Posted by: proregno | June 9, 2011

Slaan jy jou vrou nog ? – van VIDA tot homoseksuele predikante

Ek het onlangs die volgende artikel van dr. A.L. Rheeder gelees, wat reeds in 2009 geskryf is:

Die implikasie van die GKSA se 2009-sinodebesluit rakende die vrou in die regeeramp

Voordat iemand nou weer op die ‘volg die Matt.18 kerklike weg’ waentjie wil spring, lees eers hierdie bloginskrywing:

Die Matteus 18 weg en die negende gebod

Dr. Rheeder se artikel het in die Woord en Daad tydskrif verskyn, die Lente 2009 uitgawe (bl.34-36), en daarom kan daar ook in die openbaar daarop gereageer word, veral omdat die sake wat hy daarin vermeld van wesentlike belang is vir gelowiges oor die algemeen, en in die besonder die gelowiges wat in die GKSA is.

In Junie/Julie 2009 het die GKSA deur sy sinode besluit dat vroue wel in die diens van diaken kan staan, maar nie in die dienste van ouderling en predikant nie.  Dit is teen hierdie besluit wat dr. Rheeder sy artikel skryf.

Hy benader die artikel vanuit die gevolge wat hierdie besluit mag hê, dit wil sê praktiese oorwegings:

“Moet die volgende vrae nie ook gevra word nie: Wat doen dié besluit aan ‘n ander mens ? Wat impliseer jou besluit oor die ander mens? Wat is die implikasie van jou besluit … Myns insiens het die besluit van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika oor die vrou in die regeeramp talle hartseer gevolge.”

Volgens dr. Rheeder is daar twee hartseer gevolge:

1. Pyn vir ‘n dogter wat geroepe voel om predikant te word, maar vir haar word deur die besluit gesê:

“Jammer om te sê my kind, maar in jou kerk mag dit nie gebeur nie. Jy is ‘n vrou, geslagtelik gestrem vir hierdie werk. Ek probeer my indink hoe dit sou voel as iemand vir my sou sê dat op grond van my kleur of geslag mag ek dit nie doen nie! En daar in die sinode besluit ons broers, julle vroue mag nie predikante word nie. ‘n Voorreg wat ons onsself gegun het, iets wat ons ons seuns gegun het. ‘n Seun mag byna op ‘n patriargale wyse in die voetspore van sy vader stap. Wat het geword van die liefde van Christus deur aan ‘n ander te gun, wat jy wil hê hulle jou moet gun. Of geld dit net vir mans ?”

2. Die tweede hartseer gevolg van die sinode se besluit is dat die GKSA se geloofwaardigheid aangetas word in midde van die nuwe SA samelewing:

“Watter lamp het ons met die sinodebesluit aangesteek ? Die sinodebesluit het immers die stelling ‘dat geslag nie bepalend by enige van die dienste is nie’ kategories verwerp en daarom indirek besluit geslag is wél bepalend in die denke van die kerk. Hoe ons ook al hierdie sinodebesluit probeer verduidelik, dit impliseer dat man en vrou nie as gelykes gesien word nie. Hoe ons as kerk ook al hierdie besluit sou verdedig, bly dit nog steeds mans wat besluit het dat vroue nie in die regeeramp mag dien nie. Net soos wit broeders op ‘n stadium besluit het swart broeders mag nie deel van die proses wees nie.”

Dr. Rheeder gaan verder, en vanuit hierdie twee pyne wat hy beleef, wys hy daarop dat dit die volgende 3 implikasies het:

1.  Ons leef in ‘n land van baie geweld teen vroue en kinders en daarom, “Wanneer jy as man vir ‘n dogter wat die roeping ervaar, sê dat sy nie predikant mag wees nie, is dit nie ook ‘n vorm van geweld nie ? Geïnstitusionaliseerde geweld; psigiese en emosionele geweld.”

2. Die kerk, spesifiek die GKSA kan haar nou nie uitspreek teen ander ‘diskriminerende praktyke in die samelewing’ nie:

“So ‘n uitspraak sal nie geloofwaardigheid hê nie, want die onmiddelike reaksie van mense sal wees dat daar nie vir hulle gepreek kan word terwyl die kerk self mense ongelyk behandel nie. … Kry eers julle eie huis in orde.”

3.  Rheeder beroep hom (buite-konteks?) op prof. Rachel Jewkes, direkteur van die Mediese Navorsingsraad (MNR) se geslags- en gesondheidsnavorsinggroep wat “oortuig (is) dat een van die belangrikste redes vir die hoë voorkoms van geweld teen vrou in Suid-Afrika, ‘n patriargale opvatting van manlikheid is,”  om die volgende te skryf:

“In patriargale denke word man en vrou as ongelykes gesien.  Dit beteken dat die man as sterk, taai, dominant en as baas oor vroue gesien word. Volgens die sinode besluit word man en vrou nie as gelykes gesien nie. Ek weet in my hart dit word nie so deur die kerk bedoel nie, maar dra hierdie sinodebesluit nie by tot geweld teen vroue nie ? Waarskynlik nie direk nie, maar indirek. Gaan hierdie besluit nie sekere onaanvaarbare gedrag van sommige mans onbewustelik in stand hou nie?”

Rheeder sluit dan sy artikel af met ‘n belydenis en die mening dat die sinodebesluit nie die regte besluit was nie:

“… bly ek by die verskoning wat ek my vrou en dogter gevra het. Ek is diep oortuig dat hierdie besluit vir gister, vir nou en vir môre nie die regte besluit was nie. Daar is nie ‘n ander tyd vir die waarheid as juis nou nie. ‘This history of men’s opposition to woman’s emancipation is more interesting perhaps than the story of that emancipation itself.’ (Virginia Woolf)”

Tot hier ‘n samevatting van die artikel.

Opmerkings

1. Vir wat die ‘kerk bedoel’ met sy sinodebesluit en die rol van man en vrou, verwys ek lesers na die basisdokument, die Studiestuk van Sinode 1988, waarop verder uitgebou is in die sinodes daarna.

2. Ek meen dat die besluit wat geneem is, die regte besluit was en is (ten minste oor die predikant en ouderlinge diens, nie oor die diakens nie, waar ek meen dat daardie diens ook net vir gelowige mans bedoel is wat aan die nodige 1 Tim.3 vereistes voldoen), maar ek verskil van die gronde waarop en die wyse wat die besluit geneem is, sien:

VIDA Kategismus

3. Rheeder skep ‘n bepaalde strooipop van die bybelse siening oor die man en vrou se rolle, wat hy dan basies etiketteer as die ‘patriargale siening wat mans en vroue as ongelyk’ sien. Rheeder kry die egalitaries-feministiese ‘gelyke’ idee van die NAV vertaling van Gen.2:20b, waar die woorde ” ‘n gelyke” die ‘wat by hom pas’ van die OAV vervang en ‘n ander boodskap en klem daarstel.  In die OAV word die ‘eenheid en verskeidenheid’ van man en vrou gehandhaaf, in die NAV word die ‘eenheid’ opgehef.  Die ‘helper’ word as’t ware los (en by implikasie in stryd met) die man gesien as ‘gelyke’, nie meer onder die gesag van die man nie, maar ‘bevry’ op haar eie … presies wat die feministiese agenda be-oog, in stryd met wat die Skrif leer in 1 Kor.11:3, “Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.”

4. Ek wil nie in hierdie skrywe fokus op hierdie verdraaide beeld van wat die Bybel leer oor die man en vrou se verhouding en rolle nie, maar op die wyse waarop Rheeder argumenteer in die lig van die tydsgees.

5. Vir my eie siening oor die bybels-tradisionele lering wat die kerke deur die eeue geleer het, tot en met die opkoms van die feministiese tydsgees, kyk hier: Die vrou in God se Koninkryk – drie standpunte.  Sien ook die artikel in antwoord op prof. Adrio König se eensydige siening van die vrou, in veral die OT tyd: Marcion, VIDA en Marcionisme vandag.

Om dit saam te vat: volgens die hele Skrif is die man en vrou gelyk in waarde en wese [Gen.1:26-28], word gelyk in Christus gered en geheilig [Gal.3:28], maar is verskillend in rol en taak, kragtens die skeppingsorde wat God daargestel het [Gen.1-3; 1 Kor.14:34-40; Tim.2:11-15].  Daarom mag alleen geskikte mans volgens 1 Tim.3 in die kerklike dienste staan.  Ja, die opkoms van die feminisme is ‘n tydige oproep en waarskuwing vir mans wat nie hul godgewe rolle as liefdevolle dienende leiers vervul in gesin en gemeente nie, maar die misbruik en ongehoorsaamheid aan God se skeppingsorde (o.a. geweld in die huwelik en gesin!), hef nie die regte gebruik en handhawing daarvan op nie.  Christus het juis gekom sodat beide man en vrou weer hul rolle en take dienend en in liefde kan vervul (Ef.5; Kol.3).

Nou wil ek graag fokus op die onderliggende argumente van dr. Rheeder se artikel, wat ek meen dodelik is vir die voortbestaan van Christus se gemeentes in die GKSA kerkverband.

Inhoudelik oor dr. Rheeder se artikel

Dr. Rheeder is reg, ons moet deeglik kennis neem van die moontlike gevolge van besluite wat ons neem, soos hy skryf “Wat is die implikasie van jou besluit”.  Op grond van die redes en gronde waarom hy teen die sinodebesluit van 2009 is in sy artikel, wil ek wys op die gevolge en implikasies van sy artikel, sou daardie denke die sinode in Januarie 2012 en daarna bepaal, deur u te neem na ‘n denkbeeldige scenario in die toekoms:

Die implikasie van die GKSA se 2033-sinodebesluit rakende homoseksuele persone in die regeeramp, deur ds. Kas de Klere

Sinode 2033 het weereens besluit dat homoseksuele persone nie tot die dienste van diaken, ouderling en predikant toegelaat mag word nie, ongeag dat altwee groepe op die sinode (die ‘vir en daarteen’ groepe) se hermeneutiese vertrekpunte goedgekeur is deur die sinode, almal saamstem dat dit nie die eenheid van die kerke raak nie, en, daar net sekere ‘interpretasie-verskille’ was.

Ek wil my artikel hier benader vanuit die volgende vrae:

Wat doen dié besluit aan ‘n ander mens ? Wat impliseer jou besluit oor die ander mens? Wat is die implikasie van jou besluit … Myns insiens het die besluit van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika oor die gay persoon in die ampte talle hartseer gevolge.

Volgens my is daar twee hartseer gevolge:

1. Pyn vir ‘n jongseun wat geroepe voel om predikant te word, maar vir hom word deur die besluit gesê:

“Jammer om te sê my kind, jy is intelligent, maar in jou kerk mag dit nie gebeur nie. Jy is gay, geslagtelik gestrem vir hierdie werk.”

Ek probeer my indink hoe dit sou voel as iemand vir my sou sê dat op grond van my kleur of geslagtelike voorkeur mag ek dit nie doen nie ! En daar in die sinode besluit ons heteroseksueles, julle homoseksueles mag nie predikante word nie. ‘n Voorreg wat ons onsself gegun het, iets wat ons ons heteroseksuele seuns en dogters gegun het. ‘n Heteroseksuele seun en dogter mag byna op ‘n seksistiese wyse in die voetspore van sy of haar vader en moeder stap. Wat het geword van die liefde van Christus deur aan ‘n ander te gun, wat jy wil hê hulle jou moet gun. Of geld dit net vir heteroseksueles ?

2. Die tweede hartseer gevolg van die sinode se besluit is dat die GKSA se geloofwaardigheid aangetas word in midde van die nuwe SA samelewing:

Watter lamp het ons met die sinodebesluit aangesteek ?  Is die patriargale denke nog steeds nie uit ons denke nie, daardie denke wat sê ‘geslag’ is bepalend vir die ampte ?  Het die sinodebesluit van 2012 dan nie tog besluit ‘dat geslag nie bepalend is by enige van die dienste is nie’ ?  Wat se inkonsekwentheid is dit nou ?  Geslag, man of vrou wees, is mos nie meer bepalend in die denke van die kerk nie, ons leef in die 21ste eeu !  Hoe ons ook al hierdie sinodebesluit probeer verduidelik, dit impliseer dat alle seksuele oriëntasies nie as gelyke opsies gesien word nie. Hoe ons as kerk ook al hierdie besluit sou verdedig, bly dit nog steeds dat heteroseksueles besluit het dat homoseksueles nie in die regeeramp mag dien nie. Net soos wit broeders op ‘n stadium besluit het swart broeders mag nie deel van die proses wees nie, net soos mans op ‘n stadium besluit het vroue mag nie deel wees van die proses nie.

Vanuit hierdie twee pyne in ons midde, wys ek u op die volgende 3 implikasies:

1.  Ons leef in ‘n land van baie geweld teen gays en daarom, wanneer jy as heteroseksueel vir ‘n homoseksueel wat die roeping ervaar, sê dat hy/sy nie predikant mag wees nie, is dit nie ook ‘n vorm van geweld nie ? Geïnstitusionaliseerde geweld; psigiese en emosionele geweld.”

2. Die kerk, spesifiek die GKSA kan haar nou nie uitspreek teen ander diskriminerende praktyke in die samelewing nie.  So ‘n uitspraak sal nie geloofwaardigheid hê nie, want die onmiddelike reaksie van mense sal wees dat daar nie vir hulle gepreek kan word terwyl die kerk self mense ongelyk behandel nie. … Kry eers julle eie huis in orde.

3.  Dr. Soo Domm en prof. Go Morrah, direkteurs van die Mediese Psigiatriese Sielkundige Raad se geslags- en gesondheidsnavorsinggroep is “oortuig dat een van die belangrikste redes vir die hoë voorkoms van geweld teen gays in Suid-Afrika, ‘n heteroseksuele opvatting van geslagtelikheid is.”

Dit laat my wonder: in heteroseksuele denke word ‘straights en gays’ as ongelykes gesien.  Dit beteken dat die heteroseksueles sterk, taai, dominant en as baas oor gays gesien word. Volgens die sinode besluit word heteroseksueles en homoseksueles nie as gelykes gesien nie.  Ek weet in my hart dit word nie so deur die kerk bedoel nie, maar dra hierdie sinodebesluit nie by tot geweld teen gays nie ? Waarskynlik nie direk nie, maar indirek. Gaan hierdie besluit nie sekere onaanvaarbare gedrag van sommige heterokseksueles onbewustelik in stand hou nie?

Ek sluit af deur te noem dat ek aan my gay lidmate moes bely dat die sinodebesluit nie die regte besluit was nie.  Daar is nie ander tyd vir die waarheid as juis nou nie:  “A sexual revolution begins with the emancipation of women, who are the chief victims of patriarchy, and also with the ending of homosexual oppression.” (Kate Millet)

Terug in die hede

Ja, dit is sekerlik nie dr. Rheeder se ‘bedoeling’ om so ver te gaan soos in my fiktiewe voorstelling nie, maar is dit nie waar alles gaan eindig as ‘geslag’, as God se skeppingsorde, as Sy Woord (Gen.1-3; Hand.6; 1 Kor.14:34-40; 1 Tim.2:11-15; 1 Tim.3; Tit.1, ens.), nie meer bepalend is vir die ampte nie ?

En dit is alles die gevolge van dekades lange valse dualistiese Skrifbeskouings:

– inhoud vs vorm (Die Bybel is ‘teologies’ die waarheid, en die ‘skopus’ is onfeilbaar, maar die historiese gegewens is ‘wetenskaplik’ verkeerd en feilbaar, bv. die skeppingsgeskiedenis)

– genade vs natuur (“dit gaan nie daaroor dat ons Christelike mans en vrouens is en moet wees nie, maar net of ons ‘gelowiges’ is”)

– NT vs OT,

– Joodse Psalms vs Messiaanse NT Psalms

– vrou vs man (OT: ‘patriargie’; NT: ‘feministiese bevryding’),

– ‘wetenskap’ (evolusie) vs geloof (Genesis),

– natuurwette vs wonderwerke

– individue vs volkere,

– liefde vs wet,  ens.

Die broeders wat besluite gaan neem oor die saak wat weer in 2012 op die sinodetafel kom, aangesien daar glo ‘n paar beswaarskrifte oppad is om God se skeppings-orde omver te werp, sal mooi die kostes moet bereken, duidelik moet vra hoe hul besluite gesinne en gemeentes in die toekoms gaan raak, en bo-alles, hoe dit die eer van God en die heil van ons gemeentes gaan raak.

“As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?” – Psalm 11:3

“In his 2006 book Evangelical Feminism: The New Path to Liberalism?, Wayne Grudem argued that compromise on the Bible’s teaching on gender roles within local churches and denominations often sets institutions on a course toward the acceptance of homosexuality. News out of three mainline denominations from last week well illustrate Grudem’s claim.” – Jeff Robinson

Sien:  PCUSA, Anglicans, Virginia Episcopalians Affirm Homosexual Ordination


Responses

  1. […] Slaan jy jou vrou nog ? – van VIDA tot homoseksuele predikante […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: