DIE REG VAN DIE KINDERDOOP
(deel 3: Die kinderdoop en die besnydenis)
deur ds. Joh. Jansen
Uitgegee deur die Deputate vir Evangelisasie lektuur
[Nota: In my onlangse leeswerk oor verbond en doop het ek op hierdie boekie afgekom oor die kinderdoop en deel dit graag. In die teks het ek hier en daar klein vertaling-aanpassings gemaak, beklemtonings bygevoeg, en plaas my eie opmerkings in hakies met my voorletters, slc, vooraan.]
Inhoudsopgawe
Voorwoord van die Vertalers
INLEIDING
I. DIE KINDERDOOP EN DIE SKRIF
II. DIE KINDERDOOP EN DIE GELOOF VAN DIE KINDERS
III. DIE KINDERDOOP EN DIE BESNYDENIS
IV. DIE KINDERDOOP EN DIE KERK
V. DIE KINDERDOOP EN DIE BESPRENKELING
III. DIE KINDERDOOP EN DIE BESNYDENIS
Nou volg ‘n derde geskilpunt, nl. insake die besnydenis. Ons leer dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het en, aangesien die kinders in die Ou Testament besny is, moet hulle ook in die Nuwe Testament gedoop word. Die teëstanders dink egter ook hieroor heeltemal anders. Die verskil raak ook nie alleen die punt van besnydenis nie maar die hele Ou Testamentiese bedeling van die genadeverbond, dus die Ou Testament self. Die kort bestek van hierdie boekie laat egter ‘n volledige behandeling nie toe nie. Ons beperk ons daarom tot ‘n tweetal punte.
- Die eenheid van die verbond.
Ons leer dat die ou en nuwe verbond in wese een is en alleen in bedeling verskil. Maar die teëstanders leer dat ou en nuwe verbond in wese verskil en teenoor mekaar staan.
a. As die verbond van die besnydenis en die verbond van die genade. Immers, so sê hulle, die besnydenis was by Israel geen teken en seël van die genadeverbond nie, dit was ‘n verbond op homself, in wese en aard van die genadeverbond onderskei. Die verskil kom in beginsel reeds by Abraham uit, so beweer hulle, want God rig met hom nie een verbond op nie maar twee nl. in Gen. 12:3, in beginsel reeds die genadeverbond, toe hy 75 jaar oud was maar dit is eers in die bloed van Christus bevestig en geld alleen vir die gelowiges; en in Gen. 17:11 die verbond van die besnydenis, wat alleen die vleeslike saad van Abraham uit Sara gegeld het en later deur die wet op Sinai bevestig is. Hulle bewys dit dan met Hand. 7:8 waar staan dat die Here aan Abraham die “verbond van die besnydenis” gegee het.
Ons het egter hier in Handelinge met ‘n sakramentele spreekwyse te doen. Stefanus noem hier alleen die teken nl. die verbond van die besnydenis maar bedoel die saak, nl. die verbond van die genade. Trouens in Gen. 17:11 staan uitdruklik dat die besnydenis “‘n teken sal wees van die verbond tussen My en julle”. Dit was dus nie die verbond self nie maar ‘n teken van die verbond. En nog duideliker blyk dit uit Rom. 4:11 waar ook uitdruklik staan dat Abraham “die teken van die besnydenis ontvang het as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof.”
In een van die boekies van die bestryders lees ek: “Nêrens sê hy (Paulus) dat die besnydenis die seël van die verbond is nie.” Nee, so sê Paulus dit nie. Maar in Gen. 17:1 1 staan wel dat dit die teken van die verbond is”, en hier in Rom. 4:11 sê hy dat dit die seël is van een van die weldade van die verbond nl. die geregtigheid van die geloof.
Van ‘n afsonderlike verbond van die besnydenis was dus in die Ou Testament geen sprake nie. Die besnydenis was ook toe reeds ‘n teken en seël van die verbond van die genade, wat God reeds direk na die val (Gen. 3:15) ingestel het en by Abraham nader bevestig het met die teken van die besnydenis.
b. As die voorwaardelike en onvoorwaardelike verbond. Die ou verbond, so sê hulle, is voorwaardelik, want dit eis die onderhouding van die besnydenis en die wet en eers na die volbrenging van die voorwaardes skenk God die aardse seëninge van die verbond. Die nuwe verbond, daarenteen, is onvoorwaardelik, want daarin sê God nie: jy mag en jy mag nie, maar: Ek sal. Dit is dan ook ‘n verbond van die beloftes, ‘n beter, ‘n nuwe verbond, Hebr. 8:6-13.
Maar die skerp teëstelling tussen die Ou en Nuwe Testament kom voort uit die dwaling van die Gnostisisme, ‘n wysgerige stelsel in die tweede eeu na Christus, waarin heidense en Christelike elemente vermeng is. Die O.T. was volgens die Gnostieke van ‘n veel laere God afkomstig as die N.T. nl. van die God van die wet, van die geregtigheid en van die wraak, wat die Jode aan streng wette gebind het. Die N.T. was van die God van die genade en van die liefde, wat in Christus verskyn het en die mense vrygemaak het van die wet. Die O.T. bevat dus die wet. Die N.T. die Evangelie. En in gewysigde vorm keer hierdie prinsipiële (beginsel) teëstelling tussen O.T. en N.T. telkens terug nl. in die Anabaptisme, die Sosinianisme, die Arminianisme en ongetwyfeld ook in die Baptisme. Dit is dus geen nuwe verskynsel nie maar ‘n ou dwaling; en dit waarsku ons hoe versigtig ons moet wees met sulke skoonskynende leringe.
Ons leer dan ook dat die O.T. en die N.T. in wese een is en alleen in bedeling verskil. Natuurlik straal die lig van die genade in die O.T. nie so helder soos in die N.T. nie, maar dit is dieselfde lig. O.T. en N.T. is:
– van dieselfde God, Hebr. 1:1;
– dit bevat dieselfde Evangelie, Gal. 3:8, Hebr. 4:2;
– verkondig dieselfde Middelaar, Hebr. 13:8, Joh. 8:58;
– en vir beide is daar maar een weg tot saligheid, nl. die weg van die geloof, Gal.3:6,7.
Maar hulle verskil in bedeling en staan tot mekaar in verhouding as:
– wet en genade, Joh. 1:17;
– belofte en vervulling, Hand. 13:32;
– as skaduwee en werklikheid, Kol. 2:17;
– as diensbaarheid en vryheid, Rom. 8:15;
– as nasionaal en universeel, Ef. 3:5-6.
Dit is soos ons vaders reeds gesê het: die N.T. is in die Ou Verbond verborge, en die O.T. het in die N.T. tot vervulling gekom.
- Die tekens en seëls van die verbond.
Die vraag is dus of die Doop in die plek van die besnydenis gekom het. Hulle sê: nee! Ons sê: ja!
Die besnydenis kom ook wel by ander volkere voor, soos bv. by die Egiptenare, die Ismaëliete, die Edomiete, ens., maar dan as ‘n sanitêre (gesondheids)maatreël, d.w.s. as ‘n middel om verskillende siektes teen te gaan en om die vrugbaarheid te bevorder. By Israel het dit egter ‘n ander karakter gedra, want die Here het dit ingestel as teken en seël van sy verbond, Gen. 17:11: “en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle”. Rom. 4:11: “En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie.” Dit was dus ‘n teken, d.i. ‘n aanduiding van iets wat werklik aanwesig was, nl. die verbond met sy belofte; en nog sterker, dit was ook ‘n seël, d.i. ‘n bevestiging en versekering van die geregtigheid van die geloof wat hom reeds in die voorhuid toegereken was.
Die teenstanders beweer nou:
a. Dat die besnydenis nie in die doop kon oorgaan solank die verbond van die besnydenis nog bestaan nie, Gen. 17:9-1 1, want die besnydenis was die verbond self, Hand. 7:8.
b. As die doop waarlik in die plek van die besnydenis gekom het, moes dit in die N.T. duidelik aangewys gewees het, te meer, omdat die vraag of die heiden-Christene die besnydenis moet onderhou om salig te word juis aan die orde was. Jesus en die apostels het egter geen enkele verklaring daaroor afgelê nie. Dit is ‘n duidelike bewys dat doop en besnydenis niks met mekaar te maak het nie.
Ons antwoord: Hierdie bewering gaan weer van ‘n foutiewe grondgedagte uit, nl. dat die O.T. en die N.T. vyandig teenoor mekaar staan as wet en Evangelie, as vloek en seën. Ons sê: die verhouding is skaduwee en werklikheid, belofte en vervulling. En Christus staan as middelpunt daar tussenin. Die Ou Verbond met die besnydenis is nie vernietig en die Nuwe Verbond met die doop daarvoor in die plek gestel nie. Nee, die oue wys na Christus heen en is in Hom vervul. en die nuwe gaan van Hom uit. As dus in die O.T. die kinders besny is, spreek dit vanself dat hulle in die N.T. gedoop moet word. Dit hoef nie opsetlik gebied of beveel te Word nie.
c. Hulle beroep hulle ook op Hand. 21:21, waar staan dat die gelowige Jode Paulus nie vertrou het nie omdat hulle gehoor het dat hy die Jode-Christene geleer het dat hulle die kinders nie moet besny nie en nie meer volgens die wet van Moses hoef te lewe nie. Toe Jakobus en die ouderlinge hom aangeraai het dat hy hom enkele dae moes afsonder, om aan die Jode te toon, dat die gerug ongegrond was, het Paulus aan die raad gehoor gegee en daarin lê dan opgesluit dat die seremoniële wet met die besnydenis van die Jode geldig gebly het.
Ons sê: Paulus het toegegee aan die raad om die swakheid van die Jode-Christene tydelik te dra, dus om tyd te gee vir die deurwerking van die beginsel: “Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God,” 1 Kor. 7:19. Hy verklaar ook later in Gal. 5:2: “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie.”
Ons leer dan ook dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het en wel op die volgende gronde:
i. Omdat Christus die einde van die besnydenis en die aanvang van die Christelike doop is. Die besnydenis gaan met bloedstorting gepaard. Dit bestaan in die afsny van die voorhuid van die vlees. En alle bloedstorting is in Christus vervul, Hebr. 9:12-13. Toe Christus besny is, Luk. 2:25, toe het die besnydenis tot sy einde geloop; en toe Hy gedoop is, Matt. 3:13-19, toe het die doop in beginsel ‘n aanvang geneem. In werklikheid het die besnydenis nog ‘n tydlank langs die doop bestaan en het die oorgang slegs langsaam plaasgevind. Die Ou Verbond met die besnydenis was soos ‘n blomknop, wat langsaam oopgaan; eers as die blomblare af-val word die vrug gesien. Die besnydenis moes dus ophou en deur ‘n onbloedige teken vervang word, omdat dit in die bloedstorting van Christus vervul is.
ii. Omdat Paulus in Kol. 2:11-12 uitdruklik leer dat die besnydenis in die doop oorgegaan het. Joodsgesinde dwaalleraars het die dwaling verkondig dat die heiden-Christene hulle ook moet laat besny om salig te word. Hulle wou die Christendom aan die Jodendom onderwerp. ‘n Christen moes Jood word om salig te word. Daarteen waarsku Paulus uitdruklik. Die heiden-Christene te Kolosse hoef hulle nie te laat besny nie. Hulle is reeds besny, nl. in Christus en wel met ‘n besnydenis wat sonder hande geskied wat nie soos die Joodse besnydenis met hande, dus vleeslik, maar wat geestelik plaasvind. Dit bestaan in die aflegging van die liggaam van die sondige vlees, dus in die doding van die vleeslike, sondige natuur; en dit vind plaas deur die besnydenis van Christus, d.w.s. deur middel en uit krag van die besnydenis wat Christus in sy dood ondergaan het waardeur hy ons sonde versoen het, of soos ander wil, deur die sinnebeeldige besnydenis, d.i. die Christelike doop. Omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. Daarin sê hy wanneer dit plaasgevind het, nl. op die oomblik toe hulle in die doop met Christus begrawe en opgewek is. Immers die dood van Christus is ‘n volkome aflegging en oorwinning van die sonde. Deur sy dood is dus die betekenende saak van die besnydenis, nl. die afsnyding van die sonde eers ten volle verwerklik en die teken van die besnydenis dus verouderd en in die doop tot sy vervulling gekom.
Daaruit volg nou:
(a) Dat die gelowiges te Kolosse en alle Nieuw Testamentiese gelowiges nie meer besny hoef te word nie, want die besnydenis is deur die dood van Christus vervul. Die besnydenis was tog tweërlei, nl. ‘n teken en seël van ‘n bestaande saak, nl. van die regverdigmaking van die geloof, Rom. 4:11, en van ‘n besnydenis van die harte, d.i. van die wedergeboorte en heiligmaking. Deut. 10:16; 30:6; Jer. 4:4; Rom. 2:28; 29; 2:11, maar dit was as bloedige teken ook ‘n skadu van iets toekomstigs, nl. van die dood van Christus, waardeur alle bloedstorting vervul is.
(b) Dat die doop dus meer is as die besnydenis, nie in wese nie, want dit is beide tekens en seëls van dieselfde genade, maar in graad want die besnydenis het heengewys na die dood van Christus en die doop gaan van die dood van Christus uit.
Die besnydenis eindig in sy dood, die doop begin by sy dood. Wanneer die kinders van die verbond in die O.T. dus reeds besny moes word dan moet hulle in die N.T. sekerlik gedoop word, want die doop is tog nie armer as die besnydenis nie. Daarom kan Paulus ook teenoor die Joodse yweraars, wat die heiden-Christene onder die juk van die Mosaïese wet en die besnydenis wil hou, betuig, dat die wet slegs ‘n tugmeester tot Christus was en dat die gelowiges nou in Christus van die tugmeester ontslae is.
Gal. 3:24-29: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”
Die ou verbond met die besnydenis is in Christus vervul. Almal wat nou in Christus Jesus gedoop is (die doop het dus in die plek van die besnydenis gekom vir die gelowige Jode en heidene beide) hulle het hulle met Christus Jesus beklee.
(c) Dat die doop nie alleen aan die manlike maar ook aan die vroulike kinders mag toegedien word. Die vroue was wel reeds in die verbond begrepe, Gen. 34:14; Joël 2:16, maar die sakrament van die verbond kon alleen aan die manlike geslag toegedien word, Gen. 17:10. ‘n Seuntjie was met die moeder maar 7 dae onrein, Lev. 12:3, en kon dus op die agste dag besny word; maar ‘n dogtertjie was met die moeder 14 dae onrein, vs. 5, en kon dus nie op die agste dag besny word nie. In Christus het die onderskeid egter weggeval, Gal. 3:28: “Daarin is geen man en vrou.”
(d) Dat die doop nie meer aan die agste dag gebonde is nie. Onder Israel deel die kind in die onreinheid van sy moeder. ‘n Seuntjie was met sy moeder 7 dae onrein en kon dus nie eerder as op die agste dag besny word nie. Maar waar hierdie wet van die onreinheid in Christus vervul is en die kinders van hulle geboorte af in die verbond opgeneem is, het hulle ook van hulle geboorte af reg op die doop.
Volgende keer: III. Die kinderdoop en die kerk
Die res van die reeks: Die Reg van die Kinderdoop
Ander artikels oor die doop: Verbondsdoop
PDF uitgawe van die hele reeks: Die Reg van die Kinderdoop