DIE SALIGSPREKINGE (6):
SALIG IS DIE WAT REIN VAN HART IS
deur Totius
(Inleiding op bergpredikasie hier beskikbaar, ander saligsprekinge-oordenkings hier beskikbaar.)
Lees: Pss. 61 en 63.
Sing: Ps. 61:2, 3; 63:2; 116:5; 25:7.
Teks: Matth. 5:8: Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
In die soetklinkende woorde van saligheid spreek Jesus eers van wat die Heilige Gees in ons doen: Hy maak ons arm van gees, treurig van hart, sag van gemoed, hongerig en dorstig.
Dan gaan Jesus oor tot wat die Heilige Gees deur ons doen: ons honger en dors rig hulle op die wet van God (die geregtigheid) en word versadig in die beoefening van barmhartigheid. Ons oog word op die hulpbehoewende of gevalle medemens gevestig. Maar dit kan nie die enigste en die hoogste wees nie. Daarom dat Jesus nou ons gedagtes tot God ophef en sê: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien”.
Aan die hand van ons teks moet ons nou oor twee sake handel:
- die reinheid van die hart en
- die sien van God.
1. Die reinheid van die hart
Salig is die barmhartiges, het Jesus gesê. Honderde manne en vroue het dan ook hulle goed aan die armes gegee en hulle lewenskrag gewy aan die opheffing van gevallenes en vertroosting van ellendiges. Huise van barmhartigheid is gestig en kragdadige middele in die werk gestel om hierdie saligheid te soek en te vind. Die geskiedenis meld van gelowiges wat in hierdie opsig wonders van liefde verrig het en soos engele van vertroosting op aarde gewandel het.
So groot is die saligheid dat menigeen geneig is om te dink: Dit is nou die samevatting van alle heil.
Maar kyk, Jesus sê vir ons dat daar nog ‘n ander en hoër gebod is, nl. die reinheid van hart. God laat nooit iets van die eis van heiligheid weg nie. Hy, die Kenner van die harte, is nie tevrede met blinkende dade wat die onreinheid van die hart sou kan bedek nie.
Die eerste en groot gebod is: om God lief te hê, en om dan agter Petrus aan te sê: “Here, U weet alles; U weet dat ek U liefhet”. Daartoe is ‘n ander saligheid nodig, wat hier “reinheid van die hart” genoem word.
Daar is skares van manne en vroue wat, om hierdie saligheid te vind, nie rondom hulle gekyk het om nooddruf en ellende by hulle medemens te ontdek en te verhelp nie. Nee, hulle het die oog na binne gekeer om deur die tralies van die eie vlees te speur. En daar-binne het hulle toe ‘n poel van onreinheid, ‘n moeras van sonde, ‘n diepte van bederf ontdek.
Hoe sou hulle daarvan verlos kan word en die heil smaak wat deur Jesus beloof is? — dit was vir hulle die groot vraag van die lewe.
Na die wilde hoogtes van die berge, na die eensame skuilhoeke van die bosse, na die onherbergsame plekke van die woestyne het hulle daarom getrek om daar dit te soek wat hulle in die ydele gewoel van die menselewe nie kon vind nie.
En nou kan ‘n mens maklik die staf oor hulle breek en sê: “Julle dwaal; die reinheid moet nie buite nie maar in die mense-wêreld gevind word: so het Christus ons gebied, en so het Hy dit vir ons voorgedoen”.
Dit is waar.
Verkeerde middele is aangewend.
Dit stem ons toe.
Maar was die diepste dryfveer van hulle lewe nie vir ons ‘n beskaming nie? Baie van hulle het gevoel dat hulle nie in die kerk mag sit en daar saam met ander sing en bid en dan verder, met algemene toestemming, in die moeras van sonde rondploeter nie. Hulle het saam met Luther in die bidsèl gegaan om daar voor God uit te kerm:
“O, my sonde, my sonde!”
Hulle het diep besef dat hulle nie God kan liefhê en terselfdertyd ook die sonde nie. “Sonder heiligmaking”, so het hulle gelees, “kan niemand God sien nie” (Hebr. 12:14).
Reinheid van hart — hoe kan Jesus dit eis?
Het Hy dan nie self gesê nie: “Uit die hart van die mens kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal?
Reinheid van hart — en die jongmens moet bid: “Dink nie aan die sondes van my jonkheid nie”!
Reinheid van hart — en die man in die middel van sy lewe moet uitroep: “Ek ellendige mens”!
Reinheid van hart — en die oue van dae moet nog erken: “Dis nie dat ek dit reeds verkry het nie”!
So is dit.
Nietemin eis Jesus reinheid van hart. Hy begin nie daarmee nie. Eers in die sesde plek dring Hy daarop aan. Hier word die poort wat na die lewe lei, so vreeslik nou.
Te alle tye is reinheid die hoë gebod. Hierdie saligspreking korrespondeer dan ook met die tweede, soos die vyfde met die eerste.
Reeds die treurigheid van die hart is ‘n bewys dat die diepte van verderf ontdek is. Ons bely selfs van ons kinders dat hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees. Maar — en dit is waarop dit nou aankom — wat in die wedergeboorte geskenk is, moet nou stap vir stap in die heiligmaking ontwikkel word deur die genadekrag van die Gees van Christus.
Is dit nie asof Jesus die leer van die jare gebruik om hierdie hoë standpunt van reinheid eers reg te laat verstaan nie?
Hou sy saligsprekinge nie hier ook rekening met die gang van die natuurlike lewe nie?
Moet dit nie deur die middeljarige leeftyd van arbeid (natuurlik en geestelik) tot die meer gevorderde leeftyd van rus (natuurlik en geestelik) gaan nie?
Deur die jare van worsteling tot die stiller dag van bespiegeling en selfaanskouing?
Kan hier nie ook die weg van die wysheid van God opgemerk word nie?
Jesus sluit sy saligsprekinge nie af voordat Hy uit sy woord die sagte glans van die suiwerheid van hart laat straal nie. So hou sy rede met die hele Godsopenbaring verband.
Onder die Ou Testament is in die wet van Moses die afwassinge en reiniginge beveel. Deur hierdie plegtighede moes die priesterskap (en die hele volk) tot die aanskouing van God kom deur die persoon van die hoëpriester. Want dit was ‘n aanskouing van God, daardie ingaan in die allerheiligste, waar die heerlikheid van God in trillende vuurlig bokant die deksel van versoening gesetel het.
“Julle moet heilig wees, want Ek is heilig” — so het dit onder die Ou Verbond geklink.
Agter die simbool het, volgens die aard van die tyd van skaduwees, die krag van die genade gewerk. Daarom lees ons in die Psalms:
“Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is’ (73:1); “Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees’ (51:12).
Maar veral onder die Nuwe Verbond sou daardie woord aandring: Julle moet heilig wees, want Ek is heilig.
Daarvoor het Christus sy gemeente in sy bloed gewas.
Daarvoor het Hy die Gees van heiligmaking gestuur.
Daarvoor laat Hy sy Woord as middel van reiniging uitgaan (Joh. 17:17; 15:3).
Daarvoor vorder Hy die gebed van ons, want wie die onreinheid liefhet, word in sy gebede verhinder (1 Petr. 3:7).
Daarvoor laat Hy ons — dit veral moet ons nie vergeet nie — onder die kastyding deurgaan, wat vir vlees en bloed so bitter is (Hebr. 12:10).
Daarvoor stuur Hy eindelik vir sy gemeente verdrukking en vervolging.
Daarmee sal die geskiedenis van die kerk eindig. In die aangesig van die wrede Dier, wat met oopgesperde bek die kerk aangryns, in die skroeihitte van die smeltkroes van beproewing sal die onreinheid uit die kerk uitgebrand word en sal dit ‘n gemeente word wat inwendig verheerlik is om saam met die Heilige Gees te roep:
Kom, Here Jesus!
Leser, dink ten slotte by die gebod van heiligheid daaraan dat hierdie heiligheid u alleen uit Christus kan toekom. Te alle tye is dit sy genade wat deur die Heilige Gees toegepas en verheerlik word. Sonder Hom kan u niks doen nie.
2. Die sien van God
Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
Wat beteken dit?
Kan ‘n mens God dan sien?
Vir Hom, “wat die ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie”? (1 Tim. 6:16).
Het God dan nie tot Moses gespreek nie: “Geen mens kan My sien en bly lewe nie”? (Ex. 33:20).
Ja, voel u nie self dat God verborge moet bly nie?
Openbaarmaking is hier ontheiliging. Om God met die oog te omvat sou die opheffing van die Goddelike Wese wees. Niemand mag binne die grense van die ontoeganklike lig indring nie.
Wat word dan bedoel?
Laat ons daarop let dat daar ‘n geestelike sien maar ook nie-sien van God is.
Ons gee eers van die laaste ‘n voorbeeld.
Hoe dikwels lyk dit asof God weg is uit ons lewe. As ons in ‘n koerant lees dat ‘n man sy vrou en babatjie en nog ‘n bloedverwant daarby koelbloedig vermoor en eindelik homself om die lewe bring, kyk, dan gril ons daarvan en vra onmiddellik:
“Waar is God nou?”
Hoe kan ‘n regverdige God sulke dinge toelaat?
Ons voel dat daar ‘n newel voor die geestesoog verbytrek en dat dit vir ons dae van inwendige stryd sal kos om onse God weer in die groot wêreldbestuur te sien en te vind.
Daar is dus ‘n geestelike nie-sien.
Van Henog, Noag en Abraham staan daarenteen opgeteken dat hulle met God “gewandel het” (Gen. 5:24; 6:9; 17:1). U moet nou nie oor die uitdrukking heen lees nie. Iemand wat saam met ‘n vriend wandel, weet dat sy vriend by hom is, hy sien hom. ‘n Mens wandel nie saam met iemand wat afwesig is nie.
So moet die lewe van alle gelowiges wees.
Dit moet nie maar godsdienstig wees en ‘n godsdiens hou beteken sonder om ooit met die lewende God in gemeenskap te kom nie. Van die wat so maak — en hulle getal is ongelukkig so groot — praat ons nie.
Ons oë moet altyddeur op die Here wees (Ps. 25:15); gedurig moet ons Hom in die land van die lewende sien (vgl. Jes. 38:11). Dit is in die eerste plek die “sien van die Onsienlike”, die hoogtepunt waarop Jesus ons wil hê.
Maar daar is ook ‘n sien van God wat nader aan die werklikheid kom, nl. die aanskouing van God in die “heerlikheid”.
Hierdie begrip van heerlikheid, wat baie in die Skrif voorkom, word gewoonlik misverstaan, omdat aan iets afgetrokkens, iets onbepaalds gedink word. Die Skrif, daarenteen, sê vir ons dat die heerlikheid van God in die vuurkolom gestraal het en later as ‘n ligstraling bokant die ark van versoening, tussen die gerubs, gewoon het.
Ook van Stefanus lees ons dat hy in sy sterwensuur die heerlikheid van God aanskou het en Jesus wat aan die regterhand van God staan (Hand. 8:55).
Dit is wat hiernamaals die deel van alle gelowiges sal wees. Hulle kan saam met die digter sê: “Ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word” (Ps. 17:15).
Dieselfde word ook deur Paulus gesê: “Terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Kor. 3:18). Ja, “sy diensknegte sal sy aangesig sien” (Openb. 22:4).
Hoe moet dit nou verstaan word?
Die antwoord is dat dit sonder Christus onmoontlik is.
In sy wese bly God altyd onsienlik. Maar in die aangesig van Jesus Christus aanskou ons Hom (vgl. 2 Kor. 4:6 met 1 Joh. 3:2, 3). Christus is die Beeld van God wat na die skepsel toe gedraai is. Wie Hom gesien het, het die Vader gesien.
Dit word vir ons enigsins deur die natuur verklaar. Lig is op sigself onsigbaar, maar as dit in ons dampkring indring en ‘n voorwerp vind waarteen dit vas kan slaan, word dit sigbaar in ‘n veelheid van glans en kleur.
So is die lig van God ook vir die mense-oog verborge. Maar wanneer Hy Hom in Christus openbaar, dan aanskou ons Hom.
Watter heerlike lot wag op ons.
Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, het God berei vir die wat Hom liefhet (1 Kor. 2:9).
Hier moes ons dikwels uitgeroep het: “Waar is God nou?”
So dikwels kon ons Hom nie vind of sien nie. Hier deursteek die vyand ons met die smaadrede: “Waar is jou God?”
Sal dit dan ‘n wonder wees as ons, wanneer ons in die ewigheid ons oë oopmaak, dadelik die vraag sal stel: “O, waar is my God nou? O, laat ek Hom nou, na die bange stryd, aanskou”.
En dan sal die antwoord kom:
“Daar is Hy; daar is sy Lig, wat soos ‘n son agter u gesigseinder opkom; daar is Hy, Hy kom voort uit die onpeilbare blou van sy eie wese; daar is Hy in die aangesig van Jesus Christus!”
O, mag dit ons deel wees!
AMEN.
___________________________________
* Beklemtonings en subopskrifte bygevoeg.
Bron: ‘Versamelde Werke van J.D. Du Toit (Totius)’, deel 2: bl. 57-103 (Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel 1960 uitgawe).
Sien ander saligsprekinge-oordenkings asook ander Totius artikels hier.
Leave a Reply