Jesus is die Een wat moes kom,
daarom kan ons standvastig bly
Skriflesing: Lukas 7:18-35
Preekteks: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” (v.19,20)
Die opname van die preek kan hier afgelaai word:
Hier volg die preeknotas:
Geliefdes in Christus,
Die omstandighede van ons land lyk nie goed nie.
Daar is verval op letterlik elke terrein van die lewe – van ekonomies politiese verval, droogtes wat ons tref – tot verval op die godsdienstige en morele terreine.
God se gesag, sy Woord word al meer verwerp.
Ons Christelike geloof word al meer bespot en bevraagteken, selfs uit kerklike kringe.
En dan kan daar vervolginge ook kom, wat dan twyfelvrae kan begin laat ontstaan:
Kan ons nog God se Woord, sy wet in vandag se moderne tye toepas ?
Moet ons nie maar die Evangelie begin aanpas by die mens se moeilike omstandighede nie?
Moet ons nie maar minder alle mense oproep tot geloof en bekering nie ?
Moet ons nie maar minder mense waarsku teen die werklikheid van die hemel en die hel nie ?
Hierdie, en baie ander vrae, is vrae waarmee self die beste van gelowiges mee kan worstel.
En dit gaan ons ook leer in ons teksgedeelte vandag,
maar dan ook, wat is die antwoord op al ons worstelvrae.
Ons doen dit onder die tema, spesifiek vanuit vers 19,20:
Jesus Christus is die Een wat moes kom,
en daarom kan ons standvastig bly in alle omstandighede
Ons let op 2 sake:
- die vermaning om standvastig te bly, v.18-23
- die bemoediging om standvastig te bly, v.24-35
1 Die vermaning om standvastig te bly, v.18-23
In ons teks, vind ons iets van ons worstelvrae heel konkreet by die grootste profeet van alle tye, Johannes die Doper.
– Ja, hy wat met krag en passie verkondig het: “DAAR is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem!” (Joh.1)
– Hy wat die hele volk vermaan het tot bekering van hul sondes (Matt.3; Luk.3)
– Hy wat teenoor die bose leierskap van die Jode uitgeroep het:
“ Luke 3:7-9 Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? 8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. 9 Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Dit is nou hierdie groot profeet, wat die vraag vra van v.19, 20 …
Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag? (x2)
Hoekom vra hy dit ?
Johannes se omstandighede het verander ….
Want kyk, hier sit hy nou in die gevangenis,
in plaas van om saam Christus in vryheid te dien.
Christus wat deur hom gedoop is !
Hoekom is Johannes in die gevangenis ?
Juis vanweë sy standvastigheid, juis omdat hy God se wil onbeskaamd gehandhaaf het midde sy tyd, wat ons gelees het:
Lukas 3:19-20 9 Maar toe Herodes, die viervors, deur hom bestraf is oor Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het, 20 het hy by alles nog dit gevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit het.
Heelwaarskynlik het Johannes gehoop, Jesus sou hom bevry,
oordeel oor Herodes bring … en hy sou saam Jesus dadelik regeer ?
Jesus is mos die Koning, die Een wat moes kom !
Maar toe nie.
Daarom die vraag deur sy dissipels aan Jesus, wat gaan aan, kyk my omstandighede !
Jesus se antwoord is:
Luk 7:22-23 Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. 23 En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
Al die wonderwerke, is vervulling van die OT profesieë, oa Jes.35:5,6; 61:1 en ander plekke.
Ja, Jesus is die Een, daar is nie ‘n ander nie … en sal nooit wees nie.
Maar, Jesus doen juis wat sy hemelse Vader Hom gestuur het om te doen:
Die verlossing van verlore sondaars !
Die oordeel, die ewige oordeel sal later kom, is komend.
Maar nou moet die genade eers bedien word.
En in die woorde van v.23, is dan juis ‘n ligte liefdevolle vermaning, vir sy dienskneg (vir ons!)
Salig die wat in Jesus nie aanstoot neem nie, die Jesus van die Skrifte, die Jesus soos God Hom aan ons openbaar (sien HK v/a 95).
“Johannes, vervul jou roeping deur My te aanvaar soos ek moet wees, nie nou as Regter en Koning dadelik nie (dit kom later), maar as Verlosser en Redder.
Moenie soos baie ander ywerige politiese Jode in My aanstoot neem omdat ek die Koninkryk nie bring ‘soos jy’ dit wil hê of verwag nie.
Kyk weer na die Skrifte (OT), en sien die Messias, die Een wat moes kom,
bring ook redding en genade …”
Toepassing:
Nou geliefdes, ons moet sekerlik nie te hard wees op Johannes nie.
Hoeveel van ons het al letterlik in die gevangenis gesit, nie weens misdaad en onreg van ons kant nie, maar vir ons geloof alleen!?
Is dit nie maar ook so met ons baiemaal nie ?
– As my lewe nie die gang gaan wat ek wil nie, met my gesin, my gemeente, ons land … dan is daar die gevaar, dat ek wil begin vra … is die geloof nog vir my, of moet my geloof aangepas word, moet die geloof dalk nie maar minder bybels en minder ‘streng’ gereformeerd wees nie ?
– As dit lyk asof die Christelike geloof verdryf word, en veral vers 23, dat al meer vyandig word teen Christus en sy Woord, dan dink ek dalk:
dalk is ander gelowe ook waar, of het so iets van die waarheid beet
As ek siek word, geliefdes verloor, teleurstellings beleef … my omstandighede dus verander van voorspoed na teëspoed ….
… dan begin ek ‘die Een’ verlaat en soek op ander plekke verlossing .. die afgode om my gelukkig te hou, eie dinge om my te laat vergeet van my eie sonde en ellende …
Ja, dan begin baie in ons tye die bybels gereformeerde geloof verlaat
Baie begin die kerk verlaat
begin ons minder Bybel lees, te bid, want dit ‘werk’ nie meer nie …
Begin sommige te redeneer, dalk moet ons nie meer God se wet so streng hou in die kerke nie, veral nie die vierde en sewende gebod nie.
… Want die tye het verander, omstandighede het verander, en ons moet aanpas …
Wat is dan ons probleem geliefdes ?
Ons omstandighede, mense, die tydsgees word die maatstaf vir waarheid,
Ons sien die liefde en genade van die Here, nie meer in sy Seun alleen nie,
maar hoe goed of sleg dit met my gaan, my omstandighede ?
Ek kyk na my omstandighede, en dit raak my norm vir my geloof en optrede,
wat reg en verkeerd is.
Prof. Jordaan skryf iets daarvan in die nuutste Kerkblad, Nov.2015 uitgawe,
“Tye verander”, is gewoonlik die verskoning vir ’n nuwe koers wat ingeslaan word, veral wanneer mense skepties oor die verandering is. “Tye verander, en niemand kan dit keer nie. Verandering is onafwendbaar.” Hierdie slagspreuk is al dikwels as “argument” gebruik om kerklike besluite te probeer “deurdruk”, in besonder besluite wat nie die toets van die Bybel kan deurstaan nie. Hierdie slagspreuk is weer onlangs uitgehaal toe die nuus van die NG Kerk se gay-besluit Suid-Afrika getref het. Ons moet die besluit aanvaar, want tye verander nou maar eenmaal.”
Dus, as my geloof bepaal word deur die tydsgees volgens my omstandighede, staan dit direk in kontras met ‘n ware geloof wat bepaal word deur die Heilige Gees volgens sy Woord.
Geliefdes, hoe lyk dit in u lewe ?
Dalk was u in die ‘goeie ou dae’ baie ywerig vir die Here, sy Woord en sy kerk … maar het ons land en kerke se veranderende tye … u dalk verander om meer volgens die tydsgees deur die wêreld te begin lewe, dat u nou dink ons moet sonde aanpas, akkomodeer ?
Dalk is u al ver op hierdie pad, hoor dan die Here se roepstem vandag !
Moenie moed opgee nie, hou aan die goeie stryd stry !
Ons sien dat ons dierbare genadige Here, nie net vir Johannes vermaan nie, inteendeel, Hy bemoedig en versterk hom ook deur te getuig van die grootheid van Johannes, sy dienskneg.
Dit sien ons in v.24-30.
Die skare, volgelinge van die Doper het dalk begin dink:
Johannes het goed begin maar kyk waar is hy nou ?
… In die gevangenis ?
… aan die verkeerde kant van die owerhede ?
… plaas dat hy sy groot mond hou en nie die heidene en die regering van die dag so oor hul sondes aanspreek nie !
Plaas dat hy net vir ons preek en nie ook vir die ganse wêreld en almal wil tot geloof oproep nie !
Hoekom nou vir Herodes en Herodias aanspreek ?
Moet ons nie juis in hul goeie boekies bly nie ?
Ja, vandag hoor ons dit ook:
Die Christelike geloof moet nou heeltemal privaat word
Net gemeente versorg, die wêreld kan maar sy gang gaan
moenie vir Steve Hofmeyer aanspreek nie
moenie vir Zuma tot geloof oproep nie
moenie ander kerklike leiers vermaan nie
moenie die NGK leiers aanspreek wat soveel skape mislei nie.
Dit is die werklikheid van ons tye, die aanslae wat veral uit die sigbare kerk ook kom.
Met al sulke aanslae, moet ons bemoedig word om vas te bly staan, dit sien ons in 2de plek:
2 Die bemoediging om standvastig te bly in alle omstandighede
Jesus getuig van die waarheid en krag van Johannes se bediening.
Hy vra 2 retoriese vrae in v.24,25 wat almal ontkennend positief geantwoord word, wat dus beteken:
– Johannes was ‘n rotsvaste prediker, hy het gestaan vir wat reg is !
– hy het nie vir geld en weelde en aangesien gepreek nie, maar vir waarheid en God se eer, hy is ‘n man wat nie ‘n prys het nie, hy kon nie gekoop word om stil te bly in sy tye nie, selfs nie teen Herodes nie !
Johannes is ‘n profeet, ‘n profeet van God, wat so sê die Here verkondig het,
ongeag die gevolge.
En is dit nie menslik nie, om soos Johannes ook dan te twyfel nie ?
En daarom versterk Christus hom ook hier deur sy dissipels, en voor die skare.
Johannes, staan vas, bly getrou in jou roeping van God.
Daarom die bevestiging van sy roeping: v.27 ! (lees)
Hy is geroepe, God se boodskapper die grootste profeet (omdat hy Jesus se voorganger is, maar as boodskapper die kleinste, omdat hy nie die vervulling van die ou Verbond en profesie sal sien nie in sy omvang nie, hy sal sterf voor Christus alles volbring het van alles waaroor die profete geprofeteer het, en ook die vrug daarvan).
En, na Jesus se woorde, se preek, sien ons die tweesnydende aspek van die Evangelie:
– v.29: hulle wat Johannes en Jesus se woorde ter harte neem, bekeer hulle, identifiseer hul met Johannes se doop van bekering en sonde erkenning, hulle erken God se openbaring deur Johannes en Jesus.
– Maar, v.30 sien ons die verharding van hulle wat die weg van sondebelydenis en bekering verwerp, hulle verwerp God se reddingsplan, hul verwerp – soos hul goddelose vaders – die ware profete, Johannes en Jesus.
Hulle ontken dat hul sondaars is wat ‘n Verlosser nodig het (soos baie dit vandag doen!)
En dan, laastens, verduidelik Jesus, die volmaakte Profeet, die volmaakte Prediker v.29/30 se verskynsel, wat vir Johannes en sy dissipels ‘n troos moes wees
vir Jesus en sy dissipels
vir die kerk deur al die eeue
vir alle ware predikers deur die eeue (ook vandag)
vir almal wat die Woord orals verkondig, tydig en ontydig:
Hy vergelyk in v.30-34 mense se reaksie op die Here se reddingsplan, die evangelie, die verkondiging van sy Woord, met kinders wat nooit tevrede en gelukkig is nie (dit klink baie soos ons tye, lees 2 Tim.4:3,4!)
– party wil troue hou en gelukkige liedere sing … maar dan is sekeres nie tevrede daarmee nie
– ander wil begrafnis speel … maar dan is dieselfde klomp ook nie daarmee tevrede nie
So was dit met Johannes se bediening
en so was dit met Jesus s’n ook gewees
Johannes was ‘anti-sosiaal’, maar mense was nie tevrede nie, v.33
Jesus was ‘sosiaal’ in kontras met Johannes, maar mense was ook daarmee nie tevrede nie, v.34
So, sal dit ook vir die ware kerk en ware predikers deur die eeue wees.
Ja, kerke en predikers maak foute, sondig, struikel, ek weet maar te goed!
Maar daar sal altyd – ook in die sigbare kerk – soos met die ontevrede Jode van Jesus en Johannes se tyd – hulle wees wat nooit met Christus se Woord, die Evangelie alleen tevrede sal wees nie.
Nooit gelukkig met geen kerk of predikant nie.
En, as dit so met Johannes en Jesus was, hoeveel te meer met sy ware kerk, met ons !
Toepassing
Wat leer dit ons ook vir vandag ?
1. Waarheid, ons geloof, word nie bepaal deur ons omstandighede nie !
Ons moet dus baie versigtig wees, om enige gemeente, kerkverband, prediker se ‘sukses’ te toets aan getalle, aansien, populariteit, of almal van jou hou, ens.
In wêreldse oë was Johannes en Jesus se bedienings ‘n mislukking
– een se kop word afgekap en die ander een is gekruisig
Maar was hul bediening nutteloos, was hul standvastigheid, onwrikbaarheid van geen waarde ?
Nee, want, v.35 sê Jesus: Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.
Dit beteken, aan die vrugte (nageslag, wat nog kom) sal jy sien wat elkeen se bediening beteken.
Wysheid = God se wysheid, sy reddingsplan, evangelie, woord
Geregverdig = bevestig, getuig van in die vrug van sy kinders = dissipels van Johannes en Jesus, die kerk wat sou volg.
En, daarin het ons dit gesien:
Johannes het sy roeping volbring = grootste profeet, al moes hy sterwe
Jesus, sy Kerk bestaan en sal deur alle eeue bestaan, nie een van sy kinders sal verlore gaan nie (Joh.10:28; Filp.1:6).
En, wat ons gemeente betref,
Natuurlik wil ons ook graag groei in getalle, natuurlik is ons hartseer as lidmate weggaan vir verkeerde redes, ek is saam hartseer en besorg, en ja, soos Johannes, worstel ek baiemaal – is ek die een wat hier nog moet arbei ?
Dinge lyk soms donker, as ons na omstandighede kyk, mag die Here my ook help om aan te hou bekeer, waar ek sy wil oortree !
Maar, geliefdes, getalle mag nie ons norm raak nie, want ons moet bo alles, groei in ons geloof; heiligmaking; liefde tot God en liefde tot die naaste !
En in 8 jaar het ek dit beleef, en ek sien dit ook onder gelowiges hier, dank God!
2. Geliefdes, ons enigste Troos is: Jesus is die Een !
Hy het vir ons kom sterwe,
Hy maak alles nuut,
Hy is besig met jou en my (dank God!),
om deur alle omstandighede, gebrokenhede, worstelinge sy kerk te bou, tot die laaste dag.
Moenie wandel deur die tydsgees nie, moenie mislei word nie (Ef.4:11-16), toets jou geloof, gesinslewe, gemeente, ons tye aan God se Woord deur sy Gees.
Wander deur die geloof, bly standvastig in die geloof !
Moenie jou geloof bou op mense, opinies, tydelike dinge nie, maar op Jesus en sy Woord, wat, in die woorde van Hebr.13:8, gister en vandag dieselfde is en tot in ewigheid.
En, as dit beteken dat jy ook dalk onthoof moet word vir jou geloof soos Johannes die Doper, dan prys ons die Here, want ons het die troos:
En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. – 1 Joh.2:17
Glo jy dit ?
Amen.
Leave a Reply