Posted by: proregno | June 15, 2015

Die Reg van die Kinderdoop (deel 4: Die Kinderdoop en die Kerk)

DIE REG VAN DIE KINDERDOOP

(deel 4: Die Kinderdoop en die Kerk)

deur ds. Joh. Jansen

Uitgegee deur die Deputate vir Evangelisasie lektuur

[Nota: In my onlangse leeswerk oor verbond en doop het ek op hierdie boekie afgekom oor die kinderdoop en deel dit graag. In die teks het ek hier en daar klein vertaling-aanpassings gemaak, beklemtonings bygevoeg, en plaas my eie opmerkings in hakies met my voorletters, slc, vooraan.]

Inhoudsopgawe

Voorwoord van die Vertalers

INLEIDING

I. DIE KINDERDOOP EN DIE SKRIF

II. DIE KINDERDOOP EN DIE GELOOF VAN DIE KINDERS

III. DIE KINDERDOOP EN DIE BESNYDENIS

IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK

V. DIE KINDERDOOP EN DIE BESPRENKELING

IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK

Daar is nog ‘n vierde diepgaande verskil. Die teëstanders sê tog dat ook volgens die kerkvaders die doop in die derde eeu deur die kerk ingestel is en nie van die apostels afkomstig is nie; dat dit voortgekom het uit ‘n valse beginsel, nl. dat die saligheid aan die doop verbonde is; en dat ‘n kind ewegoed reg sou hê op die nagmaal as op die doop. Ons sal probeer om die teenoorgestelde te bewys.

1. Die doop is volgens die getuienis van die kerkvaders wel van die apostels afkomstig en is nie eers later deur die kerk eiemagtig ingestel nie.

Ons gee eers enkele getuienisse omtrent die kinders en die kinderdoop in die algemeen.

Justinus Martyr, wat geleef het van 89-166 na Chr. skryf soos volg: “Daar is onder ons baie sestig- en sewentigjarige manne en vroue wat van kindsbeen af Christene gewees het en steeds onbedorwe gebly het.” Die Baptiste leer dat die kinders eers later, as hulle groot geword het, Christene kan word, omdat hulle dan eers daadwerklik kan glo, maar Justinus verklaar hier, dat hierdie manne en vroue van kindsbeen af Christene was. Voorts verklaar hy ook dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Hy skryf in sy boekie: “Twisgesprek met die Jood Trypho”: “En ons wat hierdeur die toegang tot God het, het nie die vleeslike maar die geestelike besnydenis ontvang. En ons het dit ontvang deur die doop. En vir almal is dit geoorloof om dit te ontvang op dieselfde wyse.” Dit is ‘n duidelike bewys, dat dit toe reeds welbewus aanvaar is dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, ‘n feit wat die teëstanders tans nog bestry.

‘n Getuienis uit die Ou Egiptiese verordeninge (laaste helfte van die 2de eeu) lui soos volg: “Eers moet die kinders gedoop word. Die wat in staat is om vir hulle self te antwoord moet spreek, maar vir hulle, wat daartoe nie in staat is nie, moet die ouers of nabestaandes die antwoord gee.” Dis ook ‘n duidelike bewys dat die kinders toe gedoop is.

Tertullianus, 150 of 160—220 na Chr., bestry die kinderdoop en wil dit uitstel tot ‘n rypere leeftyd, maar hy bestry dit nie op Skriftuurlike gronde nie, maar op utiliteits(nuttigheids)gronde. Hy skrywe: “Daarom is die uitstel van die doop nuttiger met die oog op elkeen se persoonlike toestand en gesteldheid en ook leeftyd, veral ook wat betref die klein kinders.” Alleen by dringende noodsaaklikheid, bv. as ‘n kind siek was en dreig om te sterf, wou hy ook doop, maar anders nie.

Hy het blykbaar gevrees dat dit, as dit groter word, kon afwyk. Die kinderdoop bestaan dus reeds, want wat nie bestaan nie, hoef nie bestry te word nie.

Daar is nog ‘n getuienis van Cyprianus, 200-258 na Chr., ‘n leerling van Tertullianus, maar wat die doop betref, van teenoorgestelde gevoelens. Uit sy geskrifte blyk dat die kinderdoop, ondanks die sterk bestryding van Tertullianus, toe algemeen bekend was; voorts dat dit aanvaar is dat die doop in die plek van die besnyde­nis gekom het; en ten derde, dat hy die doop met die erfsonde in verband gebring het. Die pasgebore kind, so skryf hy, het nog geen sonde nie, maar staan skuldig aan die sonde van ander, nl. aan die van Adam, en moet daarom gedoop word.

Nou volg die getuienisse van die kerkvaders dat die doop wel van die apostels afkomstig is en nie eers later deur die kerk ingestel is nie.

Allereers die getuienis van Origenes, 185-254 na Chr. Hy verklaar drie dinge:

a. “Dat die doop volgens die reël van die kerk ook aan die klein kinders bedien word” en hy vra wat die rede daarvoor is;

b. dat hy die doop vir die kinders nodig ag vanweë die erfsonde waaraan die kinders onderworpe is;

c. dat die kerk kinderdoop by wyse van oorlewering van die apostels ontvang het. Hy skryf: “Vroeër het die kerk van die apostels die oorlewering ontvang om die doop ook aan die klein kinders toe te dien.” Die getuienis is so duidelik dat teëspraak onmoontlik is.

Ten slotte wys ons nog op die getuienis van Augustinus, 354-430 na Chr. Hy verklaar uitdruklik dat die kinderdoop nie deur ‘n konsilie (‘n kerkvergadering) ingestel is nie, maar van die apostels afkomstig is: “En indien iemand in hierdie saak (nl. insake die kinder­doop) na die Goddelike gesag vra, hoewel die hele kerk die doop beoefen, wat ook nie deur ‘n konsilie ingestel is nie, maar altyd onderhou is, en nie anders as deur apostoliese gesag regstreeks oorgelewer geglo is nie, tog kan ons na waarheid uit die besnydenis van die vlees, wat die ou volk vroeër ontvang het, opmaak, wat die sakrament van die doop vir die kinders beteken.” Hier­die uitspraak is nog duideliker. Tog hou die teëstanders, teen al die oortuigende uitsprake in, vol dat die kinderdoop eers later deur die kerk ingestel is.

2. Die kinderdoop het nie voortgekom uit die dwa­ling dat die doop die wedergeboorte werk nie, maar uit die Skrifleer dat die kinders van die gelowiges in die verbond van die genade en in die gemeente begrepe is. Die teëstanders sê dat die kinderdoop eers in die derde eeu na Chr. ontstaan het, toe die doop reeds met die wedergeboorte verwar is; dus uit die afskuwelike dwa­ling dat die wedergeboorte deur die doop plaasvind. Ons antwoord daarop: hierdie Roomse dwaling het later die leer van die doop wel misvorm, maar het op sy oorsprong en aanvanklike toepassing geen invloed gehad nie. Daar kleef geen vitium originis, d.i. geen fout in die oorsprong aan die kinderdoop nie. Dit het voortge­kom uit die twee beskouinge:

a. Dat volgens die Skrif die kinders van die gelowi­ges met die ouers in die verbond van die genade en in sy gemeente begrepe is. Namate die Christelike sendingkerk in gevestigde kerk oorgegaan het, het ook die bejaarde doop in die kinderdoop oorgegaan.

b. Dat die kinders van hulle eerste aansyn af aan die erfsonde onderworpe is. Aanvanklik was daar van die betekenis van die sonde van Adam vir die kinders maar ‘n flou besef, maar toe dit al meer tot die bewussyn deurdring dat die kinders weens die sonde van Adam aan die dood onderworpe is en ook alleen deur genade salig kan word, het ook die behoefte aan die kinderdoop meer algemeen en lewendig geword. Veral Cyprianus het daartoe baie bygedra.

c. Dat die kinders wel reg het op die doop maar daarom nog nie op die nagmaal nie. Die teëstanders bestry die doop ook nog met die argument dat uit dieselfde dwaling, waaruit in die derde eeu die doop gekom het, nl. dat die kind deur die doop wedergebore word, toe ook die kindernagmaal opgekom het. Kinderdoop en kindernagmaal is dus tweelinge van dieselfde dwaling en het in die Roomse Kerk tien eeue lank en in die Griekse kerk tot vandag toe langs mekaar bestaan. Een van twee is dus waar: óf die kinders mag nie gedoop word nie, óf, indien mens hulle wel doop moet mens hulle ook tot die nagmaal toelaat.

Ons antwoord daarop:

i. Daar is geen verskil in wese tussen doop en nagmaal nie; beide is tekens en seëls van die weldade van die verbond, maar daar is wel verskil in toepassing. Die doop mag reeds aan onbewuste kinders, die nagmaal eers aan bewuste volwassenes toegedien word.

ii. Reeds in die O.T. was die besnydenis vir die kinders van die manlike geslag, Gen. 17:12, maar die Pasga moes in Jerusalem gevier word, Deut. 16:5-7, sodat die klein kinders daarvan uitgesluit was.

iii. By die doop is die kind lydelik. Dit word gedoop. Maar mens gaan na die nagmaal, mens neem en eet die brood, ens. En daarvoor het God bepaalde eise gestel, nl. mens moet jouself kan beproef, 1 Kor. 11:28, en die liggaam van die Here kan onderskei, vs. 29. En klein kinders is daartoe nog nie in staat nie.

Die doop is wel vir kinders maar die nagmaal alleen vir volwassenes.

Volgende keer: V. Die kinderdoop en die besprenkeling 

Die res van die reeks: Die Reg van die Kinderdoop

Ander artikels oor die doop: Verbondsdoop

PDF uitgawe van die hele reeks: Die Reg van die Kinderdoop


Responses

  1. […] IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: