Resensie van “Dethroning Jesus: Exposing Popular Culture’s Quest to unseat the Biblical Christ” deur Darrel Bock en Daniel Wallace (Uitgewer : Thomas Nelson; Publikasiedatum : 2007), deur Bouwe van der Eems
Baie teologiese boeke artikels is geskryf wat dwaalleer afwys en die ware leer verdedig. Ondanks die baie skrywes is deformasie in die hoofstroom kerke die reël eerder as die uitsondering. Hierdie situasie laat mens wonder of daar nie gebreke is in apologetiese metode wat oor die algemeen gebruik word nie.
Die boek “Dethroning Jesus” deur Darrel Bock en Daniel Wallace hanteer die vraag of Jesus die Seun van God is, of maar net ‘n besondere profeet. Dit word beskryf as die verskil tussen die leer van die Christendom teenoor die leer van die Jesusdom.
Ses bewerings van die Jesusdom word hanteer. Die eerste bewering is dat die Nuwe Testament so gekorrupteer is deur kopieerders dat dit nie moontlik is om te rekonstrueer wat die oorspronklike skrywers geskryf het nie. Die laaste bewering is dat Jesus se graf gevind is en dat dit bewys is dat Jesus nie fisies opgestaan het nie. Hierdie bewerings is wat dikwels in die hoofstroommedia gehoor word.
In die boek word die ses bewerings uitgesit en weerlê in ses hoofstukke. Die hoofstuk begin met ‘n uitsetting van die bewering van die Jesusdom. Wat myns insiens uniek is omtrent hierdie boek is die uitvoerige wyse waarop die bewering en die gronde daarvoor uiteengesit word. Nadat mens die uiteensetting gelees het kry jy dikwels die gevoel dat dit onmoontlik is om die standpunt te weerlê.
Na ‘n deeglike uiteensetting volg dan ‘n deeglike weerlegging. Onderliggende aannames word aangetoon en bewyse word gelewer waarom hierdie aannames vals is of waarom die afleiding wat daaruit gemaak is ongeldig is. In die weerlegging van die eerste bewering word bv. erken dat daar inderdaad korrupsie van die teks plaasgevind het deur kopiering, maar dat minder as een persent van die korrupsie enige invloed kan hê op die betekenis van die teks en dat niks daarvan enige invloed het op die kern van die leer van die Christendom nie.
Wanneer dwaalleer weerlê word, is daar die versoeking om min aandag te gee aan die uiteensetting van die opponent se standpunt en baie aandag aan die weerlegging daarvan. Die gevolg hiervan is dat die lesers die dwaalleer nie goed verstaan nie, dit nie maklik kan herken nie en nie die teenargumente kan toepas daarop nie.
Die tweede versoeking is om die swakste argumente van die opponent te kies en dit dan op spektakulere wyse te weerlê. Dit laat die skrywer goed lyk, maar is van min waarde vir leser. In die praktyk sal die leser gekonfronteer word met die sterkste argumente van die opponent.
“Dethroning Jesus” is ‘n voorbeeld van uitnemende apologetiek. Die standpunte van die opponente van die Christendom word deeglik uiteengesit en omvattend weerlê. Hierdie boek is nie slegs waardevol vir sy goeie inhoud nie, maar ook as voorbeeld van ‘n kragtige apologetiese metode.
_____________________
Bouwe van der Eems kan gekontak word by: bouwe.vandereems@gmail.com
By die eerste lees van die titel ( sonder om die sub-titel te lees) sou ek nooit kon raai dat dit ‘n “pro- Jesus” boek sou wees nie! Inteendeel, my eerste gedagte was ‘n besliste “nee dankie!” Dankie vir die resensie, NOU sal ek moeite doen om die boek te kry.