Die roeping en taak van die Kerk van Christus

Tydens dr. Joey A. Pipa se sprekerstoer het hy ook die saak aangespreek van die roeping en taak van die Kerk.  Dit is hier beskikbaar:

Video: Calling of the Church, 23 Maart 2013

Audio: Calling of the Church, 23 Maart 2013

Hier is nog ‘n paar bronne wat die saak ook aanspreek, ook in die lig van die vraag oor die kwessies van die omkeerstrategie in die GKSA en die ‘social gospel’ idee wat onderliggend is in baie kerkverbande se sienings van die kerk se roeping in die samelewing:

1. Sendeling Madonna: ons gaan die wêreld regruk – die illusie van die Social Gospel (Johannes de Koning)

Kan ons iets leer by die “Social Gospel”?  Beslis ja! ‘n Mens kan van almal iets leer. (selfs van die duiwel, hy is ‘n voorbeeld van vlytigheid!!) Alle grappies daar gelaat. Ja, dit is so dat daar by sommige opregte Christene ‘n skeeftrekking kan plaasvind. ‘n Oorbeklemtoning van die suiwere leer, terwyl die praktiese Christelike lewe wat naasteliefde insluit verwaarloos kan word. Soos in baie gevalle is die “Social gospel” ‘n dwaling wat deels ontstaan het vanweë ‘n eensydige Christenskap wat liefde tot die medemens verwaarloos het. Die “Social Gospel” bly egter ‘n vals boodskap wat verwerp moet word, maar dit moet ons tog aanmoedig om seker te maak dat ons nie in ivoortorings sal lewe wat die geloofwaardigheid van die evangelie sal skaad nie.”

2. Die ekologiese krisis en wat is die Missie van die Kerk ?

“The authors contend that determining the mission of the church “is the most confusing, most discussed, most energizing, and most potentially divisive issue in the evangelical church today” (p. 25).  Scot McKnight claims that recent interest in social justice, or what he calls missional “represents the biggest shift in evangelicalism in the last century” (p. 142).  I believe these men are correct.  Much ink has been spilled of late promoting the social agenda and a good book challenging missional thinking—drawing us back to Scripture to carefully analyze such thinking—was needed.  This is that book.  It is well done, carefully researched, scripturally based and extremely practical.  It is also written by the right men.  Both DeYoung and Gilbert are highly respected by the young, Reformed, and restless crowd that is most likely to swallow the missional agenda without much reflection.  If nothing else, What Is the Mission of the Church? should give evangelical Christians reasons to pause and reconsider where they are headed.”

3. Boekbespreking: Opgestaan (deel 7: Die Social Gospel en 9/11)

“Maar, dit maak logies sin in die moderne teoloog se geloof, sodra die liggaamlike opstanding, die ewige lewe, die wederkoms, die ewige oordeel en ander waarhede wat ons bely in NGB art.37 begin verdwyn, of bloot ‘metafories’ verstaan word, dan is die enigste ‘sin’ wat oorbly, kom ons eet en drink want more sterwe ons, ja, kom ons maak aardse skatte bymekaar en vergeet van die ewigheid en die oordeel wat kom (1 Kor.15:32,33).  Hierdie wêreld met sy ‘probleme’ (nie ‘sonde’ nie), onreg en evolusionistiese proses moet hopelik deur die Mens met sy aardse verlossers, die mens met die messiaanse staat gered word: ‘n verlossing deur werke, die sosiale werke van die mens deur die staat en sosiale agendas wat alles en almal sal red, en ‘n menslike utopia op aarde skep, los van God en sy gebod.

God, oftewel ‘n godsidee soos panenteïsme word dan net ‘n ‘godsdienstige mantra’ of sousie om oor al ONS menslike sosiale verlossingsplanne soos demokrasie, feminisme en menseregte te gooi, ongeag of dit in stryd is met Joh.17:17 of nie.  En weë jou as jy nie op hierdie godsdienstige soustrein is nie, weë jou as jy nie die akkreditasie van die parlementêre stoel ontvang nie, of nie die goedkeuring van jou kerkverband se teologiese opleiding en strukture wat ingebed in die nuwe SA is nie (sien Amos 7:10-17).”

4. Die missionêre Omkeerstrategie en ‘n kerklike minderwaardigheidsgevoel

In die stryd om kerk van Christus te wees vandag, vind ons dat – volgens ons denke – dit dalk nie ‘goed gaan’ nie, en kan ons so moedeloos word en ‘n te hoë (onbybelse) verwagting skep van ’n ‘nuwe/vernuwende gemeente’ met hoë ideale wat nie altyd bereikbaar is nie:

i. eerste ideaal: almal moet ons taalgebruik verstaan, elke preek en lied moet vir almal verstaanbaar wees.

ii. tweede ideaal: die kerk moet veilig wees vir almal, wat ook al hul agtergrond en situasie.

iii. derde ideaal: die kerk moet vir almal relevant wees, veral vir die moderne mens anders het die kerk nie meer bestaansreg nie.

Dr. van Bruggen skryf dan: “hierdie drie ideale is so hoog dat dit ons meer as een keer moedeloos laat voel en lusteloos laat besorg wees as ons onsself heeltyd daaraan meet.”

5. Die Kerk van Jesus Christus se roeping en taak ten opsigte van die bevordering van die Christelike lewens- en wêreldbeskouing

Ek het hierdie lesing so klompie jare gelede gegee.  In die lesings spreek ek die saak aan van die algemene genade teorie, en kan verder besin word watter rol speel dit dalk in die bevordering va die ‘social gospel’ idee ?

U kan hier daarna luister: Die taak van die kerk

Die artikel waarop die lesing gebou is, en wat nodig is om die lesing deeglik te verstaan, plaas ek nou hier, want dit sit uiteen hoe ek die roeping en taak van die kerk verstaan:

Die Kerk van Jesus Christus se roeping en taak ten opsigte van die bevordering van die Christelike lewens- en wêreldbeskouing

Inleiding

Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.[1]

In hierdie lesing word spesifiek gefokus op die rol van die kerk van Christus in die opvoeding en onderrig van die Christelike lewens- en wêreldbeskouing (afkorting: CLWB).  In Matt.28:19 kry ons die opdrag om die dissipels van Christus, sy volgelinge te leer om alles te onderhou wat Hy ons beveel het.  Die dissipels van Christus moet God se gedagtes oftewel sy Openbaring agter Hom aandink, hulle moet elke gedagte gevange neem en gehoorsaam maak aan Christus en sy Woord (2 Kor.10:3-6).

Paulus was die apostel vir die heidene. As Hy die evangelie bring aan mense wat uit die rou heidendom kom, dan leer hy hul nie net van sondevergifenis en die ewige lewe nie, maar ook om hul denke te vernuwe, d.w.s. om hul lewens- en wêreldbeskouing in orde te kry volgens God se Openbaring.

Dit is niks anders as die heiligmaking deur die Woord en Gees in dankbaarheid nie:

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. – Rom.12:1,2

Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie. – Ef.4:17

In hierdie lesing gaan ons kyk hoe Paulus in sy tyd die evangelie gebring het sodat die mens opnuut „Bybels“ begin dink het oor die lewe.

Voordat ons daartoe oorgaan, moet ek kortliks die volgende twee terme kortliks verklaar:

–      Lewens- en wêreldbeskouing

–      Kerk

a. Lewens- en wêreldbeskouing

Ek werk met die definisie soos gegee deur prof.dr. HG Stoker:

“… ‘n lewens- en wêreldbeskouing is die geheel van antwoorde op fundamentele vrae aangaande God (of wie of wat ook al afvallig in die plek van God gestel word), mens en wêreld en hul onderlinge verhoudinge.”[2]

Stoker gaan dan verder en wys daarop dat die Calvinistiese LWB uit die volgende aspekte bestaan: [3]

i. Die skepping is deur God Drie-enig geskape.

ii. God is absoluut soewerein, genoegsaam en absoluut.

iii. Die onderskeid tussen die Skepper en sy skepping.

iv. God regeer deur sy wet

v. Die mens is geskape na die beeld van God en sy verteenwoordiger

vi. Sonde, verlossing en herskepping

vii. Die Christianisering van die hele lewe

viii. Die begronding van die CLWB moet in die Woord van God wees

‘n LWB is dus ons basiese voorveronderstellings/vertrekpunte/sienings van God, mens en wêreld, en hul onderlinge verhouding tot mekaar.

Of om dit nog eenvoudiger te stel: hoe ons oor alles dink.

b. Wat is die Kerk ?

Onderliggend aan die beantwoording van die vraag wat die taak van die kerk is in die bevordering van die CLWB, is die vraag na wat die kerk is.

In die Nederlandse Geloofsbelydenis, by artikel 27 en 28 bely ons as volg wie die kerk is:

Ons glo en bely ’n enige katolieke of algemene kerk, ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal daar tot die einde wees, want Christus is ’n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. … Ons glo—aangesien hierdie heilige vergadering ’n versameling is van hulle wat verlos word.

In die Heidelbergse Kategismus, in vraag en antwoord 54 bely ons as volg oor die ‘heilige algemene Christelike kerk’:

Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ’n lewende lid is en ewig sal bly.

In hierdie belydeniskrifte word die volgende aspekte bevestig:

–          die kerk staan vas volgens God se uitverkiesing

–          die kerk word in die geskiedenis vergader deur die Gees en Woord

–          Christus sal Sy kerk altyd in stand hou.

–          God se beloftes staan vas in en deur Christus.

In die Ou Testament is die terme ‘qahal’ en ‘eidaa’ gebruik wat beteken ‘ ‘n vergadering of samekoms’.  In die Nuwe Testament word die woord ‘ekklesia’ gebruik, meestal vir die plaaslike kerk maar ook vir die kerk in sy geheel.

Wanneer ons oor die kerk praat, dan onderskei ons tussen die eienskappe van die kerk en die kenmerke van die kerk.  Die eienskappe vind ons in die Apostoliese Geloofsbelydenis wat ons elke Sondag bely, nl. “Ek glo aan ‘n heilige, algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.”

Hiervolgens is daar drie kenmerke van die kerk, wat alles fundamenteel is in die vorming van en onderrig in die CLWB:[4]

–      heilig

–      algemeen

–      christelik

Die kenmerke van die kerk vind ons in NGB artikel 29:

Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf—kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken.

Wanneer ek dus van die kerk praat, dan sien ek die kerk as die liggaam van Christus, ‘n organiese geheel, van wie die lede voor die grondlegging van die wêreld uitverkies is, en deur die Seun van God deur sy Gees en Woord deur al die eeue uit al die nasies van die wêreld vergader word, en  haarself manifesteer op die aarde in die vergadering van die gelowiges en hul nageslag.[5]

Ons moet dus op grond van hierdie belydenis, daarteen waak om in ons vestiging en onderrig van die CLWB dit los te maak van Christus se Kerk, so asof ‘n CLWB iets neutraal is waaroor alle Christene kan saamstem ongeag of hul in ‘n ware of valse kerk is.

Dit is juis die Kerk se taak om die volle raad van God te verkondig (Hand.20:27) en ten einde beteken die doopsbevel ‘leer hul om alles te onderhou’ niks anders as om ons totale lewe en denke te vorm na God se Woord nie, dus ‘n BLWB te vorm vanuit wat ons glo en bely in en vanuit die kerk die hele wêreldwyd.

Vir gereformeerde gelowiges wat hul beywer vir ‘n CLWB is dit dus noodsaaklik om vanuit die Heilige Skrif soos bely in die gereformeerde belydenis as fondament, ‘n CLWB bevorder vir elke terrein van lewe en denke.

Dit bring ons by die beantwoording van die vraag oor wat die kerk se taak is t.o.v. die CLWB

Die roeping van die kerk van Christus t.o.v. die CLWB

As ek dit in een sin kan probeer opsom, dan is dit die bevestiging, handhawing, bevordering, onderrig en opvoeding in, en uitlewing van die Antitese, die groot vyandskap van Gen.3:15 op elke terrein van lewe en denke. Ons lees in Gen.3:15 as volg:

15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

Hierdie Antitese, tussen God se Koninkryk in Christus teenoor die Satan en die mens se koninkryk is ‘n geestelike antitese wat in die totale lewe en denke van die gelowige en sy gesin en kerk gehandhaaf moet word.

Hierdie antitese is nie tussen volk en volk, tussen swart en wit, tussen man en vrou, tussen ryk en arm nie, maar tussen Christus en Satan, tussen die waarheid en die leuen, tussen lig en duisternis, tussen die ware en die valse kerk, ens.

En dit sny deur die hele lewe, orals waar die lidmaat in die amp van gelowige optree.

Ek wil nou graag in die besonder kyk hoe Paulus as apostel geroep tot die heidene hierdie groot Antitese gehandhaaf het, waarin ons as gelowiges ook moet staan, saam as gemeente maar ook afsonderlik in die amp van gelowige in hierdie wêreld.

Paulus se roeping tot die heidene

Paulus word geroep om die evangelie in die besonder aan die heidene van sy dag te bring.  As ‘n mens sy briewe bestudeer, dan blyk dit duidelik daaruit dat Paulus nie net die wil van God geken het ten opsigte van wat hy moes verkondig het aan ‘n verlore wêreld nie, maar dat hy ook sy tydsgees, ja, die LWB’s van sy tyd geken het.  Paulus het dus die Evangelie van God in Christus geken, maar ook die mense, tye en omstandighede waarna die waarheid gebring moes word.

In Hand.17 konfronteer hy die heidense filosofieë van sy tyd en stel daarteenoor die Evangelie van Jesus Christus. Ons kry ook die volgende uitsprake in sy briewe wat daarop wys dat Paulus die valse godsdienste en filosofieë van sy tyd geken het en vanuit die Skrifte weerlê het:

22 want die Jode vra ’n teken en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; 24 maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. – 1 Kor.1

3 Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 4 want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, 5 terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, 6 en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is. Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie – 2 Kor.10

8 Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. … – Kol.2

 14 en hulle nie besig hou met Joodse fabels en gebooie van mense wat van die waarheid afwyk nie. – Tit.1

Uit bogenoemde kan ons die volgende toepassing maak vir vandag: dat predikante en ouderlinge spesifiek, maar alle lidmate in die algemeen nie net onderrig word in die Heilige Skrif, belydenis, kerkgeskiedenis, kerkorde, ens. nie, maar ook daarin dat ons ook ons tydsgees van vandag sal reg verstaan.  In die verlede, vorige eeue was daar bv. spesifieke vakke soos ‘Polemiek’ en ‘Apologetiek’ waarin predikante opgelei is, om hul toe te rus om hul tydsgees reg te verstaan en vanuit die Woord van God te kan weerlê.

Ons moet die valse godsdienste van ons tyd ken, ons moet die valse kerk van die ware kerk kan onderskei, én ons moet ook die evolusionisme, new age, postmodernisme, feminisme, materialisme, ens. ken om dit vandag te kan weerlê.  Die lidmate van die kerke word daagliks d.m.v. van die media, pers, skole, ens. deur al hierdie –ismes oordonder, en as ons die Woord effektief tot ons tyd wil bring, moet ons die mense van ons tyd ook goek ken.  Dit is alles ook deel van die kerk se roeping om sy lidmate toe te rus in ‘n CLWB.

In Handelinge 17:1-3  lees ons toe Paulus:

 “in Thessaloníka gekom, waar ’n sinagoge van die Jode was. 2 En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte 3 en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.”

Paulus spreek die Jode as godsdienstige mense direk uit die Skrifte aan as aanknopingspunt en konfronteer hul met die profesieë oor Christus, m.a.w. hy konfronteer hulle met hul Messias- oftewel Christusbeskouing.

‘n Bietjie verder in Hand.17 lees ons dat Paulus in Athene aankom, die bastion van die heidense filosofieë en paganisme.  Hy gaan met die filosowe in gesprek, maar hier is sy aanknopingspunt as volg:

22 Paulus gaan tot in die middel van die Aerópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. 23 Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle. 24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.”

Hier begin Paulus nie met Christus nie, maar met die leer oor die Skepping en die Godsbeskouing.  Wat egter baie belangrik is dat dit nie daar bly nie maar ook eindig met die konfrontasie oor die die Evangelie van Jesus Christus (v.30,31), wat self God en Skepper is (Kol.1).

Ons post-Christelike samelewing

Ons leef vandag in ‘n alhoemeer post-Christelike samelewing.  Soos in Paulus se tyd (Hand.17:16) is daar ook meer en meer afgodsbeelde wat fisies of geestelik verrys. Party is al eeue met ons, ander wat veral die laaste paar dekades na vore getree het.  Die belangrikheid vir ‘n ware Bybelsgefundeerde skeppingsleer is opnuut van wesentlike belang vir ons tye.

As ‘n mens die samelewing van Paulus se tyd van nader ontleed, die Grieks-Romeinse samelewing, dan was die volgende sake kenmerkend:[6]

–      deur die invloed van Alexander die Grote, wat die destydse wêreld verhelleniseer[7] het, het die Romeinse Ryk ‘n global village geword, d.m.v die goeie padroetes en seeroetes.

–      Brood en spele het die massas besig en tevrede gehou terwyl Rome sy totalitêre politieke mag oor die wêreld opgebou het.

–      Die Romeinse familiesisteem is geleidelik vervang deur ‘n individualisme wat gelei het tot die feminisering en homoseksualisering van die tyd.

–      Politiësme is gehandhaaf in die Romeinse ryk (sinkretisme).

–      Keiserverering is gevestig

–      Opkoms en verwelkoming van misteriegodsdienste in Rome (Alexander se eskapades na die Ooste het ‘n brug gebou met ‘n tweerigtingverkeer, waardeur die oosterse godsdienste na die weste terugevoer is)

–      Die opkoms van Godin-feministiese kultes

Dit vat nie veel van ‘n verbeelding om te besef dat daar niks nuuts onder die son is nie.  Ons postmoderne samelewing bevat ook dieselfde en erger elemente as wat teenwoordig was in die Grieks-Romeinse samelewing.  Vandag het ons ook te doen met die volgende tendense: die Intergeloofbeweging (bv. die Wêreldparlament van Godsdienste, wat in 1999 in SA gehou is), feminisme, homoseksualisme, aborsie, die Jesus Seminar beweging (o.a. die Nuwe Hervorming wat die afgelope paar jaar in SA opspraak verwek het), geboortebeperking, sielkundige positiewe selfbeeldbewegings, globalisme, ens.

Hierdie verskynsels hou almal op een of ander manier verband met die herlewing van die ou paganistiese godsdienste wat die laaste 2000 jaar met gemengde welslae onderdruk is deur die voortgaan van die Evangelie en die uitbreiding van die westerse beskawing, maar wat nou onder die dekmantel van die postmodernistiese demokrasie, menseregte en globalisme [met die slagspreuk: ‘verdraagsaamheid’!], besig is om terug te keer.  Dit vind plaas deur westerse en oosterse spiritualiteit met mekaar te versoen, en die Wêreldparlament vir Godsdienste wat in 1999 hier gehou is, is alles deel van die beplanning om ‘Moeder Aarde’ (ook genoem die godin Gaia, Sophia, Isis, Lilith, ens.) te red, want ‘Sy’ is die godin van die toekoms. Die mensdom moet bevry word van die patriargale lewensbeskouing, wat gebaseer was op die Bybel, met ‘n patriargale God wat onttroon moet word.  Hierdie ‘manlike God’ het vir 6000 jaar die mens onderdruk (veral die vrou) en moet nou vervang word met ‘n ‘vroulike god’.

Peter Jones, skryf in sy baie belangrike boek, Spirit Wars: Pagan Revival in Christian America, dat die Franse Rewolusie gedroom het van ‘n Parys sonder ‘n aristokrasie; die Russiese Rewolusie van die verdwyning van privaat eiendom en die Nazi Rewolusie van ‘n wêreld sonder ‘inferior races’.

Die 20ste eeu het egter met die grootste rewolusie gekom, naamlik ‘n wêreld sonder patriargie, ‘n samelewing wat dus sonder die tradisionele gesinstruktuur is, en ten einde op die langtermyn sonder ‘God, die Vader’, Skepper van hemel en aarde moet wees (p.xi).  Dit het alles ten doel om die Christelike geloof en die CLWB wat daaruit vloei te probeer vernietig.

Hierdie neo paganistiese feministiese rewolusie dring in elke huis in, en is besig om seksualiteit, God, godsdiens en God se Woord te herdefinieer … en dit is baimaal teoloë wat aan die voorpunt van hierdie rewolusie teen God en Sy kerk staan.  In hierdie nuwe orde word alles omgedraai: goed word sleg, homoseksualisme word ‘n aanvaarbare seksuele leefstyl, aborsies word geregverdig, evolusie vervang die skepping, God word deur die Godin vervang, en die tradisionele gesin, word ‘n bedreigde minderheidstruktuur.

Hartseer genoeg, word baie christene, baiemaal juis a.g.v. die gebrek aan die Christelike LWB, mislei en ingespan om, wetend of onwetend, hierdie paganistiese rewolusie stilweg te bevorder, alles in die naam van die Bybel en die ‘bevryding van die vrou’.  Jones vra in sy boek ook die vraag: “One may wonder if in our day, through the Christian-sounding notions of gender liberation and egalitarian rights for all, neo-Gnostic New Age Liberalism is succeeding doing the same in an equally unsuspecting twentieth century church.”  Hy haal ook die radikale feminis, Naomi Goldberg aan wat sê: “The feminist movement in Western culture is engaged in the slow execution of Christ and Jahweh.  Yet very few of the women and men now working for sexual equality within Christianity and Judaism realize the extent of their heresy.” (p.195).

Wanneer die baba (God se skeppingsordinasies en wet vir man en vrou se taak en rolle in die koninkryk van God) saam met die vuil badwater (misbruik en disrespek vir die vrou se essensiële plek in die koninkryk van God) uitgegooi word, dan gaan dit vernietigend wees vir die opkomende geslagte.

Mary Kassian, wys ook in haar werk, The Feminist Gospel, hoe baie wat in die feministiese protesterende kamp begin het, geleidelik in die paganisme ingegly het (p.309).  Dit begin gewoonlik wanneer God se duidelike skeppingsordinansies en Sy wet, onder die dekmantel van die ‘sosio-historiese konteks’, moet plek maak vir die postmoderne feministiese tydsgees.  ‘n Groeiende getal teoloë lees die Bybel vandag deur humanistiese-evolusionêre ‘menseregte brille’ of ‘feministiese brille’.  Dit vind dan veral plaas met die Nuwe Hervorming wat kom met hul ‘nuwere kennis’ (gnosis) aangaande Jesus en die Nuwe Testament.  Hierdie mense het skielik baie ‘nuwe’ kennis oor die ‘historiese Jesus’ ontvang, wat in stryd is met dit wat die Evanglies ons bied.  Jones verwys ook in sy boek na John Richard Neuhaus, wat beweer dat teologiese skole vandag, deurtrek is van gnostiese dwalings, deurdat die ‘plain sense’ van die Skrif nie meer aanvaar word nie, maar dat daar ‘n ‘higher knowledge’ agter die woorde lê.  Volgens Jones is een van die meeste duidelike voorbeelde daarvan, die manier waarop Genesis 1-3 gedekonstrueer word (p.130).

Waar Calvyn geleer het dat ons God en onsself moet ken, sodat ons Hom en ons naaste kan dien en liefhê … is die credo van die neo paganistiese humanistiese godsdiens —wat ook baiemaal in die kerk voorkom (bedek in humanistiese positiewe selfbeeld bewegings, ens.): ‘ken jouself … want jy is eintlik God, die ‘gnosis’ wat jy mis is die wete dat jyself deel is van God en jouself, jou naaste en die aarde kan red!

Die strategie wat gevolg word, vir die terugkeer na die neo-paganisme, word soos volg deur Jones uiteengesit:

1)      Filosofiese dekonstruksie moet lei tot die sogenaamde linkerbrein ‘manlike’ denke wat vervang word met intuisie en persoonlike smaak

2)      Radikale Nuwe Testament Studies moet Jesus rekonstrueer (Jesus Seminar) en in die plek daarvan Sophia stel as ‘n model van ‘n verdraagsame, politiek korrekte, multikulturele, multiseksuele, feministies egalitariese samelewing, bevry van die wete van sonde, skuld en die Nuwe Testamentiese teologie van die Kruis.

3)      Radikale godsdienstige feminisme aanbid die godin Sophia, en verwerp daardeur alle ortodokse Christendom.  Geleerdheid (scholarship) en feminisme moet die Gnostiese leringe laat herleef

4)      In lyn met bogenoemde, is New Age denke besig om te werk aan globale transformasie op grond van die herontdekking van die vroulike, regter brein ‘yin’ intuisie van die Eeu van die Aguarius.  Dit verwerp rasionele, mens-geinspireerde ‘yang’ teorieë van die versoening volgens die Eeu van die Pisces.

Bogenoemde aspekte word dan histories veranker in die ou gnostiese tekste wat herontdek is, en vandag opnuut bestudeer word.  Dit is die herlewing van die Neo-Gnostiek, wat as die intellektuele been van die neo-paganisme beskou kan word.[8]

Daarteenoor moet ons die Christelike geloof en LWB handhaaf wat vloei uit die belydenis van:

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” – Fil.2:9-11

Die feit dat ons in ons tydsgees soveel ooreenkomste sien met die tydsgees van die eerste eeu,  beklemtoon opnuut die genoegsaamheid en relevantheid van die Skrif om ook vir ons tyd die Christelike geloof en LWB wat daaruit vloei te handhaaf.

Ons moet opnuut Paulus se briewe bestudeer om te sien wat was die basiese CLWB wat hy geleer het onder leiding van die Gees.  Paulus het nie net vir die heidene die weg gewys na die ewige lewe nie, maar ook hoe om hier en nou te lewe in diens van hul Verlosser en Koning, Jesus Christus.  Hy het die heidene as’t ware van ‘n Bybelse lewens- en wêreldbeskouing voorsien, en daardie LWB staan binne die raamwerk van Skepping en Opstanding soos gesien word in 1 Kor.15:45: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees.”

Die heidene moes God, mens en wêreld weer reg leer ken en dien soos God beveel het in sy Openbaring.

Daardie CLWB was niks nuuts nie, maar is wat geopenbaar is in die OT.  Dit behels basies die volgende 5 boustene, wat niks nuuts is nie, en deur Christen filosowe regdeur die eeue erken is, nl.

–      Skepping

–      Sondeval

–      Verlossing

–      Dankbaarheid/Heiligmaking

–      Verheerliking/Wederkoms

Om net ‘n paar voorbeelde uit Paulus se briewe te neem:

Skepping

20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie – Rom.1

Die belydenis van die skepping van die wêreld vir Paulus het behels:

–      God die Vader as Skepper (1 Kor.8:6)

–      God het uit niks geskape (1 Kor.15:45)

–      God het geskape deur benaming (Ef.3:14-15)

–      God het alles goed geskape (1 Tim.4:4)

–      Adam is as die eerste mens geskape (Rom.5:12-14; 1 Kor.15:45)

–      Die mens is as man en vrou geskape (1 Tim.2:13)

Sondeval

12 DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het – 13 want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. 14 Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat ’n voorbeeld is van Hom wat sou kom. – Rom.5

Die belydenis van die sondeval het vir Paulus behels:

– die historisiteit van die sondeval (2 Kor.11:3; 1 Tim.2:14)

– die mens is van nature ‘n sondaar en tot die kwaad geneig (Rom.3:10-20; Ef.2:3)

– die sondeval het die onderskeid tussen die Skepper en skepsel; waarheid en leuen; ware en valse godsdiens; man en vrou aangetas (Rom.1:18-32)

– die skepping is gevalle (Rom.8:20-22)

Verlossing

10 Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid. – 2 Tim.2

Die belydenis van die verlossing vir Paulus behels:

–      Die geboorte van Christus is ‘n herbevestiging van die skepping (1 Kor.8:6)

–      Christus is waarlik Mens en waarlik God (Rom.8:29; 9:5)

–      Christus is gebore uit die maagd Maria onder die wet (Gal.4:4)

–      Christus se dood het die sonde en die dood oorwin en die skepping herstel (1 Kor.15)

–      Christus is die enigste oplossing vir menslike nood (1 Kor.1:18-30)

–      Christus het God se geregtigheid vervul in sy kinders se plek (Romeine)

–      Christus herstel die verhouding tussen God en mens en tussen mens en mens (2 Kor.5:17-20)

–      Christus se Opstanding bevestig die ligaamlike opstanding van die mens en die hernuwing van die skepping (1 Kor.15)

Dankbaarheid/Heiligmaking

16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. – Kol.3

Die belydenis van die heiligmaking behels vir Paulus:

–      Die mens word gered nie deur nie maar tot goeie werke (Ef.1:4; 2:10)

–      Christus bevestig die wet deur dit te vervul in sy verlossing (Rom.3:31)

Verheerliking/Wederkoms

13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. – Tit.2

Die belydenis van die verheerliking behels vir Paulus:

–      volharding van die heiliges (Fil.1:6)

–      troos vir die gelowige in hierdie lewe (Tit.2:11-14)

–      lewe in die verwagting van die ewige lewe waar die gelowige totaal bevry sal wees van die sonde en dood (1 Kor.15)

Hierdie 5 boustene moet sentraal staan in die CLWB van ‘n gelowige in hierdie wêreld.  En dit is die taak van die predikant, kerkraad en ouers om dit aan mekaar en veral aan ons kinders te leer.

As ons na die brief van Paulus aan Titus lees, dan kan ons sien hoe Paulus oproep tot ‘n allesomvattende Christelike lewe in diens van God.  Sodoende kan die kerk van Christus ook op ‘n konkrete wyse hul taak vervul t.o.v. ‘n Christelike LWB.  Ek wil dit dan vir u konkreet uiteensit volgens die brief van Titus.

Die brief van die apostel Paulus is gerig aan Titus wat op die eiland Kreta is.  Die apostel het die eiland saam met Titus besoek kort na hy die eerste brief aan Timoteus geskryf het.

In Krete was daar losstaande groepe gelowiges maar geen georganiseerde gemeentes nie. Vir hierdie rede, nl. om die gemeentes te organiseer, het Paulus vir Titus in Kreta agtergelaat.

Daarvan lees ons in Titus 1:5, “Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het”

Paulus het Titus dus in Kreta gelos met die opdrag dat hy “sou regmaak wat oorgebly het”, dus gemeentes organiseer.  ‘n Rukkie later het Paulus vir hom hierdie brief geskryf waarin hy hom spesifieke instruksies gee om te volg vir die gemeentevorming en lewe in Kreta.  Hierdie opdragte behels spesifiek:

a. Titus moet ouderlinge aanstel in elke stad (1:5-9). Hierdie ouderlinge moet bekwaam wees om die ‘gesonde leer’ (2:1) te onderrig en die dwaalleraars te vermaan en te weerlê (1:10-16).

b. Titus moet sekere opdragte gee aan verskillende groepe in die gemeentes (2:1-10):

– aan ouer mans en vrouens,

– aan jonger vrouens en mans,

– aan diensknegte, en

– aan die gemeente in sy geheel: hoe hulle hulself moet gedra in die samelewing, spesifiek teenoor die burgerlike owerhede (3:1,2)

Die gelowiges word dus geleer (2:1, 12a) hoe om hulle te gedra (1 Tim.3:15).  Hulle word geleer , hoe om goeie werke te doen volgens God se Wet in hul onderlinge verhoudings. Dit geld vir hul gesins-, gemeente-, en beroepsverhoudings, en ook in die breë samelewing.  Sodoende moet hul gehoorsaam wees aan die opdrag van Paulus in 1 Kor.10:31, “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

En dit is niks anders as wat ons vandag sal noem om ons CLWB ten volle uit te leef op elke lewensterrein nie.

Die probleem in Kreta, asook in die gemeentes daar was nou juis dat hul “CLWB” nie tot uiting gekom het in dade nie.  Die primêre probleem van die Kreteniërs was dat dit wat hul geglo en bely het, nie ooreengestem het met hul lewe en dade in die praktyk nie.  In Titus 1:10-16 word die probleem in detail beskryf.  Die Kretense dwaalleraars was:

–          tugteloos en het mense verlei (1:10)

–          hulle het huise onderstebo gekeer deur valse leringe (1:11)

–          hulle was behep met allerlei fabels en ‘gebooie van mense’ (1:14)

Laasgenoemde dui op die invloed wat die tydsgees op hulle gehad het d.m.v. moontlike valse godsdienste en valse filosofieë, dus valse LWB’s.

Opsommend word hul probleem in vers 16 so gestel:

Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk. (sien ook: 2:5; 3:8-11).

Dus, om dit eenvoudig te stel: hul leer en lewe het nie ooreengestem nie.  Hul lewe het nie hul leer versier nie (2:10). Vandag sal ons wil sê: Christene handhaaf in die praktyk nie ‘n LWB wat vloei uit die Skrif nie.

Maar was dit slegs ‘n probleem van Kreta se verkeerde LWB ?

Nee, ook vandag nog in ons eie tyd is daar allerlei valse leringe, ja ‘valse LWB’ wat besig is om die kerk van Christus te bedreig:

–          Van jong- tot oumense het tugteloos geword: kinders word in liefde nie meer getug nie, en rebelse kinders verwerp die vyfde gebod.  Sien maar die studente-opstande die laaste tyd. Werknemers onderwerp hul nie meer aan hul werkgewers nie, terwyl die burgerlike owerhede hul ook nie meer onderwerp aan God en Sy Woord nie.  In die kerke word die toepassing van die tug almeer ‘n rare verskynsel, en word mense oorgelaat om in hul tugteloosheid te volhard.

–          Tweedens, netso word huise vandag onderstebo gekeer: mans het nie meer hul vrouens lief nie, en vrouens is nie meer aan hul mans onderdanig nie. Mans wil nie meer die rol as broodwinner vervul nie, en die vrou verwerp en verag deesdae alhoemeer hul Godgegewe rol as tuisteskeppers en moeders.  Nie God se Woord nie, maar die nuutste sepie op die TV, die nuutste film, sport of rockster bepaal hoe ons jongmense lewe, praat en aantrek, of akkurater gestel: hoe hul nié  behoorlike klere wil aantrek nie.   Ja, ons huise word inderdaad omgekeer deur allerlei valse leringe en misleidings wat binne en buite die kerke op die gemeentes van God losgelaat word.

–          Derdens, hou die mens homself vandag alhoemeer besig met allerlei fabels soos ewolusie, new age idees, valse godsdienste en humanistiese sielkunde.  So word God se wet ingeruil vir mensewette en eiewillig verlossingsidees.  Dit sien ons verder ook in die eredienste waar God se bevel en eer nie meer sentraal staan nie, maar wat die mens en sy begeertes wil hê.

Inderdaad, soos in Titus se tyd, netso vandag is daar ‘n groot gaping tussen wat mense bely en dit wat in hul dade na vore kom. Teenoor hierdie valse godsdiens en erediens van die mens, begin hoofstuk 2 nou met “Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas” (2:1), en dan volg al die opdragte vanaf vers 2 tot 10.

Die Woord stel ‘n duidelike antitese, ‘n teenstelling tussen die ware leer en die valse leer, tussen ware godsdiens en valse godsdiens, tussen goeie werke en slegte werke, tussen die destydse se Grieks-Romeinse samelewing en God se Koninkryk.

Ons moet ook vandag skepr onderskei tussen ‘n LWB wat vloei uit die Christelike geloof, en een wat uit hierdie wêreld en tydsgees vloei.

God beveel die kerkvolk van Kreta, deur Paulus om goeie werke te doen wat by die ‘gesonde leer’ pas.

Dit behels die volgende spesifieke opdragte (2:1-10; 3:1-2, 9-11):

  1. die ou manne moet onberispelik, bekwaam en gesond in die geloof wees sodat – gesien in die konteks van hoofstuk 1 – hul goeie ouderlinge kan wees wat die valse leraars kan weerlê (sien 1:6-9)
  2. Die ou vroue moet in hul gedrag en woorde leeraresse wees vir die jongvroue. Hulle moet die jongvroue leer hoe om godsvresende vrouens vir hul mans en godsvresende moeders vir hul kinders te wees.  Die woord van God word juis belaster as die vrou nie meer haar roeping in hierdie take vervul nie,
  3. Jongmanne word opgeroep om in hul hele lewe goeie werke te doen, met ‘n spesieke klem om die goeie gesprekke wat gevoer moet word
  4. Diensknegte moet onderdanig wees aan hul base, juis met die doel om “die leer van God, ons Verlosser, in alles (te) kan versier”
  5. Laastens, die gemeente moet in sy geheel gehoorsaam en onderdanig wees aan die burgerlike owerheid en diensbaar wees in die samelewing.

Hierdie is alles konkrete opdragte wat die kerk vandag ook moet inspan om die CLWB te bevorder.  Dit is baie belangrik dat ons ook ons omgewing reformeer sodat ons binne ‘n gesonde gesins- en kerksituasie die Christelike geloof en LWB kan leer en uitleef op elke terrein van lewe en denke.

Nou is dit baie belangrik om daarop te let dat hierdie opdragte aan die Kreteense gelowiges gegee word omdat dit ‘by die gesonde leer pas’, soos ons gelees het in Titus 2:1.

Die rede om die opdragte uit te voer is daarom nie tydgebonde aan die destydse kultuur nie, asof Paulus dit maar net gesê het omdat hy nie die destydse samelewingsorde wou omverwerp nie.

Nee, Paulus gee die bevele juis as korrektief op die destydse Joodse en Grieks-Romeinse samelewingsorde, juis omdat die leer van God dit vereis.  Juis terwille van die eer van God, moet ons lewens die ware leer versier, en daarom die verskillende opdragte, ook vir vandag !

Hieruit is dit ook belangrik om te besef dat ons CLWB moet by die gesonde leer pas, d.w.s. in lyn wees met dit wat ons glo die Heilige Skrif leer soos bely in ons belydenisskrifte. Die vorming en handhawing van ‘n CLWB moet dus ten eerste en altyd wees om aan God al die eer te gee en nie om ‘effektief of suksesvol’ te wees of om ‘n ‘sosiale drukgroep’ te wees nie.  Om die CLWB te ontwikkel is deel van ons heiligmaking, om alhoemeer in ons denke vernuwe te word deur sy Gees in ware geregtigheid, kennis en heiligheid soos ons bely in HK, Sondag 3.

Die heel belangrikste is om egter om te besef dat ons heiligmaking, ons vorming en handhawing van ‘n gehoorsame BLWB in ons afvallige tydsgees kan nie uit onsself plaasvind nie maar kan alleen deur Gees en Woord.

In Tit.2:11 lees ons die grondslag vir die handhawing en deurwerking van die CLWB deur die kerk:

WANT die reddende genade van God het aan alle mense verskyn ..”

Wat, oftewel beter gestel ‘Wie’ die reddende genade van  God is, word vir ons in 2:13 en 14 beskryf:

“terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het  om ons te verlos …”

Dit is die Evangelie, die Goeie Nuus !

Die Evangelie waarsonder die CLWB totaal nutteloos en kragteloos is !

Ja, die reddende genade is die koms van Jesus Christus, wat ons kom red het van die sonde en die ewige lewe geskenk het op grond van sy volmaakte werke in ons plek.  Hy red ons ook van verkeerde denke, verkeerde veronderstellings oor God, mens en wêreld en leer ons deur sy Woord om werk reg te glo en te dink oor alles.  Christus gee mos die bevel om Hom nie net lief te hê met ons hele siel en al ons kragte nie maar ook met die verstand !

Hierdie reddende genade van God is die ‘kennis van die waarheid’ waarvan ons lees in hoofstuk 1 vers 1, en dit is die fondament, die bron en krag van ons godsaligheid en dus ook die CLWB wat daaruit vloei in heiligmaking.  Ja die reddende genade is die bron en oorsaak van ons heiligmaking, die goeie werke wat ons in dankbaarheid doen tot eer van God, deur die krag van die Heilige Gees.

Dit lei ons daartoe om dan die vraag te antwoord: wat leer hierdie reddende genade ons dan?

Dit word vir ons gegee in: vers 12: die reddende genade van God …

“leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, 13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus.

Hierdie aspek is wesentlik vir die vorming van ons CLWB, want dit leer ons om verkeerde denke en dade af te lê asook weer reg te dink en doen volgens God se Woord.

Negatief leer die reddende genade ons om dit wat verkeerd is, af te lê:

–          die goddeloosheid (om te leef asof God en sy Wet nie bestaan nie)

–          die wêreldse begeertes (wanneer ons die wêreld meer liefhet as vir God)

Positief leer die reddende genade van God ons om volgens Sy Woord in die teenwoordige wêreld te lewe:

–          ingetoë te lewe, d.w.s. om onder die beheersing van God se Gees te lewe

–          regverdig te lewe, d.w.s. volgens God se Wet te lewe, en

–          vroom te lewe, d.w.s. in voortdurende heiligmaking te lewe

Die reddende genade van God, Jesus Christus, maak dit vir ons moontlik en leer ons om nou – juis in die midde van die teenwoordige wêreld met al sy begeertes en verleidings- voortdurend vanuit sy Woord goeie werke tot sy eer te doen, uit dankbaarheid.  Uit dankbaarheid weer

–          goeie ouderlinge te wees

–          om goeie leraresse te wees van jonger vrouens

–          om goeie tuisteskeppers te wees, onderdanig aan ons mans en lief vir ons kinders

–          om goeie mans en jongmanne te wees wat ons vrouens liefhet en diensbaar is teenoor ons gesinne en gemeentes

–          om goeie diensknegte van ons base te wees, ons werkgewers te eer en te dien.

Al hierdie sake is sentraal in die konkrete onderrig en uitvoering van ‘n CLWB vir vandag.  Dit is nie altyd maklik nie en vra veel stryd en opoffering, maar dit is die regte ding om te doen omdat hierdie opdragte by die leer van God pas, die leer van God versier soos ons gelees het in Titus 2:10.

Sonder die reddende genade van God is dit heeltemal onmoontlik om God te behaag, om enigsins enige van hierdie of enige ander goeie werke te doen (HK, v/a 91).  En as jy alhoemeer volgens God se konkrete opdragte begin lewe, roem in God se reddende genade in Christus, want die goeie werke is nie uit jouself nie, maar deur die kragte werking van die Heilige Gees.

Slot

Die kerk het die taak en opdrag om die soewereine Evangelie van Jesus Christus te verkondig aan alle volke en hulle dissipels te maak deur hulle te leer om alles te onderhou wat Hy ons beveel het (Matt.28:19).

Dit behels om die ‘volle raad van God’ oor God, mens en wêreld, en hul onderlinge verhouding tot mekaar te leer, vir soverre God dit in sy Woord aan ons geopenbaar het.  Deur die Woord en Gees moet ons ons hoe langer hoe meer in ons denke en dade onderwerp aan Christus se heerskappy.  Dit behels ook om ons tydsgees te ken sodat ons dit meer effektief kan konfronteer met die Evangelie van Jesus Christus en die CLWB wat vir ons in die Woord geopenbaar is.

Mag die kerk van Christus opnuut deur die prediking, ampswerk, pastoraat, katkisasie asook die lidmaat in die amp van gelowige ons roeping vervul ten opsigte van die ontwikkeling en onderrig in die CLWB vir ons tyd.


[1] Matt.28:16-20

[2] Oorsprong en Rigting, deel 1 (Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1967), p.15.

[3] Ibid., p.42 ev.

[4] Calvyn sê dat wanneer ons in die geloofsbelydenis praat van die ‘kerk’ word nie net die sigbare kerk bedoel nie, maar al God se uitverkorenes regdeur die geskiedenis.  Calvyn beklemtoon twee woorde in hierdie belydenis oor die kerk, naamlik ‘glo’ en ‘aan’.  Die woord ‘glo’ word gebruik omdat ons baiemaal nie die onderskeid in hierdie lewe kan maak tussen die gelowiges en die goddeloses, tussen die skape en die wilde diere nie.  Calvyn wys ook daarop dat ons nie ‘in’ die kerk glo nie (ons glo ‘in’ God waarin ons vetroue en geloof is), maar ‘aan’ die kerk.  Verder is die kerk ook ‘katoliek’, wat beteken dit is universieël versprei oor die hele aarde.  Hierdie eenheid lê daarin dat al die uitverkorenes een is in Christus, een liggaam, een Hoof, een geloof, een hoop, een liefde, een God deur die een Gees.

[5] Herman Hoeksema, Reformed Dogmatics (Grand Rapids, MI: RFPA, 1985), p.563.

[6] Spesifieke erkenning aan dr. Peter Jones se werke vir die ontleding van die Grieks-Romeinse samelewing in Paulus se tyd, in die besonder sy nuutste boek: Capturing the Pagan Mind: Paul’s Blueprint for Thinking and Living in the New Global Culture (Nashville, TS: Broadman & Holman Publishers, 2003).

[7] Verspreiding van die Griekse taal en kultuur

[8] Om meer te weet van hierdie nuwe godsdiens, nl. die neo-paganisme wat saam met die humanistiese postmodernisme die tydsgees van ons dag vorm, en die westerse wêreld vorm, wil ek juis ter wille van ‘n meer effektiewe toerusting in ‘n CLWB die werke van Peter Jones, by u baie sterk aanbeveel. Sy boeke is ‘n bybels, teologies,  histories en wetenskaplik verantwoordbare werke oor die stryd tussen Christelike geloof en paganistiese monisme wat hom in die 21ste eeu  uitwoed. Hy wys hoe die  gnostiese dwalings van die vroeë kerk (in nuwe baadjies) weer besig is om vandag binne en buite die kerk, weer terug te keer. Hierdie boek is onmisbaar om die ‘postmoderne tydsgees’ van vandag te verstaan, sodat ons die simptome daarvan kan beveg met ons enigste wapen: die Woord van God deur die krag van die Heilige Gees.  Die skrywer van die boek, dr. Peter Jones, is professor in Nuwe Testament, aan die Westminster Theological Seminary, Escondido, CA, VSA.  Gaan besoek gerus sy webblad by: www.spirit-wars.com of http://truthxchange.com/

One thought on “Die roeping en taak van die Kerk van Christus

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: