KERKGESKIEDENIS VIR KINDERS
Hoofstuk 12 & 13
Sien inleiding tot die reeks hier: Kerkgeskiedenis vir kinders
Bron waaruit aangehaal word: B. Spoelstra, Beknopte Kerkgeskiedenis vir Katkisasie
Hoofstuk XII DIE KAAPSE KERK IN DIE TYD VAN DIE KOMPANJIE
- Die volksplanting aan die Kaap, 1652.
Dit is bekend dat die eerste Nederlandse koloniste na die Kaap gestuur is om ‘n verversingstasie vir die groot handelskompanjie, die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, te stig. Die bestuur van die Kompanjie het in die Kaap alle seggenskap gehad. Hulle het opgetree in die plek van die Nederlandse regering.
Die Kompanjie was ook nie net in winste geïnteresseerd nie. Hulle wou ook die geestelike welsyn van hulle amptenare bevorder. Hulle het selfs begeer dat die barbare gekersten moes word. Godsdiens is in hoë eer gehou. Dit hoor ons dadelik uit die gebed van Jan van Riebeeck, as hy op 6 April 1652 aan die Kaap voet aan wal sit.
- Watter soort godsdiens was dit?
Let daarop dat 1652 maar net 33 jaar na die groot Sinode van Dordrecht 1618/1619, was. Die gees van hierdie Sinode het in daardie tyd nog helder in Nederland geleef. Die volksplanting aan die Kaap is daarom op leerstellige gebied in die suiwer gereformeerde gees van hierdie Sinode begin.
- Watter kerk is aan die Kaap gestig?
As ons hierdie vraag stel, hoor ons baie antwoorde. Die Hervormde Kerk kyk na die ontwikkeling van die moederkerk in Nederland en sê dit was ‘n Hervormde Kerk. Die N.G. Kerk kyk na die historiese ontwikkeling in Suid-Afrika en sê dit was ‘n N.G. Kerk. Die Gereformeerde Kerk kyk na die leerstellige en kerkregtelike inhoud van daardie kerk en sê dit was ‘n Gereformeerde Kerk.
Al hierdie mense het gelyk. Al drie Afrikaanse Kerke het uit die oorspronklike Gereformeerde Kerk wat in 1652 na die Kaap gebring is, ontwikkel. Die N.G. Kerk het in 1843, die Hervormde Kerk in 1853 en die Gereformeerde Kerk in 1859 hulle teenswoordige beslag gekry.
Aan die Kaap is in 1652 ‘n Gereformeerde Kerk geplant, met die Gees en arbeid van die Dordtse Sinode nog vars in die geheue van die Nederlanders.
- Die kerklike inrigting aan die Kaap.
In 1655 het die Kompanjie die eerste predikant, ds. Van Arckel, na die Kaap gestuur. Tot in daardie stadium is die mense aan die Kaap deur die sieketrooster en die predikante op die besoekende skepe bedien. Die sieketroosters moes elke aand na die ete godsdiensoefening hou. Sondae is ‘n gewone en kategismuspreek gelees. Verder moes hulle die siekes besoek, die jeug onderrig, ens. Alleen predikante mog die sakramente bedien. Die Politieke Raad het streng strawwe en boetes op amptenare gelê wat die godsdiens geminag of nagelaat het.
As ons na die geskiedenis van die kerk en gemeentes gedurende die tyd van die Kompanjie kyk, sal ons sien dat die mense geweldig noulettend was op die Kategismus, die suiwerheid van die gereformeerde leer en die handhawing van die gereformeerde beginsels.
Na 1795 word dit egter plotseling anders. Die verandering tree in wanneer die Liberalisme van die Franse Rewolusie (1789) deurwerk oor Europa. Dit kom vanuit Europa ook na die Kaap. Daardeur het die oorspronklike gereformeerde inhoud al meer uit die Kaapse kerklike lewe verdwyn, soos ons later sal sien.
- Die Kompanjie en die kerk.
Hoewel ons nadruk lê op die feit dat die volksplanting aan die Kaap slegs 33 jaar na die Dordtse Sinode geskied het, moet ons onthou dat die Dordtse Sinode in een belangrike opsig nie daarin geslaag het om sy doel ten volle te bereik nie. Die Sinode het nie daarin geslaag om die kerk teenoor die staat vry te maak nie.
- Nederland: In Nederland was dit die staatskerk.
Die staat wou nie die Dordtse Kerkorde formeel erken nie. Dit het beteken dat die kerkorde maar min of meer gegeld het. Gaandeweg het die ou kerkordelike beginsels al meer vergeet geraak, en die kerk het tevrede geword om bevoorregte staatskerk te wees. Dit was ‘n ongereformeerde vorm van kerkregering. Die staat het eintlik die rol van die sinode vervul. Die kerk in Nederland het in 1816, kort na die Napoleontiese oorloë, dan ook van koning Willem I ‘n nuwe kerkreglement ontvang. Toe is die naam van die kerk in Nederland van Gereformeerd na Hervormd verander. Dit was vir die kerk noodlottig dat die staat sy sake wou reël.
- Aan die Kaap: Aan die Kaap het die Regering van dieselfde gedagte uitgegaan. ‘n Verteenwoordiger van die Politieke Raad moes elke kerkraadsvergadering bywoon. Die owerheid het die laaste seggenskap gehad by die verkiesing van kerkraadslede, by die besteding van gelde, by die stigting van nuwe gemeentes, ens. Die kerk was Politieke belange het in die kerk ingeburger. Die Kompanjie as handelsmaatskappy wou darem ook nie te veel uitgawes aan die kerk bestee nie. Daarom is die gemeentes (kerke) aan die Kaap onmondig, afhanklik en uitmekaar gehou. Hulle kon nie saam ‘n klassis of sinode vorm nie. Onder die plak van die staat, in plaas van onder die gesag van die Bybel, kon die kerklike lewe nie suiwer gereformeerd bly nie. Dit het die weg gebaan vir groot veranderinge in die 19de eeu.
- Die uitbreiding van die Kaapse Kerk.
Die tweede kerk aan die Kaap was dié van Stellenbosch in 1686. Sybrand Mankedan was daar skoolmeester en sieketrooster.
Die koms van die Franse Hugenote in die jare 1688 het die kerk en die godsdienstige inslag van die Kaapse burgery aansienlik versterk. Die Hugenote was geformeerdes. Hulle het met die herroeping van die Edik van Nantes, wat die godsdiensvryheid in Frankryk ingetrek het, gevlug na lande waar hulle hul gereformeerde geloof kon handhaaf. In 1691 is aan die Kaap die derde kerk, Drakenstein, gestig.
Ondertussen het die vryburgers die binneland ingetrek, en die veeboerdery het hulle al dieper ingelei. Die Kompanjie was traag om meer kerke te stig. Uiteindelik is in 1745 die kerke Zwartland (Malmesbury) en Roodezand (Tulbagh) gestig. Toe was die mense ook al weer ver vooruit in die binneland. Eers in 1792 is Graaff-Reinet en in 1794 Swellendam gestig. Die dorpe het gewoonlik rondom die kerk gegroei.
Dit is ‘n wonder dat die ou Boere nie heidene geword het nie. Die mense kon met die wa en osse so selde by die kerk kom. Alle huwelike moes in Kaapstad gesluit word. Daar was so min direkte geleentheid om met die kerk in aanraking te kom.
Die mense het nie heidene geword nie, omdat hulle daagliks die ou Nederlandse Statebybel met sy verklarende aantekeninge en die preekbundels van ou gereformeerde skrywers gelees het. Die Kort Begrip of Kategismusverklaring en die Statebybel was feitlik die enigste skoolboeke wat gebruik is om te leer lees en skrywe. Die Bybel, Kategismus en preekboeke was in die binneland hulle kerk, skool, koerante en leesstof. Saans met huisgodsdiens is die bediendes ingeroep. So is die godsdienstige karakter van die Boerevolk met getroue huisgodsdiens en huiskatkisasie gevorm. Die aflegging van die belydenis van die geloof was feitlik die hoogste vorm van geleerdheid (vandaar die woord boerematriek).
Literatuur:
- du Toit: Kerkgeskiedenis, hoofstukke 40-12.
- Spoelstra: Die “Doppers” in Suid-Afrika 1760—1899, hoofstukke 1 en 2.
VRAE:
- Watter liggaam het die verversingstasie in 1652 aan die Kaap gestig? Was hulle net in die handel geïnteresseerd?
- Watter een van die drie Afrikaanse Kerke is aan die Kaap geplant ? Hoekom sê u so?
- Hoe is die mense geestelik bedien?
- Watter verandering word na 179S merkbaar?
- Wat was die verhouding tussen kerk en staat in Nederland?
- Wat was die verhouding tussen kerk en Kompanjie aan die Kaap?
- Skets die uitbreiding van die kerke tussen 1665 en 1794 aan die Kaap?
- Waarom het die Boere in die binneland nie onder die gebrekkige bediening verwilder nie?
Hoofstuk XIII INGRYPENDE VERANDERING VAN DIE KAAPSE KERK ONDER DIE BATAAFSE REPUBLIEK, 1804
- Hoe is die kerk onder die Kompanjie geregeer?
Al het die Dordtse Kerkorde nie formeel in Nederland of aan die Kaap gegeld nie, is die plaaslike gemeentes tog min of meer volgens die beginsels van die kerkorde regeer. Die groot leemtes was egter die volgende:
- Die goewerneur en Politieke Raad het die finale gesag gehad en gedurig ingemeng in die kerklike sake van die plaaslike kerke.
- Behalwe ‘n paar jaar (1745—1759) wou die V.O.I.K. glad nie toelaat dat die paar kerke (gemeentes) aan die Kaap saamkom om in ‘n gesamentlike kerklike vergadering oor hulle gemeenskaplike belange te spreek of te besluit nie.
Hoewel hier dus nie sprake van ‘n gesonde gereformeerde kerklike lewe kan wees nie, was die Gereformeerde gemeentes tot 1786 die enigste kerke wat van owerheidsweë toegelaat is. Hulle predikante is deur die Kompanjie geplaas en besoldig. Behalwe ‘n paar briewe per jaar na die klassis van Amsterdam, wat ‘n soort voog van die Kaapse gemeente was, is die kerke behandel as ‘n departement van die staatsdiens. Die tydperk van die Kompanjie het so die weg voorberei vir die groot verandering wat onder die Bataafse bewind in 1804 in die kerk afgekondig is.
Die predikante was staatsamptenare en kon nie sterk standpunt teen die owerheid inneem nie. Die lidmate in die binneland kon feitlik net met nagmaalstye en soms nog minder met die kerk in aanraking kom. Van hulle kon amper nie weerstand verwag word as daar veranderinge in die kerk ingevoer sou word nie. Tog kry ons later dat in Suid-Afrika net soos in Nederland deur eenvoudige gelowiges teen die veranderinge geprotesteer word.
- Die veranderde Europa.
In Europa het die Franse Rewolusie in 1789 plaasgevind.
Die burgerstand het in opstand gekom teen die adel en die gevestigde tradisie op politieke en sosiale gebied. Alles moes met die kreet van vryheid, gelykheid en broederskap gelykgemaak word. Hierdie nuwe gees van die Liberalisme wou niks weet van iets soos die gesag van die Bybel, die kerk of die belydenis nie. Die volkswil is die wil van die god van die rewolusie. Die helfte plus een by die stembus regeer die wêreld.
Die troepe van Napoleon het hierdie nuwe gees van demokrasie en liberalisme vanuit Frankryk oor Europa gedra. Die ou orde is omvergewerp. In Nederland moes die Prins van Oranje na Engeland vlug.
Dit het veroorsaak dat Engeland in 1795 die Kaap voorlopig in besit geneem het, sogenaamd om dit vir Holland te beskerm. By die Vrede van Amiens (1802 is egter bepaal dat die Kaap teruggegee moes word aan die Bataafse Republiek (Nederland).
- Die Bataafse bewind aan die Kaap, 1802—1806.
Daarom stuur die Bataafse Regering in 1802 goewerneur Janssens en kommissaris-generaal
J.A. de Mist na die Kaap om die regering oor te neem. Hierdie manne was bekwaam, deeglik en hardwerkend. In die vier jaar aan die Kaap het hulle veel gedoen om die wanorde in die Kompanje-administrasie op te ruim. Hulle was egter nie Calviniste nie, maar “verligte” mense wat besiel was met die liberale ideë van die Franse Rewolusie.
De Mist het daarom ook ‘n nuwe kerkordonnansie opgestel, wat in 1804 in werking getree het. Hierdie kerkwet het geweldige groot betekenis gehad.
- Die Kerkorde van De Mist.
- Sy grondgedagte: De Mist het geglo dat een kerk nie, soos aan die Kaap gebeur het, bo ‘n ander bevoorreg mag wees nie. Alle mense is gelyk. Daarom moet alle kerke gelyk wees en hulle self versorg. Daar moet ‘n skeiding wees tussen die kerk en die staat. Verdraagsaamheid moet geopen-baar word teenoor alle andersdenkendes.
De Mist het gesê die kerk moet die staat dien. Die kerk moet help dat daar goeie burgers vir die staat gekweek word. Die kerk moet sorg dat die burgery se deug en sedes bevorder word. De Mist het die kerk so nog verder aan die staatsgesag gebind en daarom juis nie die kerk en die staat geskei nie.
Let op: Hier bestaan die kerk nou ter wille van die voordeel wat dit vir die mens inhou (Humanisme). Dit is lynreg teen die Bybel, wat leer dat die kerk bestaan ter wille vari die eer van God. De Mist sien die kerk as ‘n slaaf van die staat.
- Die Kerkordonnansie: De Mist se kerkordonnansie bestaan uit 52 artikels, in twee hoofstukke verdeel. Die eerste hoofstuk bevat bepalings vir alle kerke en die tweede bepalings vir die “Hervormde Kerk-genootskap,” wat die grootste was. (Aan die Kaap was in 1804 ook een Lutherse gemeente.)
Die gees van die Rewolusie straal uit dié kerkwet. In plaas van die Naam van die Here word gepraat van ‘n vae, onbestemde “Hoogste Wese”. Die skole is losgemaak van die ouers en die kerk. Dit word nou staatsonderwys.
- Beoordeling: Die grondfout wat De Mist gemaak het was dat hy die kerk as ‘n genootskap gesien het. Dit is die liberalistiese Die kerk is vir hom ‘n vereniging waarby ‘n mens uit vrye wil aansluit. Jy word lidmaat as jy “aangeneem” word tot lidmaat van die vereniging. Die kinders is nie lidmate nie, maar die “toekoms” van die kerk.
Vir De Mist is die sinode eintlik die kerk. Dit is die kerklike parlement, die hoogste bestuur. Die gemeentes is takke van die sinode. takke van die genootskap. Die “kollege” (vergadering, bv. sinode) bestuur die kerk. Daarom word hierdie stelsel die Kollegialisme genoem.
Die blywende invloed wat De Mist in die Suid-Afrikaanse kerklike lewe gehad het, kan ons meet aan die nuwe gedagtes wat in die kerk ingebring is:
- die Kollegialisme;
- die genootskaplike kerkbegrip;
- die ondergeskikte posisie van die kerk teenoor die staat;
- die uitskakeling van godsdiens in die neutrale staatskool;
- die staatskool p.v. skole wat aan die ouers behoort;
- die leuse van godsdienstige verdraagsaamheid, wat die weg gebaan het vir vrysinnigheid in die kerk omdat leertug en die Bybel se gesag verdwyn het.
De Mist het dit ongetwyfeld goed bedoel met die kerk. Die kerk het nou vir die eerste maal ‘n vaste kerkreëling aan die Kaap gehad, al is dit nie dadelik ten volle toegepas nie.
Die doel heilig egter nie die middel nie. Die probleem was dat die Bybel onversoenbaar is met die liberale gees. Die Bybel noem die kerk die Bruid van Christus. Dit is God wat sy kerk deur die Woord en Gees vergader. Die kerk is daarom nie ‘n vrywillige en willekeurige vereniging (genootskap) van mense nie, maar die kerk moet ‘n vergadering van gelowiges wees, wat wortel in die verkiesende genade van God. Die kerk bestaan nie ter wille van die mens (deug en goeie sedes) nie, maar bestaan in die eerste plek ter wille van God se eer.
Die jaar waarin die ou gereformeerde beginsels finaal plek gemaak het vir die beginsels van De Mist se kerkwet (1804), word die sterfjaar van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika genoem.
Literatuur:
- du Toit: Kerkgeskiedenis, hoofstuk 43.
- P. Jooste: Die verhouding tussen kerk en staat, hoofstuk 5.
VRAE:
- Watter groot leemtes het onder die Kompanjie in die kerkregering aan die Kaap bestaan?
- Hoe het dit die verandering onder De Mist voorberei?
- Watter groot verandering vind in Europa teen die einde van die 18de eeu plaas?
- Watter nuwe gees lê op die gemoedere beslag?
- Watter politieke Verandering het in 1802 aan die Kaap plaasgevind?
- Watter belangrike bydrae het De Mist in 1804 tot die Kaapse kerklike lewe gedoen?
- Wat was De Mist se grondgedagte in sy kerkordonnansie?
- Watter gees straal uit die kerkwet?
- Hoe het De Mist die kerk beskou?
- Watter blywende betekenis het De Mist vir die kerklike lewe aan die Kaap gehad?
- Waarom sou ons 1804 die sterfjaar van die Gereformeerde Kerk aan die Kaap kon noem?
Hallo Slabbert,
Ek lees nou so vinnig deur jou notas oor die kerkgeskiedenis en sien toe wat jy s^e oor de Mist en sy siening dat die kerk die staat moet dien deur beter burgers van die mense te maak. Is dit nie maar dieselfde as hoe baie mense vandag ook die kerk sien nie? Baie oproepe word tot kerke gemaak om die morele verval te help keer, ens.
Groete
Johan
Hallo Johan, stem saam met jou opmerking (oor prof Spoelstra se skrywes – dit is nie myne nie, ek plaas so paar van sy boekie se hoofstukke oor die die Kerkgeskiedenis op my blog), dit is presies wat vandag gebeur: (valse) redding deur moraliteit/moralisme, nie Jesus Christus alleen nie, sien HK Sondag 11.