HGS – reeks: hoofstuk 2 – Die Here bring die vrou na haar man

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

hoofstuk 1. Man en vrou het Hy hulle geskape 

– Na beeld van God

– Man en vrou het Hy hulle geskape

(Lees hier Inleiding en hoofstuk 1)

Hoofstuk 2: Die Here bring die vrou na haar man

Inhoud:

– Geen hulp wat by hom pas

– Nie goed dat mens alleen moet wees nie

– Verlange na maat

– Een Liggaam

– Erfenis uit Paradys

“En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens” (Gen. 2:22).

Geen hulp wat by hom pas

Ons het nou uit Gen. 1 geleer dat God die mens anders as die diere geskape het. Die mens is geskape na die beeld van God – as ‘n redelik, sedelik en godsdienstige wese. Daar lees ons alreeds:

“. . . man en vrou het Hy hulle geskape” (1:27)

Om die wese van die huwelik te begryp moet ons egter meer weet. Daarom word in Gen. 2 meer aan ons vertel. Eerstens lees ons:

“So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan al die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie” (2:20).

As redelike wese, wat die dinge kon begryp en deursien, kon die mens die diere beskou en aan hulle paslike name gee. Hy het ook gesien dat elke dier ‘n maat het wat by hom pas. Hy het bemerk dat die diere gemaak is om saam te leef en hulle geslag voort te plant. Selfs in die wyse waarin die diere bymekaar bly, saamwei en saamloop, voel hy aan dat hy eensaam is.

Hy is wel ‘n volmaakte mens – selfs ‘n wese wat die ewigheid in sy hart dra. Hy besef dat hy anders as die diere is en selfs met sy gawes oor hulle kon heers.

Nie goed dat mens alleen moet wees nie

Tog is daar by hom ‘n gemis. Daar was vir hom geen eiesoortige maat nie. Hy sou homself seker afgevra het waarom die Here vir hom nie ook ‘n maat gemaak het nie – ‘n hulp wat by hom pas.

Dit klink selfs vreemd in ons ore dat die Here hom so alleen geskape het. Waarom het Hy die mens “onvolledig” gemaak? Hy sou tog vooraf geweet het dat die mens eensaam sou voel en met die hunkering na ‘n maat in sy hart lewe. Die Here sou gewis ‘n bedoeling daarmee gehad het.

Hyself het immers vir Adam so geskape dat hy nie “die gawe van onthouding” gehad het, soos Paulus nie. Hy het geen vrou gesien of gehad nie en tog was daar in sy hart die onbestemde verlange na iemand wat by hom pas.

Ons kan hieruit wel aflei dat die Here die behoefte na ‘n maat of hulp wat by hom pas self in die mens se hart gelê het. Hy moes deur eie ervaring daartoe kom om die behoefte in hom te ontdek. En dat God dan in die behoefte voorsien, is ook ‘n bewys dat dit in sy oë nie verkeerd is nie. Dat die mens eers alleen moes wees, was vir hom ‘n opvoedingsproses.

God wil dit so hê en hy wil hê dat die mens self sy behoefte aan ‘n maat moet ontdek. Die mens moet ook weet dat hy in die opsig anders as die diere is. Mense mag nie soos diere saamleef nie.

Verlange na maat

Mens moet wag, wanneer die behoefte aan ‘n maat ontwaak, totdat God aan hulle ‘n maat voorsien. ‘n Man – elke man – moet sy vrou uit die hand van God ontvang. Hy moet sy verlange of hunkering na ‘n hulp wat by hom pas, in bedwang hou en koester totdat die Here die wonder van die liefde – en beantwoorde liefde – in sy en haar hart lê.

En dan doen God ‘n operasie aan Adam. Hy bring hom in ‘n diepe slaap en neem een van sy ribbes en bou daaruit vir hom ‘n vrou. God skep ‘n nuwe mens en tog is dit nie ‘n nuwe mens nie – dit is ‘n deel van Adam. Dit is:

“been van sy gebeentes en vlees van sy vlees.”

Toe Adam vir Eva sien, en van God verneem hoe Hy haar gemaak het, sien hy in sy vrou ‘n deel van homself. Hy vind homself as’t ware terug in haar. Daarom kon Paulus later skryf:

So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hulle liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit” (Ef.5:28, 29).

Een Liggaam

In die wyse waarop Eva uit die liggaam van Adam gemaak is, wil God aan ons iets wesenliks van die huwelik openbaar. Die eenheid tussen man en vrou is so innig dat hulle eintlik een mens word. En dit beteken nie alleen dat hulle deur geslagsomgang een geword het nie, maar as beeld van God saamgevoeg is tot een.

Adam is nou eers volwaardige mens as redelik, sedelik en godsdienstige wese. Eintlik is Adam en Eva dit saam. Die een vul die ander aan en so is man en vrou saam die volledige mens.

Hier staan ons voor ‘n onbegryplike misterie. Die geheim wat God in die kroon van sy skepping die mens – man en vrou – ingeweef het.

Nooit kan die mens soos diere leef en gelukkig wees nie. Die eenheid tussen man en vrou is veel hoër en dieper as die tussen die diere. Het die man die vrou wat die Here aan hom gegee het, wat by hom geestelik pas, dan kan hy en sy hulle lewe lank saam bly sonder om ooit moeg vir mekaar te word. So groei die band hegter en die verhouding word inniger en ryker hoe ouer jy word.

Die eenheid word steeds groter. Al versterf die geslagsomgang uiteindelik, het hulle nog die veel ryker skat dat hulle ‘n hulp vir mekaar bly totdat die dood hulle skei. Hulle is immers geen diere nie, maar mense, geskape na die beeld van God.

Erfenis uit Paradys

En as ‘n mens daaraan dink dat die huwelik ‘n erfenis uit die Paradys is, dan word jy stil van dankbaarheid. God is goed en genadig dat Hy hierdie instelling nie gekanselleer het toe die mens ongehoorsaam aan sy bevel was nie. Die duiwel en die sonde werp wel sy modder van wellus en verdierliking in die suiwere stroom van God.

Gelukkig het Christus gekom en word die mens deur die Gees herskep tot die beeld van God. En gelowige mans en vroue beleef tot vandag toe iets van die Paradys op aarde in hulle huwelike.

God het aan Adam ‘n vrou gegee – die beste vrou op aarde. Dit doen Hy nog steeds. Hy gee aan elke gelowige man of vrou die beste op aarde vir hom of haar – die man of vrou wat Hy self vir hulle uitgesoek het. Ja, meer nog, Hy het hulle in sy alwyse raad geskape en gevorm om een te kan wees. Soos Hy dit wil hê.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: