Preek 1: 1 Petrus 1 Gefokusde Hoop (Hoop volkome) Matlabas 2014 11 02
Lees 1 Pet 1:1-14.
Tema: Gefokusde hoop
Teks: (vers 13) Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus.
Psalms:145:1,2,4; 145:10,11,12; 73:9,10; 73:11,12; 4:3,4.
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Broeders en Susters,
Daar is miskien net een ding
wat erger is
as om jou koers te verloor in die bosveld
en dit is
om jou koers te verloor op see.
Om daar in die middel van die grote en wye oseaan rond te dryf
sonder ‘n cooking clue van waar jy is
en waarheen jy op pad is,
sonder die vaagste benul van waar die land is.
In die ou dae het die seilskepe juis vir sulke tye ‘n uitkykpunt gehad.
Daar op die hoogste deel van die langste mas kon ‘n matroos baie verder sien.
En sou hy dan die land gewaar,
kon hy die bemanning en passasiers daarop attent maak
en kon hy daarvandaan die rigting aandui.
Die apostel Petrus is daardie matroos in ons Skrifgedeelte.
Vir hierdie klompie vervreemde gelowiges wat op die die wêreldsee ronddryf
wat nie meer herwaarts of derwaarts weet nie,
is Petrus die man met die vergesig;
is Petrus die man daar aan die bopunt van die mas met die verkyker;
is Petrus die verkondiger van hoop …
‘n Lewende hoop.
Daar is land op die verre horison!
Ek sien ons eindbestemming!
Ons onverganklike erfenis is in sig!
So verkondig hy van sy uitkykpunt.
Ons saligheid, ons absolute volkome geluk en vrede,
die einddoel van ons geloof is binne bereik!
Daarom, Geliefdes, omgord die lendene van julle verstand.
Nou weet u miskien
dat in die Bybelse tyd die mense, mans en vroue lang los klere gedra het …
klere wat wat in ‘n warm klimaat eintlik baie gerieflik was,
maar nie so prakties was
as daar werk gedoen moes word nie.
As jy ‘n taak op hande gehad het;
as jy vinnig moes beweeg;
as jy as soldaat in ‘n geveg betrokke sou raak;
as jy as matroos na die stuur of die seile van die skip moes omsien,
dan sal al hierdie los moue en voue en hangsels net in jou pad wees,
iets wat jou kan laat struikel;
iets wat jou kan laat vashaak;
iets wat in die masjienerie verstrengel kan raak.
Daarom het hulle hul lendene omgord,
‘n gordel gebruik om alle los klere mee vas te maak
en uit die pad te hou.
In afrikaans sou ons kon praat van “moue oprol”,
behalwe hier in ons Skrifgedeelte maak die Here dit van toepassing op ons verstand.
Omgord die lendene van julle verstand,
rig julle denke in.
Die apostel Paulus gee ‘n amper soorgelyke opdrag aan die Korintiërs in sy tweede brief:
Neem elke gedagte gevange,
skryf hy.
Meet elke gedagte aan die jou einddoel.
Kry jou prioriteite in orde!
Die Brief aan die Hebreërs gebruik weer die beeld van die Christelike wedloop met dieselfde strekking.
As jy die wedloop wil voleindig,
sê die Here.
as jy die eindstreep wil bereik,
as jy jou einddoel wil bereik,
raak dan ontslae van elke las
wat jou omring (Heb 12:1).
Jy kan nie hardloop,
jy kan nie vorentoe
as jy ‘n klomp goed om jou het
wat jou terughou nie.
Omgord die lendene van jou verstand.
Al hierdie los gedagtes, al hierdie ander afleidings,
al hierdie drome van ‘n aardse saligheid,
‘n politieke saligheid, ‘n materiële saligheid, ‘n verhoudingsaligheid,
wat dit ookal mag wees …
Vat dit vas!
Kry dit onder beheer!
Span jou in
om jou denke onder dissipline te kry.
Wees nugter.
Kom mense, kom ons raak nou gefokus op ons eindbestemming!
U weet, Broeders en Susters,
wat die probleem is met baie van die gelowiges op die apostel Petrus se skip?
Al word hulle deur allerhande beproewinge geteister,
al dryf hulle sonder rigting rond op die wêreldsee,
al is baie van hulle al hartlik moeg daarvoor
om seesiek te wees,
is daar baie wat eintlik glad nie daarna uitsien
dat die vasteland bereik moet word nie …
Is daar baie
wat eintlik geen werklike behoefte áan ‘n hemelse erfenis het nie;
is daar baie
wat eintlik geen brandende verlange na die Vaderhuis het nie.
Hoe onverstaanbaar dit ookal mag wees.
Daar is baie van die skip se bemanning
wat nou net geleer het
hoe om vis te vang
en hulle wil nou niks anders doen as
om net die heeldag lyn nat te maak nie.
Daar is baie van die passasiers
wat nie kan wag
dat die son weer moet skyn
sodat die meisies op die dek kan kom lê en tan nie.
Daar is baie van die passasiers
wat glad nie in die eindbestemming belang stel nie,
want hulle het nou te lief begin raak vir die geselskap van hulle mede-passasiers.
Daar is baie seevaarders wat nie kan wag
dat die volgende dekpaartie weer gehou sal word nie.
Hulle sê:
“Hokaai nou Petrus, ons kan nie nou al land toe vaar nie!
Ons het dan nog ‘n hele container vol rum en brandewyn!”
Die apostel verwys later in hierdie brief daarna:
Hy sê die gelowiges het hulle afgelope lewenstyd spandeer …
hoe spandeer? …
deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap,
brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye (1 Pet 4:3).
Kom mense, kom ons raak nou gefokus!
Wees nugter,
omgord die lendene van julle verstand!
Kom ons rig ons gedagtes, toegewyd op die hemelse heerlikheid wat voorlê.
Nie soos die ryk dwaas nie.
U ken almal die gelykenis van die ryk dwaas.
Die Here Jesus vertel dit Lukas 12.
Hy was ‘n man wie se grond goed gedra het.
Hy was ryklik geseënd met ‘n groot oes.
Toe begin hy aan die toekoms dink.
Hmm, wat sal ek doen,
want ek het geen plek
waar ek my oes kan insamel nie?
So het hy by homself geredeneer,
(soos dit daar staan).
Met ander woorde, hy het die lendene van sy verstand omgord.
Hy het doelgerig begin beplan op die toekoms.
Hy het begin beplan
om sy bestaande skure af te breek
en om groter skure te bou
en daar sal hy al sy opbrengste en sy goed insamel.
Die man het ‘n groot toekomsvisie gehad,
want hy sê toe vir sy siel:
Siel, jy het baie goed …
goed wat weggesit is vir baie jare;
neem rus, eet, drink, wees vrolik.
Maar God het aan hom gesê:
Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis;
en wat jy gereed gemaak het,
wie s’n sal dit wees? (Luk 12:16 ev)
Ja. Die ryk dwaas het ‘n toekomsvisie gehad.
Hy het wel die lendene van sy verstand omgord.
Hy het wel volkome op ‘n toekomstige saligheid gehoop,
maar dit was nie op die hoop en saligheid
waarvan ons Skrifgedeelte praat nie.
Dit was ‘n verganklike erfenis,
wat sy gedagtes beheers het.
Dit was nie die onverganklike erfenis
wat in die hemele vir ons bewaar is nie.
Dit was nie die hoop op die genade
wat eendag julle deel word nie, Geliefde gemeente.
By die openbaring van Christus eendag word ons mos ‘n baie besondere genade deelagtig.
Is dit nie so nie?
Is ons daarop gefokus?
Is die aktiewe, gedissiplineerde nugtere oordenking van daardie genade ‘n prioriteit by ons?
Of dryf ons maar net van Sondag tot Sondag
wanneer ons weer hoor:
Ek glo aan die terugkeer van die Here Jesus …
Ek glo aan die opstanding van die die liggaam …
Ek glo aan ‘n ewige lewe …
Maar dis in by die een oor
en uit by die ander.
Partykeer sal ons selfs ‘n Sondag of twee of drie skiep.
Is die aktiewe, gedissiplineerde oordenking van daardie genade ‘n prioriteit by ons?
Is ons hoop daarop volkome?
Dit was wel die geval by die profete
van wie ons hier in verse 10, 11 en 12 gelees het.
Aangaande hierdie saligheid het die profete ondersoek …
Aangaande hierdie genade
wat vir ons bestem was, het hulle nagevors
en hulle het nagespeur op watter en hoedanige tyd hierdie dinge sou gebeur:
die lyde wat oor Christus sou kom,
maar ook die heerlikheid daarna.
Hierdie manne se oë was vasgenael op die verre horison.
Die lendene van hulle verstand was omgord.
Selfs met net die bietjie van God se openbaring
wat hulle te beurt geval het,
was hulle besig om te ondersoek,
besig om na te vors,
besig om na te speur.
En ons, ons wat soveel meer as hulle ontvang het,
ons wat volgens die voorkennis van God uitverkies is,
waarmee is ons besig?
Ons het tyd vir baie dinge …
sommige van die dinge miskien nodig,
ander minder nodig,
sommige van hulle selfs skadelik.
Nogtans behoort ons in staat te wees
om verslag te kan doen oor hierdie toekoms
waaraan ons glo
en elke Sondag bely.
Die Here verwag dit van ons.
Ons lees dit in hoofstuk 3 vers vyftien van hierdie selfde brief:
Wees altyd bereid
om verantwoording te doen,
(skryf Petrus).
Wees altyd bereid
om verantwoording te doen aan elkeen
wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop …
die hoop wat in julle is.
Om verantwoording te doen,
om rekenskap te gee,
moet jy iets weet van ‘n saak.
Soos ‘n goeie student moes jy jou verstand en jou geheue ingespan het,
selfs toegewyd gestudeer het.
Die hoop wat in ons is,
is nie nie ‘n vae gevoel nie.
Nee, dis die onderwerp van ‘n toegewyde studie.
Slegs dan kan ons hoop volkome raak.
U weet, Broeders en Susters, ons noem onsself “gelowiges”.
Dit is wat ons is.
Dit is wat die meeste van ons
wat vandag hier is, ook onderneem het
om te wees die dag
toe ons hier voor die kansel belydenis van ons geloof afgelê het.
Ons het belowe
om tot die einde van lewe standvastig te volhard
om tot die einde van ons lewe die verbondsgemeenskap met God te onderhou,
om Hom van harte lief te hê.
Ons het belowe om van die wêreld en sy begeerlikheid af te sien.
Ons het belowe
om ons saligheid buite onsself in Christus te soek.
Die Here Jesus het hierdie woord in Mat 22 opgesom:
Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart en met jou hele siel
en … met jou hele verstand.
Dit is die eerste en groot gebod (Mat 22:37).
Daarom Geliefdes, omgord die lendene van u verstand!
Gebruik u verstand nugter en toegewyd
om die genade, die saligheid te soek …
daardie genade wat ons buite onsself in Christus het,
om aktiewe verlange na sy wederkoms te kweek,
sodat u hoop volkome kan wees.
Moenie net ‘n gelowige wees nie,
maar ook ‘n aktiewe hopende gelowige.
Nou kan ek vir u sê:
‘n Gelowige en ‘n hopende is eintlik dieselfde een en dieselfde persoon.
Wat is die verskil tussen geloof en hoop?
Eintlik nie veel nie:
Geloof aanvaar die werk wat God in die verlede gedoen het.
Hoop verwag die vervulling van sy beloftes
wat nog in die toekoms lê.
In Romeine vier pas die apostel Paulus die geskiedenis van Abraham toe.
Daar word hy die vader van alle gelowiges genoem (Rom 4:11,16).
Hoekom was Abraham die vader van alle gelowiges?
Want hy het die HERE se beloftes geglo.
Hy het gelo dat die HERE vir hom ‘n nageslag sal gee
al was dit menslik onmoontlik …
Vir beide vir hom en sy vrou was dit ‘n saak van onmoontlikheid.
Tog het Abraham die HERE op sy woord geneem.
En lees ons in hoofstuk vier vers 18:
Abraham het teen hoop op hoop geglo
dat hy vader van baie volke sou word,
volgens wat gesê was.
Teen hoop op hoop geglo.
Abraham die gelowige en Abraham die hopende is een en dieselfde persoon.
Dieselfde apostel Paulus wat hierdie brief aan die Romeine geskryf het,
skryf aan later aan Filippense:
Ons burgerskap is in die hemele,
(sê hy)
ons burgerskap is in die hemele
van waar ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag …
die Here Jesus Christus wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander.
Hoe verander?
Hy sal dit verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam.
Daar het u nou iets
waarop u volkome behoort te hoop, Uitverkore kinders van God!
Dis ‘n groot deel van die genade,
wat u deel sal word by die openbaring van Jesus Christus.
Hierdie woorde van die apostel Paulus lui ‘n pragtige gedeelte in hierdie brief in
en dan sluit hy dit af in hoofstuk 4 vers 8 deur te sê:
Broeders, alles wat waar is,
alles wat eerbaar is,
alles wat regverdig is,
alles wat rein is,
alles wat lieflik is,
alles wat loflik is,
bedink dit.
Broeders en Susters,
kom ons skep geleenthede om ons genade in God te bedink.
Kom ons benut die geleenthede wat ons het
om ons hoop op daardie genade te laat groei,
volkome te laat word.
Doen dit in u persoonlike lewe.
Doen dit in u gesinslewe.
Laat ons dit doen in ons gemeentelike lewe.
Die geleenthede is daar:
Elke Sondag se eredienste,
een hier en een op Thabazimbi …
Bybelstudie geleenthede gedurende die week.
Benut dit.
Daar is geen beter manier vir hierdie gemeente
om sy boot op koers te hou,
as juis dit nie.
Amen.
Preek 2: 1 Pet 1 (Wees heilig!) GK Matlabas 2014 11 09
Lees 1 Pet 1:1-2:3; Lev 19:1-18
Tema: Wees heilig
Teks: 1 Pet 1:16 Wees heilig, want Ek is heilig.
Psalms:84:1,2; 84:3,4; 25:1,2; 25:3,4; 25:5,6.
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)
Broeders en Susters,
As jy iets meer oor my wou weet;
as jy my regtig beter wil leer ken;
as jy graag ‘n bietjie agter die front wil inkom;
die gesig wat ek aan ander mense voorhou;
dan moet u maar net na die gedrag van my kinders kyk.
Die appel val mos nie ver van die boom nie.
U ken daardie spreekwoord.
Aardjie naar sy vaartjie, is nog so ‘n spreekwoord.
Die kind sal die karaktertrekke van sy ouer of ouers weerspieël.
Aardjie naar sy vaartjie.
As jy by ‘n huis instap
en die kinders groet jou vriendelik,
val jou nie in die rede terwyl jy praat nie,
bied vir jou ‘n drinkdingetjie aan …
Wel, dit sê vir jou iets van daardie huis
en ook die karakter van die persoon
wat daar in beheer is.
Ek dink terug aan my eie kinderjare.
Voor ons gaste gekry het,
moes my pa dikwels vir my sê:
Ek hoop nie
ek hoef my vir jou te skaam nie!
Hy het seker goeie rede gehad
om destyds soiets te sê.
Hoe dit ookal sy.
Ons kan onsself vandag afvra:
Gee ons God, ons hemelse Vader, rede
om Hom vir ons te skaam?
God die Vader,
die Hoof van die hemelse Vaderhuis …
Hy is mos die Een wat vir ons sê:
Wees heilig,
want Ek is heilig.
Die woord heilig beteken kortliks: afgesonder.
Afgesonder van die wêreld.
Afgesonder vir Goddelike diens.
Nou is die vraag:
Gee ons God die hemelse Vader rede
om Hom vir ons te skaam,
as Hy Hom sou kon skaam?
Want eintlik, u weet en ek weet, Geliefdes,
God mag baie emosies vertoon,
emosies wat ons almal ook ken:
Liefde, haat, meegevoel, woede, vreugde …
maar skaamte is nie een van hulle nie.
En dit is omdat Hy self die absolute standaard is.
Dit is omdat Hy die HERE, die Heilige in ons midde is.
Dit is omdat Hy teenoor niks of niemand ooit enige verantwoording hoef te doen nie.
Daar is niks of niemand buite God
wat Hom kan beoordeel nie.
Daar is geen ander Skepper nie!
Daar is geen ander Versorger nie!
Daar is geen ander Verlosser nie!
Daar is geen ander standaard of maatstaf vir goed of kwaad nie.
Niemand is heilig soos die Here nie,
(so lees ons in 2 Samuel 2).
Niemand is heilig soos die HERE nie,
ja, daar is niemand buiten U …
En hierdie God is nou julle Vader.
Hoor julle, vreemdelinge in Galasië en Asië en die Afrikaanse Bosveld?
Hierdie God wil nou hê
dat ons aan sy hemelse standaard sal voldoen.
Hierdie Vader wil nou hê
dat die kinders wat in sy huis opgroei,
dat hulle soos Hy sal wees.
Ons is mos uitverkies tot gehoorsaamheid,
het ons gelees
en dan weer ‘n entjie verder lees ons weer
dat ons ons lewe moet inrig soos gehoorsame kinders.
Letterlik in die Grieks staan daar nie gehoorsame kinders nie,
maar kinders van die gehoorsaamheid.
Julle is nou kinders van die gehoorsaamheid,
net soos die wêreld se kinders kinders van ongehoorsaamheid genoem word.
Volgens die apostel Paulus se brief aan die Efesiërs wandel die kinders van ongehoorsaamheid volgens die loop van hierdie wêreld.
Hulle wandel volgens die owerste van die mag van die lug.
Ja, hulle het ook ‘n vader.
Die Here Jesus sê hulle het die duiwel as vader
en op hulle beurt doen sy kinders wat hy begeer (Joh 8:44).
Sy kinders rig hulle lewe in volgens die begeerlikhede van hierdie wêreld.
Maak nie saak hoeveel hartseer dit hulle bring nie …
Hulle wil in die duiwel se huis bly.
Dis waar hulle wil wees.
Vra jy die dronkie wat onder die treinbrug slaap;
vra jy die prostituut wat op haar bevlekte bed slaap;
vra jy die gewoontemisdadiger wat op sy tronkmatras slaap
of hulle nie beter slaapplek soek nie,
dan sê hulle vir jou:
Los my uit!
Dis waar ek wil wees.
Dis my vaderhuis hierdie.
Vra jy die man wat vloek en swets
of hy nie ‘n beter taal wil leer praat nie,
dan sê hy vir jou:
Moenie vir jou simpel hou nie!
Ek praat soos my vader my leer praat het.
U sien,
die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie;
want dit is vir hom dwaasheid,
en hy kan dit nie verstaan nie (1 Kor 2:14).
Dis hoe die apostel Paulus dit in die eerste brief aan die Korintiërs stel.
Die natuurlke mens het die duisternis liewer as die lig,
is weer die apostel Johannes se opsomming van die verskynsel (Joh 3:19).
En daarom het ons wedergeboorte nodig.
Ons moet geestelik weer gebore word.
Ons moet weer in God se huis in gebore word …
om in God se huis te kan bly.
So radikaal is die teenstelling tussen die natuurlike mens en die heilige Vader.
So wyd is die kloof tussen ons aardse wonings en die Vader se woning.
Jy kan sommer net by die huis van God intrek nie.
Jy moet in daardie huis in gebore word.
Niks anders as ‘n tweede geboorte sal deug nie.
Ons leer uit ons Skrifgedeelte
dat hierdie geboorte van ons natuurlike geboorte verskil.
Ons natuurlike geboorte is uit verganklike saad,
dit wat van ‘n man af kom,
maar ons wedergeboorte is uit onverganklike saad.
Dit gekied deur die Gees en die lewende woord van God …
‘n Woord wat tot in ewigheid bly.
Daardie wedergeboorte is ook ‘n gawe van God.
So het ons ook gelees.
Na God se grote barmhartigheid het Hy ons die wedergeboorte geskenk.
En Geliefdes, daar is vir ons geen groter geskenk in hierdie lewe as dit nie.
Om ‘n uitverkorene te wees, om ‘n geroepene te wees;
om van die gawe van wedergeboorte in jou lewe te kan getuig …
Daar is niks wat met hierdie geskenk kan vergelyk nie.
Maar dis nie die einde van die storie nie.
Ek wens ek kon sê:
Dis so eenvoudig soos dit.
Dis duidelik uit hierdie brief van die apostel Petrus.
Hy het dit uit eie ervaring geweet
en ek weet dit uit eie ervaring:
Die gelowige se reis eindig nie met sy wedergeboorte nie.
Die wedergeboorte is maar net die begin van sy inwoning in die Vaderhuis.
Daar lê nog ‘n lang pad voor.
Ons heiligmaking lê nog voor.
In my nuwe huis moet ek nog maniere leer.
U het seker almal al die gesegde gehoor:
Dit het die HERE ‘n dag geneem
om die volk uit Egipte te kry,
maar om Egipte uit die volk te kry …
Dit het veertig jaar geneem.
Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede
wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is,
moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
omdat daar geskrywe is:
Wees heilig, want Ek is heilig!
God is heilig.
Dit beteken:
Hy is afgesonder.
Hy is onbesoedel.
God se helige natuur maak
dat Hy die sterkste afkeur aan die sonde het.
Die sonde steek ‘n heilige toorn in Hom aan die brand.
Daarvan getuig die hele Bybel.
Dink maar aan die gebeure rondom die wêreldvloed in Noag se tyd.
Dink maar aan wat met Sodom en Gemorra gebeur het.
Hy haat sonde.
Hy haat geweld.
Hy haat leuens.
Hy haat egskeiding …
Al hierdie dinge waarmee ons so gemaklik mee saamleef,
roep die ergste moontlike weersin by Hom op.
Broeders en Susters, wanneer ons sy Seun daar aan die kruis sien,
wanneer ons Jesus Christus daar op Golgotha in die middagson sien hang,
sy vel van sy lyf afgestroop met ‘n kats,
tussen hemel en aarde met spykers vasgeslaan,
dan kan ons miskien begin
om ‘n idee te kry van hoeveel God die Vader die sonde haat
en hoe verskriklik sy oordeel daaroor is.
Wees heilig, want Ek is heilig.
Ons lees hierdie presiese woorde ‘n paar keer in die Bybel …
veral in die boek Levitikus.
Na die uittog uit Egipteland;
nadat die HERE sy volk verlossing geskenk het;
nadat die HERE sy volk op die pad geplaas het na die Beloofde Land,
‘n land wat oorloop van melk en heuning,
hulle erfenis;
nadat die HERE aan hulle sigbaar en tasbaar bewys het
dat Hy met hulle is,
by hulle is, rondom hulle is …;
nadat die HERE vir hulle die tabernakel gegee het,
‘n tent van samekoms, waar die volk met hulle Verlosser kon verkeer;
na al hierdie dinge
spel Hy aan sy kinders uit
dit wat van hulle verwag word;
spel Hy sy huisreëls aan sy kinders uit.
Hy sê:
As ons saam in ‘n huis gaan bly,
is dit wat van julle verwag sal word.
Ons het dit gelees hier uit Levitikus 19.
In baie opsigte is die gedeelte ‘n herhaling van sy Tien Gebooie
waarna ons vanoggend weer geluister het.
Wat ons telkens opval,
is die herhaling van die inleiding tot die Tien Gebooie.
Telkens word dit herhaal,
onderstreep as’t ware:
Ek is die HERE …
Ek is die HERE …
Dit sê aan die een kant:
Ek is jou Verlosser.
Dit sê:
Ek is die Herder
wat jou lei na waters waar rus is,
maar dit sê ook:
Ek is die Heilige in jou midde.
Wees heilig, want Ek is heilig.
Ek is die HERE!
As jy uitsien na die saligheid,
as jy uitsien na die beloofde land,
dan moet jy jouself begin voorberei vir ‘n lewe van heiligheid.
En dis maar dieselfde wat Petrus ook vir hierdie gemeentes in die verstrooiing sê:
As julle uitsien na die saligheid,
as julle hoop op ‘n onverwelklike erfenis volkome is,
dan moet julle jul begin voorberei vir ‘n lewe van heiligheid.
Julle moet nou al heilig begin lewe.
Nou mag ons wel vra:
Hoe verloop hierdie proses van heiligmaking?
Wel, eerstens dit begin deurdat ons dinge anders sien.
As geroepe en wedergebore kinders van God val die skille van ons oë af.
Ons sien die begeerlikhede wat in ons onwetenheid bestaan het,
vir wat dit is,
dit wat die apostel Paulus in sy briewe begeerlikhede van die verleiding,
skadelike begeerlikhede en singenot noem.
Ons sien dit vir wat dit is.
Dit trek my nie meer aan nie.
Ek word nie meer daardeur geflous nie.
Ek is nie nou meer soos ‘n kind
wat, as jy hom ‘n twee rand stuk en ‘n tienrandnoot aanbied,
dan vat hy eerder die twee rand stuk
net omdat dit blink nie.
Noudat ek die fontein van lewende water gevind het,
probeer ek nie meer
om reenbakke uit te kap
wat in elk geval bars nie (Jer 2:13).
Ek het mos nou die Heilige van Israel leer ken.
Ons sien nie net dinge anders nie,
daar is nou dinge wat ons doelbewus eenkant plaas:
Begeerlikhede waarvolgens die mensdom hulle lewe inrig,
selfs al was daardie ydele lewenswandel deur ons aardse vaders oorgelewer.
Ek het mos nou ‘n nuwe Vader, ‘n hemelse Vader,
Wie se voorbeeld ek wil navolg,
Wie se Woord ek wil gehoorsaam.
En voordat ons nou vasgestrengel raak in ‘n debat
of hierdie of daardie ding nou sonde is, of nie,
wil ek u ‘n eenvoudige toets gee.
Lê net hierdie maklike maatstaf aan:
Wanneer u oor een of ander saak twyfel,
vra jouself af
of ek dit wat ek nou doen,
of ek dit met vrymoedigheid voor my hemelse Vader sal kan doen?
Sal ek onder die brandende oë van my hemelse Vader kan aangaan met dit
waarmee ek nou mee besig is?
So nie, sit dit eenkant!
Nou word my tyd en my aandag eerder opgeneem deur dit
wat my hemelse Vader graag wil hê
wat ek moet doen.
Dit is hoe die proses van heiligmaking verloop.
Dis ‘n lewenslange proses.
Dit sal net met my dood eindig
of by die openbaring, die wederkoms van Jesus Christus.
Soos met die wedergeboorte is daar ook ‘n onmisbare komponent in hierdie proses.
Die heilgmaking geskied deur die Gees en deur die Woord.
Daardie onverganklike saad van my wedergeboorte
word nou die onvervalste melk
waarsonder geen groeiende kind kan klaarkom nie.
Verlang u na daardie Woord, Broeders en Susters?
Verlang u sterk daarna?
Is u verlange na hierdie melk so sterk soos die van ‘n pasgebore baba na sy moeder se melk?
Geliefdes,
nou verstaan ons wat dit beteken
om in God se huis te woon,
en om daarin op te groei.
Ons verstaan ook nou
dat ons hemelse Vader nie wil hê
dat ons verder sal oorslaap nie.
U ken mos daardie praktyk onder ons kinders.
Dit gebeur soms dat hulle by ‘n maatjie gaan oorslaap.
As dit by ‘n maatjie in ‘n gelowige huis is,
is dit seker nie verkeerd nie.
Maar God, die hemelse Vader in sy huis, volgens sy standaard,
wil nie nie hê dat ons
as ons eers in sy huis woon,
sal probeer oorslaap nie;
dat ons vir ‘n aand of wat by ‘n wêreldse huis sal intrek nie;
dat ons sal oorslaap by die kinders van die ongehoorsaamheid.
En dit is mos wat baie van ons probeer doen.
Is dit nie so nie?
Ja, daar is sommige van ons
wat selfs die heel week oorslaap,
om dan net miskien op n Sondag by die Vaderhuis in te klok.
Dit kan tog nie!
Ons as kinders moet tog die karakter van ons hemelse Vader weerspieël
en geen ander karkakter nie.
Ons het vanoggend mos weer gehoor:
Hy is ‘n jaloerse God.
Wees heilig,
want Hy is heilig.
Amen.
Leave a Reply