HGS- reeks: 6. Kind, eer jou vader 7. Verbond met ouers en kinders

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

– hfst.1: Man en vrou het Hy hulle geskape 

– hfst.2: Die Here bring die vrou na haar man 

– hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan

– hfst.4: Skaamtegevoel – skild van die Here ontvang

– hfst.5: Gemengde huwelike

Hoofstuk 6: Kind, eer jou vader

“En Gam, die vader van Kanaän, het sy vader se naaktheid gesien en dit aan sy twee broers daarbuite te kenne gegee” (Gen. 9:22).

‘n Dronk vader

Noag was ‘n regverdige opregte man tussen sy tydgenote. Hy het die opdrag van die Here ontvang om die ark te bou. Eindelik is die hele mensdom deur die sondvloed uitgewis, behalwe Noag en sy gesin. Toe hulle die ark verlaat, het Noag as landbouer ‘n wingerd geplant en wyn gemaak. Op ‘n dag het hy te veel wyn gedrink en dronk geword. In sy dronkenskap lê hy toe naak in sy tent – sy roes en uitslaap.

Sy seun Gam loer by die tent in en sien sy pa in sy naaktheid en dronkenskap. Hy gaan vertel dit oor aan sy broers, Sem en Jafet. Dit was waarskynlik vir hom ‘n groot grap en hy het bepaald met sy pa gespot.

Dat Noag hom so te buite gegaan het, kan ons nie goedpraat nie. Dronkenskap word in die Bybel aan ons as ‘n sonde voorgehou: dit word saam met hoerery, afgodery, moord ens., genoem as een van die vrugte van die vlees (Gal. 5:20, 21). Dit is ongelukkig waar dat baie kinders hulleself dikwels vir hulle pa moet skaam en hulle ma bejammer, wanneer drank hul pa se baas word. Ag, hoeveel kindertjies vrees nie die tuiskoms van pa nie?

Eer nogtans jou vader

En tog eis die Skrif: “Eer jou vader en jou moeder . . .”

En ons Kategismus sê by die verklaring van die vyfde gebod:

“. . .dat ek ook met hulle swakhede en gebreke geduld moet hê, aangesien dit God behaag om ons deur hulle hand te regeer.”

Ouers moet hulle altyd so gedra dat hulle voorbeelde vir hulle kinders kan wees. Kinders mag egter nooit hulle ouers verag of met hulle spot nie. Ook met hulle swakhede en gebreke moet hulle geduld hê. Dit was Gam se sonde. Sy pa se sonde word nie goedgepraat nie, maar hyself het vergeet om sy vader te eer, selfs in sy swakheid. Daarop word iets wat baie mooi is aan ons vertel:

“Toe neem Sem en Jafet die bokleed en hou dit op hulle skouers terwyl hulle agteruit loop, en hulle het die naaktheid van hulle vader bedek: hulle gesig was agtertoe gedraai, sodat hulle die naaktheid van hulle vader nie gesien het nie” (9:23).

Hier ontvang Noag van sy kinders wat hy op daardie tydstip waarlik nie verdien het nie. Hulle hele optrede openbaar skugterheid en groot eerbied vir hulle pa. Hulle sorg dat hulle hom nie aankyk nie en gooi sy bokleed oor sy naakte liggaam. Ja, in die Bybelse tyd was naaktheid ‘n groot skande en vernedering. So betoon die manne eerbied en beskerm hulle pa teen die vernedering van sy eie dwaasheid.

Vaders moet hulle eerbiedwaardig gedra

Vroeg en laat word aan ons vertel dat ouers vir hulle kinders maats moet wees. Vanselfsprekend moet daar vertroue en begrip tussen kinders en hulle ouers wees. ‘n Ouer moet ook met sy kind kan speel en saam met hom vrolik wees. Hy moet ‘n opregte deelgenoot wees in die kind se vreugde en verdriet. Hy moet hom kan opvang wanneer smart en eensaamheid van hom besit neem.

‘n Kind mag nooit voel dat sy ouer hom in die steek laat nie. Hy mag nooit met enige las of vraag aan homself oorgelaat word nie. Maar ook die kameraadskap het perke. Ons mense praat in ons tyd van ‘n “gesagskrisis” of ‘n “kommunikasie-krisis” tussen oud en jonk. Die “krisis” het sy oorsprong in die eerste plek binne die huis in die verhouding tussen ouers en kinders. Waar ouers hulle sô gedra dat kinders se eerbied verdwyn, is die krisis klaar aanwesig.

Dit is nou eenmaal so dat beide ouers en kinders sondaars is. Noag het gestruikel, maar hy was sy lewe lank tog ‘n voorbeeld van godsvrug en opregtheid vir sy kinders. Daarom het Gam alle rede gehad om nog sy eerbied vir sy pa te behou, toe hy hom die een keer te buite gegaan het. Ook Sem en Jafet sou hulle seker vir hulle pa geskaam het, maar hulle eerbied het hulle verhinder om met hom te spot.

Die “gesagskrisis” se oorsprong lê nie alleen by die ouers of die ou geslag nie. Ook die jongeres moet die hand in eie boesem steek. Glo ons, beide ouers en kinders, in Christus wat vir ons sondeskuld betaal het, dan sal daar gewis in ons huise en samelewing geen gesagskrisis wees nie. Ouers sou in Christus leef en kinders sou met hulle swakhede en gebreke geduld hê.

 Hoofstuk 7: Verbond met ouers en kinders

“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag na jou” (Gen. 17:7).

Abraham en sy nageslag

God het met Abraham, die vader van die gelowiges, ‘n verbond gesluit. Dit is nie alleen ‘n verbond met Abraham as persoon nie. Nee, sy vrou en kinders is daarby ingesluit, en sy kleinkinders selfs tot in sy verre nageslag.

‘n Verbond is volgens ons spraakgebruik ‘n “ooreenkoms”: “Ek” sal “dit” doen indien jy “dat” doen as “teenprestasie.”

So is God se verbond nie.

Hy neem eerstens die inisiatief. Hy doen dit van sy kant. Daarom het Hy Abraham geroep. En Hy het selfs aan Abraham die geloof gegee om op sy roepstem te antwoord. Hy verbind Hom uit loutere genade aan Abraham en aan sy nageslag, wat nog nie eens van Hom weet nie.

Om met Hom in verbond te tree, verwag Hy geen teenprestasie van enige mens nie. Wie van ons wat in die verbond uit gelowige ouers gebore is, het enigsins daartoe bygedra?

Ek verwonder my altyd daaroor dat ek so bevoorreg is om uit ouers gebore te kon word wat in God geglo het. Waarlik, dit is alleen sy beskikking en sy genade dat dit my voorreg mag wees!

Genadeverbond om Christus wil

Ja, Hy verbind Hom nie aan ons en ons nageslag omdat ons iets gedoen het van ons kant wat Hy verplig is om te vergoed nie. Genade beteken dat jy alles ontvang, sonder dat jy iets daarvan verdien het. Dit het Hy gedoen omdat Hy van sy Kneg, ons Here Jesus Christus kon sê.

“Ek . . . gee U as ‘n verbond van die volk” (Jes. 42:6).

Hy is ons Verbondshoof, ons ewige Koning, wat van ons kant die verbondsvoorwaardes vervul het toe Hy vir ons sondeskuld betaal het.

Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag het, voordat Jesus Christus mens geword het, vooruit gesien na sy koms. Hy was ook hulle Koning wat sou kom om te betaal, sodat ook hulle in die vredeverbond met God kon deel. En vir ons is Hy ons Verbondshoof, ons Koning, wat klaar betaal het.

Die verbond is met Abraham en sy nageslag en met ons en ons nageslag. Elke kind wat in die verbond gebore word het aanspraak op die belofte:

“om vir jou ‘n God te wees.”

Daarom ontvang hy ook die verbondsteken.

Vir Abraham en sy nageslag was dit die besnydenis, ‘n bloedige teken wat profeteer van die soenbloed van Jesus Christus. Toe Christus eindelik kom en sy bloed stort as ‘n versoening vir ons sondes, is die bloed van die besnydenis vervul.

Daarom verval ook alle offers en die Paasfees met sy paaslam wat geslag is, om die volk Israel in Egipte te beskerm teen die doodsengel. Geen offers is meer nodig nie:

“Want nou het Hy eenmaal… verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen” (Hebr. 9:26).

Verbond ook met ons en ons kinders

Kom ons bekyk twee uitsprake uit die Skrif naas mekaar om te sien hoe dieselfde genade van die verbond, net soos hy Abraham, ook aan ons en ons kinders toekom:

“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou.. .” (Gen. 17:7).

Dit sê die Here aan Abraham.

Later met Pinkster sê Petrus aan die Jode in Jerusalem:

“Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang . . .”(Hand. 2:38).

Wat beteken dit anders as die woorde aan Abraham:

“Ek sal vir jou ‘n God wees . . .” (Gen. 17:7)?

En soos die Here vir Abraham byvoeg: “. . . en vir jou nageslag na jou”

voeg Petrus hierby:

Want die belofte kom julle toe en julle kinders.” (Hand. 2:39).

Petrus het duidelik Gen. 17:7 in gedagte wanneer hy hierdie uitspraak maak. Hyself is ‘n verbondskind en hy ken die verbondsgedagte wat by die Israeliete lewe. Vir hulle beteken genade – die genade dat God hulle God wil wees – niks anders as dat dit ook op hulle kinders, hulle nageslag, van toepassing is nie.

Wanneer Petrus sê: “Die belofte kom julle toe en julle kinders” kan ons dit maar presies sê soos dit in Gen. 17:7 staan:

“Die belofte kom toe aan julle en julle nageslag.”

En almal wat daar ver is

Al verskil by Abraham en Petrus is dat Petrus iets byvoeg:

“… en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom toe sal roep” (Hand. 2:39).

Die verbond met sy beloftes word ook uitgebrei na “almal wat daar ver is.” Dit wil nie sê dat hulle in verre lande hoef te woon nie – dit ook wel. Die groot saak is egter dat hulle ver van God af is. Hulle moet ook in die verbond ingetrek word. Daarmee word bevestig wat Jesaja onder andere sê:

“Ek, die Here, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond vir die volk, as ‘n lig van die nasies” (Jes. 42:6).

Mooi is die huwelik wat deur God ingestel is. Ryk is dit om skatte van God te ontvang in die kindertjies wat Hy ons gee. Maar Hy maak dit nog ryker deur sy genadeverbond met ouers en kinders – tot in die verre nageslagte.

Wees bly wanneer ‘n kindjie vir u gebore word. Maar wees ook baie dankbaar teenoor die Vader van die ligte van wie neerdaal alle goeie gawes en volmaakte gifte. Hy het aan u ‘n kindjie gegee wat ook aan Hom behoort. Hy is in die verbond gebore en u is verantwoordelik vir hierdie “kind van God”.

Ons weet alte goed dat sommige uit die verbond uitval. Ons weet dat menige gedoopte kind uiteindelik die bloed van die verbond vertrap en die genade van God verag.

Dit maak juis ons verantwoordelikheid des te groter om te waak en te bid. Indien ons ontrou is, sal God hulle van ons hand eis. Aan die ander kant is daar vir ‘n gelowige ouer geen groter vreugde nie as om te weet:

“My kind is ook ‘n kind van die Here.”

En, om dit in jou kind se lewe te sien.

One thought on “HGS- reeks: 6. Kind, eer jou vader 7. Verbond met ouers en kinders

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: