GKSA sinode 2015: 12 Januarie (dag 6)

gksa sinode 8 jan 2015


19h00: Kommissie word aangewys, met al die kerkregtelikes, om te adviseer oor hantering/prosedure van die rapporte van die appéldeputate (daar is 3 appélle wat hanteer moet word). Die saak sal dus môre voortgaan. Almal verdaag vir ete, klaar vir die dag.

Ek groet tot môre, DV.


18h45: Hennie Momberg se appél saak is op tafel. Ek gaan net uitslag later deurgee.


18h40: AA 20.8 Beswaarskrif slaag nie.


18h35: AA 20.8 op tafel: 20.8: Beswaarskrif GK Oos-Moot teen wysiging van Kerkorde, artikel 69


18h30: Die saak oor pentakostalistiese stoel via NWU is verwys na kommissie.


18h00: AA 22.8 (bl.409) op die tafel – beswaarskrif steeksinode Pta:

22.8: Beswaarskrif Streeksinode Pretoria : Riglyne vir die beoordeling van Psalms- en Skrifberymings

Beswaarskrif slaag nie.


17h50: daar verskyn goeie bydraes van ons lesers in die comment/reply deel hier onder, onthou om dit ook te lees.


17h20: die afgevaardigde van die PCA in die VSA (let wel, nie die liberale PCUSA nie, die PCA het juis uit die PCUSA uitgegaan oor die liberalisme), dr. Ligon Duncan, spreek sy woord aan die sinode toe en vertel dat kerke wat liberaal neig besig is om dood te gaan. Hy noem bv. dat hul enige pogings om neutrale vertalings in te voer (verwysing an God) in die PCA verwerp het.

Hier is ‘n baie goeie artikel van dr. Duncan wat ek laasjaar op my webblad geplaas het, wat veral relevant is vir ons tye en die ‘omkeerstrategie’, lees dit asb, ek hoor graag julle opmerkings:

Omkeerstrategieë, missionale planne en die “ordinary means of Growth”

“So he’s constantly going back and asking “what are my marching orders?” And when he remembers, it doesn’t require a Ph.D. in semiotics to interpret them: preach the Word, love the people, pray down heaven, disciple the elders, promote family religion, live a godly life. And what are the church’s marching orders: delight in the Lord’s Day, gathering with the saints to drink in the pure milk of the Word every Sunday morning and evening, as families; pray together as a congregation once every week; worship and catechize at home in families; love one another and all men.

What will a church look like that is committed to the ordinary means of grace? It will be characterized by love for expository Bible preaching, passion for worship, delight in truth, embrace of the Gospel, the Spirit’s work of conversion, a life of godliness; robust family religion; biblical evangelism, biblical discipleship, biblical church membership, mutual accountability in the church, biblical church leadership, and a desire to be a blessing to the nations. Along with this all, there will be an unapologetic, humble, and joyful celebration of the transcendent sovereignty of the one, true, triune God in salvation and all things.” 

(ns. maar ek is glad nie opgewonde oor Tim Keller se teistiese evolusie denke in PCA nie, wat lyk my verdra word, wel nie goedgekeur word nie. Sal met dr. Duncan daaroor gesels en terugvoer gee indien nodig. Sien solank hierdie artikel: Genesis vs dr. Tim Keller)


17h05: Beskrywingspunt oor dokumentêre film – Kerkgeskiedenis, op die tafel:

18.4: Beskrywingspunt Streeksinode Vrystaat en KwaZulu-Natal oor ‘n dokumentêre film oor die kerkgeskiedenis

Sinode aanvaar nie beskrywingspunt nie.

Laat my dink aan Rushdoony se woorde: iemand wat nie in die verlede belangstel nie, stel nie in die toekoms belang nie …


17h00: Dr. Hennie van Wyk se verslag oor oggendgebeure op Gerefkerke eposlys:

“Ja, die sinode sit wel! Ons wou nog nie iets deurgestuur het nie, omdat die hele debat oor een saak gehandel het: Die Mukanyo Theological College en die opleiding aldaar.
‘n Bietjie agtergrond: Mukanyo is ‘n gereformeerde teologiese skool en predikante van die GKSA is van die dosente aldaar. Hulle bied teologiese opleiding aan enige persoon wat teologiese opleiding wil ontvang, sonder dat matriekvrystelling ‘n voorwaarde is. Mukanyo is geakkrediteer by die regering en ‘n artikel 11 Maatskappy.
Die beskrywingspunt het gevra dat die kerke die opleiding erken sodat persone wat daar afstudeer, ook beroepbaar gestel kan word binne die GKSA.
Daar is baie groot waardering uitgespreek vir die opleiding wat daar gedoen word. Die knelpunt wat egter keer op keer in die debat genoem is, is die feit dat die studie en die opleiding nie onder toesig van die sinode (waarvoor die kuratore aangewys is) is nie.
Daar is dus besluit om nie gevolg te gee aan die beskrywingspunt nie. Dit beteken egter nie dat daar nie steeds groot waardering is vir die werk wat gedoen word.
Daar is ook ander satelietkamppusse waar opleiding van predikante eersdaags gaan begin.”

16h55: Die rapporteur, dr. HB Hattingh wys daarop dat die ‘heilige’ van ‘heilige nag’ lê op dieselfde vlak as ‘heilige nagmaal’, ons gebruik daardie woorde om te wys op ‘heilige gebeure’ wat plaasgevind het op die geboortedag van Jesus en as ons nagmaal vier, dit gaan oor die inhoud.

Met groot meerderheid word ‘Stille nag’ behou as liedereskat van die GKSA.


16h50: Oudl. Gert Erasmus wys daarop dat dit die Here is wat bepaal watter dae in die OT heilig is, ons mag dit as mense nie doen deur ‘n lied soos ‘Stille nag … heilig nag’ te aanvaar en te sing nie. Ons kry nie daardie bevel tot ‘heilige dag’ (Christus se geboorte) nie.  Dr. Hennie van Wyk, wat beswaarskrif ingehandig het, bevestig dit ook in sy repliek.


16h40: Beswaarskrif 2 – Liturgies op die tafel:

22.2: Beswaarskrif: Dr HF van Wyk teen ‘n besluit van Sinode 2012 – Lied 348

Dit gaan oor “Stille nag” as deel van die liedereskat in die GKSA.


16h30: Ds. Piet Venter stel voor dat ‘Afrikaanse karakter’ geskraap word by aanbeveling 3.5 – dus net ‘n ‘Christelike etos’, geen ‘Afrikaanse karakter’ bevordering nie.

– goedgekeur


16h25: Prof. van Schalkwyk is aan die woord. Hy verseker die sinode dat dr. Theuns Eloff op goeie voet weg is, nie onder wolk van vrae nie, alhoewel dit so kon oorkom.


16h20: twee swart (o.a dr. Fatuse) en een wit afgevaardige (ds. Piet Venter) neem aanstoot oor 3.5, dit moet meer inklusief wees, nie net ‘Afrikaanse karakter’ nie (laasgenoemde 2 woorde word verwyder).


16h15: die rapporteur (ds. Danie de Kock) spreek sy waardering uit oor die NWU Kampus, Potch. Daar is wel besorgdheid oor die ‘sosiale gedrag’ (lees drank en dwelmmisbruik) van kinders wat kom studeer.


16h10: Hier is die aanbevelings –

3. Sake waaroor die Sinode besluit
Aanbevelings
3.1 Die Sinode deur middel van te benoeme Deputate voortgaan om langs verskillende weë ouers aan te moedig om hulle kinders na die NWU (Potchefstroomkampus) te stuur.
3.2 Die Sinode sy steun aan die NWU bevestig in die lig van die historiese band wat die Universiteit met die Gereformeerde Kerkverband het.
3.3 Die te benoeme Deputate gesprek met die bestuur van die NWU in stand sal hou om hierdie bestaande band te behou en verder uit te bou.
3.4 Die Sinode weereens die ouers sowel as Kerkrade sal wys op hulle
verantwoordelikheid om kinders so op te voed dat hulle op universiteitsvlak die nodige volwassenheid en verantwoordelikheid aan die dag sal lê (vgl 2.1.7 en 2.2.5).
3.5 Die Sinode die kerke oproep om enige veldtog wat poog om die NWU verder uit te bou en opsigte van ‘n Christelike etos en Afrikaanse karakter sal steun.


16h00: daar was nou ‘n uur teetyd gewees, waartydens die konstituering van kuratore plaasgevind het.  Prof. Herman van Schalkwyk van die NWU is teenwoordig. Die verskillende kuratore rapporte gaan nou begin dien, asook sake wat die NWU raak, is nou by bl.369, AA:

19.8: Rapport 7 – Deputate Christelike Onderwys – Potchefstroomkampus en NWU


15h00: met groot meerderheid word beskrywingspunt van Mukhanyo van die tafel gevee, dit word nie eers verwys na ‘n kommissie of kuratore nie, drie hoera’s vir die Kerkorde wat in sekere gevalle met die ysterhand regeer …. maar in ander gevalle weer nie …

Die vergadering het besluit beskrywingspunt hoort nie op tafel nie, daar moet op kerkordelike weg (beswaarskrif?) die opsie van teologiese opleiding verander word.


12h40: Die groot probleem met die ‘ja’ vir NGK maar ‘nee’ vir VIDA word hier onder goed saamgevat deur Nico van der Dussen, wat ek graag ‘n gedeelte hier ook aanhaal:

“Ek verstaan nie waarom ‘n Spesiale Sinode nodig is nie. Met die besluit oor die verhouding met die NG Kerk is reeds goedgekeur dat Kanselruil moontlik is – hoe kan die plaaslike GK nee sê vir ‘n NG-kerk vrou wat as predikant dien? DUS: Vrou in die amp is reeds goedgekeur… (lees verder hier onder).”


12h30: ete tot 14h00.


LET WEL: ek lewer verslag soos ek die dinge sien en hoor, as u in die toekoms ‘n saak verder wil vat met een van die sprekers wat ek hier verwoord het, moet u asb. dit wat ek hier probeer saamvat (met groot spoed) eers met daardie spreker duidelik te kontroleer. Die negende gebod vereis dit, soos ons ook bely in Sondag 43.


12h00: Ds. Hendrik de Beer meen dat volgens die kerkorde (art.2,4,18) kan ons nie die beskrywingspunt aanvaar nie. Daaroor is reeds besluit dat Potch ons kerke se opleiding vir predikante is en kuratore is daarvoor aangestel, dit kan nie deur ‘n beskrywingspunt verander word nie.

Dr. Douw Breedt meen Potch is wel ook ‘konteks-gerig’, die plan is wel om TSP meer na die gemeenskap te vat. Hy meen dit is duur om na Mukhanyo te gaan vir studies.


11h50: daar is voorstelle dat die deputate die saak moet verder ondersoek oor hoe Potch en Mukhanyo kan saamwerk. Dr. Gerard Meijer is van mening die kuratore is reeds in gesprek met Mukhanyo en daarom kan daar net kennis geneem word van die beskrywingspunt. Prof. Paul Kruger wys daarop die nood is groot vir opleiding, hy meen met sekere voorbehoude kan die beskrywingspunt aanvaar word: eenheid van opleiding moet gehandhaaf word, gaan albei professore groepe erken word, gaan kuratore ook oor Mukhanyo aangestel word? Hy meen Mukhanyo is ‘n half-marathon, Potch ‘n volle marathon, hoe gaan dit gekombineer kan word ?


11h05: Belangrike saak van verlede week, is die aanvaarding van die volgende bewoording in 21.1: Rapport Deputate Eenheid in Verskeidenheid, oor hoe ons wesentlike sake bepaal:

Wesentlike sake:

6.1.3 Aanbevelings
6.1.3.1 Dat kerklike vergaderings die onderskeid tussen wesentlik en nie-wesentlik in hulle
besluitneming oor sake verreken.
6.1.3.2 Dat die volgende as basiese riglyne dien vir die onderskeiding tussen wesentlike en
nie-wesentlike sake:
Wesentlike sake
6.1.3.2.1 Sake wat direk uit die Skrif kom en met Skrifberoep gestaaf kan word en/of
6.1.3.2.2 sake wat op grond van direkte Skrifbeginsels uit die Skrif afgelei kan word en/of
6.1.3.2.3 gebruike wat op voorbeeld van die apostels in die Skrif gegrond is.

Wat laasgenoemde drie sake betref, is dit in wese niks anders as wat bedoel word met die regulerende beginsel (vir die erediens/aanbidding) nie, ook soos dit spesifiek van toepassing is vir die kerkregering/VIDA saak.

Deur die jare was daar sommiges wat heeltyd die RB wou afskiet as ongereformeerd en/of onbybels, maar baiemaal was hul besig om karikature af te skiet uit onkunde, nie wat die RB oorspronklik beteken of daarmee bedoel en toegepas word nie, in laasgenoemde waar daar wel verskille kan wees onder gereformeerdes.

Ek het geen probleem om nie die term RB te gebruik nie, bloot te praat van die GB (gereformeerde beginsel), maar in sy historiese ontstaan en ontwikkeling is die RB glad nie vreemd aan dit wat die sinode hierbo aanvaar het nie.

Jare gelede het ek reeds geskryf:

“Die regulerende beginsel van die Erediens/Aanbidding (RBE) leer dat ons God “op geen ander manier (moet) vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie” (HK, v/a 96). Hierdie beginsel word dan ook eksplisiet en implisiet in ons gereformeerde belydenis gevind, o.a. NGB artikel 7; artikel 32; 34, 35 en vraag en antwoord 91 en 96 van die HK.[2]

Tydens ‘n lesing gehou by die 2001-International Conference of Reformed Churches (ICRC, waarvan die GKSA deel is), stel ds. GI Williamson dit dat die RBE:

“… nog nooit êrens helderder uitgedruk is as in die Heidelbergse Kategismus nie: ‘Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie, en Hom op geen manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie.’ …
Ursinus (opsteller/mede-opsteller van die HK) … het dit as volg verduidelik:
‘Die doel en die rede vir hierdie gebod is dat die ware God … vereer moet word op die manier … wat Hom behaag, en nie deur ‘n erediens volgens die verbeelding en gedagtes van die mens nie … (en) dat die erediens van God soos dit voorgeskryf is, suiwer en onvermeng bewaar moet bly.’ Of sommer kortweg: ‘Om God waarlik te vereer, beteken om Hom te dien op die manier wat Hy self voorgeskryf het …’ “
“Uit bogenoemde getuienis blyk dit dus dat dit nie korrek is om die regu­lerende beginsel bloot as ’n vorm van Biblisisme af te maak, soos wat in 3.2.3.1.1 van Manlik en vroulik in die Kerk gedoen word nie. Ten minste moet daar meer genuanseerd oor hierdie begin­sel gepraat word as wat in 3.2.3.1.1, 15.6 en 16.1.11 van die boek gebeur. Trouens, groter kundigheid oor die aangeleentheid sal die besef laat posvat dat dit wat met die beginsel bedoel word, in werklikheid nie vreemd aan die gerefor­meer­de teologie en godsdiens is nie.

Hoewel die uitdrukking “regulerende beginsel” om redes wat hierbo genoem is waar­skynlik moeilik in Gereformeerde kringe ingang sal vind, is die saak waaroor dit gaan tog nie by Gereformeerdes vreemd nie. Daarom stel Henry Sikkema (1999) voor dat eerder gepraat word van die “Bybelse beginsel” of “gereformeerde beginsel” van kerk­­like diens (“Scriptural principle of worship”; “reformed principle of worship”). Sik­ke­­ma dui dan aan dat hierdie beginsel in sy wese niks anders wil sê nie as die Sacra Scriptura-uitgangspunt van die reformasie. Hy meen verder dat die beginsel in werk­likheid net die Skrif en die gereformeerde belydenis­skrifte nasê (Sikkema, 1999:8).”

En hoe word die GB/RB bepaal vir ‘n bepaalde saak:

“Die regulerende beginsel verstaan dat die ‘bevel of voorskrif van God’, soos volg gevind word in die Skrif: eksplisiete bevel, historiese voorbeeld of deur logiese afleiding.  Dit word as volg verwoord deur o.a. die Westminster Konfessie I:6,

        Die volle raad van God met betrekking tot alle dinge wat nodig is vir Sy heerlikheid, die saligheid van die mens, en die geloof en lewe, is uitdruklik opgeteken in die Skrif, of mag van die Skrif afgelei word, deur ‘n goeie en noodsaaklike gevolgtrekking, waarin niks te eniger tyd bygevoeg mag word nie, of dit nou nuwe openbarings van die Gees of tradisie van mense is nie.

Elke element van die erediens (bv. prediking, voorlesing, samekoms op ‘n Sondag, sakramente bedien, gebed, psalms sing, ens.) moet daarom ‘n bevel hê, terwyl die omstandighede waarin dit moet plaasvind sal verskil van plek en tyd, en daarom kan ons spesifieke afleidings maak o.g.v. die algemene beginsels van die Skrif (bv. hoe laat kom ons bymekaar, die struktuur/gebou waarin die erediens plaasvind, watter soort banke, een of drie maal besprenkel by die doop, hoeveel tafels by die nagmaal,  ens.).

Laasgenoemde, d.w.s. die ‘omstandighede’ van die erediens, moet beskou word as wat ons noem ‘middelmatige sake’, en sluit nie ‘die elemente’ van die eredienste in nie. [1]

           Die ‘omstandighede’ van die erediens moet gedoen word, maar die praktiese uitvoering kan verskil van gemeente tot gemeente in lyn met die algemene maatstaf van die Skrif.

[1] Die Westminster stel die kwessie oor die ‘omstandighede’ van die erediens as volg: “… en dat daar sekere omstandighede is betreffende die erediens aan God en die regering van die Kerk, gemeenskaplik met menslike handelinge en die gemeenskappe wat deur die natuurlike lig en Christelike versigtigheid bepaal moet word, volgens die algemene maatstaf van die Woord wat altyd in ag geneem moet word.”

U kan hier meer lees oor die GB/RB:

SONDAG 35: Ursinus se verklaring van die tweede gebod

Wat is Gereformeerde Aanbidding?

Aanbidding in Gees en Waarheid


11h00: ‘n Paar van die swart afgevaardiges noem dat hul skrikkerig is dat as Mukhanyo erken word dit weer gaan lei tot ‘n skeiding van opleiding tussen swart (Makhanyo) en wit (Potch) studente, dus die ‘A’ – gevaar !


10h45: Verskoning, rapport 2; deputate Christelike onderwys – onafhanklike skole en tuisonderwys is Saterdag afgehandel:

Punt 1 en 2 – kennis geneem

Punt 3: met groot dank goedgekeur

(Bouwe, die rapporteur was dr. Danie J. de Kock (GK Krokedilrivier, dit sal goed wees as jy hom namens die TO vereniging kontak en hoor hoekom daar geen werk oor tuisonderrig gedoen is nie, en meld ook sommer aan dat jy sal help om daardie werk te doen en die GKSA meer bekend te stel aan TO.  Ek sal ook as ek hom hier sien jou/ons vrae vra.)

Vanmiddag dien rapport 6 van deputate Christelike onderwys (bl.369, AA 19.8):

19.8: Rapport 7 – Deputate Christelike Onderwys – Potchefstroomkampus en NWU

Hierdie rapport wil alle verbondsouers aanmoedig om hul kinders na NWU te stuur, sien aanbevelings op bl.372 (AA)


10h30: daar is so tussen 15-20 afgevaardiges wat ‘n spreekbeurt soek. Maar dit is eers teetyd tot 10h45.


10h15: A 24.7, op die tafel

24.7: Beskrywingspunt van GK Pretoria-Annlin: Erkenning van BTh en Hons-graad by Mukhanyo Theological College

As hierdie beskrywingspunt aanvaar word, dan beteken dit dat nie net Potch nie, maar ook Mukhanyo predikante opleiding kan doen.


10h00: rapporte 1-7 van Jeugsorg goedgekeur (A, 19.9-15)


09h50: Dr. Douw Breed se Beeld onderhoud oor die besluit dat VIDA ‘n wesentlike saak is en verwys is na die spesiale sinode:  http://youtu.be/3ZGPSj4XDow


09h15: Goeie môre almal. Opening het plaasgevind. Die program vir vandag behels:

– Jeugsorg

– Emeritaatsfonds

– Kuratore TSP

– Deputate Christelike onderwys

– Beskrywingspunt Pta streeksinode: opleiding Mukhanyo Theological College.

Vanaand eet alle afgevaardiges saam die rektor van die NWU, prof. Herman van Schalkwyk.

Onthou u is welkom om opmerkings en vrae te stel in die ‘comments/reply’ afdeling hier onder. Soos die tyd toelaat sal ek hier en daar ook opmerkings maak oor laasweek se twee groot besluite:

– NGK samewerkingsbande

– VIDA is ‘n wesentlike saak en die spesiale sinode

13 thoughts on “GKSA sinode 2015: 12 Januarie (dag 6)

Add yours

  1. Ek is baie dankbaar vir die standpunt wat die voorsitter van die gemeentes in sinode, dr Douw Breed ingeneem het oor VIDA: Reguit, sonder omdraai van doekies, nie uit die hoogte nie, en duidelik verwysende na die Skrifgronde.

  2. Deputate vir Christelike Onderwys berig : “Die omvang van private/onafhanklike onderwys/skole neem steeds toe, maar Ongelukkig nie wat betref Christelike private onderwys nie. Private onderwys word al meer elite-onderwys vir rykmanskinders, ongeag kleur. Die privatesektor maak van die behoefte aan goeie onderwys gebruik deur al meer skole op te rig (byvoorbeeld die Curro-groep). Christelike skoolgroepe soos ARSO- en BCVO-skole het gemengde welslae wat wissel van plek tot plek.”

    Verder berig hulle : “2.3 Wat Tuisonderrig betref – Die Deputate het geen werk hieromtrent gedoen nie.”

    Dit lyk dus of geregistreerde privaatskole nie ‘n effektiewe model is om Christelike onderwys te bevorder nie. Miskien is die tyd ryp dat die deputate meer aandag aan tuisonderwys en ongeregistreerde privaatskole gee.

  3. Mukhanyo: Sou die besprekingspunt goed gekeur word, sal dit insluit dat die leermeesters by Mukhanyo gelyk in status van die prowwe van die TSP sou wees? Al word hulle nie – soos ek verstaan – direk deur “Die GKSA” (Sinode) betaal nie.

  4. Ek sien ‘n kerkordelik probleem met die besluit tov kanselruil met die NGK. Art 2 tot 10 KO bepaal wie mag preek in ‘n Gereformeerde Kerk. Vergelyk ook die opmerkings van Dr Jan Visser “Die Kerkorde in Praktyk” p11. Hier wys hy op ‘n duidelike sinode besluit van 1985 ( Handelinge p677/8) waar hierdie praktyk ten sterkste afgekeur word.
    Gaan die Sinode nou in teen sy eie besluite? Wat het dan verander?

    Rico

  5. Ek verstaan nie waarom ‘n Spesiale Sinode nodig is nie. Met die besluit oor die verhouding met die NG Kerk is reeds goedgekeur dat Kanselruil moontlik is – hoe kan die plaaslike GK nee sê vir ‘n NG-kerk vrou wat as predikant dien?

    DUS:

    Vrou in die amp is reeds goedgekeur…

    Toe ek dit noem aan ‘n predikant wat afgevaardig is (Nie my eie nie), toe word ek onmiddelik daarop gewys dat daar allerlei dinge in die lang memorandum staan dat dit nie so is nie…

    Loop Sinode 2015 ‘n reguit pad, of is dit een van vele slenters en kinkels om ander uit te oorlê?

    Vir my – wat my moet berus op die inligting wat deur filter, wil dit klink asof die spesiale sinode niks anders gaan wees as ‘n duur pleister om die monde van die wat VIDA vanuit die Bybelse hoek wil hanteer toe te plak nie,

    Immers, op grond van die beginsel van die besluit tov die NG Kerk, is VIDA tot op die preekstoel aanvaar.

  6. Vir my lyk dit asof die Spesiale Sinode op een of ander wyse sal moet probeer om VIDA nie eksplisiet goed te keer of af te keer nie (terwille van ”eenheid”), soos al vir jare aangaan, en tog terselfdertyd moet probeer voorgee dat die saak afgehandel is.

    VIDA is inderdaad reeds voldoende by die agterdeur in, in praktyk deur die samewerkingsooreenkoms met die Nederduitse Gereformeerde Kerk (Suid-Afrika), maar in teorie eintlik lank terug deur die ”ekumeniese eenheid” met buitelandse kerkverbande wat wel vroue predikante handhaaf, bv die Nederlands Gereformeerde Kerken en die Christian Reformed Church in North America. (Daarby het laasgenoemde al drie jaar terug reeds Belhar aanvaar. Die GKSA se ekumeniese eenheid met hierdie laaste kerkverband, word gewoonlik as ‘n minum gedefineer as eenheid in leer en tug, ‘n duidelike implikasie van die GKSA se aanvaarding van Belhar, nie waar nie?)

    Dit is wel waar dat dit a.g.v. taal en afstand natuurlik makliker sal wees om ‘n vroue predikant uit die NGK(SA) te kry op ‘n Dopperkansel (praktyk), as uit ‘n buitelandse en anderstalige susterskerkverband (teorie).

    Josef du Toit
    Brussel, Belgie”

    1. Gister het ‘n predikant uit die CRCNA hier by ons gepreek en ek het bietjie gaan rondsoek op hulle webblad oor hoe hulle die saak van VIDA hanteer. Julle kan meer daaroor gaan lees by http://crcna.org/sites/default/files/2000_agenda.pdf. Die saak word omtrent so by bladsy 352 gevind as ek reg onthou.

      Nadat ek so vlugtig daardeur gelees het, het ek gewonder of dit nie ook ons voorland is nie – laat dit basies aan gemeentes oor. Maar dan is daar die probleem van meerdere vergaderings, soos bv klassisse. Wat doen jy in so ‘n geval want dan kan broeders wat teen VIDA is gedwing word om op ‘n klassisvergadering dalk effektief VIDA te aanvaar. Soos dit vir my lyk kan dit in die CRCNA gebeur dat die kerke in ‘n klassis besluit dat vroue ouderlinge en predikante nie tot die klassisvergaderings toegelaat word nie – terwille van eenheid. ‘n Vrouderling mag egter nie op sinodale vlak geweier word nie. Maar dit maak nog steeds vroue ouderlinge “tweedehandse ouderlinge” op klassisvlak – iets wat oor tyd gewoon nie houdbaar is nie.

      Die ander saak wat uit die CRCNA se dokument na vore kom is dat hulle redeneer dat VIDA nie ekwivalent aan ander sake soos moord, diefstal, ens is nie en wat eksplisiet in die Skrif verbied word. Hulle argumenteer dan dat dit dit eerder ‘n wysheidsaak is. Wat ek wel mis, en dit het Slabbert onlangs in ‘n e-pos aan my ook ges^e, is dat dit oor gehoorsaamheid gaan. Dit wil werklik vir my lyk of in die huidige bedeling gehoorsaamheid ondergeskik aan eenheid gestel word terwyl dit (na my mening) andersom behoort te wees.

      ‘n Laaste ding wat ek graag hier wil noem is dat dit ook vir my lyk of die pro-VIDAs na die Skrif met die bril van die samelewing kyk. Uit Slabbert se beriggewing was daar beslis een so ‘n geval gewees. Dit wil vir my lyk of daar by sommiges geredeneer word dat die Here met sy kerk praat deur dinge wat in die samelewing gebeur. So, iets “nuuts” gebeur in die samelewing en nou moet ons deur die bril van hierdie nuwe ding na die Skrif gaan kyk. Teenoor my is ook al ges^e dat die NWU ‘n vroue rektor gehad het en ons moet ook kyk na al die ander gevalle in die samelewing waar vroue ‘n leiersrol speel. Vir my is gewoon die punt dat die sekul^ere samelewing NIKS van die Here se verordeninge weet nie. Miskien moet ons meer na die samelewing deur die bril van die Skrif kyk. Die feit dat sekere dinge in die samelewing gebeur maak dit nie reg nie, of ten minste nie voorbeeld vir die kerk nie.

      1. Ja maar was die besoekende CRCNA-predikant ‘n vrou 🙂

  7. Dit is jammer dat die meriete van die Mukhanyo saak nie ter tafel geneem is nie. ‘n Paar jaar gelede was ek as ouderling by ‘n streeksinode. Een van die take was om broeders te ondersoek met die oog op beroepbaarstelling. Ten opsigte van die broeders wat te Potchefstroom studeer het, het ek in my gemoed tot beroepbaarstelling ingestem omdat daar geen rede was om nie daartoe in te stem nie. Daarenteen het ek in my gemoed opgewondenheid gehad om die broeders wat te Mukhanyo gestudeer het beroepbaar te stel. Potch se manne het geleerd geantwoord tydens die ondervraging. Mukhanyo se manne het meer vanuit die Woord met wysheid geantwoord,

    Kennende die werkswyses van vorige Sinodes is dit byna vanselfsprekend dat enige poging om Mukhanyo in die toekoms erken te kry tydens komende Sinodes weer van die tafel gevee sal word.

  8. Soos bespreek, hieronder is brief wat ek sopas aan ds. Danie de Kock gestuur het.

    ———————————————-

    Geagte ds.de Kock

    In die verslag van die Deputate vir Christelike Onderwys word berig : “Die omvang van private/onafhanklike onderwys/skole neem steeds toe, maar ongelukkig nie wat betref Christelike private onderwys nie. Private onderwys word al meer elite-onderwys vir rykmanskinders, ongeag kleur. Die privatesektor maak van die behoefte aan goeie onderwys gebruik deur al meer skole op te rig (byvoorbeeld die Curro-groep). Christelike skoolgroepe soos ARSO- en BCVO-skole het gemengde welslae wat wissel van plek tot plek.” Verder word berig : “2.3 Wat Tuisonderrig betref – Die Deputate het geen werk hieromtrent gedoen nie.”

    Die deputate se observasie omtrent Christelike privaatskole is korrek. Die rede hiervoor is omdat die regulatoriese vereistes wat die staat op privaatskole plaas so swaar is dat slegs skole wat deel vorm van groot organisasies (soos PSG en ADvTech) die administratiewe en finansiële kapasiteit het om aan die vereistes te voldoen. ‘n Blog artikel wat ek geskryf het in die verband word onderaan gegee vir u inligting.

    Gegee dat daar beperkte moontlikhede is vir ouers om vir hulle kinders ‘n Christelike opvoeding te gee deur staatskole en Christelike privaatskole, is tuisonderwys die vorm van onderwys wat aan ouers die beste moontlikhede gee om aan hulle kinders ‘n bekostigbare en ongekompromitteerde Christelike opvoeding te gee.

    Die Vereniging vir Tuisonderwys het verskeie inisiatiewe geloods om ouers te bemagtig om te begin met tuisonderwys:

    1) Die webwerf http://www.tuisskolers.org is die mees omvattende onafhanklike webwerf oor tuisonderonderwys met inligting oor hoe om te begin, regsaspekte, kurrikulums, byeenkomste en ondersteuning.
    2) Die Facebook Bladsy publiseer daaglikse nuus oor tuisonderwys en onderwys in die algemeen asook byeenkomste. Ouers kan die bladsy besoek en dit “Like” om op hoogte te bly.
    3) Die “SAHomeschoolers” App vir slimfone (Apple & Android) verskaf ‘n beginnergids, nuus, byeenkomste en ‘n fasiliteit om iemand te kontak oor tuisonderwys.
    4) In 2015 hoop ons om ‘n Youtube kanaal vry te stel met ‘n reeks videos wat al die algemene vrae oor tuisonderwys antwoord.
    5) Saam met die Pestalozzi Trust bedryf ons ook ‘n inisiatief om leersentrums wat nie kan registreer as privaatskole nie, te ondersteun. Kliek hier vir meer inligting hieroor.

    Dit sal hoog op prys gestel word as u gereformeerde ouers bewus maak van bg. hulpmiddels om met tuisonderwys te begin.

    Die Vereniging vir Tuisonderwys is ook betrokke by die organisering van opvoedkundige ekspo’s oor die land, en skakel gereeld met meer as 400 opvoedkundige verskaffers. Indien u bewus is van spesifieke behoeftes wat vir gereformeerde ouers belangrik is, laat gerus weet sodat ons moontlikhede kan ondersoek om hierdie behoeftes aan te spreek.

    Vriendelike groete

    Bouwe van der Eems
    Vereniging vir Tuisonderwys
    Sel : 082 907 9696
    Epos : bouwe@tuisskolers.org
    Web : http://www.tuisskolers.org

  9. Hieronder is artikel waarnaa bg. brief verwys.

    ———————————————

    STAAT NEEM VOLLE BEHEER OOR ONDERWYS

    As daar ooit ’n jaar is waarop ouers en kinders vryheid in onderwys verloor, dan is dit 2014. Publieke skole verloor vryheid om handboeke te kies, leerlinge verloor vryheid om vakke te kies, verpligte skoolbywoning word uitgebrei, laste op privaatskole word verhoog en die nasionale kurrikulum word uitgebrei tot geboorte. Al hierdie veranderinge is aangekondig deur die minister van basiese onderwys, sonder dat enigiemand veel van ’n bohaai gemaak het.

    Publieke skole verloor keuse van handboeke
    ————————————-
    In 2012 het Tuisskolers.Org daarop gewys dat die sentralisering van die aankope van handboeke daartoe gaan lei dat skole minder keuses gaan hê rondom skoolboeke. Skole sal nie meer self kan kies watter boeke hulle wil koop nie, maar sal slegs kan kies uit ’n katalogus wat deur die Nasionale Departement van Onderwys opgestel word. Dit het inderdaad so gebeur. Skole kan nou slegs kies uit ongeveer 8 verskillende boeke per leerarea.
    In haar begrotingstoespraak van 2014 het die minister van onderwys aangekondig dat hierdie keuse ook nou weggeneem gaan word. Vanaf 2014 gaan daar slegs een boek per leerarea beskikbaar wees. Dit impliseer dat die staat nou volledige beheer het oor alle inhoud wat kinders in publieke skole leer. Ouers en skole het geen seggenskap daaroor nie. Dit is die uiteinde van die proses wat prof. Kader Asmal in 2002 begin het met die promulgering van ’n nasionale kurrikulumraamwerk.

    Leerlinge verloor nog vakkeuses
    —————————————-
    Daar word ook oorweeg om die geskiedenis leerarea verpligtend te maak. Dit impliseer dat alle leerders verplig word om die staat se interpretasie van die geskiedenis te leer, uit een enkele staatsvoorgeskrewe handboek.
    Tans moet leerlinge wat die nasionale kurrikulum volg 7 vakke doen. 4 is verpligtend (2 tale, Wiskunde/Wiskundige geletterdheid, Lewensoriëntering) en 3 vakke is keusevakke. Leerlinge het dus die vryheid om 42% van hulle vakke te kies. Indien geskiedenis ook verpligtend gemaak gaan word, gaan die vryheid verminder word na 28%.

    Die feit dat juis geskiedenis gekies word dui ook aan waar die prioriteite van die staat is. Terwyl nog besigheidsleiers nog ekonome ooit gekla het oor ’n tekort aan vaardighede op die gebied van geskiedenis, is dit juis hierdie vak wat verpligtend gemaak word. Die doel van hierdie stap kan dus niks anders wees om die volgende generasie te indoktrineer met die ideologie van die staat nie.

    Verpligte skoolbywoning word uitgebrei
    —————————————–

    Volgens die Suid-Afrikaanse grondwet het almal die reg op basiese onderwys. Om hieraan uitvoering te gee is skoolbywoning in Suid-Afrika verpligtend van ouderdom 7 jaar tot 15 jaar. Meeste Suid-Afrikaanse kinders ontvang hierdie verpligte onderwys in publieke skole. Ongelukkig funksioneer hierdie skole oorwegend so swak dat baie kinders in Suid-Afrika vir alle praktiese doeleindes geen onderwys ontvang nie. Indien die newe-effekte van boelie, portuurdruk, geweld, dwelms ens. in skole in ag geneem word, kan geargumenteer word dat hierdie kinders oorwegend die teenoorgestelde van onderwys by publieke skole ontvang.

    Die Departement van Onderwys het egter aangekondig dat oorweeg word om verpligte skoolbywoning uit te brei na ouderdomme 5 tot 15 jaar. Dit beteken dat baie kinders in Suid-Afrika vir ’n langer periode die teenoorgestelde van onderwys sal ontvang. Op hierdie wyse ondermyn die minister die reg op onderwys nog meer, want kinders gaan nou nog vroeër blootgestel word aan die newe-effekte van publieke skole.

    Ook word die bietjie vryheid wat voormalige model-C skole nog het verder ingeperk, deur ’n inisiatief deur Gauteng provinsie om pare skole in ryk en arm gebiede saam te voeg onder een beheerliggaam met een bankrekening.

    Monitering van privaatskole word verhoog
    ———————————————–
    Die staat is vyandig gesind teenoor privaatonderwys, aangesien dit beskou word as ’n stem van wantroue in staatsonderwys. Alhoewel die grondwet burgers die reg gee tot onafhanklike skole, gebruik die regering ‘n grondwetlike bepaling dat privaatskole geregistreer moet wees as ’n middel om privaatskole weg te reguleer sodat privaatskole binnekort slegs bekostigbaar sal wees vir ryk mense. (Waar die ministers hulle kinders heen kan stuur)

    Die staat plaas ‘n enorme administratiewe las op privaatskole om te registreer en geregistreer te bly. Hierdie jaar het die staat hierdie las nog swaarder gemaak deur die aanvaarding van ’n beleid waarvolgens privaatskole deur Umalusi gemonitor moet word. Volgens ’n berig gaan die kostes van assessering vir ’n skool van ongeveer 600 leerlinge styg van ongeveer R7000 per jaar tot R70 000 per jaar. Bo en behalwe hierdie kostes moet privaatskole ook nog ’n groot hoeveelheid administrasie verrig om voor te berei vir inspeksies van Umalusi. Sommige skole gaan personeellede moet aanstel om hierdie administrasie te doen.

    Die strategie van die staat om privaatskole te beperk deur oorregulasie begin reeds vrugte afwerp, aangesien die Departement van Basiese Onderwys rapporteer dat daar reeds nie meer noemenswaardige groei is in die sektor nie.

    Nasionale kurrikulum word uitgebrei tot geboorte
    —————————————————
    Die Departement van Onderwys het aangekondig dat nasionale kurrikulumraamwerk nou uitgebrei is om voor te skryf watter kennis, vaardighede en houdings kinders moet aanleer vanaf geboorte tot ouderdom 4. Die voorskoolse kurrikulum bestaan uit 6 leerareas, naamlik welwese (soos die genot van grondwetlike regte, gesonde kos, goeie gesondheid), identiteit en verbondenheid, kommunikasie, ontdekking van wiskunde, kreatiwiteit en kennis & verstaan van die wêreld. Hierdie kurrikulumraamwerk gaan dan gebruik word om dagsorgsentrums te monitor.

    Hierdie kurrikulum gaan gebruik word om geregistreerde dagsorgsentrums en kleuterskole meer intensief te monitor. Vanaf September gaan dit getoets word in 100 sentrums, en daarna sal dit beskikbaar gemaak word aan all geregistreerde dagsorgsentrums. As alle dagsorgsentrums moet registreer, en hulle gemonitor word om hierdie kurrikulum te volg, beteken dit dat die staat volledige beheer het oor die inhoud van wat kinders leer vanaf geboorte tot Gr. 12.

    Die pad vorentoe
    ———————–
    Die staat is besig om onderwys te transformeer tot ’n stelsel waar kinders vanaf geboorte tot 15 jaar ge-indoktrineer word in die ideologie van die staat, en weinig vaardighede leer om produktiewe burgers te word. Geen onderwysvakbond, skoolvereniging, kerkgemeenskap, skaduminister of politieke party doen enigiets wesenlik om hierdie transformasie te stop nie. Ouers wat die vryheid wil hê om die onderwys te kies wat in die beste belang van hulle kinders is, is op hulself aangewese.

    Vir ouers met ’n gemiddelde inkomste is tuisonderwys omtrent vorm van onderwys waar ouers nog enige seggenskap het. Uit die konsepbeleid wat deur die Weskaapse Departement van Onderwys vrygestel is en uit die beplande beleid van die Nasionale Departement van Onderwys wat uitgelek het, is dit egter duidelik dat dit die intensie van die staat is om tuisonderwys ook te transformeer na ’n alternatiewe kanaal waardeur staatsonderwys gegee word, volledig onder beheer van die Departement van Onderwys.
    As tuisskoolouers gelate gaan toelaat dat die beplande transformasie ingevoer word, soos ouers wat hulle kinders na staatskole en privaatskole stuur gedoen het, gaan tuisonderwys binnekort slegs neerkom op staatsonderwys tuis. Leendert van Oostrum stel dit soos volg : “With the current process of reviewing home education policy, law and regulations, homeschooling in South Africa is on the threshold of its most serious crisis in twenty years. Homeschoolers who cherish the education of their children will need to make their voices heard in no uncertain terms over the next year or so.”

    Tuisskoolouers kan hierdie transformasie slegs keer indien hulle ingelig bly en saamstaan.
    Bly ingelig met onafhanklike inligting soos volg:
    • Sluit aan by die webwerf van die Vereniging vir Tuisonderwys
    • “Like” die Facebook Bladsy van die Vereniging vir Tuisonderwys
    • Volg die Vereniging op Twitter met die naam @sahomeschoolers
    • Laai die “sahomeschoolers” App af op u selfoon (beskikbaar op Apple App Store en Android Google Play)
    Sluit aan by tuisonderwys organisasies en ondersteun hulle veldtogte:
    • Sluit aan by die provinsiale en/of nasionale Tuisonderwys Verenigings om tuisskoolouers se belange te verteenwoordig.
    • Sluit aan by die Pestalozzi Trust om jou te beskerm teen onregmatige inmenging in jou tuisonderwys.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: