Posted by: proregno | November 24, 2014

My gewete voor God

Ek plaas hier onder ‘n paar artikels van ds. MJ Booyens wat hy geskryf het oor die gewete se rol en plek in die gelowige se lewe voor God se aangesig:

– “Ek handel volgens my gewete …”

– Gewete self is nie my norm nie

– Misverstand oor vryheid

Sien ook die volgende bronne oor die onderwerp:

Good Conscience

John MacArthur

Ligonier Ministries

The Power of a Clear Conscience

My gewete

deur ds. MJ Booyens

[Bron: Aan die Voete van Jesus]

 1. “Ek handel volgens my gewete.”..

Gewete is lastig

Die gewete is ‘n lastige outjie . . . ‘n Mens doen soms jou bes om hom stil te kry, maar hy protesteer tot selfs in sy doodsnikke. (Wanneer ‘n mens se gewete totaal toegeskroei is.) Gelukkig is die mens waar hy nog duidelik en helder sy stem laat hoor. Treurig is dit wanneer hy verhef word tot die stem van God. Dan sê ‘n mens: “Ek laat my deur niks en niemand voorskryf nie. My eie gewete is my rigsnoer . . .” Hier kan ‘n mens met droefheid vra: “Het jy nog ‘n gewete?”

Maar dit is nogal moeilik om presies te sê wat ‘n “gewete” is. Jy kan hom nie vaspen nie.

Wat is gewete?

As ek so dink aan Adam en Eva dan lyk dit vir my of hulle voor die sondeval nie ‘n gewete gehad het nie. Hulle het dit immers nie nodig gehad nie. ‘n Mens se gewete kom immers te pas by die kennis van goed en kwaad en die keuse tussen goed en kwaad. En Adam en Eva het aan die begin mos nie kwaad geken nie en ook nie kwaad gedoen nie.

Miskien is dit die beste om ‘n bietjie aandag te gee aan Adam en Eva om die geboorte van die lastige “tikkertjie” of selfs “klikkertjie” hier in ons onbestemde binneste te bekyk.

Gewete gebore

Die listige slang fluister in Eva se oor. Die begeerte ontwaak en gaan oor tot die daad. Sy was ongehoorsaam aan God – sy het kwaad gedoen en nou weet sy ook wat kwaad is. Adam deel in die kwaad – hy eet, soos ‘n goeie eggenoot, uit die hand van sy vrou. Ook hy weet nou wat kwaad is.

En dan gebeur daar iets. Hulle sien wat hulle vroeër nooit gesien het nie. Hulle is naak. Vroeër het dit hulle nie gehinder nie, maar nou pla dit hulle “gewete”. Só is die gewete gebore.

Wanneer hulle hul eie en mekaar se naaktheid sien, dan weet en erken hulle dat hulle kwaad gedoen het. Ek is nie ‘n filosoof of selfs ‘n Gereformeerde etikus nie, maar dit lyk vir my of ek gewete só kan omskryf: Jou gewete kom tot gestalte in die skaamte of vrees vir skande – ‘n onaangename of pynlike gevoel oor iets verkeerds of onbehoorliks. In die mens het die bewussyn ontstaan dat ek anders is as wat ek behoort te wees.

By Adam en Eva is dit nog eenvoudig om te praat oor die gewete. Hulle was immers pas vantevore nog gewees wat hulle behoort te gewees het. Hulle skrik vir hulleself en gaan haastig wegskuil vir God, om te dink hoe vreeslik hulle verander het teen wat hulle was – goed en na die ewebeeld van God. Die “stem van die gewete” sou skerp en veroordelend praat.

Gewete toegeslik

Sedert Adam en Eva het baie water in die see geloop. Daar het miljarde tonne sand oor die gewete gespoel en dit toegeslik. Die beeld van God is letterlik toegepak met tonne en tonne modder wat gaandeweg versteen tot rotslae. Wanneer Paulus in Rom. 2 skryf van die gewete van die heidene, dan sien ons eintlik net maar die vergane fossiele van wat eens op ‘n tyd die heerlike beeld van God was: “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig.”

Van kwaad na erger

Daar is by die natuurlike mens nog spore van die eertydse heerlike beeld van God te bespeur. Al die “mooi” en “goeie” dinge in die menslike samelewing wat dit hier op aarde nog leefbaar maak, kom egter nie waarlik uit die “goeie gewete” van die mens voort nie. Die goeie God bewaar nog die wêreld daarvan om gewetenloos te word, deur die uitbarsting van die helse nagdonker op aarde in toom te hou. Dit word egter vinnig donkerder namate die einde van die wêreld nader. “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word . . .” (Openb. 22). Ja, daar kom ‘n tyd dat hierdie wêreld gesien sal word in die gestalte van die groot hoer wat op die baie waters sit en dan roep die hemel God se kinders toe: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie . . .” (Openb. 18:4).

“Gewete” sonder norm

Pas derhalwe op vir die “gewete” van die wêreldling – of hy nou ‘n staatsman of ‘n kunstenaar is, begiftig met die “goddelike”  gawes van die godin “KUNS” – sy gewete is op sigself bedorwe:

“Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid . . .” (Rom. 3:1 v, 14). Hier beskryf Paulus nie alleen die Griekse wyse en kultuurmens van sy tyd nie. Hier sien u die onwedergebore mens van alle tye – watter gawes en skatte hy ook al bied in die naam van wysheid en kuns.

Nee, die gewete wat nie ‘n vashouplek het buite onsself nie, is nie alleen onbetroubaar nie, maar is ‘n verleier uit die afgrond. Hy is dood in sondes en misdade (Ef. 2). Daar is ‘n wonder nodig – ‘n wonder uit die hemel – om weer aan ons ‘n gewete te gee. En as ‘n mens dit het, het jy rede om saam met Paulus te sing: “En julle wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld .. . (het God) lewend gemaak saam met Christus…”

Gewete en wet van God

‘n Dooie mens word lewend en dan sien hy. Hy sien wat hy is en hy weet wat hy behoort te wees. Dit weet hy nie uit sy gewete nie, maar uit die wet van God. En dan is sy ganse lewe daarop gerig om só te lewe, soos hy behoort te lewe. Dit doen hy omdat hy lewend gemaak is en oorloop van dankbaarheid vir die verlossing uit die greep van die dood in misdade en sondes.

En dan kan ek my op my gewete beroep as my gewete objektief gebind is aan die één norm – die wil van God. Per slot van sake is my gewete dan nie my rigsnoer nie, maar die wil van my hemelse Vader.

Ek is altyd maar ‘n bietjie lugtig vir die mens wat sy gewete of konsensie aan my voorhou. Ek het baie meer vertroue in die mens wat hom beroep op die Woord van God en vra na sy wil. Die mense wat so gretig gryp na die vyeblaar van die “eie gewete” het gewoonlik ‘n skuldige gewete. Die Christen het ‘n vaste norm vir sy gewete – nie in homself nie – maar in die ewige Woord van God.

2. Gewete self is nie my norm nie

Ons het pas uitgemaak dat ‘n mens se gewete op sigself vir jou hoegenaamd geen norm kan wees nie. Die gewete moet gebind wees aan ‘n objektiewe norm buite jouself. Vir die Christen is dit die wet van God alleen daaraan kan ons ons gewete bind.

Nou wil ek ‘n paar gedagtes met u wissel oor die gewete van die Christen aan die werk in die praktyk van die daaglikse lewe.

Rus in Christus

Die Christen se gewete is in die geloof gebind aan Christus. Gelukkig weet hy van sondevergewing – anders sou sy gewete hom verteer. Dink aan die heerlike kategismusvraag en antwoord: “Hoe is jy regverdig voor God ? Alleen deur ‘n ware geloof in Jesus Christus; só dat al kla my gewete my ook aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig en geeneen daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurig tot alle boosheid geneig is, God my nogtans … die volkome voldoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk en toereken …” Daar het u die enigste ruspunt vir ons gewete – die genade in Christus.

In Christus is my gewete wakker

Hoe vreemd dit nou ook al klink, is dit juis hierdie ruspunt vir ons gewete in Christus wat ons gewete wakker maak. Die gewete van die mens wat in Christus geregverdig is, is wakker en waaksaam. Hy is bang vir sonde – hy is gevoelig vir afwykinge. Ja, hy is verlos en daarom leef hy vir Christus. En dan gaan dit nie alleen om ‘n algemene vroomheidsbegrip of ‘n diens in die innerlike mens nie, maar dit strek oor die ganse lewe. Hy weet op elke lewensterrein en in elke optrede is hy verantwoordelik aan God.

Dit geld ook in besonderhede

En die Bybel praat nie alleen in algemene terme nie, maar bind ons gewete in besonderhede. In besonderhede word ons gebind in al ons woorde en dade; ons optrede teenoor ons medemens, ons verskyning in die samelewing, ons politiek en plesier, ons kleredrag en geslagtelike verhoudinge – in alles moet ons navolgers van Christus wees. Ons is na siel en liggaam sy eiendom in lewe en in sterwe.

Skaamtegevoel

En nou lyk dit vir my dat die skaamtegevoel in die praktyk die aller-belangrikste element is waarby die gewete te pas kom. Adam en Eva het hulle geskaam oor hulle naaktheid, omdat hulle besef het dat hulle nie meer is wat hulle behoort te wees nie. Die gelowige skaam hom voor God en sy medemens as hy nie is wat hy behoort te wees nie. Daarom is die aanslae van die duiwel en die wêreld daarop gerig om die skaamtegevoel af te breek. Het die skaamtegevoel verdwyn, dan het die gewete verdwyn. Dan kry ons die teendeel van wat dit in die Paradys voor die sondeval was. Toe het die mens geen rede gehad om hom te skaam nie, omdat hy volmaak was.

Nou sê mense ook: “Ek het geen rede om my te skaam nie.” Hulle kan dit egter nie sê omdat hulle volmaak is nie, maar omdat die skaamtegevoel afgestomp is en hulle gewoond geraak het aan skaamtelose dinge.

Jou liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees

Vra jouself af of jou liggaam na buite nog die tempel van die Heilige Gees is en so vertoon in ‘n minirok of ‘n bikini of ‘n broekpak wat al die kontoere van jou vroulike liggaam af-ets vir die aanskouer. ‘n Mens voel dat die eerbare en fatsoenlike vroulikheid van ons  susters ingeboet word. Jy is as ‘t ware naak, hoewel jy gekleed is volgens die nuutste mode. Ons kan rondspring soos ons wil, maar die Bybelgelowige het respek vir ‘n vrou wat sober en vroulik geklee is.

Gee sondige begeertes kos

En dink ‘n mens aan rolprente en toneelstukke; aan boeke en tydskrifte en kunsuitstallings – dan skrik jy vir die konsekwensies van wat ons mense sien en hoor. Dinge wat Paulus as só skandelik beskou dat ‘n mens dit nie eens mag noem nie, word nou vryelik onder die dekmantel van kuns en volwassenheid ingeslurp deur ons mense. Volwassenheid beteken blykbaar vir die mense dat hulle immuun is teen sonde. Dit leer die Bybel ons nie – eerder dat ons geneig is tot die sonde.

Ek wil dit nou maar eenmaal neerskryf – dit wat ek dink: Die mense wat naaktonele en bed-tonele kan aanprys as kuns en as ‘n inherente deel van die verhaal en dan roem op “volwassenheid”, moet hulleself maar net eerlik ondersoek of hulle nie besig is om ‘n voorwendsel te soek om hulle eie sondige begeertes kos te gee nie.

Gaan uit haar uit, my volk!

Dit het waarlik tyd geword dat ons halt roep. Ja, meer nog, dat ons omdraai en terugkeer. As ek aan ons wêreld dink, dan hoor ek die stem in Openbaring 18: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel en God het haar ongeregtighede onthou.” (Dit word gesê van die vrou – Babilon – die groot hoer.) As ons vroue se eerbaarheid daarmee heen is, is kerk en volk verlore.

3. Misverstand oor vryheid

Die woord vryheid word in ons tyd dikwels misbruik. Ons is bekend met die eise om akademiese vryheid, persvryheid, vryheid van spraak en opvatting, ens.

Dit is almal lofwaardige begrippe, maar die inhoud van die woord vryheid word veelal verskillend vertolk. Ook met dié woord gaan dit soos met ander in ons tyd; ‘n mens moet eers vasstel wat die spreker of skrywer met sy vryheid bedoel.

Die gangbare liberalistiese opvatting van vryheid is dat die mens sy eie lewe en gedrag reël na sy eie insigte. Hy is selfstandig onafhanklik en verantwoordelik vir sy eie lewenslot. In dié selfbepaling is hy aan niemand verantwoording verskuldig nie. Hy is sy eie gesag en geluk is hoofsaak. Hy erken geen gesag buite of bo homself nie. Hy kan doen en sê wat hy wil. Dit is vir die liberalis vryheid.

Die Christen gebruik ook die woord vryheid en glo daarin. Vir die Christen het die woord ‘n heeltemal ander betekenis.

Die Bybel gebruik ook dikwels die woord vryheid. As Christene lê ons vryheid daarin dat Christus ons vrygekoop het met sy bloed.

Vrywillig

Hy het ons nie vrygekoop om te doen wat ons wil nie, maar om te doen wat Hy wil hê ons moet doen. Die Christen se vryheid lê juis daarin dat hy vrywillig die wil van God volbring.

Om dit te verduidelik, kan ons ‘n eenvoudige beeld gebruik. Die mens is net vry wanneer hy lewe volgens die wil van God. Dink aan ‘n vis in die water. Hy is aan die water gebind en is vry binne die beperking van die water. Buite die water kan hy nie leef nie, maar in die water beweeg hy sierlik en vry.

Dit is juis die nood van die mens dat hy met die sondeval in die paradys ware vryheid vir die skynvryheid van eie lotsbepaling verruil het. Die misverstand duur voort.

Die verkeerde vryheidsopvatting verslaaf die mens aan allerlei magte en drifte. Pleks van die vryheid waarna hy gesmag het, is dit ‘n grenslose soeke en grype na lugspieëlings wat net tot frustrasie, teleurstelling, wanhoop en verwarring lei.

In ons tyd word dikwels gepraat van die mondige mens, die volwasse, denkende mens. Dit is die mens wat hom nie meer wil laat voorsê nie.

Ontleed alles

Hy ondersoek en ontleed alles en pluis dit uit. Niks word meer op gesag aanvaar nie. Dan gaan dit ook nie net om menslike gebruike en tradisies nie, maar selfs God en sy Woord word aangedurf en ontleed en uiteindelik verwerp en bespot.

Daar is een wanklank in die oënskynlik mooi vryheidspaleis van die mondige en ontledende mens. Hy proklameer vir homself die reg om alles te ontleed en te beoordeel. Daartoe word elke middel gebruik wat die wetenskap en kultuur bied. Dié mense is egter baie kleinserig wanneer die ontleedmes op hul denkbeelde gebruik word.

Dit tref ‘n mens dat die sg. mondige mens dan skeldtaal en spot begin gebruik. Dit kan hulle goed doen, want hulle hoef nie rekening te hou met instellings en gebruike, met menslike ordentlikheid en Christelike norme nie. Om nie eens te praat van skeefgetrekte afleidings en wanvoorstellings van hul teenstander se opvattings nie.

Die liberale vryheidsgedagte is veral sedert die Franse Rewolusie in die Westerse wêreld gepropageer. Dit het nie tot die buiteland beperk gebly nie. In ons land werk dit ook al meer deur en baie Afrikaners verkondig dit of aanvaar dit as vanselfsprekend dat elkeen vrylik kan doen of sê wat hy wil. Dié mense meen dat ‘n mens kritiekloos jou weg kan gaan en die stryd aanbind teen elke tradisie en beginsel.

Magtige stroom

Ons sal moet besef dat ons teenoor ‘n magtige stroom staan. Op elke terrein slaan die liberalisme uit. Dit is daarom ook goed dat ons die geledere sluit. Watter reg het die liberalis om die lewe vir hom op te eis? Sodra hy gevra word om aan sy woorde en dade paal en perk te stel, eis hy dat dogma en ideologie nie die lewe mag inperk nie.

Dikwels swig ons voor die propagandakreet dat die kerk en kerkmense onverdraagsaam en liefdeloos is wanneer hulle ‘n standpunt teen die volksvreemde en anti-Christelike vryheidseis van die liberalis inneem.

Dit is opvallend hoe dié beskuldigings na elkeen wat ‘n beginsel-standpunt inneem, se kop geslinger word. Die aanvalle op dr. P. C. Schoonees wat dit gewaag het om die werke van die Sestigers te ontleed en kritiseer, is ‘n tekenende voorbeeld hiervan.

Dat skrywers dit wat vir ons heilig is, bespot en die magte van anargie verheerlik, is in die oë van die liberalis geen sonde nie. Dit is in hul oë ‘n veel groter sonde om die sg. goddelike of profetiese gawe van die kunstenaarskaste aan bande te lê.


Responses

  1. Ons het juis gister ‘n preek oor Sondag 49 gehad van ds Drujfhout wat mooi hierby aansluit. Ek haal aan: “Die eerste wat nodig is, is om ons eie wil te verloën. Die tweede wat nodig is, is om God se wil te ken.” … “Laat ons gebed wees: U is goed, u wil is goed. Hoe u my lewe lei is goed. Nie my wil, maar u wil moet gebeur. Ek is nie God nie, u wil. Ek weet nie wat goed is nie, u wel. Laat my u wil sien deur u Gees. Leer my op die plek waar u my plaas, u wil te doen – laat my wil verenig wees met U wil.”

    Die wat die preek wil hê kan my laat weet.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: