HGS – reeks: hoofstuk 5 Gemengde huwelike

ou bybel

Huwelik en Gesin in die Skrif, ds MJ Booyens

– hfst.1: Man en vrou het Hy hulle geskape 

– hfst.2: Die Here bring die vrou na haar man 

– hfst.3: Die man verlaat sy vader en moeder en kleef sy vrou aan

– hfst.4: Skaamtegevoel – skild van die Here ontvang

Hoofstuk 5: Gemengde huwelike

“Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het” (Gen. 6:1,2).

Twee geslagte

Die geslag van Adam het op die aarde begin vermeerder. Hulle het hoofsaaklik bestaan uit twee groepe mense.

Kaïn, die broer-moordenaar het weggetrek na die land Nod. Waar dit was, weet ons nie. Sy nageslag het verloop tot bygelowe en uitspattende sondes. Dit het ons alreeds kon sien uit die geskiedenis van Lameg met sy twee vroue.

Aan die ander kant het die geslag van Set die Here gedien. Ons lees na die vlug van Kaïn:

En ook vir Set is ‘n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep” (4:26).

Uit die geslag was ook Henog van wie vertel word:

“En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem” (5:24).

Ook Noag was uit hierdie geslag.

Hulle is die “seuns van God” genoem, soos ons sou praat van “kinders van God.” Die mense het die geloof in die ware God behou en daarvolgens gelewe. Hulle is uit genade aangeneem tot kinders van God, hoewel hulle ook sondaars was.

Gemengde huwelike

Toe die getal mense op aarde aangroei, het die twee groepe steeds nader aan mekaar beweeg. Waar die seuns uit die geslag van Set vroeër tevrede was om met meisies volgens hulle eie godsdienstige oortuiging te trou, het hulle nou die mooi dogters van die goddelose nakomelinge van Kaïn begin raaksien – en begeer. Ons sou sê dat hul op die skoonhede verlief geraak het en met hulle begin trou het. So vermeng die geslagte as gevolg van die gemengde huwelike.

Hierdie gemengde huwelike het tot gevolg dat die mense toe pragkinders kry:

“In die dae was daar die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en die vir hulle kinders gebaar het” (6:4).

Hulle word selfs “die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam”, genoem.

Dra bose vrugte

Maar, helaas, lees ons dan net daarna:

“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart” (6:5, 6).

Die gevolg van die “gemengde huwelike” tussen die kinders van God en die ander mense, was in een woord: verskriklik. Die boosheid het na alle kante uitgebreek. Die mense het net maar slegte dinge versin. Dit moes vreeslik daaraan toegegaan het.

So erg was dit dat die Here “berou het” dat Hy die mens gemaak het en daar was “smart” in sy hart. Hier word aan die Here mensvormige emosies toegeskryf sodat ons iets kan begryp van die verskriklike ding wat Hy hierop gedoen het. Hy het naamlik die mensdom van die aarde uitgewis deur die sondvloed.

Gemengde huwelike, tussen sy kinders en ongelowige of heidene is ‘n gruwel in die oë van die Here. “Kind van God”, soek vir jou ‘n hulp wat by jou pas. Moenie jou huwelik beskou as ‘n verbeteringskool vir jou huweliksmaat nie. Daarvoor is die huwelik nie bedoel nie.

Moenie in dieselfde juk trek nie

Die Here keur dit nie goed nie en jy kan nie verwag dat sy seën op so ‘n verbintenis rus nie:

“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie” (2 Kor.6:14).

Daarom ook dra dit wrange vrugte in die huwelik. Die man of vrou wat glo, moet altyd bereid wees om teen die wil van die ander party in te gaan, indien so iemand nie self ook verval tot onverskilligheid nie. In die belangrikste lewensbeginsel stem hulle nie saam nie. Indien een getrou bly, is dit ‘n bitter en eensame stryd.

En daar word kindertjies gebore en hoe groei hulle op in ‘n verdeelde huis? So maklik gaan hulle die verkeerde pad op, want pa of ma doen dit tog.

Daarom: kyk en bid en wag op die Here. Hy alleen weet wie die beste by jou pas. Daar is geen volmaakte mens op aarde nie. Daar is egter mense wat erns maak met God en sy diens en andere wat onverskillig daarteenoor staan. Moenie alleen op die uiterlike let nie. Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom en Hy voer dit uit.

Kan jy saam met jou vriend of vriendin die kerk besoek?

Bid julle saam en stem julle saam oor julle verhouding tot die Here?

Is dit vir julle albei die goeie deel in die lewe om die Here en sy Woord te ken en uit te leef?

Hierdie vrae is van baie groter belang as uitwendige aantreklikheid. En leer mekaar tog eers goed ken voordat julle trou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: