Die Reg van die Kinderdoop (deel 2: Die Kinderdoop en die geloof van die kinders)

Cover for Item Reviewed

DIE REG VAN DIE KINDERDOOP

(deel 2: Die Kinderdoop en die geloof van die kinders)

deur ds. Joh. Jansen

Uitgegee deur die Deputate vir Evangelisasie lektuur

[Nota: In my onlangse leeswerk oor verbond en doop het ek op hierdie boekie afgekom oor die kinderdoop en deel dit graag. In die teks het ek hier en daar klein vertaling-aanpassings gemaak, beklemtonings bygevoeg, en plaas my eie opmerkings in hakies met my voorletters, slc, vooraan.]

Inhoudsopgawe

Voorwoord van die Vertalers

INLEIDING

I. DIE KINDERDOOP EN DIE SKRIF

II. DIE KINDERDOOP EN DIE GELOOF VAN DIE KINDERS

III. DIE KINDERDOOP EN DIE BESNYDENIS

IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK

V. DIE KINDERDOOP EN DIE BESPRENKELING

II. DIE KINDERDOOP

EN DIE GELOOF VAN DIE KINDERS

Nou volg die tweede beswaar.

Die teëstanders leer die doop is alleen vir die gelowiges en omdat die klein kinders nog nie kan glo nie, mag hulle ook nie gedoop word nie! Laat ons hierdie redenasie ‘n bietjie verder ondersoek. Dit bestaan uit twee stellings en ‘n gevolgtrekking.

1. Met die eerste stelling as sodanig, nl. dat die doop vir die gelowiges is, stem ons saam

Die Skrif leer dit uitdruklik in Mark. 1:4; Luk. 3:3; Hand. 2:38; 8:37; 13:24; 18:8; Gal. 3:26-27. En op grond van hierdie Skrifplekke het ons vaders hierdie stelling alreeds bely in art. 34 van die Geloofsbelydenis: “So het hy dan bevel gegee om almal wat sy eiendom is, in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop alleen met rein water.”

Maar wel verskil ons oor enkele onderdele van hierdie stelling, nl. oor die vraag: hoe moet ons die geloof verstaan, en: by wie behoort die kinders? Die teëstanders tog, verstaan die geloof uitsluitend as ‘n daad van die mens, ‘n werksaamheid van sy redelike verstand. En dit ontbreek by kinders juis. Suiglinge — so roep hulle uit — kan die blye boodskap nie deur die geloof aanneem en ook nie deur ongeloof verwerp nie.

Ons leer daarteenoor: om te glo is wel ‘n daad van die mens, maar die geloof self is ‘n gawe van God. Paulus sê dit duidelik in Ef. 2:8: “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julle self nie: dit is die gawe van God.”

Hy sê dus: Hierdie geloof is nie uit julle nie, dit is God se gawe, want die voornaamwoord dit slaan volgens die Grieks op die voorafgaande woord geloof terug, en nie op die begrip; uit genade gered word, soos sommige wil nie.

As hulle dus beweer: klein kinders kan nog nie glo en mag daarom dus nie gedoop word nie, dan is hulle daarmee nog nie klaar nie. Want net soos ons, om te kan sien, die gesigvermoë, en om te kan hoor, die gehoorvermoë moet hê, so moet ons ook om te kan glo, die geloofsvermoë besit. En daardie geloofsvermoë kan die Gees van God ook in kinderharte werk.

Die vraag is dus verder: by wie behoort die klein kinders?

Ons sê: Die klein kinders behoort, óf by die gelo­wiges, en word, as hulle sterf, salig; óf by die ongelowiges, en gaan, as hulle sonder wedergeboorte sterf, verlore. Daar is dus maar twee moontlikhede: ‘n derde is daar nie.

Maar die Wederdopers van die 16de eeu het alreeds die dwaling verkondig, dat die klein kin­ders nóg by die gelowiges behoort, nog by die ongelowiges, maar ‘n derde groep van innocentes, d.i. van onskuldiges vorm.

En agter hierdie dwaling sit nog ‘n erger dwaling, nl. die ou dwaling van die algemene versoening, dat Christus die skuld van Adam se sonde vir alle mense, dus ook vir die klein kindertjies, hoof vir hoof voldoen het. Hulle beweer dan ook: die klein kin­ders is aan die een kant nie meer aan die erfskuld onderwerp nie en maak hulle aan die ander kant nog nie aan werklike sondes skuldig nie; hulle behoort dus nie tot die kerk en ook nie tot die wêreld nie; nie tot die gelowiges en ook nie tot die ongelowiges nie; hulle vorm ‘n derde groep van onskuldiges, en word dan ook, as hulle in hulle kinderjare sterwe, in hulle onskuld salig.

En dat die teenswoordige bestryders van die kinderdoop daar nog net so oor dink, blyk wel uit ‘n boekie van Schoemaker: “Die Kinderdoop”, wat op bl. 10 skrywe:

“Wat egter die saligheid van die kinders betref, so glo ek, dat dit by God moontlik is om hulle te behou deur die bloed van Christus en sonder geloof of doop, as hulle in hulle kinderjare te sterwe kom.”

Baie versigtig kom hier dieselfde Pelagiaanse dwaling om die hoekie loer, dat die klein kinders sonder geloof in hul onskuld salig kan word. En die bewys? Wel, Moses sê in Deut. 1 :39: “Julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie — hulle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en hulle sal dit in besit neem.”

Maar Moses spreek hier tot die Israeliete, wat die twee verkenners verag het en die tien geglo het, en verklaar nou, dat alleen Josua en Kaleb en die kinders, wat op daardie oomblik van geen goed of kwaad weet, en dus aan die bepaalde sonde geen deel het nie, in Kanaän sou ingaan. Hy sê dus nie, dat die kinders in die algemeen onskuldig en nie aan die erfsonde onderworpe is nie.

Die Skrif leer ons twee dinge duidelik:

a. Dat die kinders aan Adam se sonde onderworpe is. Paulus sê in Rom. 5:12 dat almal in Adam gesondig het en in vs. 18 dat deur een misdaad dit vir alle mense tot veroordeling gekom het.

Dawid bid in Ps. 25:7: “Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!”

En nog duideliker bely hy in Ps. 51:7: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” Ons sondige aard gaan dus tot die oom­blik van ons ontvangenis en geboorte terug.

b. Dat die weg van die saligheid vir die kinders die­selfde is as vir die volwassenes. Die teëstanders leer van die kinders: erfskuld het hulle nie meer nie en werklike sondes het hulle nog nie; hulle word dus as onskuldiges salig. Die Skrif leer, dat die kinders, net soos die volwassenes alleen deur genade salig word en alleen deur wedergeboorte ingaan in die koninkryk van God, Joh. 3:3. 5. Natuurlik kan die kinders die wederge­boorte nog nie toon nie, maar daarom kan hulle wel al wedergebore wees. Die Heilige Gees is by die wedergeboorte tog nie aan die bewussyn gebind nie. Hy vernuwe die onbewuste kinderharte net so goed soos die van die bewuste volwassenes. En as Hy werk, wie sal dan keer? Die klein kinders behoort dus óf by die gelowiges, óf by die ongelowiges. ‘n Derde stand van onskuldiges is daar nie.

 2. Ons tweede stelling lui dan ook, dat God die kinders van die gelowiges by die gelowiges reken

Dit blyk duidelik uit die volgende gegewens van die Skrif:

a. Daaruit, dat God die gelowige ouers saam met hulle kinders in die verbond van die genade opgeneem het. Die teëstanders beperk die genade tot die vol­wassenes. Maar God het dit uitgebrei van die vol­wassenes tot die kinders. Dit blyk onmiddellik al uit Gen. 3:15, waar die Here sê, dat die saad van die Vrou (d.i. die gelowige saad, wat op Christus sal uitloop) die Satan se kop sal vermorsel.

By Abraham blyk dit reeds duideliker. Die Here sê tot hom nie net: “Ek sal my verbond oprig tussen my en jou” nie, maar voeg daarby: “én jou nageslag na jou in hulle geslagte, tot ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou.”

En hierdie selfde lyn loop deur in die N.T. Lees maar Hand. 2.39: “Want aan julle kom die belofte toe en aan julle kinders”. ens. En wat Paulus verklaar in Rom. 11:16: “En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook”, d.w.s. as die aartsvaders in die verbond van die genade opgeneem is, dan behoort ook hulle na­ geslag tot die verbond, want God het dit met hulle en met hulle nageslag opgerig. Dit geld nie alleen vir die gelowiges uit die Jode nie, maar ook vir die uit die heidene!

b. Daaruit, dat die Heilige Gees die genade reeds in die harte van die klein kinders werk. Jeremia is hiervan ‘n duidelike bewys. Daar staan tog duidelik in Jer. 1:5: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken”, d.i. verordineer, bestem om ‘n profeet te wees. “En voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig”, d.i. afgesonder om as profeet op te tree. Daarin lê dus tweërlei: 1ste, die voorafgaande verkiesing tot profeet, en 2de, die voorafgaande heiliging, d.i. mededeling van die genade- en amptelike gawes.

Verder blyk dit ook by Johannes die Doper. Want die engel sê vir Sagarias (Luk. 1:15b): …… en hy sal met die Heilige Gees vervul word, reeds van die moederskoot af”. Die woordjie: reeds, beteken, dat die Heilige Gees hom reeds in die moederskoot vervul het en hom bly vervul het van sy geboorte af aan. Die Heilige Gees het hom dus van sy eerste begin af vervul met sy saligmakende en amptelike genade. Die teëstanders werp hier nou weer teë, dat daar geen geloof is sonder kennis en dat klein kinders nie kan ken nie en dus ook nie kan glo nie. Maar wat hulle ook al beweer, hier staan duidelik, dat die Heilige Gees ook in kinderharte werk.

c. Daaruit, dat klein kinders alreeds van God se genade spreek en roem. Die teëstanders slaan die hande saam van verbasing en roep: Wie het al ooit die klein kinders van God se genade hoor roem en spreek? Ons antwoord: Jesus self, want Hy verklaar in Matt. 21:16, dat Hy in die hosanna-geroep van die kinders in die tempel, toe hulle Hom huldig as die Seun van God, die vervulling hoor van Ps. 8:3: “Uit die mond van die kindertjies en die suigelinge het U sterkte gegrondves.”

En wat die Heiland self daar verklaar, word nog steeds bewaarheid. Elke gelowige kan in sy eie omgewing die klein kinders op ongedwonge en kinderlike manier hoor spreek en roem van God en goddelike sake. Daar is klein kinders, wat van kleinsaf in tere godsvrug opgevoed is en al vroeg van Jesus se liefde en ontferming spreek en sing.

d. Daaruit, dat volgens Matt. 19:13-15 die kinders net so goed reg het op die koninkryk van die hemele as die volwassenes. Daar kom ouers uit die omgewing “met hulle kinders by Jesus, sodat Hy hulle die hande sou oplê en bid” (vs. 13). Die dissipels het blykbaar gedink, dat die kinders buite die koninkryk van die hemele staan en die Heiland Hom nie met hulle sou kon bemoei nie. Hulle weer dan ook die ouers af.

En wat sê Jesus nou?

Gee Hy sy dissipels gelyk en sê Hy vir die ouers: “Gaan weg met julle kinders, want hulle staan buite die koninkryk van God”? Nee! Jesus sê vir hulle: “Laat die kindertjies staan en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.” Hy sê nie: hulle sal die koninkryk beërwe, nie, maar: aan sulkes behoort d.i.: nou, vandag, die koninkryk van die hemele. Hulle het daar reg op, nie vanweë hulle onskuld of waardigheid, maar vanweë God se bestemming. Daar staan ook nie: aan hulle, d.i. aan hierdie spesifieke 10 of 12 kinders, maar aan sulkes, d.i. die kinders van die verbond in die algemeen.

Die kinders van die gelowiges het dus volgens Jesus se eie verklaring net sowel reg op die koninkryk van die hemele as die volwassenes. Hy ontvang hulle dan ook met oop arme en seën hulle (vs. 1 5 ) .

En sou ons hulle dan afhou van die Doop?

Trouens, die vraag van die saligheid van ons kinders is van groot belang. Want ‘n groot deel van die mensheid sterf voordat hulle tot bewussyn gekom het. As daar nooit ‘n kind sou sterwe, sou mens kon sê: laat hulle self kies, as hulle volwasse geword het? Maar daar sterf duisende kinders jonk! Al die vroegsterwende kinders is net so goed soos die volwassenes aan die erfsonde onderwerp.

Die vraag is dus van geweldige belang: kan hulle salig word, ja of nee?

Op hierdie vraag antwoord die Heiland, ja, want aan sulkes be­hoort die koninkryk van die hemele! Maar staan die koninkryk van die hemele dan sommer vir alle kinders oop?

Nee, want Jesus sê met nadruk in Joh. 3:3: “Voorwaar, voorwaar. Ek sê vir jou: as iemand nie weer gebore word nie. kan hy die koninkryk van God nie sien nie”, vs. 5: ..nie ingaan nie”.

Sonder wedergeboorte kan dus ook geen kind die hemelryk binnegaan nie.

e. Daaruit, dat die Skrif die kinders van die gelowi­ges by die gemeente reken. Dit blyk duidelik uit Ef. 6:1-3. Volgens hoofstuk 1:1 skryf die apostel aan die “heiliges . . . en gelowiges in Christus Jesus”. En hier­die gemeente van gelowiges bestaan dan uit verskillende groepe, nl.

– ‘n groep van vroue: 5 :22-24;

– van manne: 5:25-33;

– van kinders: 6:1-3;

– van vaders: 6:4;

– van diensknegte: 6:5-8;

– en van meesters: 6:9.

Hierdie almal behoort tot die gemeente van gelowiges.

Ook die kin­ders, want hy vermaan hulle, 6:1: “Kinders, julle moet julle ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.”

Hulle moet nie net gehoorsaam wees nie, maar: gehoorsaam wees in die Here, d.i. in betrekking tot Christus, asof hulle in Christus is; “want dit is reg”, dit is volgens die wet van God.

En verder uit Kol. 3:20. Weer spreek hy die ge­meente aan:

– as heiliges en gelowige broeders, 1:1-2;

as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, 3:20, ens.

En tot hierdie gemeente behoort dan weer:

– ‘n groep van vroue: 3:18;

– van manne: 3:19;

– van kinders: 3:20 ens.

Aan die een kant reken Paulus dus die kinders van die gelowiges by die gemeente en reken hulle as gelowiges totdat die teenoorgestelde bewys is. Hulle is van die heidenkinders onderskei, nie omdat hulle in hulleself beter is nie, maar omdat God hulle in sy verbond opgeneem het.

Aan die ander kant hou hy ook daarmee rekening, dat daar geveinsdes, huigelaars en ongelowiges onder die gelowiges is. Want die Kerk kan nie oor die hart oordeel nie. As dit later by die opgroei blyk dat die kinders geen gelowiges is nie, dan moet hulle ernstig vermaan word, en as daar geen bekering volg nie, met die ban afgesny word.

3. Ons gevolgtrekking is dan ook kort en bondig, dat die kinders van die gelowiges by die gelowiges behoort en daarom ook gedoop moet word

Die doop is vir die gelowiges (eerste stelling). Die kinders van die gelowiges word deur die Skrif by die gelowiges gereken en vir gelowiges gehou (tweede stelling). Dus moet die kinders ook gedoop word (gevolgtrekking).

Maar — so werp die Wederdopers dikwels op — is die beskouing van die Doopsformulier nie daarmee in stryd nie? Dit gaan mos van die gedagte uit, dat die kind vóór die Doop nog nie in Christus ingelyf is nie, volgens die verklaring in die begin: . . . “dat ons met ons kinders in sonde ontvang en gebore word en daar­om kinders van die toorn is, sodat ons in die ryk van God nie kan kom nie tensy ons weer gebore word’.

Vóór die Doop staan hulle dus nog buite die koninkryk van God.

Daarop laat die formulier die gemeente saam met die ouers vir hierdie kind bid: “……. ons bid U, by u grondelose barmhartigheid, dat U hierdie kind van U genadiglik wil aansien en deur u Heilige Gees in Jesus Christus u Seun wil inlyf …”

En ten slotte volg dan die danksegging: ” . . ons dank en loof U dat U ons en ons kinders . . . tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u kinders aangeneem het; en dat U dit aan ons met die heilige Doop beseël en bekragtig”.

Nou is al hulle sondes hulle vergewe en is hulle as lidmate aangeneem.

Maar wanneer is hulle aangeneem?

Vóór die Doop was hulle nog nie, na die Doop is hulle wel aangeneem. Dus deur die Doop ? Maar dit verwerp die Gereformeerdes as ‘n Roomse dwaling! Maar wanneer dan? Miskien net vóór die Doop, tussen die gebed en die gaan na die doopbak? Dit lyk baie na die Roomse leer!

Ons antwoord daarop die volgende:

Hierdie selfde beswaar sou mens ook kan inbring teen die sterk uitdrukking van God se Woord oor die Doop van Paulus, Hand. 22:16.

Paulus was alreeds bekeerd op die pad na Damaskus en Ananias het dit geweet, want die Here het dit vir hom gesê: “Staan op en gaan . . . na ‘n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid”, Hand. 9:1 1; en vs. 15: ” . . . hy is vir my ‘n uitverkore werktuig”, ens. Ananias spreek homself alreeds aan as ‘n broeder, vs. 17.

En tog sê Ananias aan hom, Hand. 22:16: “Staan op en laat jou doop en jou son­des afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep”, asof hy die afwassing van sy sondes vóór sy doop nog nie ontvang het nie en eers deur sy doop verkry het. Rome wys dan ook met nadruk op hierdie teks om te bewys dat die wedergeboorte deur die Doop bewerk word.

Maar alreeds die “Kanttekeninge” van die ou “Statebybel” verklaar (en die meeste Reformatore stem daarmee saam): “Dit is tot ‘n teken en verseëling, dat u sondes deur die bloed en die Gees van Christus afgewas is; ‘n manier van spreek, wat vir die sakramente dikwels gebruik word, kyk Mark. 1:4; Ef. 5:26, wat nader verklaar word in Matt. 3:11; 1 Petr. 3:21; 1 Joh. 1:7.”

Ananias gebruik hier ‘n sogenaamde sakramentele spreekwyse, d.w.s. hy ken aan die teken (die Doop) die afwassing van die sondes toe, terwyl dit alleen deur die Gees gebeur. Paulus was alreeds ‘n bekeerde en gelowige. Hy mag alleen gedoop word omdat hy glo en ontvang dus in die Doop die teken en seël van die afwassing van die sonde.

En só moet ook hierdie gedeeltes uit die Doopsformulier verklaar word.

Die formulier gaan uit van die gedagte, dat die kinders saam met die ouers “in Chris­tus geheilig is“, en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te word. As die gemeente bid: “dat U hierdie kind van U in U liewe Seun Jesus Christus wil in lyf“, dan beteken dit nie: deur die Doop in Chris­tus inlyf nie, maar dit is ‘n sakramentele spreekwyse, wat beteken: dat U hierdie kind van U in die Doop die teken en seël van die inlywing in Christus wil skenk.

Volgende keer: III. Die kinderdoop en die besnydenis

Die res van die reeks: Die Reg van die Kinderdoop

Ander artikels oor die doop: Verbondsdoop

PDF uitgawe van die hele reeks: Die Reg van die Kinderdoop

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: