geskied omdat die destydse geloofsgemeenskap so daardeur beïndruk was dat hulle daarmee voorgegaan het. Dit wil ook nie sê dat die Sondag noodwendig daardeur die dag vir die erediens geword het nie. Dit het net tipies op die Sondag uitdrukking gevind.[4]
Met hierdie besluit word twee woorde in die Afrikaanse taal nou voortaan tot die geskiedenisboeke beperk: Sabbatsheiliging en Sabbatsontheiliging. Dit staan die gelowige, die ongelowige en hulle owerhede nou vry om met die Sondag/Sabbat te maak wat hulle wil. Probleme wat daar voorheen met Sondagsport en Sondaghandel was, is dus nou ook iets van die verlede. In die sinodes wat kom sal die kerkregtelike implikasies van hierdie besluit seker verder uitgewerk moet word. Soos Prof Bouke Spoelstra tereg aandui, het artikel 67 van die Dordtse Kerkorde van 1618/19 byvoorbeeld nog altyd die Sondagviering as uitgangspunt gehad.[5] Tot op hede word hierdie KO nog deur die GKSA gebruik.
Die Sondag/Sabbat vanaf die kerkstigting in 1652
Die Bataafse Kerkorde van 1643 wat geskoei was op die KO van Dordt het dit ook in soveel woorde aangedui. Daar word by artikel 67 verwys na die onderhouding van die “ordinairen Sabbath”.[6] Dit is hierdie KO wat Jan van Riebeeck en sy werkgewers op die Kaapse samelewing sedert 1652 van toepassing gemaak het. In die skeepskis van die sieketroosters was daar ook ‘n Statebijbel met kantaantekeninge. Hiervolgens staan die volgende as aantekening by die gebod in Eksodus 20 met betrekking tot die Sabbatdag: sondert hem af van u gemeyn werck of dagelijshshen arbeyt gehoorende tot dit tijdeliche leven …
Van die begin van die gereformeerde kerkplanting was daar moeite met die onderhouding van die Sondag/Sabbat. Die instruksies van die Oos-Indiese Kompanie rondom die onderhouding van die Sondag/Sabbat was nie altyd voldoende nie en moes van tyd tot tyd aangevul word. Daar was volgens die Kommandeur steeds droncken drinckende debouchereren mistsgaders wat den dag des Heeren seer Godtloselyck ontheyligen. Daarom was die tappers en die herbergiers terstond verbied om op die dag drank te skink. Verontagsaming van die regulasie kon die oortreder ‘n boete en die verlies van sy lisensie vir 12 maande op die hals haal.[7]
Soos dié dag maklik in beslag geneem kon word deur wêreldse dinge, so was die onderhouding van die eredienste terselfdertyd nie altyd ‘n vanselfsprekende saak nie. Adam Tas verwys in sy dagboekinskrywing van Sondag 14 Junie 1705 na die laksheid van die predikante wat ‘n erediens maklik self kon afstel: De geestelijke maats in dit land zijn bezonder op haar gemak gezet.[8]
Nogtans lees ‘n mens by reëlmaat jaar in en jaar uit in die goewerneurs se dagregisters hoe dees’ Sabbathdag deur hulle onderhou was.[9] Vir land en volk moes dit tot groot seën gewees het, want die Goewerneur sluit sy dagregister in 1781 met dank af: dien Goedertierene Heere het die land in stille ruste van oorlogsramp bewaar[10] (vgl Jes.58:13,14). Van owerheidsweë wil dit dus blyk dat die Sondag/Sabbat die nodige erkenning geniet het. Dit was dus met vrymoedigheid dat die kerkraad van die Kaapse kerk onder leiding van Dominees van Lier en Fleck in die tyd weereens die owerhede met die saak genader het. Die sabbatsontheiliging door het gemeene volk en de slaven alhier moes volgens hulle gestuit word. In die verband vra hulle dat die Politieke Raad die plakkaat teen sondagsarbeid sal hernu.[11]
‘n Nuwe Staatkundige en Kerklike bedeling
Met die oorname van die Kaap eers deur die Britse owerhede en daarna deur die Bataafse Republiek het daar ‘n nuwe kerklike bedeling gekom. In die gees van die Franse Rewolusie is hervorminge en omvorminge op vele gebiede deur Kommissaris de Mist aangepak. Volgens talle geskiedskrywers was die invoering van sy Kercken-orde in 1804 dan ook die sterfjaar van die sewentiende eeuse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.[12] Met sy eerste proclamatie op 1 Maart 1803 stel De Mist sy ideaal dat in deeze volksplanting mooge herbooren worden die geest van matigheid en dien eerbied voor de republikeinsche deugden onzen voorvaderen bezittingen.[13]
In hierdie opsig was die Kommissaris egter nie ‘n navolger van die Robbespiere, die vader van die Franse Revolusie nie. Robbespiere het immers alle Sondag onderhouding in die Franse Republiek verbode verklaar. Hierteenoor het die Bataafse regering aan die Kaap wetgewing uit die vorige bedeling i.s. die onderhouding van die Sondag/Sabbat in ere herstel en selfs hulle eie byvoegings daartoe gelewer. Om op die dag aan hand- of huiswerken te arbeiden en om vooral te laten timmeren, metselen en te bouwen was nou ook verbode. Sou daar gedurende den godsdienst allerlei eet- en koopwaren op straat aangebied word, kon die owerheid beslag lê op die goedere.[14] Wat hierdie wetgewing des te merkwaardiger maak, is die feit dat die Nationale Vergadering in Nederland reeds sedert 1796 alle plakkate en resolusies teen die ontheiliging van die Sondag afgeskaf het.[15]
‘n Meer merkbare verandering sou intree met die Engelse oorname van die Kaap. In dié tyd is daar ‘n toename van klagtes oor nuwe verskynsels soos the Races (perdewedrenne) en danspartye. Die goewerneur het dit selfs goed gedink om Sondae vir die toenemende dansmanie af te sonder. Predikante soos ds. G.W.A van der Lingen het na die beste van hulle vermoë wal gegooi. Algaande het daar ook ‘n gees van onverdraagsaamheid teenoor die kerk na vore gekom. Veral die Sondagswet waarvoor die kerke in 1837 hulle beywer het, het onder bytende oordeel gekom.
Selfs ‘n Hollandse gesinde blad soos die Meditator wemel van sarkasme teenoor enige vorm van Sabbatsywer. ‘n Voorbeeld uit 1837 lees soos volg: O Mores !!! (dat betekent: Basta soep eten op Zondag!). Gaat na Kerk, goede zielen ! Gaat maar zoet alle Zondagen naar Kerk ! En als gij honger moogt hebben, gaat dan de fraaije predikatien van den Eeerw. Heer S …. hooren, en gij zult spoedig verzadigd worden.[16]
Die Sondag/Sabbat op die buitewyke
Teen hierdie tyd was die binneland reeds vêr binnegedring en die tydsgees wat aan die Kaap gegeld het, het weinig impak in die afgesonderde gebiede gehad. Op die afgeleë plase was die boere skaars bewus van die invloede in die Kaap. Die Statebybel met sy kanttekeninge was nog steeds hulle daaglikse spyse. Daarbenewens het ‘n beperkte aantal godsdienstige boeke ook ‘n belangrike rol gespeel. Hier word na die bekende auteurs van die Nadere Reformasie verwys, o.a.: Johannes van der Kemp, à Brakel en Smijtengelt.[17] Dit is hierdie afgesonderde grensboere wat die oorspronklike gereformeerde beginsels gehandhaaf het. Later sou hulle as die Doppers bekend staan. Met hierdie oortuigings is hulle dan ook later dieper die binneland in. Hoe het die Sondag/Sabbat-siening van die Doppers daar uitgesien? Die mees verteenwoordigende auteur onder die pioniers was ongetwyfeld Wilhelmus à Brakel . Sy bekendste werk was Redelijke Godsdienst wat in 1700 die eerste keer verskyn het en in die loop van die 18de eeu minstens 21 drukke beleef het.[18] Soos met die ander gebooie, kry die Vierde Gebod die nodige aandag van à Brakel.[19]
Hy begin deur ‘n aantal etiese riglyne vir die besteding van die sabbatdag deur te gee. Hieronder mag die dag o.a. nie as werkdag, markdag, plesierdag of sondendag aangewend word nie. Laasgenoemde verwys na die gebruik van sommige om sig op te pronken met allerley werelts optoysel. Met die positiewe inkleding van die gebod is à Brakel ewe eens ferm: die huisgesin moet versorg wees vir dag sodat aankope nie nodig sal wees nie, in navolging van God moet daar op die sabbat heilige rus wees, die gelowige moet hom op die dag verlustig in God se werke, die openbare vergaderinge bywoon, die gemeenskap met die heiliges beoefen, die ellendiges besoek, nabetragting oor die goeie van God in die lewe hou en elke gelowige behoort ook op die sabbat ook reikhalsend te verlang na die ewige rus.
Vervolgens gee àBrakel aandag aan die kwessie of die sabbat ‘n skeppingsordening is al dan nie. Hierdie saak word breedvoerig bespreek. Die hele Bybel en die uitsprake van die vroeë kerk word onder die loep geneem. Hy kom tot die gevolgtrekking dat den sevensten dag voor den Val is ingestelt en dus nog vandag nog geld. In die tweede deel van Redelijke Godsdienst noem à Brakel dat die sabbat met die opstanding van Christus verzet werd na die dag wat Johannes die Dag van die Here noem.[20]
Dit kan gevra word hoe hierdie beginsels in die praktyk onder die landelike Doppergemeenskap tot uiting gekom het ? Met die aanbreek van die Sondag/Sabbat op die ou boerewerf vêr van die naaste kerk moes alles wat moontlik kon, tot rus kom. Dis was ‘n stil en gewyde feesdag wat in baie opsigte die Saterdagmiddag begin het. Toe reeds is die werksaamhede gestaak, die plaasgereedskap weggebêre en die werf skoongemaak. Ook in die huis is alles skoongemaak en die huiswerk afgesluit. Op die sabbatdag is die spesiale sondagsklere aangetrek, want om tienuur vergader die gesin in die voorkamer waar huisgodsdiens gehou en ‘n preek voorgelees word.[21] Die digter F. v.d. Heever het die tydlose Sondagmore op die boerewerf van die verlede soos volg beskryf:
Dit is stil in die voorhuis
En stilte rus swaar op die stilte daarbuite
En stoffies hang blink in die lug, waar die venster
‘n Gulde balk van louter luister inlaat.
Daar word boeke gevat:
Die psalm gaan statig opruis,
Ruis weg oor die druipende wilgers,
Waar die tortels self luister;
‘n Himne aan God, aan wie dit gerig is,
‘n Statige himne van rus en vrede,
‘n Wierookkolom.
Dis weer stil.[22]
In hierdie beskrywinge is daar iets van die verlange te bespeur om deel te wees van die gemeenskap van die gelowiges in die normale erediens op die Sondag. Iets wat uiteraard moeilik was en dikwels slegs by nagmaaltye plaasgevind het. Hoor byvoorbeeld hoe die boere van die Camdebo in 1778 in die taal van die Statebybel hulle lot bekla hoe meenig bedroefde en verbrijselde siele sugt en verlangt met opgesteeken hoofde tot de voorhoven des Heeren onses Gods te naaderen. Hulle wou daar wees op die Sondag/Sabbat waar hulle eenmoedelijk de Name des Heeren onses Gods kunnen aanroepen.[23]
Die Sondag/Sabbat tydens die Groot Trek
Die godsdienssin van die Voortrekkers en hulle gehegtheid aan die kerk is goed geboekstaaf. In die opdrag aan die binnekant van die Statebijbel wat die Engelse inwoners van Grahamstad in 1836 aan Jacobus Uys en sy landgenote gegee het, word o.m. melding gemaak van de begeerte welke zij aan den dag gelegd hebben om een Prediker te verkrijgen, en hunne stipte nakoming der Heilige Instellingen. Met hierdie gesindheid, gaan die opdrag verder, sou die Trekkers hulle laten geleiden door de Bevelen in dit Heilig Boek begrepren, en standvastig aan dezelfs Heilige Wetten zullen aankleven, als onwrikbare voorschriften van den Schepper van het Heelal – den God van alle Natien en Volkeren.[24]
Op trek was drie eredienste per Sondag nie ongewoon nie. Hierdie is nie in werksklere bygewoon nie, maar kerkgangers het hulself uitgevat in kis- of kerkklere. Die Sondag/Sabbat is sover moontlik eerbiedig. Daar was nie sonder meer gewerk of na willekeur geskiet nie. Verkieslik moes daar dus ook nie op Sondae getrek word nie.
So is die Israeliete se uittog uit Egipte gedurig deur die Voortrekkers in herinnering geroep. Hulle het hulself vergelyk met die uitverkore volk op pad na ‘n beloofde land. Eerw Erasmus Smit het na hulle verwys as onze reizende Gereformeerde Kerkgemeente in de Woestijn. [25]
Die Wenkommando wat later teen Dingaan opgetrek het, word deur die geskiedkundige Theal beskryf as verteenwoordigend van an itinerant prayer meeting rather than a modern army on the march, for the men were imbued with the same spirit as the Ironsides of Cromwell and spoke and acted in pretty much the same manner.[26] Dit is alles getuienis wat dui op die besondere godsdienssin van die pioniers.
zoals een Sabbath …
Daar is ook ‘n besliste verband tussen die klassieke gereformeerde verbondsteologie en die gelofte wat in Desember 1839 deur die Wenkommando van Andries Pretorius afgelê is.[27] In hierdie verbondsteologie soos verwoord deur à Brakel en andere, word ‘n bepaalde Sabbatsbeskouing gehandhaaf soos reeds aangedui. Dat die Voortrekkers in hulle uur van nood belowe het om ‘n besondere dag van die jaar aan die almagtige Verbondsgod te wy zoals een Sabbat as Hy hulle die oorwinning sou skenk, kan net beteken dat hulle self ‘n besondere waarde geheg het aan die gewone Sondag/Sabbat.
Sonder genoemde Sabbatsbeskouing van à Brakel in gedagte, word enige hedendaagse besinning oor die Bloedrivier-gelofte en die volgehoue viering daarvan as sulks dus sinneloos. H.B Thom het dit reeds in 1949 aangetoon is sy studie oor die Geloftekerk: Wanneer ons Dingaansdag vier, moet ons na die Gelofte teruggaan. Ons moet op die ontstaan en die inhoud daarvan let, en ons moet weer in die gees daarvan kom.[28]
In 1938 ‘n eeu na die aflegging van die gelofte is die gebeurtenis weer in herinnering geroep op die Bloedrivier-terrein. Ds L Botha het die oggend godsdiens gelei en die volgende aangaande die Sabbatskarakter van die gelofte gesê: Dit mag nooit ontaard in ‘n vakansiestemming nie. ‘n Dag van ontspanning en uitspatting mag dit nooit word nie. Vir die Voortrekkergeslag was die Sabbat ‘n heilige dag. Aan so ‘n betaling van die Gelofte het daardie manne ons gebind tot in die verste nageslag. Teen die tyd moes daar al ‘n mate van afval ingetree het, want Ds F. van der Merwe preek by dieselfde geleentheid van die volksputte wat weer oopgegrawe moet word n.a.v. Gen 26:18. Een van die putte wat met die tyd reeds onder die sand bedolwe geraak het, is volgens hom die Put van die Dag van die Here. [29]
Met verloop van tyd was die Geloftekerk in Pietermaritzburg gebou en is die Sondag/Sabbat asook die Gelofte/Sabbat gereeld daar gevier. Die Voortrekker predikant Daniel Lindley het vir ‘n geruime tyd die dienste daar gelei – klaarblyklik met goeie gevolg. Self nadat die Engelse invloed in Natal begin toeneem het, het daar nog steeds ‘n Sabbatseën op die gemeente daar gerus. When the first small companies of English immigrants arrived, all ranks and conditions of men, of all creeds, of all complexions or orthodoxy – and possibly of heterodoxy – assembled without hesitancy or controversy in the old Dutch church. With one heart and voice and apparently without desire for change, in harmony as unbroken as the calm and brilliant sun shone on our primitive Sabbaths.[30]
Republikeine en Doppers
Op 23 Februarie 1854 het die Boererepubliek van die Oranjevrijstaat tot stand gekom. ‘n Uitgangspunt dat die staat hom verbind tot die handhawing en uitbouing van die gereformeerde leer is in die Constitusie van hierdie republiek neergelê. Die laaste artikel van die Constitusie lui dan ook soos volg: De Nederduitch Gereformeerde Kerk zal door den Volksraad bevorderd en ondersteund worden. Hoe hierdie ondersteuning in die praktyk beslag gekry het, blyk o.m. uit die wet op tol tariewe wat by bruê in die republiek gehef was: alleenlik kerkgangers tussen Saterdagmiddag drie-uur en Maandagoggend tienuur was van hierdie tolgeld vrygeskeld. ‘n Verdere bepaling lui dat die betrokke pad na ‘n dorp moes lei waarin daar ‘n kerkgebou was.[31]
Vyf jaar na die republiekwording in die Oranjevrijstaat, het die Doppergesindes in hele Suidelike Afrika tot kerkstigting oorgegaan – of tot die herstigting van die Gereformeerde kerk in die land soos hulle dit gesien het. In 1869 bring hulle ‘n teologiese skool in Burgersdorp op die been met onze Vader Postma aan die hoof daarvan.
Handboeke was skaars en Postma verbind hom tot die opstel van ‘n handleiding tot die dogmatiek wat dan ook in 1875 verskyn. Hierdie, die eerste werk van so ‘n aard uit Doppergeledere self gee ons ‘n duidelike beeld hoe dit destyds met hulle Sabbatsbeskouing gesteld was. Na aanleiding van Gen 2:3 sien die handleiding die Sabbat as ‘n goddelijke instelling en zedelijke verplichting. Vervolgens word die vraag gevra of die kerk die vrye keuse het om te bepaal watter dag van die week vir die diens aan die Here afgesonder word. Die antwoord is negatief in die gees van à Brakel. Wie die Sabbat as ‘n skeppingsordinansie sien, kan nie anders as om die vasgestelde dag daarvoor aan te wend nie. Bekende Skrifgedeeltes uit die Nuwe Testament word verder aangehaal om aan te toon dat die Sabbat vir die Christen nou op de dag des Heeren val.[32]
Die Dopper Paul Kruger word later die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek en word toenemend gekonfronteer deur die versoenbaarheid van reeds genoemde Sabbatsbeginsel en die aandrange van die moderne maatskappy. Sommige van sy volksraadlede het aangedring op ‘n strenger Sondagwet terwyl ander niks van die aard wou hê nie. Kruger volg ‘n middeweg: Enersyds moes niemand die vryheid hê om ‘n ander se vryheid in te kort nie en andersyds mag ons in die strenge toepassing van ‘n Sondagwet nie verder gaan as wat die Volmaakte wet vereis nie. Kruger gaan deurgaans van die standpunt uit dat die Woordverkondiging op die Sondag/Sabbat nie versteur mag word nie. Die staat kan oorbodige werk belet, bv. handeldrywe, onnodige transportryery en die werk van mynstampers, maar verdere optrede word aan die gewete van die mense oorgelaat.[33]
Met die uitbreek van die Anglo-boereoorlog het die gemeentelede van die Afrikaanse kerke in die Boererepublieke aangepas om lywige, swerwende gemeentes, immer wisselend in samestelling en lidmatetal te word. Alhoewel die krygers tydens oorlog dikwels op die Sondag moes veg of vlug, het hulle nogtans ‘n hoë agting vir die heiliging van die Sabbat gehad. Daar is by geleentheid opgemerk dat dit besonder veel moeite kos om ‘n Boer sover te kry om op ‘n Sondag iets te onderneem, en as hy nie direk aangeval word nie, sal hy nie sy Bybel en psalmboek vir sy Mauser verruil nie.[34]
Verskuiwing in die Dopper standpunt
Etlike jare na die oorlog lê die Nederlander H.H. Kuyper in opdrag van die Gereformeerde Kerken besoek af in Suid-Afrika.[35] Onder die gereformeerde kerke plaaslik beskou Kuyper die Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika as die kerkverband wat die Calvinistisch karakter die suiwerste bewaar het. Hiertoe het die nougesette vashou van die Doppers aan die Statebybel met kantaantekeninge geen geringe rol gespeel nie. By al die kerkverbande word die Sabbatsrus streng in ag geneem, merk hy op, sonder om te verval in Joodse oordrywing.
In 1927 besluit die twee en twintigste Sinodale vergadering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika om voorstel deur te stuur aan die regering i.s. Sabbatsheiliging.[36] Dank word uitgespreek oor die pogings wat reeds van regeringskant aangewend word om hierdie saak te bevorder in die publieke diens. Desondanks sien die Sinode met teleurstelling dat die dag des Heeren ontheilig en die openbare erediens afgeskeep word. Dit blyk dat die ministers self nie ‘n goeie voorbeeld stel in die opsig nie, daar word op die Sondag politieke vergaderings gehou – ‘n voorbeeld wat reeds deur die naturelle gevolg word. Sodoende, meen die sinode, sal die Christelike karakter van ons volk langsamerhand verlore gaan.
Later jare het die Kommissie van die Gereformeerde Kerk vir die bestryding van Sosiale Euwels weer die kwessie van die Sondag/Sabbat onder die loep geneem. Na die Sinode van 1945 word daar ‘n versoek tot die regering gedoen dat die petrolstasies op Sondae ook na die oorlog gesluit sal bly. Hiervolgens word in die handelinge opgemerk dat die saak reeds in 1943 aangeroer is, maar dat hulle tot op hede nog geen antwoord van die regering ontvang het nie.[37]
In 1993 verskyn daar ‘n handboek oor die Tien Gebooie deur Prof P.J. de Bruyn van die Potchefstroomse Teologiese Skool. Hiervolgens is die Sondag nie ‘n verskuifde sabbat nie. Inderdaad is die Ou Testamentiese sabbat deur Christus vervul en het dit verval. Nogtans bly dit voorbestaan as ‘n skeppingsordinansie en ‘n verbondsteken. Gelowiges word opgeroep om hulle nie-noodsaaklike beroepsarbeid op Sondae na te laat. In navolging van die Heidelbergse Kategismus se verklaring van die 4de gebod was dit noodsaaklik dat die eredienste op die rusdag bygewoon word. De Bruyn sluit af deur te verwys na die negatiewe gevolge van Sondaghandel, Sondagkoerante en Sondagsport.[38]
Met die aanbreek van die millennium verskyn die Sondag/Sabbat kwessie weer op die tafel van die Nasionale Sinode in die vorm van ‘n beskrywingspunt. ‘n Studie word nou nodig geag oor die verhouding tussen Sondag en Sabbat om duidelike prinsipiële riglyne … te gee vir die gelowige se lewe volgens die Vierde gebod.[39] Die Sinode gee gevolg aan die beskrywingspunt.
In die motivering van die beskrywingspunt het die opstellers vier standpunte rondom die verhouding tussen die Sabbat/Sondag voorgehou. Die standpunte strek van die een uiterste tot die ander uiterste:
1. Die Ou-Testamentiese Sabbat moet steeds gevier word soos die Sewendedagse Adventiste.
2. Die Sondag is die Nuwe-Testamentiese Sabbat. Dit is die standpunt van die Westminister Konfessie.
3. Die Sabbat is nie ‘n skeppingsordinansie, is nie in die Nuwe Testament afgeskaf en het nie verskuif na die Sondag nie. In die Nuwe Testament word die viering van ‘n nuwe dag ingestel, naamlik die Sondag as die “dag van die Here”, gefundeer in die feit dat dit die opstandingsdag van die Here is.
4. Die Sabbat is nie ‘n skeppingsordinansie nie, is afgeskaf en het nie verskuif na die Sondag nie. Die Here het ook nie in die Nuwe Testament ‘n nuwe dag aan die kerk gegee wat gevier moet word nie.
Soos reeds aangedui het Sinode 2003 uiteindelik die vierde standpunt onderskryf.
Ten slotte
Volgens prof. Andries Raath is dit vir baie Afrikaners vandag nie meer God en sy gebod wat bepaal hoe die lewe geleef moet word nie. Die kerk het miskien vir sommige op Sondae nog ‘n rol te speel, maar die boodskap van die kerk geld vir vele hoegenaamd nie meer gedurende die week nie. So ‘n dualistiese Christendom is kragteloos en beslis op die afdraande pad[40].
Dat die kerk en veral die Dopper kerk nog op Sondae ‘n rol te speel het, is na Sinode 2003 se besluit aangaande die Sondag/Sabbat klaarblyklik ook nie meer vanselfsprekend nie. Met hierdie besluit het die kwessie van die Sondag/Sabbat onder die Afrikaner en die Doppers in besonder inderdaad tot rus gekom … alhoewel nie ‘n Sabbatsrus nie.
[Sien hier vir meer artikels oor die Sabbat-Sondagkwessie: Sabbat – Sondag]
[1] De Christen geheel en al het Eigendom van Christus in leven en sterven vertoont in drieënvyftig Predikatien over den Heidelbergschen Katechismus. Johannes vander Kemp. Amsterdam: Losel en Bosch. 1737 (bl 740)
[2] GKSA Handelinge van die 48ste Nasionale Sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 2003 en volgende dae (bl. 474 ev).
[3] Die Kerkblad GKSA. 29 Januarie 2003. (bl 26).
[4] GKSA Handelinge van die 48ste Nasionale Sinode te Potchefstroom op 6 Januarie 2003 en volgende dae (bl. 474 ev).
[5] Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering. Die Hammanskraalse Teologiese Skool van die GKSA. 1989. (bl 365)
[6] Bouwstowwen voor de Geschiedenis der Nederduitsch-Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika. Deel II. C Spoelstra. Amsterdam: Hollandsch-Afrikaansche Uitgewers-maatschappij. ( bl 591).
[7] Die Wordingsgeskiedenis van die Hollandse Kerke in Suid-Afrika 1652-1804 deur H.D. van Broekhuizen. 1922. Pretoria: J.H. de Bussy Bpk (bl 18).
[8] Het Dagboek van Adam Tas (1705-1706). 1914. London: Longman, Green en Co (bl 6).
[9] Kaapse Archiefstukken Lopende over het jaar 1780. Kaapstad: Cape Times Beperkt. 1928.
[10] Kaapse Archiefstukken Lopende over het jaar 1781. Kaapstad: Cape Times Beperkt. 1930.(bl 284).
[11] Helperus Ritzema van Lier deur T.N. Hanekom. 1959. Kaapstad: N.G. Kerk-uitgewers. (bl 158).
[12] De Geschiedenis van die Christelijke Kerk. T. Hamersma. S.O. Los & J.D. du Toit. (bl 316).
[13] Kaapse Argiefstukke. Kaapse Plakkaatboek. Deel VI (1803-1806). Parow: Cape Times Limited. 1951 (bl 4).
[14] Kaapse Argiefstukke. Kaapse Plakkaatboek. Deel VI (1803-1806). Parow: Cape Times Limited. 1951 (bl 148).
[15] Gereformeerd Kerkrecht. Tweede Deel. H. Bouwman. 1934 Kampen: J.H. Kok. (bl 478).
[16] Die Liberale Rigting in Suid-Afrika deur T.N. Hanekom. 1951. Stellenbosch: C.S.V. Boekhandel. (bl 170ev)
[17] Die Doppers in Suid-Afrika. B. Spoelstra. 1963. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk. (bl 26)
[18] Volk en Verbond deur A.W.G. Raath. 2002. In Reformerend die millenium in. Bloemfontein: VCHO. (bl 51).
[19] Redelijke Godtsdienst deur Wilhelmus à Brakel. Deel II. 1733. Rotterdam: Vanden Aak.(bll 112-149)
[20] Redelijke Godtsdienst deur Wilhelmus à Brakel. Eerste Deel. Rotterdam: D.Bolle. (bl 524).
[21] Ons Volksfeeste deur P.H. Kapp. 1975. Kaapstad: Tafelberg. (bl 26).
[22] Die Boerevrou-Boek onder redaksie van K. Malherbe. 1950. Pretoria: J.L. van Schaik. (bl 74).
[23] Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaapkolonie deur P.J. van der Merwe. 1938. Kaapstad: Nasionale Pers. (bl 250).
[24] Die Voortrekkers en hul Kerk deur A.Dreyer. 1932. Kaapstad: Nasionale Pers. (bl 89).
[25] Op Trek onder redaksie van J.C. Pretorius. Pretoria: Scripta Africana. (bll 166,168,169).
[26] History of the Boers in South Africa deur G.M. Theal. 1973. Cape Town: C.Struik. (bl 117).
[27] Volk en Verbond deur A.W.G. Raath. 2002. In Reformerend die millenium in. Bloemfontein:VCHO. (bl 52).
[28] Die Geloftekerk deur H.B. Thom. 1949. Kaapstad: Nasionale Pers. (bl 113).
[29] Bloedrivierse Eeufees-Gedenkboek opgestel deur A.G. du Toit en L. Steenkamp. Pietermaritzburg: Natalse Pers. (bl. 15).
[30] The Life and Times of Daniel Lindley deur E.W. Smith. 1949. London: Epworth Press. (bl 206).
[31] Wetboek van den Oranjevrijstaat. 1892. Bloemfontein: Oranjevrijstaatse Nieuwsblad-Maatschappij. (bll 14,485).
[32] Mijne Handleiding voor de Godgeleerdheid deur D.Postma. 1875. Kaapstad: Saul Solomon & Co. (bl 270ev).
[33] Die Staatsopvattinge van Paul Kruger deur F.P. Smit. 1951. Pretoria: Van Schaik Bpk. (bl 10ev).
[34] Kommandolewe tydens die Anglo-boereoorlog 1899-1902 deur F. Pretorius. 1991. Kaapstad: Human & Rousseau. (bll 172,200ev).
[35] Zuid-Afrika Reisindrukken deur H.H. Kuyper. 1925. Amsterdam: N.V. de Heraut. (bl 114).
[36] Handelinge van die 22ste Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in sitting byeen te Reddersburg, O.V.S. op Vrydag 25 Maart 1927 en volgende dae. (bl 132).
[37] Handelinge van die 28ste Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika in sitting byeen te Potchefstroom op Vrydag 24 Januarie 1945 en volgende dae. (bl 65).
[38] Die Tien Gebooie deur P.J. de Bruyn. 1993. Midrand: Varia Uitgewers. (bl 93ev).
[39] Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Handelinge van die sewe-en-veertigste Nasionale Sinode te Potchefstroom op 10 Januarie 2000 en volgende dae. (bl 433ev).
[40] Volk en Verbond deur A.W.G. Raath. 2002. In Reformerend die millennium in. Bloemfontein:VCHO. (bl 62).
Dit het my verbaas dat hier in Duitsland waar ek woon, op Sondae geen winkels oop is nie, dat kerkklokke lui en dat mense rus.
Die punt is natuurlik om die Here se wil te doen maar as dit nie genoeg motivering is nie kan mens natuurlik ook die Ekonomiese gevolge in ag neem. Ek dink nie ‘n mens moet baie kreatief wees om ‘n verbinding tussen die welfaart van ‘n Volk en hulle verhouding met die Sabatswet te vermoed nie.
Op ‘n moeiliker en meer teologiese noot sal ek graag ‘n uitleg van dié vers in Johannes 5 wil hoor: “En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Dalk is daar ‘n bestaande uitleg deur ‘n goeie dopper teoloog?
En verder (as ek moeilike vrae hier mag vra) sal ek graag wil weet, of wonder ek, in watter sin gebod 4 deur Jesus vervul is?
Ek bedoel: As die Sabbat nog presies so gehou word soos voor Jesus, waarin lê die vervulling?
Dan moet ek net by sê dat de Bruyn se “Inderdaad is die Ou Testamentiese Sabbat deur Christus vervul en het dit verval.” vir my heel dom is. Die wet kan nie vervul word en verval nie. Ek dink de Bruyn kom tot hierdie gevolgtrekking omdat hy nie die bogenoemde vraak kan antwoord nie.
Om saam te vat: ek glo Christus het ten volle die rusgedagte (skeppingsordening, Gen.1:1-3; Ex.20:8-11) en die verlossingsgedagte (Mosaise heenwysing in sermoniele aspekte, Deut.5) volkome vervul en bevestig (Matt.5:17-19). In lyn met NGB art.25 bly die waarheid daarvan vir alle tye, terwyl die onderhouding van 1 dag in 7 nog geld, maar die seremoniele aspekte wat slegs vir Israel gegeld het, vervul was met die opstandingsdag gebeure en betekenis deur Christus (Hebr.4).
Vir meer detail oor hoe ek glo Christus die Sabbat vervul het en daarmee bevestig het vir vandag op die eerste dag (asook ander aspekte van die onderwerp), sien hier:
https://proregno.com/2010/11/03/die-nuwe-testament-sabbat-saterdag-of-sondag/
Oor Joh.5:17:
Ek weet nie wat ander dopper teoloë daaroor geskryf het nie, maar ek vind aansluiting by prof EP Groenewald se verklaring daarvan in die ‘Swart reeks’, asook Calvyn se verklaring:
“Die bewoording van die Jode se aanval op Jesus word nie opgeteken nie, maar wel Jesus se antwoord. Toe hulle Hom, volgens die berig in die ander Evangelies, oor die sabbatsonderhouding aangeval het, het Hy geantwoord: “Die Seun van die mens is ook Here oor die sabbat” (Mark. 2:28; Matt. 12:8). Daarmee het Hy nie bedoel dat Hy op die sabbat willekeurig kon handel nie, maar dat Hy dit aangewend het volgens die bedoeling van God. Dieselfde gedagte word nou in ander woorde gestel wanneer Hy verklaar: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Dit is bekend dat God na die ses skeppingsdae op die sewende dag gerus het, maar daardie “rus” was nie ’n toestand van ledigheid nie. God het voortgegaan met die onderhouding van sy skepping, en die sabbat het daardie werk van God nie onderbreek nie. Die versorging van die skepping ook op die sabbat beteken nie die skending van die sabbat nie. Net soos die Vader voortgaan met daardie werke van noodsaaklikheid en barmhartigheid, werk die Seun ook in gehoorsaamheid aan die Vader en doen Hy goed op die sabbat deur die lydendes te genees en die wat deur Satan gebind is, te bevry (vgl. Mark. 2:23 e.v.; 3: I e.v.; Luk. 13:16).
Die benaming “my Vader” trek die aandag. Die Jode sou God hoogstens aanspreek as “ons Vader” en gewoonlik byvoeg: “wat in die hemel is”, en sodoende die af stand tussen die mens en God eerbiedig. Maar Jesus spreek God aan as “my Vader”, en dui daardeur op die besonder intieme band tussen Hom en die Vader. Die aanspreeksvorm gee ook te kenne dat Jesus die Seun van die Vader is. Juis so verstaan die Jode dit ook, en daarom beskuldig hulle Jesus van godslastering.”
Bron: Die Evangelie van Johannes. 1998, c1980. Bibliografie.; Uitgegee in Opdrag van die Algemene Kommissie vir Bybelverklaring en Bybelvertaling van die Ned. Geref. Kerk. (electronic ed.). Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente; Logos Library System (Jn 5:17). Kaapstad: NG Kerk Uitgewers.
Calvyn stel dit nog duideliker en vollediger:
17. “My Father worketh hitherto.” We must see what kind of defense Christ employs. He does not reply that the Law about keeping the Sabbath was temporary, and that it ought now to be abolished; but, on the contrary, maintains that he has not violated the Law, because this is a divine work. It is true that the ceremony of the Sabbath was a part of the shadows of the Law, [1] and that Christ put an end to it by his coming, as Paul shows, (Col 2:16); but the present question does not turn on that point. For it is only from their own works that men are commanded to abstain; and, accordingly, circumcision— which is a work of God, and not of men—is not at variance with the Sabbath.
What Christ insists upon is this, that the holy rest which was enjoined by the Law of Moses is not disturbed when we are employed in works of God. [2] And for this reason he excuses not only his own action, but also the action of the man who carried his bed; for it was an appendage, and—as we might say—a part of the miracle, for it was nothing else than an approbation of it. Besides, if thanksgiving and the publication of the divine glory be reckoned among the works of God, it was not a profanation of the Sabbath to testify the grace of God by feet and hands. But it is chiefly concerning himself that Christ speaks, to whom the Jews were more hostile. He declares that the soundness of body which he has restored to the diseased man is a demonstration of his divine power. He asserts that he is the Son of God, and that he acts in the same manner as his Father.
What is the use of the Sabbath, and for what reasons it was enjoined, I do not now argue at greater length. It is enough for the present passage, that the keeping of the Sabbath is so far from interrupting or hindering the works of God, that, on the contrary, it gives way to them alone. For why does the Law enjoin men to abstain from their own works, but in order to keep all their senses free and occupied for considering the works of God? Consequently, he who does not, on the Sabbath, allow a free course and reign to the works of God, is not only a false expounder of the Law, but wickedly overturns it.
If it be objected, that the example of God is held out to men, that they may rest on the seventh day, the answer is easy. Men are not conformed to God in this respect, that He ceased to work, but by abstaining from the troublesome actions of this world and aspiring to the heavenly rest. The Sabbath or rest of God, [3] therefore, is not idleness, but true perfection, which brings along with it a calm state of peace. Nor is this inconsistent with what Moses says, that God put an end to his works, (Ge 2:2); for he means that, after having completed the formation of the world, God consecrated that day, that men might employ it in meditating on his works. Yet He did not cease to sustain by this power the world which he had made, to govern it by his wisdom, to support it by his goodness, and to regulate all things according to his pleasure, both in heaven and on earth. In six days, therefore, the creation of the world was completed, but the administration of it is still continued, and God incessantly worketh in maintaining and preserving the order of it; as Paul informs us, that in him we live, and move, and are, (Ac 17:28); and David informs us, that all things stand so long as the Spirit of God upholds them, and that they fail as soon as he withdraws his support, (Ps 104:29). Nor is it only by a general Providence that the Lord maintains the world which He has created, but He arranges and regulates every part of it, and more especially, by his protection, he keeps and guards believers whom he has received under his care and guardianship.
“And I work.” Leaving the defense of the present cause, Christ now explains the end and use of the miracle, namely, that by means of it he may be acknowledged to be the Son of God; for the object which he had in view in all his words and actions was, to show that he was the Author of salvation. What he now claims for himself belongs to his Divinity, as the Apostle also says, that
he upholdeth all things by his powerful will, (Heb 1:3).
But when he testifies that he is God, it is that, being manifested in the flesh, he may perform the office of Christ; and when he affirms that he came from heaven, it is chiefly for the purpose of informing us for what purpose he came down to earth.”