Vyf redes waarom daar geen toekoms is vir ‘n Christelike party of staat in die nuwe SA bedeling nie

 sgp

Sien: http://www.sgp.nl/

Nou ja, mens hoef nie ‘n doktorsgraad in wiskunde te hê om te weet wie die verkiesing gaan wen nie. Met ‘n een-man (of is dit nou een mens?)- een-stem bedeling is dit vanselfsprekend wie gaan wen, die afgelope 2 dekades se verkiesings, en so gaan dit bly vir nog ‘n paar dekades.

Vanuit die Christelike oogpunt gesien, daar is gelowiges wat glo aan ‘n politieke bedeling gebaseer op:

1) individualistiese vryheid een man-een stem (bv. die ACDP) met min of geen inagneming van die vryheid van volke nie, en

2) dan is daar gelowiges wat glo in ‘n republikeinse vryheid, dus een volk-een stem, elke volk stem vir sy eie leiers (ek is nie seker of die VF hul nog hier bevind nie ?; dalk wel die Front Nasionaal ?).

Eersgenoemde het vrede gemaak met die nuwe bedeling gebaseer op die een nuwe nasie gedagte, wil geen vorm van volkskap hê nie, maar beywer hul wel vir ‘n nuwe SA gebaseer op Bybelse beginsels volgens God se wet vir die hele nasie.

Laasgenoemde groep wil die goeie van die vorige bedeling behou, die Christelike beskawingsidee, maar dan nie net individualisties en in gesin en kerk nie, maar ook op die volksterrein. Daarom die ideaal van ‘n volkstaat, ‘n vrye Calvinistiese republiek waar vir eie leiers volgens die Christelike geloof en beginsels gestem kan word.

So beide groepe stem saam oor die basis van ‘n land, nasie of/en volk, dit moet die Christelike geloof en lewensbeskouing wees, maar verskil oor die kwessie van nasieskap vs volkskap.  Nou sal ek natuurlik eersgenoemde verkies bo beide die huidige humanistiese nie-Christelike bedeling, maar ook bo ‘n ‘rassistiese’ blanke volkstaat wat God en sy gebod nie erken en respekteer nie.  Die 2de opsie glo ek is deel van die calvinistiese geskiedenis en lewensbeskouing van die Afrikaner gelowige deur die eeue, sien die artikel Die Calvinistiese wortel van ons volksbestaan, deur prof. dr. HG Stoker.

3) Daar is ook ‘n derde groep wat die Christelike geloof bely, maar meen die sosio-politiese terrein van die lewe is ‘n sogenaamde ‘neutrale’ terrein waar die gelowige nie volgens God se wet nie, maar volgens pragmatiese oorwegings aan die politiek deelneem. Op die politieke terrein geld die Koningskap van Christus nie, ook nie die oproep van Mark.8:38 nie. Daar word dan gewoonlik geredeneer mens stem vir die party wat die ‘sterktste is om teen die ANC’ te staan, of wat ‘ons regte’ die beste kan beskerm, stem sommer vir enige party solank dit net anti-ANC is, al is so ‘n anti(es)-party in stryd met die Bybelse beginsels en lewensbeskouing, solank jy net ‘teen’ die ANC stem. Iets van ‘n gogga maak vir baba bang politieke ‘anti’ pragmatiese strategie (soos sommiges sal sê: die DA het die ou negatiewe KP of NP geword)

Nou, ongeag waar mens as gelowige staan in enige van hierdie groepe, die feit is dat ‘n toekomstige Christelike staat of Christelike partye wat verkiesings wen, nie ‘n werklikheid sal word in ons land nie, ten minste nie vir die volgende paar dekades nie, soos dinge nou staan en lyk.

Hoekom nie ?

Wel, mens hoef nie deel van die Broederbond te wees om dit te besef nie …..

Hier is my 5 redes waarom Christelike politiek nie kan slaag nie, en die redes is ons as gelowiges se eie skuld (u kan in die ‘comments’ afdeling hier onder enige ander redes byvoeg):

1. Die Afrikaanse kerke het die huidige liberaal-demokratiese humanistiese bedeling heilig verklaar, pens en pootjies ingesluk, gedoop van kop tot tone, bo en onder, links en regs, in die middel, orals …. ironies, net soos met die vorige bedeling (daarom geen geloofs-antitese en sterk oproep tot bekering terug na Christus en sy goeie wet nie, Ps.2 …. ‘want die staat is mos neutrale menseregte terrein’ word daar geredeneer).  Daarom meen gelowiges daar is niks fout met die fondament en wese van ons nuwe samelewing nie, wat beweeg het van apartheidsdiskriminasie, na aborsie diskriminasie.

Ek wonder of die meeste gelowiges besef ons het die enigste ware God vir die mens se nuwe hoofgod verruil, want ons land se grondwet begin nou met … WE, the people … en nie meer met die Here se Naam en ons afhanklikheid aan Hom wat al ons lotgevalle bepaal nie.  En voor iemand begin met “ja, maar ons vorige bedeling was ook sondig … onthou dit gaan nie meer oor die verlede nie, dit gaan nou oor hier en nou en die toekoms …. gaan ons die sondes en foute van die verlede herhaal ?

2. Gelowiges stem daarom oor die algemeen glad nie volgens Bybelse beginsels nie maar volgens politieke pragmatisme.  Daarom dat – tot op hede – 85 persent van die stemme vir nie-Christelike partye gegaan het (ANC en DA) … dit alles terwyl 72 persent burgers beweer hulle is Christene ? As Christene gestem het volgens Bybelse beginsels, dan beteken dit die ANC en DA sou saam nou maksimum 28 persent stemme gehad het en was daar geen meer noodsaaklikheid vir enige Anti(e) partye nie ?

Sien die volgende artikel wat dit treffend uiteensit hoe Christene die hoofoorsaak is vir die oorwinnings van liberale nie-Christelike partye in ons land: Elections 2014 – A Christian perspective.

3. Gelowiges wat nie oorweldigend Christelike oueronderwys (tuisskole en privaatskole) ondersteun nie, maar staatskole wat die staat se nuwe godsdiens – liberale humanistiese demokrasie – bevorder en die kinders mee indoktrineer .  Dit is die toekomstige stemmers wat opgelei word om volgens pragmatisme en eie voorkeur te stem, nie volgens wat God se Woord vra en Koning Jesus van ons eis nie:

Luk.6:46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

4. Gelowiges wat hul vreugde soek in Mammon, besittings, selfgemak,  en eintlik net leef vir die aardse koninkryk, die oog glad nie gevestig op Christus en die hiernamaals nie. Daarom dat daar gestem word nie vir die Christelike partye nie, maar vir die ‘sterkste’ party wat MY besittings, MY veiligheid, MY beroep, MY gemak kan verseker hier op aarde.  Sodoende stel ons nie meer ons vertroue op ons hemelse Vader wat in Christus alles na gees en liggaam sal voorsien nie. Sien die volgende artikel:

Op Wie vertrou ons ? Die eerste gebod en die komende verkiesing

5. Hoe kan mens met ‘n leë pylkoker (Ps.127)  by die poorte (stembus) wil opdaag, dit is politieke selfmoord (Die GKSA het reeds in 1945 uitgewys dat die Afrikaner besig is met selfmoord, in die publikasie “Selfmoord van ‘n Nasie”). ?  As mens dan glo aan een man een stem, dan het jy getalle nodig, veral as jy die demokrasie omhels.  En tog, is die Afrikanervolk seker een van die volke wat hulself die meeste uitroei deur die kinderseën van die Here te verwerp, meestal weens rede 4 hierbo genoem ?  Mens kan amper sê die Christen Afrikaner is sy eie grootste vyand, nie die sogenaamde ‘bose’ ANC nie.  Ons sal aanhou skaam kry by die poorte (stembus) met ons minderheidsgroepies en doelbewuste eiewillige verwerping van die kinderseën van die Here.  Dit is pure ongeloof wat nie die Here op sy Woord wil vat nie, Ps.107:38. Sien die volgende artikels: Kinderseën

Dit alles gesê, onthou die ANC, gestig in 1912, het buite-parlementêr nog steeds gegroei vir dekades ….. en vandag regeer hul die land. Israel het vir eeue nie ‘n eie land gehad nie, maar nou het hulle.

So ja, wie weet ?

Maar menslik gesproke, in die huidige omstandighede lyk enige gedagte van ‘n sterk Christelike party (en/of Christelike volkstaat) onmoontlik weens bogenoemde redes, wel dalk as die Here gendadiglik wil, dalk in die toekoms, oor so 2 of 3 geslagte ?

Wat moet die gelowige Afrikaner dan nou doen ?

Ek plaas drie Skrifgedeeltes vir ons elkeen om oor te bid, te verootmoedig voor die Here en te besin:

1. Psalm 37:3-9 3 Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, 4 en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. 5 Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; 6 en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. 7 Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie. 8 He. Laat staan die toorn en verlaat die grimmigheid; wees nie toornig nie: dit is net om kwaad te stig. 9 Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.

2. Jer.29:4-7 4 So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel, aan al die ballinge wat Ek uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het: 5 Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; 6 neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie; 7 en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.

3. Matt.6:33 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

‘n Paar gedagtes uit bogenoemde verse:

i. gelowiges moet voortgaan om op die Here te vertrou, in verootmoediging en belydenis van sondes voor die Here, die land te bewoon, huise bou en bewoon en getrouheid te beoefen, daar waar ons elkeen geroep en geplaas is. Die goddelose sal voortgaan van kwaad na erger, maar die regverdige sal eendag die land be-erwe, as dit nie in hierdie lewe is nie, wel definitief in die toekomstige in Christus (Matt.5:5; Rom.4:13; Op.11:15).

ii. gelowiges moet aanhou trou, die huwelik en gesinslewe eerbiedig en ‘n ryk en grote nageslag kry, soveel soos die Here skenk en wil. Ons moet vermenigvuldig en nie verminder nie (Jer.29:6; sien ook Ps.127 en 128).

iii. gelowiges moet wetgetroue burgers van die land wees wat waarlik die vrede van die land soek (ook met alle ander volke en kulture wat hier woon), bid vir enige owerheid wat oor ons geplaas is, maar altyd met die voorbehoud dat as iets wat van ons ge-eis word wat teen God se gebod ingaan, ons antwoord soos Petrus en Johannes: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense.” (Hand.5:29)

iv. Soek bo alles die Koninkryk van God, soek Christus in alles in u lewe. Bid en beywer u daarvoor dat elkeen van u kinders en gesin, familie, gemeentelede, ens Christus as Koning en Verlosser mag ken (1 Kor.2:1,2), wees ywerig in sending en evangelisasie … dan sal die ander dinge van die hier en die nou (dalk ‘n volkstaat in die toekoms, dalk ‘n goeie bybelse regering in die nuwe SA?) vir ons bygevoeg word, DV ?

v. die kerk van Christus, gelowiges, is nié afhanklik van enige politieke bestel of regering om te kan funksioneer en bestaan nie. Ons lewe onder ons Koning Jesus Christus deur alle tye en plekke en omstandighede, en voer sy opdragte uit deur sy Gees en Woord (NGB art.27; HK v/a 54). Daar is sekerlik tog wel sekere sosio-politieke bedelings wat beter vir die kerk is as andere, maar ons is nie afhanklik in ons geloof van ‘n spesifieke staatsbestel nie, ons dien ons Koning en Verlosser deur dit alles, lees en besin opnuut oor Hab.3:17-19.

vi. ekself glo dat ‘n goeie Christelike staat, hetsy in die huidige bedeling of ‘n toekomstige volkstaat, moet die vrug wees van dekades lange vrugdraende Evangelie verkondiging, waarin individue, gesinne, gemeentes, gemeenskappe, volkere tot bekering kom en dan in dankbaarheid uitroep: Here, dankie vir die verlossing in Christus, gee dat ons nou hoe langer hoe meer ons hele lewens, ook ons politieke lewens en instansies reformeer volgens u Woord en goeie wette, deur die krag van die Heilige Gees, tot u eer (sien v/a 91 HK)

vii. en ja, natuurlik enige Christelike staat of volkstaat sal gebroke wees (soos die geskiedenis uitwys), onvolmaak, nog vol sonde en swakhede …… soos my eie lewe is, soos my gesinslewe is, soos my kerklike lewe is, ens ens ens., aan hierdie kant van die lewe. Daarom altyd semper reformanda (aanhou reformeer). Ons moet nie die baba saam met die vuil badwater uitgooi nie.

viii. daarom sal enige huidige poging tot ‘n Christelike staat nie baie goed gaan in die nuwe SA bedeling nie (baie sterkte aan die ACDP, maar as gelowiges ongelukkig klaar in hul hordes die DA ondersteun, is daar tragies nie veel hoop vir die huidige tye nie), want ons kerke word al meer afvallig, en as daar vanuit die kerk al meer vyandigheid en afkeur is teenoor ‘n Christelike staat/party, gaan dit nog minder help (sien punt 2 hierbo).

ix. laat die mense maar hul heil en hoop in die interfaith/godsdiensgelyke/neutrale humanistiese staatsidee aanhou soek en die hartseer gevolge dra, wat geen maar geen teenstand teen ‘n Islam staat gaan kan bied nie, want jy beveg nie ‘n bose godsdiens met sulke humanistiese foefies soos ‘skei staat en godsdiens nie’ of ‘daar is neutrale terreine in hierdie lewe waar God en sy wet en sy Evangelie nie regeer nie’, hulle gaan die humanistiese staatsidees een vir een vernietig.

x. jy beveg ‘n absolute totalitêre opeisende af-godsdienste soos Islam en die Humanisme alleen met ‘n godsdiens wat alles totalitêr van jou opeis (lees gerus HG Stoker se werke hieroor), naamlik die gereformeerd protestantse calvinistiese bybelse geloof en lewensbeskouing, gegrond in die volle Woord, met die wese die Evangelie wat dan vrug dra in ‘n dankbaarheidslewe op alle lewensterreine en denke, nie volgens net sommige nie maar al sy gebooie (sien HK v/a 114)… dus ook daardie wette wat geld vir die staat en samelewing).

Mag die Here ons help om sy Koninkryk, sy eer, sy Seun in alles in ons lewens te soek, wat ookal die toekoms inhou vir ons gesinne, gemeentes, volkere en land.

Mag die woorde van prof. HG Stoker, ook waar word in ons tye (beklemtonings bygevoeg):

Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.  Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.”

Sien die volledige artikel waaruit hierdie aanhaling kom, hier:

Calvinisme as wortel van ons volksbestaan 

Nota: Prof. Stoker noem dat die wese van alle reformasie begin by die kerklike en godsdienstige terrein. In ‘n volgende skrywe gaan ek daarop wys waar die deformasie van ons kerke begin, en waar die reformasie in ons kerke moet begin, wat dan ook die res van ons lewens moet raak.

7 thoughts on “Vyf redes waarom daar geen toekoms is vir ‘n Christelike party of staat in die nuwe SA bedeling nie

Add yours

  1. Baie dankie vir die goeie stuk, Slabbert.

    So lief soos ek my volk het, is dit net nog altyd vir my moeilik om ‘n profesie soos bg van Stoker ernstig op te neem “… omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie.” My pa het my ook groot gemaak met die idee dat ons moet vashou aan die vryheidsideaal van die Christen-Boerevolk, omdat ons ‘n besondere roeping het in Afrika. Dat ons ‘n roeping (gehad) het is so, maar my vraag is net of Stoker (of my pa, of enigiemand) ‘n reg het om so uitspraak tov die nageslag te maak? En sodoende tog te impliseer dat diegene wat bv. wil permanent emigreer skuldig is aan roepingsversaking? Soos afvalligheid onder ons volk toeneem (en die oorblyfsel wat “wakker skud tot die stryd” al kleiner word), begin ek al hoe meer aan die voortdurendheid van die volksroeping twyfel. Maar ek besef ook weer dat ek seker nie na die ander ekstreem sou mag gaan en se ons roeping reeds volkome volbring is nie.

    1. Ja Adi, stem saam met baie wat jy sê. Ons volkie het homself vernietig van binne met die kanker van teologiese en politieke liberalisme. Mag die Here ons wysheid gee, ons roeping in Christus gaan voort op elke lewensterrein, en ek dink die volksterrein kan alleen dalk in die toekoms weer reformeer as vrug van persoonlike, gesin en gemeente reformasie.

      Goed gaan daar.

  2. Aanhaling: “3. Gelowiges wat nie oorweldigend Christelike oueronderwys (tuisskole en privaatskole) ondersteun nie, maar staatskole ….”

    Dit voel my ek word “beskuldig” dat my 2 kinders in ‘n staatskool is.
    Ek kan nie eers amper ‘n privaatskool bekostig nie. Vir twee kinders is dit 80% van my salaris.
    Die privaatskool hier in ons stad is slegs vir vermoeende mense ….
    Ek werk 10-12 ure per dag en kan onmoontlik nie tuisskool nie.
    Wat is my oplossing tot die “beskuldiging”?

    1. Naand Fanie, ons bevind ons almal baiemaal – weens die verlede en/of ons eie verkeerde besluite, of weens werklike moeilike omstandighede buite ons beheer – in situasies wat ons nie verder kan reformeer nie, al wil ons ook. So kan dit dalk met jou geval wees, ek weet nie.

      ‘n Ander voorbeeld om te gebruik: die roeping om kinders te kry word deur baie jong getroudes ge-ignoreer vir jare. Hulle rig hul lewe dan so in – met baie uitgawes en luukshede en skulde – dat later as hul agterkom hulle het ‘n roeping om kinders te kry tot eer van die Here, hul lewenswyse so diep in die skuld en moeilikheid is, dan hul nie kinders kan bekostig nie, of die lewe het so lekker geraak dat daar nie meer geld is om baie kinders te kry nie.

      Jou geval is dalk anders, en daarom wil ek nie sê dit het dalk met jou gebeur nie. Ek dink Rusdoony het iets geskryf oor die groot gemors waarin die christen gelowiges oor die algemeen geval het in die onderrig van ons kinders: vir dekades en dekades is kinders gestuur na staatskole wat hul vreemde dinge geleer het, en het die sisteem hul so ongeslurp, dat later kon tuis- en privaatskole nie meer bekostig word nie, of is prakties nie moontlik nie, saam met al die baie ander uitgawes wat die lewe van ons vra. Prioriteite was verkeerd.

      Hy meen ons kan dan nie verwag – as ons besef dinge was nie reg nie – dat dinge skielik sal verander nie, ons moet op die langtermyn vra hoe kan dinge verander, dalk my kinders onderrig en so opvoed dat hulle wel eendag vir hul kinders tuisskool kan gee en/of privaat goeie skole.

      Verder dink ek ook kerke moet gelowiges probeer bystaan om te help waar moontlik sodat moeders weer by die huise kan wees vir opvoeding, en/of te ondersteun om goeie privaat skole by te woon. ‘n Mens het natuurlik heeltemal begrip vir enkelouers wat nie anders kan as om te werk nie.

      Dit gaan inderdaad groot opofferings vra, van iemand, of ons geslag, of dalk ‘n volgende een wat die kostes moet bereken: naas die geloof, wat is die kosbaarste vir ons en watter offers gaan ons bring ?

      Heel prakties wat elke ouer en gelowige kan doen, is om ten minste te begin lees en jouself op te voed oor christelike tuisonderwys en/of privaatskole. Vind soveel moontlik uit, bespreek dit met mense, bid daaroor, moenie net aanneem alles is onmoontlik nie, wie weet, dalk maak die Here iewers deure oop, dalk vir die nageslag.

      Hier is plekke om te begin lees as jy belangstel:

      http://www.sahomeschoolers.org/

      http://www.arso.co.za/

      1. Ek wil net byvoeg in verband met tuisonderrig. Myself en my vrou het ons twee kinders tuisonderrig terwyl ons albei vir jare sonder enige finansieële inkomste was. Vandag studeer altwee aanlyn by internasionale instansies. Hier het ons ervaar hoe God deure oopmaak en ons gesin dra. Ons is dankbaar vir tuisonderrig. My vrou en myself het 29 jaar gelede ‘n gelofte gemaak dat indien God ‘n weg oopmaak vir tuisonderrig, ons dit sal aangryp. Ons hele gesin het baat gevind by tuisonderrig.
        Vrede en Vreugde.
        Justin

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: