KERKGESKIEDENIS VIR KINDERS: HOOFSTUK 1&2

KERKGESKIEDENIS VIR KINDERS 

Hoofstuk 1 & 2

In aansluiting by die vorige skrywe oor die Kerkgeskiedenis-kamp, plaas ek ‘n paar hoofstukke oor die kerkgeskiedenis hier op my blog, in die komende weke tot en met die gemeentekamp plaasgevind het (5-7 Februarie 2016).

Die hoofstukke kom uit prof Bouke Spoelstra se boekie geskryf spesifiek vir kinders oor kerkgeskiedenis: Beknopte Kerkgeskiedenis vir Katkisasie.

Ek gaan spesifiek fokus op die hoofstukke oor die SA kerkgeskiedenis, met die oog op die kerkgeskiedenis-kamp.  Let wel, dit is baie oorsigtelik (daarom die woord ‘beknop’), prof Spoelstra vermeld ook bronne vir verdere studie.

Dit is belangrik om ook ons kerkgeskiedenis te ken, sodat dit ons ook kan help om die huidige aanslae (Hebr.13:7-9) in die lig van die Heilige Skrif te kan beoordeel, vir ons en ons kinders (Hand.17:11).

Hier is my eie artikel oor die kerklike situasie tot en met 2004: ‘n Gereformeerde perspektief op die geskiedenis en huidige ontwikkelinge in die GKSA.

Twee lesings oor: Waarom Gereformeerd ?

Ek plaas vandag die inhoudsopgawe, inleiding, voorwoord en hoofstuk 1 van prof. Spoelstra se boek:

INHOUDSOPGAWE

INLEIDING

VOORWOORD VAN DIE DEPUTATE VIR KATKISASIE

WOORD VOORAF BY DIE TWEEDE DRUK

DEEL I

ALGEMENE KERKGESKIEDENIS VANAF PINKSTER TOT IN NEDERLAND 1892

Hoofstuk 1: WAT IS KERKGESKIEDENIS?
Hoofstuk 2: DIE BEGIN VAN DIE KERKGESKIEDENIS
Hoofstuk 3: DIE TYDPERK VAN VERVOLGING VAN DIE KERK (65 tot 324 n.C.)
Hoofstuk 4: DIE INWENDIGE TOESTAND VAN DIE KERK VOOR DIE ROOMSE KERK
Hoofstuk 5: DIE OPKOMS VAN DIE ROOMSE KERK
Hoofstuk 6: DIE ROOMSE KERK EN SY LEER
Hoofstuk 7: DIE KERKHERVORMING
Hoofstuk 8: DIE UITBREIDING VAN DIE KERKHERVORMING EN DIE ROOMSE REAKSIE DAARTEEN
Hoofstuk 9: DIE KERK IN NEDERLAND, DIE LAND VAN JAN VAN RIEBEECK
Hoofstuk 10: DIE GEESTESTROMINGE IN EUROPA

Hoofstuk 11: DIE GESKIEDENIS IN NEDERLAND, 1619-1892

DEEL II

SUID-AFRIKAANSE KERKGESKIEDENIS

Hoofstuk 12: DIE KAAPSE KERK IN DIE TYD VAN DIE KOMPANJIE

Hoofstuk 13: INGRYPENDE VERANDERING VAN DIE KAAPSE KERK ONDER DIE BATAAFSE REPUBLIEK, 1804

Hoofstuk 14: DIE ONTSTAAN VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 1843

Hoofstuk 15: DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE EN DIE HERVORMDE KERK IN DIE REPUBLIEKE

Hoofstuk 16: “DIE DOPPERS”

Hoofstuk 17: DIE STRYD OP KERKLIKE VERGADERINGS VAN DIE NEDERDUITSE GEREEORMEERDE KERK

Hoofstuk 18: DIE STRYD OP KERKLIKE VERGADERINGS VAN DIE

NEDERDUITSE HERVORMDE KERK VAN TRANSVAAL, 1853-1859

Hoofstuk 19: DIE KOMS VAN DS. POSTMA, 1858.

Hoofstuk 20: DIE GEREFORMEERDE KERK WORD HERSTIG, 1859.

Hoofstuk 21: DIE UITBREIDING VAN DIE GEREFORMEERDE KERKVERBAND

Hoofstuk 22: DIE GEREFORMEERDE KERK IN S.A.

Hoofstuk 23: DIE ONDERWYSINRIGTINGS

DEEL III

DIE SEKTEWESE

Hoofstuk 24: KERK EN SEKTE

Hoofstuk 25: SEKTES WAT DIE APOSTELAMP OORSKAT

Hoofstuk 26: SEKTES WAT DIE WEDERKOMS VAN CHRISTUS OORDRYF

Hoofstuk 27: PERFEKSIONISTIESE SEKTES

Hoofstuk 28: GODSDIENSTIGE STROMINGE

WOORD VOORAF

Die eerste ontmoeting van die kind met kerkgeskiedenis maak ‘n eenvoudige handboekie onmisbaar.

Op die oproep van die Deputate vir Katkisasie het die opsteller in 1960 geprobeer om in die behoefte te voorsien.  In alle beskeidenheid is hierdie werkie aangebied.  Op versoek van die Deputate is ‘n geringe uitbreiding by die tweede druk en ‘n inleiding op die Sektewese aangebring.

Dit is bedoel vir die kinders.  Daar is getrag om ‘n draad deur die verskillende hoofstukke vas te hou.  Tegelykertyd is, met die oog op die so noodsaaklike verbreding van kennis by die onderwyser en die belydeniskatkisant, aan die einde van elke hoofstuk ‘n beperkte literatuurlys geplaas.  Daarin word deurgaans aangetoon hoe die omvattender “Handleiding vir die studie van kerkgeskiedenis” deur prof.  S.  du Toit en Dwaling en waarheid deur prof.  S.  P.  v.d.  Walt by die derde deel hiermee saam gebruik moet word.  Die literatuurlys kan ook gebruik word om opstelle te laat skryf oor hoofstukke waaraan meer aandag gegee moet word.  Dit is egter baie noodsaaklik dat die onderwyser van die literatuur gebruik sal maak.  Die onderwyser moet oor meer kennis beskik.  Dit sal die behandeling van die hoofstukke ten goede kom.  Vir groter doeltreffendheid is ‘n aantal vrae aan die einde van elke hoofstuk geplaas.

Ons is ons bewus van baie gebreke wat hierdie poging aankleef.  Mag die Here dit egter gebruik om liefde en belangstelling vir die suiwere openbaring van sy kerk op aarde by katkisant en onderwyser wakker te maak.  Dit is die opregte bede van die opsteller.

B. Spoelstra

Bellville, 1963.

Hoofstuk I

WAT IS KERKGESKIEDENIS?

Kerkgeskiedenis is die geskiedenis van die kerk.  Die woord kerk beteken presies dieselfde as die woord gemeente.  Dit is twee woorde van verskillende stamwoorde afgelei (bv. soos munisipaliteit en stadsbestuur dieselfde beteken).  Ons Bybel vertaal die woord altyd met gemeente, bv.  gemeente van Efese, van Smirna, ens.  (Openb. 2 en 3).  Dit kon ook met kerk vertaal gewees het.

Die kerkgeskiedenis beskryf die pad waarlangs die georganiseerde kerk op aarde beweeg het.

Wat is die kerk of gemeente?

Die woord kerk of gemeente het in die Bybel tweërlei betekenis, naamlik ‘n algemene en ‘n plaaslike kerk.

  • Die heilige algemene Christelike kerk.

In die eerste plek maak die Bybel gewag van die gemeente (kerk) en bedoel daarmee die Liggaam van Christus, sy Bruid, sy Tempel van lewende stene gemessel.  Hierdie gemeente (kerk) is wêreldwyd en word deur die lang eeue heen deur die ware gelowiges uit alle volke, tale en nasies gebou.  Dit is die gemeente (kerk) van die uitverkorenes, soos God dit ken.  Die mens kan nie oor alle eeue en lande heen kyk nie.  Vir die mens is hierdie kerk daarom onsigbaar.   Lees nou eers Sondag 21, vraag 54, in die Heidelbergse Kategismus en art.  27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.  (Lg.  word verder tot N.G.B.  afgekort.)

  • Die plaaslike kerk.

In die tweede plek noem die Bybel ook die vergadering van gelowiges op ‘n sekere plek en tydstip ‘n gemeente of kerk.  Hierdie plaaslike gemeente is ‘n kerk wat gesien word.  Dit bestaan uit gelowige broeders en susters (klein en groot) en word deur God regeer onder leiding van ampsdraers.  So spreek die Bybel van die gemeente (kerk) van Korinthe, van Efese, van Antiochië, ens.  Dit is die sigbare kerk op ‘n bepaalde plek en in ‘n bepaalde tyd.  Dit is die kerk soos ons dit sien en waaraan ons behoort, nl.  ons gemeente.

Die verhouding van die algemene tot plaaslike kerk.

Die plaaslike kerk (gemeente) moet so suiwer moontlik die onsigbare of heilige algemene Christelike kerk openbaar.  Die plaaslike kerk moet ‘n portret wees van die Bruid van

Christus.  Dit moet in die klein wees wat die heilige algemene Christelike kerk in die groot is.  Die Here werk die geloof deur sy Woord en Gees in die gelowiges.  So word ons in die eerste plek lidmate van die ware kerk, die onsigbare Liggaam van Christus.  Maar nou spreek dit in die tweede plek vanself dat almal wat op ‘n bepaalde plek dieselfde geloof het, ook bymekaar moet kom.  So word die plaaslike kerk dan gevorm.  Die onsigbare kerk (die uitverkorenes) is eerste; die plaaslike gemeentes vloei daaruit voort.

Die plaaslike kerke (gemeentes) gaan verby, en by die voleinding sal dit net die algemene Christelike kerk wees wat dan uit alle volke en tale voltooi en klaar gebou sal wees.  Hierdie algemene kerk, die Liggaam van Christus, beërf dan die nuwe aarde.

Die Kerkverband.

Gelowiges wat dieselfde geloof het, verenig met mekaar om ‘n gemeente te vorm (vgl.

Kategismus, vraag 55; N.G.B., art.  28).  Net so vorm die gemeentes weer ‘n kerkverband met die gemeentes (kerke) wat met hulle één is in geloof en kerkregering.  So ontstaan dan klassisse en sinodes (die kerkverband).  Ons dink baiemaal die sinode is die eintlike kerk waaraan ons behoort.  Dit is nie so nie.  Ons behoort aan ‘n gemeente, ‘n plaaslike kerk.  Omdat ons daaraan behoort, kry ons gevolglik deel aan die kerkverband, waar die kerk-raad saam met ander kerkrade regeer.

Konklusie.

‘n Kerk (gemeente) is daarom altyd (sigbaar of onsigbaar) ‘n vergadering van gelowiges.  Dit is ‘n vergadering wat die Here deur sy Woord en Gees vergader, regeer en bewaar.  Sodra ‘n kerk (gemeente) nie meer aan die Woord en Gees gehoorsaam is nie, word dit ‘n valse kerk of kerkver-band.  Dit maak art.  29 van die N.G.B.  duidelik.  (Gaan die kenmerke van die ware en valse kerke in die artikel na.)

Die verskil tussen die kerk en ‘n genootskap.

In art.  27 en 28 van die N.G.B.  en vraag 54 van die Kategismus het ons gesien dat die kerk ‘n vergadering van gelowiges is wat die Here deur sy Woord en Gees vergader.  Die bestaan van die kerk is daarom gegrond op die wil van God en nie op die wil van mense nie.

Daarom kan ons die kerk of gemeente nie as ‘n genootskap of vereniging van mense beskou of so van die kerk praat nie.  Mense stig ‘n landbougenootskap of musiekvereniging, maar die Here vergader sy kerk.  Hiermee neem ons Gereformeerdes sterk standpunt in teen alle valse kerkbegrippe.

Die kerk kan dwaal.

Dit is egter in hierdie sondebedeling so dat die sigbare kerk nog nie die onsigbare kerk volkome kan openbaar nie.  In die sigbare kerk kan mense wees wat nie waarlik tot die onsigbare kerk behoort nie.  Omdat hulle in die mode wil wees of ter wille van vriendskap, hulle werk, hulle man of vrou behoort hulle aan die kerk, maar nie omdat hulle waarlik in God glo en aan sy Woord gehoorsaam is nie.

Sodanige mense kan soms doelbewus hulle eie opvattings in die kerk invoer, direk teen die voorskrifte van die Woord in.  Aan die ander kant kan goeie gelowiges, vanweë hulle sonde, ook onbewus die waarheid verloor en dwaal.

Daarom kan die sigbare kerk of gemeente dwaal.  Net soos elke mens hom elke dag na die waarheid van die Woord moet bekeer, moet ook die gemeente, as ‘n liggaam, hom gedurig bekeer (reformeer) om gereformeerd te bly.  ‘n Liggaam moet die kwaad uitwerk, anders word dit siek.

  1. Die kerkgeskiedenis is daarom belangrik, want dit leer God se werk met sy kerk op aarde. Teenoor soveel swakheid en sonde by die kerk leer ons God se genade, barmhartigheid, lankmoedigheid en trou ken, soos Hy die swakke kerk beskerm, bewaar en hervorm.
  1. Ons leer ook baie dwalinge, kettery, sonde, ens. ken, waarmee Satan die kerk deur die eeue van die waarheid wou aftrek.  Hierteenoor het die kerk deur die eeue uit die Woord, onder leiding van die Heilige Gees, die waarheid   So is die Geloofsbelydenis deur die kerk geformuleer.
  1. Ons leer ook die eenheid van die onsigbare kerk bo die aardse verdeeldheid ken. Soos Abraham ‘n groter geloofsheld was as Lot, so verskil die kerke ook in hulle begrip en uitlewing van die waarheid.  Lot mag nooit ons ideaal wees nie.

Ons is geroepe om te stry vir die volmaakte — so is dit met kerke ook.  Sommige dink hulle vorm ‘n kerk, terwyl dit miskien glad nie die geval is nie.  Ander het soos Lot maar ‘n flou sin van die waarheid.  Die ware kerk moet vierkantig op die Woord van God staan.  Dan is dit suiwer en tot eer van God.

Die roeping tot reformasie

Al weet ons dat geen volmaakte kerk op aarde kan bestaan nie, moet ons altyd ons eie kerk aan die Skrif toets, sodat dit in belydenis en in kerkregering so suiwer moontlik in ooreenstemming met die Woord van God kan wees.  As die kerk dwaal, moet ons met krag daarteen getuig.  Dit gaan om God se eer, nie om menslike opinie nie.

Wanneer ‘n kerk egter hardnekkig weier om hom na die Skrif te hervorm (bekeer), word dit vals.  Dan is dit nodig om so ‘n kerk terwille van die waarheid te verlaat.  Dit moes Luther met die Kerkhervorming, De Cock in Nederland in 1834 en ook die Gereformeerdes in SuidAfrika in 1859 doen.

Die kerklike verdeeldheid op aarde is daarom ‘n gevolg van die sonde.  Die mens in die kerk is soms te swak om deur te tas na die volle waarheid en soms te hardnekkig om sy verkeerdhede te bely en daar van af te sien.  Dan moet so ‘n kerk ter wille van die gewete voor God verlaat word om tot ‘n suiwere kerkformasie oor te gaan.  Die wat afskei, kan egter ook sonde doen indien hulle nie deur die waarheid gelei word nie.  Om ‘n kerk te verlaat is ‘n gewetensaak voor God.

As die verskille egter verdwyn, d.w.s.  wanneer die ander hulle ook na die Skrif en belydenis hervorm het, dan moet die kerklike eenheid herstel word.  Kerklike eenheid of lidmaatskap van ‘n kerk mag egter nooit ten koste van die waarheid gesoek word nie.  Dan onteer ons God.

Ons glo dat die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika die suiwerste openbaring van die Liggaam van Christus is; daarom behoort ons daaraan.  Ons behoort nie daaraan omdat ons glo dat dit die alleensaligmakende kerk is nie.  Ons behoort daaraan omdat ons glo dat dit die eer van God die suiwerste dien.  Dit moet ons uit die kerkgeskiedenis leer.

Opmerking: 

Die katkisante moet art.  XXVII tot XXXII uit die N.G.B.  opsom.  Veral art.  XXIX is baie belangrik.  Daarmee saam moet vrae 54, 55 en 123 van die Heidelbergse Kategismus geleer word.  Ons uitgangspunt is die geloof wat ons bely.

Literatuur: 

  1. du Toit: Handleiding vir die studie van kerkgeskiedenis, hoofstuk 1.

VRAE:

  1. Wat is kerkgeskiedenis?
  2. Met watter twee betekenisse word gemeente (kerk) in die Bybel gebruik?
  3. Wat is die kerk volgens vraag 55 van die Kategismus en art. 27 van die N.G.B.?
  4. Hoe kom die kerk volgens vraag 54 van die Kategismus tot stand?
  5. Hoe kom die plaaslike kerk volgens artt. 27 en 28 N.G.B. tot stand? Is dit ‘n menslike genootskap of vereniging?
  6. Wat is die verhouding van die heilige algemene kerk tot die plaaslike kerk?
  7. Hoe kom die kerkverband tot stand?
  8. Wat is die kenmerke van die ware kerk en van die valse kerk volgens N.G.B. art. 29?
  9. Hoekom kan die kerk dwaal?
  10. Wat leer die kerkgeskiedenis ons?
  11. Watter roeping het God ons t.o.v. die kerk gegee?
  12. Waarom bestaan die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en waarom behoort ons daaraan?

One thought on “KERKGESKIEDENIS VIR KINDERS: HOOFSTUK 1&2

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: