Posted by: proregno | June 14, 2016

Opmerkings oor die “NT en die Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 7: Prof. GJC Jordaan se opmerkings oor Joh.1:14)

Product Details

Deel 7: Johannes 1:14

In deel 5 van hierdie reeks – met verwysing spesifiek na Joh.3:16 – is daar gewys op die probleme van die Direkte Vertaling se vertaling van die Griekse woord monogenes, nl. ‘enigste’ teenoor die OAV se ‘eniggebore’, sien hier:

Opmerkings oor die “NT en Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 5: Johannes 3:16)

Met toestemming van prof. Gert Jordaan (professor in Nuwe Testament en Grieks by die Teologiese Skool van die GKSA in Potchefstroom) plaas ek ook sy opmerkings oor Johannes 1:14 hier:

Johannes 1:14 (ook 1:18; 3:16, 18; vgl. ook 1 Joh 4:9)

deur prof. GJC Jordaan 

In die proefvertaling word μονογενής παρὰ πατρός in Joh 1:14 vertaal met die enigste Seun van die Vader.

Die vertaling enigste is m.i. egter nie in orde nie.

Motivering:

1) Die Griekse woord wat gebruik word om die begrip “enigste” aan te dui, is die b.nw. μόνος (bv. Rom 11:3 “Ek is die enigste (μόνος) een wat oorgebly het). Die bedoeling is dan: Daar is net die een en geen ander nie.

2) Sodra daar egter van kinders sprake is, word die b.nw. μονογενής gebruik. So verwys Lukas in Luk 7:12 na die enigste (μονογενής) seun van die weduwee en in Luk 8:42 na die enigste (μονογενής) dogter van Jaïrus

3) Dit lyk egter of μονογενής nie maar net ’n sinoniem vir μόνος nie, maar dat dit veral gebruik word om na spesifiek eie kinders verwys. In die lig van die destydse prak­tyk van aanneming van kinders, het die b.nw. waarskynlik gedui op kinders wat uit jouself gebore/verwek is. So gesien is die woord ’n same­stelling van μόνος (alleen, enigste) + die stam γεν-, van γεννάω (ge­boor­te skenk, genereer, verwek) of van γίγνομαι (ontstaan, gebore word). Waar die konteks dit vereis, sou μονογενής dus met enigste eie (kind) vertaal kon word of met enigste verwekte (kind).

4) Die woord kan egter in ’n nog meer toegespitse betekenis gebruik word. In Hebreërs 11:17 word Isak die μονογενής van Abraham genoem. Ons weet egter uit die geskiedenis dat Isak nie die enigste of selfs die enigste verwekte seun van Abraham was nie. Daar was tog ook Ismael. Maar Isak was uniek in dié opsig dat hy Abraham se enigste seun was wat volgens die belofte van God gebore is. So beskou, is die woord μονογενής ’n same­stelling van μόνος (alleen, enigste) + γενός (klas, soort ) en kan dit uniek-gebore vertaal word.

5) In Johannes se geskrifte word μονογενής spesifiek (en slegs) met betrekking tot Jesus gebruik. Tot so ’n mate dat dit byna die plek van ’n eienaam inneem in Joh 1:14: μονογενὴς θεὸς ὁ ὢν εἰς τὸν κόλπον τοῦ πατρὸς ἐκεῖνος ἐξηγή­σατο (Die μονογενὴς, God [self], wat uit die skoot van die Vader is ..). Hier in Joh 1:18 word die uniekheid van Jesus benadruk: Hy is, anders as enige mens, nie deur ’n man verwek nie, maar deur God die Vader. Tegnies sou μονογενὴς hier ten beste in Afrikaans weergegee kon word as “die uniek-gegenereerde.” Ek weet dat die vertaling in Afrikaans vreemd sal voorkom, maar dit beskryf ’n unieke saak waarvoor daar geen ander woord in Afrikaans bestaan nie. Dalk kan die taal-guru’s ’n haas uit die hoed ruk.

Voetnoot:

uniek verwek: In die bronteks word ’n woord gebruik wat dui op die unieke manier waarop Jesus verwek is, anders as enige gewone mens (vgl. vers 13).  Dit word ook as <eniggebore> vertaal.


Nota: Op die Bybelgenootskap se webblad, waar die nuutste proefvertalings gevind kan word, blyk dit dat hierdie opmerkings van prof. Jordaan ter harte geneem is (die opmerkings van my reeks is gebaseer op die 2014-proefuitgawe van die Direkte Vertaling, dus nie die nuutste veranderings nie): Direkte Vertaling: proefvertalings.

Ander dele in die reeks van vertaling opmerkings oor die DV is hier beskikbaar: Direkte vertaling opmerkings


Responses

  1. […] Opmerkings oor die “NT en die Psalms: ‘n Direkte Vertaling” (deel 7: Prof. GJC Jordaan se opme… […]

  2. Beste Slabbert,
    Ek stem volkome saam met prof. Jordaan se hantering van hierdie moeilike begrip. Hoe kry mens dieselfde inhoud in Afrikaans waar daar nie ekwivalente woorde bestaan nie.

    My vraag is egter waarom prof. Jordaan ‘μονογενής’ in Lukas 7:12, en seker ook die Johannese verse, sien as ” ’n same­stelling van μόνος (alleen, enigste) + die stam γεν-, van γεννάω (ge­boor­te skenk, genereer, verwek) of van γίγνομαι (ontstaan, gebore word).” terwyl hy dit in Heb.11:17 sien as “’n same­stelling van μόνος (alleen, enigste) + γενός (klas, soort.) “?

    Indien ons die feit dat God geen ander Seun ooit laat gebore word het nie, wil beklemtoon, is “eniggebore Seun” ‘n goeie vertaling.
    Indien ons egter die uniekheid as “klas” wil beklemtoon, is die geskepte term “uniek-gegenereerde” weer ‘n beter keuse. Maar wie van ons sou verstaan wat die inhoud van die keuse van die term sou behels?

    Vertaling van die Woord van God uit die brontale bly altyd ‘n geweldige uitdaging en uiterste verantwoordelikheid.
    .

    • Herman, ek dink uit ‘n konfessionele en kerkhistoriese oogpunt dit is beter om te bly by ‘eniggebore’, en dan in die voetnotas verduidelikings te gee soos ‘uniek verwerkte’, ‘uniek gegenereerde’, ens. Dit is nie asof a) laasgenoemde 2 vertalings, woorde is wat ons tans gebruik nie, en b) dat dit duideliker is as wat met ‘eniggebore’ gesê wil word nie. Daarom dink ek bly by die term soos deur die eeue kerkhistories oorgelewer, en verduidelik dan verder in voetnotas, kommentare, preke, onderrig, ens. hierdie moeilike, maar tog so belangrike woord/term van ons ongetwyfelde Christelike geloof.

  3. Ek stem saam met prof Jorrie. Theos (God) in 1:18 moet wees huios (seun): Seker ‘n skryffout.

    • Neels, dit lyk my prof. Jorrie volg die N-A Griekse teks, daarom die Theos (God) lesing, en nie soos in die Meerderheidsteks se lesing, huios (seun) nie.

      • Jy is reg, Slabbert. Die Nestle-Aland tekstipe lees ‘God’ waar die Meerderheidsteks-tipe ‘Seun’ lees. Omdat ek die Meerderheidsteks-tipe as betroubaar ag bo die N-A tekstipe, aanvaar ek die ‘Seun’-lesing as God se Woord. Dit is in elk geval in ooreenstemming met Psalm 2 vers 7: ‘U is my SEUN, vandag het Ek self U gegenereer’.

      • Hallo Neels, ek is ook nie voorstaander van die N-A tekstipe nie, maar van die Meerderheidsteks (soos jy), waarvan die TR deel van uitmaak. In die NA se lesing van Joh.1:18 moet ons wel toegee dat die ‘nuwere tekste’ hier ‘n baie duidelike lesing is ten gunste van die ‘Godheid van Christus’ (NGB art.10), en dus nie skuldig is aan die ontkenning van hierdie wesentlike leer van die algemene christelike kerk nie, soos wat somtyds beweer word.

  4. Heeltemal waar, Slabbert. Vir my le^ die dwaling agter die gedagte dat die Meerderheidstekstipe deur ander tekstipes aangevul kan word, soos die wetenskap van die Tekskritiek beweer, dat nie elke woord in die Bybel geinspireer is nie, maar slegs die woorde wat met die autographa ooreenstem, en dan is die dwaling verder dat ons onseker is of ‘Seun’ of ‘God’ God se Woord is. Die dwaling by die Tekskritiek is dus nie ‘n dwaling met betrekking tot die Godheid van Christus nie, maar ‘n dwaling mbt Skrifbeskouing. Die valse Skrifbeskouing se^ ons is onseker of ‘Seun’ of ‘God’ deel uitmaak van God se Woord, en op talle ander plekke in die Bybel is ons ewe onseker. Die suiwer Skrifbeskouing se^ saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis artt 3 tot 7 ons glo dat die Meerderheidstekstipe God se Woord is.
    Art 3: ‘heilige en Goddelike Skrif’ (‘Skrif’ is die versamelnaam van al die woorde in die Bybel).
    Art 4: ‘waarteen niks ingebring mag word nie’. Selfs nie teen die woord ‘Seun’ in Joh 1:18 nie. Niks nie.
    Art 5: ‘Ons glo sonder twyfel alles wat daarin vervat is’. Die tekskritiek leer ons om te twyfel, bv oor ‘Seun’ of ‘God’, soos die Duiwel vir Eva leer twyfel het aan die waarheid van God se Woord met ‘n oenskynlik-onskuldige vraag: ‘Is dit ook so dat God gese^ het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?’
    Ons bely die Meerderheidstipe as God se Woord omdat ‘die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is’, en nie omdat die Tekskritiek dit so bevind het nie.
    Art 6: Die apokriewe boeke mag nie ‘in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie’. Presies volgens dieselfde beginsel mag die ander tekstipes nie in die minste aan die gesag van die ander, die Meerderheidstipe, waarop die heilige boeke volgens de Bres gebaseer is, afbreuk doen nie.
    Art 7: Dit is verbode om iets by die Woord van God te voeg. Dit is verbode om die woord ‘God’, hoe onskadelik dit ook al mag lyk, by die Woord van God by te voeg op ‘n plek waar dit nie staan nie, naamlik in Joh 1 vers 18. Dit is verbode om iets daarvan weg te laat, en in hierdie geval die woord ‘Seun’ in Joh 1:18.
    Neels

  5. https://www.thegospelcoalition.org/article/lets-go-back-to-only-begotten

  6. http://www.dennyburk.com/deep-in-the-weeds-on-monogenes-and-eternal-generation/


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: