Posted by: proregno | February 23, 2010

Genesis, antieke kosmologie, humanisme en Christelike beskawing

1. Sien die volgende artikel, ‘Genesis and Ancient Cosmology’, deur dr. John Byl, hier:
 
 
Byl wys daarop dat die moderne teologie en wetenskap se evolusionêre voorveronderstelling is basies dat die Israeliete ‘wetenskaplik’ ‘n klomp platkoppe was wat nie so slim soos ons was nie, en daarom moes hul geglo het in ‘n plat aarde, ens.  Daarom moet ons Genesis nou ‘herinterpreteer’ om die moderne mens te help om vas te hou aan sy abstrakte geloof en evolusionistiese wetenskap. 
 
“It seems to me that the current attempt to read Genesis as accommodation to erroneous ancient pagan cosmology is motivated primarily by the desire to constrain biblical authority so as not to contradict modern secular science. This itself is just another form of accommodation, whereby God’s word is truncated to fit human reason.”
 
Sien ook die volgende relevante artikels:
 
 
 
2.  ‘n ‘Nuwe’ Humanisme as redder van die nuwe SA ?
 
“Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) fokus op innoverende, interdissiplinêre navorsing oor temas wat van besondere belang vir Suid-Afrika en Afrika is.  Die vraag waar dinge skeefgeloop het en hoe ’n mensliker samelewing in Suid-Afrika in die praktyk tot stand gebring kan word, is een van die land se grootste uitdagings.  ’n Konferensie hieroor vind van 24 tot 26 Februarie by STIAS in Stellenbosch plaas.”
 
 
Ongeag die goeie algemene kritiek wat uitgaan vanuit die postmodernisme teen die rasionalisme van die modernisme wat deur sy ‘strukturalisme’ die mens probeer red het in die 20ste eeu (staatisme), is die ‘nuwe’ humanisme wat in hierdie artikel voorgestel word, soos sy voorgangers ook gedoem om te misluk.
 
In die artikel staan daar onder andere:
 
“Kontekstueel. Die verskillende “golwe” van humanistiese denke was elkeen ’n poging om op ’n spesifieke historiese situasie of krisis te reageer. Dit is ’n ryk geskiedenis waaruit ons met vrug kan put en illustreer dat elke tydvak nuwe denke verg en eietydse oplossings vra. Daar is geen universele of tydlose antwoorde nie – elke geslag is verantwoordelik om die brose plantjie van ’n menslike en menswaardige samelewing te beskerm, te voed en te versterk.”
 
Hoe nederig en verdraagsaam die woorde ookal klink, is dit in sy wese nogsteeds in lyn met die Stad van die Mens, en nie die Stad van God nie:
 
1. die postmoderne humanis verruil die Bybel as onfeilbare tydlose, universele waarheid vir alle tye, plekke en volke (Ps.19; 119; Joh.17:17), vir die nuwe tydlose, universele ‘waarheid’, nl. ‘daar is geen universele of tydlose antwoorde (d.w.s. waarheid) nie’, en weë jou as jy durf een godsdiens, een geloof, een waarheid bo die ander stel.  
 
2. die postmoderne humanis verruil Jesus Christus as enigste Koning en Verlosser van die mensdom (Matt.28:18-20; Joh.14:6; Hand.4:12), vir die Mens wat sy eie god word, sy eie wet, sy eie verlosser, hetsy of dit nou ‘n modernistiese of postmodernistiese utopia is wat die mens saam moet skep.
 
3. en, daarom, is al hierdie mooi planne ook gedoem om te misluk, omdat: 
 
“As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” – Ps.127.
 
Die antwoord op die Humanisme van die nuwe SA, in watter ou of nuwe vorm dit hom nou openbaar, bly dieselfde, soos in elke eeu en in elke tyd: terug na God en Sy Woord, terug na die enigste verlossing en hoop vir die mens: die evangelie van Jesus Christus, die enigste fondament van ‘n ware Christelike beskawing. 
 
Ja, geen sekulêre humanisme nie, maar ook geen new age humanisme (wat nou ook al in die kerke is) gaan ons, ons gesinne, kerke, volke en land red nie, maar alleen ‘n terugkeer na die Skepper van hemel en aarde, die ware drie-enige God:
 
Jesaja 8:19-20 19 En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet ‘n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word? 20 Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.
 
Wat ‘n mens die ‘nuwe’ humaniste tog moet toegee, is dat hul besorgd is, ‘n plan wil maak en dit wil uitvoer ten opsigte van die totale mislukking van die nuwe SA.
 
Is daar by die kerk van Jesus Christus nog daardie besorgdheid, toewyding en passie vir ons land en sy mense ?  Ons het die ‘beste plan’, maar glo ons dit nog werklik, voer ons dit nog met passie uit … of byt ons maar net vas en wag vir die wederkoms sodat ons gered kan word van hierdie ‘sinkende skip’  ? 
 
Glo ons ons het ook nog ‘n roeping in hierdie land, nie net wat my eie, my gesin en gemeente se saligheid betref nie, maar dat Christus ge-eer en geprys sal word deur elke duimbreedte op aarde, tot lof van Sy Naam ? 
 
My hoop en bede is dat HG Stoker se profetiese woorde (reeds gespreek in die 1940’s) mag waar word in ons tye en volk se lewe:
 
 “Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.  Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.
Daarom kan ons wat die gevaarsein van die sinkretisme onderken, vandag nog met S. J. P. Kruger sê: “Ek is oortuig dat God Sy mense nie sal verlaat nie, al lyk dit so. Daarom onderwerp ek my aan Gods wil.  Ek weet dat hy die verdrukte volk nie ten onder sal laat gaan nie. Hy is die Heer, Hy het al die harte in Sy hande en bestuur hulle na Sy wil.”

En daarom kan ons ook saam met Piet Retief uitroep: “Ons gaan met ‘n vaste vertroue op ‘n alsiende en genadige God wat ons altyd sal vrees en in alle nederigheid sal probeer gehoorsaam.”
(Bron: https://proregno.files.wordpress.com/2010/02/calvinisme-_1_.pdf)
 
En daarom voeg ek ook die volgende woorde by van prof. Hendrik van der Wateren (geskryf in 1996 in die voorwoord tot die boek ‘Afrikanertoekoms’, waarvan hy die redakteur was):
 
“By ons is daar geen twyfel nie: ons het nie net die reg op volksbestaan met ‘n eie volkshuishouding nie; ons het ‘n besliste roeping daarin. So bied ons dus ‘n plan aan om ons volk weer eendragtig saam te bind. En die plan is eenvoudig — ‘n Woordgefundeerde beginsel vir ons volksbestaan en ons volkslewe. Wanneer dit weer sentraal kom staan in ons volkshart, dan sal die wonde genees dan sal ons weer saambeur met nuwe geesteskrag. Dan kyk ons weer met waardering terug op ons verlede, dan weeg ons die hede en ons gaan die toekoms met daadkrag tegemoet.
 
Hierdie daadkrag sal nie opgewek word deur die herrysenis van ‘n leier uit die sentiment van die verlede nie; nie met ‘n towerresep wat nie bestaan nie. Wie daarop wag, wag met ‘n valse hoop. Dit sal groei uit die daadkrag van volksnasionalisme, van volkskulturele ontwikkeling, van ekonomiese ontknegting, uit ‘n roepingsbesef oor die onderwvs vir ons kinders en in ons godsdiens. Hier, op hierdie terreine, lê die sluimerende kragte en wag om ontgin te word.

Wanneer hierdie besef weer tuiskom, sal die Afrikaner weer koersvat. So was dit in ons verlede en so sal dit nou weer wees. Die tekens is reeds daar.  Want in ons volksverlede was daar, nieteenstaande die tussenperiodes van twyfel en oënskynlike koersloosheid, nog allyd ‘n deurlopende en besliste insig in die verhouding tussen verlede, hede en toekoms. En hierdie insig wortel in die vraag: Waar staan ek met my God?”
 
Ja, waar staan ek met die Here in my lewe ?
 
Waar staan my gesin met die Here ?
 
Waar staan my gemeente met die Here ?
 
Waar staan my volk met die Here ?
 
Waar staan my land met die Here ?
O Here, wees ons genadig hier aan die suidpunt van Afrika, want ons oortredings is groot en ons het ver afgedwaal van u weë en wette.
Verlos al u kinders onder al die volke hier.
Laat ons gebed wees (in lyn met Sondag 48, HK):
Laat u koninkryk kom hier in Afrika.
Regeer ons so deur u Woord en Gees, in ons hele lewe,  
dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp.
Bewaar u kerk en laat dit groei  onder al die volke in ons land.
Vernietig die werke van die duiwel, elke humanistiese mag wat teen U opstaan,
en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word deur die valse profete en die valse kerk,
totdat die volkomenheid van u ryk kom,
waarin U alles in almal sal wees.
 o God, verlos Israel uit al sy benoudhede!  Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: