HET DIE GKSA 153 JAAR LANK NIE VAN CHRISTUS GESING NIE?

Die GKSA sinode se Beeld-verslaggewer, Neels Jackson, wys op die wesentlike verskil tans wat lewe en heers in ons kerke (Beeld, 7 Januarie 2012, beklemtoning bygevoeg):

“Die besluit maak die deur oop dat gemeentes van die GKSA in die toekoms talle van die gesange uit die Liedboek van die Kerk sal kan sing nadat dit deur die sinode goedgekeur is. Dit beteken onder meer dat die GKSA voortaan liedere oor Jesus en oor die Heilige Gees kan sing, wat tot dusver ‘n leemte in hul liedereskat was.”

Hierdie woorde vat die wesentlike verskil in Skrifbeskouing en Skrifverklaring saam wat heers in ons kerke, soos gesien kan word in die sinode verrigtinge:

1. In vertaling: die OAV wat die Messias, ons Here Jesus Christus voluit bely en erken in die vertaalgeloof en vertaalmetode in beide Ou en Nuwe Testament, teenoor die NAV én BAD (met sy voorlopige vertalings) wat Hom nie direk erken nie, of relegeer tot voetnotas en kleinletter-teologie = “die NT skrywers maak die OT/Psalms ‘Messiaans’, dit ‘is’ nie Messiaans in oorsprong nie”.

2. In die erediens, aanbidding en lied:  die Totiusberyming wat die OAV volg, terwyl die Cloete omdigting bely dat die Messias nie in Ps.110 is nie, aldus al Cloete se teologiese raadgewers.

3. Die grammaties-historiese en openbaringshistoriese omgang met die Skrif teenoor die Skrifkritiese en sosio-historiese omgang met die Skrif – waar eersgenoemde glo betroubare godsvresende manne alleen word geroep tot die besondere ampte, en laasgenoemde glo ‘geslag maak nie saak nie’, d.w.s. God se skeppingsordeninge van Gen.1 en 2 maak nie saak of is nie bepalend vir die besondere ampte of die onderskeie take/roepings van man en vrou nie.   Jesus en Paulus verskil egter van laasgenoemde dwaling en roep terug tot God se skeppingsordeninge vir huwelik, gesin, gemeente en die gemeenskap (Matt.19:1-9; 1 Kor.11:3; 14:34; 1 Tim.2:11-15; hfst.3-5, Titus 2, ens.).

4.  Die Heilige Gees wat ons roep om die geestelike en soms fisiese antitese van Gen.3:15 tussen kerk en wêreld te handhaaf, en leer solo Christi is genoeg gronde om te kan getuig orals; teenoor hulle wat glo die menseregte nuwe SA tydsgees roep ons op om deel te word van die moderne liberale intergeloofs-ekumenisme (o.a. die SARK, Godsdiensraad en die NGK se parlementêre stoel) om sodoende meer ‘effektief’ te kan getuig.  2 Tim.4:1,2 is nie meer genoeg nie.

5. Hulle wat glo dat die skepping letterlike gebeure is volgens die Skrif (en dat deur die Ps.36:10-bril van die onfeilbare Skrif na die totale lewe, insluitende die wetenskap, gekyk moet word), teenoor hulle wat glo dat teistiese evolusie plaasgevind het en dat die Bybel aangepas moet word by die nuutste ‘onfeilbare’ wetenskaplike teorieë en idees soos evolusie.

Dit is veral punte 3 tot 5 wat volgende week tydens die sinode aangespreek gaan word op verskillende maniere.  Ek gaan poog om hier op my blog verwysings op sit oor hierdie onderwerpe.

In antwoord op Jackson se dwaling hier bo (dat ons nie van Jesus en die Gees sing in die Psalms nie), wat ongelukkig in die meerderheid van afgevaardiges se harte leef, net die volgende antwoorde vanuit Totius en Cachet se boekie:

Die ‘Christelikheid’ van die Psalms

Verder bekla die Vereeniging dit dat “de Gereformeerde Kerk nog zingt niet christelik, niet nieuwtestamenties is; het is israelieties en oudtestamenties. Waar het NT over Christus roept: Hem zij de heerlikheid in alle eeuwigheid, is het Psalmboek stom.”

Ag ja, ons vaders was tog sulke eenvoudige mense, dat hulle volgens die Vereeniging, nie daarvan bewus was nie! Maar nee, dit was manne wat opgevoed was in die lydingskool wat waarlik nie nodig het om by ons goddelose 20ste eeu te leer nie! Datheen, die oue berymer van die Psalms, sê in sy voorrede dan ook:

“dat alles wat tot het rechte geloof, tot een godzalig leven, tot geduld en lijdzaamheid van node is, in Davids psalter is te vinden, zodat deze met recht een kleine Bijbel mag genaamd zijn.”

Datheen beroep hom verder op die woord van die kerkvader Athanasius, wat leer:

“dat al die artikels van ons christelike geloof, naamlik van die enige, ewige, oneindige, goddelike Wese, van die drie-eenheid van die Persone, van die ware goddelike en menslike natuur van Christus, van Sy lyding, sterwe, begrafnis, neerdaling na die hel, ens., in die Psalms van Dawid grondig, klaar geleer, en bevestig word.”

Wie dus sy Psalmboek ken, weet maar te goed hoe van al hierdie dinge heerlik gesing word in die ‘klein Bybel.’ Hoe vreemd was dit dan nie ook gewees om van die redakteur van die Vereeniging te moes lees nie: “Als men de Gereformeerde Kerk zou toeroepen: Gij verbiedt dat men de Christus ‘Gods love’ – wat zou zij kunnen antwoorden?”

Wat sou ons antwoord? Wel, dat die redakteur wat so ingenome is met sy Gesange, hom blykbaar nie herinner aan die bekende verse van Ps.118:13 nie:

Gezegend zij de grote Koning, Die tot ons komt in ‘s Heeren naam! Wij zeegnen U uit ‘s Heeren woning; Wij zegenen U al te saam.

Maar die Vereeniging gaan nog verder en dig ons toe: “Gelijk in de hemel gezongen wordt, wil de Gereformeerde Kerk niet.” Die redakteur sou dit nie geskryf het nie, as hy maar sy Bybel oopgemaak het en daarin ondersoek het wat wel in die hemel gesing word. Wat word in die hemel gesing? Die kort inhoud daarvan vind ons in Op.15:3: “Hulle het die lied van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, gesing.” Is dit nie ook te Ou Testamenties en te Joods nie? Want Moses is die middelaar van die Ou Testament en ‘n Lam laat ‘n mens tog te veel dink aan die Mosaiese offerdiens! Lees egter verder wat daar staan in Op.15:3,4. Die woorde van die lied van Moses en die Lam word daar gegee:

Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtig; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! Wie sal u nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie?

En waaraan is hierdie woorde ontleen anders as aan die sogenaamde ‘ouderwetse, Israelitiese, nie-Christelike’ Psalms (111:2;139:14;145:17) !

Sal die Vereeniging nou nog wil volhou, dat ons nie sing wat in die hemel gesing word nie? En sal die blad nou nog enige waarde heg aan sy ander teenwerping, wat soos volg geformuleerd is: “De enige naam ons gegeven – Jesus Christus – komt in de Psalmen niet eenmaal voor?”

Immers, in die hemellied van Op.15, kom die naam ook nie voor nie, alhoewel dit ‘n lied is van die Lam. Ewemin vind ‘n mens die naam in Op.5. Ons lees alleen van die Leeu uit Juda se stam, van die wortel van Dawid, van die Lam! Is hierdie liedere dan nou ook te oud-testamenties en te Joods, sodat die Evangeliese Gesange nou ‘n onmisbare hulp moet aanbied?”

Verder, ons sing van die Heilige Gees in Psalm 33:2; 51:5; 104:18; 106:14; 139:3 en 143:8, en al die ander Psalms is deur die Gees ge-adem, soos Christus ook wys in Matt.22:43, 44:

“Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê:  44 Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete?”

Al die Psalms sing van Christus, Hy is die voorganger, en daar is sekeres wat eksplisiet van Hom en oor Hom sing, bv. Ps.2, 22, 45, 72, 110, ens.

Maar, miskien is die probleem juis omdat die Christus van die Gees ontken of onderdruk word in die OT (deur die NAV/Cloete omdigting), dat ons nie die Gees van Christus daarin erken, bely én sing nie ?

10 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,  11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.  12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien. – 1 Petrus 1

Sien ook die baie belangrike boek van oudl TG van Wyk: Ek sing ‘n lofsang by my snare – Psalms as lied in die erediens.  Hier is ‘n gedeelte:

“Die Heilige Gees het in die inspirasie van die Woord die Psalmbundel as lied vir die gelowiges daargestel. Wie die Psalmboek in die Bybel nagaan vind dat die inhoud daarvan die hele Bybel omspan – van Genesis af tot by Openbaring. Al kom die Naam van Christus nie direk in die Psalms voor nie, sien dit tog op Hom. Die Heilige Gees weet wat die diepste sin, inhoud en betekenis van die Psalm is. Al kan ons nie altyd die diepere sin van ‘n Psalm bepaal nie, doen Hy dit (sien Rom. 8:26). Dit is dan ook opmerklik dat die Heilige Gees in die inspirasie van die Nuwe Testament nie ‘n liederebundel daargestel het nie.

Al kom die naam Christus nêrens in die Psalms voor nie, het ons nie Skrifberymings nodig om die Christus te besing nie, want die Psalms is liedere van die Verbond. Dit hou o.a. in dat feitlik elke Psalm in die Nuwe Testament weerklank vind. Ons verwys na Ps. 22 en Ps. 110. Ps. 22 weerklink in Mat. 27:46, Markus 15:34, Mat. 27:39, Mark. 15:29, Mat. 27:35, Mark. 15:24, Luk. 23:33, Joh. 19:23, 20:25, Luk. 23:34, Joh. 19:24 en Heb. 2:12. Psalm 110 word aangehaal in Mat. 22:44, Mark. 12:36, Luk 20:42, Joh. 12:34, Hand. 2:34 en 35, Hebr.1:3,13; 2:8, 7:21, 5:6, 7:24, Ef. 1:20,22, Kol. 3:1, 1 Petr. 3:22, I Kor. 15:25, Rom. 2:15 ens..

Waarom wil ons spesifiek liedere hê wat die Christus besing as die naam HERE feitlik in elke Psalmvers voorkom. HERE sien tog op die Verbondsgod, die Goddelike Drie-eenheid, m.a.w. die Christus word besing in elke Psalmvers waarin die woord HERE voorkom.

Deur nou ‘n Nuwe Testamentiese liederebundel te wil daarstel, sien daarop dat die Kerk die werk van die Heilige Gees in hierdie verband wil aanvul.”

 Die aanhaling hier bo van Jackson kom uit vandag se Beeld op bladsy 3 (ek kon nie die skakel na die Beeld se webblad vind nie).  Die bladsy waarop die twee artikels oor die sinode is het ‘n groot foto by van rugbyspelers wat besig is om te oefen vir die nuwe seisoen. Een van hulle is die gespierde “swaargewig teoloog”, Pierre Spies.   Spies het onlangs die volgende kwyt geraak:

“Die uitdaging is om die passie vir die Here te behou wat ’n mens gehad het toe jy pas tot bekering gekom het. En dis nie maklik nie. Die lewe is soos ’n kroeggeveg, daar is nie reëls nie”

Inderdaad.

‘n Mens moet ‘n passie behou vir die HERE en vir sy kerk, ook die kerkverband waar Hy jou geplaas het, maar, veral die laaste dekade se deformasie en verval maak die passie vir die kerkverband nie maklik nie.

Daarom die groot gevaar dat kerklike vergaderings, dat sinodesittings in mondelingse kroeggevegte kan ontaard met geen ‘reëls’ nie, omdat God se ‘reëls’ (sy Woord) al meer ontbreek of ‘aangepas’ word by mense woorde (KO’s), alles vir eie gewin en gemak ….

“Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon (geld, die wêreld – slc) dien nie!” – Jesus Christus (Matt.6:24)

6 thoughts on “HET DIE GKSA 153 JAAR LANK NIE VAN CHRISTUS GESING NIE?

Add yours

  1. Slabbert, Baie dankie vir jou verslaggewing en perspektief op die Sinode en dit wat Jackson in die Beeld kwytraak. Ek bid saam met jou dat die GKSA steeds die Woord voorop as enigste bepalende waarheid sal behou, en nie in “kroeggevegte” sal verval nie. Dis die ding wat aan die orde van die dag is in meeste ander kerke in SA en in die wêreld. Kyk asb na wat ek op jou pos oor die 1983-Vertaling geskryf het. Ek verneem graag jou kommentaar.
    Seën, Herman.

  2. Baie dankie, baie interessant, veral hierdie gedeelte:

    Datheen beroep hom verder op die woord van die kerkvader Athanasius, wat leer:

    “dat al die artikels van ons christelike geloof, naamlik van die enige, ewige, oneindige, goddelike Wese, van die drie-eenheid van die Persone, van die ware goddelike en menslike natuur van Christus, van Sy lyding, sterwe, begrafnis, neerdaling na die hel, ens., in die Psalms van Dawid grondig, klaar geleer, en bevestig word.”

    Dit het my onmiddellik laat dink aan Lukas 24:44: “Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” Henrietta Klaasing

  3. Herman, dankie vir jou opmerking. Probleem is baiemaal dat ‘n mens uiterlik baie ordelik praat en vriendelik en liefdevol oorkom, maar as die inhoud nie deur Christus se Woord bepaal word nie, dan is dit in wese ‘n ‘kroeggeveg’ … met die KO in die hand.

    Ek dink die Fariseërs het ook gemeen dat hul baie ‘ordelik’ optree teenoor Christus.

  4. Dit is nog altyd vir my insiggewend dat al word in die Nuwe Testament verwys na die sing van “geestelike liedere’ , anders as met die Psalms, die bewoording nie gegee word nie. Sou dit dan nie aanduiding wees dat die Psalms die lied deor die Vader gewil is / was nie.

  5. Slabbert, stem 100% met jou saam. Die wat reken dat die Psalms nie van Christus spreek nie is gewoon arm. Groete, Johan vd Walt

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: