HGS – reeks: hoofstuk 4 Skaamtegevoel – skild van die Here ontvang

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

– hfst.1: Man en vrou het Hy hulle geskape 

– hfst.2: Die Here bring die vrou na haar man 

– hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan

Hoofstuk 4: Skaamtegevoel – skild van die Here ontvang

“Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is.” (Gen. 3:7).

In die Paradys het man en vrou nie klere gedra nie:

“En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.” (2:25).

Die dood tree in

Maar dan kom die duiwel op die toneel. Hy wek by Eva die begeerte na die verbode vrug. Daarvan het God gesê:

die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (2:17).

Op aanstigting van die duiwel kyk Eva na die vrugte – begeer dit en eet daarvan. En sy verlei haar man ook en hy eet. Die verkeerde begeerte is alreeds sonde en dit lei dan gewoonlik tot die sondedaad: ongehoorsaamheid aan God.

En dan tree die dood in.

Hulle val nie liggaamlik dood neer nie – dit sou eers later plaasvind. Hulle sterwe egter geestelik – die band met die lewende God is gebreek. Hulle is dood in die misdade en die sondes (Ef. 2:1).

Skaam vir mekaar

En nou is dit opmerklik dat die eerste gevolg van hulle ongehoorsaamheid aan God skaamtegevoel is.

Hulle kyk na mekaar in skrik en skaamte – te laat!

Hulle kan mekaar se naakte liggame nie meer aankyk nie. Hulle wil vir mekaar wegkruip. Ag, voor die sondeval het hulle dit nie eens agtergekom nie. In hulle sondelose bestaan was hulle hele verskyning alleen eerbaar en was daar niks wat skuldgevoel of skaamte by hulle gewek het nie.

Maar nou kan hulle nie na mekaar kyk nie en die een kan nie verdra dat die ander een hom of haar so sien nie. Hulle begin om haastig vir hulleself skorte van vyeblare te maak om die oë van die ander weg te hou van hulle liggame af.

Dit was alreeds ‘n bewys dat God hulle nog nie volkome losgelaat het nie. Skuldbesef en skaamtegevoel is genade van bo. Hulle was selfs so skaam dat hulle tussen die bome van die tuin vir God probeer wegkruip.

God sien en soek hulle

En nou gebeur daar iets wonderliks. Die Here God kom maar soos gewoonlik om hulle op te soek. Die alwetende God weet wat hulle gedoen het en Hy weet ook waar hulle wegkruip:

“Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig” (Ps. 139:7).

Hulle Skepper en Vader kom na hulle toe. Hy maak selfs asof Hy nie weet waar hulle is nie en roep tot Adam:

“Waar is jy?”

En dan kom die sondebelydenis uit Adam se mond:

“Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.”

En dan begin die ondervraging van God en die verontskuldigings van Adam en Eva. Adam beskuldig Eva en Eva die slang. En God se oordeel volg – want Hy kan nie anders nie. Hy doen wat Hy gesê het. Die dood het in die wêreld gekom en die suiwer huwelikstroom is voortaan vol modder en onreinheid.

Die vrou het voortaan te doene met pyn en smart by die geboorte van kinders en vyandskap en haat tussen mens en mens sal uit haar liggaam voortkom. En hoe sal sy nie verlang na die liefde van haar man nie en hy sal oor haar heers met hardheid en hartstog. En Adam sal sweet en swoeg om te bestaan, want die vloek van God hang soos ‘n koue doodskleed oor die aarde.

Huweliksellende en sorge oor kinders wag nou op die pad van die mensepaar.

Rokke van vel

Maar die regverdige God bly ook genadig.

Nou al klink daar ‘n belofte deur die dreiging heen . . .

Uit die saad of nageslag van Eva sal eenmaal Iemand kom, wat die kop van die slang, die duiwel, sou vermorsel. So open God ‘n vergesig na die kruis.

En dan doen Hy ook iets om Adam en Eva teen mekaar en vir hulleself te beskerm:

“En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.”

En hiermee maak God hulle skaamtegevoel tot ‘n skild teen die begeerlike oog en krenkende daad. Hy klee hulle behoorlik – beter as met vyeblare – en maak hulle liggame vir mekaar toe.

Die mens is in die waardigheid van sy natuur aangetas deur die sonde. Jy kan nie na ‘n naakte mens kyk sonder ‘n besef van skaamte nie. Jy kan na enige dier kyk sonder om enigsins skaam te wees. Dit pla jou nie. Maar die mens, na die beeld van God geskape, het sy reinheid en gaafheid verloor. En hy besef dit – hy veroordeel homself deur sy skaamte.

Mense breek skaamtegevoel af

En so sal dit bly solank ons in hierdie gebroke wêreld leef. Waar die skaamtegevoel afgebreek word deur naak of halfnaak in die openbaar te verskyn, is mense besig om die genade van God te weerstaan. Naaktheid word in ons tyd aangewend om ons gewoond te maak aan begerige blikke en ontugtige harte. Nie alleen die halfnaaktes of naaktes self sink steeds dieper in die modder nie, maar hulle word op groot skaal struikelblokke vir andere.

Ons mense is sogenaamd “mondig” en “volwasse”, maar hulle vergeet dat ons almal van nature geneig is tot die verkeerde. “Volwasse” mense kan maklik ontaard en deur dierlike drifte die afgronde instort.

God ken ons sondige natuur en hy het aan ons ‘n magtige skild gegee in die skaamtegevoel. Daarin waak hy ook oor die heilige huwelik. Sy oog gaan in genade oor seuns en dogters, mans en vroue – om hulle te behou.

Bewaar die skild van skaamtegevoel

Gelukkig is elkeen wat beklee is met Jesus Christus (ons kleed van geregtigheid) wat ons skande en naaktheid voor die heilige oë van God bedek.

Gelukkig is elkeen wat in die openbaar so verskyn dat ons met vrymoedigheid mag sê:

“Daar loop ‘n menseliggaam wat ‘n tempel van die Heilige Gees is.”

Hierdie skild wat die Here ons gegee het, word ook op ‘n groot skaal afgebreek deur welmenende geleerdes en halfgeleerdes met die sogenaamde “geslagsvoorligting” aan kinders en jongmense. Meisies en seuns word meer as ontklee deur woorde.

Skaamte word weggeblaas deur die geslagsdade te beskryf en “seks” op dieselfde vlak as eet en drink te plaas. Dan sou die Here dit nie nodig gevind het om mense se naaktheid te bedek nie. Hier betaam dit ‘n Christen om heilige skugterheid te beoefen.

Ouers en voorligters speel nie alleen met vuur nie. Ons pluk alreeds die wrange vrugte daarvan in soveel huwelike waar geslagsomgang die alfa en omega geword het. Ouers kan geen beter geslagsvoorligting aan hulle kinders gee nie, as om mekaar lief te hê en dit uit te leef voor hulle kinders.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: