Aan die begin van die jaar 2011 van ons Here Jesus Christus, die Koning van die Kerk, weet ons opnuut dat daar in die kerk wêreldwyd stryd sal wees om beide die eenheid en die heiligheid van die kerk te bewaar. In SA se kerklike samelewing, sal dit ook nie anders weet nie. In die GKSA is daar stryd op meerdere vergaderings en die algemene sinode vind oor ‘n jaar weer plaas. In die NGK is daar opnuut worstelinge en besinning aangaande die suiwerheid en reformasie van die kerk.
Om my skrywes vir hierdie jaar te begin, wil ek ‘n ouer artikel van my weer hier beskikbaar stel:
‘n Gereformeerde perspektief op die geskiedenis en huidige ontwikkelinge in die Gereformeerde Kerke van Suid Afrika (tot en met 2004)
https://proregno.files.wordpress.com/2011/01/die-dopper-kerke-van-sa.pdf
Hierdie artikel het oorspronklik in Engels in die Standard Bearer verskyn (kerklike tydskrif van die Protestant Reformed Churches of America), vol. 80, nrs. 13, 14, 16 (April-Mei 2004, beskikbaar by www.prca.org). Die destydse SB redakteur het my gevra om ‘n artikel te skryf oor die kerklike verwikkelinge in die GKSA. Dit was begin 2004 en ek was nog ‘n student aan die Teologiese Skool in Potchefstroom.
Die artikel het onder die aandag gekom van sekere professore en ek is ingeroep vir ‘n ‘broederlike gesprek’ oor die inhoud van die artikel wat volgens die professor bietjie te negatief was. Die professor het my ook vermaan en gevra dat as ek weer as student in kerklike tydskrifte publiseer, dit goed sal wees as hy dit eers ‘proeflees’.
Wel, aangesien ek nie meer ‘n student is nie, kan ek seker nou die artikel hier weer publiseer, sonder enige goedkeuring of proeflees !
Ek is van plan om iewers in die toekoms die gebeure op te dateer tot en met vandag. Ek het egter besluit om hierdie uitgawe net so weer hier bekend te stel, en sal enige kritiek en opmerkings waardeer. Onthou asb die tyd en konteks waarin dit geskryf is (2004). Die artikel is ook destyds in die Esra Verslag gepubliseer: Jan-Jul 2004, Jg.12 nr.55.
Wat my veral getref het in die herlees van die artikel (en dit is een van die redes waarom ek die artikel weer hier plaas), was die destydse stryd oor die Cloete-omdigting, en die baie sterk uitsprake wat gemaak is veral teen die aanvaarding van die Cloete omdigting, veral die teologie daar agter. Dit blyk dat ons vandag ‘vergeet’ het van die erns van die saak, en is bloot ‘tevrede’ met die feit dat ons nie ‘gedwing’ word om die Cloete omdigting te sing nie.
Nou het die doelpale (weer) verskuif na die ‘vrou in die besondere ampte’, en gaan die stryd by 2012 se sinode nie wees oor of Christus verloën word in die Cloete omdigting nie … maar of die GKSA ook nou Gesange gaan sing (die verandering van KO artikel 69).
Een aanhaling uit my artikel, om ons te herinner waarvan ons ‘geval’ het (Op.2:4,5?):
Reeds 8 jaar gelede, in die Kerkblad van Desember 2003, skryf die destydse redakteur (prof. Amie van Wyk):
“dat ons tans by die grootste meningsverskil van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in sy 144-jarige bestaan uitgekom het. Die meningsverskil is onweerlegbaar, maar ons bede is dat die Here ons van ‘n skeuring sal bewaar.”
Nadat die redakteur gewaarsku het dat meningsverskil oor Skrifverklaring nie noodwendig die gevolgtrekking het dat iemand Skrifkrities is nie, maak die redakteur ook die volgende belangrike opmerking, wat die onderwerp van die eenheid en heiligheid van die kerk direk aanspreek:
“Iemand sal sê: Daar kom ‘n punt dat ‘n mens vir die waarheid moet kies en daarmee dan die eenheid prysgee. Tog is die keuse ingewikkelder: Die waarheid van die eenheid van die kerk is déél van die waarheid wat ons elke Sondag bely. Ons bely nie ‘n verskeurde en onenige kerk nie. As die kerk skeur, gee ons ‘n stukkie van die waarheid oor die kerk prys, dié waarheid naamlik dat die kerk een is en een behoort te wees.”
In ‘n ander gereformeerde tydskrif destyds, die Waarheid en Dwaling van Nov/Des 2003, word dit dan ook gestel dat die huidige verskille in die GKSA, nie net verskille is wat te doen het met Godsbeskouing en Skrifbeskouing nie, maar ook met Kerkbeskouing:
“Die tyd het helaas aangebreek waar daar onbetwisbare bewyse is dat daar binne een kerkverband met twee uitsluitende teologieë gewerk word”
“Verwerping van die Nuwe Testamentiese gesag propageer reeds ‘n ander Godsbeeld en ‘n ander ‘teologie’ ”
“Met die invoering van die 2001-omdigting het die GKSA die eerste keer in die geskiedenis, bewustelik of onbewustelik, ‘n onderliggende Skrifbeskouing, wat in sy wese afwyk van die gereformeerde belydenis, formeel aanvaar. Verskillende sinodebesluite is almal simptome van ‘n dieperliggende probleem wat grotendeels met Skrifbeskouing verband hou. … ”
“Die goedkeuring van die 2001-Psalmomdigting is die één grootste, offisiële daad van deformasie (kerkverval) in die geskiedenis van die GKSA. Die sinode het ‘n keuse vir sowel ‘n Skrifvreemde Skrifbeskouing as ‘n ongereformeerde hermeneutiek gemaak.”
“Waar die kerklied van 1814 gelei het tot die herstigting van die Gereformeerde Kerk in 1859, het die kerklied van 2001 gelei tot die opheffing van die identiteit van die Gereformeerde Kerke as verbreiders van die calvinistiese geloof.”
Nou, as hierdie 5 aanhalings reg en waar is, wat het geword van eenheid in leer, diens en kerkregering ? En, kan ‘n huis of stad (kerkverband) wat teen hom self verdeeld is, staande bly (Matt.12:25) ?
Wat staan die gelowige en sy gesin, die getroue gemeente te doen in hierdie tye ?
Dit moet ons gebed ook wees vir 2011: dat die Here almal sal saambring en vergader wat bymekaar hoort, in ware eenheid en heiligheid, om Hom, volgens die Skrif soos verwoord in die gereformeerde belydenis, te dien en eer, in Woord en Gees.
My Vriend , daar is net een stel gebooie en profesieë wat teen al die aanslae vasstaan, teen die aanslae van die moeder en haar hoere. Instede van om der duisende uiteenlopende kerke te vorm, se ek, kom ons gaan terug na dit , wat die vader van Protestantisme, voor gestaan het, ” die Woord, en slegs die Woord! Dink bietjie diep na oor die volgende: ons kan duisende verskillende kerke op die aarde he, watter een is die kerk wat die Vader van die Bybel dien, jy hoef niemand te vra nie, kyk net na watter een die Vader lief het,na die een wat Sy gebooie onderhou, Hy se as julle my lief het sal julle my gebooie onderhou. In 1 Johannes 2, 3-8, sal jy sien dis die ou gebooie. Watter Vader sal Sy gebooie op jou hart skryf , die beter verbond, as Hy nie wil he jy moet dit onderhou nie, ek het die hoer kerke almal gelos, die wat op Sondag die wet van die pous van 321 NC,nakom, ek volg nou die gebooie van die Vader, ek soek aansien by Hom, as ons begin minder op senode vergaderings konsentreer en op menslike opinies en verskille in die kerk, en op die Woord mediteer, sal ons sien dat die ou en nuwe testament vol is van meer as twee getuies wat se onderhou die Vader se gebooie . As jy meer infonodig het, kan ek DVD aanstuur, ek dwing niemand nie, maar as jy ernstig is, maak dan net vir jouself seker. Solo Scripto! Slegs die Woord! En ek sal dit vir die pous ook sê, ek ek staan hiervoor tot die dood, Sondag aanbidding is nie van die Vader af nie!