DIE ‘KNEG VAN DIE HERE’, ISRAEL EN DIE VOLKE SE TOEKOMS
deur prof. Hugo Du Plessis*
“DAAR is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring… Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies…” (Jes. 42:1,6)
“Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u heil gesien het, 31 wat U berei het voor die oë van al die volke — ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Luk. 2:29-32)
“Intussen is daar vir die volke die weg geopen vir die redding uit die gerig van Christus, die reeds gekome en nog komende Wêreldregter, deurdat hierdie Regter versoening vir die sondes gedoen het deur die gerig van God op Hom te neem. Omdat Hy as sodanige Regter deur God benoem is, verkondig God nou deur Hom aan alle volke oral dat hulle hulle moet bekeer (Hand. 17:30, 31). Die individue en die volke se tydelike en ewige lot word nou beslis, nie deur die houding wat hulle teenoor Israel, maar teen Christus inneem. Wat dink julle van Christus? is nou die beslissende vraag vir Israel en al die ander volke.” – Hugo du Plessis
Nota: In my lesing oor ‘Die Toekoms van Israel‘ (sien ook hier onder), het ek verwys na prof. Hugo du Plessis se missiologiese boek, ‘n Banier vir die Volke, wat na my mening ‘n goeie bybelse standpunt daar stel oor volkere verhoudinge in die lig van die Skrif, en ook hoe ons moet dink oor Israel nou en in die toekoms. Ek plaas daardie deel van sy boek hier om te lees:
1) Die Kneg van die HERE
Aan die horison kom daar nou die gestalte van die Kneg van die Here te voorskyn, van die lank beloofde Messias, in wie daar ’n konsentrasie van die openbaring van God in die hede en verlede plaasvind. Die laaste van die dae waarin die heil vir die volke verwesenlik gaan word, gaan nou met die koms van hierdie Kneg in vervulling. Hy tree as uitverkore Kneg van die Here in die plek van Israel op. Hy word die sentripetale Sendingsubjek en Hy vang die gerig op wat vir Israel en die volke bedoel was. Hy openbaar die heiligheid en heerlikheid van die Here. Die gebeurtenisse in verband met Hom word nou die kerugma vir Israel en die volke. Hierdie Messias wat in Kneggestalte verskyn, verteenwoordig nie alleen Israel nie, maar God word ook in Hom openbaar en in en deur Hom kom God tot Israel en die volke.
So loop die openbaringsgeskiedenis deur die verskillende stadiums uit op ’n deur God voorafbeplande en gereëlde ‘progressiewe reduksie’ van die mensheid tot die volk van God, van die volk van God tot die res en van die res tot hierdie een Kneg, om dan van hierdie Kneg ‘n ‘progressiewe uitbreiding’ na Israel of die res van Israel en van Israel na die volke te word. Van Israel bly daar immers net ’n stomp oor.
Die Messias is die takkie wat uit die stomp groei, die loot wat uit sy wortels vrugte dra (Jes. 6 : 13; ll:1). Hy verteenwoordig Israel. Hy is die res, die ware Israel. Dat dit so is, blyk uit die merkwaardige parallelle van die Kneg met Israel. Soos Israel is Hy uitverkies om as Kneg in diens van die Here te wees (Jes. 42 : 1). Soos Israel moet Hy die lig vir die nasies wees en soos Israel moet Hy om die wil van God ly. Ja, ook die lyde van die Kneg vind ’n parallel in Israel, want Israel het gely as ’n veragte volkie, ’n volk wat strooi en ’n volksdood gesterf het, terwyl die Kneg geen voorkomste gehad het dat die mense Hom sou begeer nie (Jes. 53 : 2); Hy word skaars opgemerk (42 : 2), en in soverre Hy opgemerk word, word Hy nie geglo nie (53 : 1—4); Hy was verag en deur die mense verlaat en bekend met krankheid (53 : 3), in smaad en veragting gaan Hy ten onder (53 : 9).
Soos Israel is Hy ’n getuie van die Here deur sy swye, want Hy skreeu en roep nie uit nie en laat nie sy stem op die straat hoor nie (42 ; 2). Hoewel sy mond soos ’n skerp swaard is, verberg God Hom in die skaduwee van sy hand, en hoewel Hy ’n skerp pyl is, word die pyl nie afgeskiet nie maar in die pylkoker van God weggesteek (49 : 1), en Hy ecindig as ’n stomme getuie voor sy regters (53 : 7).
Die ooreenkomste tussen Hom en Israel is so sterk dat sommige eksegete in die Kneg maar net Israel sien. En uit die woorde wat die Here aan die Kneg rig — ‘Jy is my Kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik’ (Jes. 49 : 3) — wil dit voorkom of onder die Kneg Israel verstaan word. Ons moet erken dat Hy gesien moet word as die representant en personifikasie van Israel, maar Hy is tog ook weer baie meer as Israel. Daarby het sy lyde heeltemal ’n ander karakter as dié van Israel. Wat sy lyde betref, is dit immers plaasvervangend, want Hy het ons smarte gedra en ‘Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die strat wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom’ (Jes. 53 : 5—6). Hy is meer as Israel, want Hy open blinde oë, lei gevangenes en diegene wat in die duisternis sit, uit die kerker (42 : 7), en Hy is self die lig en heil vir die nasies (42 : 7). Van Hom uit gaan die reg na die nasies, en Hy grond die reg op aarde (Jes. 42 : 1, 4). Hy is die verbond van die volk (42 : 7).
Hy is die Lig van die nasies — die skynende lig in die dood van die ballingskap toe alles so donker was. Hy is lig soos die eerste lig in die donker van die oer-watermassas. Buite Hom is daar geen lig in die wéreld of in die menslike lewe nie, want Hy is die bron van die lig.
Van Hom gaan die reg uit — die reg en die regsnorme vir die menslike lewe gaan van Hom uit. Die norme vir die menslike verhoudinge en vir dié van die mens tot God, het skeef geword en die gevolg is disharmonie en ’n breuk in die gemeenskap. Hy heel die breuk en herstel die harmonie en gemeenskap. Dan ontstaan daar verhoudinge wat op reg en geregtigheid gegrond is en waarvan die liefde die grondslag is — en dit in ’n wéreld waar die stem van liefde en geregtigheid dikwels nie gehoor word nie. Hierdie geregtigheid gaan van Hom uit, d.w.s. ware geregtigheid is onlosmaaklik aan Hom verbind. Hy is die enigste ware norm van die geregtigheid. Hy plant die norme en die gehoorsaamheid in die menslike hart, sodat dit die liefdeswet in die lewe van die gelowige word. Sonder Hom is daar geen ware geregtigheid nie en is die wette en norme wat daar is drukkende laste wat die mens verkneg. Maar met Hom lewe die gelowige in die vryheid van die kindskap.
Hy is die verbond van die volke — die verbond van sy een wêreldvolk. So moet dit hier verstaan word. Die volk van God is nou nie meer net Israel en diegene wat in Israel ingelyf is nie, maar in en deur Hom is daar die baie gelowiges uit baie volke wat sy een wêreldvolk vorm, wat aan mekaar en aan God verbind is in die verbond wat Christus self is. Hy herstel die eenheid van die mensheid wat na die toringbou in disharmonie uiteengegaan het. Aangesien Hy self die verbond van hierdie volk is, is daar alleen in en deur Hom gemeenskap met God en ’n harmoniese samehang van die mensheid en die kosmos. Hierdie harmonie word gewaarborg omdat Hy die verbond van die volk is.
As lig en reg en verbond is Hy die heil (sjaloom) vir die volke. Dit is die heil van vrede en geluk vir die menslike lewe op alle terreine, ’n ewige heil van ’n herstelde en vernieude paradyslewe. Buite en sonder Hom is daar alleen net onheil, dood en ewige oordeel. Hy is dus baie meer as Israel, maar tog is daar weer die parallel dat Hy ook ten ondergaan. Soos Israel verrys Hy weer uit die dood en God verhoog Hom voor die oog van die heidene (Jes. 52:13, 15; 53:11 ev.).
Die merkwaardigste analogie is dat die volke na Hom, wat die lig en die reg en die verbond en die heil is, stroom. Terwyl die profete in die vooruitsig gestel het dat, nadat en omdat die volke oor die onverwagte wonderbaarlike uitredding van Israel uit die ballingskap verbaas was, hulle na Jerusalem sou gaan om daar die weé van die Here te leer, word nou verneem dat die volke ecenvoudig verbyster is deur die wonderbaarlike redding van die Kneg uit die dood. Hulle sien nou tot hulle eie behoud wat hulle nooit verwag het nie: ‘wat aan hulle nie vertel is nie, sien hulle en wat hulle nie gehoor het nie, word hulle nou gewaar’ (52 : 15). So sien die Kneg ’n nakroos, maak Hy baie regverdig en ontvang Hy die grotes en magtiges as ‘n gawe en beloning van God (53 : 11, 12).
Die volke stroom nou nie meer na Jerusalem om daar by die Here te leer nie, maar hulle gaan na die Messias, want in Hom verskyn God self in Israel as Immanuel (Jes. 7 : 14). Hy is die Kind wat vir ons gebore is, die Seun wat aan ons gegee ‘die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors’ (Jes. 9 : 5). Deur Hom ‘sal die aarde vol wees van die kennis van die Here’ en in sy dag ‘sal die nasies vra na die wortel van Isai wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees” (Jes. 11 : 10—11). Hoewel Hy Israel verteenwoordig, is Hy dus tog ook weer nie Israel nie — is Hy méér as Israel. Ja, Hy is selfs God.
Daar is nog ’n ander voorstelling of verskyning van Hom waarop gelet moet word. Hy verskyn, naamlik ook as die Seun van die mense. Daniél sien Hom van die hemel af kom soos die Seun van ’n mens en ‘aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap, en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk cen wat nie vernietig sal word nie’ (Dan. 7 : 13—14). Hy is die Hoof van die mensheid wat in die plek van Adam staan en in die plek van die mens die oordeel van God ondergaan, maar wat daarna alle mag in hemel en aarde ontvang en die heil vir die nasies verwesenlik.
Die Kneg as die verkondiging van die heerlikheid van God
In en deur die Kneg van die Here wat tegelykertyd die Seun van die mense is én ook self God is, is God in die wéreld teenwoordig en kom Hy aan om die volke te verlos. In Hom en deur Hom word die heerlikheid en heiligheid van God geopenbaar en word dit duidelik in hoeverre daar in die Ou Testament van sending gespreek kan word en hoe die volke verlos word.
Wat die openbaring van die heerlikheid en_heiligheid van die Here hetref, word dit as heiligheid wat op liefde gebaseer is, geopenbaar deur die verlossingswerk van die Kneg.
Hierdie heerlikheid skitter eers teen die agtergrond van die doodsheid, opstandigheid en verharding van Israel wat die kneg van die Here moes gewees het, in al sy stralende heiligheid vir alle ecue uit. Eers in en deur die Kneg en so word dit duidelik wat die heerlikheid en heiligheid van God inhou; ’n heiligheid wat alle reste van heidense vereenselwiging van die goddelike met die menslike uitban. Teenoor die heidense afgodediens en die eiewillige godsdiens van Israel en teen die agtergrond daarvan skitter die stralende heerlikheid van God. Omdat dit in die openbaringsgeskiedenis nie in die allereerste plek om die heil van die mensheid gaan nie, maar om die eer van God, moet daar duidelikheid wees oor wat sy heerlikheid beteken, om so te begryp wat die verkondiging, wat die Kneg is, inhou.
Hoewel dit aangencem moet word dat ook in die oordeel oor die sondaar die eer van die Here geopenbaar word, kom dit tog die duidelikste aan die lig in die redding van verlorenes deur die soenverdienste van Christus. So is die Kneg die verkondiging. Maar juis hierin word God geopenbaar as die heilige God. So wil Hy erken word. Die openbaringsgeskiedenis laat ons deurgaans sien hoe God aankom en as die heilige God openbaar word.
In teenstelling met die heidense afgode wat niks en nietig is, word God in die Ou Testament deurgaans geopenbaar as die lewende heilige God wat soos “n verterende vuur teen alle sonde brand; as die heilige God voor Wie die mens in sy onheiligheid en diepe sondigheid nie kan bestaan nie. Hy is nie slegs ’n krag nie, maar die persoonlike God wat die mens aanspreek en aanspreeklik hou en wat as ewige God en as Skepper, Onderhouer en Regeerder van die ganse skepping alles volgens sy ewige Raad en tot uitvoering van sy ewige wil tot sy eer laat geskied. Hy is die God van hemel en aarde wat die volle toewyding van die mens in onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan sy heilige wil in sy diens eis; Hy is die jaloerse God wat geen ander god naas Hom duld nie; die enige Here wat van sy volk die volle erkenning van sy reg op hulle liefde en toewyding verwag.
Daarom moes Israel leef as ’n heilige volk wat in sy sosiale, politicke, regs- en ekono miese lewe ’n ander stempel as die heidense volke moes vertoon. As die heilige volk van God moes Israel van ander volke onderskei word en dit te meer omdat God, wat so heilig is, tog in sy heiligheid deur sy verlossingsdade by sy volk is. Hy is die God wat in ’n verbondsverhouding met sy volk, wat Hy as sy hesondere eiendom verkies het, getree het maar met die doel dat Israel Hom moes dien ook daarin dat die volke hierdeur ook geleer word om God as die heilige God te erken.
Maar Israel het nie hieraan voldoen nie en het verval tot verbondsverbreking wat in die Skrif met hoerery gelyk gestel word (vgl. Eseg. 16). Israel het ’n kneg geword wat die sondige goed en die gocie sleg noem (Jes. 5 : 20), en daarom was die volksdood in die ballingskap ook ’n teken van ’n geestelike dood.
Teen die donker agtergrond van hierdie onheilige troue lose sondige volk skitter nou die heiligheid van die Here daarin op sy heerlikste dat Hy die onmeetlike afstand en onoorbrugbare kloof tussen Hom en hierdie onheilige volk oorbrug deur die wonderwerk van die lewensverwekking van hierdie volk uit die volksdood in die ballingskap, waardeur Hy openbaar dat Hy nie alleen sé groot en heerlik is dat Hy die onmoontlike bewerk nie, maar ook dat Hy dit doen deur sy liefde wat hierin sterker as die sondemag blyk te wees (Hos. 11 : 8—9).
Hierdie wonderwerk wat antisiperend na nog ’n groter wonder heenwys, en die openbaring van die heiligheid van God in sy liefde en sy oordeel, vind eers sy vervulling in die lewe, dood en opstanding van die Kneg wat die Seun van God is en wat om sy volk te red, selfs die lyde en dood op Hom neem. Aldus verneder die Seun van God Hom tot ’n dienskneg om die oortredinge van sy volk uit te delg (Jes. 49 : 7). Dit laat blyk dat die heerlikheid en heiligheid van God so groot en die onmeetlike afstand tussen die mens en God so wyd en sy sondigheid sé diep is, dat redding vir die mens alleen moontlik is deur die offer wat God self gee en deur die wonder om die mens uit die dood te laat opstaan deur die opstanding van sy Seun. So laat God sy eer aan Hom toekom deur sélf die enigste moontlike weg vir die verlossing van die mens te wees en alle moontlikheid vir die sondige mens uit te skakel om die geringste te doen om die kloof tussen hom en God te oorbrug. So heilig is die Here. So is die Kneg van die Here die verkondiging en dit is ’n verkondiging van die heiligheid en heerlikheid van God. So kom God aan in hierdie Kneg, so word Hy in en deur Hom geopenbaar. Op hierdie koms van Christus is die ganse openbaringsgeskiedenis van die Ou Testament toegespits. Hy is in sy Persoon die kerugma van die heerlikheid, heiligheid en genade van God. As sodanig is Hy die sentripetale Sending-subjek vir die volke. Hierdie kerugma hou in dat Hy as Regter aankom om die wêreld in geregtigheid te oordeel (Hand. 17:31), maar Hy is die aankomende Wéreldregter wat ook kom om versoe ning vir die ongeregtigheid te doen. Die oordeel is vas en seker, want Hy kom om die wéreld te oordeel, maar die kerugma is dat die komende Regter ook die Middelaar is wat kom om versoening vir die sonde te doen.
2 Israel en die volke
Die Kneg van die Here is nou in plaas van Israel die verkondiging aan die volke. Word daar in die Ou Testament in die vooruitsig gestel dat Hy self ook na die volke gaan om daar die Woord van God te verkondig? Is Hy ook die sentrifugale sendingsubjek? Dit wil voorkom of die perikope (Jes. 42:1—7; 49:1—7; 50:4—11 en 52:13—53:12) wat oor die Kneg van die Here handel, nie so iets bedoel nie. Hoewel Jesaja 42:4 — waar gesê word dat die Kneg nie dof sal brand of geknak sal word totdat Hy die reg op die aarde gegrond het nie en dat die eilande op sy leer wag — miskien so iets te kenne gee, moet die verskillende perikope as een organiese geheel geneem word. Dan word dit duidelik dat die strekking daarvan is, nie dat die Kneg na die volke gaan nie, maar eerder dat die volke deur God as ‘n beloning aan die Kneg gegee word. Dit is sy beloning en die waarborg dat sy werk nie tevergeefs sal wees nie (Jes. 53:11—12). Dit het alle nadruk in hierdie profesieë.
Hierdie konklusie is baie belangrik vir die verklaring van die feit waarom die Here Jesus gedurende sy lewe op aarde Hom opsetlik tot Israel beperk het en alleen aan Israel die evangelie verkondig het, hoewel Hy tog steeds die heil van die volke in die oog gehad en voorspel het. Die parallel van Christus as sentripetale Sendingsubjek. na wie die volke stroom nadat hulle verbaas en verbyster is oor sy herlewing na sy smartelike en smadelike ondergang, kom nie daarop neer dat daar nou twee sentripetale figure, naamlik Christus en Israel, is nie, maar dat net soos in die geval van die ander parallelle die vervulling van die laaste in en deur Christus plaasvind. Die voorsegginge aangaande die saamtrek van die volke het nou betrekking op Hom. Hulle word beweeg om hulle heil by Hom te soek.
Dit sal “in die laaste dae” plaasvind. Maar nou wil dit voorkom of die profesieë in vooruitsig stel dat die volke dan meteens almal hulle tot die Here sal begeef waarop dan die vernuwing van die wêreld plaasvind. Die Messias kom dus in die laaste dae wanneer ook die volke bekeer en die vernuwing van die wêreld plaasvind. Dit is wat antisiperend deur die opstanding van Israel uit die volksdood in die vooruitsig gestel word. Sien die laaste dae werklik op die koms van Christus en is dit die bedoeling dat dit alles met sy koms vervul sou word?
Ons weet dat dit nie so gebeur het nie. Eers in die lig van die Nuwe Testament word dit vir ons duidelik wat die Heilige Gees met die profesieë bedoel het: Die profesieë onderskei tussen die kwalitatief nuwe tyd wat met “die laaste dae” intree en die voleinding. Die eerste is dan die nuwe tyd wat met die koms van die Messias begin, maar dit is nie die voleinding nie. Tweedens word dit in hierdie lig duidelik dat daar twee lyne onderskei moet word. Die een lyn loop op die bekering van die volke uit en die ander een op die opstanding en die vernuwing van die wêreld. Die laaste word geantisipeer deur die opstanding van Israel uit die ballingskap en die terugkeer na die verwoeste land wat dan weer herbou word, waarna die volke dan by Jerusalem saamtrek om die Here te dien.
Ons moet dus onderskei tussen die eerste gaan van die volke na Christus en die saamtrek van die volke na die opstanding. Die laaste is die saamtrek in die nuwe Jerusalem wanneer alle gelowiges van alle tye en uit alle volke rondom Christus op die nuwe wêreld versamel word, terwyl die eerste koms self ‘n linie in die geskiedenis vorm en aanhou tot op die voleinding.
Met die eerste koms van Christus is ‘n nuwe begin gemaak. ‘n Historiese proses van die bekering van die volke is aan die gang gesit wat vandag nog aanhou en nie voor die wederkoms van Christus sal beëindig word nie. Die eerste lyn sien dus op die geestelike vernuwing van die volke terwyl die tweede lyn saamval met die eskatologiese opstanding van die volk van God uit alle volke asook van die skepping, na die voltrekking van die eindgerigte. Daarna neem die ewige oordeel oor die ongelowiges ‘n aanvang. Dat hierdie twee lyne en tye nie so duidelik in die profesieë onderskei is nie, volg uit die aard van die profesie, waardeur die vervulling van toekomstige gebeurtenisse gesien is soos een bergreeks terwyl dit eintlik verskillende op mekaar volgende bergreekse is. Dit vloei ook daaruit voort dat daar ‘n wesenlike verband tussen die twee lê, en dat die een die begin van die ander is, want die uiteindelike saamtrek van die volke en die vernuwing van die wêreld kan nie plaasvind sonder die byeenvergadering en die bekering van die volke in die gang van die geskiedenis nie. Die eerste is dus die begin van die laaste.
Wesenlik kan die twee nie van mekaar geskei word nie, want in albei gevalle gaan dit om die herskepping, die vernuwing, die opstanding, maar in die eerste geval het dit betrekking op die geestelike opstanding van die volk van God uit al die volke en in die tweede geval sien dit op die liggaamlike opstanding van die volk van God en die materiële opstanding van die skepping.
Dat die Here met die profesie aangaande die saamtrek van die volke die nuwe Jerusalem (Openb. 21) in die oog gehad het, blyk byvoorbeeld duidelik uit die sg. apokalupsis van Jesaja (Jes. 24—27) waarin die eindgerigte oor die wêreld (Jes. 24:19—23) en die liggaamlike opstanding voorspel word (Jes. 26:19), maar waarin ook die volgende skildering van die toekoms van die volk van God voorkom: “En die Here van die leërskare sal op hierdie berg (Sion) vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.
En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek. En hulle sal in dié dag sê: Kyk dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; laat ons juig en bly wees oor sy hulp” (Jes. 25:6—9, vgl. hiermee Openb. 21).
Ons kry dus in die Skrif enersyds die “progressiewe redusering” van die een mensheid tot die een persoon Abraham en van hom tot die een volk Israel, van Israel tot die res en van die res tot die een Kneg van die Here, en dan weer die “progressiewe uitbreiding” van die een Kneg tot die res uit Israel en van die res na die volke van die wêreld — andersyds in plaas van die sentripetale beweging van die volke na Jerusalem, die nuwe begin in Jerusalem (met Pinkster) en vandaar na die hele Judea en Samaria en vandaar tot die uiterste van die aarde (Hand. 1:8); om dan na die eindgerigte oor die wêreld en die opstanding die sentripetale saamtrek van al die volksreste wat uit die oordeel gered is, in die nuwe Jerusalem te kry.
Intussen is daar vir die volke die weg geopen vir die redding uit die gerig van Christus, die reeds gekome en nog komende Wêreldregter, deurdat hierdie Regter versoening vir die sondes gedoen het deur die gerig van God op Hom te neem. Omdat Hy as sodanige Regter deur God benoem is, verkondig God nou deur Hom aan alle volke oral dat hulle hulle moet bekeer (Hand. 17:30, 31).
Die individue en die volke se tydelike en ewige lot word nou beslis, nie deur die houding wat hulle teenoor Israel, maar teen Christus inneem. Wat dink julle van Christus? is nou die beslissende vraag vir Israel en al die ander volke.
Omdat Israel, die openbaringsvolk van God, heel eerste met die vraag gekonfronteer moes word as die volk van wie die heil verder na die volke van die wêreld moes uitstroom, het die Here Jesus in sy aardse optrede Hom tot Israel beperk.
Omdat die heil alleen deur die Here in en deur die Kneg bewerk kan word, soos weer uit die verwerping van die Kneg blyk, bly Hy alleen as die ware Kneg oor, die takkie wat uit die stomp groei, die ware Israel, uit wie die twaalf apostels as die verteenwoordigers van die twaalf stamme van Israel groei, om so te wees die ware geloofskern en res van Israel in en rondom die Kneg van die Here, wat die fondament vir die nuwe Israel vorm, in wie sedert Pinkster die gelowige reste van die ander volke ingelyf word deur die inlywing in Christus.
En so is hierdie nuwe volk die voortsetting van die ou gelowige Israel (Rom. 11:17, Gal. 2:7—8). hoewel nou as die een volk uit al die volke. Op die wyse word die verbondslyn wat vanaf Abraham gaan, verder in die nuwe Israel voortgesit en nie afgebreek nie.
3 Die Jode se toekoms
Daarmee het die prerogatief van Israel in die koninkryk van God verval en het dit die betekenis as openbaringsvolk verloor. Vanweë sy verwerping van Christus het dit uiteindelik ook sy voortbestaan as volk ingeboet. Israel wat in die eerste plek nie as ‘n etniese grootheid gekenmerk moes gewees het nie maar as die heilige volk van God wat verkies was tot diens van God ten behoewe van die nasies, en alleen as volk van God en in daardie roepingsbesef as ‘n aparte volk sin en betekenis gehad het, het daarenteen verkies om in die eerste plek ‘n etniese grootheid te wees en het daarom sy Messias verwerp en so ook sy eie ondergang bewerkstellig. Hoewel ‘n eventuele bekering van Israel nie uitgesluit is nie, kan dit nie aangeneem word dat dit weer as volk ‘n bevoorregte posisie in die koninkryk van God sal geniet nie.
Wat hou hierdie verwerping deur Israel in? Waarom het Israel Christus verwerp? Israel en die volkerewêreld is sedert die opkoms van die Assiriese en die daaropvolgende wêreld-magte in noue aanraking met mekaar gebring. Dit het die volke ook in nadere kontak met die God van Israel laat kom om die volkerewêreld vir die koms van Christus voor te berei. Maar Israel wat ‘n heilige volk van God in geestelike afsondering van die heidendom moes bly, het daarenteen eers self tot ‘n groot mate verheidens terwyl dit aan die andere kant, noudat dit die paganisme afgesweer het en in die wêreldstroom geplaas is om tot eer van God ekumenies en missionêr in daardie aanraking met die volkerewêreld te dink en te handel, ‘n nougesette partikularistiese nasionalistiese eksklusivisme probeer handhaaf.
Dit het vir Israel nou in die eerste plek om die handhawing en voortsetting van sy nasionale bestaan gegaan. Daarvoor is dit nodig geag dat ‘n hegte nasionale eenheid gesmee word. Die wet van Moses en die Joodse godsdienstige oorlewering is as die geestelike basis en saambindende faktore gesien, waarsonder daar vir Israel as aparte volk geen toekoms sou wees nie. Daarbenewens is dit aangeneem dat die koms van die koninkryk van God van die getroue nakoming van hierdie wet en tradisies afhang.
Dat Israel onder die destydse omstandighede so begaan was om sy nasionale voortbestaan was begryplik. As gevolg van die afhanklike posisie van Israel, die opkoms en uitbreiding van dreigende wêreldmagte en die grootskaalse diaspora van die Jode was die voortbestaan van Israel in groot gevaar. Menslik gedink was hierdie partikularisme en godsdienstige basis en saambindende faktor die enigste hoop vir die handhawing van die Joodse entiteit en die voortbestaan van Israel as ‘n aparte nasie.
Dit is begryplik dat, toe die voortbestaan volgens hierdie beskouing in gevaar gestel is deur die eventuele uitskakeling van die grootste gedeelte van die Mosaïese wette en die tempeldiens in die sentrale volksheiligdom deur die “nuwe” leer van Jesus, hierdie leer as volkskadelik beskou en daarom verwerp is. Dit sou immers vir Israel op die duur onmoontlik geword het om volgelinge van Christus te word en dan nog die Mosaïese wette en kultus onveranderd te handhaaf, want Christus het immers gekom om dit alles te vervul. Dit wat as die eintlike Joodse tradisie beskou is, dit wat Israel ‘n volk gemaak het en wat met die verlies van die onafhanklikheid van Israel die enigste saambindende faktor vir ‘n nasionale voortbestaan geword het, moes dus vir ‘n onsekere toekoms met Christus prysgegee word!
Dit was vir die volksleiers ‘n onmoontlike eis en daarom was dit een van die hoofredes waarom hulle Christus verwerp het. Onder dergelike omstandighede sou enige ander volk miskien net so gehandel het. Vandag nog sal byna alle volke hulle eie voortbestaan verkies as hulle tussen dit en God die Here moes kies.
Dit kan egter nie as ‘n verontskuldiging vir Israel aangevoer word nie en moet as sonde gebrandmerk word. Die diep sondige van hierdie verwerping van Christus kom daarop neer dat die eie belange gestel is bo dié van God en dat gekies is vir selfhandhawing en teen God. Daarmee het Israel juis bewerk wat dit wou verhoed het, want juis deur hierdie verwerping, deur hierdie selfhandhawing het God as straf vir hierdie volk sy volksbestaan beëindig, is die koninkryk van God van hierdie volk weggeneem, Jerusalem verwoes en is die Jode oor die hele wêreld verstrooi, sodat die Israeliete Jode geword het wat geen eie vaderland het nie.
Die grondfout en fatale misrekening van Israel was ongeloof. Hulle wou nie uit die genade van die uitverkiesing leef nie. Israel wou nie glo dat daar vir die volksbestaan alleen ‘n toekoms was as dit alles aan die Here oorgee in die ver-troue dat, hoe onmoontlik dit ook menslik mag voorkom, die Here alleen op hierdie geloofsweg ‘n toekoms vir Israel sou verseker het. Maar terwyl die leiding van God in die geskiedenis van Israel en die openbaring van die Here ‘n voorafskaduwing was van en uitgemond het en saamgevat is in die openbaring van die Kneg, deur wie verwesenlik word die perspektief van die koms van die koninkryk van God deur die wonder-verlossing van sy volk deur genade alleen, wou Israel nie uit die genade lewe nie. Dit het nie in afhanklike geloofsvertroue uitgesien na die koms van die Messias nie, en het Hom verwerp toe Hy verskyn het. Dit het die verkiesing verkrag en geen ware roepingsbesef teenoor die volke gehad nie. Daarom het die Here ‘n einde aan die Israelitiese volksbestaan gemaak.
Sedertdien is daar alleen maar Jode. Die ou Israel is dood, en die ware Israel is nou die gelowige volk van die Here uit baie volke. Die ou Israel het geword die Jodedom wat oor die hele wêreld versprei is. Hoewel hulle oral aparte groepe in die samelewing vorm wat nie met die res assimileer nie en ‘n gedeelte van die Jode weer in die nuwe land Israel is, is hulle nie meer ‘n volk nie, want daar is nie meer die saambindende faktore van taal, kultuur, godsdiens en vaderland nie. Vir die meeste van hulle geld die Mosaïese wette en die Judaïstiese godsdiens nie meer nie en hulle is mense met baie kulture en tale onder en uit baie volke. Waar Israel vroeër gekarakteriseer is as die volk van God, moet ‘n Jood nou gekarakteriseer word as iemand wat by die groep mense behoort wat Christus, hulle Messias, verwerp het. Dit is hulle onder-skeidende kenmerk onder die volke.
Daar is nie meer Israeliete onder hulle nie. Wel is daar nog Judaïste, maar Judaïsme het ‘n menslike godsdiens geword waarvolgens die mens van nature goed is en self sy eie saligheid kan uitwerk, sodat daar ook geen ware behoefte aan ‘n Saligmaker is nie. Daar word verder ook geen moontlikheid oopgelaat vir ‘n Christelike kern onder die Jode deur wie die lewe verder gekersten kan word nie, want Jode wat Christene word, hou op om Jode te wees, sodat selfs as daar vir die Jode ‘n nasionale bestaan moontlik is, diegene wat Christene word, geïsoleer word en uit die Joodse verband gestoot word.
‘n Gesonde nasionalisme kan nie veroordeel word nie en is selfs van hoë waarde in die menslike lewe. Elke individu het ook ‘n roeping teenoor sy volk. Maar soos nêrens anders word die diep sondige en gevaarlike van alle etnosentrisme in die verwerping deur Israel van Christus as ‘n waarskuwing aan alle volke voorgehou. Hier is immers die eie nasionale voortbestaan verkies bo God. Dit is waartoe die sondige mens sonder Christus steeds verval. In die nasionale gedagte sit die diep gevaarlike van die sondigheid van die mens wat sonder Christus oorgaan tot verwerping van God en lei tot die vergoding van die volk.
Dit is ‘n werklike verleiding vir alle volke, maar dit moet ook as ‘n vingerwysing dien dat, eers wanneer besef word dat as gevolg van die sonde daar in nasionalisme ook die diep sondige van die individu en die volk aan die lig kom daarin dat die individu sowel as sy volk Christus verwerp het en self-handhawing verkies het; eers wanneer daaroor ware verootmoediging is, kan die geloof in die alleensaligmakende genade van God deur die soenverdienste van sy Seun tot rypheid kom. Dit is waartoe die gelowiges as individue én as die gelowige volkskerns van hulle onderskeie volke gebring moet word.
Maar as hulle so ver kom moet dit andersyds gesien word as die heil wat die Kneg van die Here bewerk. Op daardie weg gaan hulle oë oop vir die heerlikheid van die heil van God en “die diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God” (Rom. 11:33).
In hoeverre daar ‘n moontlikheid vir ‘n eie nasionale toekoms van die Jode is, is moeilik om te sê. As ons die Skrif reg lees, wil dit voorkom of Israel, wat geroep was om in die eerste plek die volk van God te wees geen nasionale toekoms het as dit nie ‘n Christelike volk word nie. Hierdie moontlikheid word egter nie deur die Skrif uitgesluit nie, want hoewel Israel Christus verwerp het, is Israel nog nie deur die Here verwerp nie en is die Jodedom ook ingesluit onder die nasies onder wie die kerk van die Here dissipels moet maak (Matth. 23:19).
Om oor die vraag of hulle in die toekoms ‘n gekerstende nasie sal word te beslis, moet al die gegewens in verband met die saak in die Ou sowel as die Nuwe Testament nagegaan word, waarvoor nodig is ‘n aparte studie wat hier nie moontlik is nie. Dit wil voorkom of baie Jode later deur die dade van God in en deur die nuwe Israel, die kerk van die Here, beweeg sal word om Christene te word (Rom. 11:12—15, 25—26), en so kan dit dan wees dat hulle ‘n Christelike kern kan vorm deur wie die volkslewe verder gekersten kan word.
Dit kan selfs aangeneem word dat hierdie volk dan nog ‘n groot Christelike roeping teenoor die volke sal kan vervul, want hoewel Israel se verwerping volgens Romeine 10:11 die aanleidende oorsaak daarvoor was dat die stroom van die evangelie van Israel na die heidene weggevloei het, wil dit volgens Romeine 11:25-—26 voorkom of daar weer later ‘n terugvloeiing is vanaf die Christendom onder die nie-Israelitiese volke na Israel, sodat, soos waarskynlik reeds deur die Ou Testament (vgl. o.a. Jes. 19:18—25, Ps. 87) in die vooruitsig gestel word, Israel naas, en nie juis na die ander volke nie, in sy pleroma na die uitverkiesing sy plek in die koninkryk van God kry. Dit kan dan wees dat hierdie deurwerking onder die Jode weer ‘n uitwerking op die nie-Israelitiese volke sal hê (Rom. 10:11, 15).
Vir ‘n nasionale toekoms is ‘n eie vaderland natuurlik onontbeerlik, en noudat daar die afsonderlike staat Israel in die lewe geroep is, kan dus ook gesê word dat aan hierdie voorwaarde voldoen is en dat nou in vervulling kan gaan dit wat in die profesieë (vgl. Sag. 8) omtrent die terugkeer van Israel na Palestina gelees word.
Hoewel daar by baie Jode ‘n groeiende belangstelling vir die Nuwe Testament is en Jesus deur baie Jode as ‘n Jood van groot formaat beskou word, is daar nie die minste teken van ‘n bekering tot Christus nie. Hierbenewens wil dit lyk of daar ook nie ‘n toekoms is vir ‘n staat wat op die Judaïsme gebaseer is nie, want eerstens het dit reeds duidelik geword dat ‘n moderne staats- en volkslewe nie op die Mosaïese wette gebaseer kan word nie en tweedens dat, vanweë die feit dat slegs ‘n klein minderheid oortuigde Judaïste is, hierdie vermenslikte godsdiens ook nie as ‘n saambindende nasionale faktor kan dien nie.
Op die oomblik is die tendens van ontwikkeling meer in die rigting van materialisme en sekularisme. Vir sodanige gesekulariseerde Israel is daar, soos ons die Skrif sien, geen nasionale toekoms nie. Dit is dus moeilik om te sê watter eventuele moontlikhede die huidige staat Israel inhou, ook omdat enige vooruitsig op die handhawing van die onafhanklikheid as gevolg van die byna ongeëwenaard bittere vyandskap van die miljoene Joodse Moslembure baie onseker is.
Wat ook al die vooruitsigte is, die sending onder die Jode onder die huidige omstandighede is ‘n dringende saak, waarmee baie meer werk gemaak sal moet word as wat tot dusver die geval is. Dit is en was nog steeds ‘n vanselfsprekende roeping, omdat God dit as roeping op sy kerk lê, maar wat dit nou so dringend maak is (a) dat, terwyl die Skrif ‘n bekering en terugkeer van Israel nie uitsluit nie, die Here miskien nog die nuwe terugkeer van Jode na hulle ou land as middel wil gebruik tot die bekering van baie Jode en tot ‘n kerstening van die volkslewe; (b) dat, terwyl daar vir die Judaïsme as ‘n nasionale godsdiens geen toekoms is nie, daar vir die Jodedom net oorbly ‘n keuse tussen Christus en sekularisme, maar omdat daar alleen ‘n toekoms vir Israel is as dit weer ‘n volk van God word, is so ‘n moontlikheid uitgesluit as dit die laaste kies.
Daarom is dit so dringend dat die Jodedom met die Woord van God gekonfronteer word, sodat hulle gedwing word om weer opnuut vir of teen Christus te kies, sodat indien hulle Christus kies, hulle ook ‘n seën vir die nasies mag wees.
_________________________________
*Bron: ‘n Banier van die Volke (Potchefstroom: Pro Rege-Beperk, 1963: 169-178. Sekere opskrifte bygevoeg of aangepas, asook kursief van sekere gedeeltes. Boek is te koop by Pro Regno Boeke
Meer gereformeerde bronne oor Israel hier: https://proregno.com/category/israel/
Meer inligting oor Pro Regno en Pro Regno Boeke: https://proregno.com/
My lesing oor die ‘Toekoms van Israel’:
My notas by die lesing: Die Toekoms van Israel
__________________________________________________________
BOEKE TE KOOP BY: https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

Leave a comment