HGS- reeks: 8. ‘n Bruid afgebid 9. Josef

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

– hfst.1: Man en vrou het Hy hulle geskape 

– hfst.2: Die Here bring die vrou na haar man 

– hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan

– hfst.4: Skaamtegevoel – skild van die Here ontvang

– hfst.5: Gemengde huwelike

– hfst.6: Kind, eer jou vader

– hfst.7. Verbond met ouers en kinders

 Hoofstuk 8: ‘n Bruid afgebid

“Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer” (Gen.24:12).

Land van die belofte.

Abraham woon as vreemdeling in tente in die beloofde land, Kanaän. Eintlik woon hy tussen vyandige mense en daarby heidene wat die Here nie ken of dien nie.  En Abraham het ‘n ongetroude seun, Isak. Hy was baie lief vir Isak. Dit is ook te begrype, want hy was nie alleen sy kind nie, maar hy was ook die kind wat in sy ouderdom gebore is op die belofte van die Here. Die belofte is vervul aan sy vrou Sara toe alle menslike verwagtinge alreeds gesterf het – in haar ouderdom.

Isak was ‘n besondere kind aan wie die ryke beloftes van God verbind was. Die belofte aan Abraham het oorgegaan op Isak:

“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou” (Gen.17:7).

‘n Verbondskind is altyd kosbaar vir ‘n verbondsouer. Hy is gedoop en dra die verbondsteken, waarby sy ouers ook ‘n belofte afgelê het dat hulle hom sal opvoed in die vrees van die Here.

En Abraham het dit gedoen . . .

Niemand wat by Isak pas nie

En toe die seun Isak grootword en selfs die hubare leeftyd bereik en verbygroei; had Abraham ook groot sorge oor die geliefde kind van hom. Daar is baie jong meisies in Kanaän, maar almal is heidene. Hulle dien die afgode met alles wat daaraan verbonde is,  ook die afgodiese onsedelikheid. En so ‘n vrou sou nie by Isak pas nie.

Ook Isak self sou hieroor stryd gehad het. Of hy aan trou gedink het, word nie aan ons vertel nie. Hy was egter nie meer so jonk nie – so om en by veertig jaar – en nog steeds ongetroud. Sou ook hy besorg gewees het oor die dogters van Kanaän? Die Godvresende jongman sien dus niemand wat as hulp by hom sou pas nie.

Eindelik laat roep Abraham sy mees betroubare kneg; ook ‘n man wat die Here vrees. Hy gee aan hom die opdrag om vir Isak ‘n vrou by sy familie in Haran te gaan haal. Hy laat hom selfs daartoe ‘n eed neem. Alleen indien hy na Haran reis en geen meisie vind wat saam met hom na Kanaän wou kom nie, sou hy van sy eed onthef wees. Isak mog egter nie weggaan uit Kanaän nie – dit is die beloofde land.

Gebed om ‘n vrou vir Isak aan te wys

So kom Abraham se dienskneg met sy karavaan by Haran aan. Hy laat die kamele neerkniel buite Haran by ‘n put en dan bid hy:

“Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep. Laat dit dan nou tog gebeur: as die dogter vir wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink – dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak.”

Kinderlik, gelowig bid hierdie man. Hy bid soos ‘n vader vir sy eie kind sou bid. Waarlik hy het in God geglo en hy het sy heer liefgehad en die belange van die jong man Isak, op sy hart gedra. Hy verwag ‘n direkte antwoord – ‘n antwoord wat ook sal toon dat die dogter gasvry en hulpvaardig is en die regte vrou vir Isak sou wees. Sy moes uit haar eie aanbied om ook vir sy kamele water te skep, wat geen nietige werkie sou wees nie.

Die Here hoor

En die Here verhoor dadelik. Eintlik was die Here al klaar besig om Isak se vrou na die put te stuur. “Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka. En in Rebekka word die man se gebed stuk vir stuk beantwoord.” Sy doen presies wat hy as teken van die Here gevra het.

Uiteindelik reis hierdie merkwaardige vrou, as bruid van Isak, saam na die afgeleë en onbekende land. Sy is ook op pad na ‘n onbekende man met wie sy moes trou. Maar sy reis met die sekere wete dat sy op die weg van die Here is. Sy weet van die gebed van Abraham se kneg en sy weet ook van Abraham en Isak se begeerte. En sy gaan om ‘n gelukkige bruid te wees. Die Here lei haar met sy eie hand na haar man toe.

Isak ontmoet sy bruid

Teen die aand dwaal Isak alleen in die veld “om te peins”. Waaroor sou hy peins? Sy hart sou sekerlik saam met die kneg van sy vader gereis het na Haran en hy sou seker uitsien na sy terugkeer. Hy sou ook gewis in die tyd baie gebid het dat die man tog die regte vrou vir hom sou kry. Daarom kon hy nie stilsit nie – hy gaan na die eensaamheid van die veld met die gedagtes en verlangens wat sy hart onrustig maak.

Hy kyk op en daar sien hy kamele aankom!

Maar ook Rebekka het hom al gesien, die eensame jongman in die veld. Sy sou weet dat hulle die bestemming nou nader en haar vroulike intuïsie sou haar die vraag na die lippe dring: “Watter man is dit wat ons tegemoetloop in die veld?”

Die antwoord is soos sy kon verwag: “Dit is my heer.”

Dan weet Rebekka: “Dit is my bruidegom.”

Dadelik doen sy wat sy as jong meisie behoort te doen. Sy werp haar sluier oor haar gesig. Stil sit sy en wag, soos dit haar as meisie betaam.

Hy het haar liefgehad

Intussen vertel die kneg aan Isak alles wat gebeur het.

“En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad.”

Hoe kan dit ook anders? ‘n Vrou wat so van die Here afgebid en deur die Here self gestuur is, is ‘n kosbare gawe uit die hand van die Here. So ‘n vrou het ‘n man lief. So vind ‘n gelowige jongman en meisie mekaar.

Nee, so ontvang hulle mekaar elkeen afsonderlik as ‘n gawe uit die hand van die Here.

Bid, en vir jou sal gegee word!

‘n Hulp wat by jou pas is een van die belangrikste skatte waarvoor jy op aarde kan en moet bid.

Hoofstuk 9: Josef glo in God en hou sy jong lewe rein

“Hoe kan ek dan hierdie kwaad doen en sondig teen God?” (Gen. 39:9)

Verbondskind as slaaf verkoop

Ons tref die jongman Josef hier in Egipte aan. Sy broers het hom as slaaf verkoop aan ‘n groep smouse en hy is deur hulle in Egipte verkoop aan ‘n sekere Potifar, ‘n vername raadslid van die Farao, die koning van Egipte. ‘n Slaaf is ‘n gebonde mens. Hy het geen regte nie. Hy is soos ‘n redelose dier verkwansel en sy baas kon hom maak of breek soos hy wil. In die oë van sy baas het hy geen “wil” of verlangens of begeertes van sy eie nie. Hy moes buig voor elke gril van sy besitter en was gewoonlik ‘n nederige en kruipende wese, met haat en bitterheid in sy hart.

Maar Josef was ‘n verbondskind uit die huis van sy vader Jakob. Sy vader het hom voorgetrek teenoor sy broers. Hy was immers die seun van Jakob se geliefde vrou, Ragel. Dit was ook weer ‘n gevolg van die huwelikslopende sonde van die veelwywery, waaraan Jakob hom skuldig gemaak het. Dit het die gevolg gehad dat Josef se broers hom gehaat en uiteindelik as slaaf verkoop het.

Gedra soos kind van God

Josef self het egter verbondskind gebly. Daarom was hy innerlik geen slaaf nie, maar ‘n mens wat vrygemaak is van die slawebande van die duiwel. As kind van God was hy wel nog ‘n sondaar, maar die sonde het nie meer oor hom geheers nie. So kom hy, gewapen na die innerlike mens, in Egipte aan. Min het hy besef dat die Here hom daarheen gestuur het om ‘n weg vir sy vader en broers tot oorlewing voor te berei.

As roepingsbewuste kind van God gedra hy hom soos sy hemelse Vader dit van hom sou verwag, ook in sy slawerny. Hy het al klaar gedoen wat Paulus eeue later aan die slawe van sy tyd skryf:

“Slawe wees gehoorsaam aan julle base hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met ‘n opregte hart, asof dit vir Christus is” (Ef. 6:5).

Josef het vir Potifar gewerk asof hy vir God werk en spoedig is hy as opsigter oor sy baas se huishouding aangestel. Die Here seën elkeen wat vir Hom werk. Selfs Potifar, die heiden, kon “sien dat die Here met hom was, en dat die Here alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak” (39:3).

Lei my nie in versoeking nie

Ook Potifar se mooi vrou het hierdie jong slaaf raakgesien. Sy het selfs meer as ‘n slaaf in hom gesien. Sy het gesien dat hy aantreklik en begeerlik is en onheilige verlangens het in haar begin broei. En sy hoef hom ook nie juis te ontsien nie – watter keuse het hy as slaaf ? Sy kon alles van hom eis en sy doen dit ook:

“Na hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my.”

En dan doen Josef wat geen slaaf sou waag om te doen nie. Hy weier om te gehoorsaam en hy sê self aan haar waarom hy weier:

“Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in sy huis is nie. Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie kwaad doen en sondig teen God?”

Wat ‘n praggetuienis van die slaaf, Josef!

Hier praat hy as vry man omdat hy aan God behoort.

Die liste van die duiwel om hom te verlei, weerstaan hy. Ag, hy sou selfs allerlei menslike beweegredes kon aanvoer – indien hy aan die sonde sou toegee – om die daad goed te praat. Die verleiding was magtig en satanies en hyself was “ook maar net ‘n man”.

Anders omdat hy in God glo

Maar omdat hy in God glo was hy anders – al sou alle ander mans swig voor die verleiding – hy het nie, omdat hy glo. Omdat hy glo, sien hy dit allereers as ‘n verbreking van die heilige huweliksband. Dit is ‘n sonde teen Potifar, die wettige man van die verleidelike vrou. Daarin erken hy ook dat sy liefde vir sy medemens so ‘n daad verbied. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Jou naaste se vrou of suster of selfs dogter mag jy so ‘n ding nie aandoen nie. Bowendien is dit ‘n byna dierlike daad van wellus teenoor die vrou self. Hy beskerm nie alleen die eer van sy baas nie, maar ook die eer van sy baas se vrou.

En God? Ja, hy weet dat God nie in Kanaän by die tent van sy vader agtergebly het nie. God is ook in Egipte en in die huis van Potifar. God sien hom, al sou hy miskien kon dink dat Hy nie sien nie. Hy weet egter dat God hom sien en hy bely dit – met dankbaarheid. Hy weet en hy sê dit vir die vrou:

“Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?”

Die jong man het ‘n anker teen die duiwelse versoeking waarin hy geplaas is. ‘n Mens wat so na God opsien, word deur die Here self vasgehou. Hy beskaam die geloofsvertroue van Josef nie. Selfs toe die vrou dag na dag seur en aanhou en al haar sjarme gebruik om hom in haar strikke vas te wikkel, bly hy getrou aan sy belydenis dat hy aan God behoort en nie teen Hom mag sondig nie.

Vlug vir die Bose

Die wellustige vrou gryp uiteindelik na hom en kry sy mantel in haar greep. Maar Josef vlug Van haar af weg – byna nakend. Toe het die vrou in haar teleurgestelde hartstog kans om wraak te neem. Sy mantel dien sy as bewys by sy baas in dat hy haar sou wou aanrand. En natuurlik glo die baas haar. Watter krag het die woord van ‘n slaaf in elk geval? En die bewysstuk lê voor Potifar.

Miskien kon hy iets ergers met Josef doen. Hy kon hom selfs laat martel en doodmaak. Het die Here Josef hier in beskerming geneem? Dit kan ons wel aanvaar. Daarom beland Josef maar net in die tronk.

Versoeking word ‘n beproewing

‘n Mens kan amper weer iets van Paulus op Josef toepas. Paulus is in Jerusalem gevange geneem deur sy “broers”, die Jode. Hy sit as gevangene in die Romeinse kaserne in Jerusalem. Die dag het hy getuienis gelewer voor die Joodse Raad, wat hom toe byna uitmekaar geskeur het.

Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir My getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen” (Hand. 23:11).

Hou moed Josef ! Soos jy voor die vrou van Potifar vir My getuig het, so sal jy nog voor Farao getuig . . .

Die versoeking van die duiwel het die Here vir Josef verander tot ‘n geloofsbeproewing, sodat hy hom kon staal tot groter geloofsdade.

Onthou jongman en jongmeisie !

Hy of sy wat die versoekinge weerstaan, deur soos Josef na bo te kyk, kom daar rein en gesterk uit en is beter toegerus vir groot dade in die koninkryk van God. En hulle ontvang ook uiteindelik die regte man of vrou as ‘n reine gawe uit die hand van hulle hemelse Vader.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: