GKSA sinode 2012: AD 6 Januarie

21h10: vergadering verdaag tot more (ek gaan nie hier wees nie, dit gaan hoofsaaklik oor kerklike tydskrifte en die kosmetiese veranderings aan die nuwe Gesangsingende art.69, KO).

My laaste vraag vir vandag: gaan daar ‘n persverklaring wees wat die NGK en NHK om verskoning vra vir 1859 en daarna aangaande die sang ?

So val nog ‘n ‘struikelblok’ in die pad van die groot ekumeniese eenwording tussen die ‘susterskerke’, en nog twee gaan volgende week geteiken word (en as vanaand enigsins ‘n aanduiding is, gaan daar nie veel weerstand wees nie):

– SARK lidmaatskap

– Vrou in al die besondere ampte

Die ‘Agenda’ gaan voort teen ‘n spoed (Ps.2:1-3).

Maar, laat ons aanhou stry, met die troos en wete van Ps.2:4 en verder.

Ek groet vir eers …

20h50: art.22.1 se nuwe wysiging is met meerderheid aanvaar. Die GKSA was histories ‘n Psalmsingende kerk, en daarmee is bedoel dat daar hoofsaaklik die Psalms gesing is met enkele Skrifberymings en twee Gesange.  Nou is ons amptelik ‘n Ps, SB en Gesangsingende kerkverband en is daar gewetensbinding op daardie gelowiges wat alleen Psalms wil sing in die erediens.  As enige Gesange opgegee word, kan gelowiges nie saam die Here aanbid nie.

20h30: Hier is my studie oor die kerklied soos bestudeer na aanleiding van Totius se uiteensetting:

Die Kerklied

Inhoudsopgawe

– Inleiding … 1

– Totius oor die lied in die kerkgeskiedenis (vroeë kerk, reformasie, Dordt, Nederland) … 2

– Totius oor die vrye kerklied (Gesange) … 9

– Totius en die Skrifberymings … 17

– Die kerklied in die presbiteriaanse wêreld … 30

– G van Rongen oor die kerklied en eie slotopmerkings en vrae … 36

20h25: Die rede waarom daar so verlange is na die vrye kerklied is omdat ons vryer geword het in die leer:

“Ja, die geskiedenis het meer om te bewys. Haar onwraakbare getuienis is dat geen kerk streng gereformeerd gebly het, wat die gesange gebruik het nie. Daar was steeds ‘n wisselwerking. Die losheid in de leer roep om die gesange, en die gesange roep om die losheid van die leer.” – Totius en Cachet (sien: Waarom sing die Gereformeerde Kerk alleen Psalms)

20h15: ds. Christiaan Jooste (GK Wonderboompoort) wys ook op al die probleme in die nuwe bewoording, en dat dit nie die eenheid van die kerke gaan dien nie, dit gaan tot groter verdeeldheid en verwarring lei in die kerke.

19h55: Ds Gustav Opperman wys op die onhoudbaarheid van die huidige formulering wat sekere liedere bindend maak en ander nie bindend maak nie, daar moet konsekwentheid kom. Ouderling Nico van der Kruk (GK Bet-el) stel die volgende bewoording voor: in die kerke moet alleen die 150 Psalms gesing word. Alle ander liedere word aan die vryheid van die kerke oorgelaat.  Ds. Sarel Cilliers (GK Waterberg) waarsku oor die erns en heiligheid van die lied en dat ons baie versigtig moet wees in die keuse van die liedere wat ons sing.  Hy bepleit hom vir die sing van Kanonliedere, veral die Psalms, ook met die uitwys van die Skriflied in Openbaring (Op.15), wat die sing was van OT liedere wat in die hemel gesing word.

Regstelling bygevoeg 10 Januarie: Vrydag, 6 Januarie het ek soos volg berig, oor ‘n voorstel vir die herbewoording van art.69 KO:

“Ouderling Nico van der Kruk (GK Bet-el) stel die volgende bewoording voor: in die kerke moet alleen die 150 Psalms gesing word. Alle ander liedere word aan die vryheid van die kerkrade oorgelaat.”

Dit moet wees:

“Ouderling Nico van der Kruk (GK Bet-el) stel die volgende bewoording voor: in die kerke moet alleen die 150 Psalms gesing word. Alle ander liedere word aan die verantwoordelikheid van die kerke oorgelaat.”

19h45: oor spreekreg, kan ek wel vermeld dat sou spreekreg beteken jy moet eers die Openlike Verklaring aflê (soos dit gevra is van ‘n nie-afgevaardigde ouderling wat amptelik deel was van rapportering), dan sal ek dit nie kan aflê en onderskryf nie, en sou ek nie spreekreg kon beoefen nie (aangesien ek nie 1 Tim.2:11,12 volgens my gewete kan oortree nie).

19h30: daar is nou baie afgevaardiges wat spreek.  Sover is daar twee groepe wat oorheers: die een groep wat art.22:1 se herformulering voorstel net so wil goedkeur, en dan ‘n groep wat sê dat alle liedere, letterlik alles, deur die plaaslike kerk bepaal moet word. Dit wil sê dit is nie ‘n kerkverband saak wat deur die sinode bepaal word nie, elkeen sing wat hul oordeel ‘skrifgetroue liedere’ soos deur kerkrade bepaal.  ‘n Kleiner groep wil nog die ou formulering handhaaf soos hy tans in ons Psalmboek by art.69 is … Ek het nog niemand gehoor wat terugroep na Psalms alleen nie.

19h00: hier is kortliks die opmerkings wat ek in die sinode wou genoem het, maar aangesien ek nie spreekreg het nie, plaas ek dit hier (ek het ook my gedagtes deurgegee aan ‘n paar afgevaardiges), onthou, u moet dit lees in die lig van art.22.1 se inhoud in die Agenda (ek voeg ‘n paar aspekte hier by):

1. Oor 1.6.3.2-4: daar word vermeld dat die bewoording wat ons tot nou gehad het, gedoen is nie uit beginsel nie, maar uit vrese vir gevare van dwaling, o.a. verwoord deur Voetius, Postma en Totius.  Die implikasie is dat art.69 dus nie prinsipieël Skriftuurlik begrond is nie, maar bloot agv omstandighede van dwalinge in die vorige eeue (remonstrantisme, ens.)

My vraag/opmerkings:

a. is daar vandag nie juis soveel meer dwalinge en gevare nie, die remonstrantisme en dwalinge is vandag lewendig en soveel meer. Dus, die ‘omstandighede’ het dieselfde gebly of nog meer afvallig geraak, en noodsaak ‘n duidelike besluit om slegs die Psalms te sing.

b. Dink ons geslag ons is meer heilig, regverdig en volwasse in die geloof as ons gereformeerde voorvaders, dat ons nou skielik dink ons sal die dwalinge uit die vrye lied kan weer ?

c. Vrees ?  Vrees is nie altyd sleg nie, inteendeel, om die HERE te vrees is goed, Spr.1:7 (‘Die vrees van die HERE is die beginsel van kennis’), en vrees vir die Here Jesus in aanbidding is heilsaam: “Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil.” (Ps.2:10-12; sien ook Hebr.12:29).  As daar nie heilige eerbiedige vrees vir God is nie, sal daar vrees vir mense en mensentriese aanbidding volg, sien Spr.29:25.

2. Die Psalms alleen bevorder juis die eenheid en gewetensvryheid van gelowiges en gemeentes, plaaslik, in kerkverband en ekumenies wêreldwyd.

3. Dit is ‘n valse redenering dat as ons die lied aan ‘die vryheid van die kerke’ oorlaat, daarmee ‘niemand’ se gewetens gebind word nie (en ons dus nie terug is by 1859 nie?).

Rede: as ‘n erediens gehou word en daar word bv 3 Gesange, 1 Psalm en 1 SB opgegee, word die Psalmsanger se gewete gebind om nie aan die erediens deel te neem in 4 van die 5 liedere nie, en is dit in stryd met God se bevel om Hom te dien soos Hy beveel (HK Sondag 35, v/a 96), asook NGB art.32:

“Psalmsing tot eer van God, psalmsing ! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing!” – Ps.47:7

Die sing van liedere buite die Here se liedboek vir die kerk, die Verbondspsalms, verdeel daarom die kerk op alle vlakke en werk nie die eenheid aan die hand nie.

3. My voorstel vir nuwe bewoording (ook vir die kerkreformasie in die toekoms): “In lyn met NGB artikel 7 – die genoegsaamheid van die Heilige Skrif – is die kerk tevrede om die 150 Psalms alleen te sing, tot lof van sy Naam.”

18h45: voor ete met die begin van bespreking van art.22.1 wou ek as nie-afgevaardigde deelneem aan die bespreking omdat ek gemeen het dat ek ‘spreekreg’ het as predikant van ‘n gemeente wat deel is van die GKSA verband. Ek het egter toe uitgevind ek het nie ‘spreekreg’ nie aangesien daar met die aanvang van die sinode toe reeds besluit is dat alleen afgevaardiges stemreg en spreekreg het (ek is nie seker nie, maar ek dink nie dit was so in die verlede nie?).  Ek probeer daarom deur hierdie blog, ‘n boektafel wat ek hier beman, asook persoonlike gesprekke ‘n getuienis lewer (Jer.20:9; 1 Kor.9:16).

Daar word nou ‘n deel van die notule goedgekeur, waarna bespreking van art.22.1 sal voortgaan.

17h40: Een van die belangrikste sake is nou op die tafel, art.22.1 oor die voorgestelde wysiging van KO art.69 oor die lied. Die voorgestelde verandering is:

Sake waaroor die Sinode besluit

2.1 Die volgende wysigingsformulering vir KO, art 69 word op grond van bogenoemde deur die Deputate vir goedkeuring aan die Sinode voorgehou:

“In die kerke moet die 150 Psalms, die Tien Gebooie, die Onse Vader, die Twaalf Artikels van die Geloof, die Lofsange van Maria, Sagaria en Simeon gesing word. Ander Skrifberyminge en Skrifgetroue liedere wat die Sinode goedgekeur het, word in die vryheid van die Kerkrade gelaat.”

Skrifgetroue liedere = Gesange

Die sinode het verdaag vir ete en sal weer van 18h30 verder gaan.

1859 se skriftuurlike en historiese wortels is vanaand amptelik op die spel, en gaan ook die rigting van die kerkverband bepaal in die toekoms.

16h45:  art.21.2 nie aanvaar nie, nl. dat gebede vertaal word op meerdere vergaderings.

16h25: ek het so bietjie met broers gesels en lyk my ek is onkundig oor die kerklike weg en kerkordelike hantering van appélle.  Dit is glo die aanvaarde gebruik nog altyd dat geen appélle vooraf beskikbaar is vir die afgevaardiges nie. Eers as dit ontvanklik verklaar is, dan word dit in die vergadering beskikbaar gestel.  Hoekom dit so is, weet ek (nog) nie.

My mening is nog steeds, as die sinode vooraf kan sien hoe belangrike saak dit is (regskrenking is mos ter sprake), kan hul tog die tegniese probleme in daardie konteks lees en die betrokke appél help om ontvanklik te wees ?

15h20: die appél van brs. Gert en Freek Kruger teen ‘n kerkraadsbesluit van klassis Trans-Magalies van 24 Maart 2011 (insake KO, art.79 klag teen prof. Nico Vorster) word op die volgende grond onontvanklik verklaar:

“3.2.6 Probleem

3.2.6.1 Die appél lyk op die oog af formeel in orde.

3.2.6.2 Die appéllante noem egter die appél: ” appél … teen ‘n Kerkraadsbesluit van Klassis Trans-Limpopo van 24 Maart 2011″  Die opskrif is egter verwarrend omdat ‘n appél na die Algemene Sinode alleen moontlik is indien dit teen ‘n besluit van ‘n Streeksinode gerig is.

3.2.6.4 Hoewel die amptelike redaksie waarteen die appél gerig is, aandui dat dit teen ‘n Streeksinodebesluit is, beredeneer die appélgrond regskrenking wat deur ‘n kerkraadsbesluit gepleeg is. Daar word nie duidelik aangedui in watter mate die Streeksinode die reg gekrenk het nie.

3.2.7 Aanbeveling

3.2.6.1 Die appél is onontvanklik weens die probleem in 3.2.6 aangedui.”

Die sinode aanvaar met groot meerderheid die aanbeveling.  Dus, brs. Kruger se appél is met ‘n ‘tegniese’ uitklophou van die tafel gehou, nog voor dit naby die afgevaardiges se be-oordeling kon kom.

Tydens die bespreking het ‘n paar afgevaardiges hul bekommernis uitgespreek dat hul nie die appél eers gesien het nie, hoe kan hul daaroor oordeel? Die appél is nie in die agenda of aanvullende agenda opgeneem nie, en by navrae het die voorsitter vir hierdie saak, ds. van Schaik, iets geprewel dat die moderamen wel so ‘n gebruik ken om eers die appél beskikbaar te stel vir die vergadering, eers wanneer die appél geslaag het.

Ek verstaan dit regtig nie, want in die aanvullende agenda vind ons baie laatgekome stukke asook een appélkennisgewing (12.1) wat reeds vooraf beskikbaar was ?

Met hierdie saak kan tereg baie vrae gevra word, onder andere hoekom afgevaardiges nie vooraf mag weet waaroor hierdie saak gaan nie ?

Ds. Gustav Opperman (GK Brits-Wes en GK Bet-el) het heeltemal tereg opgemerk dat as afgevaardiges nie die inhoud van die saak kan sien nie, kan hul nie oordeel nie en kan dit neerkom op regskrenking.

Waaroor gaan hierdie saak ?

(Br. Gert of Freek Kruger is welkom om vir my ‘n opsomming van die saak aan te stuur, ek sal dit op my blog plaas, as hul so verkies).

Van my kant, gaan die saak oor die dwalinge wat dr. Nico Vorster kwyt geraak het in ‘n artikel wat hy in die In die Skriflig geskryf het ‘n paar jaar terug, veral oor Skrifbeskouing en Gen.1-3.

Sien my artikel oor die saak hier:

Skepping en erfsonde: ‘n paar opmerkings in antwoord op dr. Nico Vorster se artikel, Die teologies-polemiese gerigtheid van Genesis 1-3: implikasies vir die gereformeerde leer oor die erfsonde

Sien ook dr. Henk Stoker se artikel oor dieselfde saak:

Genesis en teologie: ‘n Antwoord op Nico Vorster se siening van Genesis 1-3 as polemiese teologie

Nog ‘n artikel om te lees:

Wat is nou die verskil tussen Spangenberg en Vorster ?

Na die appél onontvanklik ‘gemaak’ is, word daar met blydskap afgekondig in die sinodesaal dat SA kort 2 lopies om die krieket toets op Nuweland te wen … (sien besinning hier [heel] onder).
15h05: Hier is die motivering waarom br. Gert Erasmus se beswaarskrif teen NAV (14.4) onontvanklik verklaar is, en nou deur die sinode aanvaar is:

“2.1.1. Die beswaarskrif handel oor sake wat etlike kere deur sinodes behandel is.

2.1.2 Die beswaarskrif dui nie die noodsaak (necessitas) aan waarom hierdie sake weer moet dien nie (vgl KO art.46 en 1 Kor 10:23,24)”

14h55: 13.13 is vinnig, met die spoed van lig onontvanklik verklaar.

14h50: 13.11 se beskrywingspunt nie aanvaar nie. 13.13 op die tafel.  Ds. Zwemstra som dit op soos hier onder genoem: as die inkomste daal, moet die uitgawes daal. Baie belangrike beskrywingspunt.

14h20: die beskrywingspunt van 13.9 is met groot meerderheid verwerp. 13.11 op die tafel.

14h00: na middagete, art.13 gaan voort (13.9). Later vandag kom een van die belangrikste sake op die tafel, artikel 22.1, die verandering van art.69 van die kerkorde, oor die lied.  Nie net die geloofs-identiteit nie maar ook historiese identiteit van die GKSA oor die lied is dan op die tafel. Kyk solank na die voorgestelde veranderde bewoording in die Agenda (bl.238).

11h00: art.13, bl.321-389 verwys na finansiële kommissie.  13.4 is nou op die tafel.

10h35: sien voorgestelde ramings verhogings op bl.321 in aanvullende agenda (13.3) waaroor besluit moet word. Verhoging vir AB: 14.7 %  Verhoging vir emeritaat 0%   NWU: 7.1 % Deputate sinode 12%  Ds. Dinant Zwemstra noem dat as die inkomstes minder moet word moet die ‘koek’ ook minder word, d.w.s. uitgawes moet minder word, personeelvermindering en ander besparings.

10h30: Ds. Leo, wat nié die pous is van die Vatikaan nie, wys tereg daarop dat ons krisis is met bydraes gee, dat ons beursies nie gereformeer is nie. Ons breek vir teetyd.

10h15: sien my skrywes oor die moontlike redes vir die art.13 AB krisisse, onder andere dat die ‘koek’ al kleiner word (inkomstes) en die uitgawes meer:

Waarom daal die lidmaatgetalle in die susterskerke ?

Geboortebeperking

10h10: tydens art.13 verslae die volgende aspekte word genoem in die toeligting:

– “dit help nie om getalle statistiek te verminder nie, want wat een gemeente nie bydra nie, moet weer van ‘n ander gemeente verhaal, die koek bly dieselfde’.

– Groot probleem is getalle vermindering. 1752 lidmate minder onder blanke gemeentes.  Daar is wel groeipunte in die GKSA waarvoor ons dankbaar is.

– By Admin Buro is die grootste probleem die gebrek aan ramings wat betaal word, tans 12 miljoen agterstallig.  Weer word daar genoem dat die Admin Buro nie die ‘Vatikaan is nie, en pous Leo X nie die pous is nie … en dat die AB nie die tanne het om gemeentes te dwing om te betaal nie.

10h03: nog by art.14, daar is goedgekeur dat in plaas van R25-00 per lidmaat per jaar bydrae vir Bybelverspreiding, is daar besluit op die riglyn van ‘een Bybel per lidmaat’.  Dit beteken van R25-00 na R52-00 per lidmaat per jaar.

10h00: wat art.14 hier onder betref (wat later weer ter sprake gaan kom in die kuratore verslag aangaande die professors se betrokkenheid by bybelvertaling), sien my skrywes oor probleme met die NAV en die BAD vertalings hier:

Probleme met die NAV en BAD

09h55: ds. Leo van Schaik het ons nou net verseker hy is nie die ‘pous van die Admin Buro’ nie, waarvoor ons almal baie dankbaar is. …

09h50: art.13, Admin Buro is op die tafel.

09h40: art.14.1-3 is aanvaar, oor Bybelmedia, Bybelvertaling en Bybelerspreiding.  Tydens die bespreking van Bybelvertaling (die nuwe beoogde vertaling wat genoem word, ‘Die Bybel in Afrikaans: ‘n Direkte vertaling’, my afkorting: BAD – slc) het ds Stefaans de Bruyn (GK Wilropark) sy besorgdheid uitgespreek dat in die proefvertalings wat hy al gelees het daar vryer as selfs die 1983-vertaling vertaal word, en dat daar dan in die ‘voetnota’ dan ‘n meer ‘direkte vertaling’ gegee word. Dit behoort juis andersom te wees, en daarom het hy ook voorgestel dat die nuwer vertaling daarom dalk – ‘Die Bybel in Afrikaans: ‘n Direkte voetnota’ – genoem moet word.  Die ‘voorstel’ is nie aanvaar nie.

09h00: die dagprogram (met dankerkenning aan ds. Hennie van Wyk):

“Hier is die konsep-dagprogram. Neem asseblief kennis dat hierdie program sonder waarskuwing deur die Moderamen aangepas kan word.

Opening
Presensie/
Ordekommissie/Order commission

Rapport 1 Dep Bybel-Bybelmedia/Report 1 Dep Bible – Biblemedia
Rapport 2 Dep Bybel-Bybelsverspreiding/Report Dep Bible- Bible Distribution
Aanv Rapport Dep Bybel/Suppl Report Dep Bible – Bybelverspreiding/Distribution
Rapport 3 Deputate Bybel/Report 3 Deputies Bible – Vertaling/Translation
Groeteboodskap Bybelgenootskap/Conveying Greetings Bible Society

TEETYD/TEA TIME
Rapport 1 Bestuur Admin Buro/Report 1 Bureau for the Churches
Rapport 2 Bestuur Admin Buro/Report 2 Bureau for the Churches – ADMIN
Aanv Rapport 2 Bestuur Admin Buro/Suppl Report 2 Bureau for the Churches
Rapport 3 Bestuur Admin Buro/Report 3 Bureau for the Churches – Finance
Aanv Rapport 3 Bestuur Admin Buro/Suppl Report 3 Bureau for the Churches
Finansiële State/Financial Statements Admin Buro 2009
Finansiële State/Financial Statements Admin Buro 2010
Finansiële State/Financial Statements Admin Buro 2011
Finansiële State/Financial Statements GKSA 150 2009
Finansiële State/Financial Statements GKSA 150 2010

MIDDAGETE/LUNCH
Rapport 4 Bestuur Admin Buro/Report 4 Bureau for the Churches – Eiendomme
Rapport 5 Bestuur Admin Buro-Skakel/Report 5 Admin Buro-Liason
Rapport 6 Bestuur Admin Buro-Ouditkom/Report 6 Admin Buro-Audit Com
Aanvullende Rapp 6 Admin Buro-Ouditkom/Supplementary Report 6 – Audit Com
Rapport 1 Dep advies rente-Algemeen/Report 1 Dep for advice-General
Aanvullende Rapp 1 Dep advies rente-Alg/Suppl Report 1 Dep advice interest-General
Rapport 2 Dep advies rente-Regl/Report 2 Dep advice interest-Regulation
Aanv Rapp 2 Dep advies rente-regl/Suppl Report 2 Dep advice interest-Regulation
Beskrywingspunt Str Sin Vry/KZN-Kerklike eiendom/Point of description FS/KZN
Aanv Rapp 1 Bestuur Admin Buro-Bewaring/Suppl Report 1-Saving of minutes
Beskrywingspunt Str Sin Pretoria-skeiding/Point of description Reg Synod Pretoria-Seperation
Beskrywingspunt Suidelike fin bestuur/Point of description Southern fin management
Beskrywingspunt VS/KZN -besinning/Point of description FS/KZN managing fin
Aanvullende Rapport – Lidmate Statestiek/Suppl Report – Members Statistics

TEETYD/TEA TIME
Kommissie vir benoeming van Deputate/Commission for naming of deputies
Kommissie pre-advies GL Erasmus/Commission pre-advice GL Erasmus
Beskrywingspunt StrSin Noordwes/Point of Description Reg Syn North West
Dep Leerstellige sake /Dep Doctrinal Matters
Beskrywingspunt Str Sin Vryst/KZN/
Rapport Dep Hervertaling/Report Dep Retranslation
Rapport 1 Dep Liturgiese Sake art 69/Report 1 Dep Liturgical Matters art 69
Rapport 2 Dep Liturgiese Sake art 69/ Report 2 Dep Liturgical Matters art 69
Rapport 3 Dep Liturgiese Sake art art 69-Keuring/Report 3 Liturgical Matters art 69 -Testing
Rapport 4 Dep Liturgiese Sake art 69 – Identifisering/Report Liturgical Matters art 69
Rapport 6 Dep Liturgies Ps 110/Report Liturgical Ps 110
Rapport 7 Dep Liturgies – Keuring/Report 7 Dep Liturgical – Evaluation
AANDETE/SUPPER
DAGSLUITING/CLOSURE”

Besinning

Vandag, 6 Januarie 2012, gaan daar drie belangrike/aktuele gebeurtenisse plaasvind, wat verteenwoordigend is van die wêreld waarin ons lewe, en elkeen van hierdie gebeure – en ons omgang daarmee – sal wys waar ons harte en skat finaal is (Matt.6:21):

1. die 3de dag van die GKSA sinode 2012

2. die ANC se eeufeesvieringe wat begin in Bloemfontein, 6-8 Januarie

3. die krieket op Nuweland

Ek wil die stelling waag dat vir die meerderheid Suid-Afrikaners nr.2 die belangrikste gebeurtenis is wat hul lewe en belangstelling bepaal die volgende paar dae, terwyl vir die meerderheid Afrikaners nr.3 die belangrikste gebeurtenis gaan wees wat ‘sin’ aan hul lewe gee, ten minste vir die volgende paar dae … totdat die volgende ‘sports’ hul weer moet help om te vergeet van die stryd om lewe en dood wat daagliks plaasvind, geestelik én fisies.

Maar, al hoe wel daar plek is vir regmatige politiek en sport in die lewe van ‘n gelowige, is dit nie die bepalende faktor en ‘sin’ in ons lewe nie, inteendeel, in Op.1 sien ons dat die Koning van die wêreld, die Alfa en die Omega, die begin en die einde, Hy wat is en wat was en wat kom, tussen die ‘sewe gemeentes’ staan en vermaan, vertroos en dreig (Op.2,3):

“En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee.” – Ef.1:22

Hy staan nie midde en tussen die ‘konings en vorste’ van hierdie wêreld wat sy toue en bande probeer afruk nie (Ps.2:1-3) of tussen hulle wat sê die lewe bestaan alleen in “kom ons speel, eet en drink, want more sterf ons” nie (1 Kor.15:32).

Ja, ook die ANC afgodery (die voorvadergeeste wat aangeroep word met die eeufeesvieringe) is tot oneer van die Here en moet hul tot bekering opgeroep word (sien:  Seremonies ontstel), soos Ps.2:10-12 alle konings en vorste waarsku !

Ja, ook die sportgode en veral professionele sport op die Here se rusdag kan nie goedgekeur word nie, en is nie tot sy eer nie (Ex.20:11).

Maar, veel groter is die plig en roeping op ons wat sy Naam aanroep, ons wat ‘Here, Here’ uitroep oor elke besluit en kerklike vergadering.  Daarom dat die Here veel strenger omgegaan het met die kerkleiers en skrifgeleerdes van sy dag, as bv. die politici en pretsoekers van sy dag, die hoere en die tollenaars.

En juis daarom, bo-alles is die belangrikste gebeurtenis van bogenoemde drie  – vir die gelowige en sy gesin en gemeente – die besprekinge en besluite wat geneem gaan word deur ‘n deel van die ‘engele van die sewe gemeentes’ (Op.1:20),  d.i. vandag die Here se gemeentes wat saam vergader is in Potchefstroom.

Gaan Hy deur sy Woord en Gees in ons midde sentraal staan, gaan sy Woord regeer of mense woorde en planne ?

Gaan ons besluite vandag en in die dae wat volg in lyn wees met ons eerste liefde vir Christus wat ons totale lewe bepaal, ook as ons stem of speel ? (Op.2:4) … of gaan ons ons eerste liefde verlaat omdat ons oë meer gerig is op nr.2 en 3 hier bo (Matt.6:24) ?

Die Koning van die Kerk wys ons op die regte weg in Matt.6:30-33,

  30 As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?  31 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?  32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.  33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid (dit is sy gebooie, nie wêreldse ‘sosial geregtigheid’ nie – slc), en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

2 thoughts on “GKSA sinode 2012: AD 6 Januarie

Add yours

  1. 10h30: Ds. Leo, wat nié die pous is van die Vatikaan nie, wys tereg daarop dat ons krisis is met bydraes gee, dat ons beursies nie gereformeer is nie.

    Eerder: Die beursies is gereformeer…Lidmate sien hoe gelde aangewend word.

    As daar geld is vir deelname aan twyfelagtige sake soos die komende Bybelvertaling, is daar enige rede om bydraes te verhoog?

    As daar soveel geld is dat daar gedink kan word om deelname aan die Godsdiensraad te befonds, dan is dit sekerlik nie nodig om ‘n mens se beursie groter oop te maak nie – die kerklike kas loop sigbaar oor!

    Die gedagte vanaf Streeksinode Natal/Vrystaat dat onderskei moet word tussen NOODSAAKLIK en belangrik, en dat net NOODSAAKLIKE SAKE befonds moet word is ‘n helder lig in die duisternis van twyfel oor die sinvolle aanwending van gelde aan kerke toevertrou.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: