– DEUR GESONDHEID éN SIEKTE –
IN CHRISTUS GETROUD TOT EER VAN GOD
TOT DIE DOOD ONS SKEI
Lees die aangrypende verhaal van die huwelik van Scott en Johanna Watkins, wat mekaar nie mag aanraak in die huwelik nie, en sien dan daarna my opmerkings oor ons huwelike:
I am allergic to my husband but God is our rock
“While I still pray for physical healing and don’t know why God chose this road for me, this suffering has been a grace, because God has used it to help me love him more. … On our wedding day we made vows to each other that till death do us part. No matter what life brought. ”
In die lig van hierdie kragtige geloofsgetuienis, mag ons almal weer opnuut besef dat die hoofdoel van die huwelik nie ons (sondige) begeertes en ons geluk (selfsug?) en ons behoeftes (welluste?) is nie, maar:
– die eer van God Drie-enig, die Gewer van die huwelik (Gen.1&2; Matt.19). Sien die baie belangrike band tussen Kol.3:17 en die verse wat volg in v.18-21 oor die huwelik en gesin, wat baie mis, en daarom is daar huweliks- en gesinsverbrokkeling),
– dat die huwelik ‘n prent/beeld is van Jesus Christus (die Bruidegom) se liefdesband en verhouding met ons sy kinders (die Bruid),sien Efesiërs 5:20-33 (veral die misterie van vers 32),
– om mekaar in opofferende liefde te dien, soos Christus ons kom dien het (Joh.15:12-15; Filp.2:1-11; 1 Kor.13).
Die huwelik
O geliefdes, dierbare kinders van die Here, heiliges in Christus, as ons net hierdie drie dinge in ons huwelike en verhoudings najaag, gaan daar nie meer so baie egskeidings, haat, bitterheid, ongeluk, liefdeloosheid, gesinsverbrokkeling, ens, wees nie.
En dit alles kan ons alleen doen deur die geloof in en genade van ons Here wat kragtig deur sy Gees werk in sy kinders, wat Hom in dankbaarheid wil gehoorsaam in al ons verhoudinge met mekaar, volgens sy Woord (Ps.1:1,2; 127:1).
En ja, as die sondige aanslae van die wêreld, die sonde en Satan kom, en hulle gaan kom vir hulle wat godsvrugtig wil lewe, ook in die huwelik (1 Tim.4:1-5; 2 Tim.3:1-9, 12) – midde ‘n wêreld wat God se wil vir die huwelik en seksualiteit verag (Ps.2; Rom.1:18-32; 1 Thess.4:1-18), en die versoekinge groot word om maar sommer net vinnig te wil skei soos die ongelowige wêreld, en weer my (eiewillige) geluk te wil soek in die een na die ander huwelik en ander (buite-egtelike?) verhoudings, dan, ja dan sal ons omdat ons die Here wil eer, ook in ons liefde vir mekaar, sy hulp en genade aanhou soek, biddend, verootmoedigend, vergewend, geduldig, om “getrou(d) te bly aan mekaar tot die dood ons skei” (Rom.7:1-3), alles tot sy eer (sien Kol.3:17 as die basis van die huwelik en gesin, verse 18-21).
Ouers
Liewe ouers, ek raas nie, regtig nie, ek pleit by julle in ontfermende liefde as ‘n mede-begenadigde sondaar in Christus (1 Tim.1:15), as iemand met wie my wonderlike vroutjie, kinders en my geliefde gemeente ook baie geduldig moet wees in my eie heiligmaking, hoe langer hoe meer (HK v/a 114, 127).
Ek pleit dat ons mekaar sal vergewe, van harte … soos Hy ons in Christus vergewe het! (lees asb. en bid oor Ef.4:32 en 2 Kor.5:18-21, en vra wat beteken dit vir my huwelik en gesin, waar moet ek gaan regmaak, waar moet ek gaan jammer sê, waar moet ek gaan help en dien … alles tot sy eer?).
Christus
Onthou, Christus (ons Bruidegom), het vir ons (die ontroues, die hoereerdes, die egbrekers) kom sterf, nié omdat ons sy liefde en redding verdien het nie – ons het almal sy regverdige oordeel verdien weens die oortreding van sy regverdige wet (Rom.1:18-3:20) – maar Hy het vir ons gesterwe:
“… toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe … maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons (almal!) nog sondaars was.” (Rom.5:6-8)
Vergifnis
En as ons gefaal het, as ons gesondig het, Hy is en bly ewig getrou (1 Kor.1:9), dank God daarvoor, Hy vergewe genadiglik in Christus. Ja, daar is vergifnis vir hul wat berou het oor hul sondes in die huwelik en gesin, en dit laat staan (sien 1 Kor.6:9,10 en dan veral vers 11; 1 Joh.1:5-2:3) en weer sy weg begin volg in dankbare gehoorsaamheid.
Die Here is genadig, maar moet dan nie verder sondig deur verder te wil verkeerdelik skei en weer trou en sodoende egbreek pleeg nie (sien Matt.19:1-12; Joh.8:10,11; 1 Kor.7:9-11).
Sien ook hierdie artikels oor die huwelik, egskeiding en hertrou om biddend oor te gaan besin, in die lig van Hand.17:11, om daar waar jy nou is terug te keer na sy wil, om in die staat of roeping waarin jy nou is aan sy Woord getrou te wees en te dien tot sy eer, in liefde, sien 1 Kor.7:20. Vra die Here waar moet ek my/ons bekeer en regmaak, wat leer U Woord wat ons moet doen en wat moet ons nalaat in ‘n lewe van dankbaarheid (sien Lukas 6:46-49; HK Sondag 32 en 33) ?
Kinders
Kom ons leer ons kinders opnuut vanuit die Bybel van die Here, die huwelik, verhoudings en ware liefde (Gen.1,2; Matt.10; 1 Kor.13; Ef.5; ens). Sien hierdie kort en kragtige artikels as ‘n goeie begin, om afsonderlik maar ook saam as getroudes, gesinne, verloofdes, enkellopendes oppad na die huwelik, saam te lees: Huwelik en Gesin in die Heilige Skrif).
Moenie eers eendag as hul verloof of ‘romanties’ wil raak dan wil begin leer nie, maar van kleins af (Deut.6:1-9), lewenslange dissipels van Christus oor die hele lewe, maar dan ook oor die huwelik en gesin (Matt.11:28-30; Joh.8:31-36; 2 Tim.3:15-17).
Bid
Kom ons bid nou al, dat ons kinders mans en vrouens eendag sal wees wat sal trou in die geloof en om die Here te eer met die huweliksmaats wat die Here hul skenk (2 Kor.6:14-7:1; 1 Kor.7:39) .
Liewe ouers, as julle waarlik lief is vir die Here en jul gades en kinders, moenie hul leer wat die huwelik is volgens “Friends”, “7de Laan” of die “Huisgenoot” nie (1 Joh.2:17), maar volgens die Woord deur die krag van die Gees.
Om dit in die woorde van Ps.119:9 te stel: waarmee sal die jongeling sy (huwelik en gesins-) pad suiwer hou ? Deur dit te hou na U woord! (sien ook Ps.119:105 en Pred.11:9-12).
Stel ‘n voorbeeld
Bo-alles, stel die voorbeeld om self opofferend, dienend, liefdevol by mekaar in die huwelik te bly in tye van “reën én droogte, vrugbare én onvrugbare jare … gesondheid én siekte, rykdom én armoede.” (Eers Deut.6:5,6 en dan volg 7-9; HK Sondag 10).
Die Here bo alles liefhê, ter wille van jou gade en gesin
Die grootste guns wat jy jou kinders kan doen, is om ons Here Jesus Christus, die Bruidegom bo-alles lief te hê (elke gelowige se eerste liefde, Op.2:4, moenie van jou man of vrou of kinders afgode maak nie, want Hy gaan jou met niemand deel nie, lees Ex.20:5; Luk.14:26; 1 Thess.1:9), en dan sal die liefde vir jou man of vrou, vir jou kinders daaruit vloei soos stromende lewende water (sien Matt.22;37-40 en 1 Joh.4:11,20,21).
Mag die Here ons opnuut genadig wees om Hom afsonderlik, maar ook saam in ons huwelike, gesinne en gemeentes te eer en te dien, deur Christus ons Bruidegom.
“Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.” – Totius
Leave a Reply