
Sien die volgende artikel oor die NGK se besluit oor die Belhar belydenis:
Ek betwyfel sterk dat ‘almal’ tevrede is in die NGK, maar as ‘almal’ wel tevrede is daarmee, dan moet ‘n mens hardop wonder of daar nog gereformeerdes oor is in die NGK ?
Ook teleurstellend om te sien dat genl. Constand Viljoen (weereens soos in die politiek?) gebruik word om die ‘behoudendes’ te paai dat dinge nou ‘okay’ is. Nog meer tragies om te sien dat iemand soos prof. Piet Strauss saamdans met die vernietiging van die NGK se belydenisgrondslag.
Behalwe die belaglike idee dat ‘n kerk se belydeniskrifte nie ‘bindend’ is nie (sien: Doctrinal Integrity), kyk ook mooi na die broederbondagtige (postmodernistiese) formulering van die ‘nuwe voorstel’:
Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die kerk, op so ‘n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as belydenisgeskrif onderskryf nie.
Die lidmate wat Belhar omhels kry die bewoording, dat Belhar “in ooreenstemming met die Woord van God” is.
Wat kry die Belhar verwerpers ?
Bloot dat hul “dit nie as belydeniskrif onderskryf” nie.
Moes die formulering nie wees:
… sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as belydenisgeskrif onderskryf nie, want dit is nie in ooreenstemming met die Woord van God nie“
En, hoe gaan dit nou werk in die kerklike praktyk ?
As daar 3 lidmate in die gemeente is, of 3 broers in ‘n vergadering wat nie Belhar aanvaar nie, hoe nou gemaak ?
Ja, met die aanvaarding van hierdie ‘nuwe voorstel’ skeur die NGK amptelik, alhoewel niemand dit hardop wil erken of aanvaar nie.
Die doel van die ‘nuwe voorstel’ se bewoording is dus nie om die ware leer te handhaaf vir al die lidmate nie, om leereenheid te handhaaf nie, maar bloot, in die woorde van Viljoen, die strukturele eenheid van die ‘kerk’ te handhaaf (lees: sodat lidmate nie bedank nie en die kollektes nog kan instroom … the show must go on …?):
“Viljoen het sy tevredenheid uitgespreek en gesê die besluit is die beste manier om die hele kerk bymekaar te hou.”
So, die NGK omarm met hierdie ‘nuwe voorstel’ nou openlik en amptelik die bevrydingsteologie ten gronde van die Belhar belydenis … soos hul bv. die feministiese teologie omhels het met die aanvaarding van vrou in die amp dekades gelede.
Maar laat ons nie klippe gooi nie, die GKSA is ongelukkig op dieselfde pad, met sy soeke na die feministiese teologie, asook die bevrydingsteologie in ons soeke na lidmaatskap met die SARK, ondersteuning van die parlementêre lessenaar, en die ‘Memorandum van ekumeniese verhouding tussen GKSA en NGK’ wat gaan dien op die komende sinode.
Met die 2009 GKSA sinode vind ons dieselfde vreemde bewoording en besluitneming, in die volgende bewoording oor die VIDA saak, die eerste een oor diakonesse en laasgenoemde oor die predikante en ouderlingsamp:
“Susters kan in die diakensamp dien. Sinode 2009 het ‘n Beswaarskrif gehandhaaf wat daartoe gelei het dat die besluit van Sinode 2003 herstel is. Hierdie besluit lui soos volg: “Die Sinode keur in die lig van die Skrif goed dat vroue wat die nodige gawes het as diakens in die GKSA verkies en bevestig kan word.”
“Tydens die voortsetting van die Sinode is ‘n diepgaande Rapport hanteer oor die vraag of susters as ouderlinge en predikante kan dien. In hierdie Rapport is aandag gegee aan onder andere besluite wat reeds tydens Sinode 2003 geneem is, tersaaklike kerkregtelike, historiese, Skrifbeskoulike en hermeneutiese vertrekpunte. Uitgaande van hierdie vertrekpunte is verskillende relevante Skrifgedeeltes hanteer. Die Sinode het vir bykans twee dae broederlik met mekaar gepraat en biddend geluister na die Woord van ons Here. Daar het verskillende standpunte na vore gekom wat biddend oorweeg is. Uiteindelik is die volgende besluit geneem: “Die Sinode het in die lig van die behandeling van die Rapport tot die oortuiging gekom dat vroue nie in die besondere dienste van predikant en ouderling mag dien nie.”
Die GKSA het ‘in die lig van die Skrif’ besluit diakonesse kan wel, maar in die ‘lig van die Rapport’ vroue predikante en ouderlinge mag nie.
Waarom die Skrif in een besluit noem, maar nie in die ander besluit nie ?
Die saak gaan weer dien in die GKSA se komende sinode (Jan.2015), en ek vermoed 2009 se besluit is juis so geformuleer sodat 2015 se sinode VIDA kan deurstoot vir alle besondere ampte. … of is daar nog genoeg gereformeerdes oor in die GKSA om dit, as die Here wil, te stop ?
Vir meer oor laasgenoemde saak (waarin ek ook probeer wys op die onhoudbaarheid om twee teenoorgestelde standpunte te handhaaf in een gemeente/kerkverband), sien my onlangse lesing oor die onderwerp:
Is manlike ouderlingskap ‘n kernsaak ?
Sien die volgende artikels oor die inhoud van die Belhar belydenis:
Verklaring deur Kaapse NGK lidmate
Boekresensie: Neither Calendar nor Clock: Perspectives on the Belhar Confession, by Piet J. Naude
Die Belhar belydenis en die hereniging van die susterskerke
DIE BELYDENISSKRIFTE VAN DIE KERKE
deur prof. Paul de Bruyn
[bron: Die Gesonde Leer]
1. WAT IS ‘N BELYDENISSKRIF?
Dit is ‘n kort, sistematiese samevatting van dit wat die Skrif ons leer, byvoorbeeld oor God, die skepping, die sakramente, ensovoorts. In die belydenisskrifte spreek die kerk en die gelowiges uit wat hulle vir die waarheid hou oor genoemde en ander sake volgens die Woord van God en so bely hulle hul geloof.
2. SKRIFTUURLIKE GRONDE VIR DIE OPSTEL VAN ‘N BELYDENISSKRIF
Titus 1:9: “een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê.”. (Die woord leer het hier dieselfde betekenis as die woord belydenis.)
Hebreërs 6:1-2: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.”.
1 Timoteus 6:3-4: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie”.
3. WAAROM IS BELYDENISSKRIFTE NOODSAAKLIK?
3.1 Sodat die gelowiges kan weet presies wat hulle glo.
3.1 Om standpunt in te neem teenoor dwalinge (verdediging teen verkeerde leringe).
3.1 As ‘n getuienis teenoor die wêreld. (Vgl. 1 Pet 3:15: “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is . . .”)
3.1 Om eenheid tussen die verskillende kerke en gelowiges te bewaar sodat elkeen nie maar verkondig wat hy wil en daar verwarring ontstaan nie.
3.1 Om die ware godsdiens suiwer aan die nageslag oor te dra.
4. DIE GESAG VAN DIE BELYDENISSKRIFTE
4.1 Dit is menslike geskrifte. Daarom staan dit nie naas of bokant die Bybel nie, maar onder die Bybel en kan altyd weer aan die Bybel getoets word.
4.1 Dit is opgestel uit God se Woord en kom in alles ooreen met God se Woord.
4.1 Die gesag wat hulle het, kry hulle nie van hulleself nie, maar van die Woord waarmee dit in volle ooreenstemming is. Daarom is dit vir ons bindend en moet ons ons daaraan hou.
4.1 Ons aanvaar die belydenisskrifte omdat dit met die Woord ooreenstem en nie in soverre dit met die Woord ooreenstem nie.
5. DIE ALGEMENE BELYDENISSKRIFTE
5.1 Die Apostoliese Geloofsbelydenis (Die Twaalf Artikels).
5.2 Die Geloofsbelydenis van Nicéa. (Kyk agter in Psalmboek.)
5.3 Die Geloofsbelydenis van Athanasius. (Kyk agter in Psalmboek.)
Dit word die algemene belydenisskrifte genoem omdat byna al die Christelike kerke dit aanvaar.
6. DIE BESONDERE BELYDENISSKRIFTE
6.1 Die Nederlandse Geloofsbelydenis
(Voortaan afgekort met NGB; kyk agter in die Psalmboek.) Dit is deur Guido de Bres in 1561 voltooi en bevat 37 artikels. Dit handel oor die volgende:
oor God (artt. 1 en 2) oor die Heilige Skrif (artt. 3 – 7) oor die drie-enige God (artt. 8-11) oor die skepping en voorsienigheid (artt. 12 – 14) oor die sonde (art. 15) oor die verlossing (artt. 16-26) oor die kerk (artt. 27 – 32) oor die sakramente (artt. 33 – 35) oor die owerheid (art. 36) oor die laaste dinge (art 37).
6.2 Die Heidelbergse Kategismus
(Voortaan afgekort met HK; kyk agter in Psalmboek.) Dit is opgestel deur Ursinus en Olevianus in opdrag van die vrome Frederik III, keurvors van Palts wat Heidelberg as hoofstad gehad het. Dit is voltooi in 1563 en bevat 52 Sondags-afdelings en handel oor die mens se enigste troos in lewe en in sterwe. Dit is onderverdeel in drie dele wat handel oor: die mens se ellende (Sondae 2 – 4) die mens se verlossing (Sondae 5-31) die mens se dankbaarheid (Sondae 32 – 52).
6.3 Die Dordtse Leerreëls
(Voortaan afgekort met DL; kyk agter in Psalmboek.)
Dit is opgestel op die Sinode van Dordrecht (Nederland) in 1618- 1619 onder die leiding van Johannes Bogerman, die voorsitter van dié sinode.
Dit is gerig teen die Remonstrante wat geloën het dat God sekere mense uitverkies het om salig te word en gesê het dat dit van die mens self afhang of hy salig gaan word of nie.
Dit handel oor:
die uitverkiesing en verwerping (hoofstuk 1)
die dood van Christus en die verlossing deur sy dood (hoofstuk 2) die mens se verdorwenheid en sy bekering tot God (hoofstuk 3 en 4) die volharding van die heiliges (hoofstuk 5).
Hierdie drie belydenisskrifte word genoem: die drie belydenisskrifte van eenheid.
Leave a Reply