NG Sinode 2015 kies die weg van die duisternis en die dood

NG Sinode 2015 kies die weg

van die duisternis en die dood

Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ‘n welbehae van die HERE. Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.” (Spr.8:36)

Die NGK het gister – met sy besluit ten gunste van homoseksualisme – besluit om die lewe te verwerp en die dood te omhels, dit is ‘n hartseer en tragiese dag vir die oorblyfsel van kerk wat daar nog oor was in die NGK.

Daarmee het die NGK gesê ons haat ons (homoseksuele) naaste, en daardeur ook die Skepper van ons naaste (1 Joh.4:7-21).

Dit is die mees liefdelose besluit wat nog geneem is deur ‘n NG sinode.

Die NGK verkondig nou amptelik ‘n valse evangelie, ‘n ‘evangelie’ wat sê jy hoef jou nie te bekeer van (en te stry teen) sonde nie (soos ons bely in navolging van die Skrif, HK Sondag 32, 33, 41, 44).

Jy kan voortlewe in jou sonde tot in die hel, gedoop en genagmaal en met al die ‘kerk strukture’ se seën … … maar nié die Drie-enige God se seënende Hand en liefde en genade in Jesus Christus nie.

Die woorde van Gal.1:6-12 is ter sprake vir elkeen wat hierdie besluit geneem het, dit bevorder, wat dit gaan aanvaar en (polities) gaan akkomodeer in die toekoms.

Mag my kerkverband, die GKSA, haar ook gou bekeer van haar onverantwoordelike besluit om met die duidelike deformerende NGK ‘n samewerkingsooreenkoms te sluit by ons Januarie 2015 Algemene sinode, terwyl hul baie duidelik geweet het die NGK is op hierdie afgrondspad. … mag my kerkverband haar ook bekeer van die voorloper daartoe, die vrou in die besondere ampte kwessie.

God laat nie met Hom spot nie, tas sy skeppingsorde en bevelswil aan (Gen.1.2; 1 Tim.2:11-15), dan gaan ons die gevolge dra (Ps.2:1-12; Rom.1:18-32).

Jesus Christus is die enigste Verlosser en Koning van sy Kerk deur sy Woord en Gees.

Sien die NG besluit soos verwoord in die media, asook reaksie daar op van ‘n paar getroue NG lidmate hier, ek haal dit met erkenning aan:

Dis duisternis – is dit dalk hoekom sinodegangers vandag swart gedra het ?

Johannes de Koning skryf:

“Met die aanvaarding van ‘n voorstel van Andre Bartlett (met ‘n skrale meerderheid van 102 teen 88) het die Algemene Sinode van die NG Kerk die groen lig gegee vir selfdegeslagverhoudings! Twee honderd het besluit vir ‘n hele kerk! ‘n Besluit om die Woord te verwerp ten gunste van sogenaamde “menswaardigheid.” Dis verbysterend en skokkend, en al het ons geweet dis die rigting waarin die NG Kerk nou al vir lank beweeg, was daar tog die gedagte dat dit nie nou al sou gebeur nie.

Die finale besluit moet nog afgerond word* en sal teen vanaand beskikbaar wees, maar die skade is reeds gedoen. My gemoed is onstuimig. Ek sal so gou moontlik met my dagbestuur/kerkraad hieroor vergader.  Dit het nag geword vir ons geliefde NG Kerk! Gaan daar dapper manne en vroue opstaan vir die waarheid?

Gelukkig sal die Lig, Jesus bly skyn! “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Johannes 1:4)

*Hierdie is dus ook net ‘n voorlopige reaksie van my kant af.

So het die berig in die pers verskyn:

Ja! vir gay mense in NG Kerk

Deur Claudi Mailovich Donderdag 08 Oktober 2015 16:25

Die NG Kerk het Donderdagmiddag ‘n voorstel aanvaar dat gay lidmate nie meer selibaat hoef te wees nie, en burgerlike verbintenisse kan in ‘n kerk bevestig word.

Die finale voorstel sal met ‘n tweede ronde stemme gefinaliseer word en dus kan daar nog klein wysigings gemaak word, solank as wat dit nie die kruks van die voorstel verander nie.

Dit is die hart van die geskiedkundige voorstel wat aanvaar is in ‘n stemproses wat Donderdag deur die NG Kerk se algemene sinode in Pretoria gemaak is.

Die NG Kerk se algemene sinode het gekies om vorentoe te beweeg in die kerk se standpunt rondom eengeslagverhoudings.

Dié voorstel van dr. André Bartlett is aanvaar met 102 stemme teenoor die 88 stemme wat dr. Chris van Wyk se voorstel aanvaar het.

Van Wyk het voorgestel dat die kerk nog verdere navorsing oor eengeslagverhoudings doen.

Bartlett se voorstel, wat as substantiewe voorstel aanvaar is, kan steeds gewysig word deur die voorstellers en hul sekondante.

In effek het die NG Kerk se algemene sinode besluit die tyd om aan te hou met navorsing en nie ‘n besluit te neem nie, is verby.

“Ek is oorbluf, maar ek dink dis ‘n groot stap vorentoe vir die herstel van die gelykwaardigheid van al ons NG Kerk se gay lidmate,” het Bartlett direk ná die bekendmaking van die stemme gesê.

Trane van blydskap is van gesigte afgevee ná die aankondiging.

Bartlett se voorstel vra in dié stadium dat daar verklaar word dat hetero- en homoseksuele paartjies wat in ‘n verhouding van “persoonlike geloofsgehoorsaamheid met die Here leef” ten volle moet kan deelneem aan al die voorregte in die kerk.

Hulle herbevestig dat ‘n huwelik tussen een man en een vrou is, maar dat burgerlike verbintenisse tussen gay mense in die kerk bevestig kan word deur predikante wat “hulle weg oopsien” om dit te doen.

Verder word daar nie bykomende voorwaardes, soos die selibaatsklousule, aan gay lidmate gestel nie. 

Diskresie word aan die kerkrade gegee om hul eie standpunte en praktyke hieroor te formuleer en te reël omdat daar soveel diverse standpunte in die kerk hieroor is.”

Die Algemene Sinode van 2015 besluit God is ‘n leuenaar

Wynand Louw skryf:

“Die Algemene Sinode van 2015 het vandag besluit dat God ‘n leuenaar is.

God sê in sy Woord dat selfdegeslag seks sonde is.

Levitikus 18: 21 En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die Here. 22 Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.

1 Timoteus 1:9 ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars,10ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

God sê ook in sy Woord dat indien ons sonde doen en dan sê dat dit nie sonde is nie, ons God tot leuenaar maak:

1 Johannes 1:10 As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Die Algemene Sinode van 2015 het vandag besluit dat iets wat God sê sonde is (selfdegeslag seks) nie sonde is nie. Ons mag dus die daad pleeg en dan verklaar dat ons nie sonde doen nie.

God is dus volgens die Algemene Sinode se amptelike besluit ‘n leuenaar.

Ek sal later ‘n skakel na die amptelike besluit pos, wanneer dit beskikbaar is.”

Die Algemene Sinode besluit om die huwelik te skrap

Wynand Louw skryf verder:

“Die NG kerk se Algemene Sinode van 2015 het gister as volg besluit:

  • Die term huwelik word behou vir die verbintenis tussen een man en een vrou;
  • Erkenning word gegee aan burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag;
  • Van gay teologiestudente word nie langer verwag om selibaat te wees om gelegitimeer te kan word nie;
  • Kerkrade se diskresie word bevestig om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en reël.

Mense van dieselfde geslag mag nie in die huwelik tree nie (Die term word behou vir een man en een vrou) maar hulle mag seksuele verhoudings hê.

Dus: Jy mag nou amptelik in die NG Kerk seksuele verhoudings hê sonder om te trou. Dominies mag seksuele verhoudings hê buite die huwelik.

Wat is dus die doel van die huwelik? Wel nie veel nie. Dit is nog daar, maar is nie meer nodig vir seksuele verhoudings nie.

So het die sinode die huwelik in wese tot niet verklaar deur sy funksie as geheiligde, veilige spasie vir Godvererende seksuele verhoudings te vernietig.

Vraag vir ekstra punte: Mag almal buite egtelike seks hê of net gays, en word daar dus teen straights gediskrimineer?

GAYS: NG KERK MAAK GESKIEDENIS

Die trane het gevloei van blydskap toe die Algemene Sinode van die NG Kerk Donderdagmiddag ‘n nuwe pad met sy gay lidmate begin stap het. Die nuwe pad wil groot deure vir gay lidmate oopmaak, maar ook die reg van gemeentes erken om self ‘n eie standpunt oor die saak in te neem.

Die dag het begin met drie uiteenlopende voorstelle wat drie breë en uiteenlopende koerse vir die kerk aangedui het:

  1. Die handhawing van die status quo;
  2. Verdere studie met die oog op besluite by ‘n volgende sinode; en
  3. ‘n Erkenning van gay verbintenisse en die opheffing van die voorwaarde dat gay teologiestudente selibaat moet bly om gelegitimeer te word.

ʼn Lang debat wat die hele oggend geduur het, is hieroor gevoer.

Verteenwoordigers van die Oostelike sinode se diensraad het aangedui dat hulle beskrywingspunt vir die status quo kan wegval, wat die sinode met twee opsies gelaat het.

Ds Nelis van Rensburg, moderator, het die sinode gevra watter van die twee oorblywende koerse die sinode wil volg. In ‘n stemming met geslote stembriefies het die sinode met 102 teen 88 stemme gestem vir die laaste opsie.

Dit was ‘n beslissende keuse, maar nog nie ‘n finale besluit nie. Die voorstel is terugverwys om te kyk of dit verbeter kan word deur aspekte van die ander voorstelle ook daarby in te sluit. Die wese van die voorstel kan egter nie meer verander word nie.

Van die punte van die voorstel (voordat dit verder verfyn is), is:

  • Die term huwelik word behou vir die verbintenis tussen een man en een vrou;
  • Erkenning word gegee aan burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag;
  • Van gay teologiestudente word nie langer verwag om selibaat te wees om gelegitimeer te kan word nie;
  • Kerkrade se diskresie word bevestig om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en reël.

Die geslypte voorstel word Vrydag aan die sinode voorgelê om ‘n finale besluit te neem.”

(Sien ook hierdie besluit van die NGK oor die Belhar belydenis wat die kerk nou amptelik skeur: Dit is nou amptelik: Die NG Kerk gaan skeur)

Advies

Ek het reeds in my vorige skrywe oor die saak (Die Evangelie is op die spel) my advies gegee aan gelowiges wat nog oor is in die NGK, mag die Here daardie gelowiges nou versterk om die pad van daadwerklike reformasie en terugkeer na die Here te loop.

Elke gelowige in die NGK moet hul kerkrade nou oproep om openlik standpunt in te neem teen die sinode se dwalende besluit deur die NG kerkverband te verlaat, en weer ware kerkverband te soek met ander kerke wat nog kerk van Christus wil wees.

Dit is nou ‘n kwessie van 2 Kor.6:14-18.

Indien jou predikant/kerkraad dit nie wil doen nie, soek persoonlik en saam met jou gesin ‘n ware kerk op volgens wat ons bely in NGB art.29.

Die volgende aanhaling is heel waarskynlik nie presies so van Maarten Luther nie, maar dit is wel baie relevant vir ons dag en onderwerp:

“If I profess with the loudest voice and clearest exposition every portion of the Word of God except precisely that little point which the world and the devil are at that moment attacking, I am not confessing Christ, however boldly I may be professing Him. Where the battle rages there the loyalty of the soldier is proved; and to be steady on all the battle front besides, is mere flight and disgrace if he flinches at that point.”

Laat ons biddend Mark.8:38 en 2 Tim.4:1,2 gehoorsaam in ons tye.

Mag die Here sy kerk genadig wees in hierdie tye !

“o God, verlos Israel uit al sy benoudhede!” – Ps.25:22.

11 thoughts on “NG Sinode 2015 kies die weg van die duisternis en die dood

Add yours

  1. Ek dink die NG Kerk se algemene sinode het vergeet in wie se diens staan hulle. Hulle werk vir God en is daar gestel om sy woord te bevorder en nie hulle eie idealisme en self verryking nie. As jy kyk na artikel 1 van die NG Kerk se kerk orde lees dit as volg: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreels.

    Die algemene sinode is ook veronderstel om na die welstand van die NG Kerk en sy gemeentes om te sien. Hulle is besig om alles te vernietig deur preuke en uitlaatings en besluite te neem wat eerstens is wat die mens wil hoor en nie wat hulle moet hoor nie. Maar eenige iets om geld te maak. Hulle dink ons is onnosel en weet nie wat aan gaan nie, begin preek vir die mense wat hulle moet hoor en julle kerke sal weer vol word. Vergeet om polities korrek te wees en vergeet van om geld na te jaag en begin julle werk doen. Julle is veronderstel om na ons belange om te sien!

    Die woord TROU verwys na ‘n verbintenis tussen ‘n man en ‘n vrou
    Gen. 2:24, Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
    Matt. 19:5, Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.
    6, Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”
    1 Kor. 6:16, Of weet julle nie dat iemand wat met ‘n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.”
    Dit kan nie verwys na ‘n verbintenis tussen ‘n man en man, of ‘n vrou en vrou nie, want homoseksualisme is ‘n sonde en kan daarom nooit toegelaat word nie, want sonde kan nie vervul word soos ander wette nie! Sonde kan nie vandag verkeerd wees en more reg wees nie! In Levitikus 18:22-30 word homoseksualiteit vyf keer ‘n gruwel genoem!
    Rom. 1: 27, Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit
    Lev. 18:22, “Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ‘n afstootlike sonde
    1 Tim. 1: 9,’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars,
    10, ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.
    Lev. 20:13, “Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

    Net so min as wat ‘n persoon in sy oriëntasie én in die praktyk ‘n afgodedienaar kan bly nadat hy tot bekering gekom het, kan homoseksueel met hulle immorele ingesteldheid en al, belydende lidmate en predikante word. Hulle móét verlos, gereinig en geheilig word. Die Here het mense as mans of vroue gemaak, en beslis nie as homoseksueel nie. Dit is ‘n groot aanklag teen ons Skepper om te beweer dat mense só verwronge gebore word. Om volkome verlossing te verkry van hierdie onnatuurlike neigings en dade moet homoseksuele gereinig en geheilig word en hul sonde voor Here Jesus Christus belei, en dan ‘n normale, heteroseksuele verhouding handhaaf.
    1 Kor. 6: 9, Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen
    10, of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
    11, En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.
    Vir ‘n Christen, is dit sonde om meer as een huweliksmaat te he, omdat ons spesifiek beveel word dat ‘n man slegs een vrou mag he, en ‘n vrou slegs een man. Alhoewel dit toegelaat was dat ‘n man meer as een vrou kon he in die Ou Testament, is dit ook duidelik dat dit nooit God se oorspronklike bedoeling was nie. En let wel dat dit is a.g.v. hoerery (sonde) wat dit nie toelaatbaar is nie om daardie rede skryf Paulus, dat ‘n man slegs een vrou mag he, en ‘n vrou slegs een man.

    Rom. 1:18God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.
    19, Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring.
    20, Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie,
    21, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.
    22, Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas
    23, In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange
    24, Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer
    25, Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.
    26, Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang

    In die genetika is daar nog nooit homoseksuele gene in enige mens gekry nie. Dit is aangeleerde gedrag. Enige gedrag of ingesteldheid wat aangeleer is, kan met hulp indien nodig weer afgeleer word. Homoseksuele kan dus hulle sondige seksuele gedrag afleer net soos wat heteroseksuele wat aanhoudend immorele dade pleeg, hulle gedrag moet afleer. Homoseksuele gedrag kan net soos ander sondes volkome vergewe word.

  2. Mense…dis vir my hartseer dat Christene so uitsluitend is, terwyl Jesus self inklusief was. Hy het self die wette van die Jode oortree ter wille van ander mense. Gaan lees bietjie weer die Bybel. Jesus het ook nerens self iets gesê oor homoseksualisme nie! Hy het egter gesê ons moet mekaar liefhê. God aanvaar my en jou onvoorwaardelik. Hoe kan ons mekaar dan nie aanvaar nie. Is JY sonder sonde???? Nee, jy kan dit nie sien nie, want die valk in jou oog is te groot 😢 dis vir my hartseer dat ons mekaar veroordeel…terwyl dit God se werk is

    1. Jesus praat ook nooit teen verkragting, bestialiteit of bloedskande nie. Jesus het aanvaar dat almal hierdie dade as sondig beskou. Hulle het mos Levitkus 18 en 20 gehad. Jesus impliseer dat homoseksualiteit verkeerd is wanneer hy sê dat God die mens man en vrou gemaak het (Matteus 19:4-6). Volgens Jesus is selibaat die enigste alternatief (Matteus 19:12). Vir Hom is homoseksualiteit nie ‘n opsie nie.

    2. Above all Love, jy skryf:

      “…dis vir my hartseer dat Christene so uitsluitend is, terwyl Jesus self inklusief was.”

      Maar Jesus sê Hy is ‘uitsluitend’: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt.7)

      Om ongeregtigheid te werk, is om sy wet te verwerp, ook sy wet wat leer dat homoseksualisme sonde is.

      Jy skryf: “Hy het self die wette van die Jode oortree ter wille van ander mense”

      Ja, Jesus het mensewette verwerp, maar God se wet (die OT) gehandhaaf, sien Matt.5:17ev, dus ook sy wet teen homoseksualisme onder andere.

      Hy handhaaf ook God se wil en wet vir die mens se seksuele omgang en liefde, naamlik die huwelik tussen een man en een vrou, nie dieselfde geslag immorele verhoudings nie, sien Matt.19:1-11

      AAL skryf,

      “Gaan lees bietjie weer die Bybel. Jesus het ook nerens self iets gesê oor homoseksualisme nie!”

      Eerstens, soos hierbo genoem, Jesus het sy wil vir die mens gegee in Matt.19 vir die huwelik. Tweedens, raai ek aan dat jy weer die Bybel gaan lees, want deur sy apostel Paulus het Jesus Hom uitgespreek teen homoseksualisme, bv. Rom.1:25-32; 1 Kor.6:9-11.

      As jy redeneer Jesus het dit nie gesê nie, dan glo jy nie Rom.1:1 en 1 Kor.1:1 nie ?

      AAL skryf,

      “Hy het egter gesê ons moet mekaar liefhê. God aanvaar my en jou onvoorwaardelik. Hoe kan ons mekaar dan nie aanvaar nie.’

      Ja, ons moet mekaar liefhê, maar volgens watter waarheid en standaard ?

      Kyk wat sê Jesus,

      Joh 14:15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

      Joh 14, 21Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. ….
      24Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

      So, iemand wat beweer om mekaar lief te hê en/of die Here lief te hê deur sy gebooi te vertrap en te verag, leer ‘n valse liefde, eintlik haat teenoor die naaste.

      Jesus skryf oor diesulkes,

      Matt.5:19, Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

      Jammer AAL, in liefde sê ek jy moet jou bekeer van die afgod van wêreldse ‘LIEFDE’ en die ware Here aanbid in Jesus Christus wat ons ken deur sy Gees en Woord.

      AAL skryf: “God aanvaar my en jou onvoorwaardelik. Hoe kan ons mekaar dan nie aanvaar nie.”

      Die Here aanvaar ons op grond van Jesus se sterwe aan die kruis, waar Hy in ons plek al ons sondes gedra het. Hy aanvaar ons nie met ons sondes om daarin te bly lewe en te geniet nie, maar juis sodat ons ons daarvan sal bekeer en daarteen sal stry. Hy haat sonde en veral valse profete wat sonde goedpraat.

      Kyk wat sê Jesus vir die owerspelige vrou:

      “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” (Joh.8:11)

      Ja, Hy veroordeel haar nie, maar Hy sê ook, nou dat jy bekeer en gered is, moenie aanhou sondig nie. Breek daarmee en lewe nou in dankbaarheid vir die Here.

      So ook, ons almal, of ons hetere of homo sondes geneig is om te wil doen of begeer. Christus verlos ons daarvan, en nou stry ons daarteen, ons vra nie vir kerke om ons sondes goed te praat en te heilig nie, dit is demoniese leuens en nie ware liefde nie.

      Lees asb. weer 1 Kor.6:9,10 en dan die genade en hoop van v.11.

      As iemand beweer hy/sy kan nie gered word van homo sonde nie, dan is jy ‘n leuenaar en valse profeet, dit is ‘n valse evangelie.

      AAL skryf:

      “Is JY sonder sonde???? Nee, jy kan dit nie sien nie, want die valk in jou oog is te groot 😢 dis vir my hartseer dat ons mekaar veroordeel…terwyl dit God se werk is”

      AAL, ek is al te bewus van my eie sondes en swakhede waarteen ek my hele lewe lank moet stry.

      Soos die gesegde sê, two wrongs does not make a right.

      As ons waarlik lief is vir mekaar, sal ons alle sonde veroordeel wat buite God se wil is, bv. hoerery asook homoseksualisme.

      Die rede waarom die homoseksualisme nog ‘n erger verval is, is omdat sondaars nou eis van beide kerk en staat om hul sondes goed te keur en te beskerm.

      Ek vra nie dat die kerk my sondes goedpraat of akkomodeer nie, want ware liefde is juis om sondes te haat en daarteen te stry.

      Sien ook hierdie program wat ek geskryf het om homo lidmate te help.

      https://proregno.com/2012/03/09/die-heidelbergse-kategismus-as-enigste-troos-vir-die-homoseksuele-en-alle-ander-sondaars/

      Daar is ‘n baie groot onderskeid tussen homo gelowiges wat hul sondes erken en daarteen stry, ons help hul graag, en volhardende homos wat eintlik God verag, sy gebooie verag, Jesus se bloed vertrap en eis dat hul sondes goedgepraat en aanvaar word, en dat hul nie soos ons ander sondaars hoef te bekeer en stry teen die sondes nie.

      Laastens, ja ons moet nie veroordeel nie, maar wel regverdig oordeel, d.w.s. volgens God se Woord (en nie ons tydsgees of sondige begeertes) regverdige sake beoordeel of dit reg of verkeerd is, en dan mekaar in liefde daarvolgens vermaan.

      Jesus eis dit van sy ware volgelinge,

      Joh.7:24, Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ‘n regverdige oordeel.

  3. KAAPSE STUDIEGROEP

    (Op Gereformeerde grondslag)

    9 Oktober 2015

    Liewe Vriende in Christus,

    Besluit van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit

    In die lig van die besluit van die Algemene Sinode van die Ned. Geref. Kerk op 8 en 9 Oktober 2015, is dit nodig dat ons wat die besluit nie ondersteun nie, aan die volgende aandag gee:

    1. Eers moet ons toesien dat ons gesindheid die voorbeeld van ons Here Jesus vertoon. Ons moet nie kwaad word nie en nie toelaat dat haat ons oorweldig nie. Biddend moet ons oorweeg wat om te doen terwyl ons gehoorsaam volg soos die Heilige Gees ons in die lig van die Skrif lei.

    2. Aangesien die plaaslike gemeente volledig kerk is, begin ons daar.

    a. Nader die plaaslike kerkraad en verneem of hulle die besluit aanvaar of verwerp.

    b. Aanvaar hulle die besluit, het ons geen ander keuse nie as om as lidmaat van die gemeente te bedank.

    c. Verwerp hulle die besluit, sal hulle die band met die Algemense Sinode moet opsê en word hulle ‘n gemeente buite Ned. Geref. Sinodale verband.

    3. Ons wat oortuig is dat ons in die lig van die Skrif, die besluit nie kan aanvaar nie, sal moet saam staan en mekaar ondersteun.

    As u met ons wil skakel, kan u dit doen per telefoon, ‘n e-pos, SMS of ‘n Whatsapp.

    Met vriendelike groete in Christus,
    Ronnie Neveling
    (Namens die Kaapse Studiegroep)
    E-pos: rneveling@gmail.com
    Tel: 021 903 2831 Sel: 078 260 1903 (Ook Whatsapp)
    Posadres: Middelstraat 16, Kuilsrivier. 7580

  4. Hi Slabbert
    Thanks for you thoughts on this, truly a sad day for Christs church.
    What happened with the GKSA mini synod on women in office of elder?

    Regards Marc
    Sent from my iPhone

    1. Hello Marc, the special synod did not take place in July 2015, there will now be a ‘buitengewone sinode’ in Jan.2016 to discuss and decide on all the ‘beswaarskrifte’ about women in office, for and against.

  5. Bid asseblief vir ons mede broers en susters in die NG Kerk wat gebuk gaan onder hierdie totalle aanslag teen die evangelie in hulle eie kerk verband.

    Bid vir wysheid, standvastigheid en deursettingsvermoee, want die stryd wat nou voorle gaan nie maklik wees nie.

    Die NG Kerk het geen keuse as om te skeur onder hierdie omstandighede nie. Jy kan onmoontlik nie in ekumeniese eenheid verkeer met “kerke” wat die evangelie verwerp het nie. Die NG Kerk se beheptheid met kerkeenheid ten alle koste begin nou ‘n Roomse kleur kry, en is besig om sy lig uit te doof.

    Hopelik kom daar ‘n kleiner, sterker, beginselvaster NG Kerk anderkant uit.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: